Hoofstuk sewentien
Uitlanders word na God se huis van gebed versamel
1, 2. Watter opwindende aankondiging is in 1935 gedoen, en waarvan was dit ’n deel?
OP VRYDAG, 31 Mei 1935 het Joseph F. Rutherford ’n skare by ’n byeenkoms in Washington, DC, toegespreek. Hy het die identiteit van die “groot menigte” bespreek, wat die apostel Johannes in ’n visioen gesien het. Toe broer Rutherford die klimaks van sy toespraak bereik, het hy gevra: “Sal almal wat die hoop het om vir ewig op die aarde te lewe, asseblief opstaan?” Volgens een van dié wat daar teenwoordig was, het ‘meer as die helfte van die gehoor opgestaan’. Toe het die spreker gesê: “Kyk! Die groot menigte!” Iemand anders wat daar was, vertel: “Daar was eers ’n kort stilte, toe het almal vreugdevol begin juig, en die toejuiging was hard en lank.”—Openbaring 7:9.
2 Dit was ’n besondere oomblik in die progressiewe vervulling van ’n profesie wat sowat 2 700 jaar tevore opgeteken is en as Jesaja hoofstuk 56 in ons Bybels verskyn. Soos baie ander profesieë in Jesaja bevat hierdie een vertroostende beloftes sowel as streng waarskuwings. In die eerste vervulling word dit tot God se verbondsvolk van Jesaja se dag gerig, maar die vervulling daarvan strek deur die eeue heen tot in ons dag.
Wat redding vereis
3. Wat moet die Jode doen as hulle hulle tot God wil wend vir redding ?
3 Jesaja hoofstuk 56 begin met ’n vermaning aan die Jode. Maar alle ware aanbidders moet ag gee op wat die profeet skryf. Ons lees: “Só het Jehovah gesê: ‘Bewaar geregtigheid en doen wat regverdig is. Want my redding is naby om te kom en my regverdigheid om geopenbaar te word. Gelukkig is die sterflike mens wat dit doen, en die mensekind wat daaraan vashou, wat die sabbat hou om dit nie te ontheilig nie en wat sy hand terughou om niks slegs te doen nie’” (Jesaja 56:1, 2). Die inwoners van Juda wat hulle tot God wend vir redding, moet aan die Mosaiese Wet gehoorsaam wees, geregtigheid onderhou en regverdige lewens lei. Waarom? Omdat Jehovah self regverdig is. Diegene wat regverdigheid nastreef, geniet die geluk wat kom wanneer ’n mens Jehovah se guns geniet.—Psalm 144:15b.
4. Waarom is dit in Israel belangrik om die Sabbat te hou?
4 Die profesie vestig die aandag op onderhouding van die Sabbat omdat die Sabbat ’n belangrike kenmerk van die Mosaïese Wet is. Trouens, een van die redes waarom die inwoners van Juda uiteindelik in ballingskap weggevoer word, is hulle versuim om die Sabbat te hou (Levitikus 26:34, 35; 2 Kronieke 36:20, 21). Die Sabbat is ’n teken van die spesiale verhouding wat Jehovah met die Jode het, en diegene wat die Sabbat hou, toon dat hulle daardie verhouding waardeer (Eksodus 31:13). Daarbenewens sou onderhouding van die Sabbat Jesaja se tydgenote daaraan herinner dat Jehovah die Skepper is. As hulle dit onderhou het, sou dit hulle ook laat dink het aan die barmhartigheid wat hy aan hulle bewys het (Eksodus 20:8-11; Deuteronomium 5:12-15). Laastens sou die onderhouding van die Sabbat ’n gereelde, georganiseerde reëling vir die aanbidding van Jehovah voorsien. As hulle een keer per week van hulle werk gerus het, sou dit die inwoners van Juda ’n geleentheid gee vir gebed, studie en bepeinsing.
5. Hoe kan Christene die raad om die Sabbat te hou, in beginsel volg?
5 Maar wat van Christene? Is die aanmoediging om die Sabbat te hou, op hulle van toepassing? Nie direk nie, want Christene is nie onder die Wet nie en hoef dus nie die Sabbat te hou nie (Kolossense 2:16, 17). Die apostel Paulus het nietemin verduidelik dat daar ’n “sabbatsrus” vir getroue Christene is. Hierdie “sabbatsrus” behels dat ’n mens geloof het in Jesus se losprysoffer wat vir ons redding beteken, en dat ons nie meer op werke alleen staatmaak nie (Hebreërs 4:6-10). Gevolglik herinner die woorde van Jesaja se profesie oor die Sabbat Jehovah se hedendaagse knegte daaraan dat dit uiters noodsaaklik is om geloof te hê in God se reëling vir redding. Dit is ook ’n goeie herinnering aan hoe noodsaaklik dit is om ’n hegte verhouding met Jehovah aan te kweek en ’n gereelde, voortdurende patroon van aanbidding te hê.
Vertroosting vir die uitlander en die eunug
6. Aan watter twee groepe word nou aandag gegee?
6 Jehovah praat nou met twee groepe wat hom wil dien, maar wat onder die Mosaïese Wet verbied is om in die Joodse gemeente in te kom. Ons lees: “Laat die uitlander wat hom met Jehovah verbind het, nie sê: ‘Jehovah sal my ongetwyfeld van sy volk afskei’ nie. Laat die eunug ook nie sê: ‘Kyk! Ek is ’n droë boom’ nie” (Jesaja 56:3). Die uitlander is bang dat hy van Israel afgesny sal word. Die eunug is besorg oor die feit dat hy nooit kinders sal hê om sy naam te laat voortbestaan nie. Albei groepe kan moed skep. Voor ons sien waarom, kom ons kyk eers na die posisie wat hulle onder die Wet in verhouding tot die nasie Israel gehad het.
7. Watter beperkings plaas die Wet op uitlanders in Israel?
7 Onbesnede uitlanders kan nie saam met Israel aanbid nie. Hulle mag byvoorbeeld nie van die Pasga eet nie (Eksodus 12:43). Uitlanders wat nie die wette van die land skaamteloos oortree nie, word regverdig en gasvry behandel, maar hulle het geen permanente bande met die nasie nie. Party neem die Wet natuurlik ten volle aan, en as ’n teken daarvan word die mans besny. Dan is hulle proseliete wat die voorreg het om in die voorhof van Jehovah se huis te aanbid, en hulle word as ’n deel van die gemeente van Israel beskou (Levitikus 17:10-14; 20:2; 24:22). Maar selfs proseliete is nie volle deelgenote van Jehovah se verbond met Israel nie, en hulle het geen grond as erfdeel in die Beloofde Land nie. Ander uitlanders kan in die rigting van die tempel bid, en hulle kan klaarblyklik deur middel van die priesters offers bring solank die offer in ooreenstemming met die Wet is (Levitikus 22:25; 1 Konings 8:41-43). Maar Israeliete mag nie noue omgang met hulle hê nie.
Eunugs ontvang ’n naam wat tot onbepaalde tyd duur
8. (a) Hoe is eunugs onder die Wet beskou? (b) Hoe is eunugs in heidense nasies gebruik, en waarna verwys die woord “eunug” soms?
8 Eunugs kan nie volwaardige lede van die nasie Israel wees nie, al is hulle uit Joodse ouers gebore (Deuteronomium 23:1).a Onder party heidense nasies in Bybeltye het eunugs ’n spesiale plek beklee, en dit was die gebruik om van die kinders wat as krygsgevangenes weggevoer is, te kastreer. Eunugs is as amptenare in die koninklike hof aangestel. ’n Eunug kon ’n “bewaker van die vroue”, ’n “bewaker van die byvrouens” of selfs ’n dienaar van die koningin wees (Ester 2:3, 12-15; 4:4-6, 9). Daar is geen bewys dat die Israeliete hierdie gebruike beoefen het of dat eunugs gesog was om in die diens van Israelitiese konings gebruik te word nie.b
9. Watter vertroostende woorde rig Jehovah aan letterlike eunugs?
9 Buiten die feit dat letterlike eunugs net in ’n beperkte mate aan die aanbidding van die ware God kan deelneem, verduur hulle in Israel die groot vernedering dat hulle nie die vader van kinders kan word wat hulle familienaam kan laat voortduur nie. Hoe vertroostend is die volgende woorde van die profesie dan! Ons lees: “Só het Jehovah vir die eunugs gesê wat my sabbatte hou en wat gekies het wat my behaag en wat aan my verbond vashou: ‘Ek sal aan hulle ’n monument en ’n naam in my huis en binne my mure gee, iets beters as seuns en dogters. ’n Naam tot onbepaalde tyd sal ek aan hulle gee, een wat nie uitgeroei sal word nie.’”—Jesaja 56:4, 5.
10. Wanneer het die situasie van eunugs verander, en watter voorreg is van toe af vir hulle beskikbaar?
10 Ja, die tyd sal kom wanneer selfs die feit dat ’n mens ’n letterlike eunug is, nie meer sal keer dat jy ten volle as Jehovah se kneg aanvaar word nie. As eunugs gehoorsaam is, sal hulle “’n monument”, of ’n plek, in Jehovah se huis hê sowel as ’n naam, iets wat beter is as seuns en dogters. Wanneer gebeur dit? Eers ná die dood van Jesus Christus. Toe is die ou Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang, en vleeslike Israel is deur “die Israel van God” vervang (Galasiërs 6:16). Sedertdien kon almal wat geloof beoefen, God op ’n aanneemlike manier aanbid. Vleeslike kenmerke en ’n mens se fisiese toestand maak nie meer saak nie. Dié wat getrou volhard, sal ongeag hulle fisiese toestand “’n naam tot onbepaalde tyd [hê] . . . een wat nie uitgeroei sal word nie”. Jehovah sal hulle nie vergeet nie. Hulle name sal in sy “gedenkboek” geskryf word, en op God se bestemde tyd sal hulle die ewige lewe kry.—Maleagi 3:16; Spreuke 22:1; 1 Johannes 2:17.
Uitlanders aanbid saam met God se volk
11. Wat word uitlanders aangespoor om te doen as hulle geseën wil word?
11 Maar wat van die uitlanders? Die profesie vestig nou weer die aandag op hulle, en Jehovah se woorde aan hulle is baie vertroostend. Jesaja skryf: “Die uitlanders wat hulle met Jehovah verbind het om hom te dien en om die naam van Jehovah lief te hê, ten einde sy knegte te word, almal wat die sabbat hou om dit nie te ontheilig nie en wat aan my verbond vashou, hulle sal ek ook na my heilige berg bring en in my huis van gebed vreugde gee. Hulle heelbrandoffers en hulle offerandes sal op my altaar aanneemlik wees. Want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.”—Jesaja 56:6, 7.
12. Hoe is Jesus se profesie oor die “ander skape” vroeër verstaan?
12 In ons tyd het “die uitlanders” geleidelik verskyn. Voor die Eerste Wêreldoorlog is daar besef dat meer mense gered sou word as net diegene wat die hoop het om in die hemel saam met Jesus te regeer—dié wat ons vandag as die Israel van God ken. Bybelstudente het geweet van Jesus se woorde wat in Johannes 10:16 opgeteken staan: “Ek het ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie; ook hulle moet ek bring, en hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde onder een herder word.” Hulle het besef dat hierdie “ander skape” ’n aardse klas is. Maar die meeste Bybelstudente het geglo dat die ander skape gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Jesus Christus sou verskyn.
13. Volgens watter redenasie moet die skape van Matteus hoofstuk 25 gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge verskyn?
13 Uiteindelik het hulle vordering gemaak in hulle begrip van ’n verwante teks wat van skape praat. In Matteus hoofstuk 25 is daar ’n verslag van Jesus se gelykenis van die skape en die bokke. Volgens daardie gelykenis ontvang die skape ewige lewe omdat hulle Jesus se broers ondersteun. Gevolglik is hulle ’n afsonderlike klas wat duidelik van die gesalfde broers van Christus onderskei kan word. In 1923, gedurende ’n byeenkoms in Los Angeles, Kalifornië, VSA, is daar verduidelik dat hierdie skape nie gedurende die Millennium sou verskyn nie, maar gedurende die laaste dae van hierdie stelsel van dinge. Waarom? Omdat Jesus die gelykenis gegee het as deel van sy antwoord op die vraag: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?”—Matteus 24:3.
14, 15. Hoe is daar stelselmatig ’n beter begrip verkry van die posisie van die ander skape in die tyd van die einde?
14 Gedurende die 1920’s was daar sommige onder die Bybelstudente wat gevoel het dat Jehovah se gees nie met hulle getuig dat hulle ’n hemelse roeping het nie. En tog was hulle ywerige knegte van die Allerhoogste God. In 1931 het hulle die posisie van hierdie persone beter verstaan toe die boek Regverdiging uitgegee is. As deel van ’n vers-vir-vers-bespreking van die Bybelboek Esegiël het Regverdiging die visioen van “die man” met die sekretaris se inkhoring verduidelik (Esegiël 9:1-11). Hierdie “man” gaan deur Jerusalem en merk die voorkoppe van diegene wat sug en steun oor die verfoeilike dinge wat daar gedoen word. “Die man” beeld Jesus se broers af, die oorblyfsel van die gesalfde Christene wat op die aarde lewe gedurende die tyd wanneer die antitipiese Jerusalem, die Christendom, geoordeel word. Dié wat gemerk word, is die ander skape wat gedurende daardie tyd lewe. In die visioen word hulle gespaar wanneer Jehovah se skerpregters sy wraak oor daardie afvallige stad uitoefen.
15 In 1932 het ’n dieper begrip van die profetiese drama van koning Jehu van Israel en Jonadab, ’n nie-Israelitiese ondersteuner, getoon hoe hierdie ander skape optree om Christus se gesalfde broers te ondersteun—net soos Jonadab saam met Jehu gegaan het en hom in sy vernietiging van Baälaanbidding ondersteun het. Eindelik is die ander skape wat gedurende die tyd van die einde van hierdie stelsel van dinge lewe, in 1935 herken as die groot menigte wat die apostel Johannes in sy visioen gesien het. Dit is die eerste keer verduidelik by die voormelde byeenkoms in Washington, DC, toe Joseph F. Rutherford diegene met ’n aardse hoop geïdentifiseer het as “die groot menigte”.
16. Watter voorregte en verantwoordelikhede geniet “die uitlanders”?
16 So het dit geleidelik duideliker geword dat “die uitlanders” ’n groot rol speel in die uitvoering van Jehovah se voornemens gedurende hierdie laaste dae. Hulle kom na die Israel van God om Jehovah te aanbid (Sagaria 8:23). Saam met daardie geestelike nasie bring hulle aanneemlike offerandes aan God en gaan hulle in die sabbatsrus in (Hebreërs 13:15, 16). Daarbenewens aanbid hulle in God se geestelike tempel, wat, soos die tempel in Jerusalem, “’n huis van gebed . . . vir al die nasies” is (Markus 11:17). Hulle beoefen geloof in die losprysoffer van Jesus Christus en ‘was hulle klere en maak dit wit in die bloed van die Lam’. En hulle dien Jehovah voortdurend deur ‘dag en nag heilige diens aan hom te verrig’.—Openbaring 7:14, 15.
17. Hoe hou die hedendaagse uitlanders vas aan die nuwe verbond?
17 Hierdie hedendaagse uitlanders hou vas aan die nuwe verbond in die sin dat hulle, deur hulle omgang met die Israel van God, voordele en seëninge geniet wat deur die nuwe verbond verkry kan word. Hoewel hulle nie deelgenote van daardie verbond is nie, onderwerp hulle hulle heelhartig aan die wette wat daarmee gepaard gaan. Gevolglik is Jehovah se wet in hulle hart, en hulle leer Jehovah as hulle hemelse Vader en die Allerhoogste Soewerein ken.—Jeremia 31:33, 34; Matteus 6:9; Johannes 17:3.
18. Watter insamelingswerk word gedurende die tyd van die einde gedoen?
18 Jesaja se profesie gaan voort: “Die woord van die Soewereine Heer Jehovah, wat die verstrooides van Israel bymekaarbring, is: ‘Ek sal nog ander by hom bymekaarbring behalwe dié van hom wat reeds bymekaargebring is’” (Jesaja 56:8). Gedurende die tyd van die einde het Jehovah “die verstrooides van Israel”, dié van die gesalfde oorblyfsel, bymekaargebring. Daarbenewens bring hy ander bymekaar, dié van die groot menigte. Saam aanbid hulle in vrede en harmonie onder die toesig van Jehovah en sy gekroonde Koning, Christus Jesus. Weens hulle lojaliteit aan Jehovah se regering deur Christus, het die Goeie Herder hulle ’n verenigde, vreugdevolle kudde gemaak.
Blinde wagte, stom honde
19. Watter uitnodiging word aan die wilde diere van die veld en die woud gerig?
19 Die voorafgaande hartlike, aanmoedigende woorde word deur ’n treffende, amper skokkende, kontras gevolg. Jehovah is bereid om barmhartigheid aan die dag te lê teenoor uitlanders en eunugs. Maar baie wat beweer dat hulle lede van God se gemeente is, word veroordeel en gaan gestraf word. Wat meer is, hulle verdien nie eers ’n ordentlike begrafnis nie en is alleenlik geskik om deur die diere van die veld verslind te word. Daarom lees ons: “Al julle wilde diere van die oop veld, kom eet, al julle wilde diere in die woud” (Jesaja 56:9). Wat gaan hierdie wilde diere eet? Die profesie sal verduidelik. Dit sal ons moontlik herinner aan die lot wat wag op dié wat God by die komende oorlog van Armageddon teëstaan, wie se dooie liggame net so gelos sal word sodat die voëls van die hemel dit kan eet.—Openbaring 19:17, 18.
20, 21. Watter tekortkominge maak die godsdiensleiers niks werd as geestelike gidse?
20 Die profesie gaan voort: “Sy wagte is blind. Nie een van hulle het iets gemerk nie. Hulle is almal stom honde; hulle kan nie blaf nie, hulle hyg, gaan lê, is lief om te sluimer. Hulle is honde met sterk sielsbegeerte; hulle het geen versadiging geken nie. Hulle is ook herders wat nie geweet het hoe om te verstaan nie. Hulle het hulle almal na hulle eie weg gekeer, elkeen vir sy onregverdige wins van sy eie grens af: ‘Kom! Laat ek wyn neem; en laat ons sterk drank drink tot ons nie meer kan nie. En môre sal beslis net soos vandag wees, buitengewoon groot.’”—Jesaja 56:10-12.
21 Die godsdiensleiers van Juda beweer dat hulle Jehovah aanbid. Hulle sê dat hulle “sy wagte” is. Maar hulle is geestelik blind, stom en lomerig. As hulle nie wakker kan bly en kan waarsku as daar gevaar is nie, van watter nut is hulle? Hierdie wagte is sonder begrip en is hoegenaamd nie in staat om geestelike leiding aan skaapgeaardes te gee nie. Boonop is hulle verdorwe. Hulle het onversadigbare selfsugtige begeertes. Pleks dat hulle Jehovah se leiding volg, probeer hulle hulle eie sin kry, jaag hulle onregverdige gewin na, gee hulle hulle aan sterk drank oor en spoor hulle ander aan om dit ook te doen. Hulle is so onbewus van God se naderende oordeel dat hulle vir mense sê dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie.
22. Hoe is die godsdiensleiers van Jesus se dag soos dié van eertydse Juda?
22 Vroeër in sy profesie het Jesaja van soortgelyke beeldspraak gebruik gemaak om die ontroue godsdiensleiers van Juda te beskryf—geestelik dronk, lomerig en sonder begrip. Hulle het die volk met tradisies van mense belas, godsdiensleuens verkondig en het eerder op Assirië vertrou vir hulp as om hulle tot God te wend (2 Konings 16:5-9; Jesaja 29:1, 9-14). Hulle het klaarblyklik niks geleer nie. Ongelukkig was dieselfde soort leiers in die eerste eeu teenwoordig. Pleks dat hulle die goeie nuus aangeneem het wat God se eie Seun vir hulle gebring het, het hulle Jesus verwerp en saamgesweer om hom te laat doodmaak. Jesus het hulle onomwonde “blinde gidse” genoem en bygevoeg: “As ’n blinde . . . ’n blinde lei, sal albei in ’n gat val.”—Matteus 15:14.
Hedendaagse wagte
23. Watter profesie van Petrus aangaande godsdiensleiers is vervul?
23 Die apostel Petrus het gewaarsku dat valse onderrigters ook sou opstaan om Christene te mislei. Hy het geskryf: “Daar het egter ook valse profete onder die volk [Israel] opgestaan, soos daar ook valse onderrigters onder julle sal wees. Húlle sal heimlik verderflike sektes invoer en sal selfs die eienaar verloën wat hulle gekoop het en so ’n spoedige vernietiging oor hulleself bring” (2 Petrus 2:1). Waartoe het die valse leringe en die sektegees onder sulke valse onderrigters gelei? Die Christendom, wie se godsdiensleiers vandag vir God se seën op hulle politieke vriende bid en dan vir hulle ’n blink toekoms belowe. Die Christendom se godsdiensleiers het getoon dat hulle blind, stom en aan die slaap is wat geestelike dinge betref.
24. Watter eenheid bestaan tussen geestelike Israel en die uitlanders?
24 Jehovah bring egter miljoene uitlanders om saam met die laaste lede van die Israel van God in sy groot geestelike huis van gebed te aanbid. Al kom hierdie uitlanders uit baie nasies, rasse en tale, is hulle verenig met mekaar en met die Israel van God. Hulle is oortuig dat redding alleenlik van Jehovah God af en deur Jesus Christus kan kom. Beweeg deur liefde vir Jehovah, gee hulle saam met Christus se gesalfde broers uiting aan hulle geloof. En hulle word grootliks vertroos deur die woorde van die geïnspireerde apostel wat geskryf het: “As jy daardie ‘woord in jou eie mond’, dat Jesus Here is, in die openbaar bekend maak en in jou hart geloof beoefen dat God hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.”—Romeine 10:9.
[Voetnote]
a Die woord “eunug” het later ook na ’n hofbeampte verwys, sonder enige verwysing na seksuele verminking. Aangesien die Etiopiër wat deur Filippus gedoop is, blykbaar ’n proseliet was—hy is gedoop voor dit vir onbesnede nie-Jode moontlik was—moes hy in hierdie opsig ’n eunug gewees het.—Handelinge 8:27-39.
b Ebed-Meleg, wat Jeremia gehelp het en wat direkte toegang tot koning Sedekia gehad het, word ’n eunug genoem. Dit verwys skynbaar na die feit dat hy ’n hofbeampte was en beteken nie dat hy fisies vermink was nie.—Jeremia 38:7-13.
[Prent op bladsy 250]
Die Sabbat het geleentheid gebied vir gebed, studie en bepeinsing
[Prente op bladsy 256]
Die posisie van die ander skape is in 1935 by ’n byeenkoms in Washington, DC, duidelik uiteengesit (doop op foto hieronder, program regs)
[Prent op bladsy 259]
Die wilde diere word genooi om te kom eet
[Prente op bladsy 261]
Die uitlanders en die Israel van God is met mekaar verenig