Volg hulle geloof na
Sy het verstandig, moedig en onselfsugtig opgetree
ESTER het met ’n angstige hart stadig na die troon toe gestap. Stel jou die stilte voor wat oor die groot troonsaal in die Persiese paleis in Susan neerdaal, ’n stilte so tasbaar dat Ester haar eie sagte voetstappe en die geritsel van haar koninklike gewaad kon hoor. Sy kon nie toelaat dat haar aandag afgetrek word deur die prag van die koninklike hof, die elegante pilare, die ryklik uitgekerfde plafon van sederhout wat uit die verafgeleë Libanon ingevoer is nie. Sy het haar volle aandag toegespits op die man wat op die troon sit, die man in wie se hande haar lewe is.
Die koning het stip na haar gekyk terwyl sy nader gekom het en het sy goue septer na haar uitgesteek. Dit was ’n eenvoudige gebaar, maar dit het Ester se lewe beteken, want daardeur het die koning haar die oortreding verskoon wat sy so pas gepleeg het—om sonder ’n koninklike uitnodiging voor hom te verskyn. Toe Ester by die troon kom, het sy haar hand uitgesteek en die punt van die septer dankbaar aangeraak.—Ester 5:1, 2.a
Alles omtrent koning Ahasveros het van sy ontsaglike rykdom en mag getuig. Die koninklike gewaad van die destydse Persiese monarge was na bewering in waarde gelykstaande aan honderdmiljoene rande. Maar Ester kon tekens van geneentheid in haar man se oë sien; op sy eie manier het hy haar liefgehad. Hy het gesê: “Wat het jy, o koningin Ester, en wat is jou versoek? Tot die helfte van die koningskap—laat selfs dit aan jou gegee word!”—Ester 5:3.
Ester het reeds merkwaardige geloof en moed aan die dag gelê; sy het voor die koning verskyn om haar volk te beskerm teen ’n komplot om hulle heeltemal uit te wis. Tot dusver was sy suksesvol, maar groter uitdagings het voorgelê. Sy moes hierdie trotse monarg oortuig dat sy mees vertroude raadgewer ’n bose man is wat hom op slinkse wyse oorgehaal het om Ester se volk ter dood te veroordeel. Hoe sou sy hom oorreed, en wat kan ons uit haar geloof leer?
Sy het “’n tyd om te praat” wyslik gekies
Moes Ester die hele probleem voor die koninklike hof aan die koning bekend maak? Dit sou hom dalk verneder het en sy raadgewer Haman moontlik tyd gegee het om haar aanklagte te betwis. Wat het Ester dus gedoen? Eeue vroeër is wyse koning Salomo geïnspireer om te skryf: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, . . . ’n tyd om stil te bly en ’n tyd om te praat” (Prediker 3:1, 7). Ons kan ons voorstel hoe Ester se pleegvader, die getroue man Mordegai, die jong vrou sulke beginsels geleer het terwyl sy onder sy sorg grootgeword het. Ester het beslis verstaan hoe belangrik dit is om die “tyd om te praat” versigtig te kies.
Ester het gesê: “As die koning dit goedvind, laat die koning vandag saam met Haman na die feesmaal kom wat ek vir hom berei het” (Ester 5:4). Die koning het ingestem en het Haman ontbied. Kan jy sien hoe verstandig Ester haar woorde gekies het? Sy het haar man met waardigheid behandel en ’n geskikter geleentheid geskep om met hom te praat oor wat sy op die hart het.
Ester het daardie fees ongetwyfeld met groot sorg voorberei en toegesien dat alles presies na haar man se smaak was. Daar was goeie wyn by die feesmaal om ’n gemoedelike atmosfeer aan te moedig (Psalm 104:15). Ahasveros het die feesmaal geniet en is beweeg om Ester weer te vra wat sy wil hê. Was dit nou die tyd om te praat?
Ester het nie so gedink nie. Sy het die koning en Haman eerder genooi om die volgende dag na ’n tweede feesmaal te kom (Ester 5:7, 8). Waarom het sy getalm? Hou in gedagte dat die koning ’n doodsvonnis oor Ester se hele volk uitgespreek het. Met soveel op die spel moes Ester seker maak dat sy die saak op die regte oomblik aanroer. Daarom het sy gewag en nog ’n geleentheid geskep om vir haar man te wys watter hoë agting sy vir hom het.
Geduld is ’n seldsame, kosbare eienskap. Hoewel Ester ontsteld was en graag wou sê wat sy op die hart het, het sy geduldig vir die regte oomblik gewag. Ons kan baie uit haar voorbeeld leer, want ons almal het waarskynlik al onregte gesien wat reggestel moet word. As ons iemand wat in ’n gesagsposisie is, probeer oortuig om aan ’n probleem aandag te skenk, sal ons Ester dalk moet navolg en geduldig moet wees. Spreuke 25:15 sê: “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal, en ’n sagte tong kan die gebeente breek.” As ons geduldig vir die regte oomblik wag en, soos Ester, op sagmoedige wyse praat, kan selfs teenstand wat so hard soos been is, gebreek word. Het Ester se God, Jehovah, haar geduld en wysheid geseën?
Geduld baan die weg vir geregtigheid
Ester se geduld het die weg gebaan vir ’n merkwaardige reeks gebeure. Haman was baie opgeruimd toe hy van die eerste feesmaal af weggegaan het, “vreugdevol en vrolik van hart” omdat hy soveel guns gevind het in die oë van die koning en koningin. Maar toe Haman deur die kasteel se poort stap, het hy Mordegai gesien, daardie Jood wat nog steeds geweier het om spesiale eer aan hom te bewys. Mordegai het beslis nie so opgetree omdat hy oneerbiedig was nie, maar eerder weens sy gewete en sy verhouding met Jehovah God. Maar Haman is “onmiddellik met woede . . . vervul”.—Ester 5:9.
Toe Haman sy vrou en vriende vertel van hoe hy nie met die nodige agting behandel is nie, het hulle hom aangeraai om ’n groot paal, meer as 22 meter hoog, te laat maak en dan die koning se toestemming te vra om Mordegai daaraan te hang. Haman het van hierdie idee gehou en onmiddellik die paal laat maak.—Ester 5:12-14.
Intussen het die koning ’n ongewone nag gehad. “Die koning se slaap [het] gewyk”, sê die Bybel, en daarom het hy die amptelike Staatsverslae aan hom laat voorlees. Die voorlesing het ’n verslag ingesluit van ’n komplot om Ahasveros te vermoor. Hy het die saak onthou; sy voornemende moordenaars is gevang en tereggestel. Maar wat van die man wat die komplot aan die lig gebring het—Mordegai? Die koning was nou wawyd wakker en wou weet hoe Mordegai beloon is. Die antwoord? Hoegenaamd niks is vir die man gedoen nie.—Ester 6:1-3.
Dit het die koning omgekrap, en hy het gevra watter hofbeamptes beskikbaar is om hom te help om hierdie oorsig reg te stel. Ironies genoeg was Haman in die koning se voorhof—hy het blykbaar vroeg gekom omdat hy gretig was om toestemming te kry om Mordegai tereg te stel. Maar voordat hy hierdie versoek kon doen, het die koning Haman gevra wat die beste manier sal wees om ’n man te vereer wat die koning se guns gewen het. Haman het aangeneem dat die koning hom in gedagte gehad het. Haman het dus aan ’n oordadige manier gedink om hierdie man te vereer: Klee die man in ’n koninklike gewaad en laat ’n hooggeplaaste amptenaar hom op die koning se eie perd in Susan rondneem en die man se lof besing sodat almal dit kan hoor. Stel jou die uitdrukking op Haman se gesig voor toe hy hoor dat Mordegai die man is wat vereer moet word! En wie het die koning gesê moet Mordegai se lof besing? Haman!—Ester 6:4-10.
Haman het hierdie taak, wat hy as baie onaangenaam beskou het, teësinnig uitgevoer en toe ontsteld reguit huis toe gegaan. Sy vrou en vriende het gesê dat hierdie wending niks goeds voorspel nie; hy sou sekerlik die onderspit delf in sy stryd teen Mordegai die Jood.—Ester 6:12, 13.
Omdat Ester geduldig was en een dag langer gewag het om haar versoek tot die koning te rig, is Haman tyd gegee om self die grondslag vir sy ondergang te lê. En was Jehovah God nie dalk verantwoordelik vir die koning se slapeloosheid nie? (Spreuke 21:1). Geen wonder God se Woord moedig ons aan om ’n “wagtende houding” in te neem nie (Miga 7:7). Wanneer ons op God wag, vind ons dalk dat sy oplossings vir ons probleme baie beter is as enigiets waarmee ons moontlik self vorendag sou gekom het.
Sy het haar moedig uitgespreek
Ester kon dit nie waag om die koning se geduld verder te toets nie; by haar tweede feesmaal moes sy met alles uitkom. Maar hoe? Wel, die koning het haar die geleentheid gegee toe hy haar weer vra wat haar versoek is (Ester 7:2). Ester se “tyd om te praat”, het aangebreek.
Ons kan ons voorstel hoe Ester ’n stille gebed tot haar God doen voordat sy sê: “As ek guns in u oë gevind het, o koning, en as die koning dit goedvind, laat my siel aan my gegee word op my bede en my volk op my versoek” (Ester 7:3). Let op dat sy die koning verseker het dat sy sy oordeel in hierdie saak respekteer. Hoe het Ester tog verskil van Vasti, die koning se vorige vrou, wat haar man opsetlik verneder het! (Ester 1:10-12). Ester het die koning ook nie gekritiseer omdat hy Haman dwaaslik vertrou het nie. Sy het die koning eerder gesmeek om haar te beskerm teen ’n bedreiging vir haar lewe.
Daardie versoek het die koning ongetwyfeld geraak en verbaas. Wie sou dit waag om sy koningin se lewe in gevaar te stel? Ester het verder gesê: “Ons is verkoop, ek en my volk, om verdelg, doodgemaak en uitgeroei te word. En as ons as blote slawe en as blote diensmeisies verkoop is, sou ek stilgebly het. Maar die benoudheid is nie gepas wanneer dit met skade vir die koning gepaardgaan nie” (Ester 7:4). Let op dat Ester die probleem openlik blootgelê het, maar sy het bygevoeg dat sy sou stilgebly het as hulle bloot gevaar geloop het om as slawe verkoop te word. Sy kon egter nie stilbly nie, want hierdie volksmoord sou die koning self te veel kos.
Ester se voorbeeld leer ons baie oor die oorredingskuns. As jy ooit ’n ernstige probleem onder die aandag van ’n geliefde of iemand in ’n gesagsposisie moet bring, kan ’n kombinasie van geduld, respek en eerlikheid van groot waarde wees.—Spreuke 16:21, 23.
Ahasveros wou weet: “Wie is dit, en presies waar is die een wat so vermetel was om dit te doen?” Stel jou voor hoe Ester ’n vinger wys terwyl sy sê: “Die man, die teenstander en vyand, is hierdie slegte Haman.” Die aantyging het in die lug gehang. Vrees het Haman beetgepak. Stel jou voor hoe die wispelturige monarg se gesig verkleur toe hy besef dat sy vertroude raadgewer hom mislei het om ’n bevel te onderteken wat sy geliefde vrou se lewe sou kos! Die koning het in die tuin ingestorm om te kalmeer.—Ester 7:5-7.
Noudat Haman blootgelê is vir wat hy werklik was, ’n slinkse lafaard, het hy hom aan die koningin se voete neergewerp. Toe die koning weer in die vertrek inkom en sien dat Haman by Ester op haar slaapbank pleit, het hy Haman briesend daarvan beskuldig dat hy die koningin in die koning se eie huis probeer verkrag. Dit het die doodsklok vir Haman gelui. Sy gesig is bedek en hy is weggeneem. Een van die koning se amptenare het die koning toe van die groot paal vertel wat Haman vir Mordegai laat oprig het. Ahasveros het dadelik beveel dat Haman self daaraan gehang word.—Ester 7:8-10.
In vandag se onregverdige wêreld is dit maklik om te dink dat reg nooit sal geskied nie. Het jy al ooit so gevoel? Ester het nooit moed opgegee nie, nooit sinies geword nie, nooit haar geloof verloor nie. Toe die tyd daarvoor aangebreek het, het sy moedig opgekom vir wat reg is, en sy het op Jehovah vertrou om die res te doen. Mag ons dieselfde doen! Jehovah het nie sedert Ester se dag verander nie. Hy is nog steeds heeltemal in staat om goddelose en slinkse mense in hulle eie strikke te vang, net soos hy met Haman gedoen het.—Psalm 7:11-16.
Sy het onselfsugtig vir Jehovah en sy volk opgetree
Uiteindelik het die koning uitgevind wie Mordegai is—nie net die een wat hom lojaal teen ’n sluipmoordpoging beskerm het nie, maar ook Ester se pleegvader. Ahasveros het Mordegai in Haman se posisie as eerste minister aangestel. Die koning het Haman se huis—met inbegrip van sy ontsaglike fortuin—aan Ester gegee, en sy het Mordegai daaroor aangestel.—Ester 8:1, 2.
Kon Ester ontspan, noudat sy en Mordegai veilig was? Net as sy selfsugtig was. Op daardie oomblik was Haman se opdrag om al die Jode dood te maak op pad na elke uithoek van die ryk. Haman het die lot, of Pur, gewerp—klaarblyklik ’n vorm van spiritisme—om die geleë tyd vir sy wrede aanval vas te stel (Ester 9:24-26). Dit was nog maande voor die dag sou aanbreek, maar dit het vinnig nader gekom. Kon die ramp nog afgewend word?
Ester het weer op onselfsugtige wyse haar lewe gewaag en nog ’n keer sonder ’n amptelike uitnodiging voor die koning verskyn. Hierdie keer het sy vir haar volk gehuil en haar man gesmeek om die verskriklike bevel terug te trek. Maar wette wat in die naam van die Persiese monarg gemaak is, kon nie teruggetrek word nie (Daniël 6:12, 15). Gevolglik het die koning Ester en Mordegai die gesag gegee om nuwe wette uit te vaardig. ’n Tweede verklaring is uitgestuur waarin die Jode die reg gegee is om hulle te verdedig. Ruiters het hulle na elke deel van die ryk gehaas en hierdie goeie nuus na die Jode geneem. Hoop het weer in baie harte opgeflikker (Ester 8:3-16). Ons kan ons voorstel hoe die Jode oral in daardie uitgestrekte ryk hulle bewapen en gereed kry om te veg, iets wat hulle nooit sonder daardie nuwe verordening sou kon gedoen het nie. Maar selfs belangriker, sou “Jehovah van die leërs” met sy volk wees?—1 Samuel 17:45.
Toe die aangewese dag uiteindelik aanbreek, was God se volk gereed. Selfs baie Persiese amptenare was nou aan hulle kant, aangesien die nuus in verband met die nuwe eerste minister, Mordegai die Jood, wyd en syd versprei het. Jehovah het sy volk ’n groot oorwinning gegee. Hy het ongetwyfeld toegesien dat hulle vyande ’n algehele nederlaag ly sodat hulle hulle nie op sy volk kon wreek nie.b—Ester 9:1-6.
Daarbenewens sou dit nooit vir Mordegai veilig gewees het om Haman se huis te bestuur terwyl daardie bose man se tien seuns nog gelewe het nie. Ook hulle is doodgemaak (Ester 9:7-10). ’n Bybelprofesie is sodoende vervul, want God het vroeër die algehele uitwissing van die Amalekiete voorspel, wat bose vyande van sy volk was (Deuteronomium 25:17-19). Die seuns van Haman was heel moontlik onder die heel laaste lede van daardie veroordeelde nasie.
Ester moes swaar laste op haar jong skouers neem—soos koninklike verordeninge in verband met oorlog en teregstelling. Dit kon nie maklik gewees het nie. Maar Jehovah se wil het vereis dat sy volk teen uitwissing beskerm word; die nasie Israel moes die beloofde Messias voortbring, die een bron van hoop vir die hele mensdom! (Genesis 22:18). Hedendaagse knegte van God is verheug om te weet dat toe die Messias, Jesus, na die aarde gekom het, hy sy volgelinge verbied het om van daardie tyd af aan fisiese oorlogvoering deel te neem.—Matteus 26:52.
Nietemin neem Christene wel aan geestelike oorlogvoering deel; Satan is baie gretig om ons geloof in Jehovah God te vernietig (2 Korintiërs 10:3, 4). Wat ’n seën is dit tog om Ester as ’n voorbeeld te hê! Mag ons, soos sy, geloof toon deur ons verstandige en geduldige gebruik van oorredingsvermoë, deur ons moed en deur ons onselfsugtige gewilligheid om vir God se volk op te kom.
[Voetnote]
a In die vorige artikel in hierdie reeks het ons gesien hoe die weeskind Ester aangeneem is deur Mordegai, haar neef wat veel ouer as sy was, en later gekies is om die vrou te wees van Ahasveros, die koning van Persië. Die koning se raadgewer, Haman, het ’n bose komplot gesmee om Mordegai se volk, die Jode, uit te wis. Mordegai het Ester oorreed om na die koning te gaan en ten behoewe van haar volk te pleit.—Sien die artikel “Volg hulle geloof na—Sy het opgekom vir God se volk”, in Die Wagtoring van 1 Oktober 2011.
b Die koning het die Jode ’n tweede dag gegee om hulle verowering van hulle vyande te voltooi (Ester 9:12-14). Tot vandag toe vier die Jode daardie oorwinning elke lente tydens ’n fees wat bekend staan as Purim, vernoem na die lot wat Haman gewerp het in sy poging om Israel uit te wis.
[Venster op bladsy 28]
Vrae oor Ester
Waarom het Mordegai Ester toegelaat om met ’n heidense ongelowige te trou?
Die bewering deur party geleerdes dat Mordegai ’n opportunis was wat wou hê dat Ester met die koning trou vir die aansien wat daarmee gepaardgegaan het, is heeltemal ongegrond. Hy was ’n getroue Jood en sou dus nie so ’n huwelik goedgekeur het nie (Deuteronomium 7:3). Volgens eertydse Joodse tradisie het Mordegai die huwelik probeer keer. Dit is onwaarskynlik dat hy of Ester, blote vreemdelinge in ’n land onder die beheer van ’n outokraat wat as ’n god beskou is, veel van ’n keuse sou gehad het. Mettertyd het dit duidelik geword dat Jehovah Ester se huwelik gebruik het om sy volk te beskerm.—Ester 4:14.
Waarom maak die boek Ester glad nie melding van God se persoonlike naam, Jehovah, nie?
Mordegai was klaarblyklik die geïnspireerde skrywer van die boek. Moontlik is die boek eers saam met amptelike Persiese verslae gehou voordat dit na Jerusalem geneem is. Die gebruik van Jehovah se naam kon daartoe gelei het dat aanbidders van die Persiese gode die boek vernietig. Hoe dit ook al sy, Jehovah se betrokkenheid in die verhaal is duidelik. Dit is interessant dat God se persoonlike naam in die oorspronklike Hebreeus versteek is deur middel van akrostigons, waarin die woordorde doelbewus so gerangskik is dat die eerste of die laaste letter van opeenvolgende woorde God se naam spel.—Ester 1:20, voetnoot in NW.
Is die boek Ester geskiedkundig onakkuraat?
Kritici maak hierdie aantyging teen die boek. Maar party geleerdes het al gesê dat die skrywer van die boek ’n besonder deeglike kennis van die Persiese koningshuis, argitektuur en gebruike gehad het. Koningin Ester word weliswaar nie gemeld in sekulêre dokumente wat vandag nog bestaan nie, maar Ester is beslis nie die enigste lid van die koninklike familie wat uit openbare verslae verdwyn het nie. Daarbenewens toon sekulêre verslae wel dat ’n man met die naam Mardukâ, ’n Persiese ekwivalent van Mordegai, gedurende die tyd wat in die boek beskryf word, as ’n hofbeampte in Susan gedien het.
[Venster op bladsy 29]
’n Vervulde profesie
Deurdat Ester en Mordegai vir God se volk gestry het, het hulle nog ’n Bybelprofesie vervul. Meer as 1 200 jaar vroeër het Jehovah die aartsvader Jakob geïnspireer om die volgende voorspelling in verband met een van sy seuns te maak: “Benjamin sal bly verskeur soos ’n wolf. In die oggend sal hy die verowerde dier eet en in die aand sal hy buit verdeel” (Genesis 49:27). In die “oggend” van Israel se koninklike geskiedenis het Benjamin se nakomelinge koning Saul en ander magtige stryders vir Jehovah se volk ingesluit. In die “aand” van daardie koninklike geskiedenis, nadat die son oor Israel se koninklike lyn ondergegaan het, het Ester en Mordegai, wat albei van die stam Benjamin was, doeltreffend teen Jehovah se vyande gestry. Hulle het ook as ’t ware buit verdeel in die sin dat alles wat aan Haman behoort het, aan hulle gegee is.
[Prent op bladsy 25]
Ester het die koning se genade nederig erken
[Prent op bladsye 26, 27]
Ester het Haman se boosheid moedig blootgelê
[Prent op bladsye 28, 29]
Ester en Mordegai het verklarings aan die Jode van die Persiese Ryk gestuur