“Dié wat na die see afgaan in skepe”
’N BRONSBEELD van ’n stuurman wat vasbeslote is om sy skip deur ’n storm te stuur, staan met sy voorkant gekeer na die buitehawe van Gloucester, Massachusetts, VSA. Die standbeeld is opgerig ter gedagtenis aan die duisende vissers van Gloucester wat op die see gesterf het. Op die standbeeld se voetstuk en ’n gedenkplaat daar naby staan die woorde van Psalm 107:23, 24: “Dié wat na die see afgaan in skepe, wat handel dryf op die groot waters; hulle sien die werke van die Here en sy wonders in die dieptes.”—King James Version.
Visvangs op die ryk ondersese banke van die Atlantiese Oseaan is gevaarlik. Sover bekend het tot 5 368 manne van Gloucester, wat nou ’n bevolking van ongeveer 30- 000 het, deur die jare heen hulle lewe verloor terwyl hulle op die see visgevang het. Die gedenkplaat sê: “Party is deur die huilende winde en berghoë golwe van ’n rampspoedige noordooster oorval. Party het in eensaamheid gesterf toe hulle platboomskuitjie afgedwaal het van die skoener wat hulle na die banke toe geneem het. Party skepe het in storms teen mekaar gebots en tragies gesink. Ander het gesink nadat stoombote in vaarwater hulle getref het.”
Die gedenkteken lewer droewige getuienis van die harde werk en gevare waarmee vissers deur die eeue heen te kampe gehad het. Stel jou voor hoeveel trane van wanhoop oor vermiste mans, vaders, broers en seuns gestort is. Maar Jehovah God vergeet nie die weduwees, die wese of diegene wat hulle lewe op die see verloor het nie. Die apostel Johannes het hierdie toekomstige gebeurtenis gemeld: “Die see het die dooies daarin gegee, en die dood en Hades het die dooies in hulle gegee” (Openbaring 20:13). Dié wat ‘na die see afgegaan het in skepe’, sal inderdaad wonderlike “werke van die Here” sien wanneer hulle opgewek word.