Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 1
“Ek sal jou ’n groot nasie maak”
In hierdie reeks van agt dele sal “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel bespreek—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat hierdie voorspellings deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.
TWYFEL en skeptisisme—hierdie gesindhede is kenmerkend van ons tye en weerspieël hoe party mense die Bybel beskou. Ongelukkig het baie mense nog nooit die tyd geneem om dit eerlik te ondersoek nie. Hulle baseer hulle opinie hoofsaaklik op hoorsê. Hopelik is dit nie met jou die geval nie. Ons nooi jou saam op ’n reis deur die geskiedenis, wat sal help om lig te werp op feite wat die egtheid van die Bybel staaf.
Ons reis begin by ’n man wat nog steeds deur Christene, Jode en Moslems geëer word. Hy was ’n Hebreër en het van 2018 tot 1843 VHJ gelewe.a Sy naam was Abraham.b
Van die eerste profesieë in die Bybel—profesieë wat ons vandag nog raak—hou met Abraham verband. (Sien die venster “’n Seën vir ‘al die nasies’”.) Volgens die Bybelboek Genesis sluit hierdie voorspellings die volgende in: (1) Abraham se nakomelinge sou ’n magtige nasie word. (2) Gedurende hierdie proses sou hulle slawe in ’n vreemde land wees. (3) Hulle sou verlos word en die land Kanaän in besit neem. Kom ons bespreek hierdie voorspellings nou in groter besonderhede.
Drie merkwaardige profesieë
Profesie 1: “Ek sal jou [Abraham] ’n groot nasie maak.”—Genesis 12:2.
Vervulling: Abraham se nakomelinge deur Isak en Jakob (wat ook Israel genoem is) het die eertydse nasie Israel geword—’n selfregerende staat met sy eie konings.
Wat die geskiedenis toon:
● Die Bybel bevat ’n gedetailleerde uiteensetting van Abraham se geslagslyn, insluitende sy nakomelinge deur Isak, Jakob en Jakob se 12 seuns. Die geslagslyn sluit ook al die konings in wat in Israel of Juda regeer het. Sewentien van hierdie heersers word in onafhanklike, nie-Bybelse bronne gemeld, en dit stem ooreen met die Bybelverslag van hoe Abraham se nakomelinge deur Isak en Jakob ’n nasie geword het.c
Profesie 2: “Weet dat jou [Abraham se] saad ’n inwonende vreemdeling sal word in ’n land wat nie hulle s’n is nie, en hulle sal hulle moet dien . . . Maar in die vierde geslag sal hulle hierheen terugkeer.”—Genesis 15:13, 16.
Vervulling: As gevolg van ’n hongersnood in Kanaän het vier geslagte van Abraham se nakomelinge in Egipte gewoon, eers as vreemdelinge, maar later as slawe wat stene uit klei en strooi moes maak. As ’n mens byvoorbeeld net een stamlyn neem—dié van Abraham se agterkleinseun Levi, wat saam met sy bejaarde vader na Egipte getrek het—is die vier geslagte (1) Levi, (2) sy seun Kehat, (3) sy kleinseun Amram en (4) sy agterkleinseun Moses (Eksodus 6:16, 18, 20). In die jaar 1513 VHJ het Moses die Israeliete uit Egipte uitgelei.—Sien die tydlyn hieronder en die venster “Presiese tydsaanduidings”.
Wat die geskiedenis toon:
● Volgens James K. Hoffmeier, ’n professor van Ou Testamentiese en Nabye-Oosterse Argeologie, dui Egiptiese geskrifte sowel as argeologiese getuienis daarop dat Semiete (soos die eertydse Hebreërs) toegelaat is om Egipte met hulle kuddes binne te gaan wanneer daar hongersnood was. Maar het die Israeliete daar slawe geword, wat stene moes maak?
● Hoewel Egiptiese verslae die Israeliete nie spesifiek meld nie, bevestig Egiptiese grafskilderye en boekrolle dat die Egiptenaars uitlanders gebruik het om stene uit klei en strooi te maak. In ooreenstemming met wat die Bybel sê, toon Egiptiese verslae ook dat taakgewers boekgehou het van die aantal stene wat gemaak moes word (Eksodus 5:14, 19). “Egiptiese bronne”, sê Hoffmeier, “bevestig dat uitlanders . . . dwangarbeid opgelê is omstreeks die tydperk toe die Israeliete onderdruk is. Kortom, dit wil voorkom asof die eertydse Hebreërs Egipte wel gedurende ’n hongersnood . . . binnegegaan het en later daar slawe geword het.”
Profesie 3: “Ek sal aan . . . jou saad . . . die hele land Kanaän [gee].”—Genesis 17:8.
Vervulling: Hoewel Moses die jong nasie Israel uit Egipte uitgelei het, het Josua, die seun van Nun, die volk in 1473 VHJ in die land Kanaän ingelei.
Wat die geskiedenis toon:
● Argeoloë verskil nou wel oor die datums, maar “ons moet erken dat die Israeliete Kanaän binnegegaan het en hulle daar gevestig het”, skryf K.A. Kitchen, ’n emeritusprofessor van Egiptologie.
● Die Bybel sê dat Josua die Kanaänitiese stad “Hasor met vuur verbrand” het (Josua 11:10, 11). In die ruïnes van die stad het argeoloë drie Kanaänitiese tempels opgegrawe wat heeltemal vernietig was. Hulle het ook bewyse gevind dat die stad in die 1400’s VHJ verbrand is. Hierdie feite stem met die Bybel ooreen.
● Nog ’n Kanaänitiese stad wat van belang is, is Gibeon, wat ongeveer 9,6 kilometer van Jerusalem af geleë is. Argeoloë het die stad geïdentifiseer toe hulle sowat 30 kruikhandvatsels gevind het waarop die stad se naam gegraveer is. In teenstelling met die inwoners van Hasor het die eertydse Gibeoniete met Josua vrede gemaak. Hy het hulle toe die taak gegee om as “waterdraers” te dien (Josua 9:3-7, 23). Waarom het hy hulle hierdie werk gegee? Die beskrywings in 2 Samuel 2:13 en Jeremia 41:12 toon dat Gibeon baie water gehad het. In ooreenstemming met die Bybelverslag sê Archaeological Study Bible, New International Version: “Die opvallendste kenmerk van Gibeon is sy oorvloedige watervoorraad: een groot en sewe kleiner fonteine.”
● Onafhanklike bronne bevestig dat tientalle mense wat in die Bybel gemeld word, werklik bestaan het. Soos ons vroeër gemeld het, sluit hierdie lys 17 konings in wat van Abraham afgestam het en in Israel of Juda regeer het. Dit sluit Agab, Agas, Dawid, Hiskia, Manasse en Ussia in. Die bestaan van koninklike dinastieë lewer kragtige bewys dat ’n nasie met die naam Israel die land Kanaän binnegegaan het en dit in besit geneem het.
● In 1896 het navorsers die Merneptah-stele in Tebe, Egipte, gevind. Op hierdie reliëf word daar gespog met farao Merneptah se militêre veldtog teen Kanaän in ongeveer 1210 VHJ. Die eerste bekende nie-Bybelse verwysing na Israel word op hierdie reliëf gevind, wat verdere bewys voorsien dat hierdie nasie bestaan het.
Die voordeel van spesifieke besonderhede
Soos ons gesien het, bevat die Bybel tallose spesifieke besonderhede oor mense, plekke en gebeure. Hierdie besonderhede stel ons in staat om wat die Bybel sê, met nie-Bybelse bronne te vergelyk, wat ons help om die vervulling van Bybelprofesieë te bevestig. Die feite toon dat God se beloftes in verband met Abraham en sy saad vervul is—Abraham se saad het wel ’n nasie geword, was slawe in Egipte en het later die land Kanaän in besit geneem. Dit alles laat ons dink aan die woorde van die Bybelskrywer Petrus, wat nederig erken het: “Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:21.
In die eeue nadat Israel Kanaän in besit geneem het, het die nasie se geskiedenis ’n dramatiese wending geneem, wat tragiese gevolge gehad het. Hierdie gevolge is ook deur Bybelskrywers voorspel, soos ons volgende nommer sal toon.
[Voetnote]
a “VHJ” beteken “voor die huidige jaartelling”.
b Abraham is eers Abram genoem.
c Sien 1 Kronieke 1:27-34; 2:1-15; 3:1-24. Gedurende die heerskappy van Rehabeam, die seun van koning Salomo, het die nasie Israel in ’n noordelike en ’n suidelike koninkryk verdeel. Van toe af het twee konings tegelykertyd in Israel geheers.—1 Konings 12:1-24.
[Venster op bladsy 17]
’N SEËN VIR “AL DIE NASIES”
God het belowe dat mense van “al die nasies” hulleself deur middel van Abraham se saad sou seën (Genesis 22:18). Die hoofrede waarom God toegesien het dat Abraham se nakomelinge ’n nasie word, was om die Messias voort te bring, wat sy lewe vir die hele mensdom sou gee.d Ja, God se beloftes aan Abraham raak jou! Johannes 3:16 sê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”
[Voetnoot]
d Profesieë wat spesifiek oor die identiteit van die Messias handel, sal in Deel 3 en 4 van hierdie reeks bespreek word.
[Venster op bladsy 17]
PRESIESE TYDSAANDUIDINGS
’n Voorbeeld van hoe nuttig dit is dat die Bybel presies aandui wanneer gebeure plaasgevind het, word gevind in 1 Konings 6:1, wat verwys na die tyd toe koning Salomo die tempel in Jerusalem begin bou het. Ons lees: “In die vierhonderd-en-tagtigste jaar [479 volle jare] nadat die kinders van Israel uit Egipteland uitgetrek het, in die vierde jaar [van Salomo se bewind] nadat Salomo koning oor Israel geword het, in die maand Sif, dit is die tweede maand, het hy die huis vir Jehovah begin bou.”
Volgens Bybelchronologie was 1034 VHJ die vierde jaar van Salomo se bewind. As ons 479 volle jare van daardie datum af terugtel, bring dit ons by 1513 VHJ as die jaar van Israel se uittog uit Egipte.
[Venster op bladsy 18]
ABRAHAM—’N GESKIEDKUNDIGE PERSOON
● Kleitablette uit die vroeë tweede millennium VHJ verwys na stede waarvan die name ooreenstem met dié van Abraham se familielede. Hierdie stede sluit Peleg, Serug, Nahor, Tera en Haran in.—Genesis 11:17-32.
● In Genesis 11:31 lees ons dat Abraham en sy familie uit “Ur van die Galdeërs” getrek het. Die ruïnes van hierdie stad is in die suidooste van Irak ontdek. Die Bybel sê ook dat Abraham se vader, Tera, gesterf het in die stad Haran, wat waarskynlik in hedendaagse Turkye is, en dat Abraham se vrou, Sara, gesterf het in Hebron, een van die oudste stede in die Midde-Ooste wat nog bewoon word.—Genesis 11:32; 23:2.
[Tabel op bladsye 16, 17]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TYDLYN VAN ABRAHAM SE SAAD EN ISRAEL SE UITTOG UIT EGIPTE
Vier geslagte van Abraham se nakomelinge
Levi
Kehat
Amram
Moses
(VHJ)
1843 Abraham sterf
1728 Jakob trek met sy familie na Egipte
1711 Jakob sterf
1657 Josef sterf
1593 Moses gebore
1513 Moses lei Israel uit Egipte uit
1473 Moses sterf. Josua lei die Israeliete in die land Kanaän in
Tyd van die rigters
1117 Samuel salf Saul as Israel se eerste koning
1107 Dawid gebore
1070 Dawid word koning van Israel
1034 Salomo begin tempel bou
[Prent]
Hierdie oorwinningstele, met die inskripsie “Huis van Dawid”, is een van die bronne wat verwys na konings wat van Abraham afgestam en in Israel of Juda regeer het
[Erkenning]
© Israel Museum, Jerusalem/The Bridgeman Art Library International