Hoe hanteer jy verskille?
ONS kom daagliks in aanraking met ’n verskeidenheid persoonlikhede. Dit verskaf ons dikwels vreugde en gee ons ’n nuwe uitkyk op dinge. Soms lei dit ook tot verskille, waarvan party ernstig is terwyl ander net klein probleempies in ons daaglikse lewe is. Ongeag hoe ernstig hierdie verskille is, die manier waarop ons dit hanteer, het ’n verstandelike, emosionele en geestelike uitwerking op ons.
As ons alles in ons vermoë doen om verskille op ’n mooi manier op te los, sal dit daartoe bydra dat ons ’n gesonder lewe lei en vreedsamer verhoudinge met ander geniet. ’n Baie ou spreuk sê: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees.”—Spreuke 14:30.
Dit is in skerp teenstelling met die ou bekende waarheid: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28). Wie van ons sou ons wou blootstel aan verkeerde gedagtes wat ons op ongepaste maniere kan laat optree—maniere wat vir ander en vir ons skadelik kan wees? Dit is presies wat onbeheerste woedeuitbarstings kan doen. In die Bergpredikasie het Jesus ons aangeraai om ons gesindheid te ondersoek, wat ’n uitwerking kan hê op die manier waarop ons verskille hanteer wat ons dalk met ander het (Matteus 7:3-5). Pleks van krities teenoor ander te wees, moet ons dink hoe ons vriendskappe kan sluit en behou met ander wat verskillende beskouings en agtergronde het.
Ons gesindheid
Die eerste stap om ’n oënskynlike of werklike verskil op te los, is om te besef dat ons almal verkeerde gedagtes en gesindhede kan hê. Die Skrif herinner ons daaraan dat ons almal sondig en “te kort [skiet] aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Daarbenewens kan onderskeidingsvermoë ons help besef dat die fout nie by die ander persoon lê nie. Kom ons kyk in hierdie verband na die ondervinding van Jona.
Nadat Jona die opdrag van Jehovah ontvang het, het hy na die stad Nineve gegaan om God se naderende oordeel oor die inwoners daarvan te verkondig. Die gelukkige gevolg was dat die hele stad Nineve berou getoon en geloof in die ware God gestel het (Jona 3:5-10). Jehovah het gevoel dat hulle berouvolle gesindheid vergifnis waardig was, en daarom het hy hulle gespaar. “Maar Jona was hieroor erg ontstemd, en hy het kwaad geword” (Jona 4:1). Jona se reaksie op Jehovah se barmhartigheid was verbasend. Waarom sou Jona vir Jehovah kwaad wees? Jona het klaarblyklik behep geraak met sy eie gevoelens en gedink dat hy aansien verloor het in die gemeenskap. Hy het nie Jehovah se barmhartigheid waardeer nie. Jehovah het Jona liefdevol ’n praktiese les geleer wat hom gehelp het om sy gesindheid te verander en om die oortreffende waarde van God se barmhartigheid te sien (Jona 4:7-11). Dit is duidelik dat Jona se gesindheid moes verander, nie Jehovah s’n nie.
Is dit nie soms ook nodig dat ons ons gesindheid teenoor ’n saak moet verander nie? Die apostel Paulus vermaan ons: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Wat het hy bedoel? Om maar een ding te noem, hy spoor ons aan om redelik te wees en om ander Christene met groot respek en waardigheid te behandel. Dit behels dat ons besef dat elke persoon die voorreg van keusevryheid het. Paulus herinner ons ook hieraan: “Elkeen sal sy eie vrag dra” (Galasiërs 6:5). Hoe verstandig sal dit derhalwe wees om daaroor na te dink of ons nie óns gesindheid moet verander voordat verskille ’n skeuring veroorsaak nie! Ons moet hard werk om die denke van Jehovah te weerspieël en om die vrede te bewaar met ander wat God waarlik liefhet.—Jesaja 55:8, 9.
Ons benadering
Stel jou twee klein kindertjies voor wat aan dieselfde speelding trek, waar elkeen al hoe harder trek sodat hy dit kan kry. Terwyl hulle ruk en pluk, snou hulle mekaar dalk kwaai woorde toe totdat die een die speelding laat gaan of iemand anders tussenbeide tree.
Die Genesisverslag sê vir ons dat Abraham gehoor het dat daar ’n rusie tussen sy herders en dié van sy neef Lot ontstaan het. Abraham het die inisiatief geneem om Lot te nader en te sê: “Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers.” Abraham was vasbeslote om nie toe te laat dat enige konflik hulle verhouding skaad nie. Tot watter prys? Hy was bereid om sy voorreg prys te gee om as die oudste van die twee die keuse te maak; hy was bereid om iets op te gee. Abraham het Lot laat kies waarheen hy sy huis en kuddes sou neem. Lot het toe die grasryke gebied van Sodom en Gomorra gekies. Abraham en Lot het in vrede uitmekaargegaan.—Genesis 13:5-12.
Is ons bereid om in dieselfde gees as Abraham op te tree sodat ons vreedsame verhoudinge met ander kan handhaaf? Hierdie voorval in die Bybel is vir ons ’n pragtige voorbeeld om te volg wanneer ons ’n verskil hanteer. Abraham het dié beroep gedoen: ‘Laat daar geen twis wees nie.’ Dit was Abraham se opregte begeerte om ’n vriendskaplike oplossing te vind. So ’n uitnodiging om vreedsame verhoudinge te handhaaf, sou sekerlik help om enige misverstand uit die weg te ruim. Abraham het toe afgesluit met die woorde: “Ons is mos broers.” Waarom sou ’n mens so ’n kosbare verhouding opoffer ter wille van persoonlike voorkeur of trots? Abraham het dit wat belangrik was duidelik voor oë gehou. Hy het dit met selfrespek en eer gedoen en terselfdertyd aan sy neef waardigheid verleen.
Hoewel situasies ontstaan waar ’n ander party dalk tussenbeide moet tree om ’n verskil op te los, hoeveel beter sou dit tog wees as ’n saak privaat opgelos kan word! Jesus spoor ons aan om die inisiatief te neem om vrede te maak met ons broer en om verskoning te vra indien nodig (Matteus 5:23, 24).a Dit sal nederigheid, of ootmoed, verg, maar Petrus het geskryf: “Omgord julle . . . met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (1 Petrus 5:5). Die manier waarop ons ons medeaanbidders behandel, hou direk verband met ons verhouding met God.—1 Johannes 4:20.
In die Christengemeente word daar dalk van ons verwag om ’n reg op te gee sodat ons die vrede kan bewaar. Baie mense wat nou met Jehovah se Getuies assosieer, het gedurende die afgelope vyf jaar ’n deel van God se gesin van ware aanbidders geword. Hoe verbly dit ons harte tog! Ons gedrag het beslis ’n uitwerking op hulle en op ander in die gemeente. Dit is ’n goeie rede waarom ons goed moet nadink oor ons keuse van vermaak, stokperdjies, sosiale tydverdrywe of werk en dink aan hoe ander ons dalk sal beskou. Kan enige van ons dade of woorde verkeerd verstaan word en dus ’n rede tot struikeling vir ander wees?
Die apostel Paulus herinner ons: “Alles is geoorloof, maar nie alles is voordelig nie. Alles is geoorloof, maar nie alles bou op nie. Laat elkeen aanhou om nie sy eie voordeel te soek nie, maar dié van die ander persoon” (1 Korintiërs 10:23, 24). As Christene stel ons opreg daarin belang om die band van liefde en eenheid in die Christenbroederskap te versterk.—Psalm 133:1, NW; Johannes 13:34, 35.
Genesende woorde
Woorde kan ’n kragtige uitwerking ten goede hê. “Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Die verhaal van Gideon wat ’n moontlike konflik met die Efraimiete afgewend het, lig toe hoe waar hierdie spreuk is.
Gideon, wat in ’n hewige stryd met Midian gewikkel was, het die stam Efraim om hulp gevra. Maar toe die stryd verby was, was Efraim vir Gideon kwaad en het hulle vreeslik gekla oor die feit dat hy hulle nie aan die begin van die stryd gevra het om te help nie. Die verslag sê: “Hulle het heftig met hom getwis.” Gideon het in antwoord gesê: “Wat het ek nou gedoen in vergelyking met julle? Is die na-oes van Efraim nie beter as die wynoes van Abiëser nie? God het die vorste van Midian, Oreb en Seëb, in julle hand gegee, maar wat kon ek doen in vergelyking met julle?” (Rigters 8:1-3). Gideon het deur sy goed gekose, kalmerende woorde ’n potensieel rampspoedige oorlog tussen stamme afgeweer. Dié van die stam Efraim het moontlik ’n probleem met verwaandheid en trots gehad. Maar dit het nie gekeer dat Gideon ’n vreedsame oplossing probeer vind het nie. Kan ons dieselfde doen?
Ander raak dalk kwaad, en dit kan veroorsaak dat hulle ons vyandiggesind is. Neem hulle gevoelens in ag en probeer hard om hulle beskouings te verstaan. Het ons dalk op die een of ander manier daartoe bygedra dat hulle so voel? Indien wel, kan ons gerus erken in watter mate ons tot die probleem bygedra het en toon dat ons daaroor jammer is. ’n Paar weldeurdagte woorde kan ’n geskende verhouding herstel (Jakobus 3:4). Party wat ontsteld is, het miskien net ons vriendelike gerusstelling nodig. Die Bybel sê: “Deur gebrek aan hout gaan die vuur dood” (Spreuke 26:20). Ja, woorde wat sorgvuldig gekies is en in die regte gees gesê word, kan ‘die grimmigheid afkeer’ en ’n genesing wees.—Spreuke 15:1.
Die apostel Paulus beveel aan: “Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense” (Romeine 12:18). Dit is waar dat ons nie ander se gevoelens kan beheer nie, maar ons kan ons deel doen om vrede te bevorder. Pleks van aan ons eie onvolmaakte reaksies of dié van ander onderworpe te wees, kan ons nou optree en gegronde Bybelbeginsels toepas. As ons verskille hanteer soos Jehovah ons leer om te doen, sal dit vir ons ewigdurende vrede en geluk meebring.—Jesaja 48:17.
[Voetnoot]
a Sien die artikels “Vergewe uit jou hart” en “Jy kan jou broer wen” in Die Wagtoring van 15 Oktober 1999.
[Prent op bladsy 24]
Dring ons daarop aan om ons sin te kry?
[Prent op bladsy 25]
Abraham het ’n goeie voorbeeld gestel van toegewendheid sodat hy ’n verskil kon oplos