Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Genesis—II
DIE boek Genesis dek 2 369 jaar van die mens se geskiedenis, vanaf die skepping van die eerste mens, Adam, tot en met die dood van Jakob se seun, Josef. Die eerste 10 hoofstukke asook 9 verse van die 11de hoofstuk, wat gebeure vanaf die skepping tot die toring van Babel dek, is in die vorige nommer van hierdie tydskrif bespreek.a Hierdie artikel bespreek glanspunte uit die res van Genesis, wat betrekking het op God se handelinge met Abraham, Isak, Jakob en Josef.
ABRAHAM WORD GOD SE VRIEND
Sowat 350 jaar ná die Vloed word ’n man wat baie spesiaal in God se oë is, in die geslagslyn van Noag se seun Sem gebore. Sy naam is Abram, wat later na Abraham verander word. Op God se bevel verlaat Abram die Galdese stad Ur en word hy ’n tentbewoner in ’n land wat Jehovah beloof om aan hom en sy nakomelinge te gee. Weens sy geloof en gehoorsaamheid word Abraham later “Jehovah se vriend” genoem.—Jakobus 2:23.
Jehovah tree op teen die goddelose inwoners van Sodom en die nabygeleë stede, maar Lot en sy dogters word gered. ’n Belofte van God word vervul toe Abraham se seun Isak gebore word. Jare later word Abraham se geloof getoets toe Jehovah hom beveel om sy seun te offer. Abraham is op die punt om dit te gehoorsaam, maar ’n engel keer hom. Daar bestaan geen twyfel dat Abraham ’n man van geloof is nie, en hy word verseker dat al die nasies hulleself deur middel van sy saad sal seën. Die dood van sy geliefde vrou, Sara, bring vir Abraham groot hartseer mee.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
12:1-3—Wanneer het die Abrahamitiese verbond in werking getree, en hoe lank sou dit van krag wees? Jehovah se verbond met Abram dat “al die families van die aarde . . . hulleself deur middel van [Abram sal] seën”, het klaarblyklik in werking getree toe Abram die Eufraat oorgesteek het op pad na Kanaän. Dit was heel moontlik op 14 Nisan 1943 v.G.J.—430 jaar voordat Israel uit Egipte verlos is (Eksodus 12:2, 6, 7, 40, 41). Die Abrahamitiese verbond is “’n verbond tot onbepaalde tyd”. Dit sal van krag bly totdat die families van die aarde geseën is en al God se vyande vernietig is.—Genesis 17:7; 1 Korintiërs 15:23-26.
15:13—Wanneer het die voorspelde 400 jaar lange verdrukking van Abram se nageslag geëindig? Hierdie tydperk van verdrukking het in 1913 v.G.J. begin toe Abraham se seun Isak op ongeveer 5-jarige ouderdom gespeen is en sy 19-jarige halfbroer, Ismael, hom ‘gespot’ het (Genesis 21:8-14; Galasiërs 4:29). Dit het tot ’n einde gekom toe die Israeliete in 1513 v.G.J. uit slawerny in Egipte verlos is.
16:2—Was dit gepas dat Sarai haar diensmeisie Hagar vir Abraham as vrou gegee het? Sarai se aanbod was in ooreenstemming met die gebruik van die dag—dat ’n onvrugbare vrou verplig was om vir haar man ’n byvrou te gee sodat ’n erfgenaam voortgebring kon word. Veelwywery het die eerste keer in Kain se geslagslyn voorgekom. Later het dit ’n gebruik geword, wat deur sommige aanbidders van Jehovah aangeneem is (Genesis 4:17-19; 16:1-3; 29:21-28). Jehovah het egter nooit van sy oorspronklike standaard van monogamie afgesien nie (Genesis 2:21, 22). Noag en sy seuns, aan wie die bevel ‘wees vrugbaar en vul die aarde’ herhaal is, het klaarblyklik elkeen net een vrou gehad (Genesis 7:7; 9:1; 2 Petrus 2:5). En hierdie standaard van monogamie is deur Jesus Christus herhaal.—Matteus 19:4-8; 1 Timoteus 3:2, 12.
19:8—Was dit nie verkeerd van Lot om sy dogters vir die Sodomiete aan te bied nie? Volgens Oosterse gebruik was dit ’n gasheer se verantwoordelikheid om die gaste in sy huis te beskerm, selfs met sy lewe, indien nodig. Lot was bereid om dit te doen. Hy het moedig na die oproerige skare toe uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en hulle alleen aangedurf. Teen die tyd dat hy sy dogters aangebied het, het Lot waarskynlik besef dat sy gaste boodskappers van God is, en hy het dalk geredeneer dat God sy dogters kon beskerm soos Hy sy tante Sara in Egipte beskerm het (Genesis 12:17-20). Lot en sy dogters is toe ook inderdaad beskerm.
19:30-38—Het Jehovah die feit dat Lot dronk geword en seuns by sy twee dogters verwek het, verskoon? Jehovah verskoon nie bloedskande of dronkenskap nie (Levitikus 18:6, 7, 29; 1 Korintiërs 6:9, 10). En in werklikheid het Lot ’n weersin gehad in die “wettelose dade” van Sodom se inwoners (2 Petrus 2:6-8). Die blote feit dat Lot se dogters hom dronk gemaak het, toon dat hulle geweet het dat hy nie sou instem om geslagsomgang met hulle te hê as hy nugter was nie. Maar as vreemdelinge in die land het sy dogters gemeen dat dit die enigste manier was om te voorkom dat Lot se familie uitsterf. Die verslag is in die Bybel opgeteken om aan te dui hoe die Moabiete (deur Moab) en die Ammoniete (deur Ben-Ammi) verwant was aan Abraham se nakomelinge, die Israeliete.
Lesse vir ons:
13:8, 9. Wat ’n pragtige voorbeeld het Abraham tog gestel in die manier waarop verskille hanteer kan word! Laat ons nooit vreedsame verhoudings opoffer ter wille van finansiële gewin, persoonlike voorkeure of trots nie.
15:5, 6. Toe Abraham begin oud word en nog nie ’n seun gehad het nie, het hy met sy God oor die saak gepraat. Op sy beurt het Jehovah hom die nodige versekering gegee. Die gevolg? Abraham “het geloof in Jehovah gestel”. As ons ons hart in gebed voor Jehovah uitstort, al die versekeringe aanvaar wat hy in die Bybel gee en hom gehoorsaam, sal ons geloof versterk word.
15:16. Jehovah het sy oordeel oor die Amoriete (of, Kanaäniete) eers ná vier geslagte voltrek. Waarom? Omdat hy ’n geduldige God is. Hy het gewag totdat daar geen hoop meer was op verbetering nie. Soos Jehovah moet ons ook geduldig wees.
18:23-33. Jehovah vernietig mense nie voor die voet nie. Hy beskerm die regverdiges.
19:16. Lot het “bly talm”, en die engele moes hom en sy gesin feitlik uit die stad Sodom sleep. Dit sal verstandig van ons wees om nie ons gevoel van dringendheid te verloor terwyl ons op die einde van die goddelose wêreld wag nie.
19:26. Hoe dwaas sal dit tog wees om toe te laat dat ons aandag afgetrek word deur die dinge wat ons in die wêreld agtergelaat het of om met verlange daarna terug te kyk!
JAKOB HET 12 SEUNS
Abraham reël dat Isak met Rebekka trou, ’n vrou wat geloof in Jehovah beoefen. Sy gee geboorte aan die tweeling Esau en Jakob. Esau verag sy geboortereg en verkoop dit aan Jakob, wat later sy vader se seën ontvang. Jakob vlug na Paddan-Aram, waar hy met Lea en Ragel trou en sowat 20 jaar lank hulle vader se vee oppas voordat hy wegtrek met sy gesin. By Lea, Ragel en hulle twee diensmeisies het Jakob 12 seuns en een dogter. Jakob worstel met ’n engel en word geseën, en sy naam word na Israel verander.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
28:12, 13—Wat was betekenisvol omtrent Jakob se droom van “’n leer”? Hierdie “leer”, wat moontlik soos ’n kliptrap gelyk het, het aangedui dat daar kommunikasie tussen die aarde en die hemel is. Die feit dat God se engele daarteen op- en afgeklim het, het getoon dat engele op die een of ander belangrike manier diens verrig tussen Jehovah en mense wat sy goedkeuring wegdra.—Johannes 1:51.
30:14, 15—Waarom het Ragel ’n geleentheid om swanger te raak, verruil vir liefdesappels? In die ou tyd is liefdesappels in medisyne gebruik as ’n verdowingsmiddel en om krampe te voorkom of te verlig. Daar is ook geglo dat die vrug seksuele begeertes kon opwek en ’n mens se vrugbaarheid kon verhoog of bevrugting kon bevorder (Hooglied 7:13). Hoewel die Bybel nie sê wat Ragel se beweegrede was nie, het sy moontlik gedink dat die liefdesappels haar sou help om swanger te raak en die smaad weens haar onvrugbaarheid sou wegneem. Maar Jehovah het eers jare later “haar moederskoot geopen”.—Genesis 30:22-24.
Lesse vir ons:
25:23. Jehovah het die vermoë om die genetiese neigings van ’n ongebore kind vas te stel en sy voorkennis te gebruik om te kies wie ’n rol in sy voornemens sal speel. Hy bepaal egter nie voor die tyd die uiteindelike lot van individue nie.—Hosea 12:3; Romeine 9:10-12.
25:32, 33; 32:24-29. Die feit dat Jakob dit so belangrik geag het om die geboortereg te verkry en dat hy bereid was om die hele nag met ’n engel te worstel om ’n seën te verkry, toon dat hy heilige dinge werklik waardeer het. Jehovah het ’n aantal heilige dinge aan ons toevertrou, soos ons verhouding met hom en sy organisasie, die losprys, die Bybel en ons Koninkrykshoop. Mag ons soos Jakob wees deur waardering daarvoor te toon.
34:1, 30. Die probleme wat Jakob “’n verstoteling” gemaak het, het begin toe Dina vriende gemaak het met mense wat nie Jehovah liefgehad het nie. Ons moet ons metgeselle verstandig kies.
JEHOVAH SEËN JOSEF IN EGIPTE
Jaloesie beweeg Jakob se seuns om hulle broer Josef as ’n slaaf te verkoop. In Egipte word Josef in die tronk gesit omdat hy getrou en moedig by God se sedelike standaarde bly. Later word hy uit die tronk gehaal om Farao se drome uit te lê, wat sewe jaar van oorvloed voorspel, gevolg deur sewe jaar van hongersnood. Josef word dan aangestel as Egipte se voedseladministrateur. As gevolg van die hongersnood kom sy broers na Egipte op soek na voedsel. Die familie word herenig en vestig hulle in die vrugbare land Gosen. Op sy sterfbed seën Jakob sy seuns en spreek ’n profesie uit wat ’n vaste hoop bied op groot seëninge in latere eeue. Jakob se oorskot word na Kanaän geneem om begrawe te word. Wanneer Josef op die ouderdom van 110 sterf, word sy liggaam gebalsem en later na die Beloofde Land geneem.—Eksodus 13:19.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
43:32—Waarom was dit iets verfoeiliks vir die Egiptenare om ’n maaltyd saam met die Hebreërs te eet? Dit was dalk hoofsaaklik weens godsdiensvooroordeel of rassetrots. Skaapwagters was ook vir die Egiptenare verfoeilik (Genesis 46:34). Waarom? Moontlik was herders bloot onder die laagstes in die Egiptiese kastestelsel. Of dalk was die feit dat landbougrond so beperk was, die rede dat die Egiptenare diegene verag het wat weiveld vir kuddes gesoek het.
44:5—Het Josef werklik ’n beker gebruik om voortekens te lees? Die silwerbeker en wat daaroor gesê is, was klaarblyklik deel van ’n set of voorwendsel. Josef was ’n getroue aanbidder van Jehovah. Hy het nie werklik die beker gebruik om voortekens te lees nie, net soos wat Benjamin dit nie werklik gesteel het nie.
49:10—Wat is die betekenis van “die septer” en “die aanvoerderstaf”? ’n Septer is ’n staf wat deur ’n heerser gedra word as simbool van koninklike gesag. Die aanvoerderstaf is ’n lang roede wat sy mag uitbeeld om die bevel te voer. Jakob se verwysing na hierdie dinge het daarop gedui dat die stam Juda aansienlike gesag en mag sou hê totdat Silo kom. Hierdie nakomeling van Juda is Jesus Christus, die een aan wie Jehovah hemelse heerskappy gegee het. Christus het koninklike gesag en besit die mag om die bevel te voer.—Psalm 2:8, 9; Jesaja 55:4; Daniël 7:13, 14.
Lesse vir ons:
38:26. Juda het verkeerd opgetree teenoor sy weduwee-skoondogter, Tamar. Toe hy egter daarop gewys is dat hy verantwoordelik was vir haar swangerskap, het Juda nederig sy skuld erken. Ons moet ook gou wees om ons foute te erken.
39:9. Josef se optrede teenoor Potifar se vrou toon dat sy denke wat sedes betref, in ooreenstemming was met God se denke en dat sy gewete deur goddelike beginsels gerig is. Moet ons nie ook daarna streef terwyl ons toeneem in juiste kennis van die waarheid nie?
41:14-16, 39, 40. Jehovah kan die omstandighede verander van diegene wat hom vrees. Wanneer teëspoed ons tref, sal dit verstandig van ons wees om ons vertroue in Jehovah te stel en getrou aan hom te bly.
Hulle het onwankelbare geloof gehad
Abraham, Isak, Jakob en Josef was waarlik godvresende manne van geloof. Die verslag oor hulle lewe, wat in die boek Genesis opgeteken staan, is waarlik geloofversterkend en leer ons talle waardevolle lesse.
Jy kan by hierdie verslag baat vind wanneer jy jou weeklikse Bybellees vir die Teokratiese Bedieningskool doen. Die voorafgaande punte sal help om die verslag te laat lewe.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Jehovah se Woord is lewend—glanspunte uit die boek Genesis—I” in Die Wagtoring van 1 Januarie 2004.
[Prent op bladsy 26]
Jehovah seën Josef
[Prent op bladsy 26]
Abraham was ’n man van geloof
[Prent op bladsy 26]
Regverdige Lot en sy dogters het behoue gebly
[Prent op bladsy 29]
Jakob het heilige dinge waardeer. Waardeer jy dit?