Die wonders van die skepping verheerlik Jehovah
JEHOVAH GOD is meer verhewe as wat onvolmaakte mense hulle kan voorstel. Sy skeppingswerke op die aarde en in die hemele bring lof aan hom en vervul ons met ontsag.—Psalm 19:1-4.
As die Skepper en Universele Soewerein verdien Jehovah beslis dat daar geluister word wanneer hy praat. Maar dink net hoe verstom ons sou wees as hy met ons as blote mense hier op aarde sou praat! Gestel hy het met jou gepraat, miskien deur ’n engel. Jy sou sekerlik aandag geskenk het. Die opregte man Job het ongetwyfeld baie aandagtig geluister toe God sowat 3 500 jaar gelede met hom gepraat het. Wat kan ons leer uit God se woorde aan Job oor die aarde en die stoflike hemele?
Wie het die aarde gegrondves en wie oefen beheer uit oor die see?
Uit ’n windstorm vra God Job uit oor die aarde en die see (Job 38:1-11). Geen menslike argitek het besluit hoe groot die aarde moet wees en toe gehelp om dit te maak nie. God vergelyk die aarde met ’n gebou en vra vir Job: “Wie het sy hoeksteen gelê?” Nie die mens nie! God se engeleseuns het toegekyk en hulle verheug terwyl Jehovah hierdie planeet geskep het.
Die see is ’n baba in vergelyking met God, en hy klee dit in figuurlike sin. Dit het “te voorskyn gekom . . . soos toe dit uit die moederskoot losgebreek het”. God stel perke aan die see, asof met grendels en geslote deure, en getye word deur die aantrekkingskrag van die maan en son gereguleer.
The World Book Encyclopedia sê: “Die wind veroorsaak die meeste van die golwe op die see, van klein rimpels tot reusagtige stormgolwe wat meer as 100 voet (30 meter) hoog is. . . . Wanneer die wind gaan lê, beweeg die golwe voort oor die seeoppervlak en kan hulle groot afstande aflê van waar hulle ontstaan het. Hulle word gladder en langer. Uiteindelik bereik die golwe die kuslyn, waar hulle branders vorm en breek.” Die see gehoorsaam God se bevel: “Tot hiertoe mag jy kom, en nie verder nie; en hier word jou trotse golwe begrens.”
Wie laat die dag breek?
God vra Job vervolgens uit oor die uitwerking van lig en ander dinge (Job 38:12-18). Geen mens kan die wisseling van nag en dag beveel nie. Die oggendlig gryp figuurlik gesproke die eindes van die aarde vas en skud die goddeloses af. Sondaars pleeg moontlik onregverdige dade in die “aandskemering” (Job 24:15, 16). Maar die dagbreek verdryf baie kwaaddoeners.
In God se hand is die oggendlig soos ’n stempel waarmee ’n pragtige beeld op die aarde afgedruk word. Sonlig laat baie kleure te voorskyn kom, sodat dit lyk of die aardbol in pragtige klere geklee is. Job het niks hiermee te doen gehad nie en het nie in die waterdiepte rondgeloop om ’n lys van die skatte daarin op te stel nie. In werklikheid het navorsers tot vandag toe net ’n beperkte kennis van die seelewe!
Wie het skatkamers van sneeu en hael?
Geen mens het al lig of duisternis na hulle woonplek vergesel of ingegaan in die skatkamers van sneeu en hael wat God terughou vir “die dag van stryd en oorlog” nie (Job 38:19-23). Toe Jehovah by Gibeon hael teen sy vyande gebruik het, “het meer deur die haelstene gesterf as wat die kinders van Israel met die swaard doodgemaak het” (Josua 10:11). Hy kan haelstene van onbekende grootte gebruik om goddelose mense te vernietig wat deur Gog, of Satan, gelei word.—Esegiël 38:18, 22.
Haelstene so groot soos hoendereiers het in Julie 2002 in die sentrale Henan-provinsie, China, 25 mense gedood en 200 ander beseer. En oor ’n haelstorm in 1545 het die Italiaanse beeldhouer Benvenuto Cellini geskryf: “Ons was ’n dagreis van Lyon af . . . toe die hemele begin dreun het met harde rammelende donderslae. . . . Ná die donderweer het so ’n geweldige en aaklige geluid uit die hemele gekom dat ek gedink het die laaste dag het aangebreek; ek het dus my perd ’n oomblik lank ingehou, terwyl ’n haelbui sonder ’n druppel water begin val het. . . . Die hael het toe so groot soos groot suurlemoene geword. . . . Die storm het ’n tyd lank gewoed, maar uiteindelik was dit verby . . . Ons het vir mekaar ons skrape en kneusplekke gewys; maar omtrent ’n kilometer verder het ons afgekom op ’n toneel van verwoesting wat erger was as wat ons deurgemaak het en wat alle beskrywing te bowe gaan. Al die bome is van hulle blare gestroop en stukkend geslaan; die diere het dood in die veld gelê; talle van die veewagters was ook dood; ons het baie haelstene gesien waarom ’n mens nie jou twee hande sou kon sluit nie.”—Autobiography (Boek II, 50), Harvard Classics, Deel 31, bladsye 352-3.
Wat sal gebeur wanneer Jehovah sy skatkamers van sneeu en hael teen sy vyande oopmaak? Hulle sal dit onmoontlik kan oorleef wanneer sneeu of hael gebruik word om sy wil te volbring.
Wie se handewerk is reën, dou, ryp en ys?
Jehovah vra Job vervolgens uit oor reën, dou, ryp en ys (Job 38:24-30). God is die groot Reënmaker, en selfs “die wildernis waarin daar geen mens is nie”, geniet sy seën. Reën, ys en ryp het nie ’n menslike vader of ontwerper nie.
Die Nature Bulletin sê: “Die vreemdste en moontlik die belangrikste eienskap [van ys] is dat water uitsit wanneer dit vries . . . Die laag ys wat in die winter op ’n dam vorm en dryf, maak dit vir waterplante en -diere (visse, ens.) moontlik om in die water daaronder aan die lewe te bly. As . . . water gekrimp en digter geword het wanneer dit in ’n vaste vorm oorgaan, sou ys swaarder as water gewees het en na die bodem gesink het. Meer ys sou op die oppervlak gevorm het totdat die dam heeltemal gevries was. . . . In die kouer dele van die wêreld sou die riviere, damme, mere en selfs die oseane almal permanent gevries gewees het.”
Hoe dankbaar kan ons tog wees dat watermassas nie heeltemal vries nie! En ons is beslis dankbaar dat reën en dou, as Jehovah se handewerk, die plantegroei van die aarde verfris.
Wie het die insettinge van die hemel vasgestel?
God vra Job hierna uit oor die hemele (Job 38:31-33). Daar word oor die algemeen gemeen dat die Kima-sterrebeeld verwys na die Pleiades, ’n groep van sewe groot sterre en ’n aantal kleineres wat sowat 380 ligjare van die son af is. Die mens kan nie “die bande van die Kima-sterrebeeld vasbind” deur hierdie groep sterre in ’n bondel saam te bind nie. Geen mens kan “die toue van die Kesil-sterrebeeld losmaak” nie, wat blykbaar na die sterrebeeld Orion verwys. Ongeag watter sterrebeelde destyds die Massarot- en Asj-sterrebeelde genoem is, die mens kan hulle nie beheer en rig nie. Die mens kan nie “die insettinge van die hemel”, die wette waardeur die heelal beheer word, verander nie.
God het die wette vasgestel waardeur die hemelliggame gerig word, wat ’n invloed het op die aarde se weer, getye, atmosfeer en wat selfs lewe op hierdie planeet moontlik maak. Dink byvoorbeeld aan die son. The Encyclopedia Americana (uitgawe van 1996) sê daaroor: “Die son se strale voorsien hitte en lig aan die aarde, bevorder plantegroei, laat water uit die oseaan en ander watermassas verdamp, speel ’n rol in die ontstaan van winde en verrig baie ander funksies wat noodsaaklik is vir lewe op aarde.” Dieselfde naslaanwerk sê: “Om te besef watter ontsaglike krag sonlig besit, hoef ’n mens maar net daaraan te dink dat al die krag wat deur die winde en damme en riviere verteenwoordig word en al die krag wat in natuurlike brandstowwe soos hout, steenkool en olie opgesluit is, maar net sonlig is wat geberg word deur ’n klein planeet [die aarde] wat 93 miljoen myl [150 miljoen kilometer] van die son af is.”
Wie het wysheid in die wolke gelê?
Jehovah sê vir Job om aan die wolke te dink (Job 38:34-38). Die mens kan nie ’n enkele wolk beveel om te verskyn en sy water vry te stel nie. Maar hoe afhanklik is die mens tog van die waterkringloop wat die Skepper daargestel het!
Wat is die waterkringloop? ’n Naslaanwerk sê: “Die waterkringloop bestaan uit vier afsonderlike stadiums: berging, verdamping, neerslag en afvloei. Water kan tydelik geberg word in die grond; in oseane, mere en riviere, asook in yskappe en gletsers. Dit verdamp van die aardoppervlak af, kondenseer en vorm wolke, val weer as neerslag (reën of sneeu) op die aarde en vloei uiteindelik tot in die seë of verdamp weer in die atmosfeer. Bykans al die water op die aarde het al tallose kere deur die waterkringloop gegaan.”—Microsoft Encarta Reference Library 2005.
Reënwolke is soos waterkruike van die hemel. Wanneer Jehovah hulle laat kantel, kan hulle soveel reën laat neergiet dat die stof modder word en die kluite aan mekaar kleef. God kan reën voortbring of dit terughou.—Jakobus 5:17, 18.
Saam met reën kom daar dikwels weerlig voor, maar die mens kan dit nie beveel om sy wense te vervul nie. Weerligstrale word uitgebeeld asof hulle by God aanmeld en sê: “Hier is ons!” Compton’s Encyclopedia sê: “Weerlig laat belangrike chemiese veranderinge in die atmosfeer plaasvind. Terwyl ’n straal deur die lug beweeg, wek dit geweldige hitte op wat stikstof en suurstof laat verbind sodat nitrate en ander verbindings gevorm word. Hierdie verbindings val saam met die reën op die aarde. Op hierdie manier kan die atmosfeer voortdurend die voorraad voedingstowwe help aanvul wat die grond nodig het om plante voort te bring.” Die mens se kennis van weerlig is nog steeds beperk, maar nie God s’n nie.
Die wonders van die skepping bring lof aan God
Die wonders van die skepping verheerlik waarlik die Skepper van alle dinge (Openbaring 4:11). Wat ’n indruk moes Jehovah se woorde oor die aarde en hemelliggame tog op Job gemaak het!
Meer vrae en beskrywings oor die wonders van die skepping is onder Job se aandag gebring as dié wat ons so pas bespreek het. En tog beweeg dié wat ons wel bespreek het, ons om uit te roep: “Kyk! God is meer verhewe as wat ons kan weet.”—Job 36:26.
[Foto-erkenning op bladsy 14]
Sneeuvlokkie: snowcrystals.net
[Foto-erkennings op bladsy 15]
Pleiades: NASA, ESA and AURA/Caltech; vis: U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./William W. Hartley