Jefta kom sy gelofte aan Jehovah na
’N SEËVIERENDE krygsman keer terug huis toe nadat hy sy nasie van onderdrukking bevry het. Sy dogter hardloop hom tegemoet, terwyl sy jubelend dans en op ’n tamboeryn speel. Wanneer hy haar sien, is hy nie bly nie, maar skeur hy sy klere. Waarom? Deel hy nie in haar vreugde omdat hy veilig teruggekeer het nie? Watter geveg het hy gewen? Wie is hy?
Die man is Jefta, een van die rigters van eertydse Israel. Maar om die ander vrae te beantwoord en te sien waarom die verslag vir ons van belang is, moet ons kyk na die agtergrond van hierdie ongewone hereniging.
’n Krisis in Israel
Jefta lewe in ’n krisistyd. Sy mede-Israeliete het rein aanbidding versaak en dien die gode van Sidon, Moab, Ammon en Filistea. Jehovah lewer sy volk dus oor aan die Ammoniete en die Filistyne, wat hulle 18 jaar lank onderdruk. Die inwoners van Gilead, oos van die Jordaanrivier, kry besonder swaar.a Die Israeliete kom uiteindelik tot hulle sinne, vra berouvol Jehovah se hulp, begin hom dien en verwyder die vreemde gode uit hulle midde.—Rigters 10:6-16.
Die Ammoniete slaan kamp op in Gilead, en die Israeliete kom bymekaar om teen hulle op te trek. Maar Israel het nie ’n aanvoerder nie (Rigters 10:17, 18). Intussen het Jefta self probleme. Sy gierige halfbroers het hom verdryf sodat hulle sy erfdeel kon steel. Jefta gaan woon toe in Tob, ’n streek oos van Gilead wat oop en bloot lê vir Israel se vyande. “Leeglêers”, moontlik dié wat weens die onderdrukkers hulle werk verloor het of wat geweier het om knegte van die onderdrukkers te word, skaar hulle by Jefta. Hulle ‘trek saam met hom uit’, wat moontlik beteken dat hulle Jefta vergesel terwyl hy strooptogte op vyandige bure uitvoer. Die Skrif noem Jefta “’n sterk, dapper man”, waarskynlik omdat hy ’n goeie vegter is (Rigters 11:1-3). Maar wie sal Israel teen die Ammoniete lei?
“Kom dien tog as ons aanvoerder”
Die ouer manne van Gilead spoor Jefta aan: “Kom dien tog as ons aanvoerder.” As hulle dink dat hy dadelik die geleentheid gaan aangryp om na sy eie land terug te keer, maak hulle ’n fout. “Was dit nie julle wat my gehaat het sodat julle my uit my vader se huis verdryf het nie?” vra hy. “Waarom het julle nou na my toe gekom, noudat julle in benoudheid verkeer?” Hoe onregverdig is dit tog dat hulle Jefta eers verwerp en dan na hom toe kom vir hulp!—Rigters 11:4-7.
Jefta sal die leiding in Gilead neem, maar slegs op een voorwaarde. ‘As Jehovah Ammon aan my oorlewer’, sê hy, ‘sal ek julle hoof word!’ ’n Oorwinning sal bewys lewer van God se steun, maar Jefta wil ook seker maak dat goddelike standaarde nie opsygeskuif sal word sodra die krisis verby is nie.—Rigters 11:8-11.
Handelinge met Ammon
Jefta probeer om met die Ammoniete te onderhandel. Hy stuur boodskappers na hulle koning om uit te vind wat die rede vir die Ammoniete se aggressie is. Die antwoord bevat ’n beskuldiging: Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle Ammonitiese land in besit geneem, en dit moet teruggegee word.—Rigters 11:12, 13.
Danksy Jefta se deeglike begrip van Israel se geskiedenis weerlê hy die Ammoniete se bewerings op behendige wyse. Hy sê vir hulle dat die Israeliete nie Ammon, Moab of Edom lastig geval het toe hulle Egipte verlaat het nie; en Ammon het ook nie die betwiste gebied besit in die tyd van Israel se uittog nie. Die Amoriete het dit destyds besit, maar God het hulle koning, Sihon, in Israel se hand gegee. En die Israeliete woon al 300 jaar lank in daardie gebied. Waarom maak die Ammoniete nou eers aanspraak daarop?—Rigters 11:14-22, 26.
Jefta vestig ook die aandag op ’n geskil wat ten nouste verband hou met Israel se ellende: Wie is die ware God? Jehovah of die gode van die land wat Israel in besit geneem het? Sou Kamos, as hy hoegenaamd enige mag gehad het, dit nie gebruik het om sy volk se land te behou nie? Dit is ’n stryd tussen valse godsdiens, wat deur die Ammoniete voorgestaan word, en ware aanbidding. Jefta sluit dus af met hierdie logiese verklaring: “Laat Jehovah, die Regter, vandag tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon oordeel.”—Rigters 11:23-27.
Die koning van Ammon luister nie na Jefta se kompromislose boodskap nie. “Jehovah se gees [kom] op Jefta . . . , en hy [trek] deur Gilead en Manasse”, terwyl hy moontlik manne vir ’n geveg versamel.—Rigters 11:28, 29.
Jefta se gelofte
Met ’n vurige begeerte na goddelike leiding doen Jefta hierdie gelofte aan God: “As u vir seker die kinders van Ammon in my hand gee, sal die een wat uitkom, wat my uit die deure van my huis tegemoetkom wanneer ek in vrede van die kinders van Ammon af terugkeer, ook aan Jehovah behoort, en ek sal daardie een as ’n brandoffer bring.” In antwoord hierop seën God Jefta deur hom in staat te stel om 20 Ammonitiese stede met ’n “groot slagting” te verslaan en sodoende Israel se vyande te onderwerp.—Rigters 11:30-33.
Wanneer Jefta van die geveg af terugkeer, kom sy geliefde dogter, sy enigste kind, hom tegemoet! “Toe hy haar sien”, sê die verslag, “het hy sy klere begin skeur en gesê: ‘Ag, my dogter! Jy het my inderdaad neergedruk, en jy het die een geword wat ek in die ongeluk gestort het. En ek—ek het my mond teenoor Jehovah oopgemaak, en ek kan nie omdraai nie.’”—Rigters 11:34, 35.
Gaan Jefta werklik sy dogter offer? Nee. Dit kan nie wees wat hy in gedagte het nie. Jehovah verfoei letterlike menseoffers, een van die bose gebruike van die Kanaäniete (Levitikus 18:21; Deuteronomium 12:31). Nie alleen het God se gees op Jefta ingewerk toe hy sy gelofte gedoen het nie, maar Jehovah het ook sy pogings geseën. Die Skrif stel Jefta in ’n goeie lig weens sy geloof en weens die rol wat hy in verband met God se voorneme gespeel het (1 Samuel 12:11; Hebreërs 11:32-34). ’n Menseoffer—’n moord—is dus heeltemal ondenkbaar. Wat het Jefta dan in gedagte gehad toe hy plegtig belowe het om iemand as ’n offer aan Jehovah te bring?
Jefta het klaarblyklik bedoel dat hy die een wat hom sou tegemoetkom, aan die uitsluitlike diens van God sal wy. Die Mosaïese Wet het daarvoor voorsiening gemaak dat siele aan Jehovah gewy kon word. Byvoorbeeld, vroue het by die heiligdom gedien, dalk om water te skep (Eksodus 38:8; 1 Samuel 2:22). Min is bekend oor hierdie vorm van diens, en ons weet nie eens of dit gewoonlik permanent was nie. Jefta het blykbaar sulke spesiale toegewydheid in gedagte gehad toe hy sy gelofte gedoen het, en dit wil voorkom asof sy belofte permanente diens geïmpliseer het.
Jefta se dogter en later ook die seuntjie Samuel het hulle samewerking gegee sodat die geloftes van hulle godvrugtige ouers vervul kon word (1 Samuel 1:11). As ’n lojale aanbidder van Jehovah was Jefta se dogter self net so oortuig soos haar vader dat sy gelofte nagekom moes word. Die opoffering was groot, want dit het beteken dat sy nooit sou trou nie. Sy het gehuil oor haar maagdelikheid omdat elke Israeliet kinders wou hê om die familienaam en -erfdeel te bewaar. Vir Jefta het die vervulling van die gelofte beteken dat hy die geselskap van sy geliefde enigste kind sou verloor.—Rigters 11:36-39.
Dit was nie ’n vermorsing van hierdie getroue meisie se lewe nie. Voltydse diens by Jehovah se huis was ’n uitstekende, bevredigende en prysenswaardige manier vir haar om God te eer. Gevolglik “het die dogters van Israel [van jaar tot jaar] gegaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, . . . lof toe te swaai” (Rigters 11:40). En hy was sekerlik bly oor haar diens aan Jehovah.
Vandag kies baie onder God se volk ’n lewe van voltydse diens as pioniers, sendelinge, reisende opsieners of lede van Bethelgesinne. Dit beteken dalk dat hulle hulle familielede nie so dikwels sien as wat hulle graag sou wou nie. Maar hulle sowel as hulle familielede kan hulle verbly in hierdie heilige diens wat aan Jehovah verrig word.—Psalm 110:3; Hebreërs 13:15, 16.
Opstand teen goddelike leiding
Wanneer ons terugkyk op Jefta se dag, sien ons dat baie Israeliete Jehovah se leiding verwerp. Ten spyte van bewyse dat God Jefta seën, twis die Efraimiete met hom. Hulle wil weet waarom hy hulle nie geroep het om te gaan veg nie. Hulle wil selfs Jefta se huis ‘bo hom’ verbrand!—Rigters 12:1.
Jefta sê dat hy die Efraimiete wel geroep het, maar dat hulle nie gereageer het nie. Dit was in elk geval God wat die geveg gewen het. Is hulle nou ontsteld omdat die Gileadiete hulle nie geraadpleeg het toe hulle Jefta as aanvoerder gekies het nie? Efraim se beswaar toon in werklikheid dat hulle teen Jehovah opstandig is, en daar moet noodgedwonge teen hulle geveg word. In die geveg wat hierop volg, word die Efraimiete op die vlug gejaag. Omdat hulle die toetswoord “Sjibbolet” nie reg kan uitspreek nie, word die vlugtende manne van Efraim maklik uitgeken. Altesaam 42 000 Efraimiete kom in die konflik om.—Rigters 12:2-6.
Wat ’n droewige tyd in Israel se geskiedenis! Gevegte wat deur die rigters Otniël, Ehud, Barak en Gideon gewen is, het vrede gebring. Hierdie keer word vrede nie gemeld nie. Die verslag sluit eenvoudig af: “Jefta het Israel ses jaar lank gerig, waarna [hy] gesterf het en in sy stad in Gilead begrawe is.”—Rigters 3:11, 30; 5:31; 8:28; 12:7.
Wat kan ons hieruit leer? Dat Jefta, hoewel sy lewe vol probleme was, getrou aan God was. Hierdie dapper man het melding gemaak van Jehovah toe hy met die ouer manne van Gilead, die Ammoniete, sy dogter en met die Efraimiete gepraat het en natuurlik toe hy sy gelofte gedoen het (Rigters 11:9, 23, 27, 30, 31, 35; 12:3). God het Jefta geseën vir sy toegewydheid en het hom en sy dogter gebruik om ware aanbidding te bevorder. Gedurende ’n tyd toe ander mense goddelike standaarde verwerp het, het Jefta daarby gebly. Sal jy, soos Jefta, Jehovah altyd gehoorsaam?
[Voetnoot]
a Die Ammoniete was in staat tot groot wreedheid. Minder as 60 jaar later het hulle ’n stad in Gilead met vrees vervul en gedreig om die regteroog van al die inwoners uit te steek. Die profeet Amos het gepraat van ’n tyd toe hulle die swanger vroue van Gilead oopgesny het.—1 Samuel 11:2; Amos 1:13.