Hoofstuk Sestien
’n Boodskap van hoop vir moedelose gevangenes
1. Beskryf die situasie van die Joodse ballinge in Babilon.
DIT WAS ’n donker tyd in Juda se geskiedenis. God se verbondsvolk is met geweld uit hulle vaderland geneem en was nou in gevangenskap in Babilon. Hulle is weliswaar ’n mate van vryheid gegun om hulle daaglikse bedrywighede uit te voer (Jeremia 29:4-7). Party het professionele vaardighede aangeleer of het sake gedoen (Nehemia 3:8, 31, 32).a Maar die lewe van die Joodse gevangenes was nie maklik nie. Hulle was fisies en geestelik gesproke in gevangenskap. Kom ons kyk in watter opsigte.
2, 3. Watter uitwerking het die ballingskap op die Jode se aanbidding van Jehovah gehad?
2 Toe die Babiloniese leërs Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het, het hulle nie net ’n nasie verwoes nie; hulle het ware aanbidding ook ’n slag toegedien. Hulle het Jehovah se tempel gestroop en dit vernietig sowel as die priesterreëling ontwrig deur party uit die stam Levi gevange te neem en ander dood te maak. Sonder ’n huis van aanbidding, ’n altaar en ’n georganiseerde priesterdom was dit vir die Jode onmoontlik om offerandes aan die ware God te bring soos dit deur die Wet voorgeskryf is.
3 Getroue Jode kon nog hulle godsdiensidentiteit behou deur die besnydenis te beoefen en die Wet na te kom sover dit vir hulle moontlik was. Hulle kon hulle byvoorbeeld van verbode kossoorte onthou en die Sabbat hou. Maar dan sou hulle gevangenemers hulle heel moontlik gespot het, want die Babiloniërs het die godsdiensritusse van die Jode as dwaas beskou. Die moedelose toestand van die ballinge kan in die psalmis se woorde gesien word: “By die riviere van Babilon—daar het ons gesit. Ook het ons gehuil wanneer ons aan Sion gedink het. Aan die populierbome wat daarin is, het ons ons harpe opgehang. Want daar het dié wat ons gevange gehou het, van ons die woorde van ’n lied gevra, en dié wat met ons die spot gedryf het—blydskap: ‘Sing vir ons een van die liedere van Sion.’”—Psalm 137:1-3.
4. Waarom sou dit tevergeefs wees as die Jode hulle tot ander nasies gewend het vir redding, maar by wie kon hulle hulp soek?
4 By wie kon die Joodse gevangenes dan vertroosting soek? Waar sou hulle redding vandaan kom? Beslis nie van enige van die omliggende nasies nie! Hulle was almal magteloos teen Babilon se leërs, en baie van hulle was die Jode vyandiggesind. Maar die situasie was nie hopeloos nie. Jehovah, teen wie hulle in opstand gekom het toe hulle ’n vry volk was, het goedgunstiglik ’n aanmoedigende uitnodiging tot hulle gerig, al was hulle in ballingskap.
“Kom na die water”
5. Wat beteken die woorde: “Kom na die water”?
5 Deur middel van Jesaja praat Jehovah in ’n profesie met die Joodse gevangenes in Babilon: “Kom, almal wat dors is! Kom na die water. En dié wat geen geld het nie! Kom, koop en eet. Ja, kom, koop wyn en melk selfs sonder geld en sonder prys” (Jesaja 55:1). Hierdie woorde is ryk aan simboliek. Kyk byvoorbeeld na die uitnodiging: “Kom na die water.” Sonder water is lewe onmoontlik. Sonder daardie kosbare vloeistof sal ons as mense omtrent net ’n week kan leef. Daarom is dit gepas dat Jehovah water as ’n metafoor gebruik vir die uitwerking wat sy woorde op die Joodse gevangenes sal hê. Sy boodskap sal hulle verkwik, soos ’n koue drankie op ’n warm dag. Dit sal hulle uit hulle terneergedrukte gemoedstoestand verhef en hulle dors na waarheid en regverdigheid les. En dit sal hulle vervul met die hoop om uit gevangenskap vrygelaat te word. Om baat te vind, sal die Joodse gevangenes nogtans God se boodskap moet indrink, daaraan aandag moet skenk en daarvolgens moet optree.
6. Hoe sal die Jode daarby baat vind as hulle “wyn en melk” koop?
6 Jehovah bied ook “wyn en melk” aan. Melk versterk jong liggame en help kinders groei. Net so sal Jehovah se woorde sy volk geestelik versterk en hulle in staat stel om hulle verhouding met hom te verstewig. Maar wat van wyn? Wyn word dikwels op feestelike geleenthede gedrink. In die Bybel word dit geassosieer met voorspoed en blydskap (Psalm 104:15). Deur vir sy volk te sê om ‘wyn te koop’, gee Jehovah hulle die versekering dat dit hulle “net vreugdevol” sal maak as hulle heelhartig na ware aanbidding terugkeer.—Deuteronomium 16:15; Psalm 19:8; Spreuke 10:22.
7. Waarom is Jehovah se medelye teenoor die ballinge merkwaardig, en wat leer dit ons van hom?
7 Hoe barmhartig is Jehovah tog om sulke geestelike verkwikking aan die Jode in ballingskap te bied! Sy medelye is selfs merkwaardiger as ons die Jode se geskiedenis van wederstrewigheid en opstandigheid in gedagte hou. Hulle verdien beslis nie Jehovah se goedkeuring nie. Maar die psalmis Dawid het eeue vroeër geskryf: “Jehovah is barmhartig en genadig, word nie gou toornig nie en is oorvloedig in liefderyke goedhartigheid. Hy sal nie vir altyd verwyt nie, ook sal hy nie tot onbepaalde tyd gebelg bly nie” (Psalm 103:8, 9). Jehovah vernietig nie sy volk nie, hy doen eerder die eerste stap tot versoening. Hy is werklik ’n God wat ‘behae skep in liefderyke goedhartigheid’.—Miga 7:18.
Misplaaste vertroue
8. Waarop het baie Jode vertrou, ondanks watter waarskuwing?
8 Tot nou toe het baie Jode nie ten volle op Jehovah vertrou vir redding nie. Voor Jerusalem geval het, het sy heersers byvoorbeeld op magtige nasies vertrou om hulle te ondersteun en het hulle as ’t ware prostitusie gepleeg met Egipte sowel as Babilon (Esegiël 16:26-29; 23:14). Jeremia het hulle tereg gewaarsku: “Vervloek is die man wat op die mens vertrou en wat vlees sy arm maak en wie se hart van Jehovah afwyk” (Jeremia 17:5). En tog is dit presies wat God se volk gedoen het!
9.Hoe ‘betaal baie Jode dalk geld vir wat nie brood is nie’?
9 Nou is hulle in slawerny aan een van die nasies waarop hulle vertrou het. Het hulle hulle les geleer? Baie het moontlik nie, want Jehovah vra: “Waarom bly julle geld betaal vir wat nie brood is nie, en waarom swoeg julle vir iets wat nie versadig nie?” (Jesaja 55:2a). As die gevange Jode op enigiemand anders as Jehovah vertrou, ‘betaal hulle geld vir wat nie brood is nie’. Hulle sal beslis nie bevry word deur Babilon, wat die beleid het dat hulle gevangenes nooit na hulle vaderland laat terugkeer nie. Om die waarheid te sê, met sy imperialisme, kommersialisme en valse aanbidding, het Babilon niks om aan die Jode in ballingskap te bied nie.
10. (a) Hoe sal Jehovah die Jode in ballingskap beloon as hulle na hom luister? (b) Watter verbond het Jehovah met Dawid gesluit?
10 Jehovah smeek sy volk: “Luister aandagtig na my en eet wat goed is, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Gee gehoor en kom na my toe. Luister, en julle siel sal bly lewe, en ek sal graag ’n verbond met julle sluit wat tot onbepaalde tyd duur, aangaande die liefderyke goedhartighede teenoor Dawid wat betroubaar is” (Jesaja 55:2b, 3). Die enigste hoop vir hierdie geestelik ondervoede volk rus by Jehovah, wat nou deur middel van Jesaja in ’n profesie met hulle praat. Hulle lewe hang daarvan af dat hulle na God se boodskap luister, want hy sê dat hulle “siel sal bly lewe” as hulle dit doen. Maar wat is die ‘verbond wat tot onbepaalde tyd duur’, wat Jehovah met diegene sal sluit wat op hom ag slaan? Daardie verbond is “aangaande die liefderyke goedhartighede teenoor Dawid”. Eeue vroeër het Jehovah vir Dawid belowe dat sy troon “tot onbepaalde tyd stewig gevestig [sal] word” (2 Samuel 7:16). Gevolglik het hierdie ‘verbond wat tot onbepaalde tyd duur’, met heerskappy te doen.
’n Permanente erfgenaam van ’n ewige koninkryk
11. Waarom lyk die vervulling van God se belofte aan Dawid moontlik vergesog vir die ballinge in Babilon?
11 Die gedagte van heerskappy in die geslagslyn van Dawid kan weliswaar vir daardie Joodse ballinge vergesog klink. Hulle het hulle land verloor en selfs hulle status as ’n nasie! Maar dit is net tydelik. Jehovah het nie van sy verbond met Dawid vergeet nie. Ongeag hoe onwaarskynlik dit uit ’n menslike standpunt lyk, God se voorneme aangaande ’n ewige Koninkryk in Dawid se geslagslyn sal verwesenlik word. Maar hoe en wanneer? In 537 v.G.J. bevry Jehovah sy volk uit Babiloniese gevangenskap en herstel hy hulle in hulle vaderland. Het dit die oprigting van ’n koninkryk wat tot onbepaalde tyd duur tot gevolg? Nee, hulle is nog steeds onderworpe aan ’n ander heidense ryk, Medo-Persië. “Die vasgestelde tye” waartydens die nasies sou heers, het nog nie verstryk nie (Lukas 21:24). Aangesien daar nie ’n koning in Israel heers nie, sal die belofte wat Jehovah aan Dawid gemaak het, nog eeue lank onvervuld bly.
12. Watter stap het Jehovah gedoen om sy Koninkryksverbond met Dawid te vervul?
12 Meer as 500 jaar nadat Israel uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is, het Jehovah ’n groot stap gedoen om die Koninkryksverbond te vervul toe hy die lewe van sy eersgebore Seun, die begin van sy skeppingswerk, uit hemelse heerlikheid na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria oorgedra het (Kolossense 1:15-17). Toe Jehovah se engel vir Maria van hierdie gebeurtenis vertel het, het hy gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en Jehovah God sal hom die troon van sy vader Dawid gee, en hy sal vir ewig as koning oor die huis van Jakob heers, en daar sal geen einde aan sy koninkryk wees nie” (Lukas 1:32, 33). So is Jesus dan in die koninklike lyn van Dawid gebore en het hy die reg op koningskap geërf. Wanneer Jesus op die troon geplaas word, sou hy “tot onbepaalde tyd” regeer (Jesaja 9:7; Daniël 7:14). Op hierdie manier is die weg gebaan vir die vervulling van Jehovah se eeue oue belofte om aan koning Dawid ’n permanente erfgenaam te gee.
“’n Aanvoerder vir die volksgroepe”
13. Hoe was Jesus gedurende sy bediening en ná sy hemelvaart “’n getuie vir die volksgroepe”?
13 Wat gaan hierdie toekomstige koning doen? Jehovah sê: “Kyk! As ’n getuie vir die volksgroepe het ek hom gegee, as ’n leier en ’n aanvoerder vir die volksgroepe” (Jesaja 55:4). Nadat Jesus grootgeword het, was hy Jehovah se verteenwoordiger op aarde, God se getuie vir die nasies. Gedurende sy lewe as ’n mens was sy bediening gemik op “die verlore skape van die huis van Israel”. Maar kort voor sy hemelvaart het Jesus vir sy volgelinge gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies . . . Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 10:5, 6; 15:24; 28:19, 20). Die Koninkryksboodskap is dus mettertyd na nie-Jode uitgedra, en party van hulle het ’n deel gehad aan die vervulling van die verbond wat met Dawid gesluit is (Handelinge 13:46). So het Jesus, selfs ná sy dood, opstanding en hemelvaart, Jehovah se “getuie vir die volksgroepe” gebly.
14, 15. (a) Hoe het Jesus getoon dat hy “’n leier en ’n aanvoerder” is? (b) Watter vooruitsig het Jesus se eerste-eeuse volgelinge gehad?
14 Jesus sou ook “’n leier en ’n aanvoerder” wees. Getrou aan hierdie profetiese beskrywing het Jesus, toe hy op aarde was, die verantwoordelikheid van sy hoofskap ten volle aanvaar en in elke opsig die leiding geneem. Hy het groot menigtes aangetrek, hulle woorde van waarheid geleer en aan dié wat sy leierskap wou volg, die voordele daarvan getoon (Matteus 4:24; 7:28, 29; 11:5). Hy het sy dissipels goed opgelei en hulle voorberei vir die predikingsveldtog wat voorgelê het (Lukas 10:1-12; Handelinge 1:8; Kolossense 1:23). In net drie en ’n half jaar het Jesus die fondament gelê van ’n verenigde, internasionale gemeente met duisende lede uit baie rasse! Net ’n ware ‘leier en aanvoerder’ sou so ’n enorme taak kon uitvoer.b
15 Diegene wat in die eerste-eeuse Christengemeente versamel is, is met God se heilige gees gesalf, en hulle het die vooruitsig gehad om medeheersers met Jesus in sy hemelse Koninkryk te word (Openbaring 14:1). Maar Jesaja se profesie is op meer as net die vroeë dae van die Christelike godsdiens van toepassing. Die bewyse toon dat Jesus Christus eers in 1914 as die Koning van God se Koninkryk begin regeer het. Kort daarna het ’n situasie onder gesalfde Christene op aarde ontwikkel wat in baie opsigte ooreengestem het met dié van die Jode wat in die sesde eeu v.G.J. in ballingskap was. Trouens, wat met daardie Christene gebeur het, verteenwoordig ’n groter vervulling van Jesaja se profesie.
Hedendaagse gevangenskap en bevryding
16. Watter benoudheid was daar nadat Jesus in 1914 op die troon geplaas is?
16 Toe Jesus in 1914 op die troon geplaas is, was daar ongekende wêreldbenoudheid. Waarom? Omdat Jesus, toe hy Koning geword het, Satan en die ander bose geesskepsele uit die hemel gewerp het. Toe Satan tot die aarde beperk is, het hy oorlog begin voer teen die oorblywende heiliges, die oorblyfsel van gesalfde Christene (Openbaring 12:7-12, 17). Dit het in 1918 ’n klimaks bereik toe die openbare predikingswerk byna heeltemal tot ’n stilstand gekom het en verantwoordelike ampsdraers van die Wagtoringgenootskap op valse aanklagte van sedisie in die tronk gegooi is. Op hierdie manier het Jehovah se hedendaagse knegte in geestelike gevangenskap ingegaan, wat ’n mens aan die fisiese gevangenskap van die eertydse Jode herinner. Dit het hulle groot oneer aangedoen.
17. Hoe is die toestand van die gesalfdes in 1919 omgekeer, en hoe is hulle toe versterk?
17 Maar die gevange toestand van God se gesalfde knegte het nie lank geduur nie. Op 26 Maart 1919 is die ampsdraers uit die tronk vrygelaat, en later is alle aanklagte teen hulle teruggetrek. Jehovah het heilige gees oor sy bevryde volk uitgegiet en hulle die krag gegee vir die werk wat voorgelê het. Hulle het met vreugde gehoor gegee aan die uitnodiging om “die water van die lewe [te] neem, verniet” (Openbaring 22:17). Hulle het “wyn en melk selfs sonder geld en sonder prys” gekoop en is geestelik versterk vir ’n wonderlike uitbreiding wat voor die deur gestaan het, ’n uitbreiding wat die gesalfde oorblyfsel nie verwag het nie.
’n Groot menigte hardloop na God se gesalfdes toe
18. Watter twee groepe bestaan onder die dissipels van Jesus Christus, en wat vorm hulle vandag?
18 Jesus se dissipels het een van twee vooruitsigte. Eerstens is ’n “klein kuddetjie” van 144000 versamel—gesalfde Christene uit Joodse sowel as nie-Joodse agtergronde wat “die Israel van God” uitmaak en die vooruitsig het om saam met Jesus in sy hemelse Koninkryk te heers (Lukas 12:32; Galasiërs 6:16; Openbaring 14:1). Tweedens het “’n groot menigte” “ander skape” in die laaste dae te voorskyn gekom. Hulle het die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Voor die groot verdrukking uitbreek, werk hierdie menigte—waarvan die getal nie voorafbepaal is nie—saam met die klein kuddetjie, en albei groepe vorm “een kudde onder een herder”.—Openbaring 7:9, 10; Johannes 10:16.
19. Hoe het “’n nasie” wat die Israel van God vroeër nie geken het nie, gehoor gegee aan die oproep van daardie geestelike nasie?
19 Die volgende woorde van Jesaja se profesie praat van die insameling van hierdie groot menigte: “Kyk! ’n Nasie wat jy nie ken nie, sal jy roep, en dié van ’n nasie wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop, ter wille van Jehovah jou God, en weens die Heilige van Israel, omdat hy jou versier het” (Jesaja 55:5). In die jare ná hulle bevryding uit geestelike gevangenskap het die gesalfde oorblyfsel aanvanklik nie verstaan dat hulle voor Armageddon gebruik sou word om ’n groot “nasie” na Jehovah se aanbidding te roep nie. Maar mettertyd het baie opregtes van hart wat nie ’n hemelse hoop gehad het nie, met die gesalfdes begin omgaan en Jehovah met dieselfde ywer as die gesalfdes begin dien. Hierdie nuwelinge het die versierde toestand van God se volk opgemerk en erken dat Jehovah onder hulle is (Sagaria 8:23). In die 1930’s het die gesalfdes ingesien wat die ware identiteit was van hierdie immer toenemende groep in hulle midde. Hulle het tot die besef gekom dat ’n groot insamelingswerk nog voorgelê het. Die groot menigte het as ’t ware gehardloop om met God se verbondsvolk om te gaan, en met goeie rede.
20. (a) Waarom is dit in ons dag dringend om ‘Jehovah te soek’, en hoe doen ’n mens dit? (b) Hoe sal Jehovah reageer op dié wat hom soek?
20 In Jesaja se dag het die oproep uitgegaan: “Soek Jehovah terwyl hy gevind kan word. Roep hom aan terwyl hy naby is” (Jesaja 55:6). In ons dag is hierdie woorde gepas, nie net vir dié wat die Israel van God uitmaak nie, maar ook vir die toenemende groot menigte. Jehovah seën mense nie onvoorwaardelik nie, en sy uitnodiging is ook nie vir ’n onbepaalde tydperk geldig nie. Dit is nou die tyd om God se guns te probeer verkry. Wanneer die vasgestelde tyd vir Jehovah se oordeel aanbreek, sal dit te laat wees. Daarom sê Jesaja: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes; en laat hom tot Jehovah terugkeer, wat hom barmhartig sal wees, en tot ons God, want hy sal ryklik vergewe.”—Jesaja 55:7.
21. Hoe was die nasie Israel ontrou aan die verklaring wat hulle voorvaders gedoen het?
21 Die sinsnede “laat hom tot Jehovah terugkeer”, impliseer dat dié wat berou moet toon, vroeër ’n verhouding met God gehad het. Die uitdrukking herinner ons dat baie aspekte van hierdie deel van Jesaja se profesie aanvanklik met betrekking tot die Joodse gevangenes in Babilon vervul is. Eeue tevore het die voorvaders van hierdie gevangenes verklaar dat hulle vasbeslote is om aan Jehovah gehoorsaam te wees, toe hulle gesê het: “Dit is vir ons ondenkbaar om Jehovah te verlaat om ander gode te dien” (Josua 24:16). Die geskiedenis toon dat die ‘ondenkbare’ wel gebeur het—en herhaaldelik daarby! Die gebrek aan geloof van God se volk is die rede waarom hulle ballinge in Babilon is.
22. Waarom sê Jehovah dat sy gedagtes en weë hoër is as dié van mense?
22 Wat sal gebeur as hulle berou toon? Jehovah belowe deur middel van Jesaja dat hy ‘ryklik sal vergewe’. En hy sê verder: “‘Want julle gedagtes is nie my gedagtes nie, en ook is my weë nie julle weë nie’, sê Jehovah. ‘Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes’” (Jesaja 55:8, 9). Jehovah is volmaak, en sy gedagtes en weë is onbereikbaar hoog. Ook is sy barmhartigheid so groot dat ons as mense dit nooit in dieselfde mate sal openbaar nie. Dink net daaraan: Wanneer ons iemand vergewe, is dit ’n geval van ’n sondaar wat ’n sondaar vergewe. Ons besef dat iemand anders ons die een of ander tyd ook sal moet vergewe (Matteus 6:12). Maar Jehovah vergewe “ryklik”, al is dit nooit nodig dat hy vergewe moet word nie! Hy is waarlik ’n God van groot liefderyke goedhartigheid. En in sy barmhartigheid maak Jehovah die sluise van die hemel oop en stort seëninge uit op diegene wat met hulle hele hart tot hom terugkeer.—Maleagi 3:10.
Seëninge vir dié wat tot Jehovah terugkeer
23. Hoe lig Jehovah die sekerheid van die vervulling van sy woord toe?
23 Jehovah belowe sy volk: “Net soos die stortreën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, tensy dit die aarde deurweek en dit laat voortbring en uitspruit, en saad aan die saaier en brood aan die eter gegee word, so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het” (Jesaja 55:10, 11). Alles wat Jehovah sê, sal beslis vervul word. Net soos die reën en die sneeu wat uit die hemel val, hulle doel bereik deur die aarde te deurweek en dit te laat vrug dra, so is Jehovah se woord wat uit sy mond uitgaan heeltemal betroubaar. Wat hy belowe, sal hy baie beslis nakom.—Numeri 23:19.
24, 25. Watter seëninge lê vir die Joodse ballinge voor wat op Jehovah se boodskap deur Jesaja ag gee?
24 As die Jode dus ag gee op die woorde wat Jesaja in die profesie ten behoewe van hulle uitspreek, sal hulle ongetwyfeld die redding kry wat Jehovah belowe het. Gevolglik sal hulle groot vreugde hê. Jehovah sê: “Met blydskap sal julle uittrek, en met vrede sal julle ingebring word. Die berge en die heuwels sal vrolik word voor julle met vreugdegeroep, en al die bome van die veld sal hande klap. In die plek van die doringbos sal die jenewerboom opkom. In die plek van die brandnetel sal die mirteboom opkom. En dit moet Jehovah tot roem strek, ’n teken tot onbepaalde tyd wat nie uitgeroei sal word nie.”—Jesaja 55:12, 13.
25 In 537 v.G.J. vertrek die Joodse ballinge wel met blydskap uit Babilon (Psalm 126:1, 2). Wanneer hulle in Jerusalem aankom, vind hulle ’n land wat toegegroei is van doringbosse en brandnetels—onthou, die land het dekades lank woes gelê. Maar God se herstelde volk kan nou help om ’n pragtige verandering teweeg te bring! Hoë bome, soos die jenewerboom en die mirteboom, groei in die plek van dorings en brandnetels. Jehovah se seën word baie duidelik wanneer sy volk hom “met vreugdegeroep” dien. Dit is asof die land self bly is.
26. Watter geseënde toestand geniet God se volk vandag?
26 In 1919 is die oorblyfsel van gesalfde Christene uit hulle geestelike gevangenskap bevry (Jesaja 66:8). Tesame met die groot menigte ander skape dien hulle God nou met vreugde in ’n geestelike paradys. Hulle is vry van enige sweem van Babiloniese invloed en geniet ’n begunstigde toestand, wat Jehovah “tot roem strek”. Hulle geestelike voorspoed strek sy naam tot eer en verheerlik hom as die God van ware profesie. Wat Jehovah vir hulle tot stand gebring het, getuig van sy Godheid en is ’n bewys van sy getrouheid aan sy woord en sy barmhartigheid teenoor berouvolle persone. Mag almal wat aanhou om ‘wyn en melk selfs sonder geld en sonder prys te koop’, hulle vir ewig in sy diens verheug!
[Voetnote]
a Baie Joodse name is in ou Babiloniese verslae van saketransaksies gevind.
b Jesus hou nog steeds toesig oor die dissipelmaakwerk (Openbaring 14:14-16). Vandag beskou Christenmanne en -vroue Jesus as die Hoof van die gemeente (1 Korintiërs 11:3). En op God se bestemde tyd sal Jesus op ’n ander manier as “’n leier en ’n aanvoerder” optree, wanneer hy die aanvoerder gaan wees in die deurslaggewende stryd teen God se vyande tydens die oorlog van Armageddon.—Openbaring 19:19-21.
[Prent op bladsy 234]
Jode wat geestelik dors is, word genooi om ‘na die water te kom’ en om ‘wyn en melk te koop’
[Prent op bladsy 239]
Jesus het getoon dat hy “’n leier en ’n aanvoerder” vir die volksgroepe is
[Prente op bladsy 244, 245]
“Laat die goddelose sy weg verlaat”