“Die Regter van die hele aarde” doen altyd wat reg is
“Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid.”—DEUT. 32:4.
1. Wat het Abraham gesê om te wys dat hy oortuig was dat Jehovah regverdig is? (Sien prent aan begin van artikel.)
“SAL die Regter van die hele aarde nie doen wat reg is nie?” (Gen. 18:25). Met hierdie woorde het Abraham gewys dat hy oortuig was dat Jehovah Sodom en Gomorra regverdig sal oordeel. Abraham het geweet dat Jehovah nooit onregverdig sal wees deur “die regverdige saam met die goddelose dood te maak” nie. Dit was vir Abraham “ondenkbaar”. Omtrent 400 jaar later het Jehovah van homself gesê: “Die Rots, volmaak is sy werk, want al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie; regverdig en reg is hy.”—Deut. 31:19; 32:4.
2. Waarom kan Jehovah nooit onregverdig wees nie?
2 Waarom was Abraham oortuig dat Jehovah altyd regverdig sal oordeel? Omdat Jehovah bepaal wat reg en regverdig is. Trouens, die woorde “geregtigheid” en “regverdigheid” word dikwels saam in die Hebreeuse Geskrifte gebruik omdat hulle amper dieselfde betekenis het. Aangesien Jehovah se standaarde altyd reg is, sal hy altyd regverdig oordeel. Die Bybel sê: “Hy het regverdigheid en geregtigheid lief.”—Ps. 33:5.
3. Watter tipe ongeregtighede sien ons vandag?
3 Dit is vertroostend om te weet dat Jehovah altyd regverdig is, aangesien die wêreld vol ongeregtigheid is. Baie het as gevolg van ongeregtigheid gely. Byvoorbeeld, onskuldige mense is al tronk toe gestuur. Party van hulle is eers jare later vrygelaat nadat DNS-toetse bewys het dat hulle onskuldig is. Sulke ongeregtighede maak mense dalk kwaad. Daar is egter ’n vorm van ongeregtigheid wat vir Christene selfs moeiliker kan wees.
IN DIE GEMEENTE
4. Hoe kan ’n Christen se geloof getoets word?
4 Christene verwag dat hulle soms in die wêreld onregverdig behandel sal word. Maar ons geloof word dalk getoets wanneer ons in die gemeente onregverdig behandel word. Wat sal jy doen as jy dink dat iemand in die gemeente jou onregverdig behandel het of as jy iets in die gemeente sien wat nie reg lyk nie? Sal dit jou laat struikel?
5. Waarom moet ’n Christen nie verbaas wees as hy onregverdigheid in die gemeente sien of ervaar nie?
5 Omdat ons almal onvolmaak is, sal party in die gemeente ons miskien onregverdig behandel of ons sal hulle onregverdig behandel (1 Joh. 1:8). Getroue Christene is nie verbaas as dit wel gebeur nie en hulle word ook nie daardeur gestruikel nie. Jehovah het praktiese raad in die Bybel voorsien om ons te help om lojaal te bly, selfs al behandel medegelowiges ons onregverdig.—Ps. 55:12-14.
6, 7. Hoe is ’n broer in die gemeente onregverdig behandel, en watter eienskappe het hom gehelp?
6 Kom ons kyk na die voorbeeld van Willi Diehl. Broer Diehl het van 1931 by die Bethel in Bern, Switserland, gedien. In 1946 het hy die agtste klas van die Gileadskool in New York, VSA, bygewoon. Na sy graduering het hy as ’n kringopsiener in Switserland gedien. Broer Diehl vertel in sy lewensverhaal: “In Mei 1949 het ek die hoofkwartier in Bern laat weet dat ek van plan is om te trou.” Wat het die broers gesê? “Geen voorregte behalwe pionierdiens nie.” Broer Diehl verduidelik: “Ek is nie toegelaat om toesprake te hou nie . . . Baie broers het ons nie meer gegroet nie en het ons soos uitgesette persone behandel.”
7 Hoe het broer Diehl gereageer? Hy het gesê: “Ons het geweet dat dit nie verkeerd is om te trou nie. Ons het net aangehou bid en op Jehovah vertrou.” Later is hierdie verkeerde beskouing oor die huwelik reggestel en broer Diehl het al sy voorregte teruggekry. Sy getrouheid aan Jehovah is beloon.a Vra jou af: ‘Sal ek ook so ’n geestelike beskouing hê as so iets met my gebeur? Sal ek geduldig op Jehovah wag om dinge reg te stel of sal ek sake in my eie hande neem?’—Spr. 11:2; lees Miga 7:7.
8. Waarom kan ons maklik die fout maak om te dink dat iemand onregverdig behandel is?
8 Onthou, jy kan maklik die fout maak om te dink dat jy of iemand anders in die gemeente onregverdig behandel is. Dit is omdat ons onvolmaak is en ’n verkeerde beskouing kan hê, of omdat ons nie al die feite oor die saak het nie. Of ons nou die saak reg of verkeerd opgesom het, ons moet altyd in gebed op Jehovah vertrou en lojaal bly. Dan sal ons nooit “woedend vir Jehovah” word nie.—Lees Spreuke 19:3.
9. Watter voorbeelde sal ons in hierdie en in die volgende artikel bespreek?
9 Kom ons kyk na drie voorbeelde van Jehovah se knegte in die Bybel wat onregverdig behandel was. In hierdie artikel gaan ons kyk na die voorbeeld van Josef, en hoe sy broers hom behandel het. In die volgende artikel gaan ons kyk na Jehovah se handelinge met koning Agab en die apostel Petrus se ondervinding in Siriese Antiogië. Let op wat ons uit hierdie voorbeelde kan leer om ons te help om ons geestelike fokus te behou, en ons verhouding met Jehovah sterk te hou, veral wanneer ons dink dat ons onregverdig behandel word.
JOSEF—’N SLAGOFFER VAN ONGEREGTIGHEID
10, 11. (a) Watter ongeregtighede moes Josef verduur? (b) Watter geleentheid het Josef in die tronk gehad?
10 Josef, ’n getroue kneg van Jehovah, moes baie ongeregtighede van mense verduur. Maar wat hom die seerste gemaak het, is hoe sy eie broers hom behandel het. Toe Josef ’n tiener was, het sy broers hom ontvoer en as ’n slaaf verkoop. Hy is teen sy wil na Egipte geneem (Gen. 37:23-28; 42:21). Hy is later daarvan beskuldig dat hy ’n vrou probeer verkrag het en is sonder ’n verhoor in die tronk gegooi (Gen. 39:17-20). Hy was omtrent 13 jaar lank ’n slaaf en ’n gevangene. Wat kan ons uit Josef se ondervinding leer wat ons kan help as iemand in die gemeente ons onregverdig behandel?
11 Josef het die geleentheid gehad om vir iemand in die tronk te vertel waarom hy daar is. Hierdie gevangene was die skinker van die koning. Toe Josef en die skinker saam in die tronk was, het die skinker ’n droom gehad en Josef het die droom vir hom uitgelê. Josef het gesê dat die man weer as Farao se skinker sou dien. Toe Josef met God se hulp hierdie droom vir hom uitgelê het, het hy hom van sy eie probleme vertel. Ons kan baie leer uit wat Josef gesê het en ook wat hy nie gesê het nie.—Gen. 40:5-13.
12, 13. (a) Wat het Josef gesê om te wys dat hy nie net sy situasie aanvaar het nie? (b) Wat het Josef nie vir die skinker gesê nie?
12 Lees Genesis 40:14, 15. Hier sê Josef dat hy “ontvoer” is. Volgens die oorspronklike taal beteken hierdie woord dat hy “gesteel” is. Dit is dus duidelik dat hy ’n slagoffer van ongeregtigheid was. Josef het gesê dat hy onskuldig in die tronk was. Daarom het hy vir die skinker gevra om vir Farao van sy situasie te vertel. Waarom? Hy het gesê: “Jy moet my uit hierdie huis kry.”
13 Het Josef se woorde gewys dat hy sy situasie net aanvaar het? Beslis nie! Hy het goed geweet dat hy ’n slagoffer van ongeregtighede was. Hy het die skinker alles vertel in die hoop dat hy hom miskien kon help. Maar die Bybel sê nêrens dat hy ooit vir iemand, nie eers vir Farao, vertel het dat hy deur sy broers ontvoer is nie. Trouens, toe Josef se broers na Egipte gekom het en met hom vrede gemaak het, het Farao hulle verwelkom en genooi om daar te bly en om “die goeie van die hele Egipteland” te geniet.—Gen. 45:16-20.
14. Wat sal ons help om nie sleg te praat van ander nie, selfs al word ons onregverdig behandel?
14 Wanneer ’n Christen dink dat hy onregverdig behandel word, moet hy versigtig wees om nie sleg te praat van ander nie. Dit is natuurlik gepas om die ouer manne om hulp te vra en hulle te laat weet as iemand ernstig gesondig het (Lev. 5:1). Maar as daar nie ’n ernstige sonde gepleeg is nie, kan probleme opgelos word sonder om iemand anders, of selfs die ouer manne, daarvan te vertel. (Lees Matteus 5:23, 24; 18:15.) Ons moet lojaal wees en die Bybel gebruik om sulke probleme op te los. Partykeer moet ons erken dat ons nie onregverdig behandel was nie, maar dat dit net ’n misverstand was. Ons sal baie bly wees dat ons nie die situasie erger gemaak het deur sleg te praat van ’n mede-Christen nie! Om van ander sleg te praat, sal nooit die situasie verbeter nie, maak nie saak of ons reg of verkeerd is nie. As ons lojaal bly teenoor Jehovah en ons broers, sal ons nie hierdie fout maak nie. Die psalmis sê: “Hy wat onberispelik wandel . . . het nie met sy tong gelaster nie. Sy metgesel het hy geen kwaad aangedoen nie, en geen smaad het hy teen sy intieme kennis uitgespreek nie.”—Ps. 15:2, 3; Jak. 3:5.
ONTHOU JOU BELANGRIKSTE VRIENDSKAP
15. Hoe was Josef se vriendskap met Jehovah vir hom ’n seën?
15 Ons leer selfs ’n belangriker les uit Josef se vriendskap met Jehovah. Tydens daardie 13 jaar van swaarkry, het Josef gewys dat hy Jehovah se beskouing gehad het (Gen. 45:5-8). Hy het Jehovah nooit vir sy situasie blameer nie. Al het hy nie die onregte vergeet nie, het hy nie verbitterd geword nie. En hy het nooit toegelaat dat ander se onvolmaaktheid en verkeerde optrede hom van Jehovah skei nie. Omdat Josef lojaal was, kon hy sien hoe Jehovah hierdie ongeregtighede regstel en hom en sy familie seën.
16. Waarom moet ons selfs nader aan Jehovah kom as ons in die gemeente onregverdig behandel word?
16 Ons moet ook ons vriendskap met Jehovah baie waardeer en beskerm. Ons moet nooit toelaat dat die onvolmaaktheid van ons broers ons van God skei nie (Rom. 8:38, 39). As ons deur ’n mede-aanbidder onregverdig behandel word, moet ons eerder soos Josef wees en nader aan Jehovah kom en Sy beskouing van sake kry. As ons die raad in die Bybel gevolg het en alles gedoen het om die probleem op te los, moet ons die saak in Jehovah se hande laat. Ons is oortuig daarvan dat hy die saak op sy tyd en manier sal regstel.
VERTROU OP “DIE REGTER VAN DIE HELE AARDE”
17. Hoe kan ons wys dat ons op “die Regter van die hele aarde” vertrou?
17 Daar sal altyd ongeregtighede in hierdie wêreld wees. Af en toe sal jy of iemand wat jy ken, voel dat julle onregverdig behandel word. Of miskien sien julle dat iemand anders onregverdig behandel word. Moenie toelaat dat dit vir jou ’n struikelblok word nie (Ps. 119:165). Ons vertrou eerder lojaal op Jehovah en bid vir sy hulp. Ons erken ook nederig dat ons dalk nie al die feite het nie. Ons besef ook dat ons onvolmaak is en die situasie verkeerd kan opsom. Josef se voorbeeld het ons geleer dat ons nie sleg van ander moet praat nie. Dit sal die saak net vererger. Ons wil sake nie in ons eie hande neem nie. Ons moet lojaal en geduldig op Jehovah wag om die saak reg te stel. As ons dit doen, sal Jehovah bly wees en ons seën, net soos hy met Josef gedoen het. Ons kan seker wees dat Jehovah, “die Regter van die hele aarde”, altyd sal doen wat reg is, “want al sy weë is geregtigheid”.—Gen. 18:25; Deut. 32:4.
18. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
18 In die volgende artikel sal ons nog twee voorbeelde van mense in die Bybel bespreek wat onregverdig behandel is. Hierdie verslae sal beklemtoon hoe nederigheid en ’n bereidwilligheid om te vergewe verband hou met Jehovah se beskouing van geregtigheid.
a Sien die lewensverhaal van Willi Diehl “Jehovah is my God op wie ek sal vertrou” in Die Wagtoring van 1 November 1991.