Bybelboek nommer 28—Hosea
Skrywer: Hosea
Waar geskryf: Samaria (Distrik)
Geskrif voltooi: Ná 745 v.G.J.
Beskrewe tydperk: Voor 804–ná 745 v.G.J.
1, 2. (a) Wat word die laaste 12 boeke van die Hebreeuse Geskrifte oor die algemeen genoem? (b) Wat is oor Hosea bekend, en oor wie handel sy profesie?
DIE laaste 12 boeke van die Hebreeuse Geskrifte word oor die algemeen “die klein profete” genoem. Die woord “klein” slaan beslis nie op die belangrikheid van die boeke nie, maar op die lengte, want almal saam is nie eers so lank soos Jesaja of Jeremia nie. In die Hebreeuse Bybel is hulle as een volume beskou en “Die Twaalf” genoem. Hulle is waarskynlik met die oog op behoud in een volume versamel, aangesien een rolletjie maklik verlore kon geraak het. Soos in die geval van elkeen van hierdie 12 boeke, is die eerste genoem na sy skrywer, Hosea, wie se naam ’n verkorte vorm van Hosaja is, wat “Gered deur Jah; Jah het gered” beteken.
2 In die boek wat sy naam dra, word daar, benewens die feit dat hy die seun van Beëri was, min oor Hosea onthul. Sy profesieë handel feitlik uitsluitlik oor Israel, want Juda word net terloops gemeld; en terwyl Jerusalem nie deur Hosea gemeld word nie, word Israel se oorheersende stam, Efraim, 37 keer by name genoem en Israel se hoofstad, Samaria, 6 keer.
3. Hoe lank het Hosea geprofeteer, en watter ander profete het gedurende hierdie tydperk gedien?
3 Die eerste vers van die boek vertel ons dat Hosea buitengewoon lank as Jehovah se profeet gedien het, van naby die einde van die regering van Israel se koning Jerobeam II tot die regering van Hiskia van Juda. Dit is nie later nie as 804 v.G.J. tot ná 745 v.G.J., nie minder as 59 jaar nie. Sy dienstyd as profeet het ongetwyfeld enkele jare van die regering van Jerobeam II en van Hiskia ingesluit. Gedurende hierdie tyd was Amos, Jesaja, Miga en Oded ander getroue profete van Jehovah.—Amos 1:1; Jes. 1:1; Miga 1:1; 2 Kron. 28:9.
4. Watter aanhalings en profetiese vervullings staaf die egtheid van Hosea?
4 Die egtheid van die profesie word bevestig deurdat dit ’n aantal kere in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word. Jesus self het Hosea 10:8 aangehaal toe hy oordeel oor Jerusalem uitgespreek het: “Dan sal hulle vir die berge begin sê: Val op ons! en vir die heuwels: Bedek ons!” (Luk. 23:30). Dieselfde gedeelte word deels in Openbaring 6:16 aangehaal. Mattheüs haal Hosea 11:1 aan om die vervulling te toon van die profesie: “Uit Egipte het Ek my Seun geroep” (Matt. 2:15). Hosea se profesie oor die herstel van die hele Israel is daarin vervul dat baie van die tienstammeryk hulle by Juda aangesluit het voor laasgenoemde se gevangenskap en dat hulle nakomelinge onder diegene was wat ná die ballingskap teruggekeer het (Hos. 1:11; 2 Kron. 11:13-17; 30:6-12, 18, 25; Esra 2:70). Sedert Esra se tyd het die boek sy regmatige plek in die Hebreeuse kanon ingeneem as die woord “wat die HERE met Hosea gespreek het”.—Hos. 1:2.
5. Oor watter ontrou het Jehovah Israel gestraf?
5 Waarom het Jehovah Hosea as sy profeet na Israel gestuur? Dit was weens Israel se ontrou en besoedeling met Baälaanbidding, waardeur Jehovah se verbond geskend is. In die Beloofde Land het Israel ’n volk van landbouers geword, maar sodoende het hulle nie net die Kanaäniete se lewenswyse aangeneem nie maar ook hulle godsdiens met sy aanbidding van Baäl, ’n god wat die natuur se voortplantingskragte gesimboliseer het. In Hosea se dag het Israel die aanbidding van Jehovah heeltemal versaak en hulle gewend tot ’n losbandige dronkmanseremonie wat onsedelike omgang met tempelprostitute ingesluit het. Israel het voorspoed aan Baäl toegeskryf. Hulle was dislojaal teenoor Jehovah, hom nie waardig nie, en moes derhalwe gedissiplineer word. Jehovah sou hulle wys dat hulle materiële besittings nie van Baäl kom nie, en daarom het hy Hosea gestuur om Israel te waarsku wat dit sou beteken as hulle nie berou toon nie. Na Jerobeam II gesterf het, het die Israeliete hulle verskriklikste tydperk deurgemaak. ’n Skrikbewind, waartydens ’n aantal heersers vermoor is, het tot met die Assiriese gevangenskap in 740 v.G.J. geheers. Gedurende hierdie tyd het twee partye teen mekaar geveg—die een wou ’n bondgenootskap met Egipte aangaan en die ander met Assirië. Nie een van die twee groepe het op Jehovah vertrou nie.
6. Wat word deur Hosea se skryfstyl onthul?
6 Hosea se skryfstyl onthul baie. Hy is dikwels teer en gevoelvol in sy bewoording en beklemtoon Jehovah se liefderyke goedheid en barmhartigheid herhaaldelik. Hy wei uit oor die geringste teken van berou wat hy sien. Ander kere is sy taal kortaf en impulsief. Wat hy in ritme kortkom, vergoed hy deur krag en gesag. Hy spreek baie sterk gevoel uit en verander vinnig van die een gedagte na die ander.
7. Wat word deur Gomer se ontrou en haar latere terugneming toegelig?
7 Heel aan die begin van sy profetiese loopbaan word Hosea beveel om vir hom “’n hoervrou” te neem (1:2). Jehovah het beslis ’n doel hiermee gehad. Israel was vir Jehovah soos ’n vrou wat ontrou geword en gehoereer het. Hy sou nietemin sy liefde vir haar toon en haar probeer terugwin. Hosea se vrou Gomer kon dit goed toelig. Daar word algemeen aangeneem dat sy na die geboorte van die eerste kind ontrou geword en blykbaar die ander kinders in owerspel gebaar het (2:5-7). Dit word te kenne gegee deur die feit dat die verslag sê dat sy “vir hom [Hosea] ’n seun gebaar” het, maar geensins na die profeet verwys in verband met die geboorte van die ander twee kinders nie (1:3, 6, 8). Volgens hoofstuk 3, verse 1-3, lyk dit of Hosea Gomer teruggeneem het, haar gekoop het asof sy ’n slavin was, en dit kom goed ooreen met hoe Jehovah sy volk teruggeneem het na hulle berou gekry het oor hulle owerspelige weg.
8. Watter name word as ekwivalente in die boek gebruik?
8 Die noordelike tienstammeryk van Israel, tot wie die woorde van Hosea se profesie hoofsaaklik gerig is, het ook bekend gestaan as Efraim, na die naam van die oorheersende stam in die koninkryk. Hierdie name, Israel en Efraim, word as ekwivalente in die boek gebruik.
INHOUD VAN HOSEA
9. Wat dui die name van Gomer se kinders aan oor hoe Jehovah teenoor Israel sou optree?
9 Israel se owerspelige weg toegelig (1:1–3:5). Hosea se “hoervrou” baar vir die profeet ’n seun, Jisreël. Later het sy nog twee kinders, ’n dogter, Lo-Rugama, wat beteken “[Sy is] nie barmhartigheid betoon nie”, en ’n seun, Lo-Ammi, wat beteken “Nie my volk nie”. Jehovah het hierdie twee name gegee om aan te dui dat hy hom “verder nie meer oor die huis van Israel [sal] ontferm” nie en om te benadruk dat hy hulle in die geheel as sy volk verwerp (1:2, 6, 9). Tog sal die kinders van Juda en Israel, as “kinders van die lewende God”, onder een hoof verenig word, “want groot is die dag van Jisreël” (1:10, 11). Gereinig van owerspelige Baälaanbidding sal God se volk na Jehovah terugkeer en hom as hulle eggenoot aanvaar (2:15). Jehovah sal Israel veiligheid gee en sal Hom tot onbepaalde tyd in geregtigheid, in reg, in liefderyke goedheid, in ontferming en in trou met haar verloof. In harmonie met die naam Jisreël (wat “God sal saad saai” beteken) beloof Jehovah: “Ek sal haar vir My saai in die land . . . en aan Lo-Ammi [“die wat nie my volk is nie”, NW] sê: Jy is my volk; en hy sal sê: My God!” (2:22). Soos ’n vrou wat berou het oor haar owerspel sal “Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning”.—3:5.
10. Waartoe sou die nasies se verwerping van kennis lei?
10 Profetiese oordele teen Efraim (en Juda) (4:1–14:10). Die eerste vers van hoofstuk 4 gee die agtergrond van die profetiese waarskuwings wat volg: “Die HERE het ’n regsaak met die inwoners van die land, omdat daar geen trou en geen liefde en geen kennis van God in die land is nie.” Wat sal hierdie toestand tot gevolg hê? “Omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet”, sê Jehovah (4:1, 6). Die gees van hoerery het Israel laat afdwaal. Daar sal met hoeragtige Israel en Juda afgereken word, maar hulle sal Jehovah soek wanneer hulle in “nood” verkeer.—5:15.
11. Hoe pleit Hosea by die volk, maar waarom is dit wee vir hulle?
11 Hosea pleit by die volk: “Laat ons terugkeer tot die HERE; want Hy . . . sal ons verbind.” Jehovah skep meer behae in liefderyke goedheid en goddelike kennis as in offerandes en brandoffers, maar die liefderyke goedheid van Efraim en Juda is “soos ’n dou wat vroeg weer verdwyn” (6:1, 4). Efraim is “soos ’n onnosele duif sonder verstand”. Die volk wend hulle tot Egipte en tot Assirië om hulp eerder as tot Jehovah (7:11). Wee hulle. Waarom? Hulle lê leeg, beraam slegte dinge, oortree Jehovah se verbond en verbreek sy wet. “Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai” (8:7). Jehovah sal hulle dwaling onthou en aan hulle sondes aandag skenk. “Hulle sal rondswerwe onder die nasies” (9:17). Israel is ’n ontaarde wynstok wie se hart skynheilig geword het. In plaas van in geregtigheid saad te saai en in ooreenstemming met liefderyke goedheid te maai, het Israel goddeloosheid ingeploeg en ongeregtigheid gemaai. “Uit Egipte het Ek my seun geroep”, herinner Jehovah hulle (11:1). Ja, Hy het Israel van sy jeug af liefgehad, maar Israel het Hom met leuens en bedrog omsingel. Jehovah vermaan: “Tot jou God moet jy terugkeer, beoefen liefde en reg, en hoop gedurigdeur op jou God.”—12:7.
12. (a) Wat som Hosea in die 13de hoofstuk op? (b) Watter herstel word beloof?
12 In die 13de hoofstuk som Hosea alles op wat vooraf gebeur het met betrekking tot Israel se vroeë belofte en Jehovah se tere sorg, asook Israel se vergeetagtigheid en die nasie se uiteindelike verwerping van Jehovah. Jehovah verklaar: “Ek gee jou ’n koning in my toorn, en Ek neem hom weg in my grimmigheid” (13:11). Maar dan sal daar ’n herstel wees: “Uit die mag van die doderyk sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood. Dood, waar is jou pestilensies? Doderyk, waar is jou verderf?” (13:14). ’n Afgryslike lot wag egter op weerspannige Samaria.
13. Met watter smeekbede sluit die boek Hosea af, en wie sal in Jehovah se weë wandel?
13 Die boek sluit af met die hartroerende smeekbede: ‘Bekeer jou, o Israel, tot Jehovah jou God, want jy het gestruikel deur jou ongeregtigheid. Vra vergifnis en offer die offerdiere van julle lippe daarvoor. Jehovah sal julle barmhartigheid en liefde betoon. Hy sal vir julle soos verfrissende dou word, en julle sal soos die lelie en die olyfboom bloei.’ Die wyse en verstandige sal hierdie dinge verstaan: “Want die weë van die HERE is reg; en die regverdiges sal daarop wandel, maar die oortreders daarop struikel!”—14:2-7, 10.
WAAROM NUTTIG
14. Op watter akkurate vervullings van Hosea se profesie moet daar gelet word?
14 Die boek Hosea versterk geloof in Jehovah se geïnspireerde profesieë. Alles wat Hosea oor Israel en Juda geprofeteer het, het waar gekom. Israel is deur haar minnaars onder die afgodsaanbiddende buurnasies verlaat en het in 740 v.G.J. die warrelwind van vernietiging uit Assirië se hand gemaai (Hos. 8:7-10; 2 Kon. 15:20; 17:3-6, 18). Hosea het egter voorspel dat Jehovah barmhartigheid aan Juda sou betoon en die nasie sou red, maar nie deur militêre mag nie. Dit is vervul toe Jehovah se engel 185 000 van die Assiriërs wat Jerusalem bedreig het, gedood het (Hos. 1:7; 2 Kon. 19:34, 35). Juda was nietemin ingesluit in die oordeel van Hosea 8:14: “Ek [sal] ’n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer”, ’n voorspelling wat ’n verskriklike vervulling gehad het toe Nebukadnesar Juda en Jerusalem, in 609-607 v.G.J., verwoes het (Jer. 34:6, 7; 2 Kron. 36:19). Hosea se talle herstellingsprofesieë is vervul toe Jehovah Juda en Israel vergader het en hulle in 537 v.G.J. ‘opgetrek het uit die land’ van hulle ballingskap.—Hos. 1:10, 11; 2:13-22; 3:5; 11:8-11; 13:14; 14:2-10; Esra 2:1; 3:1-3.
15. Hoe pas skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte aanhalings uit die boek Hosea toe?
15 Dit is ook vir ons vandag uiters nuttig om die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte se verwysings na Hosea se profesie te ondersoek. Paulus pas Hosea 13:14 byvoorbeeld treffend toe waar hy die opstanding bespreek: “Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning?” (1 Kor. 15:55). Ter beklemtoning van Jehovah se onverdiende goedheid wat hy aan voorwerpe van barmhartigheid toon, haal Paulus Hosea 1:10 en 2:22 aan: “Soos Hy ook in Hosea sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie!—daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God” (Rom. 9:25, 26). Petrus parafraseer dieselfde gedeeltes uit Hosea waar hy sê: “Julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.”—1 Pet. 2:10.
16. Watter woorde van Hosea het Jesus herhaal om Jehovah se vereistes vir aanbidding te toon?
16 Hosea se profesie is dus nie net vervul deur die terugkeer van ’n oorblyfsel in Serubbabel se dag nie, maar ook deur Jehovah se barmhartige byeenbrenging van ’n geestelike oorblyfsel wat ‘geliefde kinders van die lewende God’ word. Deur inspirasie het Hosea gesien aan watter vereistes hulle moet voldoen. Dit is nie skynaanbidding wat met vormdiens gepaard gaan nie, maar in die woorde van Hosea 6:6 (wat Jesus in Mattheüs 9:13 en 12:7 herhaal het): “Ek het ’n behae in liefde en nie in offerande nie, en in kennis van God meer as in brandoffers.”
17. (a) Wat moet enigiemand doen wat gestruikel en geestelike owerspel gepleeg het? (b) Watter vreugdevolle Koninkryksbelofte bevat Hosea?
17 Die illustrasie van die owerspelige vrou, wat hom so werklik in Hosea se eie lewe afgespeel het, toon dat Jehovah diegene verafsku wat hom vir afgodery en valse aanbidding verlaat en so geestelike owerspel pleeg. Almal wat in ongeregtigheid gestruikel het, moet in ware berou tot Jehovah terugkeer en ‘die offerdiere van hulle lippe daarvoor offer’ (Hos. 14:3; Hebr. 13:15). Hulle kan hulle saam met die oorblyfsel van die geestelike kinders van Israel verheug oor die vervulling van die Koninkryksbelofte van Hosea 3:5: “Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.”