“Wysheid dien as ’n beskerming”
“HOEVEEL beter is die verkryging van wysheid tog as goud! En die verkryging van begrip is verkiesliker as silwer”, sê Spreuke 16:16. Waarom is wysheid so kosbaar? Want “wysheid dien as ’n beskerming net soos geld as ’n beskerming dien; maar die voordeel van kennis is dat wysheid die besitters daarvan in die lewe hou” (Prediker 7:12). Maar hoe hou wysheid die besitters daarvan in die lewe?
Wanneer ons goddelike wysheid—dit wil sê juiste kennis van God se Woord, die Bybel—verkry en in ooreenstemming daarmee optree, help dit ons om te wandel op die weg wat Jehovah se goedkeuring wegdra (Spreuke 2:10-12). Koning Salomo van eertydse Israel sê: “Die grootpad van die regskapenes is om af te wyk van die kwaad. Wie sy weg beveilig, behou sy siel” (Spreuke 16:17). Ja, wysheid verlos die besitters daarvan uit slegte weë en hou hulle in die lewe! Die bondige, wyse gesegdes in Spreuke 16:16-33 toon watter positiewe uitwerking goddelike wysheid op ons gesindheid, spraak en optrede kan hê.a
‘Wees nederig van gees’
Volgens die skriftuurlike beskrywing sê die verpersoonlikte wysheid: “Selfverheffing en trots . . . het ek gehaat” (Spreuke 8:13). Trots en wysheid verskil soos dag en nag. Ons moet met wysheid handel en versigtig wees om nie ’n hoogmoedige, of arrogante, gesindheid te ontwikkel nie. Ons moet veral op ons hoede wees as ons in sekere aspekte van die lewe sukses behaal het of as ’n posisie van verantwoordelikheid in die Christengemeente aan ons toevertrou is.
“Trots kom voor ’n ineenstorting”, waarsku Spreuke 16:18, “en ’n hoogmoedige gees voor struikeling.” Dink byvoorbeeld aan die grootste ineenstorting, of val, in die heelal—dié van ’n volmaakte geesseun van God wat homself Satan die Duiwel gemaak het (Genesis 3:1-5; Openbaring 12:9). Het hy nie voor sy val ’n hoogmoedige gees geopenbaar nie? Die Bybel gee dit te kenne wanneer dit sê dat ’n pasbekeerde nie in ’n opsienersamp in die Christengemeente aangestel moet word nie, “sodat hy nie opgeblase van trots sal word en in die oordeel sal val wat oor die Duiwel gevel is nie” (1 Timoteus 3:1, 2, 6). Hoe belangrik is dit tog dat ons op ons hoede moet wees om nie die trots van ander aan te wakker of toe te laat dat dit in ons ontwikkel nie!
“Dit is beter om nederig van gees te wees saam met die sagmoediges as om buit te verdeel saam met dié wat hulleself verhef”, sê Spreuke 16:19. Die feit dat dit goeie raad is, kan gesien word uit die geval van koning Nebukadnesar van eertydse Babilon. Hy het met trots ’n yslike beeld—moontlik ’n uitbeelding van homself—in die vlakte Dura laat oprig. Die standbeeld was moontlik op ’n baie hoë voetstuk gemonteer sodat dit 27 meter hoog was (Daniël 3:1). Hierdie toringhoë monument was veronderstel om ’n indrukwekkende simbool van Nebukadnesar se ryk te wees. Hoewel hoë en verhewe dinge—soos daardie standbeeld, sowel as obeliske, kloktorings en wolkekrabbers—mense moontlik beïndruk, het dit nie dieselfde uitwerking op God nie. Die psalmis het gesing: “Jehovah is hoog, en tog sien hy die nederige; maar die verwaande ken hy net van ver af” (Psalm 138:6). Trouens, “wat hoog is onder die mense, is iets walgliks in God se oë” (Lukas 16:15). Dit sou beter wees as ons “saam met die nederige dinge gelei [word]” eerder as om “hoë dinge [te] bedink”.—Romeine 12:16.
Praat met “insig” en “oorredingskrag”
Watter uitwerking het dit op ons spraak wanneer ons wysheid verkry? Die wyse koning vertel ons: “Hy wat insig in ’n saak toon, sal die goeie vind, en gelukkig is hy wat op Jehovah vertrou. Wie wys van hart is, sal verstandig genoem word, en hy wat soet van lippe is, voeg oorredingskrag by. Insig is vir sy besitters ’n fontein van die lewe; en die dissipline van die dwase is dwaasheid. Die hart van die wyse laat sy mond insig toon, en by sy lippe voeg dit oorredingskrag.”—Spreuke 16:20-23.
Wysheid help ons om met insig en oorredingskrag te praat. Waarom? Want iemand wat wys van hart is, probeer “die goeie vind” in ’n saak en ‘vertrou op Jehovah’. Wanneer ons daarna streef om die goeie in ander te vind, sal dit waarskynliker wees dat ons goeie dinge van hulle sal sê. Ons woorde is soet en oorredend, nie ongevoelig of stryerig nie. Insig in ander se omstandighede help ons om te verstaan wat die omvang van hulle probleme is en hoe hulle dit hanteer.
Woorde wat deur wysheid beïnvloed word, is ook noodsaaklik wanneer dit kom by ons Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. Wanneer ons God se Woord aan ander leer, is ons doelwit nie om bloot skriftuurlike inligting oor te dra nie. Ons doel is om mense se hart te bereik. Dit vereis dat ons oorredingskrag by ons lippe moet voeg. Die apostel Paulus het sy metgesel Timoteus gemaan om te bly in die dinge wat hy “oortuig is om te glo”.—2 Timoteus 3:14, 15.
Die Griekse woord vir “oortuig”, of “oorreed”, beteken “om ’n verandering in denke teweeg te bring deur middel van logiese denke of sedelike oorwegings”, sê An Expository Dictionary of New Testament Words, deur W. E. Vine. Dit vereis insig in die denkwyse, belangstellings, omstandighede en agtergrond van ons toehoorders om met oortuigende argumente vorendag te kom wat daartoe lei dat hulle hulle denke verander. Hoe kan ons sulke insig verkry? Die dissipel Jakobus sê: ‘Wees gou om te hoor, stadig om te praat’ (Jakobus 1:19). As ons die persoon met wie ons praat, aan die gesels kry en noukeurig aandag skenk aan wat hy sê, kan ons uitvind watter soort persoon hy is.
Die apostel Paulus het ’n besondere vermoë gehad om ander te oorreed (Handelinge 18:4). Selfs een van sy teenstanders, Demetrius, ’n silwersmid, het erken: “Hierdie Paulus [het] nie net in Efese nie, maar in byna die hele landstreek Asië ’n aansienlike menigte oorreed . . . en hulle tot ’n ander mening gebring” (Handelinge 19:26). Het Paulus hom die eer toegeëien vir sy sukses in die predikingswerk? Glad nie. Hy het sy predikingswerk beskou as “’n betoning van [God se] gees en krag” (1 Korintiërs 2:4, 5). Jehovah se heilige gees help ons ook. Omdat ons op Jehovah vertrou, is ons seker van sy hulp terwyl ons daarna streef om met insig en oorredingskrag in ons bediening te praat.
Dit is geen wonder nie dat “wie wys van hart is”, “intelligent” of “oordeelkundig” genoem word! (Spreuke 16:21, An American Translation; New International Version). Ja, insig is “’n fontein van die lewe” vir diegene wat dit besit. Maar wat van die dwase? Hulle “verag wysheid en dissipline” (Spreuke 1:7). Watter vrugte pluk hulle omdat hulle die dissipline van Jehovah verwerp? Soos hierbo gemeld word, sê Salomo: “Die dissipline van die dwase is dwaasheid” (Spreuke 16:22). Hulle ontvang verdere dissipline, dikwels in die vorm van ernstige tugtiging. Die dwase bring dalk ook ontberinge, skande, siekte en selfs ontydige dood oor hulleself.
Met verwysing na die heilsame uitwerking wat wysheid op ons spraak het, sê die koning van Israel: “Aangename woorde is ’n heuningkoek, soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente” (Spreuke 16:24). Net soos heuning soet is en ’n honger persoon vinnig verkwik, is aangename woorde aanmoedigend en verkwikkend. Heuning het ook heilsame en geneeskragtige eienskappe, en dit is goed vir ’n mens. Dieselfde kan van aangename woorde gesê word; dit lei tot goeie geestelike gesondheid.—Spreuke 24:13, 14.
Pas op vir ‘’n weg wat reg lyk’
“Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk”, sê Salomo, “maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spreuke 16:25). Dit is ’n waarskuwing teen valse redenering en die navolging van ’n weg wat strydig is met goddelike wette. ’n Sekere weg lyk miskien reg uit ’n vleeslike oogpunt, maar is in werklikheid dalk teen die regverdige beginsels van God se Woord. Wat meer is, Satan bevorder moontlik hierdie valse indruk sodat die persoon aangemoedig word om ’n weg in te slaan wat hy glo reg is, terwyl dit eintlik na die dood lei.
Daar is geen beter beskerming teen selfbedrog nie as ’n hart wat verstandig is en ’n gewete wat deur die kennis van God se Woord verlig is. Wanneer ’n mens besluite in die lewe moet neem—hetsy met betrekking tot sedes of aanbidding of enigiets anders—is die beste manier om teen selfbedrog te waak, om deur God se standaarde van goed en sleg gerig te word.
“Die werkende man se eetlus werk vir hom”
“Die siel van die harde werker het vir hom hard gewerk”, sê die wyse koning verder, “want sy mond het hom aangedryf” (Spreuke 16:26). Salomo sê dat ’n werker se begeerte na kos ‘vir hom hard kan werk’ omdat sy hongerpyne ‘hom aandryf’, of hom motiveer. In An American Translation lui hierdie vers: “Die werkende man se eetlus werk vir hom; want sy honger dryf hom voort.” Normale begeertes, soos ons eetlus, kan ons aanspoor om produktief te wees. So ’n begeerte is voordelig. Maar sê nou ’n gepaste begeerte word toegelaat om so oordrewe te word dat dit in hebsug verander? Die gevolge is soortgelyk aan wat gebeur wanneer ’n kampvuur wat gebruik word om kos gaar te maak, ’n volskaalse bosbrand word. Hebsug is ’n begeerte wat buite beheer is, en dit is vernietigend. ’n Verstandige persoon besef die gevaar en hou selfs sy heilsame begeertes in toom.
Moenie “op ’n weg gaan wat nie goed is nie”
Die woorde wat uit ons mond kom, kan net so vernietigend soos ’n vlammende vuur wees. Salomo beskryf die verwoestende uitwerking as ons ander se foute soek en bekend maak deur te sê: “’n Deugniet grawe slegte dinge op, en op sy lippe is daar as ’t ware ’n verskroeiende vuur. ’n Man van listige streke bly twis saai, en ’n lasteraar skei dié wat vertroulik met mekaar omgaan.”—Spreuke 16:27, 28.
Iemand wat sy medemens se reputasie probeer skend, is “’n deugniet”. Ons moet die goeie in ander probeer soek en dinge sê wat respek vir hulle opbou. En gestel ons luister na diegene wat skadelike skinderpraatjies versprei? Hulle woorde kan maklik ongegronde agterdog wek, wat vriende uitmekaardryf en verdeeldheid in die gemeente veroorsaak. Wysheid sal ons beweeg om glad nie aan hulle gehoor te gee nie.
Salomo waarsku teen ’n verleidelike krag wat ’n mens ’n verkeerde weg kan laat inslaan en sê: “’n Man van geweld sal sy naaste verlei en laat hom beslis op ’n weg gaan wat nie goed is nie. Hy knip sy oë om listige streke te beraam. Terwyl hy sy lippe saampers, bring hy beslis onheil tot voltooiing.”—Spreuke 16:29, 30.
Kan ware aanbidders verlei word deur die verleidelike krag van geweld? Vandag is baie mense al verlei om “listige streke te beraam”. Hulle bevorder of beoefen gewelddade. Dit is dalk vir ons maklik om sulke regstreekse deelname aan geweld te vermy. Maar kan ons op subtiele wyse daarby betrek word? Is miljoene mense nie al verlei om vermaak of sport te geniet wat geweld verheerlik nie? Die skriftuurlike waarskuwing is duidelik: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Watter beskerming bied goddelike wysheid tog!
Wat kan gesê word van iemand wat sy hele lewe in die geselskap van wysheid en begrip deurgebring en ‘’n weg wat nie goed is nie’, vermy het? ’n Lewe op die weg van regverdigheid is pragtig in God se oë en verdien respek. “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word”, sê Spreuke 16:31.
Aan die ander kant is daar niks moois aan onbeheerste woede nie. Adam en Eva se eersgebore seun, Kain, “het baie kwaad geword” vir sy broer Abel en het hom “aangeval en hom doodgemaak” (Genesis 4:1, 2, 5, 8). Hoewel ons soms dalk met rede kwaad word, moet ons daarteen waak dat ons woede nie handuit ruk nie. Spreuke 16:32 stel dit duidelik: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem.” Onbeheerste woede is nie ’n teken van krag of deug nie. Dit is ’n swakheid wat ‘’n mens op ’n weg [kan] laat gaan wat nie goed is nie’.
Wanneer ‘elke beslissing van Jehovah kom’
“In die skoot word die lot gewerp,” sê die koning van Israel, “maar elke beslissing daardeur kom van Jehovah” (Spreuke 16:33). In eertydse Israel het Jehovah soms sy wil deur middel van die lot bekend gemaak. Klippies of hout- of kliptablette is as lote gebruik. Eerstens is ’n versoek tot Jehovah gerig dat hy ’n saak moet beslis. Daarna is die lote in die voue van ’n kleed gegooi en dan uitgetrek. Daar is aanvaar dat die resultaat van God afkomstig is.
Jehovah gebruik nie meer die lot om sy volk in kennis te stel van wat hy in gedagte het nie. Hy het sy wil in sy Woord, die Bybel, geopenbaar. Juiste kennis van wat in die Bybel gesê word, is noodsaaklik om goddelike wysheid te verkry. Daarom moet ons nie toelaat dat ’n enkele dag verbygaan sonder dat ons uit die geïnspireerde Skrif lees nie.—Psalm 1:1, 2; Matteus 4:4.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Spreuke 16:1-15, sien Die Wagtoring van 15 Mei 2007, bladsye 17-20.
[Prent op bladsy 8]
Waarom is wysheid baie beter as goud?
[Prent op bladsy 9]
Wat voeg oorredingskrag by jou lippe wanneer jy in die bediening is?
[Prent op bladsy 10]
“’n Deugniet grawe slegte dinge op”
[Prent op bladsy 11]
Onbeheerste woede kan ’n mens “op ’n weg [laat] gaan wat nie goed is nie”
[Prent op bladsy 12]
Geweld het die vermoë om ’n mens te verlei