Besluit om Jehovah te dien terwyl jy jonk is
“Bly . . . in die dinge wat jy geleer het en oortuig is om te glo.”—2 TIM. 3:14.
1. Hoe beskou Jehovah die diens van sy jong Getuies?
DIE heilige diens van jongmense is vir Jehovah so belangrik dat hy ’n profesie aangaande hulle geïnspireer het. “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u krygsmag”, het die psalmis gesing. “In die prag van heiligheid, uit die moederskoot van die dagbreek, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Ps. 110:3). Ja, Jehovah heg groot waarde aan jongmense wat gewillig is om hom te dien.
2. Met watter sekulêre invloede ten opsigte van hulle toekoms het jongmense vandag te kampe?
2 Jongmense in die Christengemeente, het julle julle al aan Jehovah toegewy? Dit is dalk vir talle jongmense moeilik om te besluit om die ware God te dien. Sakeleiers, opvoeders en soms ook gesinslede en vriende spoor jongmense aan om materialistiese doelwitte na te jaag. Wanneer jongmense geestelike doelwitte nastreef, minag die wêreld hulle dikwels. Maar die feit is, om die ware God te dien, is die beste lewenswyse wat jy kan nastreef (Ps. 27:4). Beskou drie vrae in dié verband: Waarom moet jy God dien? Hoe kan jy daarin slaag om ’n lewe van toegewydheid aan God te lei ten spyte van wat ander dalk sê of doen? Watter wonderlike geleenthede van heilige diens kan vir jou ontsluit word?
Om Jehovah te dien, is die regte ding om te doen
3. Watter uitwerking moet Jehovah se skepping op ons hê?
3 Waarom moet jy die ware en lewende God dien? Openbaring 4:11 gee die hoofrede: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.” Jehovah is die wonderlike Skepper van alles wat bestaan. Hoe pragtig is die aarde tog! Die bome, die blomme, die diere, die oseane, die berge en die watervalle—Jehovah het dit alles gemaak. “Die aarde is vol van wat [God] voortgebring het”, sê Psalm 104:24. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah uit liefde vir ons ’n liggaam en ’n verstand gegee het wat dit vir ons moontlik maak om die aarde en die goeie dinge daarop te geniet! Moet hartgrondige waardering vir die wonderlike skepping ons nie beweeg om hom te wil dien nie?
4, 5. Watter goddelike dade het Josua nader aan Jehovah laat kom?
4 Nog ’n rede om Jehovah te dien, word in die woorde van die Israelitiese leier Josua gevind. Aan die einde van sy lewe het Josua vir God se volk gesê: “Julle weet goed met julle hele hart en met julle hele siel dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie. Alles is vir julle bewaarheid.” Waarom kon Josua dit sê?—Jos. 23:14.
5 Terwyl Josua in Egipte grootgeword het, het hy ongetwyfeld gehoor van Jehovah se belofte om die Israeliete hulle eie land te gee (Gen. 12:7; 50:24, 25; Eks. 3:8). Toe het Josua gesien hoe Jehovah hierdie belofte begin vervul het deur die Tien Plae oor Egipte te bring en die hardkoppige Farao te dwing om die kinders van Israel te laat trek. Josua was onder dié wat deur die Rooi See heen bewaar is, en daarna het hy toegekyk terwyl dieselfde see Farao en sy leër verswelg. Gedurende ’n lang tog deur “die groot en vreesinboesemende wildernis”, die Sinaiwoestyn, het Josua gesien hoe Jehovah alles voorsien wat die Israeliete nodig gehad het. Nie ’n enkele een het weens dors of honger gesterf nie (Deut. 8:3-5, 14-16; Jos. 24:5-7). Toe die tyd aangebreek het vir die Israeliete om die magtige Kanaänitiese nasies te verower en die Beloofde Land in besit te neem, het Josua gesien hoe die God wat hy en die ander Israeliete aanbid, hulle hierin ondersteun.—Jos. 10:14, 42.
6. Wat sal jou help om die begeerte aan te kweek om God te dien?
6 Josua het geweet dat Jehovah Sy beloftes nagekom het. Gevolglik het Josua verklaar: “Wat my en my huis betref, ons sal Jehovah dien” (Jos. 24:15). Wat van jou? Wil jy nie, soos Josua, die ware God dien wanneer jy dink aan die beloftes wat hy reeds vervul het en dié wat hy nog sal vervul nie?
7. Waarom is waterdoop ’n noodsaaklike stap?
7 As ’n mens peins oor Jehovah se skeppingswerke en nadink oor sy wonderlike en absoluut betroubare beloftes, behoort dit jou te beweeg om jou nie net aan Jehovah toe te wy nie, maar ook om hierdie toewyding deur waterdoop te simboliseer. Doop is ’n noodsaaklike stap wat gedoen moet word deur diegene wat God wil dien. Ons Voorbeeld, Jesus, het dit duidelik getoon. Net voordat hy sy werk as die Messias begin het, het hy na Johannes die Doper gegaan om gedoop te word. Waarom het Jesus hierdie stap gedoen? “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie”, het hy later gesê, “maar die wil van hom wat my gestuur het” (Joh. 6:38). Jesus is gedoop om te simboliseer dat hy hom aanbied om sy Vader se wil te doen.—Matt. 3:13-17.
8. Waarom het Timoteus besluit om God te dien, en wat sal jy moontlik moet doen?
8 Dink ook aan die geval van Timoteus, ’n jong Christen vir wie Jehovah uiteindelik baie werk en baie voorregte gegee het. Waarom het Timoteus besluit om die ware God te aanbid? Die Bybel sê vir ons dat ‘hy dinge geleer het en oortuig is om te glo’ (2 Tim. 3:14). As jy God se Woord bestudeer het en oortuig is om te glo dat die leringe daarin waar is, is jy in ’n soortgelyke posisie as wat Timoteus was. Jy moet nou ’n besluit neem. Praat gerus met jou ouers oor wat jy graag wil doen. Hulle sowel as die gemeentelike ouer manne kan jou help om die skriftuurlike vereistes vir doop te verstaan.—Lees Handelinge 8:12.
9. Watter uitwerking kan dit op ander hê wanneer jy jou laat doop?
9 As jy gedoop word, sal dit ’n uitstekende begin wees om die ware God te dien. Deur hierdie stap te doen, begin jy met ’n langafstandwedloop waarin die belonings die ewige lewe is sowel as die vreugde wat dit nou verskaf om God se wil te doen (Heb. 12:2, 3). Jy sal ook vreugde verskaf aan jou gesinslede wat reeds in die wedloop is en aan jou vriende in die Christengemeente. Bowenal sal jy Jehovah se hart bly maak. (Lees Spreuke 23:15.) Dit is weliswaar moontlik dat ander nie sal verstaan waarom jy besluit het om Jehovah te aanbid nie en jou besluit sal bevraagteken. Hulle sal jou miskien selfs teëstaan. Maar jy kan hierdie uitdagings suksesvol die hoof bied.
Wanneer ander jou uitvra of teëstaan
10, 11. (a) Watter vrae kan mense vra oor jou besluit om God te dien? (b) Wat kan jy leer uit die manier waarop Jesus vrae oor ware aanbidding beantwoord het?
10 Jou besluit om Jehovah te dien, sal dalk jou skoolmaats, bure en familielede dronkslaan. Hulle sal jou miskien vra waarom jy besluit het om hierdie weg te volg en jou uitvra oor wat jy glo. Hoe moet jy reageer? Jy moet natuurlik jou gedagtes en gevoelens ontleed sodat jy die redes vir jou besluit kan verduidelik. En wanneer jy vrae oor jou oortuigings beantwoord, kan jy nouliks ’n beter voorbeeld volg as dié van Jesus.
11 Toe Joodse godsdiensleiers Jesus oor die opstanding uitgevra het, het hy hulle aandag gevestig op ’n teks wat hulle nie in aanmerking geneem het nie (Eks. 3:6; Matt. 22:23, 31-33). Toe ’n skrifgeleerde hom gevra het watter gebod die grootste is, het Jesus gepaste Bybelverse vir hom aangehaal. Hierdie man was dankbaar teenoor Jesus vir die antwoord (Lev. 19:18; Deut. 6:5; Mark. 12:28-34). Jesus se gebruik van die Skrif en die manier waarop hy gepraat het, het “verdeeldheid oor hom onder die skare” laat ontstaan, en sy teenstanders kon hom nie leed aandoen nie (Joh. 7:32-46). Wanneer jy vrae oor jou geloof beantwoord, moet jy die Bybel gebruik en dit “met sagmoedigheid en diep respek” doen (1 Pet. 3:15). As jy nie weet wat die antwoord op ’n vraag is nie, moet jy dit erken en aanbied om navorsing te doen. Jy kan later die onderwerp navors met behulp van die Watch Tower Publications Index of die Watchtower Library op CD-ROM. Met goeie voorbereiding sal jy “weet hoe [jy] behoort te antwoord”.—Kol. 4:6.
12. Waarom moet jy nie toelaat dat vervolging jou ontmoedig nie?
12 Jy kom dalk voor meer as net vrae oor jou standpunt en oortuigings te staan. God se vyand, Satan die Duiwel, is op stuk van sake in beheer van die wêreld. (Lees 1 Johannes 5:19.) Dit sal onrealisties wees om lof of goedkeuring van almal te verwag, en jy sal moontlik met teenstand te kampe hê. Miskien sal party mense ‘jou smaad’, en hulle sal dit dalk aanhoudend doen (1 Pet. 4:4). Maar onthou, jy is nie alleen nie. Jesus Christus het ook vervolging verduur. So ook die apostel Petrus, en hy het geskryf: “Geliefdes, moenie verbaas wees oor die brand [lyding] onder julle, wat as ’n beproewing oor julle kom, asof iets vreemds met julle gebeur nie. Inteendeel, hou aan om julle te verbly, aangesien julle deelgenote in die lyding van die Christus is.”—1 Pet. 4:12, 13.
13. Waarom kan Christene hulle verbly wanneer hulle vervolg word?
13 Indien jy as ’n Christen vervolging of teenstand ondervind, is dit ’n rede om jou te verbly. Waarom? Wel, as jy die wêreld se goedkeuring het, toon dit dat jy volgens Satan se standaarde lewe—nie God s’n nie. Jesus het gewaarsku: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want net so het hulle voorvaders aan die valse profete gedoen” (Luk. 6:26). Vervolging toon dat Satan en sy wêreld vir jou kwaad is omdat jy Jehovah dien. (Lees Matteus 5:11, 12.) En om “vir die naam van Christus gesmaad [te] word”, is iets om oor bly te wees.—1 Pet. 4:14.
14. Watter goeie resultate kan dit hê wanneer jy ondanks vervolging aan Jehovah getrou bly?
14 Wanneer jy ondanks teenstand aan Jehovah getrou bly, het dit ten minste vier positiewe resultate. Jy lewer ’n getuienis oor God en sy Seun. Jou getroue volharding moedig jou Christenbroers en -susters aan. Party mense wat dit sien en wat Jehovah nie ken nie, word dalk beweeg om hom te soek. (Lees Filippense 1:12-14.) En wanneer jy voel hoe Jehovah jou die krag gee om tydens beproewinge te volhard, neem jou liefde vir hom toe.
“’n Groot deur” is vir jou oop
15. Watter “groot deur” is vir die apostel Paulus oopgemaak?
15 Die apostel Paulus het oor sy bediening in Efese geskryf: “’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir my oopgemaak” (1 Kor. 16:8, 9). Dit was die deur wat tot groot bedrywigheid gelei het om in daardie stad die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Deur by daardie deur in te gaan, het Paulus baie mense gehelp om van Jehovah te leer en Hom te aanbid.
16. Hoe het die gesalfde oorblyfsel in 1919 by “’n geopende deur” ingegaan?
16 In 1919 het die verheerlikte Jesus Christus “’n geopende deur” voor die gesalfde oorblyfsel gestel (Op. 3:8). Hulle het by daardie deur ingegaan en die goeie nuus begin verkondig en Bybelwaarheid met groter ywer as ooit tevore aan ander geleer. Watter vrugte het hulle bediening opgelewer? Die goeie nuus het nou die eindes van die aarde bereik, en omtrent sewemiljoen mense koester die hoop om die ewige lewe in God se nuwe wêreld te verkry.
17. Hoe kan jy ingaan by “’n groot deur wat tot bedrywigheid lei”?
17 “’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei”, is nog steeds wawyd oop vir al Jehovah se knegte. Dit verskaf diegene wat daardeur ingaan, vreugde en voldoening wanneer hulle meer doen in die verkondiging van die goeie nuus. Jong knegte van Jehovah, in watter mate waardeer julle die onvergelyklike voorreg om ander te help om ‘geloof in die goeie nuus te stel’? (Mark. 1:14, 15). Het julle dit al oorweeg om as ’n gewone pionier of as ’n hulppionier te dien? Koninkryksaalbouwerk, Betheldiens en die sendingveld is nog geleenthede wat vir baie van julle ontsluit kan word. Aangesien Satan se goddelose wêreld min tyd oorhet, raak dit elke dag dringender om hierdie vorme van Koninkryksdiens te betree. Sal julle by die “groot deur” ingaan terwyl daar nog tyd is?
“Smaak en sien dat Jehovah goed is”
18, 19. (a) Wat het Dawid gehelp om ’n sterk begeerte te hê om Jehovah te dien? (b) Wat toon dat Dawid nooit spyt was dat hy God gedien het nie?
18 Die geïnspireerde psalmis het ander genooi: “Smaak en sien dat Jehovah goed is” (Ps. 34:8). Toe koning Dawid van eertydse Israel ’n jong herder was, het Jehovah hom beskerm toe wilde diere hom aangeval het. God het hom in sy geveg teen Goliat ondersteun en hom uit baie ander rampspoede gered (1 Sam. 17:32-51; Ps. 18, opskrif). God se groot liefderyke goedhartigheid het Dawid beweeg om te skryf: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons; niemand kan met u vergelyk word nie.”—Ps. 40:5.
19 Dawid het Jehovah innig liefgekry en wou Hom met sy hele hart en verstand loof. (Lees Psalm 40:8-10.) Deur die jare heen was Dawid nooit spyt dat hy sy lewe daaraan gewy het om die ware God te aanbid nie. Om met godvrugtige toegewydheid te lewe, was sy kosbaarste skat—’n bron van onvergelyklike vreugde. Dawid het op sy oudag gesê: “U is my hoop, o Soewereine Heer Jehovah, my vertroue van my jeug af. En selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie” (Ps. 71:5, 18). Dawid se vertroue op Jehovah en sy vriendskap met Hom het sterker geword, selfs al het sy fisiese krag afgeneem.
20. Waarom is diens aan God die beste lewenswyse?
20 Die lewe van Josua, Dawid en Timoteus bewys ook dat diens aan Jehovah die beste lewenswyse is. Die materiële voordele van ’n loopbaan in hierdie wêreld is van korte duur en kan nie vergelyk word met die langtermynvoordele wat jy ontvang as jy ‘Jehovah met jou hele hart en siel dien’ nie (Jos. 22:5). As jy jou nog nie in gebed aan Jehovah toegewy het nie, moet jy jou afvra: ‘Wat verhinder my om een van Jehovah se Getuies te word?’ Wil jy, as jy reeds ’n gedoopte aanbidder van Jehovah is, groter vreugde uit die lewe put? Brei dan jou bediening uit en maak bestendige geestelike vooruitgang. Die volgende artikel sal toon hoe jy geestelik kan groei deur die voorbeeld van die apostel Paulus te volg.
Hoe sal jy antwoord?
• Noem twee redes waarom ons God moet dien.
• Wat het Timoteus gehelp om te besluit om God te dien?
• Waarom moet jy standvastig bly ondanks vervolging?
• Watter geleenthede om te dien, kan vir jou ontsluit word?
[Prent op bladsy 18]
Om Jehovah te dien, is die beste lewenswyse
[Prent op bladsy 19]
Kan jy vrae oor jou geloof beantwoord?