Hoe om elke dag te laat tel
“TOON ons hoe om ons dae so te tel dat ons ’n wyse hart kan bekom” (Psalm 90:12). Dit was die nederige gebed van die Bybelskrywer Moses. Waarvoor het hy nou eintlik gevra? Moet ons ook so ’n biddende versoek rig?
In Ps 90 vers 10 het Moses die kort lewensduur van die mens betreur. By ’n ander geleentheid het hy die verklaring van Job neergeskryf, wat gesê het: “Die mens, uit ’n vrou gebore, lewe ’n kort rukkie en is sat van ontsteltenis” (Job 14:1). Dit is duidelik dat Moses pynlik bewus was van die kortstondigheid van onvolmaakte menselewe. Daarom het hy elke lewensdag as ’n kosbare gawe beskou. Moses het in hierdie versoek tot God sy begeerte uitgespreek om sy oorblywende dae verstandig te gebruik, op ’n manier wat sy Skepper sou behaag. Moet ons nie ook ons dae op ’n betekenisvolle manier probeer gebruik nie? As ons nou God se goedkeuring wil hê, sal ons ’n ernstige poging aanwend om dit te doen.
Daar was ’n bykomende faktor wat Moses sowel as Job aangespoor het, ’n faktor wat ons ook moet aanspoor. Albei hierdie godvrugtige mans het uitgesien na ’n toekomstige beloning—lewe op aarde onder beter toestande (Job 14:14, 15; Hebreërs 11:26). Dan sal niemand se goeie werke deur die dood kortgeknip word nie. Ons Skepper se voorneme is dat getroue mense vir ewig op ’n paradysaarde lewe (Jesaja 65:21-24; Openbaring 21:3, 4). Dit kan ook jou vooruitsig wees as jy ‘jou dae so tel dat jy ’n wyse hart kan bekom’.