Getrouheid bring God se goedkeuring mee
“[Wees] navolgers . . . van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf.”—HEBREËRS 6:12.
1, 2. Voor watter uitdaging het Jefta en sy dogter te staan gekom?
’N JONG vrou het buitentoe gehardloop om haar vader te ontmoet. Sy was baie bly om te sien dat hy veilig teruggekeer het ná ’n geveg. Sy groot oorwinning het haar laat sing en dans van vreugde. Maar toe doen en sê haar vader iets wat haar sekerlik verbaas het. Hy het sy klere geskeur en uitgeroep: “Ag, my dogter! Jy het my inderdaad neergedruk.” Hy het haar toe vertel dat hy ’n belofte aan Jehovah gemaak het wat haar lewe vir ewig sou verander. Sy belofte het beteken dat sy nooit sou kon trou of kinders hê nie. Maar sonder om te huiwer het sy vir haar vader gesê om sy belofte aan Jehovah te hou—wat ’n pragtige gesindheid! Haar antwoord het getoon dat sy die volle vertroue gehad het dat enigiets wat Jehovah van haar vra, haar tot voordeel sou strek (Rigters 11:34-37). Toe haar vader haar geloof sien, was hy baie trots op haar omdat hy geweet het dat haar gewilligheid Jehovah se hart bly sou maak.
2 Jefta en sy dogter het volle vertroue gehad in Jehovah en in die manier waarop hy dinge doen. Hulle was getrou, selfs toe dit nie vir hulle maklik was nie. Hulle wou Jehovah se goedkeuring hê, en dit was enige opoffering werd.
3. Hoe kan ons vandag baat vind by die voorbeeld van Jefta en sy dogter?
3 Dit is nie altyd maklik om aan Jehovah getrou te bly nie. Ons moet “hard . . . stry vir die geloof” (Judas 3). Om ons te help om dit te doen, kan ons kyk hoe Jefta en sy dogter uitdagings in hulle lewe die hoof gebied het. Hoe het hulle aan Jehovah getrou gebly?
BLY GETROU ONDANKS WÊRELDSE INVLOEDE
4, 5. (a) Watter bevel het Jehovah die Israeliete gegee toe hulle die Beloofde Land binnegegaan het? (b) Wat was volgens Psalm 106 die gevolge van die Israeliete se ongehoorsaamheid?
4 Jefta en sy dogter is elke dag herinner aan die gevolge van die Israeliete se ongehoorsaamheid aan Jehovah. Jehovah het die Israeliete amper 300 jaar tevore beveel om alle valse aanbidders in die Beloofde Land dood te maak, maar hulle was nie gehoorsaam nie (Deuteronomium 7:1-4). Baie Israeliete het die Kanaäniete begin navolg, wat valse gode aanbid het en onsedelike lewens gelei het.—Lees Psalm 106:34-39.
5 Weens die Israeliete se ongehoorsaamheid het Jehovah hulle nie teen hulle vyande beskerm nie (Rigters 2:1-3, 11-15; Psalm 106:40-43). Dit was ongetwyfeld baie moeilik vir gesinne wat vir Jehovah lief was om gedurende daardie moeilike jare getrou te bly. Maar die Bybel noem dat daar wel getroues was, soos Jefta en sy dogter, sowel as Elkana, Hanna en Samuel. Hulle was vasbeslote om Jehovah se hart bly te maak.—1 Samuel 1:20-28; 2:26.
6. Watter wêreldse invloede is daar vandag, en wat moet ons doen?
6 In ons dag dink en tree mense op soos die Kanaäniete. Hulle lewe draai om seks, geweld en geld. Maar Jehovah gee ons duidelike waarskuwings. Hy wil ons beskerm net soos hy die Israeliete teen slegte invloede wou beskerm. Sal ons uit hulle foute leer? (1 Korintiërs 10:6-11). Ons moet alles in ons vermoë doen om die wêreld se denke te vermy (Romeine 12:2). Sal ons hard probeer om dit te doen?
JEFTA HET GETROU GEBLY ONDANKS TELEURSTELLINGS
7. (a) Wat het Jefta se eie volk aan hom gedoen? (b) Hoe het Jefta gereageer?
7 In Jefta se dag is die Israeliete deur die Filistyne sowel as die Ammoniete onderdruk omdat die Israeliete ongehoorsaam was aan Jehovah (Rigters 10:7, 8). Jefta het nie net te kampe gehad met vyandelike nasies nie; sy eie broers en die leiers van Israel het ook vir hom probleme veroorsaak. Omdat sy broers jaloers was en hom gehaat het, het hulle hom gedwing om die grond te verlaat wat wetlik aan hom behoort het (Rigters 11:1-3). Jefta het geweier om toe te laat dat hulle wrede gedrag sy gesindheid beïnvloed. Hoe weet ons dit? Want toe die ouer manne van die nasie hom om hulp gesmeek het, het hy hulle gehelp (Rigters 11:4-11). Wat het Jefta moontlik beweeg om dit te doen?
8, 9. (a) Watter beginsels in die Mosaïese Wet het Jefta moontlik gehelp? (b) Wat was vir Jefta van die allergrootste belang?
8 Jefta was ’n sterk, dapper man, en hy het Israel se geskiedenis en die Mosaïese Wet baie goed geken. Die manier waarop Jehovah met Sy volk gehandel het, het hom geleer wat God se standaarde van reg en verkeerd is (Rigters 11:12-27). Jefta het hierdie kennis in sy lewe gebruik wanneer hy besluite geneem het. Hy het geweet hoe Jehovah oor woede en wraak voel en dat God wil hê dat Sy volk mekaar moet liefhê. En die Wet het hom geleer hoe om ander te behandel, selfs diegene wat hom gehaat het.—Lees Eksodus 23:5; Levitikus 19:17, 18.
9 Josef se voorbeeld het Jefta waarskynlik gehelp. Hy het ongetwyfeld geleer hoe Josef barmhartig was teenoor sy broers, al het hulle hom gehaat (Genesis 37:4; 45:4, 5). Hierdie voorbeeld het Jefta moontlik gehelp om op te tree op ’n manier wat Jehovah behaag het. Sy broers se dade het hom baie seergemaak. Maar om Jehovah se naam te verdedig en vir Sy volk te veg, was vir Jefta belangriker as sy persoonlike gevoelens (Rigters 11:9). Hy was vasbeslote om aan Jehovah getrou te bly. Hierdie gesindheid het Jehovah se seën meegebring, vir Jefta sowel as vir die Israeliete.—Hebreërs 11:32, 33.
Ons moenie toelaat dat ons seergemaakte gevoelens ons daarvan weerhou om Jehovah te dien nie
10. Hoe kan goddelike beginsels ons vandag help om soos Christene op te tree?
10 Sal ons uit Jefta se voorbeeld leer? Wat sal ons doen as ons Christenbroers ons teleurstel of as ons voel dat hulle ons nie goed behandel nie? Ons moenie toelaat dat ons seergemaakte gevoelens ons daarvan weerhou om Jehovah te dien nie. Moet nooit ophou om Christelike vergaderinge by te woon of om tyd saam met die gemeente deur te bring nie. Laat ons Jefta navolg en Jehovah gehoorsaam. Dit sal ons help om moeilike situasies te oorkom sodat ons ook ’n goeie voorbeeld kan wees.—Romeine 12:20, 21; Kolossense 3:13.
GEWILLIGE OPOFFERINGS TOON DAT ONS GELOOF HET
11, 12. Watter belofte het Jefta gemaak, en wat het dit behels?
11 Jefta het geweet dat hy God se hulp nodig het om Israel uit die hand van die Ammoniete te bevry. Hy het Jehovah gevra om hom die oorwinning te gee en het belowe dat hy dan die eerste persoon wat uit sy huis kom wanneer hy van die geveg terugkeer, aan Jehovah as “’n brandoffer” sou gee (Rigters 11:30, 31). Wat het dit beteken?
12 Jehovah haat menseoffers, en daarom weet ons dat Jefta nie ’n letterlike offerande sou bring nie (Deuteronomium 18:9, 10). Onder die Mosaïese Wet was ’n brandoffer ’n spesiale offer wat in sy geheel aan Jehovah gegee is. Jefta het dus bedoel dat die persoon wat hy aan Jehovah sou gee, vir die res van sy of haar lewe by die tabernakel sou dien. Jehovah het na Jefta geluister en hom gehelp om ’n algehele oorwinning oor sy vyande te behaal (Rigters 11:32, 33). Maar wie sou as “’n brandoffer” aan Jehovah gegee word?
13, 14. Wat toon Jefta se woorde in Rigters 11:35 oor sy geloof?
13 Dink aan die toneel wat aan die begin van hierdie artikel genoem word. Toe Jefta van die geveg terugkeer, was die eerste persoon wat hom kom ontmoet het, sy geliefde dogter, sy enigste kind! Sou Jefta sy belofte getrou nakom? Sou hy sy eie dogter aan Jehovah gee om vir die res van haar lewe by die tabernakel te dien?
14 Die beginsels in God se Wet het Jefta blykbaar weer gehelp om die regte besluit te neem. Miskien het hy die woorde in Eksodus 23:19 onthou, wat vir God se volk gesê het om gewillig te wees om hulle beste vir Jehovah te gee. Die Wet het ook gesê dat ’n persoon wat ’n belofte aan Jehovah maak, “sy woord nie [mag] breek nie. Volgens alles wat uit sy mond uitgegaan het, moet hy doen” (Numeri 30:2). Soos getroue Hanna, wat waarskynlik ’n tydgenoot van Jefta was, moes hy sy belofte nakom, al het hy geweet wat dit vir hom en sy dogter sou beteken. Aangesien sy dogter by die tabernakel sou dien, sou sy nooit kinders hê nie. Daar sou dus niemand wees om Jefta se naam te laat voortbestaan of om sy grond te erf nie (Rigters 11:34). Maar Jefta was getrou en het gesê: “Ek het my mond teenoor Jehovah oopgemaak, en ek kan nie omdraai nie” (Rigters 11:35). Jehovah het Jefta se groot offer aanvaar en hom geseën. Sou jy so getrou soos Jefta gewees het?
15. Watter belofte het baie van ons gemaak, en hoe kan ons dit getrou nakom?
15 Toe ons ons aan Jehovah toegewy het, het ons belowe dat ons sy wil onvoorwaardelik sal doen. Ons het geweet dat dit nie altyd maklik sal wees om hierdie belofte na te kom nie. Maar hoe reageer ons wanneer ons gevra word om iets te doen waarvan ons nie hou nie? As ons sulke gevoelens oorkom en God gewillig gehoorsaam, toon dit dat ons ons belofte getrou nakom. Soms maak ons groot en moeilike opofferings, maar Jehovah se seëninge is altyd groter (Maleagi 3:10). Maar wat van Jefta se dogter? Hoe het sy op haar vader se belofte gereageer?
16. Hoe het Jefta se dogter op haar vader se belofte gereageer? (Sien prent aan begin van artikel.)
16 Jefta se belofte was anders as Hanna s’n. Sy het belowe om haar seun Samuel te gee om as ’n Nasireër by die tabernakel te dien (1 Samuel 1:11). ’n Nasireër kon trou en ’n gesin hê. Maar Jefta se dogter is as ’n “brandoffer” gegee, en sy sou dus nie die vreugde ervaar om te trou en kinders te hê nie (Rigters 11:37-40). Dink net! Sy kon waarskynlik met die beste man in die land getrou het omdat haar vader die leier in Israel was. Maar nou sou sy ’n nederige dienares by die tabernakel word. Hoe het hierdie jong vrou gereageer? Sy het getoon dat sy Jehovah se diens eerste stel en het vir haar vader gesê: “Doen [met my] volgens wat uit u mond uitgegaan het” (Rigters 11:36). Sy het haar natuurlike begeerte om ’n man en kinders te hê, laat vaar om Jehovah te dien. Hoe kan ons haar selfopofferende gees navolg?
Jefta se dogter het haar natuurlike begeerte om ’n man en kinders te hê, laat vaar om Jehovah te dien
17. (a) Hoe kan ons die geloof van Jefta en sy dogter navolg? (b) Hoe spoor die woorde in Hebreërs 6:10-12 jou aan om selfopofferend te wees?
17 Daar is duisende jong Christenmans en -vroue wat bereid is om, ten minste vir eers, die opoffering te maak om nie te trou nie of wat besluit om nie kinders te hê nie. Waarom? Omdat hulle hulle daarop wil toelê om meer in Jehovah se diens te doen. En baie van ons ouer broers en susters offer van die tyd op wat hulle saam met hulle kinders of kleinkinders kon deurbring sodat hulle meer tyd en energie aan Jehovah se diens kan wy. Party werk aan bouprojekte of woon die Skool vir Koninkrykspredikers by en verhuis na ’n gemeente waar meer verkondigers nodig is. Ander beplan om gedurende die Gedenkmaalseisoen meer in Jehovah se diens te doen. Hy sal nooit die liefdevolle opofferings van al hierdie getroues vergeet nie. (Lees Hebreërs 6:10-12.) Wat van jou? Kan jy opofferings maak om Jehovah in groter mate te dien?
WATTER LESSE HET ONS GELEER?
18, 19. Wat het ons uit die Bybelverslag van Jefta en sy dogter geleer, en hoe kan ons hulle navolg?
18 Wat het Jefta gehelp om talle uitdagings die hoof te bied? Hy het Jehovah se leiding aanvaar wanneer hy keuses in die lewe moes maak. Hy het nie toegelaat dat die mense om hom hom beïnvloed nie. En hy het getrou gebly selfs toe ander hom teleurgestel het. Jehovah het Jefta en sy dogter geseën vir hulle gewillige opofferings, en Hy het hulle albei gebruik om ware aanbidding te bevorder. Selfs toe ander opgehou het om te doen wat reg is, het Jefta en sy dogter getrou gebly aan Jehovah.
19 Die Bybel sê: “Wees [navolgers] van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf” (Hebreërs 6:12). Laat ons Jefta en sy dogter navolg, want ons weet dat Jehovah ons sal seën as ons getrou bly.