Ons is “wonderbaar gemaak”
“Ek [is] op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak.”—PSALM 139:14.
1. Waarom skryf talle denkende mense die aarde se wonders aan God toe?
DIE natuur is vol wonderlike skeppingswerke. Hoe het dit ontstaan? Party glo dat die antwoord gevind kan word sonder inagneming van ’n intelligente Skepper. Ander meen dat ons vermoë om die natuur te verstaan, beperk word as ’n Skepper eenvoudig buite rekening gelaat word. Hulle glo dat lewensvorme op die aarde gans te kompleks, te divers en, ’n mens kan byvoeg, te wonderlik is om toevallig te kon ontstaan het. Vir baie mense, sommige wetenskaplikes inkluis, toon die bewyse dat die heelal ’n wyse, magtige en welwillende Maker gehad het.a
2. Wat het Dawid beweeg om Jehovah te loof?
2 Iemand wat oortuig was dat ’n Maker lof verdien vir Sy wonderlike skeppingswerke, was koning Dawid van eertydse Israel. Hoewel Dawid lank voor vandag se wetenskaplike eeu gelewe het, het hy gesien dat hy omring is deur wonderlike voorbeelde van God se skeppingswerk. Dawid hoef maar net na sy eie liggaam te gekyk het om diepe ontsag vir God se skeppingsvermoë te hê. “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is”, het hy geskryf. “U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet.”—Psalm 139:14.
3, 4. Waarom is dit belangrik dat elkeen van ons ernstig nadink oor Jehovah se werke?
3 Ernstige nadenke het Dawid tot hierdie sterk oortuiging laat kom. Vandag is skoolleerplanne en die media vol geloofondermynende teorieë oor die mens se oorsprong. As ons geloof soos dié van Dawid wil hê, moet ons ook ernstig nadink. Ons kan nie bekostig dat ander vir ons dink nie, veral nie oor fundamentele kwessies soos die bestaan en rol van ’n Skepper nie.
4 Wat meer is, bepeinsing oor Jehovah se werke verdiep ons waardering vir hom en gee ons vertroue in sy beloftes vir die toekoms. En dit kan ons dan beweeg om Jehovah selfs beter te leer ken en hom te dien. Kom ons kyk derhalwe hoe die moderne wetenskap Dawid se gevolgtrekking bevestig dat ons “wonderbaar gemaak” is.
Ons wonderlike fisiese ontwikkeling
5, 6. (a) Hoe het ons lewe begin? (b) Watter rol speel ons niere?
5 “U het my niere voortgebring; u het my afgeskerm gehou in die skoot van my moeder” (Psalm 139:13). Ons lewe het in ons moeder se liggaam begin as ’n enkele sel wat kleiner is as die punt aan die einde van hierdie sin. Daardie mikroskopiese sel was uiters kompleks—’n klein chemiese laboratorium! Dit het vinnig gegroei. Teen die einde van jou tweede maand in die baarmoeder was jou hooforgane reeds gevorm. Dit het jou niere ingesluit. Toe jy gebore is, was jou niere gereed om jou bloed te filtreer—deur gifstowwe en oortollige water te verwyder maar nuttige stowwe terug te hou. As al twee jou niere gesond is, filtreer hulle elke 45 minute die water in jou bloed—omtrent vyf liter in ’n volwassene!
6 Jou niere help ook om die mineraalinhoud en die suurgehalte van jou bloed te reguleer, asook jou bloeddruk. Hulle verrig talle ander noodsaaklike funksies, soos om vitamien D om te sit in ’n aktiewe vorm wat nodig is vir behoorlike beenontwikkeling en om die hormoon eritropoiëtien te vervaardig, wat die produksie van rooibloedselle in jou bene stimuleer. Geen wonder die niere is al “die meesterchemici van die liggaam” genoem nie!b
7, 8. (a) Beskryf die vroeë groei van ’n ongebore baba. (b) In watter sin word ’n ontwikkelende baba “in die diepste dele van die aarde geweef”?
7 “My gebeente was nie vir u verborge toe ek in die geheim gemaak is, toe ek in die diepste dele van die aarde geweef is nie” (Psalm 139:15). Die oorspronklike sel het verdeel, en die nuwe selle het aanhou verdeel. Weldra het die selle begin differensieer, of spesialiseer, om senuselle, spierselle, velselle, ensovoorts te word. Dieselfde soort selle het saamgegroepeer om weefsel en daarna organe te vorm. Byvoorbeeld, gedurende die derde week ná bevrugting het jy ’n skelet begin ontwikkel. Teen die tyd dat jy net sewe weke oud en omtrent 2,5 sentimeter lank was, was al 206 bene wat jy as volwassene sou hê, reeds daar in ’n vroeë stadium van ontwikkeling, hoewel hulle nog nie harde been geword het nie.
8 Hierdie verstommende ontwikkelingsproses het in jou moeder se baarmoeder plaasgevind, waar dit vir mense-oë verborge was, asof dit diep in die aarde begrawe was. Ja, die mens moet nog baie leer oor hoe ons ontwikkel. Wat aktiveer byvoorbeeld sekere gene in jou selle om die proses van differensiasie aan die gang te sit? Die wetenskap sal dalk uiteindelik uitvind, maar soos Dawid vervolgens gesê het, het ons Maker—Jehovah—dit nog altyd ten volle verstaan.
9, 10. Hoe is die vorming van ’n embrio se dele “opgeskrywe” in God se “boek”?
9 “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe, met betrekking tot die dae toe hulle gevorm is en nog nie een onder hulle daar was nie” (Psalm 139:16). Jou eerste sel het die volledige plan vir jou hele liggaam bevat. Hierdie plan het jou ontwikkeling gerig gedurende jou nege maande in die baarmoeder voor geboorte en toe tydens die meer as twee dekades terwyl jy tot volwassenheid gegroei het. Gedurende hierdie tyd het jou liggaam deur baie stadiums gegaan, wat almal gerig is deur die inligting wat in daardie oorspronklike sel geprogrammeer is.
10 Dawid het niks van selle en gene geweet nie, aangesien hy nie eens ’n mikroskoop gehad het nie. Maar hy het tereg onderskei dat die ontwikkeling van sy eie liggaam van vooruitbeplanning getuig. Dawid het dalk iets omtrent die ontwikkeling van embrio’s geweet, en daarom kon hy redeneer dat elke stap volgens ’n reeds bestaande ontwerp en tydrooster moet plaasvind. In digterlike taal het hy hierdie ontwerp beskryf as iets wat “opgeskrywe” is in God se “boek”.
11. Hoe het ons ons fisiese eienskappe gekry?
11 Vandag weet ons dat eienskappe wat jy van jou ouers en voorouers geërf het—soos jou lengte, gelaatstrekke, oog- en haarkleur en duisende ander eienskappe—deur jou gene bepaal is. Elkeen van jou selle bevat tienduisende gene, en elke geen is deel van ’n lang ketting wat uit DNS (deoksiribonukleïensuur) bestaan. Instruksies vir die vorming van jou liggaam is in die chemiese struktuur van jou persoonlike DNS “geskryf”. Elke keer wanneer jou selle verdeel—om nuwe selle te vorm of om ou selle te vervang—dra jou DNS hierdie instruksies oor, sodat jy aan die lewe bly en jou basiese voorkoms behou. Wat ’n uitsonderlike voorbeeld van die krag en wysheid van ons hemelse Maker!
Ons unieke verstand
12. Wat in die besonder onderskei mense van diere?
12 “Hoe kosbaar is u gedagtes dus vir my! O God, hoeveel beloop die grootse som daarvan tog nie! As ek hulle probeer tel, is hulle meer as selfs die sandkorrels” (Psalm 139:17, 18a). Diere is ook wonderbaar gemaak, en party besit sekere sintuie en vermoëns wat dié van mense oortref. Maar God het die mens verstandelike vermoëns gegee wat dié van enige dier ver oortref. “Al kom ons as mense in baie opsigte met ander spesies ooreen, is ons uniek onder die aarde se lewensvorme wat ons spraak- en denkvermoë betref”, sê ’n wetenskaphandboek. “Ons is ook uniek wat ons onversadigbare nuuskierigheid oor onsself betref: Hoe is ons fisies saamgestel? Hoe is ons gevorm?” Dit is vrae waaroor Dawid ook nagedink het.
13. (a) Hoe kon Dawid oor God se gedagtes peins? (b) Hoe kan ons Dawid se voorbeeld volg?
13 Bowenal het ons, in teenstelling met diere, die unieke vermoë om oor God se gedagtes te peins.c Hierdie spesiale gawe is een van die opsigte waarin ons “na God se beeld” gemaak is (Genesis 1:27). Dawid het hierdie gawe goed gebruik. Hy het gepeins oor die bewyse van God se bestaan en Sy goeie eienskappe wat op die aarde om hom weerspieël word. Dawid het ook die vroeë boeke van die Heilige Skrif gehad, waarin God dinge oor homself en sy werke openbaar. Hierdie geïnspireerde geskrifte het Dawid gehelp om God se gedagtes, persoonlikheid en voorneme te verstaan. Bepeinsing oor die Skrif, oor die skepping en oor God se handelinge met hom het Dawid beweeg om sy Maker te loof.
Wat geloof behels
14. Waarom hoef ons nie alles omtrent God te weet om geloof in hom te hê nie?
14 Hoe meer Dawid oor die skepping en die Skrif gepeins het, hoe meer het hy besef dat hy nooit die volle omvang van God se kennis en vermoë sou kon begryp nie (Psalm 139:6). Dieselfde geld vir ons. Ons sal nooit alles omtrent al God se skeppingswerke verstaan nie (Prediker 3:11; 8:17). Maar God het genoeg kennis deur die Skrif en in die natuur “openbaar gemaak” om waarheidsoekers, ongeag in watter tydperk hulle lewe, in staat te stel om geloof op te bou wat op bewyse berus.—Romeine 1:19, 20; Hebreërs 11:1, 3.
15. Lig toe hoe geloof verband hou met ons verhouding met God.
15 Om geloof te hê, behels meer as om bloot te erken dat lewe en die heelal ’n intelligente Bron moet hê. Dit sluit vertroue in Jehovah God as ’n persoon in—’n persoon wat wil hê dat ons hom moet leer ken en ’n goeie verhouding met hom moet behou (Jakobus 4:8). Ons kan aan die geloof en vertroue dink wat ’n mens in ’n liefdevolle vader stel. As ’n skeptiese persoon dit bevraagteken of jou vader jou werklik in ’n krisis sal help, sal jy hom dalk nie kan oortuig dat jou vader betroubaar is nie. Maar as jy uit eie ondervinding tallose bewyse van jou vader se goeie karakter het, kan jy die vertroue hê dat hy jou nie in die steek sal laat nie. Wanneer ons Jehovah leer ken deur die Skrif te bestudeer, oor die skepping te peins en sy hulp in antwoord op ons gebede te ervaar, beweeg dit ons eweneens om op hom te vertrou. Dit wek by ons die begeerte om nog meer van hom te leer en om hom vir ewig uit onselfsugtige liefde en toegewydheid te loof. Dit is die edelste doel wat enigiemand kan nastreef.—Efesiërs 5:1, 2.
Soek ons Maker se leiding!
16. Wat kan ons leer uit Dawid se hegte verhouding met Jehovah?
16 “Deurvors my, o God, en ken my hart. Ondersoek my, en ken my verontrustende gedagtes, en kyk of daar in my enigsins ’n pynlike weg is, en lei my op die weg van onbepaalde tyd” (Psalm 139:23, 24). Dawid het geweet dat Jehovah hom reeds deur en deur ken—sy Maker kon alles sien wat hy gedink, gesê of gedoen het (Psalm 139:1-12; Hebreërs 4:13). Hierdie intieme kennis wat God van hom gehad het, het Dawid veilig laat voel, net soos ’n klein kindjie veilig voel in die arms van sy liefdevolle ouers. Dawid het hierdie hegte verhouding met Jehovah gekoester en sy bes gedoen om dit te behou deur diep oor Sy werke na te dink en tot Hom te bid. Trouens, baie van Dawid se psalms—insluitende Psalm 139—is in werklikheid gebede wat getoonset is. Bepeinsing en gebed kan ons ook help om nader aan Jehovah te kom.
17. (a) Waarom wou Dawid hê dat Jehovah sy hart moet ondersoek? (b) Hoe raak die manier waarop ons ons wilsvryheid gebruik, ons lewe?
17 Omdat ons na God se beeld gemaak is, is ons begaaf met wilsvryheid. Ons kan kies om goed of kwaad te doen. Met hierdie vryheid kom sedelike aanspreeklikheid. Dawid wou nie onder die goddeloses getel word nie (Psalm 139:19-22). Hy wou nie pynlike foute maak nie. Nadat Dawid oor Jehovah se allesomvattende kennis gepeins het, het hy God dus nederig gevra om die man wat hy innerlik is, te ondersoek en hom te rig op die weg wat na die lewe lei. God se regverdige sedelike standaarde is op almal van toepassing; ons moet dus ook die regte keuses maak. Jehovah spoor ons almal aan om hom te gehoorsaam. As ons dit doen, bring dit vir ons sy guns en baie voordele mee (Johannes 12:50; 1 Timoteus 4:8). As ons elke dag met Jehovah wandel, help dit ons om innerlike kalmte aan te kweek, selfs wanneer ons met ernstige probleme te kampe het.—Filippense 4:6, 7.
Volg ons wonderlike Maker!
18. Tot watter gevolgtrekking het Dawid gekom toe hy oor die skepping gepeins het?
18 Toe Dawid jonk was, was hy dikwels buite, waar hy die kuddes opgepas het. Die skape het hulle koppe laat sak om te wei, maar hy het sy oë na die hemele opgeslaan. In die donkerte van die nag het Dawid nagedink oor die grootsheid van die heelal en wat dit alles beteken. “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend; en die uitspansel verkondig die werk van sy hande”, het Dawid geskryf. “Die een dag na die ander dag laat spraak uitborrel, en die een nag na die ander nag openbaar kennis” (Psalm 19:1, 2). Dawid het begryp dat hy die Een wat alles so wonderbaar gemaak het, moes soek en volg. Ons moet dit ook doen.
19. Watter lesse kan jonk en oud leer uit die feit dat ons “wonderbaar gemaak” is?
19 Dawid was ’n goeie voorbeeld van iemand wat die raad uitgeleef het wat sy seun Salomo later aan jongmense gegee het: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid . . . Vrees die ware God en onderhou sy gebooie. Want dit is die hele verpligting van die mens” (Prediker 12:1, 13). Dawid het reeds as ’n jongmens besef dat hy “wonderbaar gemaak” is. Die feit dat hy ooreenkomstig hierdie begrip opgetree het, het vir hom dwarsdeur sy lewe groot voordele meegebring. As ons, jonk en oud, ons Grootse Skepper loof en dien, sal ons teenswoordige en toekomstige lewe genotvol wees. Die Bybel belowe aangaande diegene wat na aan Jehovah bly en volgens sy regverdige weë lewe: “Hulle sal nog in die grysheid bly floreer, vet en vars sal hulle bly, om te verkondig dat Jehovah reg is” (Psalm 92:14, 15). En ons sal die hoop hê om ons Maker se wonderbare werke vir ewig te geniet.
[Voetnote]
a Sien die Ontwaak! van 22 Junie 2004, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Sien ook “Jou niere—’n lewensonderhoudende filter”, in die Ontwaak! van 8 Augustus 1997.
c Dawid se woorde in Psalm 139:18b beteken blykbaar dat hy, selfs as hy Jehovah se gedagtes die hele dag lank sou tel totdat hy saans aan die slaap raak, nog sou hê om te tel wanneer hy in die oggend wakker word.
Kan jy verduidelik?
• Hoe toon die manier waarop ’n embrio ontwikkel dat ons “wonderbaar gemaak” is?
• Waarom moet ons oor Jehovah se gedagtes peins?
• Hoe hou geloof verband met ons verhouding met Jehovah?
[Prente op bladsy 23]
’n Baba se ontwikkeling in die baarmoeder volg ’n vasgestelde ontwerp
DNS
[Erkenning]
Ongebore fetus: Lennart Nilsson
[Prent op bladsy 24]
Soos kinders wat ’n liefdevolle vader vertrou, het ons vertroue in Jehovah
[Prent op bladsy 25]
Bepeinsing oor Jehovah se handewerk het Dawid beweeg om Hom te loof