“Moenie op jou eie begrip steun nie”
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie.”—SPR. 3:5.
1, 2. (a) Voor watter situasies kan ons te staan kom? (b) Op wie moet ons steun wanneer ons ons in ’n moeilike situasie bevind, ’n besluit moet neem of ’n versoeking moet weerstaan, en waarom?
CYNTHIAa se werkgewer het alreeds dele van sy maatskappy toegemaak en etlike werknemers ontslaan. Cynthia voel dat sy die volgende een sal wees wat ontslaan word. Wat sal sy doen as sy haar werk verloor? Hoe sal sy haar rekeninge betaal? ’n Christensuster met die naam Pamela wil verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, maar moet sy? ’n Jong man genaamd Samuel kwel hom oor iets anders. Hy is op ’n vroeë ouderdom aan pornografie blootgestel. Samuel is nou in sy 20’s, en die versoeking om na hierdie gewoonte terug te keer, is sterk. Hoe kan hy dit weerstaan?
2 Op wie steun jy wanneer jy jou in ’n moeilike situasie bevind, ’n belangrike besluit moet neem of ’n versoeking moet weerstaan? Vertrou jy net op jouself, of “werp [jy] jou las op Jehovah”? (Ps. 55:22). “Die oë van Jehovah is op die regverdiges”, sê die Bybel, “en sy ore is tot hulle hulpgeroep” (Ps. 34:15). Hoe belangrik is dit dan tog dat ons met ons hele hart op Jehovah vertrou en dat ons nie op ons eie begrip steun nie!—Spr. 3:5.
3. (a) Wat behels dit om op Jehovah te vertrou? (b) Waarom is party dalk geneig om op hulle eie begrip te steun?
3 Om met ’n volkome hart op Jehovah te vertrou, behels dat ons dinge op sy manier, in ooreenstemming met sy wil, doen. As ons dít wil doen, is dit van die allergrootste belang dat ons hom voortdurend in gebed nader en hom opreg vir sy leiding vra. Maar om volkome op Jehovah te steun, bied vir baie ’n uitdaging. ’n Christensuster met die naam Lynn erken byvoorbeeld: “Dit was vir my ’n voortdurende stryd om te leer om volle vertroue in Jehovah te stel.” Waarom? “Ek het geen verhouding met my pa nie”, sê sy, “en ek het ’n ma wat nie emosioneel of fisies na my omgesien het nie. Ek het dus baie gou geleer om na myself om te sien.” Lynn se agtergrond het dit vir haar moeilik gemaak om enigiemand ten volle te vertrou. Persoonlike vermoëns en sukses kan ook veroorsaak dat ’n persoon op homself vertrou. As ’n ouer man op sy ondervinding staatmaak, sal hy dalk gemeentelike sake begin behartig sonder om God eers in gebed te nader.
4. Wat sal in hierdie artikel bespreek word?
4 Jehovah verwag dat ons ’n opregte poging moet aanwend om ooreenkomstig ons gebede te lewe en in ooreenstemming met sy wil op te tree. Hoe kan ons dan ’n balans handhaaf tussen om ons sorge op hom te werp en om self moeilike probleme te probeer oplos? Waarteen moet ons waak wanneer ons besluite neem? Waarom is gebed belangrik wanneer ons versoekings probeer weerstaan? Ons sal hierdie vrae bespreek deur na skriftuurlike voorbeelde te kyk.
Wanneer ons in benoudheid verkeer
5, 6. Hoe het Hiskia gereageer toe hy deur die koning van Assirië bedreig is?
5 Die Bybel sê oor koning Hiskia van Juda: “Hy het Jehovah bly aankleef. Hy het nie daarvan afgewyk om hom te volg nie, maar hy het aangehou om sy gebooie te onderhou wat Jehovah Moses beveel het.” Ja, “op Jehovah, die God van Israel, het hy vertrou” (2 Kon. 18:5, 6). Hoe het Hiskia gereageer toe koning Sanherib van Assirië sy verteenwoordigers—insluitende Rabsake—tesame met ’n swaar krygsmag na Jerusalem gestuur het? Die magtige Assiriese leër het reeds ’n aantal versterkte stede van Juda verower, en Sanherib het nou sy oë op Jerusalem gerig. Hiskia het na die huis van Jehovah gegaan en begin bid: “O Jehovah ons God, red ons asseblief uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat u, o Jehovah, alleen God is.”—2 Kon. 19:14-19.
6 Hiskia het in ooreenstemming met sy gebed opgetree. Selfs voordat hy na die tempel opgegaan het om te bid, het hy die volk beveel om nie op Rabsake se uittarting te reageer nie. Hiskia het ook ’n afvaardiging na die profeet Jesaja gestuur om hom te raadpleeg (2 Kon. 18:36; 19:1, 2). Hiskia het die stappe gedoen wat hy tereg kon. By hierdie geleentheid het hy nie ’n oplossing probeer bewerkstellig wat in stryd met Jehovah se wil was deur by Egipte of naburige nasies hulp te soek nie. Hiskia het nie op sy eie begrip gesteun nie, maar het eerder op Jehovah vertrou. Nadat Jehovah se engel 185 000 van Sanherib se manskappe doodgemaak het, het Sanherib “weggetrek” en na Nineve teruggekeer.—2 Kon. 19:35, 36.
7. Watter vertroosting kan ons uit die gebede van Hanna en Jona put?
7 Hanna, die vrou van die Leviet Elkana, het ook op Jehovah gesteun toe sy in benoudheid verkeer het omdat sy nie ’n kind kon hê nie (1 Sam. 1:9-11, 18). Die profeet Jona is uit die buik van ’n groot vis verlos nadat hy gebid het: “Uit my benoudheid het ek tot Jehovah geroep, en hy het my geantwoord. Uit die buik van Sjeool het ek om hulp geroep. U het my stem gehoor” (Jona 2:1, 2, 10). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ons, ongeag hoe benard ons situasie is, met ’n “versoek om guns” tot Jehovah kan roep!—Lees Psalm 55:1, 16.
8, 9. Watter besorgdheid het in die gebede van Hiskia, Hanna en Jona na vore gekom, en wat leer ons hieruit?
8 Die voorbeelde van Hiskia, Hanna en Jona leer ons ook ’n baie belangrike les oor wat ons nie moet vergeet wanneer ons bid as ons onder groot druk verkeer nie. Al drie het emosionele pyn ervaar toe hulle in groot nood verkeer het. Maar hulle gebede toon dat hulle nie net besorg was oor hulleself en om verligting van hulle probleme te verkry nie. God se naam, sy aanbidding en die uitvoering van sy wil was vir hulle sake van die allergrootste belang. Hiskia was bedroef dat Jehovah se naam oneer aangedoen word. Hanna het belowe om die seun wat sy so graag wou hê, vir diens by die tabernakel in Silo te gee. En Jona het gesê: “Wat ek plegtig belowe het, sal ek betaal.”—Jona 2:9.
9 Wanneer ons bid vir verlossing uit ’n moeilike situasie, is dit verstandig om ons beweegredes te ondersoek. Is ons uitsluitlik daaroor besorg om verligting van die probleem te kry, of hou ons Jehovah en sy voorneme in gedagte? Persoonlike lyding kan maklik veroorsaak dat ons so behep raak met ons situasie dat besorgdheid oor geestelike sake op die agtergrond raak. Wanneer ons tot God bid om hulp, moet ons ons verstand gerig hou op Jehovah, die heiliging van sy naam en die regverdiging van sy soewereiniteit. As ons dit doen, kan dit ons help om ’n positiewe uitkyk te behou selfs as die oplossing wat ons verwag, nie materialiseer nie. Die antwoord op ons gebed is dalk dat ons die situasie met God se hulp moet verduur.—Lees Jesaja 40:29; Filippense 4:13.
Wanneer ons besluite neem
10, 11. Wat het Josafat gedoen toe hy nie geweet het hoe om ’n situasie te hanteer waarin hy hom bevind het nie?
10 Hoe neem jy gewigtige besluite in die lewe? Neem jy dalk eers die besluit en bid dan tot Jehovah om jou besluit te seën? Dink aan wat Josafat, die koning van Juda, gedoen het toe die gesamentlike magte van die Moabiete en die Ammoniete teen hom opgetrek het om oorlog te voer. Juda was in geen posisie om teen hulle te veg nie. Wat moes Josafat doen?
11 “Josafat [het] bang geword en sy aangesig daarop gerig om Jehovah te soek”, sê die Bybel. Hy het vir die hele Juda ’n vas uitgeroep en die volk bymekaargebring “om Jehovah te raadpleeg”. Toe het hy in die gemeente van Juda en van Jerusalem opgestaan en gebid. Hy het onder andere gepleit: “O ons God, sal u nie oordeel aan hulle voltrek nie? Want in ons is geen krag voor hierdie groot menigte wat teen ons kom nie; en ons weet nie wat ons behoort te doen nie, maar ons oë is op u.” Die ware God het Josafat se gebed gehoor en ’n wonderdadige verlossing voorsien (2 Kron. 20:3-12, 17). Moet ons dan nie, wanneer ons besluite neem, veral besluite wat ’n uitwerking op ons geestelikheid kan hê, op Jehovah vertrou eerder as om op ons eie begrip te steun nie?
12, 13. Watter voorbeeld het koning Dawid gestel ten opsigte van besluitneming?
12 Wat moet ons doen wanneer ons ons in ’n situasie bevind wat dalk makliker lyk om op te los—miskien omdat vorige ondervinding ons gou aan ’n oplossing laat dink? ’n Verslag rakende koning Dawid voorsien insig in hierdie verband. Toe die Amalekiete die stad Siklag ingeval het, het hulle Dawid se vrouens en kinders sowel as dié van sy manne as gevangenes weggevoer. Dawid het Jehovah geraadpleeg en gesê: “Sal ek hierdie rowerbende agternasit?” Jehovah het geantwoord: “Sit hulle agterna, want jy sal hulle vir seker inhaal, en jy sal vir seker ’n verlossing bewerkstellig.” Dawid het dit gedoen, en hy “het alles bevry wat die Amalekiete geneem het”.—1 Sam. 30:7-9, 18-20.
13 ’n Ruk ná die Amalekiete se inval het die Filistyne teen Israel opgetrek. Dawid het Jehovah weer geraadpleeg en ’n duidelike antwoord ontvang. God het gesê: “Trek op, want ek sal die Filistyne vir seker in jou hand gee” (2 Sam. 5:18, 19). Kort hierna het die Filistyne weer eens teen Dawid opgetrek. Wat sou hy hierdie keer doen? Hy kon geredeneer het: ‘Ek was al twee keer in ’n soortgelyke situasie. Laat ek teen God se vyande optrek, soos ek toe gedoen het.’ Of sou Dawid Jehovah se leiding soek? Dawid het nie op sy vorige ondervinding vertrou nie. Hy het weer tot Jehovah gebid. Hoe bly moes hy tog gewees het dat hy dit gedoen het! Die instruksies wat hy hierdie keer ontvang het, was anders (2 Sam. 5:22, 23). Wanneer ons voor ’n situasie of probleem te staan kom waarmee ons voorheen te kampe gehad het, moet ons versigtig wees dat ons nie bloot op vorige ondervinding vertrou nie.—Lees Jeremia 10:23.
14. Watter les kan ons leer uit die manier waarop Josua en die ouer manne van Israel met die Gibeoniete gehandel het?
14 Aangesien ons onvolmaak is, moet ons almal—selfs ervare ouer manne—oppas dat ons nie versuim om op Jehovah te vertrou wanneer ons besluite neem nie. Dink aan hoe Moses se opvolger, Josua, en die ouer manne van Israel gereageer het toe hulle genader is deur skerpsinnige Gibeoniete wat hulle vermom het en voorgegee het dat hulle van ’n ver land kom. Sonder om Jehovah te raadpleeg, het Josua en ander vrede gemaak met die Gibeoniete en ’n verbond met hulle gesluit. Al het Jehovah uiteindelik die reëling gesteun, het hy seker gemaak dat hierdie versuim om sy leiding te soek, tot ons voordeel in die Skrif opgeteken is.—Jos. 9:3-6, 14, 15.
Wanneer ons worstel om versoekings te weerstaan
15. Verduidelik waarom gebed belangrik is om versoekings te weerstaan.
15 Omdat ons “die wet van die sonde” in ons lede het, moet ons hard stry teen sondige neigings (Rom. 7:21-25). Dit is ’n stryd wat gewen kan word. Hoe? Jesus het vir sy volgelinge gesê dat gebed noodsaaklik is om versoekings te weerstaan. (Lees Lukas 22:40.) Al duur verkeerde begeertes of gedagtes voort nadat ons tot God gebid het, moet ons “aanhou om God te vra” vir wysheid om hierdie beproewing die hoof te bied. Ons word verseker: “Hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt” (Jak. 1:5). Jakobus skryf ook: “Is iemand onder julle [geestelik] siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf. En die gebed van geloof sal die een wat ongesteld is, gesond maak.”—Jak. 5:14, 15.
16, 17. Wanneer is die beste tyd om te bid as ons hulp soek om versoekings te weerstaan?
16 Gebed is noodsaaklik om versoekings te weerstaan, maar ons moet besef dat dit belangrik is om op die regte tyd te bid. Beskou die geval van ’n sekere jong man wat in Spreuke 7:6-23 gemeld word. Gedurende die skemerure loop hy in ’n straat af waar dit bekend is dat ’n onsedelike vrou woon. Omdat hy deur haar oorredingskrag mislei word en deur die gladheid van haar lippe verlei word, loop hy agter haar aan, soos ’n bul wat gaan om geslag te word. Waarom het hierdie jong man soontoe gegaan? Aangesien hy “nie ’n verstandige hart [gehad] het nie”, dit wil sê onervare was, het hy waarskynlik met verkeerde begeertes geworstel (Spr. 7:7). Wanneer sou gebed vir hom van die grootste nut gewees het? Dit sou natuurlik waardevol gewees het om enige tyd gedurende sy ontmoeting te bid om versoeking te weerstaan. Maar die beste tyd vir hom om te bid, sou gewees het toe die idee by hom opgekom het om in daardie straat af te loop.
17 Vandag probeer ’n man dalk hard om nie na pornografie te kyk nie. Maar gestel hy besoek Internetwebwerwe wat hy weet prikkelende foto’s of video’s bevat. Sal sy geval nie ooreenkom met dié van die jong man na wie daar in Spreuke hoofstuk 7 verwys word nie? Wat ’n gevaarlike weg om te begin bewandel! As ’n persoon die versoeking wil weerstaan om na pornografie te kyk, moet hy Jehovah se hulp in gebed vra voordat hy daardie weg op die Internet begin volg.
18, 19. (a) Waarom kan dit ’n uitdaging wees om versoekings te weerstaan, en hoe kan jy die uitdaging met welslae die hoof bied? (b) Wat is jy vasbeslote om te doen?
18 Dit is nie maklik om versoekings te weerstaan of om slegte gewoontes te bowe te kom nie. “Die vlees is, wat sy begeerte betref, teen die gees”, het die apostel Paulus geskryf, “en die gees teen die vlees.” Dit is waarom ons “juis dié dinge wat [ons] graag wil doen, nie doen nie” (Gal. 5:17). Om hierdie uitdaging die hoof te bied, moet ons vurig bid sodra verkeerde gedagtes by ons opkom of ’n versoeking ontstaan, en dan moet ons in ooreenstemming met ons gebede optree. “Geen versoeking het oor julle gekom nie, behalwe wat eie is aan mense”, en met Jehovah se hulp kan ons aan hom getrou bly.—1 Kor. 10:13.
19 Hetsy ons met ’n moeilike situasie te kampe het, ’n gewigtige besluit neem of ’n versoeking probeer weerstaan, Jehovah het ons ’n wonderlike gawe gegee—die kosbare voorsiening van gebed. Deur middel hiervan toon ons ons vertroue op hom. Ons moet God ook aanhou vra vir sy heilige gees, wat ons lei en versterk (Luk. 11:9-13). En laat ons vasbeslote wees om op Jehovah te vertrou en om nie op ons eie begrip te steun nie.
[Voetnoot]
a Name is verander.
Onthou jy?
• Wat het jy by Hiskia, Hanna en Jona geleer oor vertroue op Jehovah?
• Hoe beklemtoon die voorbeelde van Dawid en Josua dat ons versigtig moet wees wanneer ons besluite neem?
• Veral wanneer moet ons oor versoekings bid?
[Prent op bladsy 9]
Wanneer is gebed die voordeligste om versoekings te weerstaan?