Studie—Lonend en genotvol
‘As jy daarna soek, sal jy die kennis van God vind.’—SPREUKE 2:4, 5.
1. Hoe kan ons waarlik genot daaruit put om vir ontspanning te lees?
BAIE mense lees bloot vir die genot. As die leesstof heilsaam is, kan dit ’n bron van goeie ontspanning wees. Party Christene volg ’n gereelde Bybelleesprogram, maar geniet dit ook baie om soms ’n bietjie in die Psalms, Spreuke, die Evangelieverslae of ander dele van die Bybel te lees. Die pragtige taal en gedagtes verskaf hulle groot genot. Ander hou daarvan om die Yearbook of Jehovah’s Witnesses, die Ontwaak!, lewensverhale wat in hierdie tydskrif gepubliseer word of leesstof oor geskiedenis, aardrykskunde en natuurstudie vir ontspanning te lees.
2, 3. (a) In watter opsig kan diep geestelike inligting met vaste voedsel vergelyk word? (b) Wat behels studie?
2 Terwyl dit ontspannend kan wees om vir die genot te lees, vereis studie verstandelike inspanning. Die Engelse filosoof Francis Bacon het geskryf: “Party boeke moet geproe word, ander moet gesluk word en enkeles moet gekou en verteer word.” Die Bybel val by uitstek onder die laaste kategorie. Die apostel Paulus het geskryf: “Oor hom [Christus, soos voorafgeskadu deur die koning-priester Melgisedek] het ons baie te sê wat moeilik is om te verduidelik, aangesien julle afgestomp geword het in julle gehoor. . . . Vaste voedsel behoort by volwasse mense, by dié wie se waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen is om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:11, 14). Vaste voedsel moet goed gekou word voordat dit ingesluk en verteer word. Diep geestelike inligting vereis bepeinsing voordat ’n mens dit kan inneem en jou eie kan maak.
3 ’n Woordeboek omskryf “studie” as “die handeling of proses waardeur die verstand ingespan word om kennis of begrip van iets te kry, deur lees, navorsing, ens.”. Dit spreek vanself dat dit meer behels as om ’n artikel net vlugtig te lees en moontlik ’n paar woorde te onderstreep terwyl ons lees. Studie beteken werk, verstandelike inspanning en die gebruik van waarnemingsvermoëns. Hoewel studie inspanning verg, beteken dit geensins dat dit nie genotvol kan wees nie.
Hoe om studie aangenaam te maak
4. Hoe kan die studie van God se Woord, volgens die psalmis, verkwikkend en lonend wees?
4 Dit kan verkwikkend en opbouend wees om God se Woord te lees en te bestudeer. Die psalmis het gesê: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit verkwik die siel. Die herinneringe van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys. Die bevele van Jehovah is onberispelik; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal” (Psalm 19:7, 8, NW). Jehovah se wette en herinneringe gee nuwe lewe aan ons siel, bevorder ons geestelike welstand, verskaf ons innerlike vreugde en laat ons oë straal met ’n helder blik op Jehovah se wonderlike voornemens. Wat ’n genot!
5. Hoe kan ons studie werklik aangenaam maak?
5 Wanneer ons sien dat ons werk goeie resultate oplewer, geniet ons dit gewoonlik. Om studie aangenaam te maak, moet ons dus die nuwe kennis wat ons opgedoen het so gou moontlik gebruik. Jakobus het geskryf: “Hy wat in die volmaakte wet tuur wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jakobus 1:25). Dit verskaf groot genoegdoening om punte wat ons geleer het onmiddellik op onsself toe te pas. As ons navorsing doen met die spesifieke doel om ’n vraag te beantwoord wat gedurende ons predikings- of onderrigtingswerk geopper is, sal dit ons ook baie gelukkig maak.
Leer om jou in God se Woord te verlustig
6. Hoe het die skrywer van Psalm 119 sy liefde vir Jehovah se woord uitgespreek?
6 Die samesteller van Psalm 119, wat moontlik Hiskia was terwyl hy nog ’n jong prins was, het sy liefde vir Jehovah se woord uitgespreek. In digterlike taal het hy gesê: “Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. Ja, u getuienisse is my verlustiging . . . Ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet. Laat u barmhartighede oor my kom, dat ek kan lewe; want u wet is my verlustiging. o HERE, ek verlang na u heil, en u wet is my verlustiging.”—Psalm 119:16, 24, 47, 77, 174.
7, 8. (a) Wat beteken dit volgens een naslaanwerk om ’n mens ‘te verlustig in’ God se Woord? (b) Hoe kan ons ons liefde vir Jehovah se Woord toon? (c) Hoe het Esra hom voorberei voordat hy Jehovah se Wet gelees het?
7 Een woordeboek oor die Hebreeuse Geskrifte sê ter verduideliking van die woord wat in Psalm 119 as “verlustig in” vertaal word: “Die gebruik in v. 16 stem ooreen met die [werkwoorde] vir blydskap . . . en vir bepeinsing . . . Die opeenvolging is: wees bly, bepeins, skep behae in . . . Hierdie kombinasie kan daarop dui dat betekenisvolle bepeinsing die middel is waardeur ’n mens behae begin skep in die woord van Jahweh. . . . Die betekenis sluit ’n emosionele element in.”a
8 Ja, ons liefde vir Jehovah se Woord moet uit ons hart, die setel van emosies, kom. Ons moet dit geniet om stil te staan by sekere Skrifgedeeltes wat ons pas gelees het. Ons moet nadink oor diep geestelike gedagtes, daarin verdiep raak en daaroor peins. Dit vereis stille nadenke en gebed. Soos Esra moet ons ons hart berei om God se Woord te lees en te bestudeer. Die verslag sê van hom: “Esra het sy hart berei om die wet van Jehovah te raadpleeg en om dit na te kom en om Israel voorskrif en geregtigheid te leer” (Esra 7:10, NW). Let op met watter drievoudige doel Esra sy hart berei het: om te studeer, om persoonlike toepassing te maak en om ander te leer. Ons behoort sy voorbeeld te volg.
Studie as ’n daad van aanbidding
9, 10. (a) Hoe het die psalmis sy belangstelling in Jehovah se Woord getoon? (b) Wat beteken die Hebreeuse werkwoord wat met “oordink” vertaal word? (c) Waarom is dit belangrik dat ons die studie van die Bybel as “’n daad van aanbidding” beskou?
9 Die psalmis meld dat hy Jehovah se wette, gebooie en herinneringe oordink het. Hy sing: “Ek wil u bevele oordink en op u paaie let. [Ek wil] my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink. Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse [“herinneringe”, NW] is my bepeinsing” (Psalm 119:15, 48, 97, 99). Wat beteken dit om Jehovah se Woord te “oordink”?
10 Die Hebreeuse werkwoord wat met “oordink” vertaal word, beteken ook “bepeins, nadink oor”, “jou gedagtes oor iets laat gaan”. “Dit word gebruik vir stille nadenke oor God se werke . . . en God se woord” (Theological Wordbook of the Old Testament). Die selfstandige naamwoord “bepeinsing” verwys na “die psalmis se nadenke”, “sy liefdevolle studie” van God se wet as “’n daad van aanbidding”. As ons die studie van God se Woord as deel van ons aanbidding beskou, maak dit ons studie selfs ernstiger. Dit moet dus pligsgetrou en met die voordeel van gebed gedoen word. Studie is ’n deel van ons aanbidding en word gedoen om ons aanbidding te verbeter.
Hoe om dieper in God se Woord te delf
11. Hoe openbaar Jehovah diep geestelike gedagtes aan sy volk?
11 Die psalmis het in eerbiedige verering uitgeroep: “Hoe groot is u werke, o HERE; baie diep is u gedagtes!” (Psalm 92:6). En die apostel Paulus het gepraat van “die diep dinge van God”, diep gedagtes wat Jehovah aan sy volk openbaar “deur sy gees” wat op die “getroue en verstandige slaaf”-klas werksaam is (1 Korintiërs 2:10; Matteus 24:45). Die slaafklas werk hard om geestelike voedsel vir almal te voorsien—“melk” vir nuwelinge, maar “vaste voedsel” vir “volwasse mense”.—Hebreërs 5:11-14.
12. Gee ’n voorbeeld van “diep dinge van God” wat die slaafklas al verduidelik het.
12 Om sulke “diep dinge van God” te verstaan, moet ons biddend studeer en oor sy Woord nadink. Goeie materiaal is byvoorbeeld al gepubliseer wat toon hoe Jehovah tegelykertyd regverdig en barmhartig kan wees. Die feit dat hy barmhartig is, beteken nie dat hy sy geregtigheid afwater nie; Goddelike barmhartigheid is eerder ’n bewys van God se geregtigheid sowel as sy liefde. Wanneer Jehovah ’n sondaar oordeel, stel hy eers vas of dit moontlik is om barmhartigheid te toon op grond van sy Seun se losprysofferande. As die sondaar onberouvol of opstandig is, laat God geregtigheid geskied waar barmhartigheid nie geregverdig is nie. Hoe dit ook al sy, hy is getrou aan sy verhewe beginsels (Romeine 3:21-26).b ‘O die diepte van God se rykdom en wysheid!’—Romeine 11:33.
13. Hoe behoort ons ons waardering te toon vir die “volle som” van geestelike waarhede wat tot dusver geopenbaar is?
13 Soos die psalmis verheug ons ons oor die feit dat Jehovah baie van sy gedagtes aan ons bekend maak. Dawid het geskryf: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie! Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand” (Psalm 139:17, 18). Hoewel ons kennis vandag maar net ’n breukdeel is van die tallose gedagtes wat Jehovah tot in alle ewigheid sal openbaar, waardeer ons werklik die “volle som” van kosbare geestelike waarhede wat tot dusver geopenbaar is en delf ons al hoe dieper in die som, of inhoud, van God se Woord.—Psalm 119:160, voetnoot in NW.
Inspanning en doeltreffende gereedskap nodig
14. Hoe beklemtoon Spreuke 2:1-6 die feit dat inspanning nodig is om God se Woord te bestudeer?
14 Diep Bybelstudie vereis inspanning. Hierdie feit kom baie duidelik na vore as ’n mens Spreuke 2:1-6 (NW) sorgvuldig lees. Let op die aktiewe werkwoorde wat die wyse koning Salomo gebruik het om die inspanning te beklemtoon wat nodig is om Goddelike kennis, wysheid en onderskeidingsvermoë te verkry. Hy het geskryf: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie as ’n skat by jou bewaar, sodat jy met jou oor aandag kan skenk aan wysheid, sodat jy jou hart kan neig tot onderskeidingsvermoë; as jy bowendien na begrip roep en na onderskeidingsvermoë jou stem verhef, as jy daarna bly soek soos na silwer en dit bly naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Jehovah verstaan, en jy sal die kennis van God vind. Want Jehovah gee wysheid; uit sy mond kom kennis en onderskeidingsvermoë.” Ja, lonende studie vereis navorsing, om te delf asof ons na ’n verborge skat soek.
15. Watter Bybelse illustrasie toon die belangrikheid van goeie studiemetodes?
15 Geestelik verrykende studie vereis ook goeie studiemetodes. Salomo het geskryf: “As die yster stomp geword het, en ’n mens die snykant nie geslyp het nie, moet hy die kragte meer inspan” (Prediker 10:10). As ’n werker snygereedskap gebruik wat nie skerp is nie of as hy dit nie op bedrewe wyse gebruik nie, sal hy sy kragte verspil, en sy werk sal van ’n swak gehalte wees. Die voordele wat ’n mens verkry uit die tyd wat aan studie gewy word, kan eweneens grootliks verskil, na gelang van ons studiemetodes. Uitstekende praktiese wenke om ons studiemetodes te verbeter, kan gevind word in Studie 7 van die Teokratiese Bedieningskool-handleiding.c
16. Watter praktiese wenke word gegee om ons te help om diep studie te doen?
16 Wanneer ’n vakman met sy werk begin, kry hy al die gereedskap wat hy nodig sal hê bymekaar. Net so ook moet ons, wanneer ons met ’n studieperiode begin, die studiehulpe wat ons nodig sal hê uit ons persoonlike biblioteek kry. As ons in gedagte hou dat studie werk is en verstandelike inspanning verg, is die regte liggaamshouding ook nodig. As ons graag verstandelik wakker wil bly, sal dit beter wees om eerder op ’n stoel by ’n tafel of ’n lessenaar te sit as om in die bed te lê of op ’n gemaklike leunstoel te sit. Nadat jy ’n ruk lank gekonsentreer het, sal jy dit dalk goed vind om te strek of buite te gaan loop vir ’n bietjie vars lug.
17, 18. Gee voorbeelde van maniere om die goeie studiehulpe wat beskikbaar is te gebruik.
17 Talle onvergelyklike studiehulpe is ook vir ons beskikbaar. Boaan die lys is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel, waarvan die hele Bybel of dele daarvan nou in 37 tale beskikbaar is. Die standaarduitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling bevat kruisverwysings en ’n “Tabel van die Bybelboeke” met die naam van die skrywer, die plek waar dit geskryf is en die tydperk wat gedek word. Dit het ook ’n indeks van Bybelwoorde, ’n aanhangsel en kaarte. In party tale is hierdie Bybel ook as ’n naslaanbybel in groter druk beskikbaar. Dit bevat al die bogenoemde kenmerke en nog baie meer, onder andere uitvoerige voetnote, waarvoor daar ook ’n indeks is. Maak jy ten volle gebruik van alles wat in jou taal beskikbaar is sodat dit jou kan help om dieper in God se Woord te delf?
18 Nog ’n kosbare studiehulp is die tweedelige Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures. As jy hierdie publikasies in ’n taal het wat jy kan verstaan, moet jy dit altyddeur by jou hê wanneer jy studeer. Dit sal jou agtergrondinligting oor die meeste Bybelonderwerpe gee. ’n Boek wat net so ’n nuttige studiehulp is, is “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”. Wanneer jy ’n nuwe boek van die Bybel begin lees, is dit goed om die ooreenstemmende studie in die “Hele Skrif”-boek na te slaan om die aardrykskundige en geskiedkundige agtergrond te kry, sowel as ’n opsomming van die Bybelboek se inhoud en die waarde daarvan vir ons. ’n Onlangse toevoeging tot die talle studiehulpe in gedrukte vorm is die Watchtower Library vir rekenaargebruik wat nou in nege tale beskikbaar is.
19. (a) Waarom het Jehovah ons van goeie studiehulpe vir Bybelstudie voorsien? (b) Wat is nodig vir behoorlike Bybellees en -studie?
19 Jehovah het al hierdie studiehulpe deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” voorsien om sy knegte op die aarde in staat te stel om ‘te soek en die kennis van God te vind’ (Spreuke 2:4, 5). Goeie studiegewoontes help ons om ’n beter kennis van Jehovah te verkry en ’n hegter verhouding met hom te geniet (Psalm 63:2-9). Ja, studie vereis werk, maar dit is werk wat genotvol en lonend is. Dit verg egter tyd, en jy dink seker: ‘Waar kan ek tyd kry om my Bybellees en persoonlike studie behoorlik te doen?’ Hierdie aspek sal in die laaste artikel van hierdie reeks bespreek word.
[Voetnote]
a New International Dictionary of Old Testament Theology & Exegesis, Deel 4, bladsye 205-7.
b Sien Die Wagtoring van 1 Augustus 1998, bladsy 13, paragraaf 7. As ’n Bybelstudieprojek kan jy albei studieartikels in dié tydskrif hersien, sowel as die besprekings onder “Justice,” “Mercy” en “Righteousness” in die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. As hierdie handleiding nie in jou taal beskikbaar is nie, kan jy goeie raad oor studiemetodes vind in die volgende nommers van Die Wagtoring: 15 Augustus 1993, bladsye 13-17; 15 Mei 1986, bladsye 19-20.
Hersieningsvrae
• Hoe kan ons ons persoonlike studie verkwikkend en lonend maak?
• Hoe kan ons, soos die psalmis, ons “verlustig in” Jehovah se Woord en dit “oordink”?
• Hoe toon Spreuke 2:1-6 dat inspanning nodig is om God se Woord te bestudeer?
• Watter goeie studiehulpe het Jehovah voorsien?
[Prent op bladsy 14]
Stille nadenke en gebed help ons om liefde vir God se Woord op te bou
[Prente op bladsy 17]
Maak jy ten volle gebruik van die beskikbare studiehulpe om dieper in God se Woord te delf?