Die oog van ’n arend
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE
SPANJAARDE sê dat iemand met skerp oë so goed soos ’n arend sien (vista de águila). In Afrikaans is daar ’n soortgelyke woord (arendsoë). Die arend se skerp oë is dus met goeie rede al eeue lank spreekwoordelik. Die boek Job, wat meer as drieduisend jaar gelede geskryf is, sê van die arend: “Sy oë bly in die verte kyk.”—Job 39:27, 29.
Hoe ver kan ’n arend in werklikheid sien? “Onder ideale toestande kan ’n goudarend (Aquila chrysaetos) ’n haas van meer as [twee kilometer] af sien as dit selfs net roer”, verduidelik The Guinness Book of Animal Records. Ander skat dat die arend selfs verder kan sien!
Wat stel die arend in staat om so goed te kan sien? Eerstens het die goudarend twee besonder groot oë. Die Book of British Birds sê dat die goudarend se oë “in werklikheid te swaar sou wees en vlug sou belemmer as dit enigsins groter was”.
Daarbenewens het ’n arend se oog ongeveer vyf keer soveel ligsensitiewe selle as wat ons het—sowat 1 000 000 keëltjies per vierkante millimeter in vergelyking met ons 200 000. Feitlik elke ligsensitiewe sel is aan ’n neuron verbind. Gevolglik bevat die arend se optiese senuwee, wat boodskappe van die oog na die brein oordra, twee keer soveel vesels as dié van ’n mens. Geen wonder dat hierdie voëls uitstekende kleurvisie het nie! Laastens het roofvoëls, soos ander voëls, kragtige lense in hulle oë wat hulle in staat stel om hulle fokus in ’n oogwink te verskuif van voorwerpe wat baie naby is na voorwerpe wat baie ver is. Hulle oë is in hierdie opsig ook baie beter as ons s’n.
Die arend se visie is uitstekend gedurende die dag, maar in die nag is dit die uil wat beter kan sien. Hierdie nagtelike roofvoëls het oë met ’n oorvloed ligsensitiewe stafies en ’n groot lensoppervlak. Gevolglik kan hulle in die nag 100 keer beter as ons sien. Maar in seldsame gevalle wanneer dit heeltemal donker is, moet uile geheel en al op hulle skerp gehoor staat maak om prooi op te spoor.
Wie het hierdie voëls sulke vermoëns gegee? God het vir Job gevra: “Is dit op jou bevel dat ’n arend hoog opvlieg?” Dit spreek vanself dat geen mens erkenning kan ontvang vir hierdie skeppingswonder nie. Job het self nederig erken: “Ek het te wete gekom dat u [Jehovah] alles kan doen” (Job 39:27; 42:1, 2). Die oog van die arend getuig net weer eens van die wysheid van ons Skepper.
[Prent op bladsy 24]
Goudarend
[Prent op bladsy 24]
Sneeu-uil