Wandel in die weg van onkreukbaarheid
“Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel.”—PSALM 26:11.
1, 2. (a) Waarom is die mens se onkreukbaarheid ’n belangrike deel van die geskil oor God se soewereiniteit? (b) Hoe kan intelligente skepsele toon dat hulle aan die kant van Jehovah se soewereiniteit is?
TOE Satan in die tuin van Eden in opstand gekom het, het hy die universele geskil oor die regmatigheid van God se soewereiniteit oor al Sy skepsele geopper. ’n Ruk later het hy beweer dat mense God net sou dien solank dit hulle tot voordeel strek (Job 1:9-11; 2:4). Die mens se onkreukbaarheid het dus ’n belangrike deel van die geskil oor Jehovah se universele soewereiniteit geword.
2 Hoewel God se soewereiniteit nie afhanklik is van die onkreukbaarheid van sy skepsele nie, kan mense en geesseuns van God toon wat hulle standpunt ten opsigte van hierdie geskil is. Hoe? Deur te besluit of hulle ’n weg van onkreukbaarheid gaan volg of nie. ’n Persoon se onkreukbaarheid bied dus ’n vaste grondslag waarvolgens hy of sy geoordeel kan word.
3. (a) Wat wou Job en Dawid hê dat Jehovah moet ondersoek en beoordeel? (b) Watter vrae ontstaan oor onkreukbaarheid?
3 Job het met vertroue gesê: “[Jehovah sal] my op ’n akkurate weegskaal weeg, en God sal my onkreukbaarheid te wete kom” (Job 31:6). Koning Dawid van eertydse Israel het Jehovah gevra om sy onkreukbaarheid te ondersoek toe hy gebid het: “Oordeel my, o Jehovah, want ek het in my onkreukbaarheid gewandel, en op Jehovah het ek vertrou, sodat ek nie wankel nie” (Psalm 26:1). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons ook in die weg van onkreukbaarheid wandel! Maar wat is onkreukbaarheid, en wat beteken dit om in die weg daarvan te wandel? Wat sal ons help om op die weg van onkreukbaarheid te bly?
“Ek het in my onkreukbaarheid gewandel”
4. Wat is onkreukbaarheid?
4 Onkreukbaarheid bevat die gedagte van opregtheid, onberispelikheid, regverdigheid en vlekkeloosheid. Maar onkreukbaarheid behels meer as om te doen wat reg is. Dit is regskapenheid of ’n hart wat volkome aan God toegewy is. Satan het Job se beweegredes bevraagteken toe hy vir God gesê het: “Steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak tot [Job se] gebeente en sy vlees aan en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie” (Job 2:5). Benewens gepaste optrede vereis onkreukbaarheid ook regte beweegredes van die hart.
5. Wat toon dat onkreukbaarheid nie volmaaktheid van ons vereis nie?
5 Onkreukbaarheid vereis egter nie volmaaktheid nie. Koning Dawid was onvolmaak en het etlike ernstige foute in sy lewe begaan. Tog praat die Bybel van hom as ’n man wat “met onkreukbaarheid van hart” gewandel het (1 Konings 9:4). Waarom? Omdat Dawid Jehovah liefgehad het. Sy hart was aan God toegewy. Hy het sy foute geredelik erken, teregwysing aanvaar en sy weë reggestel. Ja, Dawid se onkreukbaarheid kan gesien word aan sy heelhartige toegewydheid en liefde vir sy God, Jehovah.—Deuteronomium 6:5, 6.
6, 7. Wat behels dit om in onkreukbaarheid te wandel?
6 Onkreukbaarheid is nie beperk tot ’n sekere aspek van mensegedrag, soos godsdienstige toegewydheid, nie. Dit sluit ons hele lewenswyse in. Dawid het in sy onkreukbaarheid “gewandel”. “Die werkwoord ‘wandel’ impliseer ‘lewensweg’ of ‘lewenswyse’”, sê The New Interpreter’s Bible. Met verwysing na diegene wat “onberispelik is in hulle weg”, het die psalmis gesing: “Gelukkig is dié wat [God se] herinneringe onderhou; met hulle hele hart bly hulle hom soek. Waarlik, hulle het geen onregverdigheid beoefen nie. In sy weë het hulle gewandel” (Psalm 119:1-3). Onkreukbaarheid vereis dat ’n mens voortdurend probeer om God se wil te doen en in sy weg te wandel.
7 Om in onkreukbaarheid te wandel, vereis lojale toegewydheid aan God, selfs onder ongunstige omstandighede. Wanneer ons onder beproewinge volhard, ondanks ontberinge standvastig bly of die versoekings van die goddelose wêreld weerstaan, word dit duidelik dat ons onkreukbaarheid handhaaf. Ons ‘maak Jehovah se hart bly’ deurdat hy ’n antwoord kan gee aan die een wat hom uittart (Spreuke 27:11). Ons het dus goeie rede om ons soos Job voor te neem: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!” (Job 27:5). Die 26ste Psalm toon wat ons sal help om in onkreukbaarheid te wandel.
“Louter my niere en my hart”
8. Wat leer jy uit Dawid se pleidooi dat Jehovah sy niere en sy hart moet ondersoek?
8 Dawid het gebid: “Ondersoek my, o Jehovah, en stel my op die proef; louter my niere en my hart” (Psalm 26:2). Die niere lê diep in die liggaam. In figuurlike sin stel die niere ’n mens se diepste gedagtes en emosies voor. En die figuurlike hart is die hele innerlike mens—sy beweegredes, gevoelens en intellek. Toe Dawid Jehovah gevra het om hom te ondersoek, het hy gebid dat sy diepste gedagtes en gevoelens ondersoek en deurvors moet word.
9. Hoe louter Jehovah ons figuurlike niere en hart?
9 Dawid het gepleit dat sy niere en sy hart gelouter moet word. Hoe louter Jehovah ons innerlike? Dawid het gesing: “Ek sal Jehovah loof, wat my raad gegee het. Waarlik, in die nagte het my niere my tereggewys” (Psalm 16:7). Wat beteken dit? Dit beteken dat goddelike raad die diepste dele van Dawid se wese bereik het en daar gebly het sodat dit sy diepste gedagtes en emosies reggestel het. Dit kan ook met ons die geval wees as ons met waardering nadink oor die raad wat ons deur God se Woord, sy verteenwoordigers en sy organisasie ontvang en toelaat dat dit diep in ons bly. As ons gereeld tot Jehovah bid om ons op hierdie manier te louter, sal dit ons help om in onkreukbaarheid te wandel.
“U liefderyke goedhartigheid is voor my”
10. Wat het Dawid gehelp om in God se waarheid te wandel?
10 “U liefderyke goedhartigheid is voor my oë”, het Dawid verder gesê, “en ek het in u waarheid gewandel” (Psalm 26:3). Dawid was goed vertroud met God se dade van liefderyke goedhartigheid, en hy het met waardering daaroor gepeins. “Loof Jehovah, o my siel”, het hy gesing, “en moenie al sy dade vergeet nie.” Dawid het aan een van God se “dade” gedink en voortgegaan: “Jehovah volbring dade van regverdigheid en regterlike beslissings vir almal wat te kort gedoen word. Hy het sy weë aan Moses bekend gemaak, sy handelinge ook aan die kinders van Israel” (Psalm 103:2, 6, 7). Miskien het Dawid gedink aan hoe die Egiptenaars die Israeliete in die dae van Moses te kort gedoen het. Indien wel, het bepeinsing oor hoe Jehovah sy weë van verlossing aan Moses bekend gemaak het, ongetwyfeld Dawid se hart geraak en hom meer vasbeslote gemaak om in God se waarheid te wandel.
11. Wat kan ons help om in die weg van onkreukbaarheid te wandel?
11 As ons God se Woord gereeld bestudeer en peins oor wat ons daaruit leer, sal dit ons ook help om in die weg van onkreukbaarheid te wandel. Byvoorbeeld, as ons dink aan hoe Josef gevlug het van die onsedelike toenadering van Potifar se vrou, sal dit ons sekerlik aanspoor om van soortgelyke toenadering by die werk, by die skool of elders te vlug (Genesis 39:7-12). Sê nou ons kom in die versoeking om geleenthede vir materiële voorspoed of vernaamheid en status in die sekulêre wêreld aan te gryp? Dan het ons die voorbeeld van Moses, wat die glorie van Egipte verwerp het (Hebreërs 11:24-26). As ons die volharding van Job in gedagte hou, sal dit ongetwyfeld help om ons meer vasbeslote te maak om ondanks siekte en teëspoed lojaal aan Jehovah te bly (Jakobus 5:11). Sê nou ons word slagoffers van vervolging? Wel, as ons aan Daniël se ondervinding in die leeukuil dink, sal dit ons moed gee!—Daniël 6:16-22.
“Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie”
12, 13. Watter soort omgang moet ons vermy?
12 Met verwysing na nog ’n faktor wat sy onkreukbaarheid versterk het, het Dawid gesê: “Ek het nie by mense van onwaarheid gesit nie; en by dié wat verberg wat hulle is, gaan ek nie in nie. Ek het die gemeente van kwaaddoeners gehaat, en by die goddeloses sit ek nie” (Psalm 26:4, 5). Dawid het eenvoudig geweier om by die goddeloses te sit. Hy het slegte omgang gehaat.
13 Wat van ons? Weier ons om deur middel van televisieprogramme, video’s, rolprente, webwerwe op die Internet of op ander maniere by mense van onwaarheid te sit? Bly ons weg van dié wat verberg wat hulle is? Party by die skool of by die werk gee dalk met oneerlike bedoelings voor dat hulle ons vriende is. Wil ons werklik hegte bande smee met dié wat nie in God se waarheid wandel nie? Agter bewerings dat hulle opreg is, verberg afvalliges dalk ook hulle bedoeling om ons van Jehovah se diens af te keer. Sê nou daar is party in die Christengemeente wat ’n dubbele lewe lei? Ook hulle verberg wat hulle werklik is. Jayson, wat nou as ’n bedieningskneg dien, het in sy jeug sulke vriende gehad. Hy sê van hulle: “Eendag het een van hulle vir my gesê: ‘Dit maak nie saak wat ons nou doen nie, want wanneer die nuwe stelsel kom, gaan ons tog net dood wees. Ons sal nie weet dat ons enigiets misgeloop het nie.’ Hierdie soort kommentare het my laat wakker skrik. Ek wil nie dood wees wanneer die nuwe stelsel kom nie.” Jayson was verstandig en het sy omgang met sulke persone beëindig. “Moenie mislei word nie”, het die apostel Paulus gewaarsku. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons slegte omgang vermy!
‘Ek sal al u wonderlike werke bekend maak’
14, 15. Hoe kan ons ‘rondom Jehovah se altaar gaan’?
14 “Ek sal my hande in onskuld was, en ek sal rondom u altaar gaan, o Jehovah”, het Dawid voortgegaan. Waarom? “Om danksegging luid te laat hoor, en om al u wonderlike werke bekend te maak” (Psalm 26:6, 7). Dawid wou sedelik rein bly sodat hy Jehovah kon aanbid en sy toegewydheid aan God kon bekend maak.
15 Alles in verband met ware aanbidding by die tabernakel en later by die tempel was “’n sinnebeeldige voorstelling en ’n skaduwee van die hemelse dinge” (Hebreërs 8:5; 9:23). Die altaar het Jehovah se wil afgebeeld om die offerande van Jesus Christus vir die verlossing van die mensdom te aanvaar (Hebreërs 10:5-10). Ons was ons hande in onskuld en ‘gaan rondom Jehovah se altaar’ deur geloof in daardie offerande te beoefen.—Johannes 3:16-18.
16. Watter voordeel hou dit vir ons in as ons God se wonderlike werke aan ander bekend maak?
16 Vul dit nie ons hart met dankbaarheid teenoor Jehovah en sy enigverwekte Seun wanneer ons dink aan alles wat deur die losprys moontlik gemaak word nie? Laat ons dan met danksegging in ons hart God se wonderlike werke aan ander bekend maak—van die skepping van die mens in die tuin van Eden tot die volkome herstel van alles in God se nuwe wêreld (Genesis 2:7; Handelinge 3:21). En wat ’n geestelike beskerming is die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk tog nie! (Matteus 24:14; 28:19, 20). As ons daarmee besig bly, help dit ons om ons toekomshoop helder te hou, ons geloof in God se beloftes sterk te hou en ons liefde vir Jehovah en ons medemens lewend te hou.
“Ek het die woning van u huis liefgehad”
17, 18. Wat moet ons gesindheid teenoor Christelike vergaderinge wees?
17 Die tabernakel, met sy altaar vir offerandes, was die middelpunt van Jehovah se aanbidding in Israel. Dawid het sy liefde vir daardie plek uitgespreek en gebid: “Jehovah, ek het die woning van u huis liefgehad en die woonplek van u heerlikheid.”—Psalm 26:8.
18 Hou ons daarvan om by plekke te vergader waar ons van Jehovah leer? Elke Koninkryksaal met sy gereelde program van geestelike onderrigting dien as die middelpunt van ware aanbidding in die gemeenskap. Daarbenewens het ons ons jaarlikse streek- en kringbyeenkomste en spesiale byeenkomsdae. Jehovah se “herinneringe” word by hierdie vergaderinge bespreek. As ons leer om ‘hulle baie lief te hê’, sal ons gretig wees om vergaderinge by te woon en aandagtig luister terwyl ons daar is (Psalm 119:167). Hoe verkwikkend is dit tog om saam met medegelowiges te wees wat in ons persoonlike welsyn belangstel en wat ons help om op die weg van onkreukbaarheid te bly!—Hebreërs 10:24, 25.
‘Moenie my lewe wegneem nie’
19. Aan watter sondes wou Dawid nie skuldig bevind word nie?
19 Omdat Dawid goed geweet het wat die gevolge is as iemand daarvan afwyk om in God se waarheid te wandel, het hy gepleit: “Moenie my siel saam met sondaars wegneem nie, ook nie my lewe saam met bloedskuldige mense nie, in wie se hande daar losbandige gedrag is, en wie se regterhand vol omkopery is” (Psalm 26:9, 10). Dawid wou nie getel word onder goddelose mense wat skuldig is aan losbandige gedrag of omkopery nie.
20, 21. Wat kan ons na die weg van die goddeloses lei?
20 Daar is vandag ’n oorvloed onsedelike gebruike in die wêreld. Die televisie, tydskrifte en rolprente bevorder losbandige gedrag—“tugteloosheid; wellustigheid; skaamtelose gedrag” (Galasiërs 5:19, voetnoot in NW). Party het verslaaf geraak aan pornografie, wat dikwels tot onsedelike gedrag lei. Veral jongmense is vatbaar vir sulke invloede. In party lande is dit ’n gebruik om met iemand van die teenoorgestelde geslag uit te gaan, en tieners word wysgemaak dat hulle dit moet doen. Baie jongmense raak by romantiese verhoudings betrokke, al is hulle te jonk om te trou. Om die seksuele begeertes te bevredig wat in hulle ontstaan, raak hulle weldra by onsedelike gedrag betrokke en pleeg hulle selfs hoerery.
21 Volwassenes is glad nie immuun teen slegte invloede nie. Oneerlike sakegebruike en ’n neiging om selfsugtige besluite te neem, is aanduidings van ’n gebrek aan onkreukbaarheid. As ons in die weë van die wêreld wandel, sal dit ons eenvoudig van Jehovah vervreem. Laat ons ‘haat wat sleg is en lief wees vir wat goed is’ en voortgaan om in die weg van onkreukbaarheid te wandel.—Amos 5:15.
“Verlos my tog en betoon guns aan my”
22-24. (a) Watter aanmoediging gee die slotwoorde van Psalm 26 jou? (b) Watter strik sal in die volgende artikel bespreek word?
22 Dawid het sy gebed tot God afgesluit deur te sê: “Wat my betref, ek sal in my onkreukbaarheid wandel. Verlos my tog en betoon guns aan my. My voet sal beslis op ’n gelykte staan; onder die versamelde menigtes sal ek Jehovah loof” (Psalm 26:11, 12). Dawid se vasbeslotenheid om sy onkreukbaarheid te handhaaf, hou verband met sy pleidooi om verlossing. Hoe bemoedigend is dit tog! As ons vasbeslote is om in die weg van onkreukbaarheid te wandel, sal Jehovah ons help, ten spyte van ons sondige toestand.
23 Mag ons lewenswandel toon dat ons die soewereiniteit van God in elke aspek van ons lewe respekteer en waardeer. Elkeen van ons kan Jehovah biddend vra om ons diepste gedagtes en gevoelens te ondersoek en te louter. Ons kan sy waarheid voortdurend voor ons hou deur sy Woord ywerig te bestudeer. Laat ons alles in ons vermoë doen om slegte omgang te vermy en Jehovah eerder onder die versamelde menigtes te loof. Laat ons ywerig aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deelneem en nooit toelaat dat die wêreld ons kosbare verhouding met God in gevaar stel nie. Wanneer ons ons bes doen om in die weg van onkreukbaarheid te wandel, kan ons die vertroue hê dat Jehovah guns aan ons sal betoon.
24 Aangesien onkreukbaarheid alle aspekte van die lewe raak, moet ons bewus wees van ’n dodelike strik—alkoholmisbruik. Dit sal in die volgende artikel bespreek word.
Onthou jy?
• Waarom kan intelligente skepsele tereg op grond van hulle onkreukbaarheid geoordeel word?
• Wat is onkreukbaarheid, en wat behels dit om in die weg daarvan te wandel?
• Wat sal ons help om in die weg van onkreukbaarheid te wandel?
• Van watter gevare moet ons bewus wees en moet ons vermy om onkreukbaarheid te handhaaf?
[Prent op bladsy 14]
Hou jy Jehovah se dade van liefderyke goedhartigheid voor oë?
[Prent op bladsy 14]
Vra jy Jehovah gereeld om jou diepste gedagtes te ondersoek?
[Prente op bladsy 15]
As ons ons onkreukbaarheid gedurende beproewinge handhaaf, maak dit Jehovah se hart bly
[Prente op bladsy 17]
Maak jy gebruik van Jehovah se voorsienings om jou te help om in die weg van onkreukbaarheid te wandel?