Ons sal in ons onkreukbaarheid wandel!
“Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel.”—PS. 26:11.
1, 2. Wat het Job oor sy onkreukbaarheid gesê, en wat dui Job hoofstuk 31 aan omtrent hom?
IN DIE ou tyd is voorwerpe dikwels op ’n balkskaal geweeg. Dit het gewoonlik bestaan uit ’n horisontale balk, of staaf, wat op ’n pen in die middel daarvan gerus het. Aan elke punt van die staaf het daar ’n bak gehang. Die voorwerp wat geweeg is, is in die een bak gesit en ’n gewig in die ander. God se volk moes ’n eerlike weegskaal en gewigte gebruik.—Spr. 11:1.
2 Toe die godvresende man Job weens Satan se aanval gely het, het hy gesê: “[Jehovah sal] my op ’n akkurate weegskaal weeg, en God sal my onkreukbaarheid te wete kom” (Job 31:6). Job het toe ’n aantal situasies genoem wat ’n handhawer van onkreukbaarheid op die proef kan stel. Maar Job het die toets met welslae deurstaan, soos sy woorde in Job hoofstuk 31 aandui. Sy goeie voorbeeld beweeg ons heel moontlik om ook so op te tree en met oortuiging soos die psalmis Dawid te sê: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel.”—Ps. 26:11.
3. Waarom is dit belangrik om in groot sowel as klein sake aan God getrou te bly?
3 Al is Job swaar beproef, het hy aan God getrou gebly. Party sê dalk selfs dat dit uitsonderlik was dat Job ondanks sy swaar beproewinge sy onkreukbaarheid getrou gehandhaaf het. Ons ly nie presies soos Job nie. Maar ons moet in groot en klein sake aan God getrou wees as ons wil toon dat ons ons onkreukbaarheid handhaaf en sy soewereiniteit ondersteun.—Lees Lukas 16:10.
Sedelike onkreukbaarheid is noodsaaklik
4, 5. Watter gedrag het Job as ’n handhawer van onkreukbaarheid vermy?
4 As ons ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah wil handhaaf, moet ons by sy sedelike standaarde bly, net soos Job. Hy het gesê: “’n Verbond het ek met my oë gesluit. Hoe sou ek dan kon ag gee op ’n maagd? . . . As my hart oor ’n vrou verlok was, en ek by die ingang van my metgesel op die loer bly lê het, laat my vrou dan vir ’n ander man maal, en laat ander manne oor haar neerkniel.”—Job 31:1, 9, 10.
5 Job was vasbeslote om onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, en daarom het hy nie met wellus na ’n vrou gekyk nie. As ’n getroude man het hy nie met ’n ongetroude vrou geflankeer of met romantiese beweegredes aan ’n ander man se vrou aandag gegee nie. In die Bergpredikasie het Jesus iets treffends oor geslagsedelikheid gesê—iets wat handhawers van onkreukbaarheid beslis in gedagte moet hou.—Lees Matteus 5:27, 28.
Moet nooit slinkse metodes gebruik nie
6, 7. (a) Wat gebruik God om ons onkreukbaarheid te meet, soos in die geval van Job? (b) Waarom moet ons nie slinks of bedrieglik wees nie?
6 As ons onder handhawers van onkreukbaarheid gereken wil word, kan ons nie slinkse metodes gebruik nie. (Lees Spreuke 3:31-33.) Job het gesê: “As ek met manne van onwaarheid gewandel het en my voet hom na bedrog haas, sal hy [Jehovah] my op ’n akkurate weegskaal weeg, en God sal my onkreukbaarheid te wete kom” (Job 31:5, 6). Jehovah weeg die hele mensdom op “’n akkurate weegskaal”. Soos in Job se geval gebruik God sy volmaakte standaard van geregtigheid om ons onkreukbaarheid as sy toegewyde knegte te meet.
7 As ons slinks of bedrieglik sou word, sou ons nie ons onkreukbaarheid teenoor God handhaaf nie. Handhawers van onkreukbaarheid het “afstand gedoen van die agterbakse dinge waaroor ’n mens jou moet skaam en wandel nie met listigheid nie” (2 Kor. 4:1, 2). Maar sê nou ons het iets slinks gesê of gedoen wat veroorsaak het dat ’n medegelowige God om hulp smeek? Dan sal ons aan die kortste ent trek! “Ek het Jehovah in my benoudheid aangeroep, en hy het my geantwoord”, het die psalmis gesing. “O Jehovah, verlos tog my siel van valse lippe, van die bedrieglike tong” (Ps. 120:1, 2). Dit is goed om te onthou dat God tot in ons diepste wese kan kyk en ‘die hart en niere toets’ om vas te stel of ons ware handhawers van onkreukbaarheid is.—Ps. 7:8, 9.
Wees voorbeeldig in jou handelinge met ander
8. Hoe het Job ander behandel?
8 Om ons onkreukbaarheid te handhaaf, moet ons soos Job wees, wat regverdig, nederig en bedagsaam teenoor ander was. Hy het gesê: “As ek die reg geweier het van my slaaf of van my slavin wanneer hulle ’n regsaak met my gehad het, wat kan ek dan doen wanneer God opstaan? En wanneer hy rekenskap eis, wat kan ek hom antwoord? Het die Een wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie, en het nie net Een ons in die moederskoot berei nie?”—Job 31:13-15.
9. Watter eienskappe het Job in sy handelinge met sy knegte aan die dag gelê, en hoe moet ons in hierdie verband optree?
9 In Job se dag was daar klaarblyklik nie ’n ingewikkelde prosedure om regsake te behartig nie. Sake is op ’n ordelike manier verhoor, en selfs slawe kon hulle tot die hof wend. Job was regverdig en barmhartig in sy handelinge met sy knegte. As ons in ons onkreukbaarheid wil wandel, moet ons hierdie eienskappe aan die dag lê, veral as ons as ouer manne in die Christengemeente dien.
Wees vrygewig, nie hebsugtig nie
10, 11. (a) Hoe weet ons dat Job vrygewig en hulpvaardig was? (b) Aan watter latere skriftuurlike raad herinner Job 31:16-25 ons moontlik?
10 Job was vrygewig en hulpvaardig, nie selfsugtig en hebsugtig nie. Hy het gesê: “As . . . ek die oë van die weduwee laat ingee het, en ek my stukkie alleen geëet het, terwyl die vaderlose seun nie daarvan geëet het nie . . . As ek iemand sien omkom het omdat hy geen kleed het nie . . . As ek my hand heen en weer beweeg het teen die vaderlose seun, wanneer ek gesien het dat my hulp in die poort nodig is, laat my skouerblad dan van sy skouer afval, en laat my arm van sy boarmbeen afgebreek word.” En Job sou nie sy onkreukbaarheid gehandhaaf het as hy vir goud gesê het: “Jy is my vertroue!” nie.—Job 31:16-25.
11 Hierdie digterlike uitdrukkings herinner ons dalk aan die volgende woorde van die dissipel Jakobus: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar” (Jak. 1:27). Ons onthou dalk ook Jesus se waarskuwing: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.” Jesus het toe ’n illustrasie vertel van ’n hebsugtige ryk man wat gesterf het as iemand wat “nie ryk is teenoor God nie” (Luk. 12:15-21). As ons onkreukbaarheid wil handhaaf, moet ons nie toegee aan sondige hebsug of gierigheid nie. Hebsug is afgodediens omdat die voorwerp van ’n gierige persoon se begeerte sy aandag van Jehovah aftrek en dus ’n afgod word (Kol. 3:5). Onkreukbaarheid en gierigheid gaan nie saam nie!
Hou vas aan ware aanbidding
12, 13. Watter voorbeeld het Job daarin gestel om afgodediens te vermy?
12 Handhawers van onkreukbaarheid wyk nie af van ware aanbidding nie. Job het nie, want hy het gesê: “As ek die lig gesien het wanneer dit begin straal, of die kosbare maan wat voortbeweeg, en my hart in die geheim verlok is en my hand my mond gesoen het, sou ook dit ’n oortreding vir die aandag van die regters wees, want ek sou die ware God daar bo verloën het.”—Job 31:26-28.
13 Job het nie lewelose dinge aanbid nie. As sy hart in die geheim verlok is wanneer hy hemelliggame, soos die maan, gesien het, en as sy ‘hand sy mond gesoen het’, moontlik deurdat hy met sy hand ’n soen gegooi het as ’n daad van afgodediens, sou hy ’n afgodedienaar gewees het wat God verloën het (Deut. 4:15, 19). Om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, moet ons enige afgodediens vermy.—Lees 1 Johannes 5:21.
Moenie wraaksugtig of skynheilig wees nie
14. Waarom kan ons sê dat Job nie kwaadwillig was nie?
14 Job was nie kwaadwillig of wreed nie. Hy het geweet dat hierdie eienskappe ’n gebrek aan onkreukbaarheid sou aandui, want hy het gesê: “As ek bly was oor die ondergang van iemand wat my intens haat, of ek opgewonde was omdat kwaad hom getref het . . . het [ek] my verhemelte nie toegelaat om te sondig deur ’n vloek teen sy siel te vra nie.”—Job 31:29, 30.
15. Waarom is dit verkeerd om bly te wees wanneer rampspoed iemand tref wat ons haat?
15 Die regskape man Job was nooit bly as rampspoed iemand getref het wat hom haat nie. ’n Latere spreuk waarsku: “Wanneer jou vyand val, moet jy jou nie verbly nie; en wanneer hy struikel, laat jou hart dan nie bly wees nie, sodat Jehovah dit nie sien en dit sleg is in sy oë en hy beslis sy toorn van hom afwend nie” (Spr. 24:17, 18). Aangesien Jehovah die hart kan lees, weet hy as ons in die geheim bly is oor iemand anders se rampspoed, en hy keur beslis nie so ’n gesindheid goed nie (Spr. 17:5). God sal ons moontlik dienooreenkomstig behandel, want hy sê: “Die wraak is myne, en die vergelding.”—Deut. 32:35.
16. Hoe kan ons gasvry wees, al is ons nie ryk nie?
16 Job was gasvry (Job 31:31, 32). Al is ons miskien nie ryk nie, kan ons “die weg van gasvryheid” volg (Rom. 12:13). Ons kan ’n eenvoudige maaltyd met ander deel, want ons weet: “’n Bak groente waar daar liefde is, is beter as ’n vetgemaakte bul en haat daarby” (Spr. 15:17). As ons in ’n liefdevolle atmosfeer saam met iemand eet wat ook onkreukbaarheid handhaaf, sal dit selfs ’n eenvoudige maaltyd aangenaam maak en ons beslis geestelik tot voordeel strek.
17. Waarom moet ons ernstige sonde nie probeer wegsteek nie?
17 Dit was ongetwyfeld geestelik opbouend om Job se gasvryheid te geniet, want hy was nie skynheilig nie. Hy was nie soos die goddelose mense wat in die eerste-eeuse gemeente ingeglip en “ter wille van hulle eie voordeel persoonlikhede bewonder” het nie (Jud. 3, 4, 16). Job het ook nie sy oortreding bedek of dit ‘in sy hempsak weggesteek’ uit vrees dat ander hom sou verag as hulle daarvan te hore kom nie. Hy was bereid om ondersoek te word deur God, aan wie hy sou bely indien nodig (Job 31:33-37). As ons ernstig sondig, moet ons nie ons oortreding probeer wegsteek om ons aansien te red nie. Hoe kan ons toon dat ons onkreukbaarheid probeer handhaaf? Deur ons fout te erken, berou te toon, geestelike hulp te soek en alles moontlik te doen om sake reg te stel.—Spr. 28:13; Jak. 5:13-15.
’n Handhawer van onkreukbaarheid word verhoor
18, 19. (a) Waarom kan daar gesê word dat Job nooit iemand uitgebuit het nie? (b) Wat was Job bereid om te doen as hy verkeerd was?
18 Job was eerlik en billik. Daarom kon hy sê: “As my grond teen my om hulp sou roep, en sy vore saam sou huil; as ek sy opbrengs sonder geld geëet het, en ek die siel van sy eienaars laat hyg het, laat dan die doringrige onkruid in plaas van koring uitspruit, en stink onkruid in plaas van gars” (Job 31:38-40). Job het nooit ander se grond onregmatig in besit geneem nie, en hy het nie sy werkers uitgebuit nie. Ons moet net soos Job in groot en klein sake ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah handhaaf.
19 Job het voor sy drie metgeselle sowel as die jong man Elihu gepraat oor die manier waarop hy gelewe het. Job het ’n teenstander in die regsaak genooi om beskuldigings in te bring teen sy lewenslange rekord waarop sy “handtekening” was. As daar bewys sou word dat Job verkeerd is, sou hy bereid wees om die straf te verduur. Hy het dus sy saak voorgelê en op die beslissing van die goddelike hof gewag. So het ‘die woorde van Job tot ’n einde gekom’.—Job 31:35, 40.
Jy kan onkreukbaarheid handhaaf
20, 21. (a) Waarom kon Job onkreukbaarheid handhaaf? (b) Hoe kan ons liefde vir God aankweek?
20 Job kon sy onkreukbaarheid handhaaf omdat hy God liefgehad het en Jehovah hom liefgehad en gehelp het. Job het gesê: “Lewe en liefderyke goedhartigheid het u [Jehovah] vir my bewerk; en u sorg het my gees bewaak” (Job 10:12). Wat meer is, Job het liefde aan ander betoon omdat hy besef het dat iemand wat lojale liefde van sy medemens weerhou, die eerbiedige vrees van die Almagtige sal laat vaar (Job 6:14). Handhawers van onkreukbaarheid is lief vir God en hulle naaste.—Matt. 22:37-40.
21 Ons kan liefde vir God aankweek deur sy Woord elke dag te lees en te peins oor wat dit omtrent hom openbaar. Ons kan Jehovah in hartgrondige gebed loof en hom dank vir sy goedheid teenoor ons (Fil. 4:6, 7). Ons kan vir Jehovah sing en by gereelde omgang met sy volk baat vind (Heb. 10:23-25). Ons liefde vir God sal ook toeneem terwyl ons aan die bediening deelneem en “die goeie nuus van redding deur hom” verkondig (Ps. 96:1-3). Op hierdie maniere kan ons onkreukbaarheid handhaaf, soos die psalmis wat gesing het: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel.”—Ps. 73:28.
22, 23. Hoe vergelyk ons bedrywighede as ondersteuners van Jehovah se soewereiniteit met dié van vroeëre handhawers van onkreukbaarheid?
22 Deur die eeue heen het Jehovah handhawers van onkreukbaarheid talle verskillende toewysings gegee. Noag het ’n ark gebou en was “’n prediker van regverdigheid” (2 Pet. 2:5). Josua het die Israeliete in die Beloofde Land ingelei, maar hy kon dit net doen omdat hy die “wetboek . . . dag en nag” gelees het en in ooreenstemming daarmee opgetree het (Jos. 1:7, 8). Eerste-eeuse Christene het dissipels gemaak en gereeld vergader om die Skrif te bestudeer.—Matt. 28:19, 20.
23 Ons ondersteun Jehovah se soewereiniteit en handhaaf ons onkreukbaarheid deur regverdigheid te verkondig, dissipels te maak, skriftuurlike raad toe te pas en vergaderinge en byeenkomste saam met medegelowiges by te woon. Hierdie bedrywighede help ons om moedig en geestelik sterk te wees en met welslae God se wil te doen. Dit is nie vir ons te moeilik nie, want ons hemelse Vader en sy Seun ondersteun ons (Deut. 30:11-14; 1 Kon. 8:57). Daarbenewens het ons die steun van “die hele gemeenskap van broers”, wat ook in onkreukbaarheid wandel en Jehovah as hulle Soewereine Heer vereer.—1 Pet. 2:17.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe moet ons Jehovah se sedelike standaarde beskou?
• Watter eienskappe van Job is vir jou die aantreklikste?
• Hoe het Job hom volgens Job 31:29-37 gedra?
• Waarom is dit vir ons moontlik om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf?
[Prent op bladsy 29]
Job het sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf. Ons kan ook!
[Prent op bladsy 32]
Ons kan ons onkreukbaarheid handhaaf!