Die skepping maak die heerlikheid van God bekend!
“Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.”—PSALM 19:1.
1, 2. (a) Waarom kan mense God se heerlikheid nie direk aanskou nie? (b) Hoe gee die 24 ouderlinge heerlikheid aan God?
“JY KAN my aangesig nie sien nie, want geen mens kan my sien en nogtans lewe nie” (Eksodus 33:20). Dit was Jehovah se waarskuwing aan Moses. Omdat mense maar net vlees is, kan hulle God se heerlikheid nie direk aanskou en bly lewe nie. Maar die apostel Johannes het ’n skouspelagtige visioen van Jehovah op Sy glorieryke troon gesien.—Openbaring 4:1-3.
2 In teenstelling met mense kan lojale geesskepsele Jehovah van aangesig tot aangesig sien. Onder hulle is die “vier-en-twintig ouderlinge” in Johannes se hemelse visioen, wat die 144 000 verteenwoordig (Openbaring 4:4; 14:1-3). Wat is hulle reaksie wanneer hulle God se heerlikheid aanskou? Volgens Openbaring 4:11 roep hulle uit: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en weens u wil het hulle bestaan en is hulle geskep.”
Waarom “onverskoonbaar”
3, 4. (a) Waarom is geloof in God nie onwetenskaplik nie? (b) Wat is in party gevalle die rede waarom geloof in God verwerp word?
3 Wil jy graag aan God heerlikheid gee? Die meeste mense wil nie, en party weier selfs om te erken dat God bestaan. Een sterrekundige het byvoorbeeld geskryf: “Was dit God wat ingetree en die kosmos op so ’n wonderbaarlike wyse tot ons voordeel ontwerp het? . . . ’n Opwindende gedagte. Ongelukkig glo ek dat dit ’n illusie is. . . . God is nie ’n verklaring hiervoor nie.”
4 Wetenskaplike navorsing is beperk tot wat mense werklik kan waarneem of bestudeer. Andersins is dit blote teorie of gissings. Aangesien ‘God ’n Gees is’, kan hy eenvoudig nie onderwerp word aan ’n regstreekse wetenskaplike ondersoek nie (Johannes 4:24). Dit is derhalwe vermetel om geloof in God as onwetenskaplik af te maak. Vincent Wigglesworth, ’n wetenskaplike aan die Universiteit van Cambridge, het gesê dat die wetenskaplike metode op sigself “’n godsdienstige benadering” is. Hoe so? “Dit berus op ’n onvoorwaardelike geloof dat natuurverskynsels die ‘wette van die natuur’ gehoorsaam.” Verruil iemand wat geloof in God verwerp, dan nie maar net een soort geloof vir ’n ander nie? In party gevalle lyk ongeloof na ’n doelbewuste weiering om die waarheid te aanvaar. Die psalmis het geskryf: “Die goddelose stel in sy verwaandheid geen ondersoek in nie; al sy idees is: ‘Daar is geen God nie.’”—Psalm 10:4.
5. Waarom is ’n gebrek aan geloof in God onverskoonbaar?
5 Geloof in God is egter nie blinde geloof nie, want daar is oorweldigende bewyse van God se bestaan (Hebreërs 11:1). Die sterrekundige Allan Sandage het gesê: “Dit is vir my hoogs onwaarskynlik dat sulke orde [in die heelal] uit chaos kon voortkom. Hierdie organisasie moes die een of ander bron hê. God is vir my ’n verborgenheid, maar hy is die verklaring vir die wonderwerk van bestaan, waarom daar iets in plaas van niks is.” Die apostel Paulus het vir Christene in Rome gesê dat God se “onsigbare eienskappe . . . van die wêreld se skepping af duidelik gesien [word], omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle [ongelowiges] onverskoonbaar is” (Romeine 1:20). Sedert “die wêreld se skepping”—veral sedert die skepping van intelligente menseskepsele wat God se bestaan kan waarneem—is dit duidelik dat daar ’n Skepper met onmeetlike krag is, ’n God wat toegewydheid verdien. Diegene wat God se heerlikheid nie erken nie, is gevolglik onverskoonbaar. Maar watter bewyse voorsien die skepping?
Die heelal maak God se heerlikheid bekend
6, 7. (a) Hoe maak die hemele die heerlikheid van God bekend? (b) Met watter doel het die hemele ‘meetsnoere’ uitgestuur?
6 Psalm 19:1 antwoord deur te sê: “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande.” Dawid het besef dat die sterre en die planete wat deur “die uitspansel”, of atmosfeer, geskyn het, onweerlegbare bewyse voorsien van die bestaan van ’n glorieryke God. Hy sê verder: “Die een dag na die ander dag laat spraak uitborrel, en die een nag na die ander nag openbaar kennis” (Psalm 19:2). Dag na dag en nag na nag lewer die hemele bewys van God se wysheid en skeppingskrag. Dit is asof spraak tot lof van God uit die hemele “uitborrel”.
7 Maar dit verg onderskeidingsvermoë om hierdie getuienis te hoor. “Daar is geen spraak en daar is geen woorde nie; geen stem van hulle kant word gehoor nie.” En tog is die hemele se stille getuienis kragtig. “Oor die hele aarde het hulle meetsnoer uitgegaan, en hulle woorde tot aan die einde van die vrugbare land” (Psalm 19:3, 4). Dit is asof die hemele ‘meetsnoere’ uitgestuur het om seker te maak dat hulle stille getuienis elke uithoek van die aarde bereik.
8, 9. Wat is ’n paar uitsonderlike feite omtrent die son?
8 Dawid beskryf vervolgens nog ’n wonder van Jehovah se skepping: “In hulle [die sigbare hemele] het hy ’n tent vir die son geplaas, en dié is soos ’n bruidegom wanneer hy uit sy bruidskamer kom; hy verheug hom net soos ’n sterk man wanneer hy op ’n pad hardloop. Van die een einde van die hemel is sy uitgang, en sy voltooide kring reik tot aan die ander eindes daarvan; en niks is verborge vir sy hitte nie.”—Psalm 19:4-6.
9 In vergelyking met ander sterre is die son maar van middelmatige grootte. En tog is dit ’n merkwaardige ster, wat die planete wat daarom wentel, baie klein laat lyk. Een bron sê dat dit ’n massa het van “2 miljard maal miljard maal miljard ton”—99,9 persent van die massa van ons sonnestelsel! Die aantrekkingskrag daarvan laat die aarde op ’n afstand van 150 miljoen kilometer daarom wentel sonder om weg te dryf of ingetrek te word. Net omtrent ’n halwe miljardste van die son se energie bereik ons planeet, maar dit is genoeg om lewe te onderhou.
10. (a) Hoe gaan die son in sy “tent” in en kom hy weer daaruit te voorskyn? (b) Hoe hardloop hy soos “’n sterk man”?
10 Die psalmis gebruik beeldspraak wanneer hy die son beskryf as “’n sterk man” wat gedurende die dag van een horison na die ander hardloop en snags in “’n tent” rus. Wanneer daardie magtige ster agter die horison verdwyn, lyk dit van die aarde af asof die son in “’n tent” ingaan, as ’t ware om te rus. In die oggend lyk dit of hy skielik te voorskyn kom, met ’n stralende glans “soos ’n bruidegom wanneer hy uit sy bruidskamer kom”. As ’n herder het Dawid geweet hoe verskriklik koud die nag kan wees (Genesis 31:40). Hy het onthou hoe die son se strale hom en die landskap om hom vinnig warm gemaak het. Die son was beslis nie moeg ná sy “reis” van die ooste na die weste nie, maar was soos “’n sterk man”, gereed om weer die reis aan te pak.
Die ontsagwekkende sterre en sterrestelsels
11, 12. (a) Wat is merkwaardig omtrent die feit dat die Bybel sterre met sandkorrels vergelyk? (b) Hoe groot is die heelal waarskynlik?
11 Sonder ’n teleskoop kon Dawid net ’n paar duisend sterre sien. Maar volgens ’n onlangse studie is die aantal sterre in die heelal wat met moderne teleskope gesien kan word, 70 000 triljoen—7 gevolg deur 22 nulle! Jehovah het aangedui dat ontsaglike getalle ter sprake was toe hy die aantal sterre vergelyk het met “die sandkorrels wat aan die seestrand is”.—Genesis 22:17.
12 Sterrekundiges het jare lank iets waargeneem wat beskryf is as “klein, glimmende kolle met ’n newelagtige, dynserige voorkoms”. Wetenskaplikes het aangeneem dat hierdie “spiraalvormige newelvlekke” deel van ons Melkwegstelsel is. In 1924 is daar ontdek dat die naaste newelvlek, Andromeda, in werklikheid self ’n sterrestelsel is—ongeveer tweemiljoen ligjare van ons af! Wetenskaplikes skat nou dat daar miljarde sterrestelsels is, wat elk duisende—selfs miljarde—sterre bevat. En tog “bepaal [Jehovah] die getal van die sterre; hy noem hulle almal by hulle name”.—Psalm 147:4.
13. (a) Wat is merkwaardig omtrent die sterrebeelde? (b) Wat toon duidelik dat wetenskaplikes nie “die insettinge van die hemel” ken nie?
13 Jehovah het Job gevra: “Kan jy die bande van die Kima-sterrebeeld vasbind, of kan jy die toue van die Kesil-sterrebeeld losmaak?” (Job 38:31). ’n Sterrebeeld is ’n aantal sterre wat lyk of dit ’n bepaalde patroon vorm. Hoewel die sterre baie ver van mekaar af kan wees, lyk dit van die aarde af of hulle relatiewe posisies konstant bly. Omdat hulle posisies so presies is, is die sterre “nuttige gidse in navigasie, vir ruimtevaarders om ruimtetuie te oriënteer en om sterre te identifiseer” (The Encyclopedia Americana). Tog kan niemand ten volle verstaan watter “bande” die sterrebeelde bymekaar hou nie. Ja, wetenskaplikes kan nog steeds nie die vraag beantwoord wat in Job 38:33 geopper is nie: “Het jy die insettinge van die hemel te wete gekom?”
14. In watter opsig is die verdeling van lig ’n verborgenheid?
14 Daar is ook ’n ander vraag wat aan Job gestel is, wat wetenskaplikes nie kan beantwoord nie: “Waar is tog die weg waarlangs die lig hom verdeel?” (Job 38:24). Een skrywer het hierdie vraag oor lig “’n uiters moderne wetenskaplike vraag” genoem. In teenstelling hiermee het party Griekse filosowe geglo dat lig uit die menseoog voortkom. In onlangser tye het wetenskaplikes gedink dat lig uit klein deeltjies bestaan. Ander was van mening dat dit in golwe beweeg. Vandag glo wetenskaplikes dat lig as deeltjies sowel as in golwe beweeg. Nietemin is dit nog nie duidelik wat die aard van lig is en hoe dit “verdeel” nie.
15. Met watter gevoelens van Dawid stem ons saam wanneer ons na die hemele kyk?
15 Wanneer ’n mens oor dit alles nadink, kan jy nie anders nie as om soos die psalmis Dawid te voel, wat gesê het: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?”—Psalm 8:3, 4.
Die aarde en sy skepsele verheerlik Jehovah
16, 17. Hoe loof skepsele in die “waterdieptes” Jehovah?
16 Psalm 148 noem ander maniere waarop die skepping God se heerlikheid bekend maak. Vers 7 sê: “Loof Jehovah van die aarde af, seemonsters en alle waterdieptes.” Ja, die “waterdieptes” is vol wonders wat God se wysheid en krag openbaar. Die blouwalvis weeg gemiddeld 120 ton—soveel as 30 olifante! Sy hart alleen weeg meer as 450 kilogram en kan omtrent 6 400 kilogram bloed deur sy liggaam pomp! Is hierdie reusagtige seemonsters stadig en lomp in die water? Glad nie. Hulle “beweeg verstommend vinnig deur die oseane”, sê ’n verslag deur die Europese Veldtog teen die Byvangs van Walvisagtiges. Satellietopsporing het getoon dat “een dier binne 10 maande meer as 16 000 kilometer gemigreer het”.
17 Die bottelneusdolfyn duik gewoonlik tot 45 meter diep, maar daar is ’n opgetekende geval van ’n dolfyn wat 547 meter diep geduik het! Hoe oorleef hierdie soogdier so ’n duik? Sy hart klop stadiger wanneer hy duik, en bloed word na die hart, longe en brein herlei. Ook bevat sy spiere ’n chemiese middel wat suurstof berg. See-olifante en potvisse kan selfs dieper duik. “Hulle probeer nie die druk weerstaan nie”, sê die tydskrif Discover, “maar laat eerder toe dat hulle longe [weens die druk] heeltemal platval.” Hulle berg die grootste deel van die suurstof wat hulle nodig het, in hulle spiere. Hierdie skepsele is inderdaad ’n lewende bewys van die wysheid van ’n almagtige God!
18. Hoe kan Jehovah se wysheid in seewater gesien word?
18 Selfs seewater weerspieël Jehovah se wysheid. Scientific American sê: “Elke druppel water in die boonste 100 meter van die oseaan bevat duisende drywende mikroskopiese flora wat fitoplankton genoem word.” Hierdie “onsigbare woud” suiwer ons lug deur miljarde ton koolstofdioksied daaruit te haal. Fitoplankton produseer meer as die helfte van die suurstof wat ons inasem.
19. Hoe volbring vuur en sneeu Jehovah se wil?
19 Psalm 148:8 sê: “Vuur en hael, sneeu en dik rook, stormwind, wat sy woord volbring.” Ja, Jehovah gebruik ook die lewelose natuurkragte om sy wil te volbring. Dink byvoorbeeld aan vuur. In vorige dekades is bosbrande slegs as verwoestend beskou. Deesdae meen navorsers dat brande ’n belangrike ekologiese rol speel, aangesien dit ontslae raak van ou of sterwende bome, baie sade help ontkiem, voedingstowwe hersirkuleer en in werklikheid die gevaar van wegholveldbrande verminder. Ook sneeu is noodsaaklik omdat dit die grond nat en vrugbaar maak, riviere aanvul en plante en diere teen temperature onder vriespunt beskerm.
20. Van watter nut is berge en bome vir mense?
20 “Berge en alle heuwels, vrugtebome en alle seders”, sê Psalm 148:9. Majestueuse berge getuig van Jehovah se groot krag (Psalm 65:6). Maar hulle het ook praktiese waarde. ’n Verslag deur die Instituut vir Geografie in Bern, Switserland, sê: “Al die groot riviere in die wêreld het hulle oorsprong in berge. Meer as die helfte van die mensdom maak staat op die varswater wat in die berge versamel . . . Hierdie ‘watertorings’ is onontbeerlik vir die welsyn van die mensdom.” Selfs ’n doodgewone boom verheerlik sy Maker. ’n Verslag deur die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram sê dat bome “belangrik is vir die welstand van mense in alle lande . . . Baie boomsoorte is van groot ekonomiese belang, aangesien hulle produkte lewer soos hout, vrugte, neute, hars en gom. Regoor die wêreld maak 2 miljard mense staat op hout vir kookdoeleindes en brandstof.”
21. Verduidelik hoe ’n eenvoudige blaar bewys lewer van ontwerp.
21 Getuienis van ’n wyse skepper kan selfs in die ontwerp van ’n boom gesien word. Beskou ’n eenvoudige blaar. Aan die buitekant het dit ’n wasagtige laag wat voorkom dat die blaar uitdroog. Net onder hierdie laag aan die bokant is ’n hele aantal selle met chloroplaste. Dit bevat chlorofil, wat ligenergie absorbeer. Deur ’n proses wat fotosintese genoem word, word blare “voedselfabrieke”. Water word deur die boom se wortels opgeneem en na die blare vervoer deur middel van ’n gesofistikeerde “loodgieterstelsel”. Duisende klein “kleppies” (wat stomata genoem word) aan die onderkant van ’n blaar maak oop en toe om koolstofdioksied in te laat. Lig verskaf die energie om water en koolstofdioksied te laat kombineer en koolhidrate te produseer. Die plant kan hom nou voed met dieselfde voedsel wat hy vervaardig het. En tog is hierdie “fabriek” stil en mooi. Dit besoedel nie die lug nie, maar stel eerder suurstof vry as byproduk!
22, 23. (a) Watter merkwaardige vermoëns het party voëls en landdiere? (b) Watter verdere vrae moet ons bespreek?
22 “Wilde diere en alle mak diere, kruipende diere en gevleuelde voëls”, sê Psalm 148:10. Talle landdiere en vlieënde skepsele openbaar verstommende vermoëns. Die swartwangalbatros kan groot afstande aflê (in een geval 40 000 kilometer in net 90 dae). Die Nieu-Engelandse sangvoël reis van Noord- na Suid-Amerika, en bly meer as 80 uur in die lug in een ononderbroke vlug. Die kameel berg water, nie in sy rugbult soos oor die algemeen gedink is nie, maar in sy spysverteringstelsel, wat hom in staat stel om nie te ontwater nie, al bly hy lang tye sonder water. Dit is dus geen wonder nie dat ingenieurs die diereryk noukeurig bestudeer wanneer hulle masjiene en nuwe materiale ontwerp. “As jy iets wil bou wat goed sal funksioneer . . . en volmaak in sy omgewing sal inpas”, sê die skryfster Gail Cleere, “sal jy heel waarskynlik ’n goeie voorbeeld êrens in die natuur vind.”
23 Ja, die skepping maak werklik die heerlikheid van God bekend! Van die sterrehemel tot die plante en diere, elkeen bring op sy eie manier lof aan sy Skepper. Maar wat van ons as mense? Hoe kan ons saam met die natuur God se lof besing?
Onthou jy?
• Waarom is diegene wat weier om God se bestaan te erken, onverskoonbaar?
• Hoe verheerlik die sterre en die planete God?
• Hoe lewer see- en landdiere bewys van ’n liefdevolle Skepper?
• Hoe volbring lewelose natuurkragte Jehovah se wil?
[Prent op bladsy 10]
Wetenskaplikes skat dat die aantal waarneembare sterre 70 000 triljoen is!
[Erkenning]
Frank Zullo
[Prent op bladsy 12]
Bottelneusdolfyn
[Prent op bladsy 13]
Sneeuvlokkie
[Erkenning]
snowcrystals.net
[Prent op bladsy 13]
Jong swartwangalbatros