Wilgerbome—’n veelsydige boomfamilie
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK
DIE een is slank en regop, met ’n trotse voorkoms. Die ander een staan gebuk, met ’n kop wat laag hang. Maar ten spyte van die verskille in hulle voorkoms, is hulle eintlik nou verwant aan mekaar. Wat is hulle? Bome—die populier en die treurwilg. Albei is lede van die wilgerfamilie.
Wilgerbome word dikwels langs die oewers van riviere en vlak strome gevind. Hier in die Tsjeggiese Republiek floreer hulle in moerasse, waar hulle vinnig uit klein steggies spruit. Wilgerbome kan ’n hoogte van tot 30 meter bereik. Hulle kan smal blare hê wat sierlik van lang, dun takke hang. Of, soos in die geval van die blinkwilge en die katwilge, het hulle redelik breë blare.
Hoewel daar meer as 350 soorte wilge- en populierbome is, is daar een in die besonder wat die verbeelding dikwels aangryp—die treurwilg. ’n Ander soort, wat die blomwilg genoem word, is bekend weens sy wollerige blomtrosse, of katjies, wat uitloop voordat die blare gevorm word. Daar word gesê dat die lente op pad is wanneer hierdie klein trossies te voorskyn kom.
’n Groot familie
Populiere is ’n bekende gesig in Boheme, die gebied waar Praag, die Tsjeggiese hoofstad, geleë is. Daar is minstens 35 populiersoorte, en almal van hulle behoort tot die wilgerfamilie. Die swartpopulier is moontlik die algemeenste en word dikwels langs strome in die vogtige woude van Boheme aangetref. Een variëteit van die swartpopulier wat as die Lombardiese of Italiaanse populier bekend staan, is ’n slank boom met takke wat opwaarts wys en naby die stam groei. Hierdie pragtige boom kan ’n hoogte van 35 meter bereik, so hoog soos ’n gebou met 11 verdiepings! Italiaanse populiere kan ook langs baie paaie gevind word, waar hulle die plattelandse landskap versier, veral in die herfs wanneer die blare heldergeel word.
Espe is ook ’n soort populier. Hulle is nie so hoog nie, en hulle toppe is ietwat minder ruig. Espe het ’n ander kenmerk—die sagste windjie laat hulle blare ritsel.
Wilgerbome in die Bybel?
Die populierboom groei ook in die Midde-Ooste. Die Bybel beskryf hoe die Israeliete hulle harpe op populierbome gehang het toe hulle ballinge in Babilon was (Psalm 137:2). Waarom het hulle dit gedoen? Hoewel die harp ’n instrument was waarmee God geloof is, wou die bedroefde Israeliete nie tydens hierdie tyd van teëspoed op hulle harpe speel nie (Jesaja 24:8, 9). God se Woord identifiseer ook die populier as een van die bome waarvan die takke gebruik kon word wanneer hutte tydens die Fees van die Insameling gebou is (Levitikus 23:40). Die Bybelboek Job sê dat die vreeslose seekoei in strome woon en dat “die wilgerbome [of populiere, volgens ander vertalings] by die stroom hom beskerm”.—Job 40:22, The Jerusalem Bible.
Vandag word populiere sowel as wilgerbome vir verskillende kommersiële produkte gebruik. Populiere word gewoonlik vir die vervaardiging van fineer, laaghout, kratte, kartondose en verskeie ander papierprodukte gebruik. Die wilgerboom word ook op prys gestel vir sy nuttigheid. Vakmanne maak gevlegte mandjies en meubels van sy buigbare takke. Wilgerbome is voorwaar ’n veelsydige boomfamilie!
[Prent op bladsy 10]
Blare van die esp
[Prent op bladsy 10]
Treurwilg
[Prent op bladsy 10]
Lombardiese populier
[Prent op bladsy 10]
Blomwilg
[Prent op bladsy 10]
Swartpopulier