Hoofstuk ses
Jehovah—“’n regverdige God en ’n Redder”
1, 2. Watter versekeringe word in Jesaja hoofstuk 45 gegee, en watter vrae sal ondersoek word?
JEHOVAH se beloftes is betroubaar. Hy is die God wat dinge openbaar en skep. Hy het al keer op keer bewys dat hy ’n regverdige God en ’n Redder van mense van alle nasies is. Dit is party van die hartverblydende versekeringe wat in Jesaja hoofstuk 45 aangetref word.
2 Daarbenewens bevat Jesaja hoofstuk 45 ’n merkwaardige voorbeeld van Jehovah se vermoë om te profeteer. God se gees stel Jesaja in staat om verre lande te sien sowel as gebeure wat in toekomstige eeue sal plaasvind, en dit laat hom ’n episode beskryf wat net Jehovah, die God van ware profesie, so akkuraat kon voorspel. Wat is daardie gebeurtenis? Hoe raak dit God se volk in Jesaja se dag? Watter betekenis het dit vandag vir ons? Kom ons ondersoek die profeet se woorde.
Jehovah se uitspraak teen Babilon
3. Met watter duidelike woorde beskryf Jesaja 45:1-3a Kores se oorwinning?
3 “Só het Jehovah vir sy gesalfde, vir Kores, gesê, wie se regterhand ek gevat het om nasies voor hom te onderwerp, sodat ek selfs die heupe van konings kan ontgord; om voor hom die tweevleueldeure oop te maak, sodat die poorte nie gesluit sal wees nie: ‘Ek sal voor jou uit gaan, en die bulte sal ek gelykmaak. Die koperdeure sal ek verbreek en die ystergrendels stukkend slaan. En ek sal jou die skatte in die duisternis gee en die verborge skatte in die skuilplekke.’”—Jesaja 45:1-3a.
4. (a) Waarom noem Jehovah Kores sy “gesalfde”? (b) Hoe sal Jehovah verseker dat Kores die oorwinning behaal?
4 Deur middel van Jesaja praat Jehovah met Kores asof hy lewe, hoewel Kores in Jesaja se dag nog nie gebore was nie (Romeine 4:17). Aangesien Jehovah Kores voor die tyd aanstel om ’n spesifieke taak te verrig, kan Kores God se “gesalfde” genoem word. Onder God se leiding sal hy nasies onderwerp en konings swak laat word, sonder die vermoë om weerstand te bied. Dan, wanneer Kores Babilon aanval, sal Jehovah toesien dat die deure van die stad oopgelaat word, wat hulle so nutteloos sal maak soos poorte wat in stukke gebreek is. Hy sal voor Kores uit gaan en alle hindernisse uit die weg ruim. Op die ou end sal Kores se troepe die stad oorwin en sy “verborge skatte”, sy rykdom wat in donker skatkamers gebêre is, in besit neem. Dit is wat Jesaja voorspel. Word sy woorde bewaarheid?
5, 6. Wanneer en hoe word die profesie oor die val van Babilon bewaarheid?
5 In die jaar 539 v.G.J.—sowat 200 jaar nadat Jesaja hierdie profesie opgeteken het—kom Kores inderdaad by die mure van Babilon om die stad aan te val (Jeremia 51:11, 12). Maar die Babiloniërs is nie bekommerd nie. Hulle dink dat hulle stad onverowerbaar is. Sy toringhoë mure troon oor diep gragte waarin die water van die Eufraatrivier vloei, wat deel uitmaak van die stad se verdedigingstelsel. Meer as honderd jaar lank kon geen vyand Babilon inneem nie! Trouens, Babilon se aanwesige heerser, Belsasar, voel so veilig dat hy saam met lede van sy hof feesvier (Daniël 5:1). Daardie nag—die nag van 5/6 Oktober—voer Kores ’n briljante militêre maneuver uit.
6 Stroomop van Babilon het Kores se ingenieurs deur die oewer van die Eufraatrivier gebreek en die water sodoende weggekeer sodat dit nie meer suidwaarts na die stad toe vloei nie. Kort voor lank daal die watervlak van die rivier in en om Babilon so laag dat Kores se troepe met die rivierbedding langs tot in die hart van die stad kan loop (Jesaja 44:27; Jeremia 50:38). Verbasend genoeg staan die poorte langs die rivier oop, net soos Jesaja voorspel het. Kores se magte stroom in Babilon in, verower die paleis en maak koning Belsasar dood (Daniël 5:30). In net een nag is die stad verower. Babilon het geval, en die profesie is tot in die fynste besonderhede vervul.
7. Hoe word Christene versterk deur die merkwaardige vervulling van Jesaja se profesie aangaande Kores?
7 Die akkurate vervulling van hierdie profesie versterk die geloof van hedendaagse Christene. Dit gee hulle oortuigende redes om te glo dat Bybelprofesieë wat nog nie vervul is nie, ook heeltemal betroubaar is (2 Petrus 1:20, 21). Jehovah se aanbidders weet dat die gebeurtenis wat deur die val van Babilon in 539 v.G.J. voorafgeskadu is—die val van “Babilon die Grote”—reeds in 1919 plaasgevind het. Hulle sien nogtans uit na die vernietiging van hierdie hedendaagse godsdiensorganisasie sowel as die beloofde verwydering van die politieke stelsel onder Satan se beheer, die tyd wanneer Satan in die afgrond gewerp gaan word en die koms van nuwe hemele en ’n nuwe aarde (Openbaring 18:2, 21; 19:19-21; 20:1-3, 12, 13; 21:1-4). Hulle weet dat Jehovah se profesieë nie leë beloftes is nie, maar beskrywings van toekomstige gebeure wat beslis gaan plaasvind. Die vertroue van ware Christene word versterk wanneer hulle onthou hoe al die besonderhede van Jesaja se profesie aangaande die val van Babilon vervul is. Hulle weet dat Jehovah sy woord altyd nakom.
Waarom Jehovah Kores sal begunstig
8. Wat is een rede waarom Jehovah vir Kores die oorwinning oor Babilon gee?
8 Nadat Jehovah sê wie Babilon gaan verower en hoe dit gedoen gaan word, verstrek hy een rede waarom Kores die oorwinning gegee sal word. Jehovah praat in die profesie met Kores en sê dat dit is “sodat jy kan weet dat ek Jehovah is, die Een wat jou by jou naam roep, die God van Israel” (Jesaja 45:3b). Dit is gepas dat die heerser van die vierde wêreldmoondheid van Bybelgeskiedenis erken dat sy grootste oorwinning die gevolg is van die ondersteuning van iemand wat groter is as hy—Jehovah, die Universele Soewerein. Kores moet erken dat die een wat hom roep, of wat hom sy opdrag gee, Jehovah, die God van Israel, is. Die Bybelverslag toon dat Kores inderdaad erken het dat sy groot oorwinning aan Jehovah te danke was.—Esra 1:2, 3.
9. Wat is die tweede rede waarom Jehovah Kores bring om Babilon te verower?
9 Jehovah verstrek die tweede rede waarom hy Kores bring om Babilon te verower: “Ter wille van my kneg Jakob en van Israel, my uitverkorene, het ek jou by jou naam geroep; ek het jou ’n erenaam gegee, hoewel jy my nie geken het nie” (Jesaja 45:4). Kores se oorwinning oor Babilon is uiters betekenisvol. Dit is ’n aanduiding van die val van een wêreldmoondheid en die opkoms van ’n ander, en die uitwerking hiervan sal geslagte later nog op die geskiedenis gesien kan word. Maar die nasies in die omgewing wat die gebeure met belangstelling volg, sal waarskynlik verstom wees as hulle weet dat dit alles gebeur ter wille van ’n paar duisend “onbelangrike” ballinge in Babilon—die Jode, afstammelinge van Jakob. In Jehovah se oë is hierdie oorblyfsel van die eertydse nasie Israel egter allesbehalwe onbelangrik. Hulle is sy “kneg”. Van al die nasies van die aarde, is hulle sy “uitverkorene”. Al het Kores Jehovah vroeër nie geken nie, gebruik Jehovah hom as Sy gesalfde om die stad wat geweier het om sy gevangenes vry te laat, omver te werp. Dit is nie God se voorneme dat sy uitverkore volk vir ewig in ’n vreemde land moet bly nie.
10. Wat is die belangrikste rede waarom Jehovah Kores gebruik om die Babiloniese Wêreldmoondheid te vernietig?
10 Daar is ’n derde, selfs belangriker rede waarom Jehovah Kores gebruik om Babilon omver te werp. Jehovah sê: “Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie. Buiten my is daar geen God nie. Ek sal jou styf omgord, hoewel jy my nie geken het nie, sodat mense van die opgang van die son en van sy ondergang af kan weet dat daar buiten my geeneen is nie. Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie” (Jesaja 45:5, 6). Ja, die val van die Babiloniese Wêreldmoondheid is ’n bewys van Jehovah se Godheid, ’n bewys aan almal dat hy alleen aanbidding waardig is. Omdat God se volk vrygelaat is, sal mense uit baie nasies—van die ooste tot die weste—erken dat Jehovah die enigste ware God is.—Maleagi 1:11.
11. Hoe lig Jehovah toe dat hy die mag het om sy voorneme met betrekking tot Babilon te vervul?
11 Onthou dat hierdie profesie van Jesaja sowat 200 jaar voor die tyd opgeteken is. Toe party hiervan gehoor het, het hulle dalk gewonder: ‘Het Jehovah werklik die mag om dit in vervulling te laat gaan?’ Soos die geskiedenis toon, het hy dit wel. Jehovah verduidelik waarom dit redelik is om te glo dat hy sy woord kan uitvoer: “Die Een wat die lig formeer en die duisternis skep, wat vrede maak en rampspoed skep: Ek, Jehovah, doen al hierdie dinge” (Jesaja 45:7). Alles in die skepping—van lig tot duisternis—en alles in die geskiedenis—van vrede tot rampspoed—is onder Jehovah se beheer. Net soos hy bedags die lig en snags die duisternis skep, so sal hy vrede vir Israel en rampspoed vir Babilon bring. Jehovah het die mag om die heelal te skep, en hy het ook die mag om sy profesieë te vervul. Dit is gerusstellend vir hedendaagse Christene, wat sy profetiese woord noukeurig bestudeer.
12. (a) Wat laat Jehovah die figuurlike hemele en aarde voortbring? (b) Watter vertroostende belofte bevat die woorde van Jesaja 45:8 vir hedendaagse Christene?
12 Jehovah gebruik heel gepas dinge wat gereeld in die skepping plaasvind om dinge wat op die gevange Jode wag, toe te lig: “O hemele, laat dit drup van bo af; en laat die bewolkte lug drup van regverdigheid. Laat die aarde oopgaan, en laat dit vrugbaar wees met redding en terselfdertyd regverdigheid laat uitspruit. Ek, Jehovah, het dit geskep” (Jesaja 45:8). Net soos die letterlike hemele lewegewende reën gee, sal Jehovah regverdige invloede uit die figuurlike hemele op sy volk laat neerreën. En net soos die letterlike aarde ryk oeste voortbring, sal Jehovah die figuurlike aarde gebeure laat voortbring wat in ooreenstemming met sy regverdige voorneme is—veral redding vir sy gevange volk in Babilon. Net so het Jehovah in 1919 die ‘hemel’ en die “aarde” gebeure laat voortbring om sy volk te bevry. Wanneer hedendaagse Christene sulke dinge sien, maak dit hulle bly. Waarom? Omdat dié gebeure hulle geloof versterk terwyl hulle uitsien na die tyd wanneer die figuurlike hemele, God se Koninkryk, seëninge oor ’n regverdige aarde sal bring. In daardie tyd sal die regverdigheid en redding wat van die figuurlike hemele en aarde kom, op ’n veel groter skaal wees as toe eertydse Babilon omvergewerp is. Wat ’n wonderlike finale vervulling van Jesaja se woorde sal dit tog wees!—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1.
Seëninge omdat Jehovah se soewereiniteit erken word
13. Waarom is dit belaglik vir mense om Jehovah se voornemens te bevraagteken?
13 Ná hierdie beskrywing van toekomstige vreugdevolle seëninge verander die toon van die profesie skielik, en Jesaja spreek ’n dubbele wee uit: “Wee hom wat met sy Formeerder getwis het, soos ’n erdeskerf met die ander erdeskerwe van die grond! Moet die klei vir sy vormer sê: ‘Wat maak jy?’ En jou werk: ‘Hy het geen hande nie’? Wee hom wat vir ’n vader sê: ‘Waarvan word u ’n vader?’ en vir die vrou: ‘Waarvan het u geboortepyne?’” (Jesaja 45:9, 10). Die kinders van Israel maak blykbaar beswaar teen Jehovah se voorspelling. Moontlik glo hulle nie dat Jehovah sal toelaat dat sy volk in ballingskap weggevoer word nie. Of miskien vind hulle fout met die idee dat Israel deur die koning van ’n heidense nasie bevry sal word in plaas van deur ’n koning uit die huis van Dawid. Jesaja toon hoe belaglik sulke besware is deur die beswaarmakers te vergelyk met weggegooide stukke klei en erdeskerwe wat vermetel genoeg is om die wysheid van hulle maker te bevraagteken. Die produk van die pottebakker sê nou dat die pottebakker geen hande of skeppingsvermoë het nie. Hoe dwaas tog! Die beswaarmakers is soos kindertjies wat dit waag om hulle ouers se gesag te kritiseer.
14, 15. Wat openbaar die uitdrukkings “die Heilige” en “die Formeerder” oor Jehovah?
14 Jesaja gee Jehovah se antwoord aan sulke beswaarmakers: “Só het Jehovah gesê, die Heilige van Israel en sy Formeerder: ‘Vra my selfs oor die toekomstige dinge aangaande my kinders; en aangaande die werk van my hande moet julle my bevel gee. Ek het die aarde gemaak en selfs die mens daarop geskep. Ek—my hande het die hemel uitgespan, en aan die hele leër daarvan het ek bevel gegee. Ek het iemand in regverdigheid verwek, en al sy weë sal ek gelykmaak. Dit is hy wat my stad sal bou, en dié wat aan my behoort en in ballingskap is, sal hy laat gaan, nie vir ’n prys of vir ’n omkoopgeskenk nie’, het Jehovah van die leërs gesê.”—Jesaja 45:11-13.
15 Deur Jehovah as “die Heilige” te beskryf, word sy heiligheid beklemtoon. En deurdat hy “die Formeerder” genoem word, word die aandag gevestig op sy reg as die Skepper om te besluit hoe dinge sal uitwerk. Jehovah kan die kinders van Israel inlig oor toekomstige dinge en kan vir sy handewerk, dit wil sê sy volk, sorg. Daar word weer eens getoon dat skepping en openbaring op dieselfde beginsels berus. As die Skepper van die ganse heelal, het Jehovah die reg om gebeure na sy goeddunke te rig (1 Kronieke 29:11, 12). In die geval wat nou bespreek word, het die Soewereine Heerser besluit om Kores, ’n heiden, as bevryder van Israel te verwek. Kores se koms, al is dit nog toekomstig, is so seker as wat die hemel en die aarde bestaan. Wie onder die kinders van Israel sou dit dan waag om die Vader, “Jehovah van die leërs”, te kritiseer?
16. Waarom moet Jehovah se knegte hulle aan hom onderwerp?
16 Hierdie selfde verse van Jesaja bevat nog ’n rede waarom God se knegte hulle aan hom moet onderwerp. Sy besluite is altyd vir die beswil van sy knegte (Job 36:3). Hy het wette gemaak om sy volk te help om hulleself te bevoordeel (Jesaja 48:17). In Kores se dag vind die Jode wat Jehovah se soewereiniteit erken, dat dit waar is. Kores, wat in ooreenstemming met Jehovah se regverdigheid optree, stuur hulle uit Babilon na hulle vaderland sodat hulle die tempel kan herbou (Esra 6:3-5). Vandag word diegene wat God se wette in hulle daaglikse lewe toepas en hulle aan sy soewereiniteit onderwerp, ook geseën.—Psalm 1:1-3; 19:7; 119:105; Johannes 8:31, 32.
Seëninge vir ander nasies
17. Wie buiten Israel sal by Jehovah se reddingsdade baat vind, en hoe?
17 Israel sal nie die enigste nasie wees wat by die val van Babilon baat vind nie. Jesaja sê: “Só het Jehovah gesê: ‘Die onbetaalde arbeiders van Egipte en die koopmanne van Etiopië en die Sabeërs, lang manne, sal na jou toe oorkom, en hulle sal joune word. Agter jou sal hulle loop; in boeie sal hulle oorkom, en voor jou sal hulle hulle neerbuig. Tot jou sal hulle bid en sê: “God is inderdaad in eenheid met jou, en daar is geen ander nie; daar is geen ander God nie”’” (Jesaja 45:14). In Moses se dag het “’n groot gemengde geselskap” nie-Israeliete saam met die Israeliete uit Egipte weggetrek (Eksodus 12:37, 38). Net so sal uitlanders saam met die Joodse ballinge gaan wat uit Babilon terugkeer. Hierdie nie-Jode sal nie gedwing word om te gaan nie, maar “sal na jou toe oorkom”. Wanneer Jehovah sê: “Voor jou sal hulle hulle neerbuig”, en: “Tot jou sal hulle bid”, verwys hy na die gewillige onderworpenheid en getrouheid wat hierdie uitlanders teenoor Israel betoon. As hulle in boeie is, sal dit vrywillig wees, wat hulle gewilligheid toon om God se verbondsvolk te dien, vir wie hulle sal sê: “God is . . . in eenheid met jou.” Hulle sal Jehovah as proseliete aanbid, onder die voorsienings van sy verbond met Israel.—Jesaja 56:6.
18. Wie word vandag bevoordeel deur Jehovah se bevryding van “die Israel van God”, en in watter opsigte?
18 Van 1919 af, toe “die Israel van God” uit geestelike gevangenskap vrygelaat is, het Jesaja se woorde ’n groter vervulling gehad as in Kores se dag. Wêreldwyd het miljoene mense getoon dat hulle gewillig is om Jehovah te dien (Galasiërs 6:16; Sagaria 8:23). Soos die “arbeiders” en “die koopmanne” waarvan Jesaja praat, bied hulle graag hulle fisiese krag en finansiële middele aan om ware aanbidding te ondersteun (Matteus 25:34-40; Markus 12:30). Hulle wy hulle aan God toe en wandel in sy weë, bly om sy slawe te kan word (Lukas 9:23). Hulle aanbid Jehovah alleen en geniet die voordele van assosiasie met Jehovah se “getroue en verstandige slaaf”, wat in ’n spesiale verbondsverhouding met God is (Matteus 24:45-47; 26:28; Hebreërs 8:8-13). Hoewel hulle nie deelgenote is van daardie verbond nie, word hierdie “arbeiders” en “koopmanne” daardeur bevoordeel en gehoorsaam hulle die wette wat daarmee gepaard gaan, en hulle sê met vrymoedigheid: “Daar is geen ander God nie.” Hoe opwindend is dit tog vandag om ooggetuies te wees van die groot vermeerdering onder hierdie gewillige ondersteuners van ware aanbidding!—Jesaja 60:22.
19. Wat sal met dié gebeur wat aanhou om afgode te aanbid?
19 Nadat daar bekend gemaak word dat mense van die nasies Jehovah ook sal aanbid, roep die profeet uit: “Waarlik, u is ’n God wat u verborge hou, die God van Israel, ’n Redder”! (Jesaja 45:15). Hoewel Jehovah tans nie sy krag toon nie, sal hy hom in die toekoms nie meer verberg nie. Hy sal toon dat hy die God van Israel, die Redder van sy volk, is. Maar Jehovah sal nie die Redder wees van dié wat op afgode vertrou nie. Van sulke persone sê Jesaja: “Hulle almal sal beslis beskaamd staan en ook verneder word. Die vervaardigers van afgodsgestaltes sal saam in vernedering moet wandel” (Jesaja 45:16). Hulle vernedering sal meer as ’n tydelike gevoel van skaamte wees. Dit sal die dood beteken—die teenoorgestelde van wat Jehovah Israel hierna belowe.
20. In watter opsig sal Israel “’n redding vir onbepaalde tye” ervaar?
20 “Wat Israel betref, hy sal beslis in eenheid met Jehovah gered word met ’n redding vir onbepaalde tye. Julle sal nie beskaamd staan of verneder word vir die onbepaalde tye van die ewigheid nie” (Jesaja 45:17). Jehovah belowe ewige redding vir Israel, maar dit is voorwaardelik. Israel moet “in eenheid met Jehovah” bly. Wanneer Israel daardie eenheid verbreek deur Jesus as die Messias te verwerp, sal die nasie sy vooruitsig op “redding vir onbepaalde tye” verloor. Maar party in Israel sal geloof in Jesus beoefen, en hulle sal die kern word van die Israel van God, wat die plek van vleeslike Israel sal inneem (Matteus 21:43; Galasiërs 3:28, 29; 1 Petrus 2:9). Geestelike Israel sal nooit verneder word nie. Daar sal “’n ewige verbond” met hulle gesluit word.—Hebreërs 13:20.
In skepping en openbaring is Jehovah betroubaar
21. Hoe toon Jehovah dat hy absoluut betroubaar is in skepping en in openbaring?
21 Kan die Jode op Jehovah se belofte van ewige redding vir Israel vertrou? Jesaja antwoord: “Só het Jehovah gesê, die Skepper van die hemele, Hy, die ware God, die Formeerder van die aarde en die Maker daarvan, Hy, wat dit stewig gevestig het, wat dit nie verniet geskep het nie, wat dit gevorm het om bewoon te word: ‘Ek is Jehovah, en daar is geen ander nie. Ek het nie in ’n verborge plek, in ’n donker plek van die aarde, gespreek nie; ook het ek nie vir die saad van Jakob gesê: “Soek my verniet” nie. Ek is Jehovah, wat spreek wat regverdig is, wat vertel wat reg is’” (Jesaja 45:18, 19). Vir die vierde en laaste keer in hierdie hoofstuk begin Jesaja ’n belangrike profetiese gedeelte met die uitdrukking: “Só het Jehovah gesê” (Jesaja 45:1, 11, 14). Wat sê Jehovah? Dat hy betroubaar is, in skepping sowel as in openbaring. Hy het die aarde nie “verniet” geskep nie. Net so vra hy ook nie van sy volk, Israel, om hom “verniet” te soek nie. Net soos God se voorneme vir die aarde uitgevoer sal word, so sal God se voorneme vir sy uitverkore volk uitgevoer word. In teenstelling met die onverstaanbare woorde van dié wat valse gode dien, word Jehovah se woorde openlik gespreek. Sy woorde is reg, en dit sal bewaarheid word. Diegene wat hom dien, sal hom nie tevergeefs dien nie.
22. (a) Waarvan kan die Jode wat in Babilon gevange gehou word, seker wees? (b) Watter versekering het hedendaagse Christene?
22 Vir God se gevange volk in Babilon is dié woorde ’n versekering dat die Beloofde Land nie in ’n verwoeste toestand sal bly nie. Dit sal weer bewoon word. En Jehovah se beloftes aan hulle word bewaarheid. By uitbreiding is Jesaja se woorde ’n versekering aan God se hedendaagse volk dat die aarde nie verwoes sal word nie—dat dit nie, soos party glo, deur vuur verskroei of, soos ander vrees, deur kernbomme vernietig sal word nie. God se voorneme is dat die aarde vir ewig sal bestaan, geklee in paradysagtige prag en gevul met regverdige bewoners (Psalm 37:11, 29; 115:16; Matteus 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Ja, soos in Israel se geval, sal Jehovah se woorde betroubaar wees.
Jehovah bewys sy barmhartigheid
23. Wat is die uiteinde van dié wat afgode aanbid, en hoe vaar dié wat Jehovah aanbid?
23 Die redding van Israel word beklemtoon in Jehovah se volgende woorde: “Versamel julle en kom. Kom almal nader, julle wat uit die nasies ontkom het. Dié wat die hout van hulle gesnede beeld dra, het geen kennis bekom nie, ook nie dié wat bid tot ’n god wat nie kan red nie. Lê julle verslag en julle aanbieding voor. Ja, laat hulle in eenheid beraadslaag. Wie het dit van ouds af laat hoor? Wie het dit van daardie tyd af vertel? Is dit nie ek, Jehovah, buiten wie daar geen ander God is nie; ’n regverdige God en ’n Redder, terwyl daar geeneen buiten my is nie?” (Jesaja 45:20, 21). Jehovah beveel dié “wat . . . ontkom het” om hulle redding te vergelyk met die uiteinde van dié wat afgode aanbid (Deuteronomium 30:3; Jeremia 29:14; 50:28). Omdat afgodedienaars tot magtelose gode bid wat hulle nie kan red nie en hierdie gode dien, het hulle “geen kennis bekom nie”. Hulle aanbidding is tevergeefs—verniet. Diegene wat Jehovah aanbid, vind egter dat hy die krag het om gebeure teweeg te bring wat hy “van ouds af” voorspel het, onder andere die redding van sy gevange volk in Babilon. Sulke krag en voorkennis sonder Jehovah onder al die ander gode uit. Hy is waarlik “’n regverdige God en ’n Redder”.
“Redding is ons verskuldig aan ons God”
24, 25. (a) Watter uitnodiging rig Jehovah, en waarom sal sy belofte vir seker vervul word? (b) Wat vereis Jehovah tereg?
24 Jehovah se barmhartigheid laat hom ’n uitnodiging rig: “Wend julle tot my en word gered, almal aan die eindes van die aarde; want ek is God, en daar is geen ander nie. By myself het ek gesweer—uit my mond het die woord in regverdigheid uitgegaan, sodat dit nie sal terugkeer nie—voor my sal elke knie buig, by my sal elke tong sweer en sê: ‘Waarlik, in Jehovah is daar volle regverdigheid en sterkte. Almal wat teen hom driftig raak, sal reguit na hom toe kom en beskaamd staan. In Jehovah sal die hele saad van Israel reg wees en oor hulleself roem.’”—Jesaja 45:22-25.
25 Jehovah belowe Israel dat hy dié in Babilon wat hulle tot hom wend, sal red. Dit is onmoontlik dat sy profesie nie vervul sal word nie, want Jehovah wil sy volk red, en hy kan dit ook doen (Jesaja 55:11). God se woorde is op sigself betroubaar, maar des te meer wanneer Jehovah sy eed byvoeg om dit te bevestig (Hebreërs 6:13). Hy vereis tereg dat diegene wat sy guns wil geniet, onderdanig (“voor my sal elke knie buig”) en toegewyd (“by my sal elke tong sweer”) moet wees. Die Israeliete wat in Jehovah se aanbidding volhard, sal gered word. Hulle sal kan roem oor wat Jehovah vir hulle doen.—2 Korintiërs 10:17.
26. Hoe reageer “’n groot menigte” uit alle nasies op Jehovah se uitnodiging om hulle tot hom te wend?
26 God se uitnodiging dat hulle hulle tot hom wend, is egter nie tot die ballinge in eertydse Babilon beperk nie (Handelinge 14:14, 15; 15:19; 1 Timoteus 2:3, 4). Hierdie uitnodiging word nog steeds gerig, en “’n groot menigte . . . uit alle nasies” reageer daarop en sê: “Redding is ons verskuldig aan ons God . . . en aan die Lam [Jesus]” (Openbaring 7:9, 10; 15:4). Elke jaar voeg honderdduisende nuwelinge hulle by die groot menigte deur hulle tot God te wend deur sy soewereiniteit ten volle te erken en hulle getrouheid aan hom in die openbaar te betuig. Daarbenewens gee hulle lojale ondersteuning aan geestelike Israel, die ‘saad van Abraham’ (Galasiërs 3:29). Hulle toon hulle liefde vir Jehovah se regverdige heerskappy deur wêreldwyd te verkondig: “Waarlik, in Jehovah is daar volle regverdigheid en sterkte.”a In sy brief aan die Romeine het die apostel Paulus die Septuagint se vertaling van Jesaja 45:23 aangehaal om te toon dat almal wat lewe, uiteindelik God se soewereiniteit sal erken en sy naam voortdurend sal loof.—Romeine 14:11; Filippense 2:9-11; Openbaring 21:22-27.
27. Waarom kan hedendaagse Christene absolute vertroue in Jehovah se beloftes hê?
27 Waarom kan lede van die groot menigte vertrou dat dit redding beteken as hulle hulle tot God wend? Omdat Jehovah se beloftes betroubaar is, soos die profetiese woorde in Jesaja hoofstuk 45 so duidelik toon. Net soos Jehovah die krag en wysheid gehad het om die hemele en die aarde te skep, so het hy die krag en wysheid om sy profesieë waar te laat kom. En net soos hy toegesien het dat die profesie aangaande Kores bewaarheid word, so sal hy enige ander Bybelprofesie wat nog vervul moet word, in vervulling laat gaan. Aanbidders van Jehovah kan dus seker wees dat Jehovah binnekort weer sal toon dat hy “’n regverdige God en ’n Redder” is.
[Voetnote]
a Die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik die uitdrukking “volle regverdigheid” omdat die Hebreeuse teks die woord “regverdighede” in die meervoudsvorm bevat. Die meervoud word hier gebruik om die oorvloedige mate van Jehovah se regverdigheid te toon.
[Prente op bladsy 80, 81]
Jehovah, wat die lig formeer en die duisternis skep, kan vrede maak en rampspoed skep
[Prent op bladsy 83]
Jehovah sal die “hemele” seëninge laat neerreën en “die aarde” redding laat voortbring
[Prent op bladsy 84]
Kan weggegooide erdeskerwe die wysheid van hulle maker bevraagteken?
[Prent op bladsy 89]
Jehovah het die aarde nie verniet geskep nie