Hoofstuk een-en-twintig
Ware aanbidding brei wêreldwyd uit
1. Watter aanmoedigende boodskap bevat Jesaja hoofstuk 60?
HOOFSTUK 60 van Jesaja is as ’n aangrypende drama opgeteken. In die inleidende verse word ons aandag getrek deur ’n roerende toneel. ’n Reeks gebeure volg vinnig op mekaar en loop uit op ’n treffende klimaks. Die hoofstuk gee kleurryke beskrywings van die herstelling van ware aanbidding in eertydse Jerusalem en die wêreldwye uitbreiding van ware aanbidding vandag. Dit wys ook na ewige seëninge wat op al God se lojale aanbidders wag. Ons kan elkeen aan die vervulling van hierdie boeiende deel van Jesaja se profesie deelneem. Kom ons ondersoek dit dus noukeurig.
Lig skyn in die duisternis
2. Watter bevel word aan ’n vrou gegee wat in die duisternis lê, en waarom is dit dringend dat sy gehoorsaam moet wees?
2 Die eerste woorde van hierdie hoofstuk van Jesaja word gerig tot ’n vrou wat haar in droewige omstandighede bevind. Sy lê klaarblyklik plat op die grond in die duisternis. Skielik dring lig deur die donkerte wanneer Jehovah, deur Jesaja, uitroep: “Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom en die heerlikheid van Jehovah het oor jou geskyn” (Jesaja 60:1). Ja, die “vrou” moet opstaan en God se heerlikheid weerkaats! Waarom is dit dringend? Die profesie gaan voort: “Kyk! duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe; maar oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word” (Jesaja 60:2). Ter wille van diegene rondom haar wat nog in die duisternis rondtas, moet die “vrou” ‘lig versprei’. Wat sal die gevolg daarvan wees? “Nasies sal beslis na jou lig kom, en konings na die glans van jou skynsel” (Jesaja 60:3). Hierdie inleidende woorde gee die kern van wat in groter besonderhede in die volgende verse beskryf gaan word—ware aanbidding moet wêreldwyd uitbrei!
3. (a) Wie is die “vrou”? (b) Waarom het die “vrou” in die duisternis gelê?
3 Hoewel dit na toekomstige gebeurtenisse verwys, sê Jehovah vir die “vrou” dat haar lig “gekom” het. Dit beklemtoon die sekerheid van die vervulling van die profesie. Die “vrou” waarvan gepraat word, is Sion, of Jerusalem, die hoofstad van Juda (Jesaja 52:1, 2; 60:14). Die stad verteenwoordig die hele nasie. Wanneer hierdie profesie die eerste keer vervul word, lê die “vrou” in die duisternis, waar sy al sedert die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. lê. Maar in 537 v.G.J. het ’n getroue oorblyfsel van die Jode wat in ballingskap was, na Jerusalem teruggekeer en rein aanbidding herstel. Uiteindelik laat Jehovah lig op sy “vrou” skyn, en sy herstelde volk word ’n bron van lig onder die nasies wat in geestelike duisternis verkeer.
’n Groter vervulling
4. Wie verteenwoordig vandag die “vrou” op aarde, en op wie is die profetiese woorde by uitbreiding van toepassing?
4 Ons belangstelling in hierdie profetiese woorde gaan verder as hulle vervulling op Jerusalem van die ou tyd. Vandag word Jehovah se hemelse “vrou” op die aarde verteenwoordig deur “die Israel van God” (Galasiërs 6:16). Gedurende die tyd dat hierdie geestelike nasie bestaan het, van Pinkster 33 G.J. af tot nou toe, het dit altesaam 144 000 geesgesalfde lede gekry, “wat van die aarde gekoop is” en die vooruitsig het om saam met Christus in die hemel te regeer (Openbaring 14:1, 3). Die lede van die 144 000 wat gedurende “die laaste dae” op aarde leef, vorm die middelpunt van die hedendaagse vervulling van Jesaja hoofstuk 60 (2 Timoteus 3:1). Die profesie is ook van toepassing op die metgeselle van hierdie gesalfde Christene, die “groot menigte” “ander skape”.—Openbaring 7:9; Johannes 10:11, 16.
5. Wanneer het oorlewende lede van die Israel van God gevind dat hulle in die duisternis lê, en wanneer het Jehovah se lig op hulle geskyn?
5 In die vroeë 1900’s het die lede van die Israel van God vir ’n kort tydjie gevind dat hulle as ’t ware in die duisternis lê. Toe die Eerste Wêreldoorlog tot ’n einde gekom het, was hulle in die situasie wat simbolies in die boek Openbaring beskryf is—hulle lyke het “op die breë straat van die groot stad [gelê] wat in geestelike sin Sodom en Egipte genoem word” (Openbaring 11:8). Maar in 1919 het Jehovah sy lig op hulle laat skyn. In reaksie hierop het hulle opgestaan en God se lig weerspieël deur die goeie nuus van God se Koninkryk onbevrees te verkondig.—Matteus 5:14-16; 24:14.
6. Hoe het die wêreld oor die algemeen op die aankondiging van Jesus se koninklike teenwoordigheid gereageer, maar wie is na Jehovah se lig aangetrek?
6 Onder die invloed van Satan, die vernaamste onder “die wêreldheersers van hierdie duisternis”, het die mensdom oor die algemeen die aankondiging van die koninklike teenwoordigheid van Jesus Christus, “die lig van die wêreld”, verwerp (Efesiërs 6:12; Johannes 8:12; 2 Korintiërs 4:3, 4). Miljoene is nietemin na Jehovah se lig aangetrek, waaronder “konings” (dié wat gesalfde erfgename van die hemelse Koninkryk word) en “nasies” (die groot menigte ander skape).
Uitbreiding veroorsaak groot vreugde
7. Watter hartverblydende gesig sien die “vrou”?
7 Jehovah ontwikkel die tema wat in Jesaja 60:3 uiteengesit word en gee die “vrou” nog ’n opdrag: “Slaan jou oë rondom op en kyk!” Wanneer die “vrou” dit doen, sien sy ’n hartverblydende gesig—haar kinders is op pad huis toe! “Hulle is almal bymekaargebring; hulle het na jou toe gekom. Van ver af bly jou seuns kom en jou dogters wat op die heup versorg sal word” (Jesaja 60:4). Die internasionale Koninkryksverkondigingswerk wat in 1919 begin het, het tot gevolg gehad dat nog duisende “seuns” en “dogters” by die Israel van God aangesluit het. Op hierdie manier het Jehovah stappe gedoen om die voorspelde 144 000, wat saam met Christus sal regeer, voltallig te maak.—Openbaring 5:9, 10.
8. Watter rede tot blydskap het die Israel van God sedert 1919 gehad?
8 Hierdie vermeerdering het vreugde veroorsaak. “Dan sal jy dit sien en beslis straal, en jou hart sal bewe en verruim word, want die skatte van die see sal hom tot jou wend; die rykdom van die nasies sal na jou toe kom” (Jesaja 60:5). Die insameling van die gesalfdes gedurende die 1920’s en die 1930’s het die Israel van God baie bly gemaak. Maar hulle het ’n verdere rede tot vreugde gehad. Veral sedert die middel-1930’s het mense wat vroeër ’n deel was van “die see” van die mensdom wat van God vervreemd is, uit al die nasies uitgekom om saam met die Israel van God te aanbid (Jesaja 57:20; Haggai 2:7). Hierdie mense het God nie elkeen op sy eie manier gaan aanbid nie. Hulle kom eerder na God se “vrou” toe en word ’n deel van die verenigde kudde van God. Gevolglik het alle knegte van God ’n deel in die uitbreiding van ware aanbidding.
Nasies stroom na Jerusalem
9, 10. Wie stroom na Jerusalem, en hoe ontvang Jehovah hulle?
9 Jehovah gebruik illustrasies waarmee Jesaja se tydgenote bekend is en beskryf die uitbreiding. Die “vrou” kyk eers van haar uitkykpunt op die berg Sion uit oor die oostelike horison. Wat sien sy? “Die deinende massa kamele sal jou oordek, die jong kameelbulle van Midian en van Efa. Almal uit Skeba—hulle sal kom. Goud en wierook sal hulle aandra. En die lofprysinge van Jehovah sal hulle verkondig” (Jesaja 60:6). Karavane van kamele wat deur die reisende koopmanne van verskeie stamme gebruik word, trek langs die paaie wat na Jerusalem lei (Genesis 37:25, 28; Rigters 6:1, 5; 1 Konings 10:1, 2). Kamele is oral, soos ’n vloed wat die land oordek! Die karavane bring kosbare geskenke, wat toon dat die handelaars met vreedsame bedoelings kom. Hulle wil Jehovah aanbid en hom die beste gee wat hulle het.
10 Hierdie koopmanne is nie die enigstes wat optrek nie. “Al die kuddes van Kedar—hulle sal by jou bymekaargebring word. Die ramme van Nebajot—hulle sal jou dien.” Ja, herderstamme reis ook na Jerusalem. As geskenke bring hulle hulle kosbaarste besittings—kuddes skape—en hulle bied hulleself as dienaars aan. Hoe sal Jehovah hulle ontvang? Hy sê: “Met goedkeuring sal hulle op my altaar kom, en ek sal my luisterryke huis versier” (Jesaja 60:7). Jehovah neem hulle geskenke aan, wat in rein aanbidding gebruik sal word.—Jesaja 56:7; Jeremia 49:28, 29.
11, 12. (a) Wat sien die “vrou” wanneer sy weswaarts kyk? (b) Waarom haas so baie mense hulle na Jerusalem?
11 Jehovah sê nou vir die “vrou” om na die westelike horison te kyk en hy vra: “Wie is dit wat aangevlieg kom soos ’n wolk, en soos duiwe na die openinge van hulle voëlhuis?” Jehovah antwoord self: “Op my sal die eilande bly hoop, asook die skepe van Tarsis soos eers, om jou seuns van ver af te bring, hulle silwer en hulle goud saam met hulle, vir die naam van Jehovah jou God en vir die Heilige van Israel, omdat hy jou versier het.”—Jesaja 60:8, 9.
12 Stel jou voor dat jy by die “vrou” staan en weswaarts oor die Groot See uitkyk. Wat sien jy? ’n Wolk wit spikkels wat in die verte oor die water aankom. Hulle lyk soos voëls, maar wanneer hulle nader kom, sien jy dat dit skepe is met hulle seile wat bol staan in die wind. Hulle het “van ver af” gekom (Jesaja 49:12).a Soveel skepe kom na Sion toe dat hulle soos ’n swerm duiwe lyk wat na hulle neste toe vlieg. Waarom is die vloot so haastig? Dit is gretig om die aanbidders van Jehovah wat aan boord is en van verre lande kom, af te laai. Ja, al die nuwe aankomelinge—die Israeliete sowel as die vreemdelinge, uit die ooste of die weste en van nabygeleë of verre lande—haas hulle na Jerusalem om hulle ten volle aan die naam van Jehovah, hulle God, toe te wy.—Jesaja 55:5.
13. Wie is die “seuns” en “dogters” in hedendaagse tye, en wie is die “rykdom van die nasies”?
13 Wat ’n duidelike prentjie skilder Jesaja 60:4-9 van die wêreldwye uitbreiding wat plaasgevind het vandat Jehovah se “vrou” begin het om lig in die duisternis van hierdie wêreld te versprei! Eers het die “seuns” en “dogters” van die hemelse Sion gekom, dié wat gesalfde Christene geword het. In 1931 het hulle hulle in die openbaar as Jehovah se Getuies geïdentifiseer. Daarna het ’n wolk sagmoediges, “die rykdom van die nasies” en “die skatte van die see”, hulle gehaas om hulle by die oorblyfsel van Christus se broers te voeg.b Vandag sluit al hierdie knegte van Jehovah, wat van die uithoeke van die aarde en uit alle vlakke van die samelewing kom, hulle by die Israel van God aan om hulle Soewereine Heer, Jehovah, te loof en sy naam as die grootste naam in die ganse heelal te verheerlik.
14. Hoe kom die nuwe aankomelinge “op [God se] altaar”?
14 Maar wat beteken dit dat hierdie nuwe aankomelinge uit die nasies “op [God se] altaar kom”? ’n Offer word op ’n altaar geplaas. Die apostel Paulus het ’n uitdrukking gebruik wat met offerandes te doen het, toe hy geskryf het: “Ek [versoek] julle dringend . . . om julle liggaam aan te bied as ’n offerande wat lewend, heilig en vir God aanneemlik is, ’n heilige diens met julle denkvermoë” (Romeine 12:1). Ware Christene is bereid om van hulleself te gee (Lukas 9:23, 24). Hulle wy hulle tyd, energie en vermoëns aan die bevordering van ware aanbidding (Romeine 6:13). Deur dit te doen, bring hulle aanneemlike lofoffers aan God (Hebreërs 13:15). Hoe hartverblydend is dit tog dat miljoene hedendaagse aanbidders van Jehovah, oud sowel as jonk, hulle persoonlike begeertes in ’n minder belangrike posisie gestel het as die belange van God se Koninkryk! Hulle lê ’n waarlik selfopofferende gees aan die dag.—Matteus 6:33; 2 Korintiërs 5:15.
Nuwe aankomelinge het ’n aandeel aan die uitbreiding
15. (a) Hoe kon Jehovah se barmhartigheid in die ou tyd ten opsigte van uitlanders gesien word? (b) Hoe het “uitlanders” in hedendaagse tye deelgeneem aan die opbouing van ware aanbidding?
15 Die nuwe aankomelinge bied hulle besittings sowel as hulle persoonlike diens aan om Jehovah se “vrou” te ondersteun. “Uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my verontwaardiging het ek jou geslaan, maar in my welwillendheid sal ek jou beslis barmhartig wees” (Jesaja 60:10). In die sesde eeu v.G.J. kon Jehovah se barmhartigheid duidelik gesien word toe uitlanders met die bouwerk in Jerusalem gehelp het (Esra 3:7; Nehemia 3:26). In die hedendaagse grotere vervulling ondersteun “uitlanders”, die groot menigte, die gesalfde oorblyfsel in hulle werk om ware aanbidding op te bou. Hulle help om Christelike eienskappe in hulle Bybelstudente te bou, en sodoende bou hulle gemeentes van Christene op en versterk hulle die “mure” van Jehovah se stadagtige organisasie (1 Korintiërs 3:10-15). Hulle bou ook in letterlike sin deurdat hulle hard werk om Koninkryksale, Byeenkomssale en Bethelkomplekse te bou. Hulle werk dus saam met hulle gesalfde broers om na die behoeftes van Jehovah se groeiende organisasie om te sien.—Jesaja 61:5.
16, 17. (a) Hoe is die “poorte” van God se organisasie oopgehou? (b) Hoe het “konings” Sion gedien? (c) Wat sal gebeur met dié wat die “poorte” wil toemaak wat Jehovah wil hê moet oopbly?
16 As gevolg van die geestelike bouprogram begin honderdduisende “uitlanders” elke jaar met Jehovah se organisasie omgaan, en die weg is oop vir nog meer om dit te doen. Jehovah sê: “Jou poorte sal voortdurend oopgehou word; hulle sal nie bedags of snags toegemaak word nie, sodat die rykdom van die nasies na jou toe gebring kan word, en hulle konings sal die leiding neem” (Jesaja 60:11). Maar wie is die “konings” wat die leiding neem om die rykdom van die nasies na Sion te bring? In die ou tyd het Jehovah die harte van sekere heersers beweeg om Sion te “dien”. Kores het byvoorbeeld daarmee begin deur die Jode na Jerusalem terug te stuur om die tempel te herbou. Later het Artasasta rykdom geskenk en Nehemia gestuur om die mure van Jerusalem te herbou (Esra 1:2, 3; Nehemia 2:1-8). Ja, “’n koning se hart is soos waterstrome in die hand van Jehovah” (Spreuke 21:1). Ons God kan selfs magtige heersers in ooreenstemming met sy wil laat optree.
17 In hedendaagse tye het baie “konings”, of sekulêre owerhede, die “poorte” van Jehovah se organisasie probeer toemaak. Maar ander het Sion gedien deur besluite te neem wat gehelp het om daardie “poorte” oop te hou (Romeine 13:4). In 1919 het die sekulêre owerheid Joseph F. Rutherford en sy metgeselle uit onregverdige gevangenskap vrygelaat (Openbaring 11:13). Menseregerings het die vloedgolf van vervolging “verswelg” wat Satan ná sy val uit die hemel veroorsaak het (Openbaring 12:16). Party regerings het godsdiensverdraagsaamheid voorgestaan, soms spesifiek ten behoewe van Jehovah se Getuies. Hierdie soort diens het dit makliker gemaak vir skares sagmoediges om deur die oop “poorte” in Jehovah se organisasie in te kom. En wat van die teenstanders wat daardie “poorte” probeer toemaak? Hulle sal dit nooit regkry nie. Jehovah sê van hulle: “Elke nasie en elke koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal vergaan; en die nasies sal vir seker verwoes word” (Jesaja 60:12). Almal wat teen God se “vrou” veg—hetsy individue of organisasies—sal in die komende oorlog van Armageddon vergaan, indien nie vroeër nie.—Openbaring 16:14, 16.
18. (a) Wat beteken die belofte dat bome in Israel sal floreer? (b) Wat is vandag die ‘plek van Jehovah se voete’?
18 Ná hierdie waarskuwing van ’n oordeel keer die profesie terug na beloftes van verheerliking en voorspoed. Jehovah praat met sy “vrou” en sê: “Die heerlikheid van die Libanon sal na jou toe kom, die jenewerboom, die esseboom en die sipres tegelyk, om die plek van my heiligdom te versier; en ek sal die plek van my voete verheerlik” (Jesaja 60:13). Blaarryke bome beeld skoonheid en vrugbaarheid af (Jesaja 41:19; 55:13). Die uitdrukkings “heiligdom” en “plek van my voete” in hierdie vers verwys na die tempel in Jerusalem (1 Kronieke 28:2; Psalm 99:5). Maar die apostel Paulus het verduidelik dat die tempel in Jerusalem ’n sinnebeeldige voorstelling was wat ’n groter geestelike tempel voorafgeskadu het, die reëling om Jehovah op grond van Christus se offerande in aanbidding te kan nader (Hebreërs 8:1-5; 9:2-10, 23). Vandag verheerlik Jehovah die ‘plek van sy voete’, die aardse voorhowe van hierdie groot geestelike tempel. Hierdie voorhowe word so aanloklik dat hulle mense uit alle nasies trek om daar aan ware aanbidding deel te neem.—Jesaja 2:1-4; Haggai 2:7.
19. Wat sal teenstanders gedwing word om te erken, en op die laatste wanneer?
19 Jehovah vestig nou weer sy aandag op die teenstanders en sê: “Die seuns van dié wat jou verdruk, moet neergeboë na jou toe kom; en almal wat jou met minagting behandel, moet hulle by jou voetsole neerbuig, en hulle sal jou die stad van Jehovah, Sion van die Heilige van Israel, moet noem” (Jesaja 60:14). Ja, wanneer party teenstanders sien dat die seën wat God oor sy volk uitstort, vir hulle oorvloedige vermeerdering en ’n beter lewe gee, sal dit hulle dwing om as ’t ware voor die “vrou” neer te buig. Dit wil sê dat hulle—by Armageddon, indien nie vroeër nie—gedwing sal word om te erken dat die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle werklik God se hemelse organisasie, “die stad van Jehovah, Sion van die Heilige van Israel”, verteenwoordig.
Hulle gebruik beskikbare middele
20. Watter ommekeer in omstandighede ervaar die “vrou”?
20 Wat ’n ommekeer in omstandighede ervaar Jehovah se “vrou” tog nie! Jehovah sê: “In plaas daarvan dat jy heeltemal verlate is en gehaat word, sonder dat iemand daar deurtrek, sal ek jou ’n trots tot onbepaalde tyd maak, ’n vreugde van geslag tot geslag. En jy sal die melk van nasies suig, en aan die bors van konings sal jy suig; en jy sal vir seker weet dat ek, Jehovah, jou Redder is en dat die Magtige van Jakob jou Terugkoper is.”—Jesaja 60:15, 16.
21. (a) Hoe word eertydse Jerusalem iets om op “trots” te wees? (b) Watter seëninge geniet Jehovah se gesalfde knegte sedert 1919, en hoe het hulle “die melk van nasies” gesuig?
21 Eertydse Jerusalem bestaan 70 jaar lank eintlik glad nie, aangesien ‘niemand daar deurtrek’ nie. Maar van 537 v.G.J. af herbevolk Jehovah die stad en maak hy dit iets om op “trots” te wees. Net so het die Israel van God naby die einde van die Eerste Wêreldoorlog ’n tydperk deurgemaak waartydens hulle gevoel het dat hulle “heeltemal verlate” is. Maar in 1919 het Jehovah sy gesalfde knegte uit gevangenskap teruggekoop en sedertdien het hy hulle met ongekende uitbreiding en geestelike voorspoed geseën. Sy volk het “die melk van nasies” gesuig deur materiële middele van die nasies te gebruik om ware aanbidding te bevorder. Die verstandige gebruik van moderne tegnologie het dit byvoorbeeld moontlik gemaak om Bybels en Bybellektuur in honderde tale te vertaal en te druk. Gevolglik studeer honderdduisende elke jaar die Bybel saam met Jehovah se Getuies en leer hulle dat Jehovah, deur middel van Christus, hulle Redder en Terugkoper is.—Handelinge 5:31; 1 Johannes 4:14.
Organisatoriese vooruitgang
22. Watter spesiale soort vooruitgang belowe Jehovah?
22 Die vermeerdering in Jehovah se volk gaan gepaard met organisatoriese vooruitgang. Jehovah sê: “In die plek van die koper sal ek goud bring, en in die plek van die yster sal ek silwer bring, en in die plek van die hout koper, en in die plek van die klippe yster; en ek sal vrede as jou opsieners aanstel en regverdigheid as jou taakgewers” (Jesaja 60:17). Om koper met goud te vervang, is ’n verbetering, en dit geld ook vir die ander materiale wat hier genoem word. In ooreenstemming hiermee het Jehovah se volk dwarsdeur die laaste dae verbeteringe in organisatoriese reëlings gesien.
23, 24. Watter verbeterde organisatoriese reëlings het Jehovah se volk sedert 1919 gesien?
23 Teen 1919 het gemeentes ouer manne en diakens gehad wat volgens ’n demokratiese stelsel verkies is. Van daardie jaar af is ’n diensleier teokraties aangestel om toesig te hou oor die velddiens in die gemeente, maar daar was gevalle waar party verkose ouer manne die diensleier teëgestaan het. In 1932 het dinge verander. Deur middel van Die Wagtoring is gemeentes aangesê om nie meer ouer manne en diakens in hulle posisies in te stem nie. Hulle moes eerder ’n dienskomitee kies wat saam met die diensleier sou werk. Dit was ’n groot verbetering.
24 In 1938 is nog “goud” gebring toe daar besluit is dat alle knegte in die gemeente teokraties aangestel moes word. Gemeentelike administrasie is behartig deur die groepkneg (later, gemeentekneg) en die ander knegte wat hom bygestaan het, wat almal onder die toesig van “die getroue en verstandige slaaf” aangestel is (Matteus 24:45-47).c Maar in 1972 het dit duidelik geword dat die skriftuurlike manier om oor ’n gemeente toesig te hou deur ’n liggaam van ouer manne is en nie net deur een man nie (Filippense 1:1). Ander veranderinge is op gemeentelike vlak sowel as aan die Bestuursliggaam aangebring. ’n Voorbeeld van laasgenoemde is op 7 Oktober 2000 gesien toe daar aangekondig is dat lede van die Bestuursliggaam wat as direkteure van die Watch Tower Society of Pennsylvania en geaffilieerde korporasies gedien het, vrywillig van hulle posisie afstand gedoen het. Op hierdie manier kan die Bestuursliggaam, wat die getroue en verstandige slaaf verteenwoordig, meer aandag gee aan die geestelike toesig oor “die gemeente van God” en sy metgeselle, die ander skape (Handelinge 20:28). Al hierdie reëlings was verbeteringe. Dit het Jehovah se organisasie versterk en sy aanbidders geseën.
25. Wie is verantwoordelik vir die organisatoriese vooruitgang van Jehovah se volk, en hoe vind hulle daarby baat?
25 Wie is vir hierdie verbeteringe verantwoordelik? Is dit aan die organisatoriese vermoë of vindingrykheid van mense te danke? Nee, want Jehovah het gesê: ‘Ek sal goud bring.’ Al hierdie vooruitgang is as gevolg van God se leiding. Wanneer Jehovah se volk hulle aan sy leiding onderwerp en aanpassings maak, vind hulle daarby baat. Vrede heers onder hulle, en die liefde vir regverdigheid spoor hulle aan om hom te dien.
26. Watter kenmerk van ware Christene merk selfs teenstanders op?
26 Godgegewe vrede het veranderinge tot gevolg. Jehovah belowe: “Van geweld sal daar nie meer in jou land gehoor word nie, van geen plundering en verbreking binne jou grense nie. En jy sal beslis jou mure Redding noem en jou poorte Lof” (Jesaja 60:18). Hoe waar is dit tog! Selfs teenstanders erken dat vreedsaamheid ’n opvallende kenmerk van ware Christene is (Miga 4:3). Hierdie vrede met God en onder Jehovah se Getuies self maak elke vergaderplek van Christene ’n verkwikkende oase in ’n gewelddadige wêreld (1 Petrus 2:17). Dit is ’n voorsmaak van die oorvloed van vrede wat sal heers wanneer al die bewoners van die aarde ‘persone sal wees wat deur Jehovah geleer word’.—Jesaja 11:9; 54:13.
Die wonderlike lig van Goddelike goedkeuring
27. Watter onveranderlike lig skyn op Jehovah se “vrou”?
27 Die intensiteit van die lig wat op Jerusalem skyn, word deur Jehovah beskryf wanneer hy sê: “Vir jou sal die son nie meer bedags ’n lig wees nie, en as glans sal die maan nie meer vir jou lig gee nie. En Jehovah moet vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en jou God jou prag. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en ook sal jou maan nie afneem nie; want Jehovah sal vir jou ’n lig word wat tot onbepaalde tyd bestaan, en die dae van jou rou sal voltooi wees” (Jesaja 60:19, 20). Jehovah sal aanhou om vir sy “vrou” ‘’n lig te wees wat tot onbepaalde tyd bestaan’. Hy sal nooit “ondergaan” soos die son of “afneem” soos die maan nie.d Sy onveranderlike lig van goedkeuring skyn op gesalfde Christene, die menslike verteenwoordigers van God se “vrou”. Hulle, tesame met die groot menigte, geniet sulke helder geestelike lig dat geen duisternis op die wêreld se politieke of ekonomiese toneel dit kan verduister nie. En hulle is seker van die blink toekoms wat Jehovah vir hulle voorhou.—Romeine 2:7; Openbaring 21:3-5.
28. (a) Wat word in verband met die terugkerende inwoners van Jerusalem belowe? (b) Wat het gesalfde Christene in 1919 in besit geneem? (c) Hoe lank sal die regverdiges die land besit?
28 Jehovah sê verder van Jerusalem se inwoners: “Wat jou volk betref, hulle sal almal regverdig wees; tot onbepaalde tyd sal hulle die land besit, die spruit wat deur my geplant is, die werk van my hande, om prag aan my te verleen” (Jesaja 60:21). Toe vleeslike Israel van Babilon af teruggekeer het, het hulle ‘die land in besit’ geneem. Maar destyds het “tot onbepaalde tyd” tot die eerste eeu G.J. geduur, toe die leërs van Rome Jerusalem en die Joodse nasie vernietig het. In 1919 het die oorblyfsel van gesalfde Christene uit geestelike gevangenskap gekom en ’n geestelike land in besit geneem (Jesaja 66:8). Hierdie land, of bedrywigheidsfeer, word gekenmerk deur ’n paradysagtige geestelike voorspoed wat nie sal eindig nie. In teenstelling met eertydse Israel sal die geestelike Israel as ’n groep nie ontrou wees nie. Daarbenewens sal Jesaja se profesie ook ’n fisiese vervulling hê wanneer die aarde ’n letterlike paradys word wat deur ’n “oorvloed van vrede” gekenmerk word. Dan sal die regverdiges met ’n aardse hoop die land vir ewig besit.—Psalm 37:11, 29.
29, 30. Hoe het “die kleine” “’n duisend” geword?
29 Aan die einde van Jesaja hoofstuk 60 vind ons ’n plegtige belofte, wat Jehovah met sy eie naam bekragtig. Hy sê: “Die kleine sal ’n duisend word, en die geringe ’n magtige nasie. Ek, Jehovah, sal dit op die regte tyd bespoedig” (Jesaja 60:22). Toe die verstrooide gesalfdes in 1919 weer bedrywig geraak het, was hulle “die kleine”.e Maar hulle getal het toegeneem namate die oorblywende geestelike Israeliete ingesamel is. En die vermeerdering het merkwaardig geword toe daar begin is om die groot menigte te versamel.
30 Kort voor lank het die vrede en regverdigheid wat onder God se volk bestaan het, soveel regskapenes aangetrek dat “die kleine” letterlik “’n magtige nasie” geword het. Dit het tans ’n groter bevolking as etlike van die wêreld se onafhanklike state. Dit is duidelik dat Jehovah, deur middel van Jesus Christus, die Koninkrykswerk gerig en bespoedig het. Hoe opwindend is dit tog om te sien hoe ware aanbidding wêreldwyd uitbrei en om aan daardie uitbreiding deel te neem! Ja, dit is ’n vreugde om te besef dat hierdie vermeerdering Jehovah verheerlik, wat hierdie dinge so lank gelede voorspel het.
[Voetnote]
a Tarsis was moontlik in die hedendaagse Spanje geleë. Maar volgens party naslaanwerke verwys die uitdrukking “skepe van Tarsis” na die soort skepe—“seevarende skepe met hoë maste”—wat “geskik was om na Tarsis te vaar”, met ander woorde, skepe wat mense gedink het lang reise na verre hawens kon onderneem.—1 Konings 22:48.
b Hoewel daar voor 1930 bedrywige, ywerige Christene met ’n aardse hoop was wat met die Israel van God omgegaan het, het hulle getalle gedurende die 1930’s merkbaar toegeneem.
c In daardie dae is gemeentes groepe genoem.
d Die apostel Johannes gebruik soortgelyke taal wanneer hy die “nuwe Jerusalem”, die 144 000 in hulle hemelse heerlikheid, beskryf (Openbaring 3:12; 21:10, 22-26). Dit is gepas, want die “nuwe Jerusalem” verteenwoordig al die lede van die Israel van God nadat hulle hulle hemelse beloning gekry het en saam met Jesus Christus die vernaamste deel van God se “vrou”, “die Jerusalem daar bo”, geword het.—Galasiërs 4:26.
e In 1918 was daar gemiddeld minder as 4 000 wat elke maand aan die verkondiging van die woord deelgeneem het.
[Prent op bladsy 305]
Aan die “vrou” word gesê om ‘op te staan’
[Prent op bladsy 312, 313]
“Die skepe van Tarsis” vervoer Jehovah se aanbidders