Hoofstuk sewe
Wee die ontroue wingerd!
1, 2. Wat plant die “geliefde”, maar hoe is dit teleurstellend?
“WAT die uitsonderlike prag van die taal en die besonderse vaardigheid in doeltreffende kommunikasie betref, is hierdie gelykenis feitlik in ’n klas van sy eie.” Dit is wat een Bybelkommentator oor die openingsverse van Jesaja hoofstuk 5 gesê het. Jesaja se woorde is meer as ’n blote kunswerk, want dit gee ’n treffende beskrywing van Jehovah se liefdevolle sorg vir sy volk. Terselfdertyd waarsku hierdie woorde ons teen dinge wat hom mishaag.
2 Jesaja se gelykenis begin: “Laat my asseblief vir my geliefde ’n lied van my beminde oor sy wingerd sing. My geliefde het ’n wingerd op ’n vrugbare heuwelhang in besit gekry. En hy het dit omgespit en die klippe daaruit verwyder en dit met ’n uitgesoekte rooi wingerdstok beplant en ’n toring in die middel daarvan gebou. En hy het ook ’n wynpers daarin uitgekap. En hy het bly hoop dat dit druiwe sou voortbring, maar dit het mettertyd wilde druiwe voortgebring.”—Jesaja 5:1, 2; vergelyk Markus 12:1.
Die versorging van die wingerd
3, 4. Watter liefdevolle sorg kry die wingerd?
3 Hetsy Jesaja hierdie gelykenis letterlik vir sy toehoorders sing of nie, dit boei beslis hulle aandag. Die meeste van hulle is waarskynlik bekend met die werk om ’n wingerd aan te plant, en Jesaja se beskrywing is duidelik en realisties. Soos hedendaagse wynboere plant die eienaar van die wingerd nie druiwesade nie, maar ’n “uitgesoekte”, of waardevolle, “rooi wingerdstok”—’n steggie of loot van ’n ander wingerdstok. Dit is dus gepas dat hy hierdie wingerd aanplant “op ’n vrugbare heuwelhang”, ’n plek waar ’n wingerd sal floreer.
4 Dit verg harde werk om ’n wingerd te laat vrug dra. Jesaja beskryf hoe die eienaar dit ‘omspit en die klippe daaruit verwyder’—vervelige, uitputtende werk! Hy gebruik waarskynlik die groter klippe om ‘’n toring te bou’. In antieke tye het wagters wat oor die landerye wag gehou het om dit teen diewe en diere te beskerm sulke torings as wagposte gebruik.a Hy bou ook ’n klipmuur teenaan die terrasse van die wingerd (Jesaja 5:5). Dit is dikwels gedoen om te keer dat die kosbare bogrond wegspoel.
5. Wat verwag die eienaar tereg van sy wingerd, maar wat kry hy?
5 Nadat hy so hard gewerk het om sy wingerd te beskerm, het die eienaar die volste reg om te verwag dat dit vrug sal dra. In afwagting hiervan, kap hy ’n wynpers uit. Maar kry hy die oes waarop hy gehoop het? Nee, die wingerd bring wilde druiwe voort.
Die wingerd en sy eienaar
6, 7. (a) Wie is die eienaar van die wingerd, en wat is die wingerd? (b) Watter oordeel vra die eienaar moet gevel word?
6 Wie is die eienaar, en wat is die wingerd? Die eienaar van die wingerd wys op die antwoorde op hierdie vrae wanneer hy self sê: “Nou, o inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel asseblief tussen my en my wingerd. Wat kan daar nog vir my wingerd gedoen word wat ek nie reeds daarin gedoen het nie? Waarom het ek gehoop dat dit druiwe sou voortbring, maar het dit mettertyd wilde druiwe voortgebring? En nou, laat ek asseblief aan julle bekend maak wat ek met my wingerd doen: Sy heining sal verwyder word, en dit sal tot verbranding bestem wees. Sy klipmuur sal afgebreek word, en dit sal bestem wees om ’n plek van vertrapping te word.”—Jesaja 5:3-5.
7 Ja, Jehovah is die eienaar van die wingerd, en hy het homself as ’t ware in ’n hofsaal geplaas en gevra dat daar tussen hom en sy teleurstellende wingerd geoordeel word. Wat is die wingerd dan? Die eienaar verduidelik: “Die wingerd van Jehovah van die leërs is die huis van Israel, en die manne van Juda is die plantasie waarvoor hy lief was.”—Jesaja 5:7a.
8. Wat leer ons uit die feit dat Jesaja Jehovah “my beminde” noem?
8 Jesaja noem Jehovah, die eienaar van die wingerd, “my beminde” (Jesaja 5:1). Jesaja kan alleenlik op so ’n intieme manier van God praat omdat hy ’n hegte verhouding met Hom het. (Vergelyk Job 29:4; Psalm 25:14.) Maar die profeet se liefde vir God kan nie eers met die liefde van God vir sy “wingerd”—die nasie wat hy ‘geplant’ het—vergelyk word nie.—Vergelyk Eksodus 15:17; Psalm 80:8, 9.
9. Hoe het Jehovah sy nasie soos ’n kosbare wingerd behandel?
9 Jehovah het sy nasie in die land Kanaän “geplant” en het hulle sy wette en voorskrifte gegee, wat hulle soos ’n muur teen die verderflike invloed van die ander nasies beskerm het (Eksodus 19:5, 6; Psalm 147:19, 20; Efesiërs 2:14). Daarbenewens het Jehovah vir hulle rigters, priesters en profete gegee om hulle te onderrig (2 Konings 17:13; Maleagi 2:7; Handelinge 13:20). Wanneer Israel deur militêre aggressie bedreig is, het Jehovah redders vir hulle verwek (Hebreërs 11:32, 33). Jehovah vra tereg: “Wat kan daar nog vir my wingerd gedoen word wat ek nie reeds daarin gedoen het nie?”
God se hedendaagse wingerd
10. Watter gelykenis oor ’n wingerd het Jesus vertel?
10 Jesus het heel moontlik aan Jesaja se woorde gedink toe hy die gelykenis van die moorddadige landbouers vertel het: “Daar was ’n man, ’n huisheer, wat ’n wingerd geplant het en ’n heining daarom gesit en ’n wynpers daarin gegrawe en ’n toring opgerig het, en hy het dit aan landbouers verhuur en na die buiteland gereis.” Ongelukkig was die landbouers ontrou aan die eienaar van die wingerd en het hulle selfs sy seun doodgemaak. Jesus het vervolgens getoon dat hierdie gelykenis met meer as net letterlike Israel te doen gehad het en gesê: “Die koninkryk van God sal van julle [vleeslike Israel] weggeneem en vir ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.”—Matteus 21:33-41, 43.
11. Watter geestelike wingerd het in die eerste eeu bestaan, maar wat het ná die dood van die apostels gebeur?
11 Daardie nuwe “nasie” was “die Israel van God”—’n geestelike nasie van gesalfde Christene wat altesaam 144000 lede het (Galasiërs 6:16; 1 Petrus 2:9, 10; Openbaring 7:3, 4). Jesus het hierdie dissipels vergelyk met “lote” aan “die ware wingerdstok”, naamlik hy self. Daar word natuurlik verwag dat hierdie lote vrug sal dra (Johannes 15:1-5). Hulle moet Christelike eienskappe aan die dag lê en deelneem aan die werk om “hierdie goeie nuus van die Koninkryk” te verkondig (Matteus 24:14; Galasiërs 5:22, 23). Maar sedert die dood van die twaalf apostels het dit duidelik geword dat die oorgrote meerderheid van dié wat beweer dat hulle lote is van “die ware wingerdstok” vals is—hulle bring wilde druiwe in plaas van goeie vrugte voort.—Matteus 13:24-30, 38, 39.
12. Hoe word die Christendom deur Jesaja se woorde veroordeel, en watter les hou dit vir ware Christene in?
12 Daarom is Jesaja se veroordeling van Juda vandag op die Christendom van toepassing. ’n Studie van sy geskiedenis—die oorloë, kruistogte, Inkwisisies—toon presies hoe bitter sy vrugte was! Die ware wingerd van gesalfde Christene en hulle metgeselle, die “groot skare”, moet nietemin ag slaan op Jesaja se woorde (Openbaring 7:9). As hulle die eienaar van die wingerd se goedkeuring wil wegdra, moet hulle, individueel en as ’n groep, vrugte voortbring wat hom behaag.
“Wilde druiwe”
13. Wat sal Jehovah aan sy wingerd doen omdat dit slegte vrugte voortbring?
13 Aangesien Jehovah buitengewone moeite gedoen het om sy wingerd te versorg en te bewerk, het hy die reg om te verwag dat dit “’n wingerd van skuimende wyn” sal word (Jesaja 27:2). Maar in plaas van bruikbare vrugte voort te bring, bring dit “wilde druiwe”, letterlik “stinkende goed” of “verrotte bessies”, voort (Jesaja 5:2; voetnoot in naslaanuitgawe; Jeremia 2:21). Daarom sê Jehovah dat hy sy beskermende “heining” om die nasie sal verwyder. Die nasie sal soos ‘iets word wat vernietig is’ en sal verlate raak en droogte ondervind. (Lees Jesaja 5:6.) Moses het gewaarsku dat sulke dinge met hulle sou gebeur as hulle ongehoorsaam was aan God se Wet.—Deuteronomium 11:17; 28:63, 64; 29:22, 23.
14. Watter vrugte verwag Jehovah van sy nasie, maar wat bring hulle in die plek daarvan voort?
14 God verwag dat die nasie goeie vrugte moet voortbring. Jesaja se tydgenoot Miga sê: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?” (Miga 6:8; Sagaria 7:9). Maar die nasie gee nie ag op Jehovah se vermaning nie. “[God] het bly hoop op reg, maar kyk! wetsverbreking; op regverdigheid, maar kyk! ’n geskreeu” (Jesaja 5:7b). Moses het voorspel dat die ontroue nasie giftige druiwe van “die wingerdstok van Sodom” sou voortbring (Deuteronomium 32:32). Geslagsonsedelikheid, onder andere homoseksualiteit, is dus heel waarskynlik deel van hulle afwyking van God se Wet (Levitikus 18:22). Die uitdrukking “wetsverbreking” kan ook vertaal word as “bloedvergieting”. Hierdie wrede behandeling het ongetwyfeld “’n geskreeu” van die mishandeldes tot gevolg gehad—’n geskreeu wat die ore van die Aanplanter van die wingerd bereik het.—Vergelyk Job 34:28.
15, 16. Hoe kan ware Christene sorg dat hulle nie soos Israel slegte vrugte voortbring nie?
15 Jehovah God “het regverdigheid en geregtigheid lief” (Psalm 33:5). Hy het vir die Jode gesê: “Julle mag geen onreg doen in die regspraak nie. Jy mag die geringe nie partydig behandel nie, en jy mag ’n vername man nie bevoorreg nie. Met geregtigheid moet jy jou metgesel oordeel” (Levitikus 19:15). In ons handelinge met mekaar moet ons dus partydigheid vermy en nooit toelaat dat dinge soos ras, ouderdom, rykdom of armoede ons oordeel van mense beïnvloed nie (Jakobus 2:1-4). Dit is veral belangrik dat diegene wat in posisies van toesig dien, ‘niks ooreenkomstig ’n neiging tot partydigheid doen nie’ en altyd na albei kante van ’n saak probeer luister voor hulle ’n besluit neem.—1 Timoteus 5:21; Spreuke 18:13.
16 Verder kan ’n negatiewe of opstandige gesindheid teenoor Goddelike standaarde maklik posvat in Christene wat in ’n wettelose wêreld lewe. Maar ware Christene moet ‘bereid wees om God se wette te gehoorsaam’ (Jakobus 3:17). Ondanks die geslagsonsedelikheid en geweld van “die teenswoordige goddelose stelsel van dinge” moet hulle ‘streng let op hoe hulle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses’ (Galasiërs 1:4; Efesiërs 5:15). Hulle moet ’n permissiewe beskouing van seks vermy, en wanneer meningsverskille ontstaan, moet hulle dit sonder “toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal” uit die weg ruim (Efesiërs 4:31). Deur regverdigheid aan te kweek, bring ware Christene eer op God en verkry hulle sy guns.
Die prys van gierigheid
17. Watter goddelose gedrag word in Jesaja se eerste wee veroordeel?
17 In vers 8 haal Jesaja nie meer Jehovah se woorde aan nie. Hy veroordeel van die “wilde druiwe” wat in Juda voortgebring is en spreek persoonlik die eerste van ses weë uit: “Wee dié wat huis aan huis voeg, en dié wat veld aan veld heg totdat daar geen plek meer is nie en julle die enigste inwoners in die land geword het! In my ore het Jehovah van die leërs gesweer dat baie huise, hoewel groot en goed, ’n algehele voorwerp van verbasing sal word, sonder bewoner. Want selfs tien akker wingerd sal maar een bat oplewer, en selfs ’n homer saad sal maar ’n efa oplewer.”—Jesaja 5:8-10.
18, 19. Hoe ignoreer Jesaja se tydgenote Jehovah se wette oor eiendom, en wat sal dit vir hulle tot gevolg hê?
18 In eertydse Israel het al die grond eintlik aan Jehovah behoort. Elke familie het ’n godgegewe erfdeel gehad, wat hulle kon verhuur of uitleen, maar nooit “vir altyd” kon verkoop nie (Levitikus 25:23). Hierdie wet het misbruike voorkom, sodat eiendomsmonopolieë nie kon ontstaan nie. Dit het ook gekeer dat families in volslae armoede verval. Party in Juda het egter God se wette oor eiendom as gevolg van gierigheid verbreek. Miga het geskryf: “Hulle het velde begeer en daarop beslag gelê; ook huise, en dit geneem; en hulle het ’n man en sy huisgesin, ’n man en sy erfbesitting, te kort gedoen” (Miga 2:2). Maar Spreuke 20:21 waarsku: “’n Erfenis word aanvanklik deur gierigheid verkry, maar die toekoms daarvan sal nie geseënd wees nie.”
19 Jehovah belowe dat hy die oneerlike winste wat daardie gieriges ingepalm het van hulle sal wegneem. Die huise wat hulle onregmatig van hulle eienaars afneem, sal “sonder bewoner” wees. Die landerye wat hulle begeer, sal ’n breukdeel voortbring van wat dit kan lewer. Presies hoe en wanneer hierdie vervloeking vervul sal word, word nie gesê nie. Dit verwys waarskynlik, ten minste deels, na die toestande wat deur die toekomstige Babiloniese ballingskap veroorsaak sal word.—Jesaja 27:10.
20. Hoe kan Christene van vandag die gierige gesindheid van party in Israel vermy?
20 Christene moet vandag die onversadigbare gierigheid wat party Israeliete destyds gehad het, verafsku (Spreuke 27:20). Wanneer materiële dinge vir ’n mens te belangrik word, kan jy jou maklik tot gewetenlose maniere wend om geld in die hande te kry. ’n Mens kan maklik verstrik raak in verdagte saketransaksies of onrealistiese word-gou-ryk-skemas. “Hy wat hom haas om rykdom te verwerf, sal nie onskuldig bly nie” (Spreuke 28:20). Hoe belangrik is dit tog om tevrede te wees met wat ons het!—1 Timoteus 6:8.
Die strik van twyfelagtige vermaak
21. Watter sondes word in Jesaja se tweede wee veroordeel?
21 Nou volg Jesaja se tweede wee: “Wee dié wat vroeg in die oggend opstaan sodat hulle net sterk drank kan soek, wat tot laat in die aandskemering draal sodat die wyn hulle verhit! En daar sal harp en snaarinstrument, tamboeryn en fluit en wyn by hulle feeste wees; maar na die dade van Jehovah kyk hulle nie, en die werk van sy hande het hulle nie gesien nie.”—Jesaja 5:11, 12.
22. Watter gebrek aan beheerstheid word in Israel gesien, en wat sal die resultaat vir die nasie wees?
22 Jehovah is “die gelukkige God”, en hy gun sy knegte redelike ontspanning (1 Timoteus 1:11). Maar hierdie genotsoekers oorskry alle perke! “Dié wat dronk word, is gewoonlik in die nag dronk”, sê die Bybel (1 Tessalonisense 5:7). Maar die fuiwers in die profesie begin hulle dronkpartye met dagbreek en hou tot die aand aan drink! Hulle gedra hulle asof God nie bestaan nie, asof hy hulle nie vir hulle dade aanspreeklik sal hou nie. Jesaja voorspel ’n donker toekoms vir sulke mense. “Daarom sal my volk weens gebrek aan kennis in ballingskap moet gaan; en hulle heerlikheid sal verhongerde manne wees, en hulle menigte sal versmag van dors” (Jesaja 5:13). Omdat hulle weier om in ooreenstemming met ware kennis op te tree, sal God se verbondsvolk—die hooggeplaastes en die nederiges—in Sjeool afdaal.—Lees Jesaja 5:14-17.
23, 24. Watter selfbeheersing en matigheid moet Christene aan die dag lê?
23 “Swelgerye”, of “wilde partytjies”, was ook ’n probleem onder party Christene in die eerste eeu (Galasiërs 5:21; Byington; 2 Petrus 2:13). Dit is dus nie verbasend dat party toegewyde Christene vandag swak oordeel met betrekking tot gesellighede aan die dag gelê het nie. Onbeheerste gebruik van sterk drank het party luidrugtig en uitbundig laat word (Spreuke 20:1). Daar was selfs persone wat hulle onder die invloed van drank aan onsedelikheid skuldig gemaak het, en party gesellighede het bykans die hele nag geduur, wat Christelike bedrywighede die volgende dag belemmer het.
24 Gebalanseerde Christene moet egter godvrugtige eienskappe voortbring en selfbeheersing en matigheid in hulle keuse van ontspanning aan die dag lê. Hulle slaan ag op Paulus se raad wat in Romeine 13:13 opgeteken staan: “Laat ons welvoeglik wandel, soos in die dag, nie in swelgerye en dronkenskap nie.”
Haat sonde en wees lief vir die waarheid
25, 26. Watter goddelose denkpatroon van die Israeliete lê Jesaja in sy derde en vierde weë bloot?
25 Hoor nou Jesaja se derde en vierde weë: “Wee dié wat die dwaling met toue van onwaarheid trek, en die sonde soos met wa-toue; dié wat sê: ‘Laat sy werk gou maak; laat dit tog gou kom, sodat ons dit kan sien; en laat die besluit van die Heilige van Israel naby wees en kom, sodat ons dit kan ken!’ Wee dié wat sê dat goed sleg is en sleg goed, dié wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, dié wat bitter soet maak en soet bitter!”—Jesaja 5:18-20.
26 Wat ’n duidelike beeld skep dit tog van mense wat sonde beoefen! Hulle is so vas aan sonde soos ’n trekdier wat voor ’n wa ingespan is. Hierdie sondaars vrees nie die komende oordeelsdag nie. Hulle sê spottend: “Laat [God se werk] tog gou kom!” Pleks dat hulle hulle aan God se Wet onderwerp, verdraai hulle dinge en sê hulle dat “goed sleg is en sleg goed”.—Vergelyk Jeremia 6:15; 2 Petrus 3:3-7.
27. Hoe kan Christene vandag ’n gesindheid soos dié van die Israeliete vermy?
27 Vandag moet Christene so ’n gesindheid ten alle koste vermy. Hulle weier byvoorbeeld om die wêreld se beskouing aan te neem dat hoerery en homoseksualiteit aanvaarbaar is (Efesiërs 4:18, 19). ’n Christen kan wel ‘’n misstap begaan’ wat daartoe kan lei dat hy ’n ernstige sonde pleeg (Galasiërs 6:1). Die ouer manne in die gemeente is gereed om diegene te help wat geval het en hulp nodig het (Jakobus 5:14, 15). Met behulp van gebede en Bybelse raad is dit moontlik om geestelik te herstel. Anders bestaan die gevaar dat ’n mens “’n slaaf van die sonde” kan word (Johannes 8:34). Christene strewe eerder daarna om “vlekkeloos en smetloos” voor Jehovah te bly as om God te bespot en nie meer van die komende oordeelsdag bewus te wees nie.—2 Petrus 3:14; Galasiërs 6:7, 8.
28. Watter sondes word in Jesaja se finale weë veroordeel, en hoe kan Christene sulke sondes vandag vermy?
28 Dit is gepas dat Jesaja hierdie finale weë byvoeg: “Wee dié wat in hulle eie oë wys en voor hulle eie aangesig verstandig is! Wee dié wat sterk is by wyndrinkery, en die manne met lewenskragtigheid om sterk drank te meng, dié wat die goddelose vir ’n omkoopgeskenk regverdig verklaar en wat die regverdige selfs sy regverdigheid ontneem!” (Jesaja 5:21-23). Hierdie woorde is klaarblyklik tot diegene gerig wat as regters in die land optree. Gemeentelike ouer manne probeer vandag om nie die indruk te skep dat hulle “in hulle eie oë wys” is nie. Hulle neem nederig raad van mede- ouer manne aan en bly getrou by instruksies van die organisasie (Spreuke 1:5; 1 Korintiërs 14:33). Hulle hou matigheid voor oë wanneer hulle alkohol gebruik, en doen dit nooit voor hulle gemeentelike verantwoordelikhede nakom nie (Hosea 4:11). Ouer manne moet dit ook vermy om selfs die indruk te skep dat hulle partydig is (Jakobus 2:9). Hoe anders tog as die geestelikes van die Christendom! Baie van hulle verontskuldig die invloedryke en ryk sondaars in hulle midde, wat lynreg in stryd is met die apostel Paulus se waarskuwings in Romeine 1:18, 26, 27; 1 Korintiërs 6:9, 10 en Efesiërs 5:3-5.
29. Watter rampspoedige einde gaan oor Jehovah se Israelitiese wingerd kom?
29 Jesaja sluit hierdie profetiese boodskap af deur ’n rampspoedige einde te voorspel vir diegene wat “die wet van Jehovah . . . verwerp het” en nie regverdige vrugte voortgebring het nie (Jesaja 5:24, 25; Hosea 9:16; Maleagi 4:1). Hy verklaar: “[Jehovah] het ’n baken opgerig vir ’n groot nasie wat ver is, en hy het vir hom daar aan die einde van die aarde gefluit; en kyk! in haas sal hy vinnig kom.”—Jesaja 5:26; Deuteronomium 28:49; Jeremia 5:15.
30. Wie sal “’n groot nasie” teen Jehovah se volk byeenbring, en met watter gevolg?
30 In antieke tye kon ’n paal op ’n hoogliggende plek as “’n baken”, of versamelplek, vir mense of leërs dien. (Vergelyk Jesaja 18:3; Jeremia 51:27.) Nou sal Jehovah self hierdie ongeïdentifiseerde “groot nasie” byeenbring om sy oordeel te voltrek.b Hy sal ‘vir hom fluit’, dit wil sê, hy sal sy ongehoorsame volk onder hulle aandag laat kom as iets wat die moeite werd is om te verower. Die profeet beskryf daarna die vinnige en skrikwekkende aanval van hierdie leeuagtige veroweraars wat “die prooi [dit wil sê God se nasie] gryp en dit veilig wegbring” in ballingskap. (Lees Jesaja 5:27-30a.) En wat ’n droewige gevolg het dit tog vir die land van Jehovah se volk! “’n Mens sal na die land staar, en kyk! daar is angswekkende duisternis; en selfs die lig het donker geword weens die druppels wat daarop val.”—Jesaja 5:30b.
31. Hoe kan ware Christene die straf vermy wat oor Jehovah se Israelitiese wingerd kom?
31 Ja, die wingerd wat God so liefdevol geplant het, is toe onvrugbaar bewys—en verdien net om vernietig te word. Wat ’n kragtige les bevat Jesaja se woorde vir almal wat Jehovah vandag wil dien! Mag hulle daarna strewe om niks anders as regverdige vrugte te dra nie, tot lof van Jehovah en tot hulle eie redding!
[Voetnote]
a Party geleerdes meen dat goedkoper, tydelike strukture, soos hutte, baie algemener was as kliptorings (Jesaja 1:8). Die teenwoordigheid van ’n toring sou toon dat die eienaar ongewone moeite gedoen het met sy “wingerd”.
b In ander profesieë identifiseer Jesaja Babilon as die nasie wat Jehovah se vernietigende oordeel aan Juda voltrek.
[Prent op bladsy 83]
’n Sondaar is so vas aan sonde soos ’n trekdier wat voor ’n wa ingespan is
[Volbladillustrasie op bladsy 85]