Hoofstuk 25
Medelye vir ’n melaatse
TERWYL Jesus en sy vier dissipels die stede van Galilea besoek, versprei die nuus oor die wonderlike dinge wat hy doen deur die hele streek. Die berig oor sy dade bereik een stad waar daar ’n melaatse man is. Die geneesheer Lukas sê dat hy “vol van melaatsheid” was. Wanneer hierdie vreeslike siekte ’n gevorderde stadium bereik, vermink dit stadigaan verskillende dele van die liggaam. Hierdie melaatse is dus in ’n bejammerenswaardige toestand.
Wanneer Jesus in die stad aankom, nader die melaatse hom. Volgens God se Wet moet ’n melaatse die waarskuwing “Onrein, onrein!” uitroep om te voorkom dat ander te na aan hom kom en dalk aansteek. Die melaatse val nou op sy aangesig en smeek Jesus: “Here, as U wil, kan U my reinig.”
Watter geloof het die man tog in Jesus! Maar hoe bejammerenswaardig laat sy siekte hom nie lyk nie! Wat sal Jesus doen? Wat sou jy doen? Vol medelye strek Jesus sy hand uit en raak die man aan en sê: “Ek wil, word gereinig!” En onmiddellik verdwyn die man se melaatsheid.
Sou jy graag iemand wat so medelydend is as jou koning wil hê? Die manier waarop Jesus hierdie melaatse behandel, gee ons die versekering dat hierdie Bybelprofesie tydens Sy Koninkryksbewind vervul gaan word: “Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red.” Ja, Jesus sal dan sy hartsbegeerte vervul om almal wat ly te help.
Selfs voor hy die melaatse gesond gemaak het, het Jesus se bediening groot opwinding onder die mense veroorsaak. Ter vervulling van Jesaja se profesie beveel Jesus nou die geneesde man: “Pas op dat jy aan niemand iets vertel nie.” Dan sê hy vir hom: “Gaan vertoon jou aan die priester en offer vir jou reiniging wat Moses voorgeskryf het, tot ’n getuienis vir hulle.”
Maar die man is so bly dat hy nie kan stilbly oor die wonderwerk nie. Hy gaan heen en begin die nuus oral vertel en wek blykbaar soveel belangstelling en nuuskierigheid onder die mense dat Jesus nie openlik in enige stad kan ingaan nie. Daarom bly Jesus in verlate plekke waar niemand woon nie, en mense kom van heinde en ver om na hom te luister en van hulle siektes genees te word. Lukas 5:12-16; Markus 1:40-45; Mattheüs 8:2-4; Levitikus 13:45; 14:10-13; Psalm 72:13; Jesaja 42:1, 2.
▪ Watter gevolg kan melaatsheid hê, en watter waarskuwing moes ’n melaatse uitroep?
▪ Hoe het ’n melaatse Jesus om hulp gesmeek, en wat kan ons uit Jesus se antwoord leer?
▪ In watter opsig was die geneesde man ongehoorsaam aan Jesus, en met watter gevolg?