Laat Jehovah se “woord” jou beveilig
BY DIE geskiedkundige slag van Maraton in 490 v.G.J. het tussen tien- en twintigduisend Ateners teen ’n baie sterker Persiese leër te staan gekom. ’n Sleutelfaktor in die Griekse strategie was die falanks—’n groep soldate wat in geslote formasie marsjeer. Hulle skilde het ’n feitlik ondeurdringbare pantsermuur gevorm, ’n muur vol spiese. Die falanks het die Ateners ’n beroemde oorwinning oor die groot oormag van die Perse gegee.
Ware Christene is in ’n geestelike oorlog gewikkel. Hulle stry teen kragtige vyande—die onsigbare heersers van die teenswoordige goddelose stelsel, wat in die Bybel beskryf word as “die wêreldheersers van hierdie duisternis, . . . die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12; 1 Johannes 5:19). God se volk behaal voortdurend die oorwinning—maar nie in hulle eie krag nie. Alle eer kom Jehovah toe, wat hulle beskerm en onderrig, soos opgeteken is in Psalm 18:30: “Die woord van Jehovah is gelouter. ’n Skild is hy vir almal wat hulle toevlug tot hom neem.”
Ja, deur middel van sy gesuiwerde “woord”, wat in die Heilige Skrif vervat is, beskerm Jehovah sy lojale knegte teen geestelike skade (Psalm 19:7-11; 119:93). Oor die wysheid wat in God se Woord geopenbaar word, het Salomo geskryf: “Moet dit nie verlaat nie, en dit sal jou bewaar. Wees lief daarvoor, en dit sal jou beveilig” (Spreuke 4:6; Prediker 7:12). Hoe beveilig goddelike wysheid ons sodat ons nie skade berokken word nie? Beskou die voorbeeld van eertydse Israel.
’n Volk wat deur goddelike wysheid beskerm is
Jehovah se Wet het die Israeliete in elke faset van die lewe beskerm en gerig. Byvoorbeeld, die voorskrifte oor voedsel, higiëne en kwarantyn het hulle beskerm teen baie van die siektes wat ander nasies geteister het. Eers ná die ontdekking van bakterieë in die 19de eeu het die wetenskap dieselfde standaard as God se Wet begin bereik. Die wette oor grondbesit, terugkoping, vryskelding van skuld en woekerwins het vir Israel maatskaplike voordele meegebring deur ’n bestendige gemeenskap en ’n regverdige ekonomie te bevorder (Deuteronomium 7:12, 15; 15:4, 5). Jehovah se Wet het selfs gehelp om Israel se grond in ’n goeie toestand te hou! (Eksodus 23:10, 11). Gebooie teen valse aanbidding het die volk geestelik beveilig en hulle beskerm teen demoononderdrukking, kinderofferandes en baie ander bose dinge, benewens die verlagende gebruik dat mense hulle voor lewelose afgode neerbuig.—Eksodus 20:3-5; Psalm 115:4-8.
Jehovah se “woord” was beslis “geen waardelose woord” vir Israel nie; dit het eerder lewe en lengte van dae beteken vir almal wat dit gehoorsaam het (Deuteronomium 32:47). Dieselfde is vandag waar van diegene wat Jehovah se wyse woorde bewaar, selfs al is Christene nie meer onder die Wetsverbond nie (Galasiërs 3:24, 25; Hebreërs 8:8). In plaas van ’n stel wette het Christene in werklikheid ’n groot verskeidenheid Bybelbeginsels om hulle te rig en te beveilig.
’n Volk wat deur beginsels beskerm word
Wette kan ’n beperkte toepassing hê en net tydelik wees. Maar Bybelbeginsels, wat grondwaarhede is, het gewoonlik ’n breë en permanente toepassing. Neem byvoorbeeld die beginsel in Jakobus 3:17, wat gedeeltelik sê: “Die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend.” Hoe kan hierdie grondwaarheid vandag vir God se volk as ’n skild dien?
Om kuis te wees, beteken om sedelik rein te wees. Gevolglik probeer diegene wat waarde heg aan kuisheid, nie om net onsedelikheid te vermy nie, maar selfs dinge wat daartoe lei, onder meer seksuele fantasieë en pornografie (Matteus 5:28). So ook vermy paartjies wat mekaar die hof maak en die beginsel in Jakobus 3:17 ter harte geneem het, liefdesblyke wat tot ’n verlies van selfbeheersing kan lei. As liefhebbers van beginsels word hulle nie verlok om hulle kuisheid prys te gee nie, miskien deur te dink dat Jehovah hulle gedrag goedkeur solank hulle nie die letter van die wet verbreek nie. Hulle weet dat Jehovah “sien wat die hart is” en dienooreenkomstig reageer (1 Samuel 16:7; 2 Kronieke 16:9). Sulke wyse persone beveilig hulle vlees teen die talle seksueel oordraagbare siektes wat vandag so algemeen is en bewaar ook hulle geestes- en emosionele welsyn.
Goddelike wysheid is ook “vredeliewend”, sê Jakobus 3:17. Ons weet dat Satan ons van Jehovah probeer vervreem deur ’n gewelddadige gees in ons hart te saai, onder meer deur middel van twyfelagtige lektuur, rolprente, musiek en rekenaarspeletjies—waarvan party die spelers aanspoor om ondenkbare wreedheid en bloedvergieting na te boots! (Psalm 11:5). Die feit dat Satan hierin slaag, blyk uit die toenemende vlaag van geweldsmisdade. Aangaande hierdie soort misdade het die Australiese koerant The Sydney Morning Herald ’n paar jaar gelede Robert Ressler, wat die term “reeksmoordenaar” gesmee het, aangehaal. Ressler het gesê dat die moordenaars met wie hy in die 1970’s onderhoude gevoer het, aangevuur is deur sagte pornografie wat “nie te vergelyk is met dié van vandag nie”. Ressler het dus “’n droewige vooruitsig vir die toekoms [gestel]—’n nuwe eeu waarin reeksmoordenaars toeneem”.
Trouens, net ’n paar maande ná hierdie nuusberig verskyn het, het ’n gewapende man 16 kindertjies en hulle onderwyseres by ’n kleuterskool in Dunblane, Skotland, doodgeskiet voordat hy homself geskiet het. Die daaropvolgende maand het nog ’n waansinnige man altesaam 32 mense doodgeskiet in die stil Tasmaniese dorp Port Arthur, Australië. In onlangse jare is die Verenigde State deur ’n aantal slagtings by skole geskok, wat Amerikaners laat vra: Waarom? In Junie 2001 was Japan wêreldwyd voorbladnuus toe ’n waansinnige man by ’n skool ingestap het en 8 kinders in graad een en twee doodgesteek en nog 15 mense ernstige meswonde toegedien het. Die redes agter hierdie bose dade is weliswaar kompleks, maar mediageweld word al hoe meer as ’n bydraende faktor beskou. “As ’n advertensie van 60 sekondes berge in die handelswêreld kan versit”, het die Australiese rubriekskrywer Phillip Adams geskryf, “moet jy nie vir my sê dat ’n twee uur lange multimiljoendollarrolprent nie gesindhede beïnvloed nie.” Dit is interessant dat die polisie beslag gelê het op 2 000 gewelddadige en pornografiese video’s in die huis van die moordenaar in Port Arthur.
Diegene wat Bybelbeginsels aankleef, beskerm hulle verstand en hart teen alle vorme van vermaak wat ’n begeerte na geweld aanwakker. “Die gees van die wêreld” is dus nie welkom in hulle denke en begeertes nie. Hulle word eerder “deur die gees [van God] geleer” en streef daarna om ’n liefde aan te kweek vir die vrugte daarvan, wat vrede insluit (1 Korintiërs 2:12, 13; Galasiërs 5:22, 23). Hulle doen dit deur gereelde Bybelstudie, gebed en opbouende bepeinsing. Hulle gaan ook nie om met mense wat ’n gewelddadige gesindheid het nie, maar verkies eerder om met diegene om te gaan wat, soos hulle, na Jehovah se vreedsame nuwe wêreld smag (Psalm 1:1-3; Spreuke 16:29). Ja, goddelike wysheid is ’n groot beskerming!
Laat Jehovah se “woord” jou hart bewaak
Toe Jesus in die wildernis versoek is, het hy Satan geantwoord deur God se Woord akkuraat aan te haal (Lukas 4:1-13). Maar hy het nie in ’n gesprek met die Duiwel gewikkel geraak bloot om te bewys wie die slimste is nie. Deur sy verdediging op die Skrif te grond, het Jesus uit die hart gepraat, en daarom het die Duiwel se strategie, wat so goed in Eden gewerk het, in Jesus se geval misluk. Satan se sette sal ook in ons geval misluk as ons ons hart met Jehovah se woorde vul. Niks kan belangriker wees nie, want “[uit die hart] is die oorspronge van die lewe”.—Spreuke 4:23.
Verder moet ons voortgaan om ons hart te bewaak en nooit daarin verslap nie. Al het Satan se pogings in die wildernis misluk, het hy nie opgehou om Jesus te toets nie (Lukas 4:13). Hy sal ook in ons geval aanhou en ’n verskeidenheid strategieë probeer om ons ons onkreukbaarheid te laat prysgee (Openbaring 12:17). Laat ons Jesus dus navolg deur ’n innige liefde vir God se Woord aan te kweek en terselfdertyd onophoudelik vir heilige gees en wysheid te bid (1 Tessalonisense 5:17; Hebreërs 5:7). Wat Jehovah betref, hy belowe dat almal wat hulle toevlug tot hom neem, geen geestelike skade sal ly nie.—Psalm 91:1-10; Spreuke 1:33.
God se woord beveilig die gemeente
Satan kan nie keer dat die voorspelde “groot menigte” die groot verdrukking oorleef nie (Openbaring 7:9, 14). Nietemin wend hy nog steeds koorsagtige pogings aan om Christene te verderf sodat ten minste party persone Jehovah se guns sal verloor. Hierdie strategie het in eertydse Israel gewerk en daartoe gelei dat 24 000 op die drumpel van die Beloofde Land gesterf het (Numeri 25:1-9). Christene wat oortree en ware berou toon, ontvang natuurlik liefdevolle hulp sodat hulle geestelik herstel kan word. Maar onberouvolle sondaars, soos Simri van ouds, stel die sedelike en geestelike welsyn van ander in gevaar (Numeri 25:14). Soos soldate in ’n falanks wat hulle skilde weggegooi het, stel hulle nie net hulleself aan gevaar bloot nie, maar ook hulle metgeselle.
Daarom beveel die Bybel: “Hou [op] om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en [moet] nie eens saam met so iemand . . . eet nie. . . . Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Korintiërs 5:11, 13). Stem jy nie saam dat hierdie wyse “woord” help om die sedelike en geestelike reinheid van die Christengemeente te beveilig nie?
In skerp teenstelling hiermee beskou baie van die Christendom se kerke sowel as afvalliges dié dele van die Bybel wat met moderne, liberale beskouings van sedelikheid bots, as verouderd. Gevolglik vergoelik hulle alle vorme van growwe sonde, selfs onder die geestelikes (2 Timoteus 4:3, 4). Let egter op dat Spreuke 30:5, wat ook na Jehovah se skildagtige “woord” verwys, gevolg word deur die gebod in vers 6: “Voeg niks by [God se] woorde nie, sodat hy jou nie teregwys nie, en sodat jy nie as ’n leuenaar geopenbaar word nie.” Ja, diegene wat met die Bybel peuter, is in werklikheid geestelike leuenaars—die laakbaarste van alle leuenaars! (Matteus 15:6-9). Laat ons dan innig dankbaar wees dat ons deel is van ’n organisasie wat diep respek vir God se Woord het.
Beskerm deur “’n soet geur”
Omdat God se volk die Bybel aankleef en die vertroostende boodskap daarin aan ander bekend maak, versprei hulle ’n wierookagtige “soet geur” van lewe wat Jehovah behaag. Maar vir onregverdige mense skei die draers van hierdie boodskap, volgens J. B. Phillips se vertaling, “die dodelike reuk van ondergang” af. Ja, die figuurlike reuksin van die goddeloses is so verwronge as gevolg van Satan se stelsel van dinge dat hulle ongemaklik of selfs vyandig voel in die teenwoordigheid van diegene wat die “soet geur van Christus” versprei. Daarenteen word diegene wat die goeie nuus ywerig verkondig, “’n soet geur van Christus onder dié wat gered word” (2 Korintiërs 2:14-16). Hierdie opregtes van hart word dikwels gewalg deur die huigelary en godsdiensleuens wat valse godsdiens kenmerk. Wanneer ons dus God se Woord oopslaan en die Koninkryksboodskap aan hulle bekend maak, voel hulle aangetrokke tot Christus en wil hulle meer leer.—Johannes 6:44.
Moet dus nie moedeloos voel wanneer party negatief reageer op die Koninkryksboodskap nie. Beskou eerder die “soet geur van Christus” as ’n vorm van geestelike beskerming wat talle mense wat moontlik skade kan aanrig, verdryf van die geestelike land wat deur God se volk bewoon word, terwyl dit dié met ’n goeie hart aantrek.—Jesaja 35:8, 9.
Omdat die Griekse soldate by Maraton in geslote geledere gemarsjeer het en met alle mag aan hulle skilde vasgehou het, het hulle ondanks die oorweldigende oormag gewen. Net so is Jehovah se lojale Getuies verseker van ’n volslae oorwinning in hulle geestelike oorlog, want dit is hulle “erfbesitting” (Jesaja 54:17). Laat elkeen van ons dus voortgaan om ons toevlug tot Jehovah te neem deur “’n stewige greep op die woord van die lewe” te behou.—Filippense 2:16.
[Prente op bladsy 31]
‘Die wysheid van bo is kuis, dan vredeliewend’