Waarom die Bybel prakties is vir ons dag
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en kan nuttig gebruik word . . . om mense se lewe te rig.”—2 TIMOTEUS 3:16, The Jerusalem Bible.
DEUR die eeue heen het die Bybel mense van baie kulture beweeg om hulle lewenswyse ten goede te verander. Die teks wat hierbo aangehaal word, verduidelik waarom die Bybel in hierdie opsig doeltreffend is—die wysheid daarin kom van God af. Hoewel die Bybel deur mense geskryf is, dra dit God se gedagtes aan ons oor. Die Bybel verduidelik: “Mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 Petrus 1:21.
Die Bybel is op ten minste twee maniere ’n praktiese gids. Eerstens bied dit ’n realistiese beskouing van wat ’n beter lewenswyse behels. Tweedens het dit die krag om mense te motiveer om die nodige veranderinge te maak sodat hulle hierdie beter lewenswyse kan kry. Kom ons kyk na hierdie twee aspekte.
Insig in praktiese doelwitte
God het hierdie belofte in die Bybel gemaak: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou” (Psalm 32:8). Let daarop dat God nie net raad gee nie, maar ook insig, wat die vermoë is om in ’n situasie in te sien of om dieper as die oppervlak te sien. As ons die insig het om te onderskei watter doelwitte waarlik voordelig is, kan dit ons beskerm sodat ons nie ons lewe op nuttelose strewes verkwis nie.
Baie mense maak byvoorbeeld aansien of rykdom hulle doel in die lewe. Daar is ’n oorvloed selfhelpboeke oor hoe om ander te uitoorlê om aansien of rykdom te verkry. Daarenteen sê die Bybel vir ons: “Die wedywering van die een teenoor die ander . . . is nietigheid en ’n gejaag na die wind.” “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie” (Prediker 4:4; 5:10). Is hierdie raad prakties vir ons dag?
Die geval van Akinori, in Japan, lig toe hoe prakties die Bybel se raad is. Akinori het strawwe mededingers uitgestof en sy doelwit bereik om aan ’n hoogaangeskrewe universiteit te gradueer en by ’n vooraanstaande firma werk te kry. Dit het gelyk asof alles vir hom goed uitwerk. Maar sy sukses het nie die geluk meegebring waarop hy gehoop het nie. Trouens, stres en uitputting het sy gesondheid vernietig. Sy vriende by die werk het hom min vertroosting gebied. Depressie het gelei tot alkoholisme, en hy het dit selfs oorweeg om sy eie lewe te neem. Toe het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Wat hy geleer het, het sy beskouing verander van wat belangrik is in die lewe. Kort voor lank het sy stresverwante kwale begin verdwyn. Akinori is nie meer deur trots en ambisie aangedryf nie, maar het eerstehands ondervind wat die Bybelspreuk sê: “’n Rustige hart gee lewe aan die liggaam.”—Spreuke 14:30, The Holy Bible—New International Version.
Wat is na jou mening die praktiesste doelwit in die lewe? Watter prestasie sou jou werklik gelukkig maak? Is dit om ’n suksesvolle huwelik te hê? Of om jou kinders ’n goeie begin in die lewe te gee? Om baie vriende te maak? Om vreugde uit die lewe te put? Al hierdie doelwitte is die moeite werd. Trouens, die Bybel beveel hulle aan, maar nie as ons hoofdoel in die lewe nie. Die Bybel weerspieël praktiese insig wanneer dit wys op ’n fundamentele vereiste vir ’n bevredigende lewenswyse deur te sê: “Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:13). Wanneer ons nalaat om hierdie verpligting na te kom, word die lewe doelloos, frustrerend en uiteindelik teleurstellend. Daarenteen verseker die Bybel ons: “Gelukkig is hy wat op Jehovah vertrou.”—Spreuke 16:20.
Hoe die Bybel mense beweeg om te verander
“Die woord van God is lewend en oefen krag uit”, het die apostel Paulus geskryf. Soos ’n skerp, tweesnydende swaard, kan dit tot ’n persoon se diepste gedagtes en bedoelings deurdring (Hebreërs 4:12). Die Bybel het die krag om mense se lewenswyse te verander omdat dit hulle help om hulleself te sien soos hulle werklik is en nie net soos hulle dink hulle is nie. Mense met die regte hartstoestand sal dan besef dat hulle veranderinge moet maak. Byvoorbeeld, vir diegene in die Christengemeente in eertydse Korinte wat voorheen diewe, dronkaards, egbrekers ensovoorts was, het Paulus gesê: “Dit [is] wat party van julle was. Maar julle is skoon gewas . . . met die gees van ons God” (1 Korintiërs 6:9-11). Jehovah se heilige gees is vandag net so aktief en kragtig, en dit kan mense beweeg om die nodige veranderinge te maak.
Mario, wat in Europa woon, was ’n gewelddadige man wat dagga gerook en verkoop het. By een geleentheid, toe ’n polisieman op sy dwelms beslag gelê het, het hy so kwaad geword dat hy die polisieman aangerand en sy motor vernietig het. Mario was ook werkloos en diep in die skuld. Hy het besef dat hy nie sy probleme self kon oplos nie en het dus ’n Bybelstudie aanvaar. Namate Mario vooruitgang gemaak het, het hy sy voorkoms verbeter, opgehou om dwelms te gebruik en te verkoop en om hom tot geweld te wend. Baie wat sy vorige lewenswyse geken het, was verstom. Hulle het hom voorgekeer en gevra: “Mario, is dit werklik jy?”
Wat motiveer mense soos Akinori en Mario om hulle lewe te verander en ware tevredenheid en lewensvreugde te vind? Dit is duidelik dat dit die nuutgevonde kennis van God is wat hulle deur middel van ’n studie van die Bybel opgedoen het. Net God kan die praktiese onderrigting voorsien wat ons nodig het om nou ’n sukses van die lewe te maak en om die vooruitsig te hê van ewige lewe in die toekoms. Soos ’n Vader, sê Jehovah God deur middel van die Bybel vir ons: “Hoor, my seun, en neem my woorde aan. Dan sal die lewensjare vir jou baie word. . . . Wanneer jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie; en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie. Bewaar dit, want dit is jou lewe” (Spreuke 4:10-13). Watter raad kan praktieser wees as die raad om ons Skepper se leiding te soek?
[Venster/Prent op bladsy 7]
Praktiese raad vir vandag
Die Bybel voorsien basiese maar praktiese beginsels wat ons in elke aspek van die moderne lewe kan rig. Hier is ’n paar voorbeelde:
• Om goeie verhoudings met ander te geniet
“Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen.”—Matteus 7:12.
“Wie hom as ’n mindere onder julle almal gedra, dié is groot.”—Lukas 9:48.
“Volg die weg van gasvryheid.”—Romeine 12:13.
• Om vernietigende gewoontes te oorkom
“Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”—Spreuke 13:20.
“Moenie onder die wynsuipers wees . . . nie.”—Spreuke 23:20.
“Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie.”—Spreuke 22:24.
• Om ’n sterk huwelik te bou
“Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.”—Efesiërs 5:33.
“Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe.”—Kolossense 3:12, 13.
• Om kinders te help
“Lei ’n seun op volgens die weg vir hom; ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.”—Spreuke 22:6.
“Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4.
• Om stryery te vermy
“’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom.”—Spreuke 15:1.
“Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar.”—Romeine 12:10.
Selfs onder vriende kan sakegeskille dikwels vermy word deur skriftelike ooreenkomste op te stel. God se kneg Jeremia het dus geskryf: “Ek [het] dit in ’n kontrak geskryf en die seël daarop gedruk en getuies geneem terwyl ek die geld op die weegskaal geweeg het.”—Jeremia 32:10.
• Om ’n positiewe gesindheid aan te kweek
“Alles wat waar is, . . . wat lieflik is, . . . waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.
Die Bybel spoor ons aan om nie oor negatiewe dinge te tob nie en veroordeel “klaers oor hulle lewenslot”. Dit sê: “Verbly julle in die hoop.”—Judas 4, 16; Romeine 12:12.
As ons hierdie uitstekende beginsels toepas, sal dit ons nie net in staat stel om nou vrede en tevredenheid te geniet nie, maar sal dit ons ook help om aan God se vereistes te voldoen en sy seën te ontvang. Die Bybel sê: “Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29.
[Prente op bladsy 5]
Akinori toe hy ’n sakeman was (links), en vandag terwyl hy Bybelwaarhede vreugdevol saam met sy vrou verkondig