Jy kan God bly maak
KAN enigiets wat ons doen, ’n uitwerking op God se gevoelens hê? Kan God gelukkig voel? Een woordeboek definieer die woord “God” as “die opperste of hoogste werklikheid”. Gestel daardie ontsagwekkende werklikheid was bloot ’n krag. Kan ons verwag dat ’n onpersoonlike krag blydskap sal ervaar? Beslis nie. Beskou egter wat die Bybel oor God sê.
“God is ’n Gees”, het Jesus Christus gesê (Johannes 4:24). ’n Gees is ’n lewensvorm wat van mense verskil. Hoewel onsigbaar vir menseoë, het ’n gees ’n liggaam—“’n geestelike liggaam” (1 Korintiërs 15:44; Johannes 1:18). Die Bybel gebruik beeldspraak en praat selfs van God as iemand met oë, ore, hande, ensovoorts.a God het ook ’n naam—Jehovah (Psalm 83:18). Die God van die Bybel is dus ’n geespersoon (Hebreërs 9:24). “Hy is die lewende God en die Koning tot onbepaalde tyd.”—Jeremia 10:10.
As ’n werklike, lewende persoon kan Jehovah dink en optree. Hy openbaar eienskappe en gevoelens, voorkeure en afkeure. Trouens, die Bybel bevat tallose uitdrukkings wat toon watter dinge hom behaag of mishaag. In teenstelling met mensgemaakte gode en beelde wat bloot die karaktertrekke of eienskappe van hulle menslike makers weerspieël, is die almagtige God, Jehovah, die Oorsprong van die emosies wat hy in die mens geplaas het.—Genesis 1:27; Jesaja 44:7-11.
Jehovah is ongetwyfeld “die gelukkige God” (1 Timoteus 1:11). Hy verlustig hom nie net in sy skeppingswerke nie, maar skep ook behae daarin om sy voornemens te vervul. Deur die profeet Jesaja verklaar Jehovah: “Alles wat my behaag, sal ek doen . . . Ek het dit gespreek; ek sal dit ook laat kom. Ek het daaraan vorm gegee, ek sal dit ook doen” (Jesaja 46:9-11). Die psalmis het gesing: “Jehovah sal hom in sy werke verbly” (Psalm 104:31). Maar daar is nog iets wat aan God vreugde verskaf. Hy sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly” (Spreuke 27:11). Dink net wat dit beteken—ons kan God bly maak!
Hoe ons God se hart kan bly maak
Dink aan hoe die familiehoof Noag Jehovah se hart bly gemaak het. Noag “het guns in die oë van Jehovah gevind” omdat hy “onberispelik onder sy tydgenote” was. In skerp teenstelling met die goddelose mense van daardie tyd het Noag se geloof en gehoorsaamheid God so behaag dat daar gesê kon word dat ‘Noag met die ware God gewandel het’ (Genesis 6:6, 8, 9, 22). “Deur geloof het Noag . . . godvrugtige vrees aan die dag gelê en ’n ark gebou tot redding van sy huisgesin” (Hebreërs 11:7). Jehovah het behae geskep in Noag en hom en sy gesin geseën sodat hulle daardie veelbewoë tydperk in die mensegeskiedenis oorleef het.
Die aartsvader Abraham was ook intens bewus van Jehovah se gevoelens. Sy intieme kennis van God se denke kon duidelik gesien word toe Jehovah hom ingelig het dat Sodom en Gomorra weens hulle verdorwenheid vernietig sou word. Abraham het Jehovah goed genoeg geken om tot die slotsom te kom dat dit ondenkbaar sou wees vir God om die regverdige saam met die goddelose dood te maak (Genesis 18:17-33). Jare later het Abraham in gehoorsaamheid aan God se opdrag “Isak so goed as geoffer”, want “hy het gereken dat God hom selfs uit die dode kon opwek” (Hebreërs 11:17-19; Genesis 22:1-18). Abraham was so ingestel op God se gevoelens en het sulke sterk geloof en gehoorsaamheid geopenbaar dat hy “‘Jehovah se vriend’ genoem” is.—Jakobus 2:23.
Nog ’n man wat probeer het om God se hart bly te maak, was koning Dawid van eertydse Israel. Jehovah het aangaande hom gesê: “Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ’n man na my hart, wat alles sal doen wat ek begeer” (Handelinge 13:22). Voordat Dawid die reus Goliat tegemoetgegaan het, het hy volkome vertroue in God gestel en vir die Israelitiese koning Saul gesê: “Jehovah, wat my uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer verlos het, hy sal my uit die hand van hierdie Filistyn verlos.” Jehovah het Dawid se vertroue in Hom geseën en hom in staat gestel om Goliat te verslaan (1 Samuel 17:37, 45-54). Dawid wou hê dat nie net sy dade nie, maar ook ‘die woorde van sy mond en die bepeinsing van sy hart aangenaam voor Jehovah’ moes wees.—Psalm 19:14.
Wat van ons? Hoe kan ons Jehovah behaag? Hoe meer ons ingestel is op God se gevoelens, hoe meer sal ons bewus word van wat ons kan doen om God se hart bly te maak. Wanneer ons dus die Bybel lees, is dit noodsaaklik dat ons meer omtrent God se gevoelens probeer leer sodat ons “in alle wysheid en geestelike insig vervul mag word met die juiste kennis van sy wil, sodat [ons] kan wandel op ’n wyse wat Jehovah waardig is om hom ten volle te behaag” (Kolossense 1:9, 10). Kennis help ons weer om geloof op te bou. Dit is baie belangrik, want “sonder geloof is dit onmoontlik om vir [God] welbehaaglik te wees” (Hebreërs 11:6). Ja, as ons ons inspan om sterk geloof op te bou en ons lewe in ooreenstemming met Jehovah se wil bring, kan ons sy hart bly maak. Terselfdertyd moet ons versigtig wees dat ons Jehovah nie gekrenk laat voel in sy hart nie.
Moenie God se gevoelens krenk nie
’n Voorbeeld van hoe Jehovah se gevoelens gekrenk kan word, word gevind in die verslag oor die dae van Noag. In daardie tyd het “die aarde . . . vol geweld geraak. Toe het God die aarde gesien, en kyk! dit was verdorwe, want alle vlees het sy weg op die aarde verderf.” Hoe het God gevoel toe hy die verdorwenheid en die geweld sien? “Jehovah het spyt gevoel dat hy mense op die aarde gemaak het”, sê die Bybel, “en hy het gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:5, 6, 11, 12). God het spyt gevoel in die sin dat hy sy gesindheid teenoor die goddelose geslag voor die Vloed verander het, omdat mense se dade so boos geword het. Hulle goddeloosheid het God mishaag, en daarom het hy verander van die mens se Skepper na hulle vernietiger.
Dit het Jehovah ook gegrief toe sy eie volk, die eertydse nasie Israel, herhaaldelik sy gevoelens en sy liefdevolle riglyne geïgnoreer het. Die psalmis het gesê: “Hoe dikwels het hulle in die wildernis teen hom in opstand gekom, het hulle hom in die woestyn gekrenk! En keer op keer het hulle God op die proef gestel, en hulle het die Heilige van Israel bedroef.” Maar “hy was barmhartig; hy het die oortreding bedek en nie vernietiging gebring nie. En hy het sy toorn dikwels afgewend, en hy het nie al sy woede opgewek nie” (Psalm 78:38-41). Al het die opstandige Israeliete tereg die gevolge van hulle eie sondige weg verduur, sê die Bybel vir ons: “In al hulle benoudheid het dit vir [God] benoudheid veroorsaak.”—Jesaja 63:9.
Ten spyte van die oorvloedige bewyse van God se tere gevoelens vir hulle het die nasie Israel “voortdurend die boodskappers van die ware God uitgelag en sy woorde verag en met sy profete die spot gedryf, totdat die woede van Jehovah teen sy volk opgekom het, totdat daar geen genesing was nie” (2 Kronieke 36:16). Uiteindelik het hulle patroon van hardnekkige opstandigheid “sy heilige gees” in so ’n mate “gekrenk” dat hulle Jehovah se guns verloor het (Jesaja 63:10). Die gevolg? God het tereg sy beskerming van hulle onttrek, en rampspoed het oor hulle gekom toe die Babiloniërs Juda ingeneem en Jerusalem vernietig het (2 Kronieke 36:17-21). Hoe tragies is dit tog wanneer mense ’n sondige lewensweg kies wat hulle Skepper grief en bedroef maak!
Die Bybel laat geen twyfel oor die feit dat God diep bedroef voel oor onregverdige gedrag nie (Psalm 78:41). Dinge wat aanstootlik—selfs ’n gruwel—vir God is, sluit in trots, leuens, moord, die toorkuns, waarsêery, vooroueraanbidding, losse sedes, homoseksualiteit, ontrouheid in die huwelik, bloedskande en die onderdrukking van armes.—Levitikus 18:9-29; 19:29; Deuteronomium 18:9-12; Spreuke 6:16-19; Jeremia 7:5-7; Maleagi 2:14-16.
Hoe voel Jehovah oor afgodediens? Eksodus 20:4, 5 sê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie.” Waarom nie? Omdat ’n afgod “iets verfoeiliks vir Jehovah” is (Deuteronomium 7:25, 26). Die apostel Johannes het gewaarsku: “Kindertjies, bewaar julle van afgode” (1 Johannes 5:21). En die apostel Paulus het geskryf: “My geliefdes, vlug vir die afgodediens.”—1 Korintiërs 10:14.
Streef daarna om God se goedkeuring te verkry
God se “intimiteit is met die regskapenes”. “In dié wat onberispelik in hulle weg is, het hy behae” (Spreuke 3:32; 11:20). Daarteenoor sal diegene wat aanhou om God te grief deur sy regverdige gevoelens hardkoppig te ignoreer of te minag, binnekort die gevolge van sy misnoeë ervaar (2 Tessalonisense 1:6-10). Ja, hy sal spoedig ’n einde maak aan al die goddeloosheid wat vandag so algemeen is.—Psalm 37:9-11; Sefanja 2:2, 3.
Die Bybel stel dit egter duidelik dat Jehovah “nie wil hê dat enigeen vernietig moet word nie, maar wil hê dat almal tot berou moet kom” (2 Petrus 3:9). Hy sal veel eerder sy geneentheid wil toon vir regverdige mense wat hom liefhet as om sy misnoeë te toon met diegene wat verstok is in hulle weë. Jehovah “skep geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat ’n goddelose hom van sy weg afkeer en bly lewe”.—Esegiël 33:11.
Niemand hoef dus ’n voorwerp van Jehovah se toorn te word nie. “Jehovah [is] baie teer in geneentheid en barmhartig” (Jakobus 5:11). Jy kan met volle vertroue in God se gevoelens ‘al jou sorge op hom werp, want hy sorg vir jou’ (1 Petrus 5:7). Wees daarvan verseker dat diegene wat God se hart bly maak, die wonderlike vooruitsig het om sy goedkeuring en vriendskap te geniet. Daarom is dit nou dringender as ooit tevore dat ons “[aanhou] om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is”.—Efesiërs 5:10.
Hoe wonderlik is dit tog dat God in sy onverdiende goedhartigheid sy voortreflike eienskappe en gevoelens geopenbaar het! En jy kan sy hart bly maak. As dit jou begeerte is, spoor ons jou aan om met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom. Hulle sal jou met graagte wys wat hulle gevind het prakties en bereikbaar is in hulle strewe om God te behaag.
[Voetnoot]
a Sien die venster met die titel “Waarom gebruik die Bybel menslike terme om God te beskryf?”
[Venster op bladsy 7]
Waarom gebruik die Bybel menslike terme om God te beskryf?
Aangesien ‘God ’n Gees’ is, kan ons hom nie met ons fisiese oë sien nie (Johannes 4:24). Daarom gebruik die Bybel beeldspraak, soos vergelykings, metafore en antropomorfismes om ons te help om God se mag, majesteit en dade te verstaan. Antropomorfisme (Grieks, “mens-vorm”) is die toeskrywing van menslike hoedanighede aan ’n nie-menslike wese. Al weet ons dus nie hoe God se geesliggaam lyk nie, praat die Bybel van God as iemand met oë, ore, hande, arms, vingers, voete en ’n hart.—Genesis 8:21; Eksodus 3:20; 31:18; Job 40:9; Psalm 18:9; 34:15.
Sulke beskrywende taal beteken nie dat God se geesliggaam dieselfde soort liggaamsdele as menseliggame het nie. Antropomorfismes moenie letterlik opgeneem word nie. Dit help mense bloot om ’n beter begrip van God te verkry. Sonder sulke beeldspraak sou dit moeilik, selfs onmoontlik, gewees het vir mense om enige beskrywing van God te verstaan. Maar dit beteken nie dat Jehovah God se persoonlikheid deur mense versin is nie. Die Bybel toon duidelik dat die mens na God se beeld geskep is—nie God na die mens se beeld nie (Genesis 1:27). Aangesien Bybelskrywers “deur God geïnspireer” is, is hulle uitbeelding van God se persoonlikheid in werklikheid sy eie beskrywing van sy persoonlike eienskappe—dieselfde eienskappe wat hy in meerdere of mindere mate in sy menseskepping geplaas het (2 Timoteus 3:16, 17). Dit is dus nie die mens se eienskappe in God nie, maar in werklikheid God se eienskappe in die mens.
[Prent op bladsy 4]
Noag het guns in God se oë gevind
[Prent op bladsy 5]
Abraham was ingestel op God se gevoelens
[Prent op bladsy 6]
Dawid het sy volle vertroue in Jehovah gestel
[Prent op bladsy 7]
Wanneer jy die Bybel lees, kan jy leer hoe om God bly te maak
[Foto-erkenning op bladsy 4]
Courtesy of Anglo-Australian Observatory, photograph by David Malin