Wie gee vandag heerlikheid aan God?
“U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang.”—OPENBARING 4:11.
1, 2. (a) Watter voorbeelde is daar van biomimetika? (b) Watter vraag ontstaan, en wat is die antwoord?
OP ’N dag in die 1940’s het die Switserse ingenieur George de Mestral met sy hond gaan stap. Toe hulle by die huis terugkom, het hy opgemerk dat sy klere sowel as die hond se pels vol klitsgras was. Dit het sy nuuskierigheid geprikkel, en hy het die klitsgras onder ’n mikroskoop bekyk. Die klein hakies wat aan enigiets met ’n lussie vassit, het hom gefassineer. Uiteindelik het hy ’n sintetiese ekwivalent ontwerp—Velcro. De Mestral is nie die enigste persoon wat dinge uit die natuur nageboots het nie. In die Verenigde State het die Wright-broers ’n vliegtuig ontwerp nadat hulle groot voëls in vlug bestudeer het. Die Franse ingenieur Alexandre-Gustave Eiffel het die toring in Parys wat na hom vernoem is, ontwerp deur die grondbeginsels te volg wat die menslike dybeen in staat stel om die liggaam se gewig te dra.
2 Dit is goeie voorbeelde van biomimetika, ’n wetenskaplike veld wat ontwerpe probeer naboots wat in die natuur gevind word.a ’n Redelike vraag ontstaan egter: Hoe dikwels gee uitvinders eer aan die Een wat die klein klitsgrassies, die groot voëls, die menslike dybeen en al die ander briljante oorspronklike ontwerpe geskep het waarop talle menslike uitvindings gegrond is? Ongelukkig word God selde in vandag se wêreld die eer of die heerlikheid gegee wat hy verdien.
3, 4. Wat beteken die Hebreeuse woord wat met “heerlikheid” vertaal word, en waarna verwys dit wanneer dit met betrekking tot Jehovah gebruik word?
3 ‘Waarom’, wonder party dalk, ‘moet heerlikheid aan God gegee word? Het God nie reeds heerlikheid nie?’ Jehovah is inderdaad die Een met die grootste heerlikheid in die heelal, maar dit beteken nie dat hy heerlikheid in die oë van alle mense het nie. In die Bybel het die Hebreeuse woord wat met “heerlikheid” vertaal word, die basiese betekenis van “gewigtigheid”. Dit verwys na enigiets wat iemand gesaghebbend of belangrik in ander se oë maak. Wanneer dit met betrekking tot God gebruik word, verwys dit na wat God vir mense indrukwekkend maak.
4 Min mense let vandag op dinge wat God indrukwekkend maak (Psalm 10:4; 14:1). Trouens, invloedryke persone in die gemeenskap, waarvan baie seker nie eers aan God glo nie, het mense al dikwels beïnvloed om geen respek vir die glorieryke Skepper van die heelal te hê nie. Hoe het hulle dit gedoen?
‘Hulle is onverskoonbaar’
5. Hoe verklaar baie wetenskaplikes die wonders van die skepping?
5 Baie wetenskaplikes hou vol dat daar geen God is nie. Maar hoe verklaar hulle die wonders van die skepping, met inbegrip van die mensdom? Hulle skryf hierdie wonders toe aan evolusie, ’n blinde krag wat op toeval gegrond is. Die evolusionis Stephen Jay Gould het byvoorbeeld geskryf: “Ons is hier omdat een ongewone groep visse besondere vinne gehad het wat in bene kon verander vir aardbewoners . . . Ons smag dalk na ’n ‘meer verhewe’ antwoord—maar daar bestaan nie een nie.” Richard E. Leakey en Roger Lewin het eweneens geskryf: “Miskien is die mensespesie maar net ’n verskriklike biologiese fout.” Selfs party wetenskaplikes wat die prag en ontwerp in die natuur loof, gee God nie die eer daarvoor nie.
6. Wat veroorsaak dat baie nie aan God die eer gee wat hy as die Skepper verdien nie?
6 Wanneer geleerdes aanvoer dat evolusie ’n feit is, impliseer hulle dat slegs die oningeligtes weier om daaraan te glo. Hoe reageer baie mense op so ’n bewering? ’n Paar jaar gelede het ’n man met ’n goeie kennis van evolusie onderhoude gevoer met mense wat die teorie aanvaar het. Hy het gesê: “Ek het ontdek dat die meeste aanhangers van evolusie daaraan glo omdat hulle wysgemaak is dat alle intelligente mense daaraan glo.” Ja, wanneer geleerde persone hulle ateïstiese beskouings uitspreek, veroorsaak dit dat ander nie aan God die eer gee wat hy as die Skepper verdien nie.—Spreuke 14:15, 18.
7. Wat kan volgens Romeine 1:20 duidelik gesien word deur middel van die sigbare skepping, en waarom?
7 Het wetenskaplikes tot hulle gevolgtrekkings gekom op grond van feite en bewyse? Nouliks! Ons is omring deur bewyse van ’n Skepper. Die apostel Paulus het aangaande Hom geskryf: “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld [mensdom] se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid, sodat hulle [ongelowiges] onverskoonbaar is” (Romeine 1:20). Die Skepper het sy stempel op sy handewerk gelaat. Paulus sê dus dat dit reeds van die begin van die mensdom se bestaan af vir mense moontlik is om bewyse van God se bestaan ‘waar te neem’ deur middel van die sigbare skepping. Waar is hierdie bewyse?
8. (a) Hoe getuig die fisiese hemele van God se krag en wysheid? (b) Wat dui daarop dat die heelal ’n Eerste Oorsaak gehad het?
8 Ons sien bewyse van God se bestaan in die sterrehemel. “Die hemele maak die heerlikheid van God bekend”, sê Psalm 19:1. “Die hemele”—die son, maan en sterre—getuig van God se krag en wysheid. Die groot aantal sterre op sigself vervul ons met ontsag. En al hierdie hemelliggame beweeg nie ordeloos deur die ruimte nie, maar volgens presiese fisiese wette (Jesaja 40:26).b Is dit redelik om hierdie orde aan blinde toeval toe te skryf? Dit is betekenisvol dat baie wetenskaplikes erken dat die heelal ’n skielike begin gehad het. ’n Professor wat die implikasies hiervan verduidelik het, het geskryf: “ ’n Heelal wat nog altyd bestaan het, pas baie beter by ’n ateïstiese of agnostiese [beskouing]. Net so wil dit voorkom of ’n heelal wat ’n begin gehad het, ’n eerste oorsaak vereis; want wie kan hom so ’n gevolg sonder ’n bevredigende oorsaak voorstel?”
9. Hoe kan Jehovah se wysheid duidelik gesien word in die diereskepping?
9 Ons sien ook op die aarde bewyse van God se bestaan. Die psalmis het uitgeroep: “Hoe talryk is u werke, o Jehovah! U het hulle almal in wysheid gemaak. Die aarde is vol van wat u voortgebring het” (Psalm 104:24). Die dinge wat Jehovah “voortgebring” het, waaronder die diereskepping, getuig van sy wysheid. Soos ons aan die begin gesien het, is lewende dinge so goed ontwerp dat wetenskaplikes dit dikwels probeer naboots. Kyk na ’n paar ander voorbeelde. Navorsers bestudeer dierehorings, met die doel om sterker helms te maak; hulle ondersoek ’n vliegspesie wat ’n baie goeie gehoorsin het, omdat hulle gehoortoestelle wil verbeter; en hulle bestudeer die vlerkvere van uile, sodat Stealth-vliegtuie verbeter kan word. Maar hoe die mens ook al probeer, hy kan nie werklik die volmaakte oorspronklike ontwerpe in die natuur nadoen nie. Die boek Biomimicry—Innovation Inspired by Nature sê: “Lewende dinge het al alles gedoen wat ons wil doen, sonder om groot hoeveelhede fossielbrandstof te verbruik, die planeet te besoedel of hulle toekoms op die spel te plaas.” Van watter wysheid getuig dit tog nie!
10. Waarom is dit onlogies om die bestaan van ’n Groot Ontwerper te ontken? Lig toe.
10 Of jy nou opkyk na die hemele of die skepping hier op die aarde waarneem, daar is duidelike bewyse dat ’n Skepper bestaan (Jeremia 10:12). Ons behoort ons stemme heelhartig te voeg by die hemelse wesens wat uitroep: “U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep” (Openbaring 4:11). En tog sien baie wetenskaplikes nie die bewyse met ‘die oë van hulle hart’ nie , hoewel hulle hulle dalk verwonder oor die ontwerp in dinge wat hulle met hulle letterlike oë sien (Efesiërs 1:18). Ons kan dit só toelig: Om die prag en ontwerp in die natuur te bewonder en te ontken dat ’n Groot Ontwerper bestaan, is net so onlogies soos om ’n pragtige skildery te bewonder en terselfdertyd te ontken dat ’n kunstenaar bestaan wat ’n skoon skilderdoek in ’n meesterstuk omskep het. Dit is geen wonder dat diegene wat weier om aan God te glo, “onverskoonbaar” verklaar word nie!
“Blinde gidse” mislei baie
11, 12. Op watter veronderstelling berus die voorbeskikkingsleer, en wat toon dat hierdie leerstelling God nie verheerlik nie?
11 Talle godsdienstige mense glo opreg dat hulle vorm van aanbidding heerlikheid aan God gee (Romeine 10:2, 3). Maar godsdiens in sy geheel is nog ’n element van die mensegemeenskap wat in werklikheid miljoene mense verhinder het om heerlikheid aan God te gee. Hoe so? Kom ons beskou twee maniere.
12 Eerstens neem godsdienste heerlikheid van God af weg deur middel van valse leerstellings. Neem byvoorbeeld die voorbeskikkingsleer. Hierdie leerstelling berus op die veronderstelling dat God, omdat hy die vermoë het om in die toekoms te sien, vooruit moet weet hoe alles sal afloop. Voorbeskikking gee dus te kenne dat God lank gelede elke individu se toekoms—goed of sleg—voorbestem het. Volgens hierdie opvatting moet God die skuld kry vir al die lyding en goddeloosheid in vandag se wêreld. Dit bring nouliks heerlikheid aan God wanneer hy die skuld gegee word vir iets waarvoor sy vernaamste Teenstander, Satan, die een wat die Bybel “die heerser van die wêreld” noem, in werklikheid verantwoordelik is!—Johannes 14:30; 1 Johannes 5:19.
13. Waarom is dit dwaas om te dink dat God nie sy vermoë kan beheer om in die toekoms te sien nie? Lig toe.
13 Die voorbeskikkingsleer is ’n onskriftuurlike leerstelling wat God laster. Dit verwar wat hy kan doen met wat hy wel doen. Die feit dat God gebeure vooruit kan sien, word duidelik in die Bybel genoem (Jesaja 46:9, 10). Maar dit is onlogies om te dink dat hy geen beheer het oor sy vermoë om in die toekoms te sien nie of dat hy verantwoordelik is vir hoe elke situasie afloop. Ter toeligting: Gestel jy was baie sterk. Sou jy elke swaar voorwerp wat jy sien, wou optel? Natuurlik nie! God se vermoë om in die toekoms te sien, dring hom eweneens nie om alles vooruit te weet of vooruit te bestem nie. Hy gebruik sy voorkennis selektief en met goeie oordeel.c Dit is duidelik dat valse leerstellings, waaronder die voorbeskikkingsleer, God nie verheerlik nie.
14. Hoe het georganiseerde godsdiens God oneer aangedoen?
14 ’n Tweede manier waarop georganiseerde godsdiens God oneer aandoen, is deur hulle lidmate se gedrag. Daar word van Christene verwag om die leringe van Jesus te volg. Jesus het sy volgelinge onder meer geleer om ‘mekaar lief te hê’ en om “geen deel van die wêreld” te wees nie (Johannes 15:12; 17:14-16). Wat van die Christendom se geestelikes? Volg hulle werklik hierdie leringe?
15. (a) Watter rekord het die geestelikes wat die oorloë van die nasies betref? (b) Watter uitwerking het die gedrag van die geestelikes op miljoene mense gehad?
15 Beskou die geestelikes se rekord wat oorlog betref. Hulle het baie van die oorloë van die nasies ondersteun, goedgepraat en selfs die leiding daarin geneem. Hulle het die troepe geseën en die bloedvergieting geregverdig. Ons kan nie anders as om te wonder nie: ‘Het hierdie geestelikes nooit besef dat hulle eweknieë aan die vyand se kant dieselfde doen nie?’ (Sien die venster “Aan wie se kant is God?”) Die geestelikes verheerlik God nie wanneer hulle beweer dat hulle sy steun het in bloedige oorloë nie; hulle verheerlik hom ook nie wanneer hulle sê dat Bybelstandaarde ouderwets is en hulle allerhande vorme van onsedelikheid goedpraat nie. Hulle herinner ons ongetwyfeld aan die godsdiensleiers wat deur Jesus “werkers van wetteloosheid” en “blinde gidse” genoem is! (Matteus 7:15-23; 15:14). Die gedrag van die geestelikes het miljoene se liefde vir God laat verkoel.—Matteus 24:12.
Wie gee werklik heerlikheid aan God?
16. Waarom moet ons na die Bybel gaan om die vraag te beantwoord oor wie werklik heerlikheid aan God gee?
16 Wie gee dan werklik heerlikheid aan God as die vooraanstaande en invloedryke mense van die wêreld oor die algemeen versuim het om dit te doen? Om daardie vraag te beantwoord, moet ons na die Bybel gaan. God het immers die reg om te sê hoe hy verheerlik moet word, en hy stel die standaarde in sy Woord, die Bybel (Jesaja 42:8). Kom ons bespreek drie maniere om heerlikheid aan God te gee en beantwoord in elke geval die vraag oor wie dit vandag werklik doen.
17. Hoe het Jehovah self getoon dat die verheerliking van sy naam ’n uiters belangrike aspek van sy wil is, en wie loof God se naam vandag regoor die aarde?
17 Eerstens kan ons God verheerlik deur sy naam te loof. Die feit dat dit ’n uiters belangrike aspek van God se wil is, kan duidelik gesien word uit Jehovah se woorde aan Jesus. ’n Paar dae voor sy dood het Jesus gebid: “Vader, verheerlik u naam.” Toe het ’n stem geantwoord: “Ek het dit verheerlik en sal dit weer verheerlik” (Johannes 12:28). Die spreker was ongetwyfeld Jehovah self. Sy antwoord toon duidelik dat die verheerliking van sy naam vir hom belangrik is. Wie gee dus vandag heerlikheid aan Jehovah deur sy naam bekend te maak en dit regoor die aarde te loof? Jehovah se Getuies, en hulle doen dit in 235 lande!—Psalm 86:11, 12.
18. Hoe kan ons diegene identifiseer wat God met “waarheid” aanbid, en watter groep verkondig Bybelwaarheid al meer as ’n eeu lank?
18 Tweedens kan ons God verheerlik deur die waarheid oor hom te verkondig. Jesus het gesê dat ware aanbidders ‘God met waarheid sou aanbid’ (Johannes 4:24). Hoe kan ons diegene identifiseer wat God met “waarheid” aanbid? Hulle moet leerstellings verwerp wat nie op die Bybel gegrond is nie en wat God en sy wil verkeerd voorstel. Hulle moet eerder die suiwer waarhede van God se Woord aan ander leer, onder meer die volgende: Jehovah is die Allerhoogste God, en die heerlikheid van hierdie posisie kom hom alleen toe (Psalm 83:18); Jesus is God se Seun en die aangestelde Heerser van God se Messiaanse Koninkryk (1 Korintiërs 15:27, 28); God se Koninkryk sal Jehovah se naam heilig en sy voorneme vir hierdie aarde en die mense daarop vervul (Matteus 6:9, 10); die goeie nuus van hierdie Koninkryk moet in die hele aarde verkondig word (Matteus 24:14). Daar is net een groep wat hierdie kosbare waarhede al meer as ’n eeu lank verkondig—Jehovah se Getuies!
19, 20. (a) Waarom kan ’n Christen se goeie gedrag heerlikheid aan God gee? (b) Watter vrae kan ons help om te bepaal wie God vandag verheerlik deur goeie gedrag te handhaaf?
19 Derdens kan ons God verheerlik deur in ooreenstemming met sy standaarde te lewe. Die apostel Petrus het geskryf: “Handhaaf goeie gedrag onder die nasies, sodat hulle, in die aangeleentheid waarin hulle teen julle praat as kwaaddoeners, as gevolg van julle goeie werke waarvan hulle ooggetuies is, God in die dag van sy inspeksie sal verheerlik” (1 Petrus 2:12). ’n Christen se gedrag is ’n weerspieëling van sy geloof. Wanneer buitestanders daardie verband sien—dit wil sê, wanneer hulle sien dat die Christen se goeie gedrag ’n regstreekse gevolg van sy geloof is—bring dit heerlikheid aan God.
20 Wie verheerlik God vandag deur goeie gedrag te handhaaf? Wel, watter godsdiensgroep is al deur baie regerings geprys omdat hulle vreedsame, wetsgehoorsame burgers is wat hulle belasting betaal? (Romeine 13:1, 3, 6, 7). Wie is oor die hele wêreld bekend vir hulle eenheid met medegelowiges—’n eenheid wat uitstyg bo rasse-, nasionale en etniese verskille? (Psalm 133:1; Handelinge 10:34, 35). Watter groep word wêreldwyd erken vir hulle Bybelonderrigtingswerk wat respek vir die wet, gesinswaardes en die Bybel se sedelike standaarde bevorder? Daar is slegs een groep wie se goeie gedrag op hierdie en ander gebiede duidelik is—Jehovah se Getuies!
Gee jy heerlikheid aan God?
21. Waarom moet ons ondersoek of ons persoonlik heerlikheid aan Jehovah gee?
21 Elkeen van ons kan ons gerus afvra: ‘Gee ek persoonlik heerlikheid aan Jehovah?’ Volgens Psalm 148 gee die grootste deel van die skepping heerlikheid aan God. Die engele, die fisiese hemele, die aarde en sy diereskepping—hulle almal loof Jehovah (Verse 1-10). Hoe jammer is dit tog dat die meeste mense dit vandag nie doen nie! Deur te lewe op ’n manier wat heerlikheid aan God gee, sal jy in eenheid wees met die res van die skepping wat Jehovah loof (Verse 11-13). Daar is geen beter manier waarop jy jou lewe kan gebruik nie.
22. Op watter maniere word jy geseën as jy heerlikheid aan Jehovah gee, en wat moet jy vasbeslote wees om te doen?
22 As jy heerlikheid aan Jehovah gee, word jy op baie maniere geseën. Deur geloof in Christus se losprysoffer te beoefen, raak jy met God versoen en geniet jy ’n vreedsame en lonende verhouding met jou hemelse Vader (Romeine 5:10). Wanneer jy let op redes om heerlikheid aan God te gee, ontwikkel jy ’n positiewer gesindheid en groter waardering (Jeremia 31:12). Dit stel jou in staat om ander te help om ’n gelukkige, sinvolle lewe te lei, en jy vind sodoende self groter geluk (Handelinge 20:35). Mag jy onder diegene wees wat vasbeslote is om heerlikheid aan God te gee—nou en vir ewig!
[Voetnote]
a Die term “biomimetika” kom van die Griekse biʹos, wat “lewe” beteken, en miʹme·sis, wat “nabootsing” beteken.
b Vir meer besonderhede oor hoe die fisiese hemele God se wysheid en krag weerspieël, sien hoofstukke 5 en 17 van die boek Kom nader aan Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Sien Deel 1, bladsy 853, van Insight on the Scriptures, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Onthou jy?
• Waarom kan ons sê dat wetenskaplikes oor die algemeen mense nie gehelp het om heerlikheid aan God te gee nie?
• Op watter twee maniere het georganiseerde godsdiens mense verhinder om heerlikheid aan God te gee?
• Op watter maniere kan ons God verheerlik?
• Waarom moet jy ondersoek of jy persoonlik heerlikheid aan Jehovah gee?
[Venster op bladsy 12]
“Aan wie se kant is God?”
’n Man wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die Duitse Lugmag was, maar later een van Jehovah se Getuies geword het, vertel:
“Iets wat my gedurende daardie oorlogsjare ontstel het, . . . was om te sien hoe geestelikes van feitlik alle godsdienste—Katolieke, Lutherane, Episkopale, ensovoorts—die vliegtuie en hulle bemanning seën voordat hulle op sendings vertrek om hulle dodelike vrag af te gooi. Ek het dikwels gedink: ‘Aan wie se kant is God?’
“Duitse soldate het ’n gordel gedra met ’n gespe waarop die woorde Gott mit uns (God is met ons) gegraveer was. Maar ek het gewonder: ‘Waarom sal God nie met soldate aan die ander kant wees wat aan dieselfde godsdiens behoort en wat tot dieselfde God bid nie?’ ”
[Prent op bladsy 10]
Regoor die aarde gee Jehovah se Getuies werklik heerlikheid aan God