Eer diegene met gesag oor julle
“Eer alle soorte mense, wees lief vir die hele gemeenskap van broers, vrees God, eer die koning.”—1 PETRUS 2:17.
1, 2. Hoe beskou mense vandag gesag? Waarom?
“KINDERS het al die regte. Daar’s geen respek vir ouers nie”, kla ’n moeder. “Betwis gesag”, sê ’n bufferplakker. Dit is maar twee maniere waarop ’n situasie wat vandag bestaan, weerspieël word, en jy is ongetwyfeld bewus daarvan. ’n Algemene gebrek aan respek vir ouers, onderwysers, werkgewers en staatsamptenare is regoor die wêreld aan die orde van die dag.
2 Party haal dalk net hulle skouers op en sê: ‘Wel, diegene in gesagsposisies verdien nie my respek nie.’ Soms is dit dalk waar. Ons hoor gereeld van korrupte staatsamptenare, gierige werkgewers, onbevoegde onderwysers en ouers wat hulle kinders mishandel. Gelukkig is daar min Christene wat diegene met gesagsposisies in die gemeente in hierdie selfde lig beskou.—Matteus 24:45-47.
3, 4. Waarom moet Christene respek toon vir diegene in gesagsposisies?
3 As Christene het ons “dwingende rede” om die sekulêre owerhede te respekteer. Die apostel Paulus het Christene vermaan om “onderdanig [te] wees aan die hoër owerhede, want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas” (Romeine 13:1, 2, 5; 1 Petrus 2:13-15). Paulus het ook ’n gegronde rede gegee waarom ons gesag in die gesin moet gehoorsaam: “Vrouens, wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here. Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want dit is welbehaaglik in die Here” (Kolossense 3:18, 20). Gemeentelike ouer manne verdien ons eer omdat ‘die heilige gees hulle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God’ (Handelinge 20:28). Dit is uit respek vir Jehovah dat ons diegene in gesagsposisies eer. Om Jehovah se gesag te eerbiedig, is natuurlik altyd die belangrikste in ons lewe.—Handelinge 5:29.
4 Met Jehovah se oppergesag in gedagte, kom ons kyk na voorbeelde van mense wat nie diegene in gesagsposisies gerespekteer het nie en na party wat dit wel gedoen het.
Oneerbiedigheid lei tot onguns
5. Watter oneerbiedige gesindheid het Migal teenoor Dawid geopenbaar, en waartoe het dit gelei?
5 Uit die geskiedenis van koning Dawid kan ons sien hoe Jehovah diegene beskou wat godgegewe gesag minag. Toe Dawid die verbondsark na Jerusalem laat bring het, het sy vrou Migal ‘gesien hoe koning Dawid huppel en dans voor die aangesig van die HERE; en sy het hom in haar hart verag’. Migal moes Dawid nie net as die gesinshoof erken het nie, maar ook as die koning van die land. Maar sy het met sarkasme haar gevoelens gelug: “Hoe het die koning van Israel homself vandag geëer, dat hy homself vandag voor die oë van die slavinne van sy dienaars ontbloot het soos een van die ligsinnige mense hom somaar ontbloot!” ’n Gevolg hiervan was dat Migal nooit kinders gehad het nie.—2 Samuel 6:14-23.
6. Hoe het Jehovah Korag se gebrek aan respek vir Sy gesalfdes beskou?
6 ’n Uiterste voorbeeld van iemand wat nie die teokratiese leierskap geëerbiedig het wat deur God ingestel is nie, is dié van Korag. As ’n Kehatiet het hy die wonderlike voorreg gehad om Jehovah by die tabernakel te dien! En tog het hy foutgevind met Moses en Aäron, God se gesalfde leiers van die Israeliete. Korag het met ander owerstes van Israel saamgespan en met vermetelheid vir Moses en Aäron gesê: “Die hele vergadering, hulle almal, is heilig; en die HERE is in hulle midde! Waarom verhef julle jul dan oor die vergadering van die HERE?” Hoe het Jehovah die gesindheid van Korag en sy ondersteuners beskou? God het hulle optrede as oneerbiedigheid teenoor Jehovah self beskou. Nadat hulle gesien het hoe almal wat aan hulle kant was deur die aarde verswelg is, is Korag en die 250 owerstes deur ’n vuur van Jehovah af vernietig.—Numeri 16:1-3, 28-35.
7. Het die “uitnemende apostels” enige rede gehad om Paulus se gesag te kritiseer?
7 In die eerste-eeuse Christengemeente was daar persone wat nie teokratiese gesag geëerbiedig het nie. Die “uitnemende apostels” in die gemeente in Korinte het ’n oneerbiedige gesindheid teenoor Paulus gehad. Hulle het sy spraak gekritiseer en gesê: “Sy persoonlike teenwoordigheid is swak en sy spraak veragtelik” (2 Korintiërs 10:10; 11:5). Paulus het respek verdien as ’n apostel, of hy nou ’n uitmuntende spreker was of nie. Maar was Paulus se spraak werklik veragtelik? Sy openbare toesprake wat in die Bybel opgeteken staan, toon watter kragtige spreker hy was. Ná ’n kort bespreking met Herodes Agrippa II, wat ‘baie goed op die hoogte was van al die geskille onder die Jode’, het Paulus met sy redenering die koning beweeg om te sê: “Jy sal my in ’n kort tydjie oorreed om ’n Christen te word”! (Handelinge 13:15-43; 17:22-34; 26:1-28). En tog het die uitnemende apostels in Korinte hom daarvan beskuldig dat sy spraak veragtelik is! Hoe het Jehovah hulle gesindheid beskou? In ’n boodskap aan die opsieners van die gemeente in Efese het Jesus Christus met goedkeuring gepraat van diegene wat nie meegesleep is deur persone ‘wat gesê het dat hulle apostels is, maar dit nie is nie’.—Openbaring 2:2.
Respek ten spyte van onvolmaaktheid
8. Hoe het Dawid getoon dat hy die gesag geëerbiedig het wat Jehovah aan Saul gegee het?
8 Daar is baie voorbeelde in die Bybel van mense wat diegene in gesagsposisies geëer het, selfs wanneer daardie persone hulle gesag misbruik het. Dawid was een van hierdie goeie voorbeelde. Koning Saul, onder wie hy gedien het, het jaloers geraak op Dawid se prestasies en wou hom doodmaak (1 Samuel 18:8-12; 19:9-11; 23:26). Maar al het Dawid geleenthede gehad om Saul dood te maak, het hy gesê: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om my hand teen die gesalfde van Jehovah uit te steek!” (1 Samuel 24:3-6, NW; 26:7-13, NW). Dawid het geweet dat Saul verkeerd opgetree het, maar hy het dit aan Jehovah oorgelaat om hom te oordeel (1 Samuel 24:13, 16; 26:22-24). Hy het Saul nie op ’n oneerbiedige wyse aangespreek of sleg van hom gepraat nie.
9. (a) Hoe het Dawid gevoel terwyl Saul hom sleg behandel het? (b) Hoe weet ons dat Dawid se respek vir Saul opreg was?
9 Was Dawid ontsteld terwyl hy sleg behandel is? “Tiranne soek my lewe”, het Dawid tot Jehovah uitgeroep (Psalm 54:5). Hy het sy hart aan Jehovah uitgestort: “Red my van my vyande, o my God! . . . Sterkes val my aan, sonder oortreding en sonder sonde van my kant, o HERE! Buiten my skuld hardloop hulle en maak hulle klaar. Ontwaak, my tegemoet, en kyk!” (Psalm 59:2-5). Het jy al ooit so gevoel—dat jy iemand in ’n gesagsposisie geen onreg aangedoen het nie, en tog het hy voortdurend die lewe vir jou moeilik gemaak? Dawid het nie opgehou om Saul te respekteer nie. Toe Saul gesterf het, het Dawid nie van vreugde gejuig nie, maar hy het ’n klaaglied gekomponeer: ‘Saul en Jonatan, die bemindes en lieflikes in hulle lewe. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. Dogters van Israel, ween oor Saul’ (2 Samuel 1:23, 24). Wat ’n goeie voorbeeld van opregte respek vir die gesalfde van Jehovah, al het Saul Dawid onreg aangedoen!
10. Watter goeie voorbeeld het Paulus gestel deur die godgegewe gesag van die bestuursliggaam te eerbiedig, en waartoe het dit aanleiding gegee?
10 In die Christelike era vind ons ook uitstekende voorbeelde van diegene wat persone met godgegewe gesag geëer het. Dink byvoorbeeld aan Paulus. Hy het die besluite van die eerste-eeuse bestuursliggaam van die Christengemeente gerespekteer. Gedurende Paulus se laaste besoek aan Jerusalem het die bestuursliggaam hom aangeraai om hom seremonieel te reinig om aan ander te bewys dat hy nie vyandig teenoor die Mosaïese Wet staan nie. Paulus kon geredeneer het: ‘Hierdie broers het my voorheen gevra om Jerusalem te verlaat toe my lewe in gevaar was. Nou wil hulle hê ek moet in die openbaar bewys dat ek die Mosaïese Wet respekteer. Ek het reeds ’n brief aan die Galasiërs geskryf om hulle aan te spoor om nie die Wet te onderhou nie. As ek na die tempel toe gaan, kan ander my optrede verkeerd verstaan en dink dat ek ’n kompromis met die besnede klas aangaan.’ Maar Paulus het klaarblyklik nie so geredeneer nie. Aangesien hy geen Christelike beginsels sou prysgee nie, het hy die raad van die eerste-eeuse bestuursliggaam gerespekteer en daaraan gehoor gegee. Die direkte resultaat was dat Paulus van ’n Joodse oproerige skare gered moes word, en hy het daarna twee jaar in die gevangenis deurgebring. Op die lange duur is God se wil volbring. Paulus het vir hooggeplaaste amptenare in Sesarea getuig en is op staatskoste na Rome geneem om vir die keiser self te getuig.—Handelinge 9:26-30; 21:20-26; 23:11; 24:27; Galasiërs 2:12; 4:9, 10.
Toon jy respek?
11. Hoe kan ons respek vir sekulêre owerhede toon?
11 Toon jy die nodige respek vir diegene in gesagsposisies? Christene word beveel om ‘aan almal te gee wat hulle toekom, aan hom wat eer verlang, sulke eer’. Trouens, ons onderworpenheid aan die “hoër owerhede” sluit nie net in dat ons ons belasting moet betaal nie, maar ook dat ons die owerhede deur ons gedrag en spraak moet eer (Romeine 13:1-7). Hoe tree ons op wanneer ons te doen kry met staatsamptenare wat dalk hardvogtig is? In die staat Chiapas, Mexiko, het die owerheid in een gemeenskap beslag gelê op die plase van 57 gesinne van Jehovah se Getuies omdat hierdie Christene nie aan sekere godsdiensfeeste deelgeneem het nie. By die vergaderinge wat gehou is om die probleem op te los, was die Getuies altyd skoon en netjies geklee en het hulle altyd met waardigheid en respek gepraat. Meer as ’n jaar later is ’n beslissing ten gunste van hulle gegee. Hulle gesindheid het soveel respek by party waarnemers ingeboesem dat hulle ook Jehovah se Getuies wou word!
12. Waarom is dit belangrik dat ’n vrou “diep respek” vir haar ongelowige man het?
12 Hoe kan jy respek toon vir godgegewe gesag in die gesin? Nadat die apostel Petrus die voorbeeld bespreek het van Jesus wat kwaad gely het, het hy gesê: “Vrouens, wees insgelyks onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2; Efesiërs 5:22-24). Petrus het hier beklemtoon hoe belangrik dit vir ’n vrou is om met “diep respek” aan haar man onderdanig te wees, al doen party mans dalk min om daardie respek te verdien. ’n Vrou se eerbiedige gesindheid kan die hart van haar ongelowige man wen.
13. Hoe kan vrouens hulle mans eer?
13 In die konteks van hierdie tekste vestig Petrus ons aandag op die voorbeeld van Sara, wie se man, Abraham, ’n uitstekende voorbeeld van geloof was (Romeine 4:16, 17; Galasiërs 3:6-9; 1 Petrus 3:6). Moet vrouens met gelowige mans enigsins minder eer aan hulle mans gee as vrouens met ongelowige mans? Sê nou jy stem nie saam met jou man oor ’n sekere saak nie? Jesus het raad gegee wat hier in die algemeen toegepas kan word: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Eer jy jou man deur sy wense te respekteer? As dit te moeilik lyk, kan jy vir hom sê hoe jy oor die saak voel. Moenie aanneem dat hy weet hoe jy voel nie. Maar lug jou gevoelens op ’n eerbiedige manier. Die Bybel spoor ons aan: “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen ’n antwoord behoort te gee.”—Kolossense 4:6.
14. Wat behels dit om eer aan ouers te bewys?
14 Wat van kinders? God se Woord gee hierdie opdrag: “Kinders, wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’; wat die eerste gebod met ’n belofte is” (Efesiërs 6:1-3). Let op dat gehoorsaamheid aan jou ouers as sinoniem met ‘eer aan jou vader en jou moeder’ beskou word. Die Griekse woord wat met “eer” vertaal word, het die betekenis van “waardeer” of “’n waarde heg aan”. Om gehoorsaam te wees, vereis dus meer as om teësinnig die reëls van jou ouers te volg wat vir jou dalk onredelik lyk. God verwag van jou om jou ouers hoog te ag en hulle leiding te waardeer.—Spreuke 15:5.
15. Hoe kan kinders hulle ouers nog steeds respekteer al dink hulle dat hulle ouers ’n fout begaan het?
15 Maar sê nou jou ouers doen iets wat jou respek vir hulle laat afneem? Probeer om sake uit hulle oogpunt te sien. Het hulle ‘jou nie verwek’ en vir jou gesorg nie? (Spreuke 23:22). Doen hulle dit nie uit liefde vir jou nie? (Hebreërs 12:7-11). Praat op ’n eerbiedige manier met jou ouers en verduidelik in ’n gees van sagmoedigheid hoe jy voel. Al reageer hulle op ’n manier waarvan jy nie hou nie, moet jy nie op ’n oneerbiedige manier met hulle praat nie (Spreuke 24:29). Onthou hoe Dawid sy respek vir Saul behou het, selfs toe die koning nie meer volgens God se raad gehandel het nie. Vra Jehovah om jou te help om jou gevoelens te verwerk. “Stort julle hart uit voor sy aangesig”, het Dawid gesê. “God is ’n toevlug vir ons.”—Psalm 62:9; Klaagliedere 3:25-27.
Eer diegene wat die leiding neem
16. Wat kan ons uit die voorbeelde van die valse leraars en die engele leer?
16 Gemeentelike ouer manne word deur die heilige gees aangestel, maar hulle is nog steeds onvolmaak en begaan foute (Psalm 130:3; Prediker 7:20; Handelinge 20:28; Jakobus 3:2). Gevolglik kan party in die gemeente dalk ontevrede wees met die ouer manne. Hoe moet ons optree as ons dink dat iets in die gemeente nie heeltemal reg hanteer word nie, of as dit altans so lyk? Kyk na die verskil tussen die eerste-eeuse valse leraars en die engele: “Vermetel, eiesinnig, bewe hulle [valse leraars] nie voor heerlikes nie, maar spreek smadend, terwyl engele, hoewel hulle groter in sterkte en krag is, nie met smadende woorde ’n beskuldiging teen hulle inbring nie, en uit respek vir Jehovah doen hulle dit nie” (2 Petrus 2:10-13). Terwyl die valse leraars smadend gepraat het van “heerlikes”—ouer manne wat gesag in die eerste-eeuse Christengemeente gegee is—het die engele nie smadend gepraat van die valse leraars wat onenigheid onder die broers veroorsaak het nie. Die engele, wat in ’n hoër posisie is en ’n sterker sin vir geregtigheid het as mense, was bewus van wat in die gemeente plaasgevind het. En tog het hulle “uit respek vir Jehovah” die oordeel aan God oorgelaat.—Hebreërs 2:6, 7; Judas 9.
17. Hoe speel vertroue ’n rol wanneer jy met probleme te doen het waar jy meen dat die ouer manne dit mis het?
17 Behoort ons nie geloof in Jesus Christus as die lewende Hoof van die Christengemeente te hê, al word iets nie presies hanteer soos dit gedoen moet word nie? Is hy nie bewus van wat in sy eie wêreldwye gemeente gebeur nie? Moet ons nie die manier respekteer waarop hy die situasie hanteer en sy vermoë erken om sake te beheer nie? Trouens, ‘wie is ons om ons naaste te oordeel?’ (Jakobus 4:12; 1 Korintiërs 11:3; Kolossense 1:18). Waarom vertel jy Jehovah nie in gebed van jou bekommernisse nie?
18, 19. Wat kan jy doen as jy dink dat ’n ouer man ’n fout begaan het?
18 Weens menslike onvolmaaktheid kan moeilikhede of probleme ontstaan. Daar sal dalk selfs tye wees wanneer ’n ouer man ’n fout begaan, wat ontstellend vir party kan wees. As ons onder sulke omstandighede oorhaastig optree, sal dit nie die situasie verander nie. Dit sal dalk net die probleem vererger. Diegene met geestelike onderskeidingsvermoë sal op Jehovah wag om op sy eie tyd en sy eie manier sake reg te stel en die dissipline te gee wat ook al nodig is.—2 Timoteus 3:16; Hebreërs 12:7-11.
19 Sê nou jy voel ontsteld oor ’n sekere kwessie? In plaas van met ander in die gemeente daaroor te praat, kan jy eerder die ouer manne op ’n eerbiedige manier vra om jou te help. Verduidelik hoe die situasie jou raak sonder om krities te wees. Betoon altyd “meegevoel” aan hulle, en behou respek terwyl jy hulle in jou vertroue neem (1 Petrus 3:8). Moenie sarkasties raak nie, maar vertrou op hulle Christelike rypheid. Waardeer enige skriftuurlike aanmoediging wat hulle jou dalk uit liefde gee. En as dit lyk of ander stappe nodig is om dinge reg te stel, moet jy die vertroue hê dat Jehovah die ouer manne sal lei om te doen wat goed en reg is.—Galasiërs 6:10; 2 Tessalonisense 3:13.
20. Wat gaan ons in die volgende artikel bespreek?
20 Maar daar is nog ’n aspek wat ons in ag moet neem met betrekking tot eer en respek vir diegene wat in gesagsposisies is. Moet dié wat in gesagsposisies is nie diegene in hulle sorg respekteer nie? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter goeie rede het ons om diegene in gesagsposisies te eer?
• Hoe beskou Jehovah en Jesus diegene wat nie godgegewe gesag respekteer nie?
• Watter goeie voorbeelde het ons van persone wat diegene met gesag geëer het?
• Wat kan ons doen as dit lyk of iemand met gesag oor ons ’n fout begaan het?
[Prent op bladsy 12]
Sara het diep respek vir Abraham se gesag gehad en was gelukkig
[Prent op bladsy 13]
Migal het nie Dawid se gesag as gesinshoof en koning gerespekteer nie
[Prent op bladsy 15]
“Dit is vir my ondenkbaar . . . om my hand teen die gesalfde van Jehovah uit te steek!”
[Prent op bladsy 16]
Waarom vertel jy Jehovah nie in gebed van jou bekommernisse nie?