Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie, Deel 3
“Ons het die Messias gevind”
In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.
EEUE voor Jesus se geboorte het die Hebreeuse profete die koms van die Messias, wat in Hebreeus “Gesalfde” beteken, voorspel. Hierdie profete het spesifieke besonderhede voorsien oor die toekomstige Messias se geslagslyn en sy lewe—waar hy gebore sou word, wanneer hy as die Messias sou verskyn en wat met hom sou gebeur.
Christene in die eerste eeu HJ het geglo dat hierdie profesieë deur Jesus vervul is. Hulle het soos die dissipel Andreas gevoel, wat vir sy broer Simon gesê het: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:40, 41). Was dit die regte gevolgtrekking? Kom ons kyk na net vier van die talle profesieë oor die Messias, en in elke geval sal ons die bewyse ondersoek.
Profesie 1: “Hy sal op Dawid se koninklike troon sit.”—Jesaja 9:7, “Knox”.
Vervulling: Matteus se Evangelieverslag begin met die woorde: “Die boek van die geskiedenis van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham.” Matteus voorsien dan Jesus se geslagslyn deur Dawid, en die Evangelieskrywer Lukas doen dit ook.—Matteus 1:1-16; Lukas 3:23-38.
Wat die geskiedenis toon:
● Die geskrifte van die Joodse geskiedskrywer Josefus toon dat geslagsregisters van Joodse families in die openbare argief beskikbaar was. Hierdie rekords is vernietig in 70 HJ toe Jerusalem verwoes is. Maar voor Jerusalem se vernietiging was dit algemeen bekend dat Jesus ’n nakomeling van Dawid was (Matteus 9:27; 20:30; 21:9). As dit nie die geval was nie, kon enigiemand dit bevraagteken of selfs verkeerd bewys het. Maar ons lees nêrens dat iemand dit probeer doen het nie.
Profesie 2: “O Betlehem Efrata, wat te klein is om onder die duisende van Juda te wees, uit jou sal daar vir my die een voortkom wat die heerser in Israel sal word.”—Miga 5:2.
Vervulling: Jesus is in Betlehem gebore. Toe keiser Augustus beveel het dat ’n sensus gehou moet word, moes Jesus se pleegvader, Josef, reis van Nasaret na “Judea [Juda], na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy ’n lid van die huis en familie van Dawid was, om geregistreer te word saam met Maria”. Terwyl hulle daar was, het Maria “geboorte gegee aan haar seun” Jesus.—Lukas 2:1-7.
Wat die geskiedenis toon:
● Argeologie bevestig dat die Romeine sensusse in die Midde-Ooste gehou het omdat hulle die inligting nodig gehad het vir belastinginvordering en diensplig. Bewyse van so ’n sensus kan gevind word in ’n verordening wat in 104 HJ deur die Romeinse goewerneur van Egipte uitgevaardig is. ’n Kopie van hierdie verordening, wat nou in die Britse Biblioteek is, sê: “Aangesien die tyd aangebreek het vir die huis-tot-huis-sensus, moet almal wat om die een of ander rede buite hulle [streek] bly, beveel word om na hulle tuiste terug te keer sodat hulle die gewone reëling van die sensus kan gehoorsaam en ook nougeset aandag kan skenk aan die bewerking van hulle landerye.”
● Toe Jesus gebore is, was daar twee dorpe in Israel met die naam Betlehem. Een was in die noorde naby Nasaret. Die ander, wat blykbaar voorheen Efrat (Efrata) genoem is, was naby Jerusalem in Juda (Genesis 35:19). Jesus is in laasgenoemde dorp gebore, net soos Miga sowat agt eeue vroeër voorspel het.
Profesie 3: “Vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier [sal daar] sewe weke . . . wees, ook twee-en-sestig weke.”—Daniël 9:25.
Vervulling: Die tydperk wat in Daniël se profesie gemeld word, kom te staan op 69 eenhede van 7 jaar elk, of 483 jaar. Die herbouing van Jerusalem het in 455 VHJ begin. Soos voorspel is, het Jesus 483 jaar (69 weke van jare) later, in 29 HJ, die Gesalfde, of Messias, geword, toe hy gedoop is en met God se heilige gees gesalf is.a—Lukas 3:21, 22.
Wat die geskiedenis toon:
● Vroeg in die eerste eeu HJ het “die volk in afwagting verkeer” van die Messias se koms (Lukas 3:15). In sy boek A History of Messianic Speculation in Israel skryf die Joodse geleerde Abba Hillel Silver dat die tydperk voor die vernietiging van Jerusalem “gekenmerk is deur groot opgewondenheid oor die Messias se naderende koms”. Hy sê ook dat mense die Messias vroeg in die eerste eeu verwag het. Die afwagting van die Jode, skryf Silver, was gegrond op “die algemene chronologie van daardie tyd”.
Profesie 4: “Hy sal sy graf by die goddeloses maak, en by die ryk klas in sy dood.” —Jesaja 53:9.
Vervulling: Jesus is tussen twee veroordeelde misdadigers tereggestel, en tog is hy begrawe in ’n graf wat in rots uitgekap is en deur ’n welgestelde gelowige—Josef van Arimatea—geskenk is.—Matteus 27:38, 57-60; Johannes 19:38.
Wat die geskiedenis toon:
● Talle eertydse nie-Christelike skrywers—insluitende die Joodse geskiedskrywer Josefus en die Romeinse geskiedskrywer Tacitus—bevestig dat Jesus as ’n misdadiger tereggestel is.
● Tydens argeologiese ondersoeke in Palestina is ou grafte ontdek wat bestaan uit vertrekke of grafkelders wat in rots uitgekap is. Vir ’n welgestelde en invloedryke man soos Josef van Arimatea sou dit nie ’n probleem gewees het om so ’n graf gereed en beskikbaar te hê nie.
Hierdie profesieë is maar net ’n paar van die talle Messiaanse profesieë wat in Jesus vervul is. Dit is duidelik dat geen bedrieër hierdie gedetailleerde profesieë sou kon vervul nie. Die feit dat dit vervul is presies soos voorspel is, versterk ons oortuiging dat God die Bron daarvan is en dat hy ook al die voorspelde Messiaanse seëninge vir gehoorsame mense ’n werklikheid sal laat word.
In die volgende artikel in hierdie reeks sal ons ’n gedagteprikkelende vraag bespreek: As Jesus werklik die beloofde Messias was, waarom was hy bereid om te ly en te sterf?
[Voetnoot]
a Vir meer inligting oor hoe hierdie profesie verband hou met die tyd wanneer die Messias sou verskyn, sien bladsye 197-199 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Tabel/Prente op bladsye 22, 23]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
TYDLYN VAN VIER MESSIAANSE PROFESIEË
1 Die Messias sou ’n nakomeling van koning Dawid wees
1070 VHJ
Dawid word koning oor die hele Israel
607 VHJ
Jerusalem word deur die Babiloniërs vernietig
455 VHJ
Bevel word gegee om Jerusalem te herstel en te herbou
2 Die Messias sou in Betlehem in Juda gebore word
2 VHJ
Jesus word in Betlehem in Juda gebore in die geslagslyn van Dawid
3 Die Messias sou 483 jaar nadat die bevel gegee is om Jerusalem te herbou, verskyn
29 HJ
Jesus word gedoop en as die Messias gesalf
4 Die Messias sou met sondaars sterf en by die rykes begrawe word
33 HJ
Jesus sterf met misdadigers en word by die rykes begrawe