Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Spreuke
KONING SALOMO van eertydse Israel “kon drieduisend spreuke uitspreek” (1 Konings 4:32). Het ons toegang tot sy wyse woorde? Ja, ons het. Die Bybelboek Spreuke, wat omstreeks 717 v.G.J. voltooi is, bevat baie van Salomo se spreuke. Net die laaste twee hoofstukke word toegeskryf aan ander skrywers—Agur, die seun van Jake, en Lemuel, die koning. Party meen egter dat Lemuel ’n ander naam vir Salomo is.
Die geïnspireerde spreuke wat in die boek Spreuke versamel is, het ’n tweevoudige doel—“sodat ’n mens wysheid en dissipline kan leer ken” (Spreuke 1:2). Hierdie spreuke help ons om wysheid te verkry, wat die vermoë is om sake duidelik te sien en kennis toe te pas om probleme op te los. Deur middel daarvan ontvang ons ook dissipline, of sedelike opleiding. As ons ag slaan op hierdie spreuke en toelaat dat die raad daarin ons hart raak, dra dit by tot ons geluk en lei dit tot sukses.—Hebreërs 4:12.
‘VERWERF WYSHEID EN GRYP DISSIPLINE AAN’
“Ware wysheid bly hard uitroep op die straat”, sê Salomo (Spreuke 1:20). Waarom moet ons na die harde en duidelike stem daarvan luister? Hoofstuk 2 meld baie van die voordele wat dit inhou om wysheid te verwerf. Hoe om intimiteit met Jehovah na te streef, word in hoofstuk 3 bespreek. Dan sê Salomo: “Wysheid kom eerste. Verwerf wysheid; en by alles wat jy verwerf, verwerf begrip. Gryp dissipline aan; moet dit nie laat los nie.”—Spreuke 4:7, 13.
Wat sal ons help om die onsedelike weë van die wêreld te weerstaan? Die 5de hoofstuk van Spreuke antwoord: Oefen jou denkvermoëns en waak teen die wêreld se verloklike weë. Dink ook aan die hoë prys wat ’n mens betaal as jy jou aan onsedelikheid skuldig maak. Die volgende hoofstuk waarsku teen gebruike en gesindhede wat ons verhouding met Jehovah in gevaar stel. Die 7de hoofstuk voorsien ’n insiggewende uiteensetting van hoe ’n onsedelike persoon te werk gaan. In hoofstuk 8 word ’n interessante beskrywing gegee van hoe waardevol en aantreklik wysheid is. Die 9de hoofstuk, wat die spreuke wat tot op dié punt bespreek is, op treffende wyse afsluit, word aangebied as ’n opwindende illustrasie wat ons beweeg om wysheid na te streef.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:7; 9:10—Hoe is die vrees van Jehovah “die begin van kennis” en “die begin van wysheid”? Sonder die vrees van Jehovah kan daar geen kennis wees nie, want hy is die Skepper van alles en die Outeur van die Skrif (Romeine 1:20; 2 Timoteus 3:16, 17). Hy is die Bron van alle ware kennis. Gevolglik begin kennis met eerbiedige vrees vir Jehovah. Godvrugtige vrees is ook die begin van wysheid omdat daar geen wysheid sonder kennis kan wees nie. Wat meer is, iemand wat geen vrees vir Jehovah het nie, sal nie sy kennis gebruik om die Skepper te eer nie.
5:3—Waarom word ’n prostituut “’n vreemde vrou” genoem? Spreuke 2:16, 17 beskryf ’n “vreemde vrou” as iemand “wat die verbond van haar God vergeet het”. Enigeen wat valse gode aanbid het of wat verkies het om die Mosaïese Wet te ignoreer, met inbegrip van ’n prostituut, is ’n vreemdeling genoem.—Jeremia 2:25; 3:13.
7:1, 2—Wat is ingesluit in “my woorde” en “my gebooie”? Benewens Bybelleringe sluit dit gesinsreëls, of voorskrifte, in wat deur ouers gemaak word tot voordeel van die gesinslede. Jongmense moet dít sowel as die skriftuurlike onderrigting gehoorsaam wat hulle van hulle ouers ontvang.
8:30—Wie is die “meesterwerker”? Verpersoonlikte wysheid noem homself ’n meesterwerker. Hierdie verpersoonliking word nie net as ’n stylfiguur gebruik om die kenmerke van wysheid te verduidelik nie, maar verwys in figuurlike sin na God se eersgebore Seun, Jesus Christus, in sy voormenslike bestaan. Lank voor sy geboorte as ’n mens op aarde is hy ‘voortgebring as die begin van God se weg’ (Spreuke 8:22). As “’n meesterwerker” het hy tydens die skepping van alle dinge ywerig saam met sy Vader gewerk.—Kolossense 1:15-17.
9:17—Wat is “gesteelde waters”, en waarom is dit “soet”? Aangesien die Bybel seksuele intimiteit wat binne die huwelik geniet word, vergelyk met die drink van verfrissende water wat uit ’n put opgetrek word, beeld gesteelde waters onsedelike geslagsomgang uit wat in die geheim gepleeg word (Spreuke 5:15-17). Die idee dat die persoon wegkom met iets, maak dat hierdie waters oënskynlik soet is.
Lesse vir ons:
1:10-14. Ons moet daarteen waak dat ons verlok word om die slegte weë van sondaars te volg weens hulle beloftes van rykdom.
3:3. Ons moet groot waarde heg aan liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid en dit openlik aan die dag lê soos ons ’n kosbare halssnoer sal vertoon. Ons moet hierdie eienskappe ook in ons hart ingrif en dit ’n onafskeidelike deel van ons laat word.
4:18. Geestelike kennis neem voortdurend toe. Om in die lig te bly, moet ons aanhou om nederigheid en sagmoedigheid te openbaar.
5:8. Ons moet ver weg bly van alle onsedelike invloede, hetsy dit deur musiek, vermaak, die Internet of boeke en tydskrifte kom.
5:21. Sal iemand wat lief is vir Jehovah, sy goeie verhouding met die ware God verruil vir ’n paar oomblikke van plesier? Natuurlik nie! Die grootste aansporing om sedelik rein te bly, is die wete dat Jehovah ons weë sien en ons aanspreeklik hou.
6:1-5. Watter goeie raad vind ons tog in hierdie verse om nie ‘borg te staan’, of ’n onverstandige finansiële verpligting op ons te neem, ten behoewe van ander nie! As ons, ná ’n noukeuriger ondersoek, besef dat ons dalk onverstandig opgetree het, moet ons sonder versuim ‘ons medemens bestorm’ met volgehoue versoeke en alles in ons vermoë doen om sake reg te stel.
6:16-19. Hier vind ons sewe basiese kategorieë wat feitlik elke soort oortreding insluit. Ons moet ’n haat daarvoor opbou.
6:20-24. As ’n mens volgens die Skrif grootgemaak is, kan dit jou beskerm teen die strik van geslagsonsedelikheid. Ouers moenie nalaat om hierdie opleiding te voorsien nie.
7:4. Ons moet ’n liefde vir wysheid en begrip aankweek.
INDIVIDUELE SPREUKE WAT LEIDING VOORSIEN
Die res van Salomo se spreuke is bondige, individuele spreuke. Dit word hoofsaaklik weergegee as teenstellings, parallelle en vergelykings, en dit dra kragtige lesse oor wat ons gedrag, spraak en gesindheid betref.
Hoofstukke 10 tot 24 beklemtoon die waarde van eerbiedige vrees vir Jehovah. Die spreuke in hoofstukke 25 tot 29 is oorgeskryf deur “die manne van Hiskia, die koning van Juda” (Spreuke 25:1). Hierdie spreuke leer ons om op Jehovah te vertrou sowel as ander belangrike lesse.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
10:6; voetnoot in NW—Hoe ‘bedek die mond van die goddeloses geweld’? Moontlik in die sin dat die goddeloses hulle kwaadwillige oogmerke om ander leed aan te doen, deur mooi woorde bedek. Of dit kan wees dat die goddeloses, omdat ander hulle gewoonlik vyandiggesind is, deur hierdie vyandigheid tot swye gebring word.
10:10—Hoe veroorsaak die een wat “sy oog knip”, pyn? “’n Deugniet” maak moontlik nie net van “verdraaide woorde” gebruik nie, maar probeer dalk ook sy beweegredes met lyftaal bedek, soos om ‘sy oog te knip’ (Spreuke 6:12, 13). Hierdie bedrieglike optrede kan vir sy slagoffer groot geesteskwellinge veroorsaak.
10:29—Wat is “die weg van Jehovah”? Dit verwys hier na die manier waarop Jehovah met die mensdom handel en nie na die lewensweg wat ons moet volg nie. God se handelinge met mense beteken veiligheid vir die onberispelikes, maar ondergang vir die goddeloses.
11:31—Waarom moet die goddelose meer vergeld word as die regverdige? Vergelding verwys hier na die mate van straf wat elkeen ontvang. Wanneer die regverdige oortree, ontvang hy dissipline as die vergelding vir sy oortredings. Die goddelose sondig opsetlik en weier om te verander en goed te doen. Hy verdien en ontvang derhalwe ’n swaar straf.
12:23—Hoe ‘bedek ’n mens kennis’? Om kennis te bedek, beteken nie dat ’n mens dit glad nie meedeel nie. Dit beteken eerder dat ’n mens kennis op oordeelkundige wyse openbaar sonder om ’n groot vertoon daarvan te maak deur te spog.
14:17—In watter sin word ‘die man met denkvermoëns gehaat’? Die Hebreeuse uitdrukking wat met “denkvermoëns” vertaal word, kan óf onderskeidingsvermoë óf kwaadwillige denke beteken. ’n Man met goddelose idees word natuurlik gehaat. Maar so ook die man met onderskeidingsvermoë wat sy denkvermoëns gebruik en besluit om “geen deel van die wêreld” te wees nie.—Johannes 15:19.
18:19—Hoe is ‘’n broer teen wie oortree is, erger as ’n sterk stad’? Soos ’n sterk stad wat beleër is, kan so ’n persoon volstrek weier om toegewings te maak. Twiste tussen hom en die oortreder kan maklik ’n versperring word, net soos “die grendel van ’n woontoring”.
Lesse vir ons:
10:11-14. As ons wil hê dat ons woorde opbouend moet wees, moet ons verstand gevul wees met juiste kennis, ons hart deur liefde beweeg word en dit wat uit ons mond kom, deur wysheid gerig word.
10:19; 12:18; 13:3; 15:28; 17:28. Mag ons woorde min en weldeurdag wees.
11:1; 16:11; 20:10, 23. Jehovah wil hê dat ons eerlik moet wees in ons sakeaangeleenthede.
11:4. Dit is dwaas om materiële rykdom na te streef ten koste van persoonlike Bybelstudie, vergaderingbywoning, gebed en die veldbediening.
13:4. Dit is nie genoeg om net “begerig” te wees na ’n posisie van verantwoordelikheid in die gemeente of na die lewe in die nuwe wêreld nie. Ons moet ook vlytig wees en ’n ywerige poging aanwend om aan die vereistes te voldoen.
13:24; 29:15, 21. ’n Liefdevolle ouer sal nie sy kind bederf of sy foute oorsien nie. ’n Vader of ’n moeder tree eerder op om ontslae te raak van sulke foute voordat dit diep ingewortel raak.
14:10. Aangesien ons nie altyd ons diepste gevoelens presies kan uitdruk en ander dit nie altyd kan verstaan nie, is die emosionele vertroosting wat ander kan bied, beperk. Ons sal moontlik party probleme moet verduur deur slegs op Jehovah te vertrou.
15:7. Ons moenie alles wat ons weet, op een slag aan iemand vertel nie, net soos ’n landbouer nie al sy saad op een plek uitgooi nie. Die wyse strooi sy kennis ’n bietjie op ’n slag uit na gelang van die behoefte.
15:15; 18:14. ’n Positiewe gesindheid sal ons help om selfs onder moeilike omstandighede vreugde te vind.
17:24. Anders as “die sot”, wie se oë en verstand dwaal in plaas van op belangrike sake gerig te wees, moet ons begrip probeer verkry sodat ons in wysheid kan optree.
23:6-8. Ons moet waak teen ’n geveinsde betoning van gasvryheid.
27:21. Lof kan openbaar watter soort persone ons werklik is. Nederigheid kom aan die lig as lof ons beweeg om te erken hoeveel ons aan Jehovah verskuldig is en as dit ons aanspoor om hom te bly dien. ’n Gebrek aan nederigheid kom aan die lig wanneer lof ons ’n gevoel van meerderwaardigheid gee.
27:23-27. Hierdie spreuke maak gebruik van ’n herderlike agtergrond om die waarde te beklemtoon van tevredenheid met ’n eenvoudige lewe wat met harde werk gepaardgaan. Dit moet veral die belangrikheid van vertroue op God by ons tuisbring.a
28:5. As ons “Jehovah soek” deur middel van gebed en ’n studie van sy Woord, “kan [ons] alles verstaan” wat nodig is om hom op aanneemlike wyse te dien.
‘GEWIGTIGE BOODSKAPPE’
Die Bybelboek Spreuke sluit af met twee ‘gewigtige boodskappe’ (Spreuke 30:1; 31:1). Met behulp van gedagteprikkelende vergelykings lig die boodskap van Agur toe dat gierigheid onversadigbaar is, en dit toon hoe onwaarneembaar die oorredende weë van ’n verleier met ’n meisie is.b Dit waarsku ook teen selfverheffing en woedende spraak.
Die gewigtige boodskap wat Lemuel van sy moeder ontvang het, bevat goeie raad oor die gebruik van wyn en sterk drank sowel as oor hoe om in regverdigheid te oordeel. Die beskrywing van ’n goeie vrou sluit af met die woorde: “Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar . . . prys.”—Spreuke 31:31.
Verkry wysheid, neem dissipline aan, kweek godvrugtige vrees aan, vertrou op Jehovah. Watter waardevolle lesse leer die geïnspireerde spreuke ons tog! Laat ons vasbeslote wees om die raad daarin toe te pas en sodoende die geluk ondervind van “die man wat Jehovah vrees”.—Psalm 112:1.
[Voetnote]
[Prente op bladsy 16]
Jehovah is die Bron van alle ware kennis
[Prent op bladsy 18]
Wat beteken dit om ‘kennis uit te strooi’?