Skep jy behae in “die wet van Jehovah”?
‘Gelukkig is die man wie se behae in die wet van Jehovah is.’—PSALM 1:1, 2.
1. Waarom is ons as Jehovah se knegte gelukkig?
JEHOVAH ondersteun en seën ons as sy lojale knegte. Ons kom weliswaar voor baie beproewinge te staan. Maar ons geniet ook ware geluk. Dit is nie verbasend nie, want ons dien “die gelukkige God”, en sy heilige gees bring vreugde in ons hart voort (1 Timoteus 1:11; Galasiërs 5:22). Vreugde is die toestand van ware geluk wat voortspruit uit die verwagting of verkryging van iets goeds. En ons hemelse Vader gee ons beslis goeie gawes (Jakobus 1:17). Geen wonder ons is gelukkig nie!
2. Watter psalms gaan ons bespreek?
2 Geluk word dikwels in die boek Psalm genoem. Dit is byvoorbeeld die geval in Psalm 1 en 2. Jesus Christus se vroeë volgelinge het die tweede psalm aan Israel se koning Dawid toegeskryf (Handelinge 4:25, 26). Die ongenoemde skrywer van die eerste psalm begin sy geïnspireerde lied met die woorde: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het . . . nie” (Psalm 1:1). In hierdie en die volgende artikel gaan ons bespreek hoe Psalm 1 en 2 ons redes gee om vreugdevol te wees.
Die geheim van geluk
3. Wat is volgens Psalm 1:1 van die redes waarom ’n godvrugtige persoon gelukkig is?
3 Psalm 1 toon waarom ’n godvrugtige persoon gelukkig is. Die psalmis verstrek van die redes vir hierdie geluk en sê: “Gelukkig is die man wat nie in die raad van die goddeloses gewandel het en nie op die weg van sondaars gestaan het en nie op die sitplek van spotters gesit het nie.”—Psalm 1:1.
4. Watter voorbeeldige weg het Sagaria en Elisabet gevolg?
4 As ons waarlik gelukkig wil wees, moet ons Jehovah se regverdige vereistes nakom. Sagaria en Elisabet, wat die heuglike voorreg gehad het om die ouers van Johannes die Doper te word, was “regverdig voor God omdat hulle onberispelik gewandel het in ooreenstemming met al die gebooie en wetlike vereistes van Jehovah” (Lukas 1:5, 6). Ons kan gelukkig wees as ons ’n soortgelyke weg volg en beslis weier om ‘in die raad van die goddeloses te wandel’ of om hulle bose raad te volg.
5. Wat kan ons help om “die weg van sondaars” te vermy?
5 As ons die denkwyse van goddeloses verwerp, sal ons nie ‘op die weg van sondaars staan’ nie. Trouens, ons sal letterlik nie gevind word waar hulle dikwels is nie—in plekke waar onsedelike vermaak aangebied word of wat ’n slegte naam het. Sê nou ons kom in die versoeking om by sondaars aan te sluit in hulle onskriftuurlike gedrag? Dan moet ons tot God bid vir hulp om in ooreenstemming met die apostel Paulus se woorde op te tree: “Moenie saam met ongelowiges onder ’n ongelyke juk kom nie. Want watter gemeenskap het regverdigheid en wetteloosheid? Of watter deelgenootskap het lig met duisternis?” (2 Korintiërs 6:14). As ons op God vertrou en “suiwer van hart” is, sal ons die gees en lewenstyl van sondaars verwerp en rein beweegredes en begeertes hê, tesame met “geloof sonder huigelary”.—Matteus 5:8; 1 Timoteus 1:5.
6. Waarom moet ons op ons hoede wees vir spotters?
6 Om Jehovah te behaag, moet ons beslis ‘nie op die sitplek van spotters sit’ nie. Party spot met godvrugtigheid, maar in hierdie “laaste dae” is die spotterny van gewese Christene wat afvalliges geword het, dikwels besonder smadend. Die apostel Petrus het medegelowiges gewaarsku: “Geliefdes, . . . dít weet julle allereers, dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af’” (2 Petrus 3:1-4). As ons nooit ‘op die sitplek van spotters sit’ nie, sal ons die rampspoed vermy wat hulle ongetwyfeld gaan tref.—Spreuke 1:22-27.
7. Waarom moet ons die woorde van Psalm 1:1 ter harte neem?
7 As ons versuim om die openingswoorde van Psalm 1 ter harte te neem, kan ons die geestelikheid verloor wat ons deur ’n studie van die Skrif verkry het. Trouens, ons kan dan van kwaad tot erger gaan. Hierdie agteruitgang kan begin as ons die raad van die goddeloses volg. Daarna assosieer ons dalk gereeld met hulle. Mettertyd kan ons selfs trouelose, afvallige spotters word. Dit is duidelik dat vriendskap met goddeloses ’n goddelose gees in ons kan laat wortelskiet en ons verhouding met Jehovah God kan vernietig (1 Korintiërs 15:33; Jakobus 4:4). Mag ons nooit toelaat dat dit met ons gebeur nie!
8. Wat sal ons help om ons gedagtes op geestelike dinge gerig te hou?
8 Gebed sal ons help om ons gedagtes op geestelike dinge gerig te hou en om vriendskap met goddeloses te vermy. “Moet julle oor niks kwel nie”, het Paulus geskryf, “maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak.” Die apostel het ons aangespoor om dinge te bedink wat waar, van ernstige belang, regverdig, kuis, lieflik is, waarvan goed gepraat word, wat deugsaam en lofwaardig is (Filippense 4:6-8). Laat ons in ooreenstemming met Paulus se raad optree en nooit tot die vlak van goddeloses daal nie.
9. Hoe probeer ons alle soorte mense help, hoewel ons goddelose gebruike vermy?
9 Hoewel ons goddelose gebruike verwerp, getuig ons nogtans taktvol vir ander, net soos toe die apostel Paulus met die Romeinse goewerneur Feliks gepraat het “oor regverdigheid en selfbeheersing en die komende oordeel” (Handelinge 24:24, 25; Kolossense 4:6). Ons verkondig die goeie nuus van die Koninkryk aan alle soorte mense, en ons behandel hulle vriendelik. Ons is vol vertroue dat diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, gelowiges sal word en behae in God se wet sal skep.—Handelinge 13:48.
Sy behae is in die wet van Jehovah
10. Wat kan ons doen sodat ons persoonlike studie ’n blywende indruk op ons verstand en hart kan maak?
10 Aangaande die gelukkige man sê die psalmis verder: “Sy behae is in die wet van Jehovah, en in sy wet lees hy dag en nag op gedempte toon” (Psalm 1:2). As God se knegte ‘is ons behae in die wet van Jehovah’. Wanneer ons persoonlike studie doen en peins, kan ons, wanneer moontlik, “op gedempte toon” lees, deur die woorde saggies uit te spreek. As ons dit doen wanneer ons ’n gedeelte van die Skrif lees, sal dit help om ’n blywende indruk op ons verstand en hart te maak.
11. Waarom moet ons die Bybel “dag en nag” lees?
11 “Die getroue en verstandige slaaf” moedig ons aan om die Bybel elke dag te lees (Matteus 24:45). Omdat ons ’n opregte begeerte het om beter vertroud te raak met Jehovah se boodskap vir die mensdom, lees ons heel moontlik die Bybel “dag en nag”—ja, selfs wanneer ons om die een of ander rede nie kan slaap nie. Petrus het ons aangespoor: “Ontwikkel soos pasgebore kindertjies ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort, sodat julle daardeur tot redding kan groei” (1 Petrus 2:1, 2). Skep jy behae daarin om die Bybel elke dag te lees en snags oor God se Woord en voornemens te peins? Die psalmis het.—Psalm 63:6.
12. Wat sal ons doen as ons behae skep in Jehovah se wet?
12 Ons ewige geluk hang daarvan af dat ons behae skep in God se wet. Dit is volmaak en regverdig, en daar is ’n groot beloning in die onderhouding daarvan (Psalm 19:7-11). Die dissipel Jakobus het geskryf: “Hy wat diep kyk in die volmaakte wet wat tot vryheid behoort en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ’n vergeetagtige hoorder nie maar ’n dader van die werk geword het, gelukkig wees deurdat hy dit doen” (Jakobus 1:25). As ons waarlik behae skep in Jehovah se wet, sal daar nie ’n dag verbygaan sonder dat ons aandag gee aan geestelike dinge nie. Ja, ons sal beweeg word om ‘die diep dinge van God te ondersoek’ en Koninkryksbelange eerste in ons lewe te stel.—1 Korintiërs 2:10-13; Matteus 6:33.
Hy word soos ’n boom
13-15. In watter sin kan ons soos ’n boom wees wat langs ’n goeie waterbron geplant is?
13 Die psalmis beskryf die regskape persoon verder en sê: “Hy sal beslis word soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat sy vrugte op sy tyd gee en waarvan die blare nie verwelk nie, en alles wat hy doen, sal suksesvol wees” (Psalm 1:3). Soos alle ander onvolmaakte mense ondervind ons as knegte van Jehovah probleme in die lewe (Job 14:1). Ons word dalk vervolg en ervaar ander beproewinge weens ons geloof (Matteus 5:10-12). Maar met God se hulp kan ons hierdie toetse met welslae verduur, net soos ’n gesonde boom kragtige winde kan weerstaan.
14 ’n Boom wat by ’n onuitputlike waterbron geplant is, verdroog nie in die hitte of gedurende ’n droogte nie. As ons godvresend is, ontvang ons krag van ’n onuitputlike Bron—Jehovah God. Paulus het op God staatgemaak vir hulp en kon sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom [Jehovah] wat my krag gee” (Filippense 4:13). Wanneer ons deur Jehovah se heilige gees gelei en geestelik onderskraag word, sal ons nie wegkwyn nie, dit wil sê ons sal nie onvrugbaar word of in ’n geestelik dooie toestand verval nie. Ons dra vrug in God se diens en openbaar ook die vrugte van sy gees.—Jeremia 17:7, 8; Galasiërs 5:22, 23.
15 Deur die Hebreeuse woordvorm te gebruik wat met “soos” vertaal word, tref die psalmis ’n vergelyking. Hy vergelyk twee dinge wat van mekaar verskil, maar wat ’n sekere eienskap in gemeen het. Mense en bome verskil van mekaar, maar die prag van ’n boom wat langs ’n goeie waterbron geplant is, het die psalmis klaarblyklik herinner aan die geestelike voorspoed van diegene wie se ‘behae in die wet van Jehovah is’. As ons behae skep in God se wet, kan ons dae soos dié van ’n boom word. Trouens, ons kan vir ewig lewe.—Johannes 17:3.
16. Waarom en in watter opsig sal ‘alles wat ons doen, suksesvol wees’?
16 Terwyl ons ’n regskape weg probeer volg, help Jehovah ons om die druk van beproewinge en probleme te verduur. Ons is vreugdevol en dra vrug in God se diens (Matteus 13:23; Lukas 8:15). ‘Alles wat ons doen, sal suksesvol wees’ omdat die hoofsaak vir ons is om Jehovah se wil te doen. Aangesien sy voornemens altyd sukses behaal en ons behae skep in sy gebooie, sal ons geestelik voorspoedig wees (Genesis 39:23; Josua 1:7, 8; Jesaja 55:11). Dit is selfs die geval wanneer ons teëspoed ondervind.—Psalm 112:1-3; 3 Johannes 2.
Dit lyk of die goddeloses voorspoedig is
17, 18. (a) Waarmee vergelyk die psalmis die goddeloses? (b) Waarom het goddeloses geen blywende veiligheid nie, selfs as hulle materieel voorspoedig is?
17 Hoe verskil die lot van die goddeloses tog nie van dié van die regverdiges nie! Dit lyk miskien of die goddeloses ’n tyd lank materieel voorspoedig is, maar hulle geniet nie geestelike voorspoed nie. Dit kom duidelik na vore in die psalmis se verdere woorde: “Die goddeloses is nie so nie, maar is soos die kaf wat deur die wind weggewaai word. Daarom sal die goddeloses nie opstaan in die oordeel, of sondaars in die vergadering van die regverdiges nie” (Psalm 1:4, 5). Let daarop dat die psalmis sê: “Die goddeloses is nie so nie.” Hy bedoel dat hulle nie soos godvrugtige mense is nie, wat so pas met vrugdraende, langlewende bome vergelyk is.
18 Selfs as die goddeloses materieel voorspoedig is, het hulle geen blywende veiligheid nie (Psalm 37:16; 73:3, 12). Hulle is soos die onredelike ryk man wat Jesus in ’n illustrasie genoem het toe iemand hom gevra het om ’n erfenisgeskil te besleg. Jesus het vir diegene wat daar was, gesê: “Hou julle oë oop en waak teen elke soort hebsug, want selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie.” Jesus het hierdie punt geïllustreer deur te vertel dat ’n sekere ryk man se land so ’n goeie opbrengs gelewer het dat hy beplan het om sy voorraadskure af te breek en groteres te bou waarin hy al sy goeie dinge kon versamel. Die man het beplan om dan te eet, te drink en vrolik te wees. Maar God het gesê: “Onredelike mens, vannag eis hulle jou siel van jou op. Wie gaan dan die dinge kry wat jy opgegaar het?” Jesus het sy punt op kragtige wyse tuisgebring deur by te voeg: “So gaan dit met die mens wat vir homself skatte vergaar, maar nie ryk is teenoor God nie.”—Lukas 12:13-21.
19, 20. (a) Beskryf die eertydse dors- en wanproses. (b) Waarom word die goddeloses met kaf vergelyk?
19 Die goddeloses is nie ‘ryk teenoor God’ nie. Daarom het hulle geensins meer veiligheid en stabiliteit as kaf, die dun omhulsel van graankorrels nie. Nadat graan in die ou tyd geoes is, is dit na ’n dorsvloer geneem, ’n gelyk oppervlak wat gewoonlik hooggeleë was. Diere is gebruik om sleë met skerp klip- of ystertande aan die onderkant oor die graan te trek om die halms op te breek en die kaf van die korrels los te maak. Daarna is ’n wanskop gebruik om dit alles op te tel en teen die wind in die lug te gooi (Jesaja 30:24). Die korrels het teruggeval op die dorsvloer, terwyl die wind die strooi eenkant toe laat val het en die kaf weggewaai het (Rut 3:2). Nadat die graan gesif is om klippies en dies meer te verwyder, was dit gereed om geberg of gemaal te word (Lukas 22:31). Maar die kaf was weg.
20 Net soos die graankorrels op die vloer geval het en bewaar is, maar die kaf weggewaai het, sal die regverdiges bly bestaan en die goddeloses verwyder word. Ons is beslis bly dat sulke kwaaddoeners binnekort vir altyd weg sal wees. Met hulle uit die weg geruim, sal mense wat behae skep in Jehovah se wet, grootliks geseën word. Ja, gehoorsame mense sal uiteindelik God se gawe van die ewige lewe ontvang.—Matteus 25:34-46; Romeine 6:23.
Die geseënde “weg van die regverdiges”
21. Hoe ‘neem Jehovah kennis van die regverdiges’?
21 Die eerste psalm sluit af met hierdie woorde: “Jehovah neem kennis van die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddeloses sal vergaan” (Psalm 1:6). Hoe ‘neem God kennis van die regverdiges’? Wel, as ons ’n regskape weg volg, kan ons seker wees dat ons hemelse Vader ons godvrugtige lewenswyse raaksien en ons as sy goedgekeurde knegte beskou. Op ons beurt kan en moet ons al ons sorge op hom werp, oortuig dat hy werklik vir ons omgee.—Esegiël 34:11; 1 Petrus 5:6, 7.
22, 23. Wat sal met die goddeloses en met die regverdiges gebeur?
22 “Die weg van die regverdiges” sal vir altyd bestaan, maar verstokte goddeloses sal vergaan weens Jehovah se ongunstige oordeel. En hulle “weg”, of lewenswandel, sal saam met hulle tot ’n einde kom. Ons kan vol vertroue wees dat Dawid se woorde vervul sal word: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie. Maar die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:10, 11, 29.
23 Watter geluk sal ons tog smaak as ons die voorreg ontvang om op ’n paradysaarde te lewe wanneer die goddeloses nie meer bestaan nie! Die sagmoediges en regverdiges sal dan ware vrede geniet omdat hulle altyd behae sal skep in “die wet van Jehovah”. Maar voor daardie tyd moet “die verordening van Jehovah” in werking gestel word (Psalm 2:7a). Die volgende artikel sal ons help om te sien wat daardie verordening is en wat dit vir ons en die hele mensdom sal beteken.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is ’n godvrugtige persoon gelukkig?
• Wat toon dat ons behae skep in Jehovah se wet?
• Hoe kan iemand soos ’n boom wees wat genoeg water kry?
• Hoe verskil die weg van die regverdiges van dié van die goddeloses?
[Prent op bladsy 11]
Gebed sal ons help om vriendskap met goddeloses te vermy
[Prent op bladsy 12]
Waarom is ’n regverdige persoon soos ’n boom?