Jou onkreukbaarheid maak Jehovah se hart bly
“Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.”—SPR. 27:11.
1, 2. (a) Watter aantyging van Satan word in die boek Job beskryf? (b) Wat toon dat Satan ná die dae van Job voortgegaan het om Jehovah uit te tart?
JEHOVAH het Satan toegelaat om die onkreukbaarheid van God se lojale kneg Job te toets. Gevolglik het Job sy vee, sy kinders en sy gesondheid verloor. Maar toe Satan Job se onkreukbaarheid bevraagteken het, het hy nie net die man Job in gedagte gehad nie. “Vel vir vel, en alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel”, het Satan beweer. Hierdie aantyging het ’n geskil geopper wat baie verder as net Job gestrek het en wat lank ná sy dood voortgeduur het.—Job 2:4.
2 Ongeveer 600 jaar ná Job se beproewinge is Salomo geïnspireer om te skryf: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spr. 27:11). Dit is duidelik dat Satan Jehovah op daardie stadium nog steeds uitgedaag het. En in ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, is Satan gesien waar hy God se knegte beskuldig nadat hy die een of ander tyd ná die oprigting van God se Koninkryk in 1914 uit die hemel gewerp is. Ja, vandag nog, so diep in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel, bevraagteken Satan nog steeds die onkreukbaarheid van God se knegte!—Op. 12:10.
3. Watter waardevolle lesse kan ons uit die boek Job leer?
3 Beskou dan nou drie van die belangrike lesse wat ons uit die boek Job leer. Eerstens, Job se beproewinge onthul wie die werklike vyand van die mensdom en die bron van teenstand teen God se volk is. Hierdie vyand is Satan die Duiwel. Tweedens, ongeag watter beproewinge ons deurmaak, ’n hegte verhouding met God sal ons in staat stel om ons onkreukbaarheid te handhaaf. Derdens, wanneer beproewinge ontstaan en ons op die een of ander manier getoets word, ondersteun God ons net soos hy Job ondersteun het. Vandag doen Jehovah dit deur middel van sy Woord, sy organisasie en sy heilige gees.
Hou die werklike vyand in gedagte
4. Wie dra die skuld vir die huidige wêreldtoestande?
4 Baie mense glo nie dat Satan bestaan nie. Hoewel hulle dalk verontrus is oor wêreldtoestande, onderskei hulle dus nie die werklike oorsaak—Satan die Duiwel—nie. Die mens self is weliswaar verantwoordelik vir baie van die mensdom se ellendes. Ons eerste ouers, Adam en Eva, het onafhanklikheid van hulle Skepper gekies. En sedertdien het die een geslag na die ander baie onverstandig opgetree. Maar dit was die Duiwel wat Eva mislei het om teen God in opstand te kom. Hy het ’n wêreldstelsel wat onder sy beheer is, onder die onvolmaakte, sterwende mensdom tot stand gebring. Omdat Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” is, openbaar die mensegemeenskap dieselfde basiese eienskappe as hy—trots, twisgierigheid, jaloesie, gierigheid, bedrieglikheid en opstandigheid. (2 Kor. 4:4; 1 Tim. 2:14; 3:6; lees Jakobus 3:14, 15.) Hierdie eienskappe het aanleiding gegee tot politieke en godsdienskonflikte, haat, korrupsie en wanorde, wat grootliks tot die mensdom se ellende bydra.
5. Wat wil ons doen met die kosbare kennis wat ons het?
5 Watter kosbare kennis het ons as Jehovah se knegte tog! Ja, ons weet wie die skuld dra vir verslegtende wêreldtoestande. Laat dit ons dan nie voel dat ons aan die veldbediening moet deelneem sodat ons mense kan vertel wie die eintlike moeilikheidmaker is nie? En verskaf dit ons nie vreugde om die ware God, Jehovah, te verdedig en aan ander te verduidelik hoe hy ’n einde aan Satan en aan die mensdom se ellende sal maak nie?
6, 7. (a) Wie is verantwoordelik vir die vervolging van ware aanbidders? (b) Hoe kan ons die voorbeeld van Elihu van ouds navolg?
6 Satan is nie net verantwoordelik vir baie van die wêreld se smarte nie, maar ook vir die teenstand wat God se volk ondervind. Hy is vasbeslote om ons op die proef te stel. Jesus Christus het vir die apostel Petrus gesê: “Simon, Simon, kyk! Satan het julle geëis om julle soos koring te sif” (Luk. 22:31). Elkeen van ons wat in Jesus se voetstappe volg, sal eweneens op die een of ander manier beproef word. Petrus het die Duiwel vergelyk met ‘’n brullende leeu wat daarop uit is om iemand te verslind’. En Paulus het gesê: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word.”—1 Pet. 5:8; 2 Tim. 3:12.
7 Hoe kan ons toon dat ons in gedagte hou wie die werklike vyand is wanneer ’n tragedie ’n medegelowige tref? Ons onttrek ons nie van die geteisterde broer nie, maar tree eerder op soos Elihu van ouds, wat as ’n ware vriend met Job gepraat het. Ons ondersteun ons broer in die stryd teen ons gemeenskaplike vyand, Satan (Spr. 3:27; 1 Tess. 5:25). Ons doelwit is om ons medekneg te help om sy onkreukbaarheid te handhaaf, ongeag wat gebeur, en sodoende Jehovah se hart bly te maak.
8. Waarom kon Satan Job nie verhinder om Jehovah te eer nie?
8 Die eerste bate wat Satan Job laat verloor het, was sy vee. Hierdie diere was waardevol, heel moontlik sy lewensonderhoud. Maar Job het hulle ook in aanbidding gebruik. Nadat Job sy kinders geheilig het, het hy “die oggend vroeg opgestaan en brandoffers gebring ooreenkomstig die getal van hulle almal; want, het Job gesê, ‘miskien het my seuns gesondig en God in hulle hart vervloek’. So het Job altyd gedoen” (Job 1:4, 5). Job het dus gereeld diereoffers aan Jehovah gebring. Nadat die beproewinge begin het, was dit nie meer moontlik nie. Job het geen “waardevolle dinge” gehad waarmee hy Jehovah kon eer nie (Spr. 3:9). Maar hy kon—en het—Jehovah met sy lippe geëer!
Kweek ’n hegte verhouding met Jehovah aan
9. Wat is ons kosbaarste besitting?
9 Hetsy ons ryk of arm, jonk of oud, gesond of sieklik is, ons kan ’n hegte verhouding met Jehovah aankweek. Ongeag watter beproewinge ons ondervind, ’n hegte band met God sal ons in staat stel om ons onkreukbaarheid te handhaaf en Jehovah se hart bly te maak. Selfs party mense wat ’n beperkte kennis van die waarheid gehad het, het ’n moedige standpunt ingeneem en hulle onkreukbaarheid gehandhaaf.
10, 11. (a) Hoe het een van ons susters op toetse van onkreukbaarheid gereageer? (b) Watter kragtige antwoord het hierdie suster vir Satan gegee?
10 Beskou die voorbeeld van suster Walentina Garnofskaja, een van baie Getuies in Rusland wat, soos getroue Job, hulle onkreukbaarheid ondanks hewige beproewinge gehandhaaf het. In 1945, toe sy ongeveer 20 jaar oud was, het ’n broer vir haar getuig. Hy het nog twee keer teruggekom om oor die Bybel te praat, maar daarna het sy hom nooit weer gesien nie. Walentina het nietemin vir haar bure begin preek. Gevolglik is sy in hegtenis geneem en tot agt jaar in ’n kamp gevonnis. In 1953 is sy vrygelaat, en sy het dadelik weer met haar predikingswerk begin. Sy is weer in hegtenis geneem en opgesluit—dié keer vir 10 jaar. Nadat sy etlike jare in een kamp was, is sy na ’n ander een verskuif. In hierdie kamp was daar ’n paar susters wat ’n Bybel gehad het. Eendag het ’n suster die Bybel vir Walentina gewys. Wat ’n opwindende oomblik was dit tog! Stel jou voor, die enigste ander Bybel wat Walentina ooit gesien het, was die een in die hande van die broer wat in 1945 vir haar getuig het!
11 In 1967 is Walentina vrygelaat en kon sy uiteindelik haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer. Tot 1969 het sy haar vryheid ywerig gebruik om aan die bediening deel te neem. In daardie jaar is sy egter weer in hegtenis geneem, en dié keer is sy tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Maar Walentina het aangehou preek. Voordat sy in 2001 oorlede is, het sy 44 mense gehelp om die waarheid te leer. Sy het altesaam 21 jaar in tronke en kampe deurgebring. Sy was bereid om alles op te offer, insluitende haar vryheid, om haar onkreukbaarheid te handhaaf. Aan die einde van haar lewe het Walentina gesê: “Ek het nooit my eie blyplek gehad nie. Al my besittings was in een koffer, maar ek was gelukkig en tevrede om Jehovah te dien.” Wat ’n kragtige antwoord het Walentina tog vir Satan gegee, wat beweer het dat mense tydens beproewinge nie aan God lojaal sal bly nie! (Job 1:9-11). Ons kan seker wees dat sy Jehovah se hart bly gemaak het en dat hy gretig uitsien na die tyd wanneer hy Walentina en al die ander wat getrou gesterf het, deur middel van die opstanding weer sal laat lewe.—Job 14:15.
12. Watter rol speel liefde in ons verhouding met Jehovah?
12 Ons vriendskap met Jehovah is gegrond op ons liefde vir hom. Ons bewonder God se eienskappe en doen alles in ons vermoë om in ooreenstemming met sy voornemens te lewe. In teenstelling met wat die Duiwel beweer, gee ons ons liefde vrywillig en onvoorwaardelik aan Jehovah. Hierdie hartgrondige liefde versterk ons om onkreukbaarheid tydens toetse te handhaaf. Wat Jehovah betref, “hy sal die weg van sy lojales bewaak”.—Spr. 2:8; Ps. 97:10.
13. Hoe beskou Jehovah wat ons vir hom doen?
13 Liefde beweeg ons om Jehovah se naam te eer, ongeag hoe beperk ons dalk voel. Hy sien ons goeie beweegredes en oordeel ons nie as ons nie alles kan doen wat ons wil doen nie. Wat belangrik is, is nie net wat ons doen nie, maar ook waarom ons dit doen. Hoewel Job bedroef was en baie verduur het, het hy met sy beskuldigers oor sy liefde vir Jehovah se weë gepraat. (Lees Job 10:12; 28:28.) In die laaste hoofstuk van die boek Job het God sy toorn teenoor Elifas, Bildad en Sofar uitgespreek omdat hulle nie die waarheid gepraat het nie. Terselfdertyd het Jehovah getoon dat hy Job goedkeur deur vier keer na hom as “my kneg” te verwys en deur hom te beveel om vir die oortreders voorspraak te doen (Job 42:7-9). Mag ons ook op so ’n wyse optree dat Jehovah ons met guns aansien.
Jehovah ondersteun sy getroue knegte
14. Hoe het Jehovah Job gehelp om sy denke reg te stel?
14 Job het sy onkreukbaarheid gehandhaaf al was hy onvolmaak. Onder uiterste druk het hy soms die verkeerde beskouing gehad. Hy het byvoorbeeld vir Jehovah gesê: “Ek roep tot u om hulp, maar u antwoord my nie . . . Met die volle mag van u hand is u my vyandiggesind.” Verder het Job te veel waarde daaraan geheg om homself te regverdig toe hy gesê het: ‘Ek is nie verkeerd nie’ en ‘daar is geen geweld in my palms nie, en my gebed is suiwer’ (Job 10:7; 16:17; 30:20, 21). Jehovah het Job nietemin vriendelik gehelp deur ’n reeks vrae te stel wat die aandag van Job afgelei het. Dit het Job ook in staat gestel om God se oppermag en die nietigheid van die mens duideliker te sien. Job het die leiding aanvaar en sy denke reggestel.—Lees Job 40:8; 42:2, 6.
15, 16. Hoe voorsien Jehovah hulp aan sy hedendaagse knegte?
15 Jehovah voorsien ook vriendelike, ferm leiding aan sy hedendaagse knegte. Daarbenewens geniet ons belangrike voordele. Byvoorbeeld, Jesus Christus het die losprysoffer voorsien en sodoende die grondslag gelê vir vergifnis van sondes. Op grond van hierdie offerande kan ons, ondanks ons onvolmaaktheid, ’n hegte verhouding met God hê (Jak. 4:8; 1 Joh. 2:1). Wanneer ons beproewinge deurmaak, bid ons ook vir die ondersteuning en versterkende hulp van God se heilige gees. Daarbenewens het ons die volledige Bybel, en as ons dit lees en oor die inhoud daarvan peins, berei ons ons voor vir toetse van geloof. Studie help ons om die geskille oor universele soewereiniteit en persoonlike onkreukbaarheid te verstaan.
16 Verder vind ons grootliks daarby baat om deel te wees van die aardwye broederskap wat Jehovah deur middel van “die getroue en verstandige slaaf” van geestelike voedsel voorsien (Matt. 24:45-47). In elkeen van die ongeveer 100 000 gemeentes van Jehovah se Getuies word vergaderinge gehou wat ons onderrig en versterk om moontlike toetse van geloof die hoof te bied. Dit kan toegelig word deur die ondervinding van Sheila, ’n tienderjarige Getuie in Duitsland.
17. Lig die wysheid daarvan toe om nougeset te bly by die onderrigting van Jehovah se hedendaagse organisasie.
17 Sheila se klas was eendag by die skool tydelik sonder toesig. Haar klasmaats het besluit om met ’n ouijabord te eksperimenteer. Sheila het dadelik die klaskamer verlaat, en sy was bly dat sy dit gedoen het toe sy later hoor wat gebeur het. Terwyl hulle die ouijabord gebruik het, het party van die leerders die teenwoordigheid van demone aangevoel en paniekbevange gevlug. Maar wat het Sheila laat besluit om die vertrek so vinnig te verlaat? “Kort voor hierdie voorval het ons die gevare van ouijaborde by ’n vergadering by die Koninkryksaal bespreek. Daarom het ek geweet wat om te doen”, verduidelik Sheila. “Ek wou Jehovah bly maak, net soos die Bybel in Spreuke 27:11 sê.” Hoe goed was dit tog dat Sheila by die vergadering was en aandagtig na die program geluister het!
18. Wat is jý vasbeslote om te doen?
18 Laat elkeen van ons vasbeslote wees om nougeset te bly by die onderrigting wat ons van God se organisasie kry. Deur gereelde vergaderingbywoning, Bybellees, die bestudering van Bybelpublikasies, gebed en omgang met geestelik volwasse Christene kry ons die leiding en ondersteuning wat ons nodig het. Jehovah wil hê dat ons moet seëvier, en hy het die vertroue dat ons lojaal sal bly. Wat ’n voorreg het ons tog om Jehovah se naam hoog te hou, onkreukbaarheid te handhaaf en Jehovah se hart bly te maak!
Onthou jy?
• Vir watter toestande en beproewinge is Satan verantwoordelik?
• Wat is ons kosbaarste besitting?
• Wat is die grondslag van ons vriendskap met Jehovah?
• Wat is party van die maniere waarop Jehovah ons vandag ondersteun?
[Prent op bladsy 8]
Voel jy nie dat jy die kosbare kennis wat jy het, aan ander moet bekend maak nie?
[Prent op bladsy 9]
Ons kan medeaanbidders help om hulle onkreukbaarheid te handhaaf
[Prent op bladsy 10]
Walentina was bereid om alles op te offer om haar onkreukbaarheid te handhaaf