Bybelboek nommer 1—Genesis
Skrywer: Moses
Waar geskryf: Woestyn
Geskrif voltooi: 1513 v.G.J.
Beskrewe tydperk: “In die begin” tot 1657 v.G.J.
1. Wat is van die uiters belangrike onderwerpe wat in Genesis behandel word?
STEL jou voor dat jy ’n boek van net 50 kort hoofstukke optel en op die eerste paar bladsye die enigste juiste verslag vind van die vroegste geskiedenis van die mens, sowel as ’n beskrywing van die mens se verhouding tot God, sy Skepper, en tot die aarde met sy miriades skepsele! Daardie paar bladsye gee jou ook ’n diep insig in God se voorneme toe hy die mens op die aarde geplaas het. Lees jy ’n bietjie verder, kom jy agter waarom die mens sterf en wat die oorsaak is van die bewoë toestand waarin hy hom vandag bevind. Jy word boonop ingelig oor die ware grondslag vir geloof en vir hoop en selfs oor die identiteit van God se bevrydingsinstrument—die Saad van die belofte. Die merkwaardige boek wat dit alles bevat, is Genesis, die eerste van die 66 boeke van die Bybel.
2. Wat beteken die naam Genesis, en waarvan maak dit die eerste deel uit?
2 “Genesis” beteken “Oorsprong; Geboorte”, ’n naam wat aan die Griekse Septuagint-vertaling van die boek ontleen is. In die Hebreeuse manuskripte is die titel die openingswoord, Bereʼ·sjithʹ, “in die begin” (Grieks, en ar·kheiʹ). Genesis is die eerste boek van die Pentateug (’n Afrikaanse vorm van ’n Griekse woord wat “vyf rolle” of “vyfdelige boek” beteken). Aanvanklik was dit blykbaar een boek genaamd die Tora (Wet) of “die wetboek van Moses”, maar later is dit in die vyf rolle verdeel om hantering te vergemaklik.—Jos. 23:6; Esra 6:18.
3. (a) Wie is die Outeur van Genesis, maar wie het dit geskryf? (b) Hoe het Moses moontlik aan die inligting gekom wat hy in Genesis opgeteken het?
3 Jehovah God is die Outeur van die Bybel, maar hy het Moses geïnspireer om die boek Genesis te skryf. Waar het Moses die inligting wat hy in Genesis opgeteken het vandaan gekry? Dele daarvan het hy moontlik regstreeks deur goddelike openbaring ontvang en ander dele, onder die leiding van heilige gees, deur mondelinge oorlewering. Dit is ook moontlik dat Moses geskrewe dokumente in sy besit gehad het wat deur sy voorvaders bewaar is as kosbare, waardevolle verslae oor die oorsprong van die mensdom.a
4. (a) Waar en wanneer het Moses sy skrywe van Genesis voltooi? (b) Hoe kon Moses die materiaal verkry het wat hy in die laaste deel van Genesis opgeteken het?
4 Dit was moontlik in 1513 v.G.J. in die woestyn Sinai dat Moses sy skrywe onder inspirasie voltooi het (2 Tim. 3:16; Joh. 5:39, 46, 47). Waar het Moses aan die inligting vir die laaste deel van Genesis gekom? Aangesien sy oupagrootjie Levi die halfbroer van Josef was, sou sy eie familie deeglik vertroud gewees het met hierdie besonderhede. Dit kan selfs wees dat Levi se lewe gedeeltelik saamgeval het met dié van Moses se vader, Amram. Bowendien sou Jehovah se gees natuurlik verseker het dat hierdie gedeelte van die Skrif noukeurig opgeteken word.—Ex. 6:15, 17, 19; Num. 26:59.
5. Watter bewyse in die Bybel self toon dat Moses die skrywer was?
5 Daar bestaan geen twyfel oor wie Genesis geskryf het nie. “Die wetboek van Moses” en soortgelyke verwysings na die eerste vyf boeke van die Bybel, waarvan Genesis een is, kom dikwels voor vanaf die tyd van Moses se opvolger, Josua. Trouens, daar is sowat 200 verwysings na Moses in 27 van die latere Bybelboeke. Moses se skrywerskap is nog nooit deur die Jode in twyfel getrek nie. Die Christelike Griekse Geskrifte maak dikwels melding van Moses as die skrywer van “die wet”, en die hoogste getuienis is dié van Jesus Christus. Moses het op die regstreekse bevel van Jehovah en onder Sy inspirasie geskryf.—Ex. 17:14; 34:27; Jos. 8:31; Dan. 9:13; Luk. 24:27, 44.
6. Wat dui daarop dat skrif vroeg in die mensegeskiedenis ontstaan het?
6 Sommige skeptici het al gevra: Maar hoe kon Moses en sy voorgangers skryf? Het mense nie eers later die vermoë ontwikkel om te skryf nie? Skrif het blykbaar vroeg in die mensegeskiedenis ontstaan, miskien voor die Vloed van Noag se dag, wat in 2370 v.G.J. plaasgevind het. Is daar enige bewys van die mens se vroeë vermoë om te skryf? Hoewel argeoloë beweer dat sekere kleitablette wat hulle opgegrawe het vóór 2370 v.G.J. geskryf is, is dit blote gissings. Let egter daarop dat die Bybel duidelik toon dat die bou van stede, die ontwikkeling van musiekinstrumente en die smee van ystergereedskap lank voor die Vloed begin het (Gen. 4:17, 21, 22). Dit volg dus dat die mens nie veel moeite sou ondervind het om ’n skryfmetode te ontwikkel nie.
7. Watter sekulêre bewys is daar van ’n wêreldvloed en van drie vertakkings van die mensdom, soos in die Bybelverslag beskryf word?
7 In talle ander opsigte stem Genesis in verbasende mate met bewese feite ooreen. Net Genesis gee ’n juiste en feitelike verslag van die Vloed en sy oorlewendes, hoewel verhale oor ’n vloed en menslike oorlewendes (wat in baie gevalle in ’n vaartuig behoue gebly het) in die legendes van baie vertakkings van die mensdom aangetref word. Die Genesisverslag gee ook die plekke aan waar die verskillende vertakkings van die mensdom, afstammelinge van die drie seuns van Noag—Sem, Gam en Jafet—in die begin gewoon het.b Dr. Melvin G. Kyle, van Xenia Theological Seminary, Missouri, VSA, sê: “Dat vanuit ’n sentrale punt, êrens in Mesopotamië, die Hamitiese tak van die mensdom na die suidweste getrek het, die Jafetiese tak na die noordweste en die Semitiese tak ‘ooswaarts’ na die ‘land Sinear’, is onbetwisbaar.”c
8. Watter ander bewysmateriaal getuig van die egtheid van Genesis?
8 Die egtheid van Genesis as deel van die goddelike verslag blyk ook uit sy interne harmonie, sowel as uit sy volkome ooreenstemming met die res van die geïnspireerde Skrif. In die openhartigheid van die boek sien ons ’n skrywer wat Jehovah vrees en die waarheid liefhet, iemand wat sonder aarseling skryf oor die sondes van sowel die nasie as die vooraanstaandes in Israel. Bowenal word Genesis deur die onfeilbare akkuraatheid waarmee sy profesieë vervul is, soos teen die einde van hierdie hoofstuk getoon sal word, gekenmerk as ’n uitsonderlike voorbeeld van ’n geskrif wat deur Jehovah God geïnspireer is.—Gen. 9:20-23; 37:18-35; Gal. 3:8, 16.
INHOUD VAN GENESIS
9. (a) Wat word in die eerste hoofstuk van Genesis aangaande God se skeppingswerk vertel? (b) Watter bykomende besonderhede gee die tweede hoofstuk aangaande die mens?
9 Die skepping van die hemel en die aarde, en die voorbereiding van die aarde vir bewoning deur die mens (1:1–2:25). Genesis voer ons blykbaar miljarde jare in die tydstroom terug en begin met indrukwekkende eenvoud: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” Dit is betekenisvol dat hierdie openingsin God as die Skepper en sy materiële skepping as die hemel en die aarde identifiseer. Vervolgens gee die eerste hoofstuk, in majestueuse, goedgekose woorde, ’n algemene verslag van die skeppingswerk met betrekking tot die aarde. Dit word uitgevoer in ses tydperke genaamd dae, wat elk begin met ’n aand, wanneer die skeppingswerk vir daardie tydperk onduidelik is, en eindig met die helderheid van ’n môre, wanneer die glorie van die skeppingswerk duidelik sigbaar word. Op opeenvolgende “dae” verskyn die lig; die uitspansel van die atmosfeer; droë grond en plantegroei; die ligte wat dag en nag van mekaar skei; visse en voëls; landdiere en ten slotte die mens. God maak hier sy wet bekend waardeur die soorte beheers word, die onoorkoomlike versperring wat dit onmoontlik maak vir een soort om tot ’n ander te evolueer. Nadat hy die mens na Sy beeld gemaak het, kondig God Sy drievoudige doel met die mens op aarde aan: om dit met regverdige nakomelinge te vul, om dit te onderwerp en om oor die diereskepping te heers. Die sewende “dag” word geseën en heilig verklaar deur Jehovah, wat nou begin ‘rus van al sy werk wat Hy gemaak het’. Die verslag gee ons vervolgens ’n vlakby- of vergrote beeld van God se skeppingswerk met betrekking tot die mens. Dit beskryf die tuin van Eden en sy ligging, vermeld God se wet rakende die verbode boom, vertel dat Adam die diere name gegee het en gee dan verslag van hoe Jehovah die eerste huwelik gereël het deur ’n vrou uit Adam se eie liggaam te vorm en haar na Adam te bring.
10. Hoe verduidelik Genesis waar sonde en die dood vandaan kom, en watter belangrike voorneme word hier bekend gemaak?
10 Sonde en die dood kom die wêreld binne; die “saad” as verlosser voorspel (3:1–5:5). Die vrou eet die verbode vrug en oorreed haar man om by haar aan te sluit in die opstand. So word Eden deur ongehoorsaamheid besoedel. God wys onmiddellik op die middel waardeur sy voorneme volbring sal word: “Toe sê die HERE God aan die slang [Satan, die onsigbare aanstigter van die opstand]: . . . En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (3:14, 15). Die mens word uit die tuin gesit om in pyn en arbeidsweet tussen dorings en distels te lewe. Uiteindelik moet hy sterf en terugkeer na die grond waaruit hy geneem is. Net sy nakomelinge kan hulle hoop op die beloofde Saad vestig.
11. Hoe duur die verwoestende gevolge van die sonde buite Eden voort?
11 Die verwoestende gevolge van die sonde duur buite Eden voort. Kain, die eerste manlike kind wat gebore word, word die moordenaar van sy broer Abel, ’n getroue kneg van Jehovah. Jehovah verban Kain na die land van Vlugtelingskap (Nod), waar hy ’n geslag voortbring wat later deur die Vloed verdelg word. Adam het nou nog ’n seun, Set, wat die vader van Enos word; op hierdie tydstip begin mense om die naam van Jehovah huigelagtig aan te roep. Adam sterf in die ouderdom van 930 jaar.
12. Hoe gebeur dit dat die aarde in die dae van Noag verdorwe raak?
12 Goddelose mense en engele verderf die aarde; God bring die Vloed (5:6–11:9). Hier word die geslagsregister van Set aangegee. Prominent onder hierdie nakomelinge van Set is Henog, wat Jehovah se naam heilig deur ‘met God te wandel’ (5:22). Die volgende man van opmerklike geloof is Henog se agterkleinseun Noag, wat 1 056 jaar na die skepping van Adam gebore word. Gedurende hierdie tyd gebeur daar iets wat die geweld op die aarde laat toeneem. Engele van God verlaat hulle hemelse woonplek om met die mooi dogters van die mense te trou. Deur hierdie ongeoorloofde saamlewery ontstaan daar ’n basterras van reuse bekend as die Nefilim (oftewel “Neervellers”), wat naam maak, nie vir God nie, maar vir hulleself. Jehovah deel Noag derhalwe mee dat Hy mens en dier gaan uitwis vanweë die voortgesette boosheid van die mensdom. Slegs Noag vind guns in die oë van Jehovah.
13. Hoe heilig Jehovah nou sy naam?
13 Noag word die vader van Sem, Gam en Jafet. Terwyl geweldpleging en verderf op die aarde voortduur, openbaar Jehovah aan Noag dat Hy op die punt staan om Sy naam deur middel van ’n groot vloed te heilig. Hy beveel Noag om ’n ark van behoudenis te bou en gee hom volledige bouplanne. Noag gehoorsaam sonder uitstel en bring sy gesin van agt persone, tesame met diere en voëls, byeen; dan, in sy 600ste lewensjaar (2370 v.G.J.), begin die Vloed. Die stortreën hou 40 dae aan, totdat selfs die hoë berge 15 el (ca. 6,7 m) onder water is. Wanneer Noag sy gesin uiteindelik na een jaar uit die ark kan lei, is sy eerste daad om ’n groot dankoffer aan Jehovah te bring.
14. Wat beveel Jehovah nou, watter verbond sluit hy en wat gebeur nog in Noag se lewe?
14 Jehovah seën Noag en sy gesin nou en beveel hulle om die aarde met hulle nakomelinge te vul. God verorden dat die mens vleis mag eet maar eis onthouding van bloed, wat die siel, of lewe, van die vlees is, en hy bepaal dat moordenaars tereggestel moet word. God se verbond om nooit weer ’n groot vloed oor die aarde te bring nie, word bekragtig deur die verskyning van die reënboog in die lug. Later toon Gam minagting vir Jehovah se profeet Noag. Wanneer Noag dit hoor, vervloek hy Gam se seun Kanaän, maar hy voeg ’n seën by wat toon dat Sem spesiaal begunstig sal word en dat Jafet ook geseën sal word. Noag sterf in die ouderdom van 950 jaar.
15. Hoe probeer mense om ’n gevierde naam vir hulleself te maak, en hoe dwarsboom Jehovah hulle planne?
15 Noag se drie seuns gee gehoor aan God se gebod om te vermeerder en bring 70 geslagte voort, die stamvaders van die huidige mensegeslag. Nimrod, die kleinseun van Gam, word nie ingereken nie, klaarblyklik omdat hy “’n magtige jagter in verset teen Jehovah” word (10:9, NW). Hy rig ’n koninkryk op en begin om stede te bou. Op hierdie tydstip het die hele aarde een taal. In plaas dat die mense oor die aarde versprei om dit te bevolk en te bewerk, besluit hulle om ’n stad te bou, asook ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik sodat hulle vir hulleself ’n gevierde naam kan maak. Jehovah dwarsboom egter hulle planne deur hulle taal te verwar, en so verstrooi hy hulle. Die stad word Babel (“Verwarring”) genoem.
16. (a) Waarom is die geslagsregister van Sem belangrik? (b) Hoe kom dit dat Abram Jehovah se “vriend” genoem word, en watter seëninge ontvang hy?
16 God se handelinge met Abraham (11:10–25:26). Die belangrike afstammingslyn van Sem tot Tera se seun Abram word aangegee, en dit verskaf ook die chronologiese skakels. Abram probeer nie vir homself naam maak nie, maar beoefen geloof in God. Op God se bevel verlaat hy die Chaldeeuse stad Ur en steek hy op die ouderdom van 75 die Eufraat oor onderweg na die land Kanaän, terwyl hy die naam van Jehovah aanroep. Vanweë sy geloof en gehoorsaamheid word hy later Jehovah se “vriend” genoem en sluit God sy verbond met hom (Jak. 2:23; 2 Kron. 20:7; Jes. 41:8). God beskerm Abram en sy vrou gedurende ’n kort verblyf in Egipte. Met sy terugkeer na Kanaän toon Abram sy ruimhartigheid en vredeliewendheid deur sy neef en medeaanbidder, Lot, die beste deel van die land te laat kies. Later bevry hy Lot uit die hand van vier konings wat hom gevange geneem het. Dan, wanneer Abram van die stryd terugkeer, ontmoet hy Melgisedek, die koning van Salem, wat as priester van God ’n seën oor Abram uitspreek en aan wie Abram tiendes betaal.
17. Hoe brei God sy verbond uit, en wat word in verband met Abram se saad onthul?
17 Wanneer God later aan Abram verskyn, kondig hy aan dat Hy Abram se skild is en brei hy sy verbondsbelofte uit deur te onthul dat Abram se saad so talryk soos die sterre van die hemel sal word. Abram word meegedeel dat sy saad 400 jaar verdruk sal word, maar dat God hulle sal verlos en die verdrukkende nasie sal oordeel. Wanneer Abram 85 jaar oud is, gee sy steeds kinderlose vrou Sarai hom haar Egiptiese slavin Hagar, sodat hy ’n kind by haar kan verwek. Ismael word gebore en word as die moontlike erfgenaam beskou. Maar Jehovah het ’n ander voorneme. Wanneer Abram 99 jaar oud is, verander Jehovah sy naam na Abraham, Sarai se naam na Sara en belowe Hy dat Sara ’n seun sal baar. Abraham ontvang die verbond van die besnydenis en sorg dadelik dat sy huisgesin besny word.
18. Watter opmerklike gebeure vorm die hoogtepunt van Lot se lewe?
18 God verwittig Sy vriend Abraham nou van Sy besluit om Sodom en Gomorra te vernietig weens hulle sware sonde. Engele van Jehovah waarsku Lot en help hom om met sy vrou en twee dogters uit Sodom te vlug. Sy vrou talm egter om na die dinge agter haar te kyk en word ’n soutpilaar. Om ’n nageslag te verkry, maak Lot se dogters hulle vader dronk van wyn en hou hulle met hom geslagsgemeenskap. Hulle baar twee seuns, wat die voorvaders van die nasies Moab en Ammon word.
19. Watter toets in verband met die Saad deurstaan Abraham suksesvol, en wat onthul Jehovah verder wanneer hy Sy belofte bevestig?
19 God beskerm Sara teen besoedeling deur Abimeleg van die Filistyne. Die beloofde erfgenaam, Isak, word gebore wanneer Abraham 100 jaar en Sara ongeveer 90 jaar oud is. Sowat vyf jaar hierna dryf die 19-jarige Ismael die spot met Isak, die erfgenaam, wat daartoe lei dat Hagar en Ismael weggestuur word, met God se goedkeuring. ’n Paar jaar later stel God Abraham op die proef deur hom te beveel om sy seun Isak op een van die berge van Moria te offer. Abraham se groot geloof in Jehovah wankel nie. Hy onderneem om sy seun en erfgenaam te offer, maar Jehovah keer hom en voorsien ’n ram as plaasvervangende offer. Jehovah bevestig weer Sy belofte aan Abraham en sê dat Hy Abraham se saad sal vermenigvuldig soos die sterre van die hemel en die sandkorrels wat op die seestrand is. Hy toon dat hierdie saad die poort van sy vyande in besit sal neem en dat al die nasies van die aarde hulleself sekerlik sal seën deur middel van die Saad.
20. Watter sorg lê Abraham aan die dag wanneer hy vir Isak ’n vrou kry, en hoe word Isak die enigste erfgenaam gemaak?
20 Sara sterf in die ouderdom van 127 en word begrawe in ’n veld wat Abraham by die seuns van Het koop. Abraham stuur nou sy vernaamste huiskneg om vir Isak ’n vrou te gaan haal in die land van sy familie. Jehovah lei die dienskneg na die huisgesin van Nahor se seun Betuel, en reëlings word getref dat Rebekka saam met hom kan terugkeer. Rebekka gaan gewillig, met die seën van haar gesin, en word Isak se bruid. Ook Abraham neem weer ’n vrou, Ketura, wat vir hom ses seuns baar. Hy gee hulle egter geskenke en stuur hulle weg en maak Isak sy enigste erfgenaam. Dan sterf Abraham in die ouderdom van 175 jaar.
21. Hoe kom dit dat Isak en Rebekka tweelingseuns het?
21 Soos Jehovah voorspel het, word Isak se halfbroer Ismael die hoof van ’n groot nasie, wat op sy 12 owerste-seuns gegrondves is. Rebekka bly 20 jaar onvrugbaar, maar Isak bly vurig tot Jehovah bid, en sy skenk die lewe aan ’n tweeling, Esau en Jakob, aangaande wie Jehovah vir haar gesê het dat die oudste die jongste sal dien. Isak is nou 60 jaar oud.
22. Hoe beskou Esau en Jakob die verbond met Abraham, en met watter gevolge?
22 Jakob en sy 12 seuns (25:27–37:1). Esau word iemand wat van jag hou. Omdat hy nie die verbond met Abraham waardeer nie, verkoop hy op ’n dag wanneer hy van die jag af terugkeer sy eersgeboortereg aan Jakob vir ’n skamele slukkie bredie. Hy trou ook met twee Hetitiese vroue (en later met ’n Ismaelitiese vrou), wat vir sy ouers ’n bron van bitterheid word. Met sy moeder se hulp vermom Jakob hom as Esau om die seën van die eersgeborene te verkry. Esau, wat nie vir Isak gesê het dat hy die eersgeboortereg verkoop het nie, neem hom nou voor om Jakob dood te maak wanneer hy verneem wat Jakob gedoen het. Rebekka raai Jakob aan om na haar broer Laban in Haran te vlug. Voor Jakob vertrek, seën Isak hom weer en beveel hy hom om nie ’n heidense vrou nie maar ’n vrou uit sy moeder se familie te neem. Onderweg na Haran verskyn Jehovah by Bet-el in ’n droom aan hom om hom gerus te stel en die verbondsbelofte teenoor hom te bekragtig.
23. (a) Hoe kom dit dat Jakob 12 seuns het? (b) Hoe verbeur Ruben die eersgeboortereg?
23 In Haran werk Jakob vir Laban en trou hy met Laban se twee dogters, Lea en Ragel. Hoewel hierdie poligame huwelik deur ’n set van Laban bewerkstellig word, seën God dit deur Jakob 12 seuns en ’n dogter by sy twee vrouens en hulle twee slavinne, Silpa en Bilha, te gee. God sorg daarvoor dat die kuddes van Jakob sterk vermeerder en beveel hom dan om na die land van sy voorvaders terug te keer. Hy word deur Laban agternagesit, maar hulle sluit ’n verbond by die plek wat Gal-ed en Die Wagtoring (Hebreeus, ham·Mits·pahʹ) genoem word. Wanneer Jakob die reis hervat, gee engele hom ’n gerusstellende versekering en worstel hy in die nag met ’n engel, wat hom uiteindelik seën en sy naam van Jakob na Israel verander. Jakob reël ’n vreedsame ontmoeting met Esau en reis dan verder na Sigem. Hier word sy dogter, Dina, deur die Hewitiese owerste se seun onteer. Haar broers Simeon en Levi neem wraak deur die manne van Sigem uit te moor. Dit mishaag Jakob, want dit gee hom, as ’n verteenwoordiger van Jehovah, ’n slegte naam in die land. God sê vir hom om na Bet-el te gaan en daar ’n altaar op te rig. Kort na hulle vertrek uit Bet-el sterf Ragel tydens die geboorte van Jakob se twaalfde seun, Benjamin. Ruben onteer Ragel se slavin, Bilha, die moeder van twee van Jakob se seuns, en hiervoor verbeur hy die eersgeboortereg. Kort hierna sterf Isak op 180-jarige leeftyd, en Esau en Jakob begrawe hom.
24. Waarom trek Esau en sy huisgesin na die gebergte Seïr?
24 Esau en sy huisgesin trek na die gebergte Seïr omdat die vergaarde rykdom van Esau en Jakob so groot is dat hulle nie langer saam kan woon nie. Die lys van Esau se nakomelinge sowel as van die stamhoofde en die konings van Edom word gegee. Jakob bly in Kanaän woon.
25. Watter gebeure lei daartoe dat Josef ’n slaaf in Egipte word?
25 Na Egipte toe vir die behoud van lewe (37:2–50:26). Omdat Josef Jehovah se guns geniet en Hy hom sekere drome gee, begin die ouer broers Josef haat. Hulle beraam planne om hom dood te maak, maar verkoop hom dan aan Ismaelitiese handelaars wat verbytrek. Hulle steek Josef se gestreepte kleed in die bloed van ’n bok en wys dit vir Jakob om hom te oortuig dat die jong seun van 17 deur ’n wilde dier gedood is. Josef word na Egipte geneem en aan Potifar, die owerste van Farao se lyfwag, verkoop.
26. Waarom is die verslag oor die geboorte van Peres belangrik?
26 Hoofstuk 38 wyk vlugtig af om te vertel van die geboorte van Peres vir Tamar, wat haar skoonvader Juda deur ’n slim set daartoe bring om met haar die huwelik aan te gaan wat sy seun moes aangegaan het. Hierdie verslag onderstreep weer eens hoe uiters sorgvuldig die Skrif elke ontwikkeling aangee wat tot die voortbrenging van die Saad van die belofte lei. Juda se seun Peres word een van die voorsate van Jesus.—Luk. 3:23, 33.
27. Hoe word Josef eerste minister van Egipte?
27 Intussen seën Jehovah Josef in Egipte, en Josef beklee mettertyd ’n hoë posisie in die huishouding van Potifar. Maar moeilikheid agtervolg hom wanneer hy weier om God se naam oneer aan te doen deur met Potifar se vrou te hoereer. Dit lei daartoe dat hy vals beskuldig en in die tronk gegooi word. Daar gebruik Jehovah hom om die drome van twee medegevangenes, Farao se skinker en bakker, uit te lê. Toe Farao later ’n droom het wat hom erg bekommer, word sy aandag gevestig op die vermoë van Josef, wat dan gou uit die gevangenishol na Farao gebring word. Nadat hy die eer aan God gegee het, verduidelik Josef dat die droom sewe jaar van oorvloed voorspel, gevolg deur sewe jaar van hongersnood. Farao erken dat “die Gees van God” in Josef is en stel hom as eerste minister aan om die situasie te hanteer (Gen. 41:38). Josef, wat nou 30 jaar oud is, gaan verstandig te werk deur gedurende die sewe jaar van oorvloed voedsel op te gaar. Wanneer die wêreldwye hongersnood daarna aanbreek, verkoop hy die koring aan die mense van Egipte en van ander nasies wat na Egipte kom om kos te kry.
28. Watter gebeure lei daartoe dat Jakob se huisgesin na Egipte trek?
28 Uiteindelik stuur Jakob sy tien oudste seuns na Egipte om koring te gaan haal. Josef herken hulle, maar hulle herken hom nie. Hy hou Simeon as gyselaar aan en eis dat hulle hul jongste broer saam met hulle terugbring wanneer hulle weer kom koring haal. Wanneer die nege seuns met Benjamin terugkeer, onthul Josef wie hy is, skenk hy vergifnis aan die tien skuldiges en beveel hy hulle om Jakob te gaan haal en na Egipte te trek sodat hulle deur die hongersnood heen bewaar sal bly. Daarop trek Jakob met 66 van sy nakomelinge na Egipte. Farao gee hulle die beste deel van die land, die land Gosen, as woonplek.
29. Watter belangrike reeks profesieë spreek Jakob op sy sterfbed uit?
29 Wanneer Jakob se dood nader, seën hy Efraim en Manasse, die seuns van Josef, en dan roep hy sy eie 12 seuns bymekaar om hulle mee te deel wat “aan die einde van die dae” met hulle sal gebeur (49:1). Hy gee nou ’n gedetailleerde reeks profesieë, waarvan almal sedertdien merkwaardige vervulling ondergaan het.d Hy voorspel hier dat die septer van heerskappy in die stam van Juda sal bly tot die koms van Silo (wat beteken “Hy wie s’n dit is; Hy aan wie dit behoort”), die beloofde Saad. Nadat Jakob aldus die hoofde van die 12 stamme geseën het en opdrag gegee het aangaande sy toekomstige begrafnis in die Land van die Belofte, sterf hy in die ouderdom van 147 jaar. Josef hou tot met sy eie dood op 110-jarige leeftyd aan om vir sy broers en hulle gesinne te sorg. Kort voor sy dood spreek hy sy geloof uit dat God Israel weer na hulle land sal bring en vra hy dat ook sy gebeente na daardie Land van die Belofte geneem word.
WAAROM NUTTIG
30. (a) Watter grondslag verskaf Genesis vir ons begrip van die latere Bybelboeke? (b) Op watter gepaste doelwit wys Genesis?
30 As die begin van die geïnspireerde Woord van God is Genesis van onskatbare nut omdat dit ons bekend stel met die glorieryke voornemens van Jehovah God. Wat ’n uitstekende grondslag verskaf dit tog vir ons begrip van die latere Bybelboeke! Binne sy breë bestek beskryf Genesis die begin en einde van die regverdige wêreld in Eden, die ontwikkeling en rampspoedige oorstroming van die eerste wêreld van goddelose mense en die opkoms van die huidige bose wêreld. Dit laat die tema van die hele Bybel, naamlik die regverdiging van Jehovah deur die Koninkryk onder die heerskappy van die beloofde “saad”, prominent na vore kom. Dit toon waarom die mens sterf. Vanaf Genesis 3:15—en veral in die verslag oor God se handelinge met Abraham, Isak en Jakob—bied dit die hoop op lewe in die nuwe wêreld onder die Koninkryk van die Saad. Dit is nuttig omdat dit aantoon wat die doelwit van alle mense behoort te wees—om hulle onkreukbaarheid te handhaaf en Jehovah se naam te heilig.—Rom. 5:12, 18; Hebr. 11:3-22, 39, 40; 12:1; Matt. 22:31, 32.
31. Toon met verwysing na die bygaande tabel dat Genesis (a) betekenisvolle profesieë en (b) waardevolle beginsels bevat.
31 Die Christelike Griekse Geskrifte maak melding van elke prominente gebeurtenis en persoon waarvan ons in die boek Genesis lees. Bowendien toon die Skrif dat die profesieë wat in Genesis opgeteken is onfeilbaar uitgekom het. Een daarvan, die “vierhonderd jaar” waartydens Abraham se saad verdruk sou word, het begin toe Ismael in 1913 v.G.J. met Isak gespot het en het geëindig met die bevryding uit Egipte in 1513 v.G.J.e (Gen. 15:13). Voorbeelde van ander betekenisvolle profesieë en die vervulling daarvan verskyn in die bygaande tabel. Ook die goddelike beginsels wat vir die eerste maal in Genesis gestel word, is van die allergrootste nut by die opbou van geloof en insig. Die vroeë profete sowel as Jesus en sy dissipels het dikwels na dele van die boek Genesis verwys en dit toegepas. Ons kan gerus hulle voorbeeld volg, en ’n studie van die bygaande tabel behoort ons hiermee te help.
32. Watter belangrike inligting bevat Genesis oor die huwelik, geslagsregisters en die berekening van tyd?
32 Genesis openbaar baie duidelik God se wil en voorneme ten opsigte van die huwelik, die behoorlike verhouding tussen man en vrou en die beginsels in verband met hoofskap en gesinsopleiding. Jesus self het van hierdie inligting gebruik gemaak toe hy sowel die eerste as die tweede hoofstuk van Genesis aangehaal het in sy een verklaring: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees?” (Matt. 19:4, 5; Gen. 1:27; 2:24). Die verslag in Genesis is onontbeerlik omdat dit die geslagsregisters van die mensdom bevat en dit ook vir ons moontlik maak om te bereken hoe lank die mens al op hierdie aarde is.—Gen., hfst. 5, 7, 10, 11.
33. Noem enkele beginsels en gebruike van die patriargale gemeenskap wat belangrik is vir ons begrip van die Bybel.
33 Nog iets wat vir die ondersoeker van die Skrif van groot nut is, is die insig wat Genesis in die patriargale gemeenskap bied. Die patriargale gemeenskap was die vorm van familieregering wat onder God se volk van krag was vanaf die tyd van Noag totdat die Wet by die berg Sinai gegee is. Baie van die besonderhede wat in die Wetsverbond opgeneem is, het reeds in die patriargale gemeenskap gegeld. Beginsels soos gemeenskapsverdienste (18:32), gemeenskapsverantwoordelikheid (19:15), die doodstraf sowel as die heiligheid van bloed en van lewe (9:4-6) en God se afkeer van menseverheerliking (11:4-8) het die mensdom deur die geskiedenis heen beïnvloed. Baie regsgebruike en -terme werp lig op latere gebeure, selfs tot in die dae van Jesus. Ons moet bekend wees met die patriargale wette oor hoe om sorg te dra vir persone en eiendom (Gen. 31:38, 39; 37:29-33; Joh. 10:11, 15; 17:12; 18:9) en die manier waarop eiendom oorgedra is (Gen. 23:3-18), sowel as die wet rakende die erfdeel van die een wat die eersgeboortereg ontvang (48:22), indien ons die nodige agtergrond wil hê om ’n duidelike begrip van die Bybel te verkry. Ander gebruike van die patriargale gemeenskap wat in die Wet opgeneem is, was offerandes, die besnydenis (wat oorspronklik aan Abraham gegee is), die sluit van verbonde, die swaershuwelik (38:8, 11, 26) en die sweer van ’n eed om ’n saak te bevestig.—22:16; 24:3.f
34. Watter lesse wat vir Christene waardevol is, kan uit ’n studie van Genesis geleer word?
34 Genesis, die eerste boek van die Bybel, bevat baie lesse in onkreukbaarheid, geloof, getrouheid, gehoorsaamheid, eerbied, goeie maniere en moed. Hier is ’n paar voorbeelde: Henog se geloof en moed deur in weerwil van gewelddadige vyande met God te wandel; Noag se regverdigheid, opregtheid en onvoorwaardelike gehoorsaamheid; Abraham se geloof, sy vasbeslotenheid en sy volharding, sy verantwoordelikheidsin as gesinshoof en onderrigter van God se gebooie aan sy kinders, sy ruimhartigheid en sy liefde; Sara se onderdanigheid aan haar man en hoof, en haar vlytigheid; Jakob se sagmoedigheid en sy besorgdheid oor die belofte van God; Josef se gehoorsaamheid aan sy vader, sy morele regskapenheid, sy moed, sy goeie gedrag in die gevangenis, sy eerbied vir hoër owerhede, sy nederigheid deur aan God die eer te gee en die barmhartige wyse waarop hy sy broers vergewe het; die verterende begeerte van al hierdie manne om Jehovah se naam te heilig. Hierdie voorbeeldige eienskappe kom sterk na vore in die lewe van diegene wat met God gewandel het gedurende die lang tydperk van 2 369 jaar van die skepping van Adam af tot die dood van Josef, wat deur die boek Genesis gedek word.
35. Waarheen wys Genesis vooruit, tot opbouing van ons geloof?
35 Die verslag in Genesis is inderdaad nuttig vir die bou van geloof, want dit beskryf sulke skitterende voorbeelde van geloof, daardie beproefde soort geloof wat strewe na die stad waarvan God die bouer en skepper is, sy Koninkryksregering wat hy lank gelede begin voorberei het deur sy Saad van die belofte, die vernaamste heiliger van Jehovah se groot naam.—Hebr. 11:8, 10, 16.
[Voetnote]
a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 919-20; Dl. 2, bladsy 1212.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 328-9.
c Biblical History in the Light of Archaeological Discovery, 1934, D. E. Hart-Davies, bladsy 5.
d Die Wagtoring, 1962, bladsye 389-403, 413-428.
e Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 460-1, 776.
f Die Wagtoring, 1952, bladsye 294-302.
[Tabel op bladsy 18]
GENESIS—GEÏNSPIREERD EN NUTTIG
Genesistekste Beginsel Verwysings deur
tekse ander skrywers
1:27; 2:24 Heiligheid, duursaamheid
van huweliksband Matt. 19:4, 5
2:7 Die mens is ’n siel 1 Kor. 15:45
2:22, 23 Hoofskap 1 Tim. 2:13;
9:4 Heiligheid van bloed Hand. 15:20, 29
20:3 Owerspel verkeerd 1 Kor. 6:9, 10
24:3; 28:1-8 Trou net met gelowige 1 Kor. 7:39
28:7 Gehoorsaamheid aan ouers Ef. 6:1
Vervulde profesieë en profetiese parallelle
12:1-3; Identifikasie van Abraham
22:15-18 se Saad Gal. 3:16, 29
14:18 Melgisedek beeld
Christus af Hebr. 7:13-15
49:1-28 Jakob se seën oor die
12 stamme Jos. 14:1–21:45
49:9 Die leeu uit die stam
van Juda Openb. 5:5
Ander tekste wat—by wyse van illustrasie, toepassing of voorbeeld—deur profete, Jesus en dissipels gebruik is en verdere bewys lewer van die egtheid van Genesis
1:1 God het hemel en aarde
geskep Jes. 45:18; Openb. 10:6
1:26 Die mens na God se
beeld gemaak 1 Kor. 11:7
1:27 Die mens as man en vrou
gemaak Matt. 19:4; Mark. 10:6
3:1-6 Slang het Eva bedrieg 2 Kor. 11:3
3:20 Hele mensdom stam van
eerste paar af Hand. 17:26
4:8 Kain het Abel doodgemaak Jud. 11; 1 Joh. 3:12
4:9, 10 Abel se bloed Matt. 23:35
Geslagsregister Luk., hfst. 3
5:29 Noag Eseg. 14:14; Matt. 24:37
6:13, 17-20 Vloed Jes. 54:9; 2 Pet. 2:5
12:1-3, 7 Abrahamitiese verbond Gal. 3:15-17
15:6 Geloof van Abraham Rom. 4:3; Jak. 2:23
15:13, 14 Verblyf in Egipte Hand. 7:1-7
18:1-5 Gasvryheid Hebr. 13:2
19:24, 25 Sodom en Gomorra
vernietig 2 Pet. 2:6; Jud. 7
19:26 Vrou van Lot Luk. 17:32
20:7 Abraham ’n profeet Ps. 105:9, 15
21:9 Ismael hoon Isak Gal. 4:29
22:10 Abraham probeer Isak
opoffer Hebr. 11:17
25:23 Jakob en Esau Rom. 9:10-13; Mal. 1:2, 3
25:32-34 Esau verkoop
eersgeboortereg Hebr. 12:16, 17
37:28 Josef na Egipte verkoop Ps. 105:17
41:40 Josef word eerste
minister Ps. 105:20, 21