Hoofstuk drie-en-twintig
“’n Nuwe naam”
1. Watter versekering is in Jesaja hoofstuk 62 opgeteken?
GERUSSTELLING, vertroosting, hoop op herstelling—dit is wat terneergedrukte Jode in Babilon nodig het. Etlike dekades het verbygegaan vandat Jerusalem en sy tempel vernietig is. Sowat 800 kilometer van Babilon af lê Juda nog altyd woes, en dit lyk of Jehovah die Jode vergeet het. Wat kan hulle situasie verbeter? Beloftes deur Jehovah dat hy hulle na hulle vaderland sal terugbring en hulle sal toelaat om rein aanbidding te herstel. Dan sal beskrywings soos “heeltemal verlate” en “’n woesteny” vervang word deur name wat God se goedkeuring weerspieël (Jesaja 62:4; Sagaria 2:12). Hoofstuk 62 van Jesaja is vol van hierdie beloftes. Maar soos ander herstellingsprofesieë raak hierdie hoofstuk sake aan wat veel meer behels as die bevryding van die Jode uit gevangenskap in Babilon. In die grotere vervulling verseker Jesaja hoofstuk 62 ons dat die redding van Jehovah se geestelike volk, “die Israel van God”, ’n sekerheid is.—Galasiërs 6:16.
Jehovah bly nie stil nie
2. Hoe betoon Jehovah weer guns aan Sion?
2 Babilon word in 539 v.G.J. tot ’n val gebring. Daarna vaardig koning Kores van Persië ’n verordening uit wat godvresende Jode in staat stel om na Jerusalem terug te keer en Jehovah se aanbidding te herstel (Esra 1:2-4). In 537 v.G.J. is die eerste terugkerende Jode terug in hulle vaderland. Jehovah betoon weer guns aan Jerusalem, soos gesien kan word in sy hartlike profetiese verklaring: “Ter wille van Sion sal ek nie stilbly nie, en ter wille van Jerusalem sal ek nie stil wees nie, totdat sy regverdigheid uitbreek net soos die ligglans, en sy redding soos ’n brandende fakkel.”—Jesaja 62:1.
3. (a) Waarom het Jehovah aardse Sion finaal verwerp, en waardeur word dit vervang? (b) Waarvan het mense afvallig geword, en wanneer, en in watter tydperk lewe ons vandag?
3 In 537 v.G.J. het Jehovah sy belofte vervul om Sion, of Jerusalem, te herstel. Hy het die inwoners van die stad gered, en hulle regverdigheid het helder geskyn. Maar later het hulle weer van ware aanbidding weggedryf. Uiteindelik het hulle Jesus as die Messias verwerp, en Jehovah het hulle finaal verwerp as sy uitverkore nasie (Matteus 21:43; 23:38; Johannes 1:9-13). Jehovah het die geboorte van ’n nuwe nasie, “die Israel van God”, bewerkstellig. Hierdie nuwe nasie het sy spesiale volk geword, en in die eerste eeu het die lede daarvan die goeie nuus ywerig deur die hele destyds bekende wêreld verkondig (Galasiërs 6:16; Kolossense 1:23). Ongelukkig het baie ná die dood van die apostels afvallig geword van die ware godsdiens. ’n Afvallige vorm van die Christelike godsdiens het dus ontstaan, soos ons vandag in die Christendom kan sien (Matteus 13:24-30, 36-43; Handelinge 20:29, 30). Die Christendom is eeue lank toegelaat om Jehovah se naam groot oneer aan te doen. Maar in 1914 het Jehovah se ‘jaar van welwillendheid’ uiteindelik begin, tesame met die grotere vervulling van hierdie deel van Jesaja se profesie.—Jesaja 61:2.
4, 5. (a) Wie word vandag deur Sion en haar kinders afgebeeld? (b) Hoe het Jehovah Sion gebruik om haar “redding soos ’n brandende fakkel” te maak?
4 Vandag word Jehovah se belofte om Sion te herstel, vervul oor sy hemelse organisasie, die “Jerusalem daar bo”, wat op aarde verteenwoordig word deur haar kinders, geesgesalfde Christene (Galasiërs 4:26). Jehovah se hemelse organisasie dien as ’n toegewyde helper—waaksaam, liefdevol en ywerig. Wat ’n opwindende gebeurtenis was dit tog toe sy in 1914 geboorte gegee het aan die Messiaanse Koninkryk! (Openbaring 12:1-5). Veral van 1919 af het haar aardse kinders haar regverdigheid en redding aan die nasies verkondig. Soos Jesaja voorspel het, het hierdie kinders die duisternis soos ’n fakkel verlig en hulle lig laat skyn.—Matteus 5:15, 16; Filippense 2:15.
5 Jehovah stel intens belang in sy aanbidders en sal nie rus, of stil wees, tot hy al die beloftes vervul het wat hy aan Sion en haar kinders gedoen het nie. Die oorblywendes van die gesalfdes tesame met hulle metgeselle, die “ander skape”, weier ook om stil te bly (Johannes 10:16). Hulle laat hulle stemme hoor terwyl hulle mense die enigste weg na redding wys.—Romeine 10:10.
“’n Nuwe naam” word deur Jehovah gegee
6. Wat het Jehovah vir Sion in gedagte?
6 Wat het Jehovah in gedagte vir Sion, sy hemelse “vrou”, wat deur eertydse Jerusalem afgebeeld word? Hy sê: “Die nasies sal beslis jou regverdigheid sien, o vrou, en al die konings jou heerlikheid. En jy sal by ’n nuwe naam genoem word, wat die mond van Jehovah sal aandui” (Jesaja 62:2). Wanneer die Israeliete in regverdigheid optree, word die nasies gedwing om aandag te skenk. Selfs konings moet erken dat Jehovah Jerusalem gebruik en dat enige heerskappy wat hulle uitoefen, onbeduidend lyk naas Jehovah se Koninkryk.—Jesaja 49:23.
7. Waarop dui Sion se nuwe naam?
7 Jehovah bevestig nou die veranderde toestand van Sion deur dit ’n nuwe naam te gee. Hierdie nuwe naam dui die geseënde toestand en geëerde status aan wat Sion se aardse kinders van 537 v.G.J. af geniet het.a Dit toon dat Jehovah erken dat Sion aan hom behoort. Vandag is die Israel van God verheug om op hierdie manier die voorwerp van Jehovah se vreugde te wees, en die ander skape is saam met hulle bly.
8. Op watter maniere het Jehovah Sion vereer?
8 Nadat Jehovah Sion ’n nuwe naam gegee het, belowe hy nou: “Jy moet ’n pragtige kroon in die hand van Jehovah word, en ’n koninklike tulband in die palm van jou God” (Jesaja 62:3). Jehovah wil hê dat sy simboliese vrou, hemelse Sion, met bewondering beskou moet word (Psalm 48:2; 50:2). Die pragtige kroon en die “koninklike tulband” toon dat sy met eer en gesag beklee is (Sagaria 9:16). Die Israel van God verteenwoordig hemelse Sion, of die “Jerusalem daar bo”, en is ’n merkwaardige resultaat van die werk van God se hand—sy krag wat hy gebruik om dinge te doen (Galasiërs 4:26). Met Jehovah se hulp het daardie geestelike nasie ’n wonderlike reputasie van onkreukbaarheid en toegewydheid opgebou. Miljoene persone, die gesalfdes sowel as die ander skape, word versterk om besondere geloof en liefde aan die dag te lê. Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal die gesalfdes, wat dan al hulle glorieryke hemelse beloning sal ontvang het, werktuie in Jehovah se hand wees om die kreunende skepping tot ewige lewe te verhef.—Romeine 8:21, 22; Openbaring 22:2.
‘Jehovah het ’n welbehae in jou’
9. Beskryf die gedaanteverandering van Sion.
9 Die nuwe naam is ’n deel van die wonderlike gedaanteverandering van die hemelse Sion soos sy deur haar aardse kinders verteenwoordig word. Ons lees: “Daar sal nie meer van jou gesê word dat jy ’n heeltemal verlate vrou is nie; en daar sal nie meer van jou land gesê word dat dit ’n woesteny is nie; maar jy sal genoem word: My welbehae is in haar, en jou land: Besit as ’n vrou. Want Jehovah sal ’n welbehae in jou hê, en jou land sal as ’n vrou besit word” (Jesaja 62:4). Aardse Sion is verlate sedert dit in 607 v.G.J. vernietig is. Jehovah se woorde gee egter die versekering dat die land herstel en herbevolk sal word. Sion, wat vroeër woes gelê het, sal nie meer ’n vrou wees wat heeltemal verlate is nie, en haar land sal nie meer woes lê nie. Die herstelling van Jerusalem in 537 v.G.J. beteken ’n nuwe toestand vir haar, in skerp teenstelling met haar vorige verwoeste toestand. Jehovah verklaar dat Sion “My welbehae is in haar” genoem sal word, en haar land “Besit as ’n vrou”.—Jesaja 54:1, 5, 6; 66:8; Jeremia 23:5-8; 30:17; Galasiërs 4:27-31.
10. (a) Hoe is die Israel van God verander? (b) Wat is die “land” van die Israel van God?
10 Van 1919 af het die Israel van God ’n soortgelyke verandering ondergaan. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het dit gelyk of die gesalfde Christene deur God verstoot is. Maar in 1919 is hulle in hulle begunstigde toestand herstel en is hulle manier van aanbidding gereinig. Dit het ’n uitwerking op hulle leringe, hulle organisasie en hulle werk gehad. Die Israel van God het in sy “land”, sy geestelike grondgebied, of bedrywigheidsfeer, gekom.—Jesaja 66:7, 8, 20-22.
11. Hoe neem die Jode hulle moeder as ’n vrou in besit?
11 Jehovah beklemtoon die nuwe, begunstigde posisie van sy volk nog verder en sê: “Net soos ’n jong man ’n maagd as sy vrou in besit neem, sal jou kinders jou as ’n vrou in besit neem. En met die vreugde van ’n bruidegom oor ’n bruid sal jou God hom oor jou verheug” (Jesaja 62:5). Hoe kan die Jode, die “kinders” van Sion, hulle moeder as ’n vrou in besit neem? Deurdat Sion se kinders wat terugkeer uit ballingskap in Babilon hulle ou hoofstad in besit neem en hulle weer daar vestig. Wanneer dit gebeur, lê Sion nie meer woes nie, maar word dit weer met kinders gevul.—Jeremia 3:14.
12. (a) Op watter manier het Jehovah dit duidelik laat blyk dat gesalfde Christene ’n deel is van die organisasie wat in die huwelik met hom verbind is? (b) Hoe verskaf Jehovah se handelinge met sy volk vandag ’n verhewe model vir die huwelik? (Sien die venster op bladsy 342.)
12 Op ooreenstemmende wyse het die kinders van die hemelse Sion sedert 1919 besit geneem van hulle land, hulle geestelike grondgebied, wat die profetiese naam “Besit as ’n vrou” het. Hulle Christelike bedrywigheid in hierdie land het duidelik getoon dat hierdie gesalfde Christene die “volk vir [Jehovah se] naam” is (Handelinge 15:14). Die feit dat hulle die vrugte van die Koninkryk voortbring en Jehovah se naam bekend maak, is ’n onmiskenbare bewys dat Jehovah ’n welbehae in hierdie Christene het. Hy het dit duidelik laat blyk dat hulle ’n deel is van die organisasie wat in onverbreeklike eenheid met hom verbind is. Deur hierdie Christene met heilige gees te salf, hulle uit geestelike gevangenskap vry te laat en hulle te gebruik om die Koninkrykshoop aan die hele mensdom te verkondig, het Jehovah getoon dat hy hom oor hulle verheug met die vreugde van ’n bruidegom oor ’n bruid.—Jeremia 32:41.
“Laat daar geen stilswye van julle kant wees nie”
13, 14. (a) Hoe het Jerusalem in die ou tyd ’n stad geword wat veiligheid bied? (b) Hoe het Sion in hedendaagse tye “’n lof op aarde” geword?
13 Die figuurlike nuwe naam wat Jehovah sy volk gee, laat hulle veilig voel. Hulle weet dat hy hulle erken en dat hy hulle besit. Nou gebruik Jehovah ’n ander illustrasie en praat met sy volk asof hulle ’n ommuurde stad is: “Op jou mure, o Jerusalem, het ek wagte aangestel. Laat hulle die hele dag en die hele nag, voortdurend, nie stilbly nie. Julle wat van Jehovah melding maak, laat daar geen stilswye van julle kant wees nie, en moenie voor hom swyg nie, totdat hy Jerusalem stewig vestig, ja, totdat hy dit tot ’n lof op die aarde maak” (Jesaja 62:6, 7). Op Jehovah se bestemde tyd ná die terugkeer van die getroue oorblyfsel uit Babilon, word Jerusalem wel “’n lof op die aarde”—’n ommuurde stad wat veiligheid aan sy inwoners bied. Wagte op die mure is dag en nag wakker om die veiligheid van die stad te verseker en waarskuwingsboodskappe aan sy inwoners te gee.—Nehemia 6:15; 7:3; Jesaja 52:8.
14 In hedendaagse tye het Jehovah sy gesalfde wagte gebruik om sagmoediges die weg te wys na vryheid van slawerny aan valse godsdiens. Hierdie persone word genooi om in sy organisasie in te kom, waar hulle beskerm word teen geestelike besmetting, goddelose invloede en Jehovah se misnoeë (Jeremia 33:9; Sefanja 3:19). Die wagklas, “die getroue en verstandige slaaf”, wat geestelike “voedsel op die regte tyd” voorsien, speel ’n noodsaaklike rol daarin om hierdie beskerming te bied (Matteus 24:45-47). Die “groot menigte” werk saam met die wagklas en speel ook ’n betekenisvolle rol daarin om Sion “tot ’n lof op die aarde” te maak.—Openbaring 7:9.
15. Hoe dien die wagklas en hulle metgeselle Jehovah voortdurend?
15 Die diens van die wagklas en hulle metgeselle duur voort! Hulle heelhartige gesindheid kan gesien word aan die ywerige werk van miljoene getroue persone wat ondersteun word deur reisende opsieners en hulle vrouens; vrywilligers in die Bethelhuise en drukkerye van Jehovah se Getuies; sendelinge, sowel as spesiale, gewone en hulppioniers. Daarbenewens werk hulle hard om nuwe Koninkryksale te bou, die siekes te besoek, mense in moeilike mediese situasies by te staan en noodleniging aan die slagoffers van rampe en ongelukke te voorsien. Baie van hierdie selfopofferende persone dien dikwels letterlik “dag en nag”!—Openbaring 7:14, 15.
16. Hoe “swyg” Jehovah se knegte nie voor hom nie?
16 Jehovah se knegte word aangespoor om sonder ophou te bid en God te vra dat sy “wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10; 1 Tessalonisense 5:17). Hulle word gemaan: “Moenie voor [Jehovah] swyg nie”, tot die begeertes en verwagtinge met betrekking tot die herstelling van ware aanbidding verwesenlik is. Jesus het beklemtoon hoe belangrik dit is om voortdurend te bid en het sy volgelinge aangemoedig om ‘dag en nag tot God te roep’.—Lukas 18:1-8.
Diens aan God sal beloon word
17, 18. (a) Hoe kan die inwoners van Sion verwag om die vrug van hulle arbeid te geniet? (b) Hoe geniet Jehovah se volk vandag die vrug van hulle arbeid?
17 Die nuwe naam wat Jehovah sy volk gee, gee hulle die versekering dat hulle pogings nie tevergeefs is nie. “Jehovah het met sy regterhand en met sy sterk arm gesweer: ‘Ek sal jou graan nie meer as voedsel aan jou vyande gee nie, en ook sal uitlanders nie jou nuwe wyn drink waarvoor jy geswoeg het nie. Maar dié wat dit insamel, sal dit eet, en hulle sal Jehovah vir seker loof; en dié wat dit bymekaarmaak, sal dit in my heilige voorhowe drink’” (Jesaja 62:8, 9). Jehovah se regterhand en sterk arm is simbole van sy krag en sterkte (Deuteronomium 32:40; Esegiël 20:5). Die feit dat hy by hierdie dinge sweer, toon dat hy vasbeslote is om Sion se toestand te verander. In 607 v.G.J. laat Jehovah Sion se vyande toe om hom te beroof en sy besittings te plunder (Deuteronomium 28:33, 51). Maar nou sal Sion se besittings slegs geniet word deur diegene wat daarop geregtig is.—Deuteronomium 14:22-27.
18 In die hedendaagse vervulling van hierdie belofte geniet Jehovah se herstelde volk groot geestelike voorspoed. Hulle geniet ten volle die vrug van hulle arbeid—’n groter aantal Christendissipels en ’n oorvloed van geestelike voedsel (Jesaja 55:1, 2; 65:14). Omdat Jehovah se volk getrou is, laat hy nie hulle vyande toe om hulle geestelike voorspoed te belemmer of hulle van die resultate van hulle heelhartige diens te beroof nie. Niks wat ons in Jehovah se diens doen, is tevergeefs nie.—Maleagi 3:10-12; Hebreërs 6:10.
19, 20. (a) Hoe is die weg vir die Jode gebaan om na Jerusalem terug te keer? (b) Hoe is die weg in hedendaagse tye vir sagmoediges gebaan om in Jehovah se organisasie te kom?
19 Die nuwe naam maak Jehovah se organisasie ook aantreklik vir opregtes van hart. Menigtes stroom daarheen, en die weg word vir hulle oopgehou. Jesaja se profesie sê: “Gaan uit, gaan uit deur die poorte. Baan die weg van die volk. Vul op, vul die grootpad op. Verwyder die klippe. Rig ’n baken op vir die volke” (Jesaja 62:10). In die eerste plek verwys hierdie uitroep waarskynlik na die feit dat hulle by die poorte van die stede in Babilonië moet uitgaan om na Jerusalem terug te keer. Die terugkerendes moet klippe uit die pad verwyder om die reis makliker te maak en moet ’n baken oprig om die weg te wys.—Jesaja 11:12.
20 Sedert 1919 is gesalfde Christene afgesonder vir God se diens en bewandel hulle “die Weg van Heiligheid” (Jesaja 35:8). Hulle was die eerstes om op die geestelike grootpad uit Babilon die Grote uit te loop (Jesaja 40:3; 48:20). God het hulle die voorreg gegee om die leiding te neem in die werk om sy magtige dade bekend te maak en ook ander te help om op die hoofweg te kom. Die feit dat die klippe daaruit verwyder is—dat die struikelblokke uit die weg geruim is—was hoofsaaklik vir hulle eie beswil (Jesaja 57:14). Hulle moes God se voornemens en leringe duidelik sien. Valse godsdiensoortuigings is struikelblokke op die pad na die lewe, maar Jehovah se Woord is “soos ’n smeehamer wat die groot rots verbrysel”. Met behulp daarvan het gesalfde Christene struikelblokke verbrysel waaroor mense wat Jehovah wou dien, kon struikel.—Jeremia 23:29.
21, 22. Watter baken het Jehovah opgerig vir diegene wat valse godsdiens verlaat, en hoe weet ons dit?
21 In 537 v.G.J. het Jerusalem die baken geword wat die Joodse oorblyfsel aangetrek het om terug te keer en die tempel te herbou (Jesaja 49:22). In 1919, toe die gesalfde oorblyfsel uit slawerny aan valse godsdiens verlos is, het hulle nie doelloos rondgedwaal nie. Hulle het geweet wat hulle bestemming is, want Jehovah het vir hulle ’n baken opgerig. Watter baken? Dieselfde baken wat in Jesaja 11:10 voorspel is, waar ons lees: “In dié dag sal daar die wortel van Isai wees, wat sal opstaan as ’n baken vir die volke.” Die apostel Paulus pas hierdie woorde op Jesus toe (Romeine 15:8, 12). Ja, die baken is Christus Jesus, wat op die hemelse berg Sion as Koning heers.—Hebreërs 12:22; Openbaring 14:1.
22 Die gesalfde Christene en die ander skape versamel hulle rondom Jesus Christus om aan die verenigende aanbidding van die Allerhoogste God deel te neem. Sy heerskappy regverdig Jehovah se universele soewereiniteit en seën opregtes van hart uit al die nasies op die aarde. Is dit nie genoeg rede vir ons almal om hom te verheerlik en te loof nie?
“Jou redding kom”!
23, 24. Hoe word dié wat geloof in God het, gered?
23 Die nuwe naam wat Jehovah sy gemalinorganisasie gee, het te doen met die ewige redding van haar kinders. Jesaja skryf: “Kyk! Jehovah het dit tot die verste deel van die aarde laat hoor: ‘Sê vir die dogter van Sion: “Kyk! Jou redding kom. Kyk! Die beloning wat hy gee, is by hom, en die loon wat hy betaal, gaan voor hom uit”’” (Jesaja 62:11). Die Jode is gered toe Babilon geval het en hulle na hulle vaderland teruggekeer het. Maar hierdie woorde verwys na iets groters. Jehovah se verklaring laat ’n mens dink aan Sagaria se profesie aangaande Jerusalem: “Wees baie bly, o dogter van Sion. Roep triomfantlik uit, o dogter van Jerusalem. Kyk! Jou koning kom na jou toe. Hy is regverdig, ja, gered; nederig, en hy ry op ’n esel, ja, op ’n volgroeide dier, die hingsvul van ’n eselin.”—Sagaria 9:9.
24 Drie en ’n half jaar ná Jesus in water gedoop en met God se gees gesalf is, het hy in Jerusalem ingery en die tempel gereinig (Matteus 21:1-5; Johannes 12:14-16). Vandag is Jesus Christus die een wat redding van Jehovah aan almal bring wat in God glo. Sedert hy in 1914 op die troon geplaas is, is Jesus ook Jehovah se aangestelde Regter en Skerpregter. In 1918, drie en ’n half jaar ná hy op die troon geplaas is, het hy Jehovah se geestelike tempel gereinig, wat op aarde verteenwoordig word deur die gemeente van gesalfde Christene (Maleagi 3:1-5). Toe hy as ’n baken opgerig is, het dit die begin van ’n groot insameling van mense uit alle wêrelddele aangedui, ter ondersteuning van die Messiaanse Koninkryk. In navolging van die eertydse patroon het die Israel van God “redding” verkry toe hulle in 1919 uit Babilon die Grote bevry is. “Die beloning” of “die loon” wat op die selfopofferende oeswerkers wag, is onsterflike lewe in die hemel of ewige lewe op aarde. Almal wat getrou bly, kan die vaste vertroue hê dat hulle “arbeid in verband met die Here nie tevergeefs is nie”.—1 Korintiërs 15:58.
25. Watter versekering word Jehovah se volk gegee?
25 Watter wonderlike vooruitsigte het Jehovah se hemelse organisasie, sy gesalfde verteenwoordigers hier op aarde en almal wat met hulle omgaan tog! (Deuteronomium 26:19). Jesaja het voorspel: “Die mense sal hulle beslis die heilige volk noem, dié wat deur Jehovah teruggekoop is; en jy sal genoem word: Gesoekte, ’n Stad wat nie heeltemal verlaat is nie” (Jesaja 62:12). Daar was ’n tyd toe die “Jerusalem daar bo”, wat deur die Israel van God verteenwoordig word, verlate gevoel het. Sy sal nooit weer so voel nie. Jehovah se volk sal vir ewig die voorwerp van sy beskermende sorg wees en sy voortdurende goedkeuring geniet.
[Voetnoot]
a In Bybelprofesie kan “’n nuwe naam” ’n nuwe posisie of voorreg beteken.—Openbaring 2:17; 3:12.
[Venster op bladsy 342]
’n Verhewe model vir die huwelik
Wanneer mense trou, het hulle hulle eie verwagtinge van die huwelik. Maar wat is God se verwagtinge? Hy het die huwelik ingestel. Wat was sy doel daarmee?
God se verhouding met die nasie Israel gee ons ’n aanduiding van sy beskouing. Jesaja beeld hierdie verhouding as ’n huwelik uit (Jesaja 62:1-5). Let op wat Jehovah God as ’n “man” vir sy “bruid” doen. Hy beskerm en heilig haar (Jesaja 62:6, 7, 12). Hy gee haar eer en beskou haar as kosbaar (Jesaja 62:3, 8, 9). En hy skep behae in haar, soos aangedui word deur die nuwe name wat hy haar gee.—Jesaja 62:4, 5, 12.
Jesaja se beskrywing van die verhouding tussen Jehovah en Israel is soortgelyk aan dié van Paulus in die Christelike Griekse Geskrifte, wanneer hy die verhouding van ’n man en vrou met dié van Christus en die gemeente van gesalfde Christene vergelyk.—Efesiërs 5:21-27.
Paulus het Christene aangespoor om in hulle huwelik die verhouding tussen Jesus en die gemeente na te volg. Daar kan geen groter liefde wees as dié wat Jehovah aan Israel en Christus aan die gemeente betoon het nie. Hierdie simboliese verhoudings voorsien ’n verhewe model vir ’n suksesvolle en gelukkige huwelik tussen Christene.—Efesiërs 5:28-33.
[Prent op bladsy 339]
Jehovah sal die hemelse Sion ’n nuwe naam gee
[Prente op bladsy 347]
In hedendaagse tye het Jehovah se wagklas nie stilgebly nie