Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Esra
DIE Bybelboek Esra begin waar Tweede Kronieke eindig. Die skrywer daarvan, Esra die priester, begin die verslag waar koning Kores van Persië ’n verordening uitvaardig wat dit moontlik maak vir ’n oorblyfsel van die Jode wat in ballingskap in Babilon is, om na hulle vaderland terug te keer. Die vertelling eindig waar Esra stappe neem om diegene te reinig wat hulle met die mense van die land verontreinig het. Die boek dek ’n tydperk van altesaam 70 jaar—van 537 tot 467 v.G.J.
Esra skryf die boek met ’n duidelike doel voor oë: om te toon hoe Jehovah Sy belofte nagekom het om Sy volk uit ballingskap in Babilon te bevry en ware aanbidding in Jerusalem te herstel. Gevolglik vestig Esra die aandag uitsluitlik op die gebeure wat met hierdie doel verband hou. Die boek Esra is ’n verslag van hoe die tempel herbou is en hoe Jehovah se aanbidding herstel is ten spyte van teenstand en die onvolmaaktheid van God se volk. Die verslag is vir ons van groot belang omdat ons ook in ’n tyd van herstel lewe. Baie stroom na “die berg van Jehovah”, en die hele aarde sal binnekort “vol wees van die kennis van die heerlikheid van Jehovah”.—Jesaja 2:2, 3; Habakuk 2:14.
DIE TEMPEL WORD HERBOU
In reaksie op Kores se bevrydingsbevel keer byna 50 000 Joodse ballinge na Jerusalem terug onder die leiding van goewerneur Serubbabel, of Sesbassar. Dié wat teruggekeer het, rig onmiddellik die altaar op sy plek op en begin offerandes aan Jehovah bring.
Die volgende jaar lê die Israeliete die fondament van Jehovah se huis. Vyande meng aanhoudend met die herbouwerk in en slaag uiteindelik daarin om ’n koninklike bevel te kry om die werk stop te sit. Die profete Haggai en Sagaria moedig die volk aan om die tempelbouwerk voort te sit ondanks die verbod. Hulle vyande bly op ’n afstand omdat hulle bang is om ’n onveranderlike Persiese bevel teë te staan wat oorspronklik deur Kores uitgevaardig is. Tydens ’n amptelike ondersoek word Kores se bevel “met betrekking tot die huis van God in Jerusalem” gevind (Esra 6:3). Die werk vorder goed en word voltooi.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:3-6—Het die Israeliete wat nie aangebied het om na hulle vaderland terug te keer nie, ’n gebrek aan geloof gehad? Sommige het moontlik nie na Jerusalem teruggekeer nie omdat hulle materialisties was of ’n gebrek aan waardering vir ware aanbidding gehad het, maar dit was nie met almal die geval nie. In die eerste plek het die reis van 1 600 kilometer na Jerusalem vier of vyf maande geduur. Daarbenewens sou dit fisiese stamina verg om in ’n land te gaan bly wat 70 jaar lank woes gelê het en die herbouwerk daar te gaan doen. Ongunstige omstandighede soos swak gesondheid, bejaardheid en gesinsverantwoordelikhede het sommige dus ongetwyfeld verhinder om terug te keer.
2:43—Wie was die Netinim? Hulle was mense van nie-Israelitiese oorsprong wat as tempelslawe of -dienaars gedien het. Onder hulle was die afstammelinge van die Gibeoniete van Josua se dag en ander “wat Dawid en die vorste vir die diens van die Leviete gegee het”.—Esra 8:20.
2:55—Wie was die kinders van die knegte van Salomo? Hulle was nie-Israeliete wat spesiale voorregte in Jehovah se diens gegee is. Hulle het moontlik as kopiïste by die tempel of in die een of ander administratiewe hoedanigheid gedien.
2:61-63—Was die Urim en die Tummim, wat gebruik is wanneer ’n antwoord van Jehovah nodig was, beskikbaar vir die ballinge wat teruggekeer het? Diegene wat beweer het dat hulle van priesterlike afkoms is maar dit nie kon bewys nie, kon die Urim en die Tummim gebruik om hulle bewering te staaf. Esra noem dit net as ’n moontlikheid. Die Skrif bevat geen rekord van die gebruik van die Urim en die Tummim op daardie stadium of daarna nie. Volgens Joodse tradisie het die Urim en die Tummim tydens die vernietiging van die tempel in 607 v.G.J. verdwyn.
3:12—Waarom het “die ou manne wat die vorige huis [van Jehovah] gesien het”, gehuil? Hierdie manne kon onthou hoe luisterryk die tempel was wat Salomo gebou het. In vergelyking daarmee was die fondament van die nuwe tempel wat voor hulle was, “soos niks in [hulle] oë” nie (Haggai 2:2, 3). Sou hulle daarin slaag om die tempel tot sy vorige heerlikheid te herstel? Hulle het ongetwyfeld mismoedig gevoel, en daarom het hulle gehuil.
3:8-10; 4:23, 24; 6:15, 16—Hoeveel jaar het dit geneem om die tempel te herbou? Die fondament van die tempel is in 536 v.G.J.—“in die tweede jaar ná hulle aankoms”—gelê. Die bouwerk het in die dae van koning Artasasta, in 522 v.G.J, tot stilstand gekom. Die verbod was van krag tot 520 v.G.J., die tweede jaar van koning Darius. Die tempel is voltooi in die sesde jaar van sy bewind, of in 515 v.G.J. (Sien die venster “Persiese konings van 537 tot 467 v.G.J.”) Die tempelbouwerk het dus sowat 20 jaar geneem.
4:8–6:18 (4:8, voetnoot in NW)—Waarom is hierdie verse in Aramees geskryf? Hierdie deel bevat meestal afskrifte van briewe van regeringsamptenare aan konings en die antwoorde daarop. Esra het dit oorgeskryf uit openbare dokumente wat geskryf is in Aramees, die amptelike en handelstaal van daardie tyd. Ander dele van die Bybel wat in hierdie eertydse Semitiese taal geskryf is, is Esra 7:12-26, Jeremia 10:11 en Daniël 2:4b–7:28.
Lesse vir ons:
1:2. Wat Jesaja sowat 200 jaar vroeër voorspel het, is bewaarheid (Jesaja 44:28). Profesieë in Jehovah se Woord word altyd vervul.
1:3-6. Net soos sommige Israeliete in Babilon agtergebly het, kan baie Getuies van Jehovah nie die voltydse diens betree of dien waar daar hulp nodig is nie. Nietemin ondersteun en moedig hulle diegene aan wat dit wel kan doen en gee hulle vrywillige bydraes ter bevordering van die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.
3:1-6. In die sewende maand van 537 v.G.J. (Tisjri, wat ooreenstem met September/Oktober) het die getroue teruggekeerde Jode hulle eerste offerande gebring. Die Babiloniërs het Jerusalem in die vyfde maand (Ab, wat ooreenstem met Julie/Augustus) van 607 v.G.J. binnegeval, en twee maande daarna was die stad heeltemal verwoes (2 Konings 25:8-17, 22-26). Soos voorspel is, het Jerusalem se verwoeste toestand van 70 jaar op die bestemde tyd tot ’n einde gekom (Jeremia 25:11; 29:10). Wat Jehovah se Woord ook al voorspel, word altyd bewaarheid.
4:1-3. Die getroue oorblyfsel het ’n aanbod van die hand gewys wat sou beteken het dat hulle ’n godsdiensverbond met valse aanbidders sluit (Eksodus 20:5; 34:12). Jehovah se hedendaagse aanbidders vermy eweneens enige verbintenis met interkerklike bewegings.
5:1-7; 6:1-12. Jehovah kan sake so bewerk dat dit tot voordeel van sy volk strek.
6:14, 22. ’n Ywerige aandeel aan Jehovah se werk bring sy goedkeuring en seën mee.
6:21. Die vordering van Jehovah se werk het Samaritane wat destyds in die Joodse vaderland gewoon het en teruggekeerde Jode wat voor heidense invloede geswig het, beweeg om die nodige veranderinge in hulle lewe aan te bring. Moet ons nie ywerig deelneem aan ons godgegewe werk, wat die Koninkryksverkondigingswerk insluit nie?
ESRA KOM NA JERUSALEM
Vyftig jaar het verloop sedert die herboude huis van Jehovah ingewy is. Die jaar is 468 v.G.J. Esra neem ’n oorblyfsel van God se volk en bydraes saam met hom en gaan van Babilon na Jerusalem. Wat vind hy daar?
Die vorste vertel vir Esra: “Die volk Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie van die volke van die lande afgesonder wat hulle verfoeilike dinge betref nie.” Wat meer is, “die hand van die vorste en die onderheersers was die vernaamste in hierdie ontrouheid” (Esra 9:1, 2). Esra is geskok. Hy word aangemoedig om ‘sterk te wees en op te tree’ (Esra 10:4). Esra neem regstellende stappe, en die volk reageer positief.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
7:1, 7, 11—Verwys al hierdie verse na die Artasasta wat die bouwerk stopgesit het? Nee. Artasasta is ’n naam of titel wat na twee Persiese konings verwys. Die een was óf Bardija óf Gaumata, wat in 522 v.G.J. beveel het dat die tempelwerk stopgesit word. Die Artasasta wat aan bewind was toe Esra na Jerusalem gekom het, is Artasasta Longimanus.
7:28–8:20—Waarom was baie Jode in Babilon teësinnig om saam met Esra na Jerusalem op te gaan? Al het meer as 60 jaar verbygegaan sedert die eerste groep Jode na hulle vaderland teruggekeer het, was Jerusalem nog yl bevolk. Om na Jerusalem terug te keer, het beteken dat hulle ’n nuwe lewe moes begin onder ongerieflike en gevaarlike omstandighede. Jerusalem het in daardie dae nie enige aantreklike materiële vooruitsigte gebied vir Jode wat moontlik in Babilon voorspoedig was nie. Ook moet die gevaarlike reis in ag geneem word. Dié wat wou terugkeer, sou sterk geloof in Jehovah, ywer vir ware aanbidding en moed nodig hê. Selfs Esra het homself versterk volgens die hand van Jehovah oor hom. Weens Esra se aanmoediging het 1 500 gesinne—dalk bykans 6 000 mense—positief gereageer. Nadat Esra bykomende stappe geneem het, het 38 Leviete en 220 Netinim gereageer.
9:1, 2—Hoe ernstig was die bedreiging wat ondertrouery met die mense van die land ingehou het? Die herstelde nasie moes die bewaarder van Jehovah se aanbidding wees totdat die Messias kom. Ondertrouery met ander nasies het ’n ernstige bedreiging vir ware aanbidding ingehou. Omdat party onder die volk huweliksverbintenisse met die afgodsaanbiddende mense aangegaan het, kon dit daartoe gelei het dat die hele volk uiteindelik deel van die heidense nasies word. Ware aanbidding kon van die aarde af verdwyn het. Na wie sou die Messias dan kom? Geen wonder dat Esra verstom was om te sien wat gebeur het nie!
10:3, 44—Waarom is die kinders saam met die vrouens weggestuur? As die kinders agtergebly het, was daar ’n groter moontlikheid dat die vrouens wat weggestuur is, weens hulle kinders sou terugkeer. Bowendien het klein kindertjies gewoonlik die sorg van hulle moeder nodig.
Lesse vir ons:
7:10. Esra het ’n voorbeeld vir ons gestel as ’n ywerige student en bekwame onderrigter van God se Woord. Hy het sy hart biddend voorberei om die Wet van Jehovah te raadpleeg. Terwyl hy dit geraadpleeg het, het Esra noukeurig aandag geskenk aan wat Jehovah daarin sê. Esra het toegepas wat hy geleer het en hom beywer om ander te onderrig.
7:13. Jehovah wil gewillige knegte hê.
7:27, 28; 8:21-23. Esra het Jehovah die eer gegee, het ernstig tot hom gebid voordat hy die lang en gevaarlike reis na Jerusalem aangedurf het en was gewillig om sy eie veiligheid op die spel te plaas ter wille van God se heerlikheid. Hy het dus ’n goeie voorbeeld vir ons gestel.
9:2. Ons moet die vermaning om “net in die Here” te trou, ernstig opneem.—1 Korintiërs 7:39.
9:14, 15. Slegte omgang kan ons Jehovah se misnoeë op die hals haal.
10:2-12, 44. Die mense wat met uitlandse vrouens getrou het, het nederig berou getoon en hulle verkeerde weë reggestel. Hulle gesindheid en optrede was voorbeeldig.
Jehovah kom sy beloftes na
Hoe waardevol is die boek Esra tog vir ons! Jehovah het sy belofte om sy volk uit Babiloniese ballingskap te bevry en ware aanbidding in Jerusalem te herstel, op die bestemde tyd vervul. Versterk dit nie ons geloof in Jehovah en sy beloftes nie?
Dink aan die voorbeelde wat die boek Esra voorsien. Esra en die oorblyfsel wat teruggekeer het om te help met die herstelling van ware aanbidding in Jerusalem, het navolgenswaardige toegewydheid aan God getoon. Hierdie boek beklemtoon ook die geloof van godvresende vreemdelinge en die nederige gesindheid van berouvolle oortreders. Esra se geïnspireerde woorde lewer inderdaad duidelike bewys dat ‘die woord van God lewend is en krag uitoefen’.—Hebreërs 4:12.
[Tabel/Prent op bladsy 18]
PERSIESE KONINGS VAN 537 TOT 467 v.G.J.
Kores die Grote (Esra 1:1) oorlede in 530 v.G.J.
Kambuses, of Ahasveros (Esra 4:6) 530-22 v.G.J.
Artasasta—Bardija of Gaumata (Esra 4:7) 522 v.G.J. (Doodgemaak nadathy net sewe maande regeer het)
Darius I (Esra 4:24) 522-486 v.G.J.
Xerxes, of Ahasverosa 486-75 v.G.J. (Medeheerser met Darius I van 496-86 v.G.J.)
Artasasta Longimanus (Esra 7:1) 475-24 v.G.J.
[Voetnoot]
a Xerxes word nie in die boek Esra genoem nie. Die Bybelboek Ester verwys na hom as Ahasveros.
[Prent]
Ahasveros
[Prent op bladsy 17]
Kores
[Prent op bladsy 17]
Die Kores-silinder het die beleid om gevangenes na hulle vaderland terug te stuur, gemeld
[Erkenning]
Silinder: Photograph taken by courtesy of the British Museum
[Prent op bladsy 20]
Weet jy wat van Esra ’n bekwame onderrigter gemaak het?