Hou Jehovah voortdurend voor jou
“Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel.”—PS. 16:8.
1. Watter uitwerking kan Bybelverhale op ons hê?
JEHOVAH se geskrewe Woord bevat ’n uitstekende verslag van God se handelinge met die mensdom. Dit meld baie mense wat ’n rol gespeel het in die verwesenliking van God se voorneme. Hulle woorde en dade is natuurlik nie in die Bybel opgeteken bloot as verhale vir ons genot nie. Inteendeel, hierdie verslae kan ons nader aan God laat kom.—Jak. 4:8.
2, 3. Hoe moet ons die woorde van Psalm 16:8 verstaan?
2 Ons kan almal baie leer uit die ondervindinge van welbekende Bybelkarakters—Abraham, Sara, Moses, Rut, Dawid, Ester, die apostel Paulus en ander. Maar ons kan ook baat vind by verslae oor minder bekende persone. Bepeinsing oor Bybelverhale kan ons help om op te tree in ooreenstemming met die psalmis se woorde: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Ps. 16:8). Hoe moet ons hierdie woorde verstaan?
3 ’n Soldaat het gewoonlik sy swaard met sy regterhand hanteer, wat beteken het dat daardie kant nie beskerm is deur die skild wat hy in sy linkerhand gehou het nie. Maar as ’n vriend naby hom aan sy regterkant geveg het, het dit hom beskerm. As ons Jehovah in gedagte hou en sy wil doen, sal hy ons beskerm. Kom ons kyk dan hoe verslae in die Bybel ons geloof kan versterk, sodat ons “Jehovah altyd voor [ons] hou”.—Byington.
Jehovah verhoor ons gebede
4. Meld ’n skriftuurlike voorbeeld wat toon dat God gebede verhoor.
4 As ons Jehovah voor ons hou, sal hy ons gebede verhoor (Ps. 65:2; 66:19). Ons het bewys hiervan in die geval van Abraham se oudste kneg, waarskynlik Eliëser. Abraham het hom na Mesopotamië gestuur om ’n godvresende vrou vir Isak te vind. Eliëser het vir goddelike leiding gebid en daardie leiding herken toe Rebekka sy kamele water gegee het. Omdat hy ernstig gebid het, het Eliëser die een gevind wat Isak se geliefde vrou geword het (Gen. 24:12-14, 67). Abraham se kneg was weliswaar op ’n spesiale sending. Maar moet ons nie net soveel vertroue hê dat Jehovah ons gebede verhoor nie?
5. Waarom kan ons sê dat selfs ’n kort, stille gebed tot Jehovah doeltreffend kan wees?
5 Soms is dit dalk vir ons nodig om vinnig tot God te bid vir hulp. By een geleentheid het die Persiese koning Artasasta opgelet dat sy skinker Nehemia droefgeestig is. “Wat verlang jy?”, het die koning gevra. “Dadelik het [Nehemia] tot die God van die hemel gebid.” Hierdie waarskynlik stille gebed van Nehemia kon nie lank gewees het nie. Tog het God dit verhoor, want die koning het Nehemia sy steun gegee om die mure van Jerusalem te herbou. (Lees Nehemia 2:1-8.) Ja, selfs ’n kort, stille gebed kan doeltreffend wees.
6, 7. (a) Watter voorbeeld het Epafras in verband met gebed gestel? (b) Waarom moet ons vir ander bid?
6 Ons word aangespoor om ‘vir mekaar te bid’, hoewel ons nie altyd onmiddellik bewys sien dat hierdie gebede verhoor word nie (Jak. 5:16). Epafras, “’n getroue bedienaar van die Christus”, het ernstig gebid vir dié wat in die geloof aan hom verwant was. Paulus het uit Rome geskryf en gesê: “Epafras, wat uit julle [die Kolossense se] midde is, ’n slaaf van Christus Jesus, stuur vir julle groete en span hom altyd in vir julle in sy gebede, sodat julle uiteindelik in volkomenheid en met vaste oortuiging in die hele wil van God kan staan. Ek getuig inderdaad van hom dat hy groot moeite doen vir julle en vir dié in Laodisea en vir dié in Hiërapolis.”—Kol. 1:7; 4:12, 13.
7 Kolosse, Laodisea en Hiërapolis was stede in dieselfde gebied van Klein-Asië. Christene in Hiërapolis het tussen aanbidders van die godin Kubele gewoon, dié in Laodisea is deur materialisme bedreig, en die Kolossense het met die gevaar van mensefilosofie te kampe gehad (Kol. 2:8). Dit is geen wonder dat Epafras, wat van Kolosse afkomstig was, ‘hom ingespan het in sy gebede’ vir gelowiges in daardie stad nie! Die Bybel sê nie hoe die gebede van Epafras verhoor is nie, maar hy het nie opgehou om vir medegelowiges te bid nie; en ons moet ook nie. Hoewel ons ons nie “met ander se sake bemoei” nie, weet ons miskien van ’n familielid of ’n vriend wie se geloof swaar beproef word (1 Pet. 4:15). Hoe gepas sal dit tog wees om privaat vir hom te bid! Paulus is deur die smekinge van ander gehelp, en ons gebede kan ook grootliks help.—2 Kor. 1:10, 11.
8. (a) Hoe weet ons dat die ouer manne van Efese besef het dat gebed belangrik is? (b) Wat moet ons gesindheid wees ten opsigte van gebed tot God?
8 Beskou ander ons as manne en vroue van gebed? Nadat Paulus met die ouer manne van Efese vergader het, “het hy saam met hulle almal neergekniel en gebid”. Toe het daar “’n groot gehuil onder hulle almal ontstaan, en hulle het Paulus om die hals geval en hom teer gesoen, want hulle was veral bedroef oor die woord wat hy gespreek het, dat hulle sy gesig nie meer sou sien nie” (Hand. 20:36-38). Ons weet nie wat die name van al daardie ouer manne was nie, maar dit is duidelik dat hulle besef het dat gebed belangrik is. Ons moet beslis die voorreg om tot God te bid, waardeer en ‘lojale hande ophef’ in geloof dat ons hemelse Vader ons sal verhoor.—1 Tim. 2:8.
Gehoorsaam God ten volle
9, 10. (a) Watter voorbeeld het die dogters van Selofhad gestel? (b) Hoe kan die gehoorsaamheid van Selofhad se dogters ’n ongetroude Christen se keuse van ’n huweliksmaat beïnvloed?
9 As ons Jehovah voortdurend in gedagte hou, sal dit ons help om hom te gehoorsaam, en ons sal gevolglik seëninge maai (Deut. 28:13; 1 Sam. 15:22). Dit vereis ’n gehoorsame gees. Beskou die gesindheid van vyf vleeslike susters, die dogters van Selofhad, wat in Moses se dag gelewe het. Onder die Israeliete het seuns gewoonlik die erfdeel van hulle vader ontvang. Die man Selofhad het geen seuns gehad toe hy gesterf het nie, en Jehovah het beveel dat hierdie vyf vroue die hele erfdeel moet ontvang—op een voorwaarde. Hulle moes met manne uit die stam Manasse trou sodat die eiendom wat hulle geërf het, in dieselfde stam sou bly.—Num. 27:1-8; 36:6-8.
10 Selofhad se dogters het geloof gehad dat sake goed sou afloop as hulle God gehoorsaam. “Net soos Jehovah Moses beveel het, so het die dogters van Selofhad gedoen”, sê die Bybel. “Gevolglik het Magla, Tirsa en Hogla en Milka en Noa, die dogters van Selofhad, die vrouens geword van die seuns van hulle vader se broers. Hulle het die vrouens geword van manne uit die families van die kinders van Manasse, die seun van Josef, sodat hulle erfdeel by die stam van die familie van hulle vader kon bly” (Num. 36:10-12). Hierdie gehoorsame vroue het gedoen wat Jehovah beveel het (Jos. 17:3, 4). Met soortgelyke geloof gehoorsaam geestelik volwasse ongetroude Christene God deur “net in die Here” te trou.—1 Kor. 7:39.
11, 12. Hoe het Kaleb getoon dat hy vertroue in God het?
11 Ons moet Jehovah ten volle gehoorsaam, soos die Israeliet Kaleb (Deut. 1:36). Nadat Israel in die 16de eeu v.G.J. uit Egipte verlos is, het Moses 12 manne gestuur om Kanaän te verken, maar net 2 van die spioene—Kaleb en Josua—het die volk aangespoor om volkome op God te vertrou en die land binne te gaan (Num. 14:6-9). Sowat vier dekades later het Josua en Kaleb nog steeds gelewe en Jehovah volkome gevolg, en God het Josua gebruik om die Israeliete in die Beloofde Land in te lei. Maar die tien spioene wat ’n gebrek aan geloof gehad het, het blykbaar gedurende Israel se 40 jaar lange trek deur die wildernis gesterf.—Num. 14:31-34.
12 As ’n bejaarde oorlewende van Israel se ondervinding in die wildernis kon Kaleb voor Josua staan en sê: “Ek het Jehovah my God volkome gevolg.” (Lees Josua 14:6-9.) Die 85-jarige Kaleb het gevra dat die bergstreek wat God hom beloof het, aan hom gegee word, al was dit bewoon deur vyande in hulle groot versterkte stede.—Jos. 14:10-15.
13. Wat moet ons ondanks ons beproewinge doen om geseën te word?
13 Soos die getroue en gehoorsame Kaleb, sal ons goddelike steun ontvang as ons ‘Jehovah volkome volg’. As ons voor groot struikelblokke te staan kom, sal ons geseën word as ons ‘Jehovah volkome volg’. Maar om dit dwarsdeur ons lewe te doen, soos Kaleb, kan ’n uitdaging wees. Hoewel koning Salomo baie goed begin het, het sy vrouens sy hart laat afwyk om valse gode op sy oudag te dien, en “hy het Jehovah nie volkome gevolg soos sy vader Dawid nie” (1 Kon. 11:4-6). Mag ons, ongeag voor watter beproewinge ons te staan kom, God altyd ten volle gehoorsaam en hom voortdurend voor ons hou.
Vertrou altyd op Jehovah
14, 15. Wat het jy uit Naomi se ondervindinge geleer oor die belangrikheid daarvan om op God te vertrou?
14 Ons moet op God vertrou veral wanneer ons terneergedruk is omdat ons toekoms donker lyk. Dink aan die bejaarde Naomi, wat haar man en haar twee seuns aan die vyand, die dood, afgestaan het. Toe sy uit Moab na Juda teruggekeer het, het sy droewig gesê: “Moet my nie Naomi [“My aangenaamheid”, vtn. in NW] noem nie. Noem my Mara [“Bitter”, vtn. in NW], want die Almagtige het dit vir my baie bitter gemaak. Ek was vol toe ek gegaan het, en met leë hande het Jehovah my laat terugkeer. Waarom sou julle my Naomi noem, terwyl dit Jehovah is wat my verneder het en die Almagtige wat rampspoed oor my gebring het?”—Rut 1:20, 21.
15 Wanneer ons die boek Rut noukeurig lees, sien ons dat Naomi, hoewel sy bedroef was, op Jehovah bly vertrou het. En hoe het dinge tog vir haar verander! Naomi se weduwee-skoondogter Rut het die vrou van Boas geword en aan ’n seun geboorte geskenk. Naomi het die kind se versorgster geword, en die verslag sê: “Die buurvroue [het] hom ’n naam gegee en gesê: ‘’n Seun is vir Naomi gebore.’ En hulle het hom Obed begin noem. Hy is die vader van Isai, Dawid se vader” (Rut 4:14-17). Wanneer Naomi ’n opstanding op aarde ontvang, sal sy uitvind dat Rut, wat ook daar sal wees, ’n voorouer van Jesus, die Messias, geword het (Matt. 1:5, 6, 16). Soos Naomi, kan ons nie seker wees hoe negatiewe situasies sal afloop nie. Laat ons dus altyd op God vertrou, net soos ons in Spreuke 3:5, 6 vermaan word: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”
Steun op heilige gees
16. Hoe het God se heilige gees sekere ouer manne in eertydse Israel gehelp?
16 As ons Jehovah voortdurend voor ons hou, sal hy ons deur middel van sy heilige gees lei (Gal. 5:16-18). God se gees het gerus op die 70 ouer manne wat gekies is om Moses te help om “die las van die volk [Israel] te dra”. Net Eldad en Medad word by name genoem, maar die gees het hulle almal in staat gestel om hulle pligte uit te voer (Num. 11:13-29). Hulle was ongetwyfeld bekwaam, godvresend, betroubaar en eerlik, soos dié wat vroeër gekies is (Eks. 18:21). Hierdie eienskappe word vandag deur Christen- ouer manne geopenbaar.
17. Watter rol het Jehovah se heilige gees gespeel in die oprigting van die tabernakel?
17 Jehovah se heilige gees het ’n belangrike rol gespeel in die oprigting van die tabernakel in die wildernis. Jehovah het Besaleël aangestel as die hoofvakman en -bouer van die tabernakel en het beloof om “hom met die gees van God [te] vervul wat wysheid en begrip en kennis en elke soort vakmanskap betref” (Eks. 31:3-5). Manne wat “wys van hart” was, het saam met Besaleël en sy helper Oholiab gewerk om hierdie wonderlike toewysing uit te voer. Jehovah se gees het ook mense wat gewillig van hart was, beweeg om ruimhartige bydraes te gee (Eks. 31:6; 35:5, 30-34). Hierdie selfde gees beweeg God se hedendaagse knegte om alles in hulle vermoë te doen om Koninkryksbelange te bevorder (Matt. 6:33). Ons het moontlik sekere vaardighede, maar ons moet vir heilige gees bid en toelaat dat dit ons lei as ons die werk wil volbring wat Jehovah sy volk in ons dag gegee het.—Luk. 11:13.
Wees altyd eerbiedig teenoor Jehovah van die Leërs
18, 19. (a) Watter soort gesindheid bring God se heilige gees in ons voort? (b) Wat het jy geleer uit die voorbeeld van Simeon en Anna?
18 Die heilige gees bring ’n eerbiedige gesindheid in ons voort sodat ons Jehovah voortdurend voor ons hou. Daar is vir God se eertydse volk gesê: “Julle moet Jehovah van die Leërs eerbiedig as heilig” (Jes. 8:13, Byington). Simeon en Anna was twee bejaardes in eerste-eeuse Jerusalem wat ’n eerbiedige gesindheid gehad het. (Lees Lukas 2:25-38.) Simeon het geloof in die Messiaanse profesieë gestel en “het gewag op Israel se vertroosting”. God het heilige gees op Simeon uitgestort en hom verseker dat hy die Messias in sy leeftyd sou sien. En dit is wat gebeur het. Op ’n dag in die jaar 2 v.G.J. is Jesus deur Maria en Josef, die jong kindjie se moeder en pleegvader, na die tempel toe gebring. Beweeg deur die heilige gees, het Simeon profetiese woorde oor die Messias gespreek en droefheid vir Maria voorspel, wat smart ervaar het toe Jesus aan ’n folterpaal gehang is. Maar stel jou Simeon se groot vreugde voor toe hy “die Christus van Jehovah” in sy arms geneem het! En wat ’n goeie voorbeeld van ’n eerbiedige gesindheid het Simeon tog vir God se hedendaagse knegte gestel!
19 Die eerbiedige 84-jarige weduwee Anna was “nooit van die tempel afwesig” nie. Sy het nag en dag “met vaste en smekinge” heilige diens aan Jehovah verrig. Anna was ook daar toe die baba Jesus na die tempel toe gebring is. Hoe dankbaar was sy tog om die toekomstige Messias te sien! Ja, sy het “begin om dank aan God te betuig en met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor die kind te praat”. Anna moes eenvoudig vir ander van hierdie goeie nuus vertel! Soos Simeon en Anna, is bejaarde Christene van vandag verheug dat ’n mens nooit te oud is om Jehovah as sy Getuies te dien nie.
20. Wat moet ons ongeag ons ouderdom doen, en waarom?
20 Ongeag ons ouderdom, ons moet Jehovah voortdurend voor ons hou. Dan sal hy ons nederige pogings seën om ander te vertel van sy koningskap en sy wonderlike werke (Ps. 71:17, 18; 145:10-13). As ons Jehovah egter wil eer, moet ons godvrugtige eienskappe aan die dag lê. Wat kan ons omtrent hierdie eienskappe leer deur ander verslae in die Bybel te ondersoek?
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe weet ons dat Jehovah gebede verhoor?
• Waarom moet ons God ten volle gehoorsaam?
• Waarom moet ons altyd, selfs as ons terneergedruk is, op Jehovah vertrou?
• Hoe help God se heilige gees sy volk?
[Prent op bladsy 4]
Nehemia se gebed tot Jehovah was doeltreffend
[Prent op bladsy 5]
As ons dink aan hoe sake vir Naomi afgeloop het, sal dit ons help om op Jehovah te vertrou