Jy kan jou geheue verbeter
JEHOVAH GOD het die mensebrein geskep met die wonderlike vermoë om te kan onthou. Hy het dit ontwerp om ’n bergplek te wees waaruit inligting gehaal kan word sonder dat dit enigiets kosbaars verloor wat daarin gebêre is. Die ontwerp van die brein strook met God se voorneme dat mense vir ewig moet lewe.—Ps. 139:14; Joh. 17:3.
Maar jy voel dalk dat te veel van wat jy in jou verstand inneem, verlore raak. Dit is blykbaar nie daar wanneer jy dit wil hê nie. Wat kan jy doen om jou geheue te verbeter?
Toon belangstelling
Belangstelling speel ’n belangrike rol daarin om jou geheue te verbeter. As ons ’n gewoonte daarvan maak om oplettend te wees, om belang te stel in mense en wat om ons gebeur, word ons verstand gestimuleer. Dit sal dan vir ons makliker wees om met soortgelyke belangstelling te reageer wanneer ons iets lees of hoor wat blywende waarde het.
Baie mense sukkel om ander se name te onthou. Maar as Christene weet ons dat mense belangrik is—mede-Christene, dié vir wie ons getuig en ander met wie ons in aanraking kom terwyl ons na die nodige sake van die lewe omsien. Wat kan ons help om die name te onthou wat vir ons van belang behoort te wees? Die apostel Paulus het die name van 26 persone in ’n gemeente gemeld aan wie hy geskryf het. Sy belangstelling in hulle kan gesien word uit die feit dat hy nie net hulle name geken het nie, maar spesifieke besonderhede oor baie van hulle gemeld het (Rom. 16:3-16). Vandag is party reisende opsieners van Jehovah se Getuies baie goed daarmee om name te onthou, hoewel hulle elke week ’n ander gemeente besoek. Wat help hulle? Hulle maak ’n gewoonte daarvan om ’n persoon se naam verskeie kere te gebruik wanneer hulle vir die eerste keer met hom gesels. Hulle probeer die persoon se naam met sy gesig assosieer. Boonop bring hulle tyd deur saam met verskillende persone wanneer hulle velddiens doen en maaltye geniet. Sal jy, wanneer jy iemand ontmoet, daardie persoon se naam onthou? Jy moet eerstens ’n goeie rede hê om die naam te onthou; stel dan van die voorgenoemde wenke op die proef.
Dit is ook belangrik om te onthou wat jy lees. Wat kan jou help om in hierdie opsig te verbeter? Belangstelling sowel as begrip speel ’n rol. Wat jy lees, moet vir jou belangrik genoeg wees om jou volle aandag daaraan te gee. Jy sal nie inligting onthou as jy aan iets anders dink terwyl jy probeer lees nie. Begrip word verbeter wanneer jy die inligting assosieer met dinge wat vir jou bekend is of met kennis wat jy reeds het. Vra jou af: ‘Hoe en wanneer kan ek hierdie inligting in my eie lewe toepas? Hoe kan ek dit gebruik om iemand anders te help?’ Begrip word ook verbeter as jy frases lees en nie net individuele woorde nie. Dit sal vir jou makliker wees om idees te begryp en hoofgedagtes te identifiseer, wat dit weer makliker sal maak om die inligting te onthou.
Neem tyd om te hersien
Kenners op die gebied van opvoedkunde beklemtoon die waarde van hersiening. In een studie het ’n universiteitsprofessor getoon dat ’n mens die hoeveelheid inligtig wat jy onthou, sal verdubbel as jy dit een minuut lank hersien kort ná jy dit gelees het. Onmiddellik nadat jy dus jou leeswerk—of ’n groot deel daarvan—voltooi het, moet jy die hoofpunte in jou gedagtes hersien om dit in jou verstand in te prent. Dink aan hoe jy enige nuwe punte wat jy geleer het, in jou eie woorde sal verduidelik. As jy jou geheue verfris kort nadat jy ’n gedagte gelees het, sal jy die punt langer kan onthou.
Soek dan in die volgende paar dae na ’n geleentheid om te hersien wat jy gelees het deur die inligting met iemand te bespreek. Dit kan met ’n gesinslid wees, of met iemand in die gemeente, ’n werksmaat, ’n skoolmaat, ’n buurman of iemand wat jy in die veldbediening ontmoet. Moenie net die sleutelgedagtes herhaal nie, maar probeer ook om skriftuurlike argumente te gebruik wat aangevoer is. Jy sal daarby baat vind, aangesien dit jou sal help om belangrike dinge in jou geheue in te prent; ander sal ook daarby baat vind.
Peins oor belangrike dinge
Behalwe dat dit goed is om te hersien wat jy gelees het en ander daarvan te vertel, sal jy ook vind dat dit nuttig is om na te dink oor belangrike dinge wat jy geleer het. Die Bybelskrywers Asaf en Dawid het dit gedoen. Asaf het gesê: “Ek sal aan die handelinge van Jah dink; want ek sal aan u wonderdade van lank gelede dink. En ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink” (Ps. 77:11, 12). Dawid het eweneens geskryf: “Ek [peins] gedurende die nagwake oor u”, en: “Ek het gedink aan dae van lank gelede; ek het gepeins oor al u dade” (Ps. 63:6; 143:5). Doen jy dit?
Sulke diep, gekonsentreerde dinkwerk waartydens jy oor Jehovah se handelinge, sy eienskappe en die openbaring van sy wil peins, help jou nie net om feite te onthou nie. As jy ’n gewoonte hiervan maak, sal dit lewensbelangrike dinge in jou hart laat insink. Dit sal die innerlike mens vorm. Die indrukke wat gemaak word, sal jou diepste gedagtes verteenwoordig.—Ps. 119:16.
Die rol van God se gees
Wanneer ons waarhede oor Jehovah se werke en die dinge wat Jesus Christus gesê het, probeer onthou, word ons nie aan onsself oorgelaat nie. Die aand voor sy dood het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Terwyl ek by julle gebly het, het ek hierdie dinge vir julle gesê. Maar die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur, dié sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Joh. 14:25, 26). Matteus en Johannes was onder dié wat teenwoordig was. Was die heilige gees so ’n helper vir hulle? Ja, beslis! Ongeveer agt jaar later het Matteus die eerste breedvoerige verslag van Christus se lewe voltooi, wat kosbare herinneringe soos die Bergpredikasie en die uitvoerige teken van Christus se teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge ingesluit het. Vyf-en-sestig jaar ná Jesus se dood het die apostel Johannes sy Evangelie geskryf en besonderhede ingesluit van wat Jesus gesê het op die laaste aand wat die apostels saam met die Here deurgebring het voordat hy sy lewe afgelê het. Matteus sowel as Johannes het ongetwyfeld lewendige herinneringe gehad van wat Jesus gesê en gedoen het terwyl hulle saam met hom was, maar die heilige gees het ’n belangrike rol daarin gespeel om te verseker dat hulle nie belangrike besonderhede vergeet wat Jehovah in sy geskrewe Woord wou hê nie.
Dien die heilige gees vandag as ’n helper vir knegte van God? Beslis! Die heilige gees sit natuurlik nie dinge in ons verstand wat ons nog nooit geleer het nie, maar dit dien wel as ’n helper om ons te herinner aan belangrike dinge wat ons in die verlede bestudeer het (Luk. 11:13; 1 Joh. 5:14). Wanneer die behoefte ontstaan, word ons denkvermoëns opgewek om ‘die woorde wat vantevore deur die heilige profete gespreek is en die gebod van die Here en Redder te onthou’.—2 Pet. 3:1, 2.
‘Jy moet nie vergeet nie’
Jehovah het Israel herhaaldelik gewaarsku: ‘Jy moet nie vergeet nie.’ Hy het nie verwag dat hulle alles volmaak moes onthou nie. Maar hulle moes nie so betrokke raak by persoonlike strewes dat hulle herinneringe van Jehovah se handelinge vervaag het nie. Hulle moes die herinneringe lewendig hou van hoe Jehovah hulle bevry het toe sy engel al die eersgeborenes van Egipte doodgemaak het, sowel as toe Jehovah die Rooi See verdeel het en toe weer laat toegaan het en Farao en sy leër daarin laat verdrink het. Die Israeliete moes onthou dat God hulle sy Wet by die berg Sinai gegee het en dat hy hulle deur die wildernis en in die Beloofde Land gelei het. Hulle moes nie vergeet nie, in die sin dat hulle herinneringe van hierdie dinge steeds ’n diepgaande uitwerking op hulle daaglikse lewe moes hê.—Deut. 4:9, 10; 8:10-18; Eks. 12:24-27; Ps. 136:15.
Ons moet ook seker maak dat ons nie vergeet nie. Terwyl ons die druk van die lewe die hoof bied, moet ons Jehovah in gedagte hou deur te peins oor watter soort God hy is en die liefde wat hy geopenbaar het deur sy Seun te gee, wat ’n losprys vir ons sondes voorsien het sodat ons vir ewig volmaakte lewe kan hê (Ps. 103:2, 8; 106:7, 13; Joh. 3:16; Rom. 6:23). Gereelde Bybellees en ’n aktiewe deelname aan gemeentelike vergaderinge en aan die veldbediening sal hierdie kosbare waarhede in ons lewendig hou.
Wanneer jy besluite moet neem, hetsy groot of klein, moet jy daardie lewensbelangrike waarhede onthou en toelaat dat dit jou denke beïnvloed. Moenie vergeet nie. Vertrou op Jehovah vir leiding. Pleks van sake uit ’n bloot vleeslike standpunt te beskou of die aansporing van ’n onvolmaakte hart te vertrou, vra jou af: ‘Watter raad of beginsels in God se Woord moet my besluit beïnvloed?’ (Spr. 3:5-7; 28:26). Jy kan nie dinge onthou wat jy nog nooit gelees of gehoor het nie. Maar namate jou juiste kennis van Jehovah en jou liefde vir hom toeneem, sal jy al hoe meer kennis hê wat God se gees jou kan help om te herroep, en jou toenemende liefde vir Jehovah sal jou beweeg om in ooreenstemming daarmee op te tree.