Volg hulle geloof na
Sy het haar hart in gebed voor God uitgestort
HANNA het doenig gebly met voorbereidings vir die reis in ’n poging om haar gedagtes besig te hou. Dit was veronderstel om ’n gelukkige tyd te wees; Elkana, haar man, het gewoonlik die hele gesin op hierdie jaarlikse reise geneem om by die tabernakel in Silo te gaan aanbid. Jehovah wou hê dat hierdie geleenthede vreugdevol moet wees (Deuteronomium 16:15). En Hanna het dit ongetwyfeld van kindsbeen af baie geniet om hierdie feeste by te woon. Maar in onlangse jare het dinge vir haar verander.
Sy was geseën met ’n man wat haar liefgehad het. Maar Elkana het nog ’n vrou gehad. Haar naam was Peninna, en sy was blykbaar daarop uit om Hanna se lewe te vergal. Peninna het ’n manier gevind om selfs hierdie jaarlikse geleenthede vir Hanna ’n marteling te maak. Hoe? Nog belangriker, hoe het Hanna se geloof in Jehovah haar gehelp om ’n situasie te verduur wat dikwels ondraaglik gelyk het? As jy met uitdagings te kampe het wat jou van jou lewensvreugde beroof, sal Hanna se verhaal jou moontlik diep raak.
“Waarom is jou hart bedroef?”
Die Bybel toon dat Hanna twee groot probleme in haar lewe gehad het. Sy het min beheer oor die eerste gehad en hoegenaamd geen beheer oor die tweede nie. In die eerste plek was sy in ’n veelwywige huwelik, en haar mededingster het haar gehaat. In die tweede plek was sy onvrugbaar. Hierdie toestand is moeilik vir enige vrou wat daarna smag om kinders te hê; maar in Hanna se tyd en kultuur was dit ’n bron van groot smart. Elke familie het staatgemaak op ’n nageslag om die familienaam te laat voortbestaan. Onvrugbaarheid is beskou as ’n bittere smaad en skande.
Hanna sou haar las dalk moedig kon verduur het as dit nie vir Peninna was nie. Veelwywery was nooit ’n ideale situasie nie. Wedywering, twis en hartseer was baie algemeen. Die gebruik het ver afgewyk van die standaard van monogamie wat God in die tuin van Eden gestel het (Genesis 2:24).a Die Bybel skets dus ’n droewige prentjie van veelwywery, en die aangrypende uitbeelding van die lewe in Elkana se huishouding is een van die sprekende potloodstrepe in daardie skets.
Jy sien, Elkana het Hanna die liefste gehad. Volgens Joodse oorlewering het hy eers met Hanna getrou en toe ’n paar jaar later met Peninna. Hoe dit ook al sy, Peninna, wat uiters jaloers was op Hanna, het baie maniere gevind om haar mededingster te laat ly. Die groot voordeel wat Peninna bo Hanna gehad het, het te doen gehad met vrugbaarheid. Peninna het die een kind ná die ander gehad, en met elke nuwe kind het sy al hoe verwaander geraak. Pleks van jammer te voel vir Hanna en haar in haar teleurstelling te vertroos, het Peninna hierdie sensitiewe punt uitgebuit. Die Bybel sê dat Peninna Hanna erg getart het “om haar ontsteld te laat voel” (1 Samuel 1:6). Peninna het opsetlik so opgetree. Sy wou Hanna seermaak en sy het dit reggekry.
Vir Peninna was die jaarlikse pelgrimsreis na Silo blykbaar ’n ideale geleentheid om haar te tart. Elkana het aan elk van Peninna se baie kinders—“al haar seuns en haar dogters”—dele van die offerandes gegee wat aan Jehovah gebring is. Die kinderlose Hanna het egter net haar eie deel ontvang. Peninna het haar dan so bo Hanna verhef en haar aan haar onvrugbaarheid herinner dat die arme vrou in trane uitgebars en selfs haar aptyt verloor het. Elkana kon natuurlik sien dat sy geliefde Hanna ontsteld is en nie eet nie, en daarom het hy haar probeer vertroos. “Hanna”, het hy gevra, “waarom huil jy, en waarom eet jy nie, en waarom is jou hart bedroef? Is ek nie vir jou beter as tien seuns nie?”—1 Samuel 1:4-8.
Dit is prysenswaardig dat Elkana besef het dat Hanna se ontsteltenis te doen gehad het met haar onvrugbaarheid. En Hanna het die tere versekerings van sy liefde ongetwyfeld baie waardeer.b Maar Elkana het nie van Peninna se kwaadwilligheid melding gemaak nie, en die verslag gee ook nie te kenne dat Hanna hom daarvan vertel het nie. Dalk het sy besef dat dit haar situasie net sou vererger as sy Peninna aan die kaak stel. Sou Elkana werklik dinge verander? Sou Peninna nie dalk nog venyniger teenoor Hanna raak nie, en sou daardie venynige vrou se kinders en knegte nie miskien haar voorbeeld volg nie? Hanna sou net al hoe meer soos ’n uitgeworpene in haar eie huis gevoel het.
Of Elkana bewus was van hoe kleinlik en gemeen Peninna nou eintlik was of nie, Jehovah God het alles gesien. Sy Woord openbaar die volle prentjie en voorsien sodoende ’n ernstige waarskuwing aan enigiemand wat hom skuldig maak aan jaloerse en haatlike dade wat op die oog af nie so erg lyk nie. Daarenteen kan die onskuldiges en die vredeliewendes, soos Hanna, vertroosting put uit die wete dat die God van geregtigheid alles op sy tyd en op sy manier sal regstel (Deuteronomium 32:4). Dalk het Hanna dit geweet, want dit was tot Jehovah dat sy haar om hulp gewend het.
‘Nie meer besorg oor haar situasie nie’
Die huisgesin was al in die vroeë oggendure bedrywig. Almal het gereedgemaak vir die reis, selfs die kinders. Die reis na Silo sou behels dat hierdie groot gesin meer as 30 kilometer oor die heuwels van Efraim moes aflê.c Te voet sou die reis ’n dag of twee duur. Hanna het geweet hoe haar mededingster sou optree. Maar Hanna het nie by die huis gebly nie. Sy stel sodoende tot vandag toe ’n pragtige voorbeeld vir aanbidders van God. Dit is nooit verstandig om toe te laat dat ander se swak gedrag met ons aanbidding van God inmeng nie. As ons dit doen, sal ons juis dié seëninge misloop wat ons versterk om te volhard.
Ná ’n lang dag oor kronkelende bergpaaie het die groot gesin Silo uiteindelik gesien. Daar het dit gelê, op ’n heuwel wat byna omring is deur hoër heuwels. Terwyl hulle nader gestap het, het Hanna waarskynlik diep nagedink oor wat sy vir Jehovah in gebed sou sê. Met hulle aankoms het die gesin ’n maaltyd geniet. Hanna het by die eerste geleentheid van die groep af weggeglip en na die tabernakel van Jehovah gegaan. Die hoëpriester Eli was daar en het naby die deurpos van die tempel gesit. Maar Hanna se aandag was op haar God gevestig. Hier by die tabernakel het sy die vertroue gehad dat sy verhoor sou word. Al kon niemand anders haar jammerlike situasie verstaan nie, kon haar Vader in die hemel wel. Haar bitterheid het in haar opgewel, en sy het begin huil.
Met snikke wat deur haar liggaam ruk, het Hanna in haar hart met Jehovah gepraat. Haar lippe het gebewe terwyl sy in haar gedagtes die woorde gevorm het om haar pyn uit te druk. En sy het lank gebid en haar hart voor haar Vader uitgestort. Sy het egter meer gedoen as om God net te vra om haar oorweldigende begeerte om ’n nageslag voort te bring, te bevredig. Hanna wou nie net graag God se seëninge ontvang nie, maar sy wou hom ook graag gee wat sy kon. Daarom het sy ’n gelofte gedoen en gesê dat sy, as sy ’n seun sou hê, die kind al die dae van sy lewe aan Jehovah sou gee om hom te dien.—1 Samuel 1:9-11.
Wat gebed betref, het Hanna dus vir al God se knegte ’n voorbeeld gestel. Jehovah nooi sy knegte liefdevol om openhartig, sonder om te huiwer, met hom te praat en hulle sorge op hom te werp soos ’n kind wat sy liefdevolle ouer vertrou (Psalm 62:8; 1 Tessalonisense 5:17). Die apostel Petrus is geïnspireer om hierdie vertroostende woorde oor gebed aan Jehovah neer te skryf: ‘Werp al julle sorge op hom, want hy sorg vir julle.’—1 Petrus 5:7.
Mense het egter nie soveel begrip en empatie soos Jehovah nie. Terwyl Hanna gehuil en gebid het, het ’n stem haar laat skrik. Dit was Eli, die hoëpriester, wat haar dopgehou het. Hy het gesê: “Hoe lank sal jy jou soos ’n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.” Eli het Hanna se bewende lippe, haar snikke en haar emosionele optrede gesien. Pleks van te vra wat verkeerd is, het hy die oorhaastige gevolgtrekking gemaak dat sy dronk is.—1 Samuel 1:12-14.
Hoe seer moes so ’n ongegronde beskuldiging Hanna tog op daardie oomblik van smart gemaak het—en dít deur ’n man wat so ’n geëerde posisie beklee het! Sy het nietemin weer ’n voortreflike voorbeeld van geloof gestel. Sy het nie toegelaat dat ’n man se onvolmaakthede haar aanbidding van Jehovah negatief beïnvloed nie. Sy het Eli met respek geantwoord en haar situasie verduidelik. Omdat hy moontlik besef het dat hy verkeerd was, het hy op ’n sagter toon geantwoord: “Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou versoek toestaan wat jy van hom gevra het.”—1 Samuel 1:15-17.
Watter uitwerking het dit op Hanna gehad om haar hart voor Jehovah uit te stort en hom daar by sy tabernakel te aanbid? Die verslag sê: “Die vrou het weggegaan en geëet, en haar gesig het nie meer besorgdheid oor haar situasie getoon nie” (1 Samuel 1:18). The Jerusalem Bible sê hier: “Haar gesig was nie meer hartseer nie.” Hanna was verlig. Sy het as ’t ware die gewig van haar emosionele las oorgedra na skouers wat oneindig breër en sterker was as haar eie, dié van haar hemelse Vader (Psalm 55:22). Is enige probleem te swaar vir hom? Nee—nie toe nie, nie nou nie, nooit nie!
Wanneer ons swaar belaai is, oorweldig voel of baie hartseer is, kan ons gerus Hanna se voorbeeld volg en openhartig met die Een praat wat die Bybel die “Hoorder van die gebed” noem (Psalm 65:2). As ons dit in geloof doen, sal ons ook moontlik vind dat ons hartseer vervang word deur “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”.—Filippense 4:6, 7.
“Daar is geen rots soos ons God nie”
Die volgende oggend het Hanna saam met Elkana na die tabernakel teruggekeer. Sy het hom waarskynlik vertel van haar versoek en haar verpligting, want die Mosaïese Wet het gesê dat ’n man die reg het om ’n gelofte wat sonder sy toestemming deur sy vrou afgelê is, nietig te verklaar (Numeri 30:10-15). Maar daardie getroue man het niks van die aard gedoen nie. Hy en Hanna het Jehovah eerder saam by die tabernakel aanbid voordat hulle teruggekeer het huis toe.
Presies wanneer het Peninna besef dat sy nie meer die vermoë gehad het om Hanna te ontstel nie? Die verslag sê nie, maar die uitdrukking ‘nie meer besorgd oor haar situasie nie’ gee te kenne dat Hanna van toe af baie beter gevoel het. Hoe dit ook al sy, Peninna het gou agtergekom dat haar venynige gedrag geen uitwerking gehad het nie. Die Bybel maak nooit weer van haar melding nie.
Ná verloop van ’n paar maande het Hanna se gemoedsrus verander in onbeteuelde vreugde. Sy was swanger! In haar vreugde het Hanna nie vir ’n oomblik vergeet waar hierdie seëning vandaan kom nie. Toe die seun gebore is, het sy die naam Samuel gekies, wat “Naam van God” beteken en wat klaarblyklik daarna verwys dat ’n mens die goddelike naam aanroep, soos Hanna gedoen het. Daardie jaar het sy nie saam met Elkana en die gesin die reis na Silo afgelê nie. Sy het drie jaar lank saam met die kind by die huis gebly, totdat hy gespeen is. Toe het sy haar gestaal vir die dag waarop sy van haar geliefde seun afskeid sou moes neem.
Die afskeid kon nie maklik gewees het nie. Hanna het natuurlik geweet dat daar goed na Samuel in Silo omgesien sou word, moontlik deur party van die vroue wat by die tabernakel gedien het. Tog was hy so klein, en watter moeder smag nie daarna om by haar kind te wees nie? Nogtans het Hanna en Elkana die seun gebring, nie teësinnig nie, maar in dankbaarheid. Hulle het offerandes gebring by die huis van God, en hulle het Samuel vir Eli aangebied en Eli herinner aan die gelofte wat Hanna jare tevore daar gedoen het.
Toe het Hanna ’n gebed gedoen wat deur God waardig geag is om in sy geïnspireerde Woord op te neem. Wanneer jy haar woorde in 1 Samuel 2:1-10 lees, sal jy vind dat elke reël van die diepte van haar geloof getuig. Sy het Jehovah geloof vir die wonderlike wyse waarop hy sy krag gebruik—vir sy weergalose vermoë om die hoogmoediges te verneder, die onderdruktes te seën en om lewe te beëindig of dit selfs van die dood te red. Sy het haar Vader geloof vir sy ongeëwenaarde heiligheid, sy geregtigheid en sy getrouheid. Hanna kon met goeie rede sê: “Daar is geen rots soos ons God nie.” Jehovah is absoluut betroubaar, onveranderlik en ’n toevlug vir alle onderdruktes en vertraptes wat hulle vir hulp tot hom wend.
Klein Samuel was gewis bevoorreg om ’n moeder te hê wat soveel geloof in Jehovah gehad het. Hoewel hy haar ongetwyfeld gemis het terwyl hy grootgeword het, het hy nooit gevoel dat sy hom vergeet het nie. Jaar ná jaar het Hanna na Silo teruggekeer en vir hom ’n klein moulose oorkleedjie vir sy diens by die tabernakel gebring. Elke stekie het daarvan getuig dat sy haar seun liefhet en besorg is oor hom (1 Samuel 2:19). Ons kan ons net voorstel hoe sy die nuwe oorkleed vir die seun aantrek, dit glad stryk en teer na hom kyk terwyl sy liefdevol met hom praat en hom bemoedig. Samuel was geseënd om so ’n moeder te hê, en toe hy grootgeword het, was hy vir sy ouers en vir die hele Israel ’n seën.
Wat Hanna betref, sy is ook nie vergeet nie. Jehovah het haar met vrugbaarheid geseën, en sy het vir Elkana nog vyf kinders gegee (1 Samuel 2:21). Maar Hanna se grootste seën was moontlik die band tussen haar en haar Vader, Jehovah, wat deur die jare heen al hoe sterker geword het. Mag dieselfde met jou gebeur, terwyl jy Hanna se geloof navolg.
[Voetnote]
a Om te sien waarom God ’n tyd lank veelwywery onder sy volk toegelaat het, sien die artikel “Keur God veelwywery goed?” op bladsy 30 van Die Wagtoring van 1 Julie 2009.
b Hoewel die verslag sê dat Jehovah ‘Hanna se moederskoot toegesluit het’, is daar geen bewys dat God met hierdie nederige en getroue vrou ontevrede was nie (1 Samuel 1:5). Soms skryf die Bybel gebeure aan God toe wat hy bloot ’n tyd lank toegelaat het.
c Die afstand is gegrond op die waarskynlikheid dat Elkana se tuisdorp, Rama, dieselfde plek is wat in Jesus se dag as Arimatea bekend gestaan het.
[Venster op bladsy 17]
Twee merkwaardige gebede
Hanna se twee gebede, soos opgeteken in 1 Samuel 1:11 en 2:1-10, het ’n aantal uitstaande kenmerke. Kom ons kyk na net ’n paar:
◼ Hanna het die eerste van die twee gebede tot “Jehovah van die leërs” gerig. Sy is die eerste persoon in die Bybelverslag wat hierdie titel gebruik het. Dit kom altesaam 285 keer in die Bybel voor en verwys na die feit dat God oor ’n groot menigte geesseuns bevel voer.
◼ Let daarop dat Hanna die tweede gebed gedoen het, nie toe haar seun gebore is nie, maar toe sy en Elkana hom aangebied het vir God se diens by Silo. Hanna se groot vreugde was dus om deur Jehovah geseën te word, nie om haar mededingster, Peninna, se mond te snoer nie.
◼ Toe Hanna gesê het: “My horing is inderdaad verhef in Jehovah”, het sy moontlik die os in gedagte gehad, ’n kragtige pakdier wat sy horings op ’n magtige wyse gebruik. Hanna het in werklikheid gesê: ‘Jehovah, u maak my sterk.’—1 Samuel 2:1.
◼ Hanna se woorde oor God se “gesalfde” word as profeties beskou. Dit is dieselfde woord wat as “messias” weergegee word, en Hanna is die eerste persoon in die Bybelverslag wat dit gebruik het om na ’n toekomstige gesalfde koning te verwys.—1 Samuel 2:10.
◼ Jesus se moeder, Maria, het sowat 1 000 jaar later party van Hanna se gedagtes in haar eie woorde van lof aan Jehovah gebruik.—Lukas 1:46-55.
[Prent op bladsy 16]
Hanna was baie ongelukkig oor haar onvrugbaarheid, en Peninna het alles in haar vermoë gedoen om haar nog erger te laat voel
[Prent op bladsy 16, 17]
Hoewel Eli haar onregverdig veroordeel het, het Hanna nie aanstoot geneem nie
[Prent op bladsy 17]
Kan jy Hanna se voorbeeld navolg deur uit die hart te bid?