Jongmense, dink nou aan julle Grootse Skepper
“Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid.”—PRED. 12:1.
1. Hoe spreek Jehovah sy vertroue uit in sy jong aanbidders?
JEHOVAH beskou jong Christene as kosbaar en so verkwikkend soos doudruppels. Trouens, hy het voorspel dat jong manne en vroue hulle op die dag van sy Seun se “krygsmag” “gewillig [sal] aanbied” in die diens van Christus (Ps. 110:3). Hierdie profesie sou vervul word gedurende ’n tyd wanneer mense oor die algemeen godloos, behep met hulleself en met geld asook ongehoorsaam sou wees. Maar Jehovah het geweet dat jongmense wat hom aanbid, anders sou wees. Watter vertroue stel hy tog in julle jong broers en susters!
2. Wat behels dit om aan Jehovah te dink?
2 Stel jou net voor hoe bly dit God moet maak wanneer hy sien dat jongmense aan hom as hulle Grootse Skepper dink (Pred. 12:1). Om aan Jehovah te dink, behels natuurlik meer as dat net ’n gedagte aan hom by ons opkom. Dit vereis optrede—om te doen wat hom behaag deur toe te laat dat sy wette en beginsels ons in ons daaglikse lewe rig. Dit vereis ook vertroue in Jehovah, in die wete dat hy ons belange op die hart dra (Ps. 37:3; Jes. 48:17, 18). Is dit hoe jy oor jou Grootse Skepper voel?
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart”
3, 4. Hoe het Jesus getoon dat hy op Jehovah vertrou, en waarom is dit vandag belangrik om op Jehovah te vertrou?
3 Die beste voorbeeld van iemand wat op God vertrou het, was natuurlik Jesus Christus. Hy het in ooreenstemming met die woorde van Spreuke 3:5, 6 gelewe: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.” Kort ná sy doop is Jesus deur Satan genader, wat hom probeer versoek het om wêreldse gesag en heerlikheid te aanvaar (Luk. 4:3-13). Jesus is nie mislei nie. Hy het geweet dat ware “rykdom en heerlikheid en die lewe” “die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah” is.—Spr. 22:4.
4 Vandag se wêreld word deur gierigheid en selfsug oorheers. In hierdie milieu is dit verstandig van ons om Jesus se voorbeeld te volg. Hou ook in gedagte dat Satan enigiets sal doen om Jehovah se knegte weg te lok van die smal pad wat na die lewe lei. Hy wil hê dat almal moet wandel op die breë pad wat na vernietiging lei. Moenie toelaat dat hy jou mislei nie! Wees eerder vasbeslote om aan jou Grootse Skepper te dink. Vertrou ten volle op hom, en kry ’n stewige houvas op “die werklike lewe”, wat seker sowel as naby is.—1 Tim. 6:19.
Jongmense, wees wys!
5. Hoe voel jy oor die toekoms van hierdie wêreld?
5 Jongmense wat aan hulle Grootse Skepper dink, is wyser as hulle jare. (Lees Psalm 119:99, 100.) Omdat hulle God se beskouing aanneem, weet hulle goed hoe duister hierdie wêreld se toekoms werklik is. Selfs in julle betreklike kort leeftyd het julle as jongmense ongetwyfeld gesien hoe vrees en angstigheid toeneem. As julle nog op skool is, het julle waarskynlik al gehoor van besoedeling, aardverwarming, ontbossing en soortgelyke probleme. Mense is diep besorgd oor hierdie verwikkelinge, maar net Jehovah se Getuies verstaan ten volle dat dit deel is van die teken wat toon dat die einde van Satan se wêreld naby is.—Op. 11:18.
6. Hoe is party jongmense mislei?
6 Ongelukkig het party jong knegte van God hulle waaksaamheid laat verslap en uit die oog verloor dat hierdie wêreld net ’n kort tydjie oorhet (2 Pet. 3:3, 4). Ander is deur slegte omgang en pornografie verlok om growwe sonde te pleeg (Spr. 13:20). Hoe jammer sal dit tog wees om God se guns te verloor noudat ons so naby aan die einde is! Ons wil eerder leer uit wat in 1473 v.G.J. met die Israeliete gebeur het toe hulle op die vlaktes van Moab was, op die drumpel van die Beloofde Land. Wat het daar gebeur?
Hulle het naby die eindstreep geval
7, 8. (a) Watter strategie het Satan op die vlaktes van Moab gebruik? (b) Watter strategie gebruik Satan vandag?
7 Satan wou destyds ongetwyfeld keer dat die Israeliete hulle beloofde erfenis ontvang. Toe hy nie daarin kon slaag om hulle deur die profeet Bileam te laat vervloek nie, het Satan ’n subtieler strategie gebruik; hy het hulle in onguns by Jehovah probeer bring sodat hulle nie sy seën sou ontvang nie. Die verloklike vroue van Moab is gebruik om hulle te verlei, en hierdie keer het die Duiwel ’n mate van sukses behaal. Die volk het onsedelike gemeenskap met die dogters van Moab begin hou en hulle voor die Baäl van Peor neergebuig! Hoewel hulle kosbare erfenis, die Beloofde Land, baie naby was, het sowat 24 000 Israeliete hulle lewe verloor. Hoe tragies was dit tog!—Num. 25:1-3, 9.
8 Vandag beweeg ons vinnig nader aan ’n veel beter beloofde land—die nuwe stelsel van dinge. Soos in die verlede gebruik Satan weer eens geslagsonsedelikheid om God se knegte te verderf. In die wêreld het sedelike standaarde so laag gedaal dat hoerery as normaal en homoseksualiteit bloot as ’n saak van persoonlike keuse beskou word. Een Christensuster het gesê: “My kinders leer net by die huis en by die Koninkryksaal dat homoseksualiteit en geslagsomgang buite die huwelik sleg is in God se oë.”
9. Wat kan tydens “die bloei van die jeug” gebeur, en wat kan jongmense daaromtrent doen?
9 Jongmense wat aan hulle Grootse Skepper dink, weet dat seksuele intimiteit ’n heilige gawe is wat met die lewe en voortplanting verband hou. Hulle besef dus dat geslagsomgang geniet moet word op die manier wat God bepaal het—binne die huweliksreëling (Heb. 13:4). Maar tydens “die bloei van die jeug”—die tydperk wanneer seksuele gevoelens sterk word en dit ’n mens se oordeel kan vertroebel—kan dit ’n stryd wees om kuis te bly (1 Kor. 7:36). Wat kan jy doen wanneer ongepaste gedagtes by jou opkom? Bid ernstig tot Jehovah vir hulp om op heilsame dinge te konsentreer. Jehovah luister altyd na diegene wat hulle opreg tot hom wend. (Lees Lukas 11:9-13.) Opbouende gesprekke kan ’n mens ook help om jou gedagtes weer op goeie dinge toe te spits.
Kies jou doelwitte wyslik!
10. Watter negatiewe denkwyse wil ons vermy, en watter vrae kan ons ons afvra?
10 Een rede waarom talle jongmense in die wêreld bandeloos is en vir vleeslike genot lewe, is omdat daar vir hulle geen “visioen”—geen goddelike leiding of vaste hoop vir die toekoms—is nie (Spr. 29:18). Hulle is soos die ontroue Israeliete van Jesaja se dag wat gelewe het vir ‘verheuging en blydskap, om vleis te eet en wyn te drink’ (Jes. 22:13). In plaas van sulke mense te beny, moet jy eerder nadink oor die kosbare hoop wat Jehovah sy lojales bied. Sien jy, as jy ’n jong kneg van God is, gretig uit na die nuwe wêreld? Doen jy alles in jou vermoë om “met gesonde verstand . . . te lewe, terwyl [jy] wag op die gelukkige hoop” wat Jehovah jou bied? (Tit. 2:12, 13). Jou antwoord sal die doelwitte en prioriteite wat jy vir jou stel, beïnvloed.
11. Waarom moet jong Christene wat nog op skool is, hard werk?
11 Die wêreld wil hê dat jongmense hulle energie gebruik om sekulêre doelwitte na te jaag. Dié van julle wat nog op skool is, moet natuurlik hard werk om ’n goeie basiese opvoeding te kry. Julle doelwit is immers nie net om geskikte werk te kry nie, maar ook om ’n aanwins vir die gemeente en ’n produktiewe Koninkryksverkondiger te wees. Om hierin te slaag, moet julle in staat wees om goed te kommunikeer, logies te dink en kalm en respekvol met ander te redeneer. Maar jongmense wat die Bybel bestudeer en daarna streef om die beginsels daarin in hulle lewe toe te pas, kry die beste opvoeding wat daar is en lê ’n goeie fondament vir ’n suksesvolle en ewige toekoms.—Lees Psalm 1:1-3.a
12. Watter voorbeeld moet Christengesinne navolg?
12 In Israel was die opvoeding van kinders deur hulle ouers ’n baie ernstige saak. Hierdie opvoeding het feitlik elke faset van die lewe gedek, veral geestelike sake (Deut. 6:6, 7). Jong Israeliete wat na hulle ouers en ander godvresende ouer persone geluister het, het dus nie net kennis verkry nie, maar ook wysheid, insig, begrip en denkvermoë—seldsame eienskappe wat deur goddelike onderrigting verkry kan word (Spr. 1:2-4; 2:1-5, 11-15). Vandag moet Christengesinne dieselfde aandag aan opvoeding skenk.
Luister na diegene wat julle liefhet
13. Watter soort raad ontvang party jongmense, en waarom moet hulle versigtig wees?
13 Jongmense kry raad van allerhande mense—insluitende voorligtingsonderwysers, wat gewoonlik net op sukses in die sekulêre wêreld ingestel is. Oorweeg sulke raad asseblief biddend in die lig van God se Woord en die geestelike voedsel wat deur die getroue en verstandige slaafklas voorsien word. Uit jou studie van die Bybel weet jy dat die jonges en onervarenes ’n vername teiken van Satan is. In die tuin van Eden het die onervare Eva byvoorbeeld na Satan geluister, ’n vreemdeling wat nie ’n greintjie liefde vir haar getoon het nie. Hoe anders sou sake tog verloop het as sy na Jehovah geluister het, die een wat sy liefde vir haar op soveel maniere bewys het!—Gen. 3:1-6.
14. Waarom moet ons na Jehovah sowel as na ons gelowige ouers luister?
14 Jou Grootse Skepper het jou ook lief, en sy beweegredes is heeltemal suiwer. Hy wil hê dat jy vir ewig gelukkig moet wees, nie net nou nie! Met die teerheid van ’n besorgde ouer sê hy dus vir jou en vir almal wat hom aanbid: “Dit is die weg. Wandel daarop” (Jes. 30:21). As jy gelowige ouers het wat Jehovah innig liefhet, het jy ’n verdere seën. Luister respekvol na hulle raad wanneer jy prioriteite en doelwitte stel (Spr. 1:8, 9). Hulle wil op stuk van sake hê dat jy die lewe moet verkry, iets wat baie waardevoller is as rykdom of aansien in hierdie wêreld.—Matt. 16:26.
15, 16. (a) Watter vertroue kan ons in Jehovah hê? (b) Watter belangrike les leer ons uit die ondervinding van Barug?
15 Dié wat aan hulle Grootse Skepper dink, hou hulle lewe eenvoudig, in die vertroue dat Jehovah hulle “hoegenaamd nie” sal verlaat of hulle “ooit” sal versaak nie. (Lees Hebreërs 13:5.) Omdat hierdie heilsame gesindheid in stryd is met die denke van die wêreld, moet ons oppas dat die wêreld se gees ons nie beïnvloed nie (Ef. 2:2). In hierdie verband kan ons kyk na die voorbeeld van Jeremia se sekretaris, Barug, wat gelewe het gedurende Jerusalem se moeilike laaste dae wat die stad se vernietiging in 607 v.G.J. voorafgegaan het.
16 Barug wou moontlik sy lewe op materiële gebied verbeter. Jehovah het dit gesien en het Barug vriendelik gewaarsku om nie aan te hou om vir hom “groot dinge” te soek nie. Barug was nederig en wys, want hy het na Jehovah geluister en die vernietiging van Jerusalem oorleef (Jer. 45:2-5). Daarenteen het Barug se tydgenote wat wel “groot dinge” op materiële gebied verkry het en Jehovah op die agtergrond geskuif het, weldra alles deur die toedoen van die Galdeërs (Babiloniërs) verloor. Baie het ook hulle lewe verloor (2 Kron. 36:15-18). Barug se ondervinding help ons om te sien dat ’n goeie verhouding met God baie belangriker is as rykdom en aansien in hierdie wêreld.
Volg die beste voorbeelde
17. Waarom is Jesus, Paulus en Timoteus goeie rolmodelle vir Jehovah se hedendaagse knegte?
17 Om ons te help op die pad na die lewe, gee God se Woord ons talle goeie rolmodelle. Byvoorbeeld, Jesus was die mees begaafde mens wat nog gelewe het, en tog het hy hom toegespits op wat mense tot in ewigheid sou help—“die goeie nuus van die koninkryk” (Luk. 4:43). Om Jehovah sy beste te gee, het die apostel Paulus ’n belowende loopbaan prysgegee en sy tyd en energie gebruik om die goeie nuus te verkondig. Timoteus, “’n ware kind in die geloof”, het Paulus se goeie voorbeeld gevolg (1 Tim. 1:2). Was Jesus, Paulus en Timoteus spyt oor die lewensweg wat hulle gekies het? Glad nie! Trouens, Paulus het gesê dat hy die dinge wat die wêreld bied, beskou as “’n klomp vullis” in vergelyking met die voorreg om God te dien.—Fil. 3:8-11.
18. Watter groot veranderinge het ’n jong broer gemaak, en waarom is hy nie spyt nie?
18 Vandag volg talle jong Christene die geloof van Jesus, Paulus en Timoteus na. Byvoorbeeld, ’n jong broer wat ’n goed betaalde werk gehad het, het geskryf: “Omdat ek volgens Bybelbeginsels lewe, het ek gou bevordering gekry. Ondanks die finansiële voordele het ek gevoel dat dit ’n gejaag na wind is. Toe ek die maatskappy se bestuur genader het en vir hulle gesê het dat ek die voltydse diens wil betree, was hulle gou om vir my baie meer geld aan te bied, in die hoop dat ek sou bly. Maar ek het nie van besluit verander nie. Baie mense kon nie verstaan waarom ek ’n winsgewende loopbaan die rug toegekeer het om in die voltydse diens te wees nie. My antwoord is dat ek my toewyding aan God werklik wil naleef. Omdat my lewe nou om geestelike dinge draai, ervaar ek vreugde en tevredenheid wat geen hoeveelheid geld of aansien my kan gee nie.”
19. Watter wyse keuse word jongmense aangespoor om te maak?
19 Regoor die wêreld het duisende jongmense sulke wyse keuses gemaak. Jongmense, hou dus Jehovah se dag goed in gedagte wanneer julle aan julle toekoms dink (2 Pet. 3:11, 12). Moenie diegene beny wat hierdie wêreld ten volle gebruik nie. Luister eerder na dié wat julle waarlik liefhet. Om “skatte in die hemel” op te gaar, is die veiligste belegging wat julle kan maak en die enigste een met ewige voordele. (Matt. 6:19, 20; lees 1 Johannes 2:15-17.) Ja, dink aan julle Grootse Skepper. As julle dit doen, sal Jehovah julle seën.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van hoër onderwys en sekulêre werk, sien Die Wagtoring van 1 Oktober 2005, bladsye 26-31.
Onthou jy?
• Hoe toon ons dat ons op God vertrou?
• Wat is die allerbeste opvoeding?
• Watter lesse kan ons by Barug leer?
• Wie is goeie rolmodelle, en waarom?
[Prente op bladsy 13]
Jehovah voorsien die allerbeste opvoeding
[Prent op bladsy 15]
Barug het na Jehovah geluister en Jerusalem se vernietiging oorleef. Wat kan jy uit hierdie voorbeeld leer?