Bybelboek nommer 6—Josua
Skrywer: Josua
Waar geskryf: Kanaän
Geskrif voltooi: ca. 1450 v.G.J.
Beskrewe tydperk: 1473–ca. 1450 v.G.J.
1. Voor watter situasie staan Israel in 1473 v.G.J.?
DIT is 1473 v.G.J. Die toneel is uiters dramaties en opwindend. Die Israeliete, wat op die vlaktes van Moab laer opgeslaan het, is gereed om Kanaän, die Beloofde Land, binne te trek. In daardie gebied oorkant die Jordaan is daar talle klein koninkryke, elkeen met sy eie leër. Hulle is onderling verdeeld en is verswak deur jare van korrupte oorheersing deur Egipte. Maar vir die nasie Israel lyk die teenstand gedug. As hulle die land wil onderwerp, moet die talle versterkte, ommuurde stede, soos Jerigo, Ai, Hasor en Lagis, ingeneem word. ’n Kritieke tyd lê voor. Beslissende gevegte moet gevoer en gewen word, waarin Jehovah self met kragtige wonders ten behoewe van sy volk sal ingryp om sy belofte na te kom dat hy hulle in die land sal laat woon. Dit ly geen twyfel dat hierdie aangrypende gebeure, wat so uitsonderlik in Jehovah se handelinge met sy volk is, opgeteken sal moet word nie, en wel deur ’n ooggetuie. Watter man kon tog geskikter hiervoor wees as Josua self, die een wat deur Jehovah as Moses se opvolger aangestel is!—Num. 27:15-23.
2. Waarom is dit gepas dat Josua as leier sowel as optekenaar van die gebeure gekies word?
2 Dit is uiters gepas dat Josua gekies is as leier sowel as optekenaar van die gebeure wat weldra sal plaasvind. Hy was dwarsdeur die vorige 40 jaar in die woestyn ’n baie intieme metgesel van Moses. Hy was “die dienaar van Moses van sy jeug af” en het daardeur getoon dat hy nie net bekwaam is as ’n geestelike leier nie maar ook as ’n militêre leier (Num. 11:28; Ex. 24:13; 33:11; Jos. 1:1). In die jaar toe Israel Egipte verlaat het, 1513 v.G.J., was hy aanvoerder van die leërs van Israel toe hulle die Amalekiete verslaan het (Ex. 17:9-14). As die getroue metgesel van Moses en ’n onverskrokke aanvoerder was hy die natuurlike keuse om die stam van Efraim te verteenwoordig toe een man uit elke stam gekies is vir die gevaarlike sending om Kanaän te verken. Sy moed en getrouheid by daardie geleentheid het verseker dat hy die Beloofde Land sou binnegaan (Num. 13:8; 14:6-9, 30, 38). Ja, hierdie man Josua, die seun van Nun, is “’n man in wie die Gees is”, ’n man wat ‘volhard het om Jehovah te volg’, ’n man “vol van die Gees van wysheid”. Geen wonder “Israel het die HERE gedien al die dae van Josua” nie.—Num. 27:18; 32:12; Deut. 34:9; Jos. 24:31.
3. Wat bewys dat Josua ’n kneg van Jehovah was wat werklik gelewe het, asook dat hy die skrywer van die boek met sy naam was?
3 Vanweë sy ervaring, opleiding en beproefde eienskappe as ’n ware aanbidder van Jehovah, kon Josua beslis gebruik word as een van die skrywers van ‘die Skrif wat deur God geïnspireer is’. Josua is nie bloot ’n legendariese figuur nie, maar ’n kneg van Jehovah wat werklik geleef het. Hy word in die Christelike Griekse Geskrifte by name genoem (Hand. 7:45; Hebr. 4:8). Net soos Moses gebruik is om die gebeure gedurende sy lewe op te teken, sou sy opvolger, Josua, logieserwys gebruik word om die gebeure waarvan hý ’n getuie was op te teken. Josua 6:25 toon dat die boek geskryf is deur iemand wat ’n ooggetuie van die gebeure was. Joodse oorlewering skryf die skrywerskap aan Josua toe, en die boek self sê: “En Josua het hierdie woorde in die wetboek van God geskrywe.”—Jos. 24:26.
4. Hoe is die egtheid van die boek Josua bewys deur die vervulling van profesie sowel as die getuienis van latere Bybelskrywers?
4 Ten tyde van Jerigo se vernietiging het Josua ’n profetiese vloek ten opsigte van die herbouing van die stad uitgespreek, wat sowat 500 jaar later in die dae van Agab, koning van Israel, ’n merkwaardige vervulling gehad het (Jos. 6:26; 1 Kon. 16:33, 34). Die egtheid van die boek Josua word verder gestaaf deur die talle verwysings deur latere Bybelskrywers na die gebeure wat daarin opgeteken is. Die psalmiste het keer op keer hierna verwys (Ps. 44:2-4; 78:54, 55; 105:42-45; 135:10-12; 136:17-22), asook Nehemia (Neh. 9:22-25), Jesaja (Jes. 28:21), die apostel Paulus (Hand. 13:19; Hebr. 11:30, 31) en die dissipel Jakobus (Jak. 2:25).
5. (a) Watter tydperk word deur die boek Josua gedek? (b) Waarom is die naam Josua gepas?
5 Die boek Josua dek ’n tydperk van meer as 20 jaar, van die intog in Kanaän in 1473 v.G.J. tot omstreeks 1450 v.G.J., die jaar waarin Josua waarskynlik gesterf het. Die naam Josua (Hebreeus, Jehoo·sjoeʹaʽ), wat “Jehovah is Redding” beteken, is uiters gepas in die lig van Josua se rol as sigbare leier in Israel gedurende die verowering van die land. Hy het al die eer aan Jehovah as Bevryder toegeskryf. In die Septuagint word die boek I·e·sousʹ (die Griekse ekwivalent van Jehoo·sjoeʹaʽ) genoem, en die naam Jesus is hiervan afgelei. Wat sy voortreflike eienskappe, naamlik moed, gehoorsaamheid en onkreukbaarheid betref, was Josua waarlik ’n puik profetiese tipe van “onse Here Jesus Christus”.—Rom. 5:1.
INHOUD VAN JOSUA
6. In watter natuurlike gedeeltes verdeel die boek Josua hom?
6 Die boek verdeel hom in vier natuurlike gedeeltes: (1) die oortog tot in die Beloofde Land, (2) die verowering van Kanaän, (3) die verdeling van die land en (4) Josua se afskeidsvermaninge. Die hele verslag word op lewendige wyse vertel en is propvol opwindende gebeure.
7. Watter aanmoediging en raad gee Jehovah Josua?
7 Die oortog tot in die Beloofde Land (1:1–5:12). Jehovah weet watter beproewinge voorlê, en daarom gee hy Josua reg aan die begin die versekering en gesonde raad: “Wees net baie sterk en vol moed . . . Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit [“lees met gedempte stem daarin”, NW] dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel. Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, . . . want die HERE jou God is met jou, oral waar jy heengaan” (1:7-9). Josua gee Jehovah die eer as die werklike Leier en Aanvoerder en begin onmiddellik voorbereidsels tref om deur die Jordaan te trek soos hy beveel is. Die Israeliete aanvaar hom as Moses se opvolger en verseker hom plegtig van hulle lojaliteit. Voorwaarts dan na die verowering van Kanaän!
8. (a) Hoe openbaar Ragab geloof? (b) Hoe betoon Jehovah hom “’n lewende God” in Israel se midde?
8 Twee manne word uitgestuur om Jerigo te verken. Ragab, die hoer, gryp die geleentheid aan om haar geloof in Jehovah te openbaar deur haar lewe in gevaar te stel om die verkenners te verberg. Die verkenners sweer op hul beurt dat sy gespaar sal bly wanneer Jerigo vernietig word. Die verkenners keer terug met die berig dat al die bewoners van die land bewe as gevolg van die Israeliete. Omdat die berig gunstig is, trek Josua onmiddellik na die Jordaanrivier, wat in vloed is. Jehovah gee nou tasbare bewys dat hy Josua steun en dat daar, net soos in Moses se tyd, “’n lewende God” in Israel se midde is (3:10). Wanneer die priesters wat die verbondsark dra in die Jordaan tree, hoop die water wat van die bokant af kom op, en dit laat die Israeliete droogvoets deurtrek. Josua neem 12 klippe uit die middel van die rivier as ’n gedagtenis en sit 12 ander klippe in die rivier, waar die priesters staan, waarna die priesters deurtrek en die water terugvloei sodat die rivier weer in vloed is.
9. Wat gebeur vervolgens by Gilgal?
9 Aan die oorkant slaan die volk laer op by Gilgal, tussen die Jordaan en Jerigo, en hier rig Josua die gedenkklippe op as ’n getuienis vir toekomstige geslagte en “dat al die volke van die aarde kan weet dat die hand van die HERE sterk is, sodat julle die HERE julle God altyd mag vrees” (4:24). (Volgens Josua 10:15 lyk dit of Gilgal hierna ’n ruk lank as ’n basiskamp gebruik is.) Hier word die kinders van Israel besny, aangesien daar gedurende die woestyntog geen besnydenis plaasgevind het nie. Die Pasga word gevier, die manna hou op en uiteindelik begin die Israeliete om die opbrengs van die land te eet.
10. Watter instruksies gee Jehovah Josua oor die verowering van Jerigo, en watter dramatiese gebeure volg dan?
10 Die verowering van Kanaän (5:13–12:24). Nou lê die eerste doelwit binne trefafstand. Maar hoe om hierdie goed ‘geslote’, ommuurde stad Jerigo in te neem? (6:1). Jehovah self beskryf die prosedure uitvoerig deur die “vors van die leër van Jehovah” te stuur om Josua instruksies te gee (5:14, NW). Die leërs van Israel moet ses dae lank een keer per dag om die stad trek, met die krygsmanne voor, gevolg deur ’n optog van priesters wat op ramshorings blaas en ander wat die verbondsark dra. Op die sewende dag moet hulle sewe keer daarom trek. Josua dra die bevele getrou aan die volk oor. Presies soos beveel is, trek die leërs om Jerigo. Nie ’n woord word gespreek nie. Benewens die geluid van voetstappe en die horinggeskal deur die priesters word nie ’n geluid gehoor nie. Dan, op die laaste dag, na hulle die sewende keer omgetrek het, gee Josua die teken om te skreeu. En hulle skreeu, “’n groot krygsgeskreeu”, en die mure van Jerigo val op die plek in! (6:20). Hulle bestorm die stad soos een man, neem dit in en brand dit heeltemal af. Slegs die getroue Ragab en haar huis bly gespaar.
11. Hoe word die aanvanklike terugslag by Ai reggestel?
11 Dan weswaarts na Ai! Vertroue in nog ’n maklike oorwinning slaan oor in verslaenheid wanneer die manne van Ai die 3 000 Israelitiese soldate wat gestuur is om die stad in te neem op die vlug jaag. Wat het gebeur? Het Jehovah hulle verlaat? Josua is baie besorg en vra Jehovah waarom dit gebeur het. In antwoord openbaar Jehovah dat iemand in die laer, in stryd met Sy gebod om alles in Jerigo te vernietig, ongehoorsaam was en iets gesteel en dit weggesteek het. Hierdie onreinheid moet uit die laer verwyder word voordat Israel weer met Jehovah se seën voorspoed kan geniet. Onder goddelike leiding word Agan, die boosdoener, aan die kaak gestel, en hy en sy huis word gestenig. Met Jehovah se guns wat weer op die volk rus, trek die Israeliete nou teen Ai op. Weer eens onthul Jehovah watter strategie gevolg moet word. Die manne van Ai word uit hulle ommuurde stad gelok en loop in ’n hinderlaag. Die stad word ingeneem en met al sy inwoners vernietig (8:26-28). Geen vergelyk word met die vyand getref nie!
12. Watter goddelike bevel voer Josua vervolgens uit?
12 In gehoorsaamheid aan Jehovah se gebod deur Moses bou Josua vervolgens ’n altaar op die berg Ebal en skryf hy daarop “’n afskrif van die wet” (8:32). Dan lees hy die woorde van die Wet, tesame met die seën en die vloek, voor die vergadering van die hele nasie terwyl die helfte voor die berg Gerisim en die ander helfte voor die berg Ebal staan.—Deut. 11:29; 27:1-13.
13. Waartoe lei die Gibeoniete se ‘listige’ optrede?
13 Verontrus oor die vinnige vordering van die inval, span ’n aantal klein koninkryke van Kanaän saam in ’n poging om Josua se opmars te stuit. Maar wanneer ‘die Gibeoniete hoor wat Josua met Jerigo en met Ai gedoen het, handel hulle met lis’ (Jos. 9:3, 4). Hulle gee voor dat hulle van ’n land ver van Kanaän af kom en sluit ’n verbond met Josua ‘dat hy hulle sal laat lewe’. Wanneer die lis ontdek word, kom die Israeliete die verbond na, maar hulle maak die Gibeoniete “houtkappers en waterputters”, soos die ‘knegte van die knegte’, wat Noag se geïnspireerde vloek oor Kanaän, die seun van Gam, deels in vervulling laat gaan.—Jos. 9:15, 27; Gen. 9:25.
14. Hoe bewys Jehovah by Gibeon dat hy vir Israel stry?
14 Hierdie oorlopery van die Gibeoniete is nie ’n geringe saak nie, want ‘Gibeon is ’n groot stad, groter as Ai, en al sy manne is helde’ (Jos. 10:2). Adoni-Sedek, koning van Jerusalem, sien hierin ’n bedreiging vir homself en die ander koninkryke in Kanaän. ’n Voorbeeld moet gestel word om verdere oorlopery na die vyand te voorkom. Adoni-Sedek en vier ander konings (dié van die stadskoninkryke Hebron, Jarmut, Lagis en Eglon) verenig kragte en veg teen Gibeon. Getrou aan sy verbond met die Gibeoniete trek Josua heelnag op om hulle te hulp te kom en jaag hy die leërs van die vyf konings op die vlug. Weer eens gryp Jehovah in die stryd in deur bomenslike kragte en tekens te gebruik, met verwoestende gevolge. Geweldige haelstene reën uit die hemel neer en meer van die vyand sterf deur die haelstene as deur die swaarde van die Israelitiese leër. En dan, wonder bo wonder, ‘bly staan die son in die middel van die hemel en haas hy hom omtrent ’n volle dag nie om onder te gaan nie’ (10:13). Die opruimingsoperasies kan dus voltooi word. Die wêreldwyses probeer dalk om hierdie wonderdadige gebeurtenis te diskrediteer, maar geloofsmense aanvaar die goddelike verslag, want hulle is terdeë bewus van Jehovah se vermoë om die kragte van die heelal te beheer en ooreenkomstig sy wil te rig. Dit ly geen twyfel nie, Jehovah “het vir Israel gestry”.—10:14.
15. Beskryf die verloop van die inval en die hoogtepunt daarvan by Hasor.
15 Nadat Josua die vyf konings omgebring het, vernietig hy Makkeda. Hy trek vinnig suidwaarts en vernietig Libna, Lagis, Eglon, Hebron en Debir—stede in die heuwels tussen die Soutsee en die Groot See. Teen hierdie tyd het die nuus van die inval deur die hele Kanaän versprei. Bo in die noorde blaas Jabin, koning van Hasor, alarm. Hy laat die oproep wyd en syd, aan weerskante van die Jordaan, uitgaan vir die nasies om hulle te versamel vir eendragtige aksie teen die Israeliete. Wanneer die verenigde strydkragte van die vyand laer opslaan by die waters van Merom, onder die berg Hermon, is hulle “talryk soos die sand wat aan die seestrand is” (11:4). Jehovah verseker Josua weer eens dat Israel die oorwinning sal behaal en sit die gevegstrategie uiteen. Die gevolg? Nog ’n verpletterende neerlaag vir die vyande van Jehovah se volk! Hasor word met vuur verbrand, en die stede en hulle konings wat hulle met Hasor verbind het, word vernietig. Aldus brei Josua die Israelitiese magsgebied deur die hele Kanaän uit. Een-en-dertig konings is verslaan.
16. Watter toewysings van grondgebied word gedoen?
16 Die verdeling van die land (13:1–22:34). Ondanks al hierdie oorwinnings, met talle versterkte stede wat vernietig is en georganiseerde verset wat voorlopig verbreek is, ‘bly nog ’n baie groot stuk land oor om in besit te neem’ (13:1). Josua is egter nou amper 80 jaar oud, en daar is ook nog ’n groot taak wat verrig moet word—die verdeling van die land as erfdeel vir nege vol stamme en die halwe stam van Manasse. Ruben, Gad en die helfte van die stam van Manasse het reeds hulle gebiedserfdeel oos van die Jordaan ontvang, en die stam van Levi kry niks nie, want ‘Jehovah, die God van Israel’, is hulle erfdeel (13:33). Met die hulp van Eleasar, die priester, doen Josua nou die toewysings van grondgebied aan die westekant van die Jordaan. Die 85-jarige Kaleb, wat gretig is om tot op die laaste teen Jehovah se vyande te veg, vra en ontvang die gebied Hebron, waar dit van Enakiete wemel (14:12-15). Nadat die stamme hulle erfdele deur loting ontvang het, vra Josua die stad Timnat-Serag op die gebergte van Efraim, en dit word “op bevel van die HERE” aan hom gegee (19:50). Die tent van samekoms word in Silo opgerig, wat ook op die gebergte van Efraim lê.
17. Watter voorsiening word gemaak vir vrystede en woonstede vir die Leviete?
17 Ses vrystede word vir onopsetlike doodslaners afgesonder, drie aan elke kant van die Jordaan. Dié aan die westekant van die Jordaan is Kedes in Galilea, Sigem in Efraim en Hebron op die gebergte van Juda. Dié aan die oostekant is Beser in Ruben se gebied, Ramot in Gilead en Golan in Basan. Hulle word “geheilig” (20:7). Agt-en-veertig stede met hulle weivelde word deur die lot uit die gebied van die stamme as woonstede aan die Leviete toegewys. Dit sluit die ses vrystede in. Israel het aldus die land “in besit geneem en daarin gaan woon”. Presies soos Jehovah beloof het, ‘het alles uitgekom’.—21:43, 45.
18. Watter krisis ontstaan tussen die oostelike en die westelike stamme, maar hoe word dit opgelos?
18 Die krygsmanne van die stamme van Ruben en Gad en van die halwe stam van Manasse, wat tot dusver by Josua gebly het, word deur Josua gemaan om getrou te bly en ontvang sy seën, en dan keer hulle terug na hulle erfdele oorkant die Jordaan. Op pad, wanneer hulle naby die Jordaan kom, rig hulle ’n groot altaar op. Dit laat ’n krisis ontstaan. Aangesien die tent van samekoms in Silo is, die vasgestelde plek vir Jehovah se aanbidding, vrees die westelike stamme verraad en dislojaliteit, en hulle berei hulle voor om teen die vermeende rebelle te veg. Bloedvergieting word egter afgewend wanneer daar verduidelik word dat die altaar nie vir offers bedoel is nie, maar slegs dien as ‘’n getuie tussen ons [Israel aan die ooste- en aan die westekant van die Jordaan] dat Jehovah die ware God is’.—22:34, vgl. NW.
19, 20. (a) Watter afskeidsvermaninge gee Josua? (b) Watter saak stel hy voor Israel, en hoe beklemtoon hy die regte keuse wat Israel moet doen?
19 Josua se afskeidsvermaninge (23:1–24:33). ‘’n Geruime tyd daarna, nadat Jehovah aan Israel rus gegee het van al sy vyande rondom, en Josua oud en ver op sy dae is’, roep hy die hele Israel bymekaar vir besielende afskeidsvermaninge (23:1). Hy is tot die einde toe nederig en gee Jehovah al die eer vir die groot oorwinnings oor die nasies. Laat almal nou getrou bly! “Julle moet daar baie vas by staan om sorgvuldig te doen alles wat geskrywe staan in die wetboek van Moses, dat julle daar nie regs of links van afwyk nie” (23:6). Hulle moet die valse gode vermy en hulle gedurig ‘in ag neem ter wille van hulle siele om Jehovah hulle God lief te hê’ (23:11). Hulle moet geen kompromis, geen huweliksverbintenis of intergeloofsooreenkoms met die oorblywende Kanaäniete aangaan nie, want dit sal Jehovah se grimmige toorn oor hulle bring.
20 Wanneer Josua al die stamme by Sigem byeengeroep en hul verteenwoordigende beamptes voor die aangesig van Jehovah geroep het, verhaal hy vervolgens Jehovah se persoonlike verslag oor Sy handelinge met Sy volk vandat Hy Abraham geroep en hom in Kanaän ingebring het tot die verowering en besetting van die Beloofde Land. Josua waarsku weer eens teen valse godsdiens en doen ’n beroep op Israel om ‘Jehovah te vrees en hom in opregtheid en waarheid te dien’. Ja, ‘dien Jehovah’! Dan stel hy die saak baie duidelik: “Kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders . . . gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal [Jehovah] dien.” Met oortuiging wat ’n mens aan Moses laat dink, herinner hy Israel daaraan dat Jehovah ‘’n heilige God is, ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis’. Weg dan met die vreemde gode! Die volk word aldus beweeg om soos een man te sê: “Ons sal [Jehovah] onse God dien en na sy stem luister” (24:14, 15, 19, 24, vgl. NW). Voor Josua hulle laat gaan, sluit hy ’n verbond met hulle, skryf hy hierdie woorde in die wetboek van God en rig hy ’n groot klip as ’n getuie op. Dan sterf Josua in die hoë ouderdom van 110 jaar en word hy in Timnat-Serag begrawe.
WAAROM NUTTIG
21. Watter wyse vermaning in die boek Josua is vandag van besondere nut?
21 Roer dit nie jou hart wanneer jy Josua se afskeidsvermaninge oor getroue diens lees nie? Is jy dit nie eens met die woorde van Josua wat hy meer as 3 400 jaar gelede geuiter het nie: “Ek en my huis, ons sal [Jehovah] dien”? Of as jy Jehovah onder beproewende omstandighede dien of van ander gelowiges afgesonder is, put jy dan nie inspirasie uit Jehovah se woorde aan Josua wat aan die begin van die intog in die Beloofde Land geuiter is nie: “Wees net baie sterk en vol moed”? Vind jy dit boonop nie van onskatbare waarde om Sy vermaning te gehoorsaam om die Bybel ‘dag en nag met gedempte stem te lees sodat jou weë voorspoedig kan wees’ nie? Almal wat sulke wyse raad volg, sal dit gewis besonder nuttig vind.—24:15, vgl. NW; 1:7-9, vgl. NW.
22. Watter noodsaaklike eienskappe van ware aanbidding word beklemtoon?
22 Die gebeure wat so aanskoulik in die boek Josua opgeteken is, is nie net ou geskiedenis nie. Hulle beklemtoon godvrugtige beginsels—by uitstek dat volkome geloof in en stipte gehoorsaamheid aan Jehovah noodsaaklik is om sy seën te geniet. Deur die geloof, sê die apostel Paulus, “het die mure van Jerigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was”, en weens geloof “het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie” (Hebr. 11:30, 31). Jakobus verwys eweneens na Ragab as ’n navolgenswaardige voorbeeld vir Christene om werke van geloof te verrig.—Jak. 2:24-26.
23. Watter kragtige herinneringe bevat Josua?
23 Die buitengewone bomenslike gebeure wat in Josua 10:10-14 opgeteken is, toe die son bewegingloos gebly en die maan stilgestaan het, sowel as die talle ander wonders wat Jehovah ten behoewe van sy volk gedoen het, is kragtige herinneringe aan Jehovah se vermoë en voorneme om ’n finale uitwissing van alle goddelose teenstanders van God te bewerkstellig. Gibeon, die strydtoneel in Josua se tyd sowel as in Dawid s’n, word deur Jesaja gekoppel met die tyd wanneer Jehovah in beroering sal kom en sal opstaan vir hierdie vernietiging, “om sy werk te doen—vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig—ongehoord is sy daad!”—Jes. 28:21, 22, vgl. NW.
24. Watter verband is daar tussen die boek Josua en die Koninkryksbeloftes, en watter versekering gee dit dat hulle ‘almal sal uitkom’?
24 Wys die gebeure van Josua vooruit na God se Koninkryk? Beslis! Die apostel Paulus het getoon dat die verowering van en vestiging in die Beloofde Land met iets baie groters gekoppel moet word: “Want as Josua hulle in ’n plek van rus ingelei het, sou God nie later van ’n ander dag gespreek het nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God” (Hebr. 4:1, 8, 9, NW). Hulle doen hulle bes om hulle “ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus”, te verseker (2 Pet. 1:10, 11). Soos Mattheüs 1:5 toon, het Ragab ’n voorouer van Jesus Christus geword. Die boek Josua verskaf dus nog ’n essensiële skakel in die verslag wat tot die voortbrenging van die Koninkryksaad lei. Dit gee ons ’n vaste versekering dat Jehovah se Koninkryksbeloftes gewis vervul sal word. Met betrekking tot God se belofte wat aan Abraham, Isak en Jakob gedoen en aan die Israeliete, hulle nakomelinge, herhaal is, sê die verslag oor Josua se dag: “Geen woord van al die goeie woorde wat die HERE met die huis van Israel gespreek het, het onvervuld gebly nie; alles het uitgekom” (Jos. 21:45; Gen. 13:14-17). Dieselfde geld vir Jehovah se “goeie woorde” oor die regverdige Koninkryk van die hemel—dit sal alles uitkom!