Hoofstuk vier-en-twintig
Jehovah maak ’n pragtige naam vir homself
1, 2. (a) Watter persoonlike belangstelling het Christene in die komende “dag van Jehovah”? (b) Watter belangrike saak is by die koms van Jehovah se dag betrokke?
BYKANS tweeduisend jaar al ‘verwag Christene die dag van Jehovah en hou hulle dit goed in gedagte’ (2 Petrus 3:12; Titus 2:13). Dit is te verstane dat hulle gretig is dat daardie dag moet kom. Dan sal hulle immers verligting begin kry van die skade wat deur onvolmaaktheid veroorsaak is (Romeine 8:22). Dit sal ook die einde beteken van die druk wat hulle moet verduur gedurende hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”.—2 Timoteus 3:1.
2 Maar terwyl Jehovah se dag verligting vir regverdiges sal beteken, sal dit ook vernietiging beteken vir “dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus oor ons Here Jesus nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:7, 8). Dit is ’n gedagte wat ’n mens tot ernstige nadenke stem. Sal God werklik die goddeloses vernietig bloot om sy volk uit angswekkende toestande te red? Die 63ste hoofstuk van Jesaja toon dat ’n baie belangriker saak daarby betrokke is, naamlik die heiliging van God se naam.
Die seëvierende krygsman ruk op
3, 4. (a) Wat is die agtergrond van die profesie in Jesaja hoofstuk 63? (b) Wie sien Jesaja na Jerusalem optrek, en wie dink party geleerdes is hy?
3 In Jesaja hoofstuk 62 lees ons van die bevryding van die Jode uit gevangenskap in Babilon en hulle herstelling in hulle vaderland. Natuurlik ontstaan die vraag: Sal dit vir die herstelde oorblyfsel van die Jode nodig wees om verdere vernietiging deur ander vyandelike nasies te vrees? Jesaja se visioen is baie gerusstellend. Die profesie begin: “Wie is dit wat daar uit Edom kom, met klere in gloeiende kleure uit Bosra, die een wat eervol in sy kleredrag is, wat in die oorvloed van sy krag optrek?”—Jesaja 63:1a.
4 Jesaja sien ’n krygsman, energiek en seëvierend, wat na Jerusalem optrek. Sy pragtige klere toon dat hy ’n baie hoë rang het. Hy kom uit die rigting van Edom se vernaamste stad, Bosra, wat dit laat blyk dat hy ’n groot oorwinning oor daardie vyandelike land behaal het. Wie kan hierdie krygsman tog wees? Party geleerdes identifiseer hom as Jesus Christus. Ander is van mening dat hy die Joodse militêre leier Judas Makkabeus is. Maar die krygsman identifiseer homself wanneer hy die vraag hierbo beantwoord en sê: “Ek, die Een wat in regverdigheid spreek, die Een wat oorvloedig in reddingskrag is.”—Jesaja 63:1b.
5. Wie is die krygsman wat Jesaja sien, en waarom sê jy so?
5 Dit ly geen twyfel dat hierdie krygsman Jehovah God self is nie. Elders word hy beskryf as iemand wat ’n “oorvloed van dinamiese energie” het en wat “spreek wat regverdig is” (Jesaja 40:26; 45:19, 23). Die krygsman se pragtige klere herinner ons aan die psalmis se woorde: “O Jehovah my God, u is baie groot. Met waardigheid en prag het u u beklee” (Psalm 104:1). Hoewel Jehovah die God van liefde is, toon die Bybel dat hy vir hom die mantel van ’n krygsman sal omhang wanneer dit nodig is.—Jesaja 34:2; 1 Johannes 4:16.
6. Waarom keer Jehovah terug van ’n geveg in Edom?
6 Maar waarom keer Jehovah terug van ’n geveg in Edom? Die Edomiete is eeue oue vyande van God se verbondsvolk en sit ’n vyandskap voort wat met hulle voorvader, Esau, begin het (Genesis 25:24-34; Numeri 20:14-21). Die intensiteit van Edom se haat teen Juda het baie duidelik geword tydens die vernietiging van Jerusalem toe die Edomiete die Babiloniese soldate aangespoor het (Psalm 137:7). Jehovah beskou hierdie vyandigheid as ’n persoonlike belediging teen hom. Dit is geen wonder dat hy besluit het om sy swaard van wraak teen Edom te gebruik nie!—Jesaja 34:5-15; Jeremia 49:7-22.
7. (a) Hoe is die profesie teen Edom aanvanklik vervul? (b) Wat beeld Edom af?
7 Jesaja se visioen is dus baie aanmoedigend vir die Jode wat na Jerusalem terugkeer. Dit verseker hulle dat hulle veilig in hulle nuwe tuiste sal woon. Trouens, teen die tyd van die profeet Maleagi het God Edom se “berge ’n verlate woesteny gemaak en sy erfdeel vir die jakkalse van die wildernis gegee” (Maleagi 1:3). Beteken dit dan dat Jesaja se profesie teen Maleagi se dag ten volle vervul was? Nee, want ondanks sy vernietigde toestand was Edom vasbeslote om sy verwoeste plekke te herbou, en Maleagi het verder gegaan en Edom “die gebied van goddeloosheid” genoem en “die volk wat tot onbepaalde tyd deur Jehovah veroordeel is” (Maleagi 1:4, 5).a Maar profeties gesproke sluit Edom meer as die afstammelinge van Esau in. Dit beeld al die nasies af wat toon dat hulle vyande van Jehovah se aanbidders is. Die nasies van die Christendom was in hierdie opsig in besondere mate op die voorgrond. Wat sal met hierdie hedendaagse Edom gebeur?
Die wynpers
8, 9. (a) Wat het die krygsman wat Jesaja sien, gedoen? (b) Wanneer en hoe word die simboliese wynpers getrap?
8 Jesaja vra die terugkerende krygsman: “Waarom is u kleredrag rooi en u klere soos dié van iemand wat die wynpers trap?” Jehovah antwoord: “Die wyntrog het ek alleen getrap, terwyl daar niemand uit die volke by my was nie. En ek het hulle bly trap in my toorn, en ek het hulle bly vertrap in my woede. En hulle spuitende bloed het op my klere bly spat, en al my klere het ek besoedel.”—Jesaja 63:2, 3.
9 Hierdie woorde gee ’n duidelike beskrywing van ’n bloedbad. Selfs God se pragtige klere is bevlek, soos dié van iemand wat ’n wynpers trap! ’n Wynpers is ’n gepaste simbool van die vasgekeerde toestand waarin vyande van Jehovah God hulle bevind wanneer hy hulle vernietig. Wanneer sal hierdie simboliese wynpers getrap word? Die profesieë van Joël en van die apostel Johannes praat ook van ’n simboliese wynpers. Die wynpers van daardie profesieë gaan getrap word wanneer Jehovah sy vyande tot vernietiging vertrap by Armageddon (Joël 3:13; Openbaring 14:18-20; 16:16). Die profetiese wynpers van Jesaja verwys na dieselfde tyd.
10. Waarom sê Jehovah dat hy die wynpers alleen getrap het?
10 Maar waarom sê Jehovah dat hy hierdie wynpers self getrap het, terwyl daar niemand uit die volke by hom was nie? Sal Jesus Christus, as God se verteenwoordiger, nie die leiding neem wanneer die wynpers getrap word nie? (Openbaring 19:11-16). Ja, maar Jehovah verwys na mense, nie na geesskepsele nie. Hy sê dat geen mens in staat is om die aarde van Satan se volgelinge te bevry nie (Jesaja 59:15, 16). Dit word aan God die Almagtige oorgelaat om hulle in sy woede te bly vertrap, totdat hulle heeltemal verbrysel is.
11. (a) Waarom bring Jehovah ’n “dag van wraak”? (b) Wie is die “teruggekooptes” in die ou tyd, en wie is hulle vandag?
11 Jehovah verduidelik verder waarom hy hierdie taak self uitvoer en sê: “Die dag van wraak is in my hart, en die jaar van my teruggekooptes het gekom” (Jesaja 63:4).b Net Jehovah het die reg om wraak uit te oefen op diegene wat sy volk kwaad aandoen (Deuteronomium 32:35). In die ou tyd was die “teruggekooptes” die Jode wat deur die toedoen van die Babiloniërs gely het (Jesaja 35:10; 43:1; 48:20). In hedendaagse tye is hulle die gesalfde oorblyfsel (Openbaring 12:17). Soos hulle eweknieë in die ou tyd is hulle uit godsdiensgevangenskap bevry. En soos daardie Jode was die gesalfdes, saam met hulle metgeselle, die “ander skape”, die slagoffers van vervolging en teenstand (Johannes 10:16). Jesaja se profesie verseker hedendaagse Christene dus dat God op sy vasgestelde tyd ten behoewe van hulle sal optree.
12, 13. (a) In watter sin is daar geen helper vir Jehovah nie? (b) Hoe verskaf Jehovah se arm redding, en hoe ondersteun sy woede hom?
12 Jehovah gaan voort: “Ek het bly kyk, maar daar was geen helper nie; en ek was verbaas, maar daar was niemand wat steun gebied het nie. Daarom het my arm aan my redding verskaf, en my woede het my ondersteun. En ek het volke bly vertrap in my toorn, en ek het hulle dronk gemaak met my woede en hulle spuitende bloed op die aarde laat afloop.”—Jesaja 63:5, 6.
13 Geen mensehelper kan sê dat hy die eer vir Jehovah se groot dag van wraak verdien nie. Jehovah het ook geen mens se ondersteuning nodig om sy wil uit te voer nie.c Sy uiters kragtige arm is opgewasse vir die taak (Psalm 44:3; 98:1; Jeremia 27:5). Daarbenewens ondersteun sy woede hom. Hoe? Deurdat God se woede nie ’n onbeheerste emosie is nie, maar regverdige verontwaardiging. Aangesien Jehovah altyd op grond van regverdige beginsels optree, ondersteun en spoor sy woede hom aan om die “spuitende bloed” van sy vyande ‘op die aarde te laat afloop’, tot hulle vernedering en ondergang.—Psalm 75:8; Jesaja 25:10; 26:5.
God se liefderyke goedhartighede
14. Watter gepaste herinneringe gee Jesaja nou?
14 In die verlede het die Jode gou waardering verloor vir die dinge wat Jehovah ten behoewe van hulle gedoen het. Dit is dus gepas dat Jesaja hulle herinner aan die rede waarom Jehovah hierdie dinge gedoen het. Jesaja verklaar: “Die liefderyke goedhartighede van Jehovah sal ek vermeld, die lofprysinge van Jehovah, ooreenkomstig alles wat Jehovah aan ons bewys het, ja, die oorvloedige goedheid teenoor die huis van Israel wat hy aan hulle bewys het ooreenkomstig sy barmhartighede en ooreenkomstig die oorvloed van sy liefderyke goedhartighede. En hy het gesê: ‘Waarlik, hulle is my volk, kinders wat nie ontrou sal wees nie.’ Daarom het hy vir hulle ’n Redder geword. In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak. En sy persoonlike boodskapper het hulle gered. Deur sy liefde en deur sy medelye het hy hulle teruggekoop, en hy het hulle opgetel en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.”—Jesaja 63:7-9.
15. Hoe en waarom het Jehovah liefderyke goedhartigheid aan Abraham se nageslag in Egipte bewys?
15 Wat ’n uitstekende voorbeeld stel Jehovah in die betoning van liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde! (Psalm 36:7; 62:12). Daar het ’n liefdevolle gehegtheid tussen Jehovah en Abraham ontwikkel (Miga 7:20). Hy het die aartsvader belowe dat al die nasies van die aarde hulleself deur middel van sy saad, of nageslag, sou seën (Genesis 22:17, 18). Jehovah het daardie belofte gehou, en oorvloedige goedheid aan die huis van Israel betoon. Een van die wonderlikste van sy lojale dade was toe hy Abraham se nageslag uit slawerny in Egipte gered het.—Eksodus 14:30.
16. (a) Watter beskouing het Jehovah gehad toe hy sy verbond met Israel gesluit het? (b) Hoe tree God teenoor sy volk op?
16 Ná Jehovah Israel uit Egipte na die berg Sinai gebring het, het hy belowe: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word . . . En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word” (Eksodus 19:5, 6). Het Jehovah hulle mislei toe hy hierdie aanbod gemaak het? Nee, want Jesaja openbaar dat Jehovah vir homself gesê het: “Waarlik, hulle is my volk, kinders wat nie ontrou sal wees nie.” Een geleerde sê: “Die ‘waarlik’ is nie ’n wilsuiting wat op grond van soewereiniteit of voorkennis gemaak word nie: dit is die hoop en vertroue wat uit liefde gebore is.” Ja, Jehovah het sy verbond te goeder trou gesluit, en dit was sy opregte begeerte dat sy volk suksesvol moet wees. Ondanks hulle ooglopende tekortkominge het hy vertroue in hulle getoon. Hoe wonderlik is dit tog om ’n God te aanbid wat soveel vertroue in sy aanbidders stel! Vandag doen ouer manne baie om dié wat aan hulle sorg toevertrou is, te versterk wanneer hulle ook sulke vertroue in die goedheid van God se volk toon.—2 Tessalonisense 3:4; Hebreërs 6:9, 10.
17. (a) Hoe het Jehovah bewys gelewer van sy liefde vir die Israeliete? (b) Watter vertroue kan ons vandag hê?
17 Die psalmis sê nietemin van die Israeliete: “Hulle het God, hulle Redder, vergeet, wat groot dinge in Egipte gedoen het” (Psalm 106:21). Hulle ongehoorsame, hardnekkige gesindheid het hulle dikwels in baie moeilike omstandighede laat beland (Deuteronomium 9:6). Het Jehovah opgehou om liefderyke goedhartigheid aan hulle te bewys? Allermins. Jesaja sê: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak.” Hoeveel empatie het Jehovah tog! Soos met enige liefdevolle vader het dit God seergemaak wanneer hy gesien het dat sy kinders ly, al was die lyding as gevolg van hulle eie dwaasheid. Soos voorspel is en as ’n bewys van sy liefde, het hy sy “persoonlike boodskapper”, waarskynlik Jesus in sy voormenslike bestaan, gestuur om hulle na die Beloofde Land te lei (Eksodus 23:20). So het Jehovah die nasie opgetel en gedra, “soos ’n man sy seun dra” (Deuteronomium 1:31; Psalm 106:10). Vandag kan ons seker wees dat Jehovah net so bewus is van ons lyding en dat hy meegevoel met ons het wanneer ons deur moeilike tye gaan. Ons kan met vertroue ‘al ons sorge op hom werp, want hy sorg vir ons’.—1 Petrus 5:7.
God word ’n vyand
18. Waarom het Jehovah ’n vyand van sy volk geword?
18 Ons moet egter nooit misbruik maak van God se liefderyke goedhartigheid nie. Jesaja gaan voort: “Hulle het in opstand gekom en sy heilige gees gekrenk. Hy het toe in hulle vyand verander; hy het teen hulle oorlog gevoer” (Jesaja 63:10). Al is Jehovah ’n barmhartige en genadige God, het hy gewaarsku dat hy “geensins vrystelling van straf [sal] gee nie” (Eksodus 34:6, 7). Die Israeliete sou gestraf word omdat hulle ’n patroon van opstandigheid gevorm het. “Moenie vergeet hoe jy Jehovah jou God in die wildernis vertoorn het nie”, het Moses gesê. “Van die dag af dat jy uit Egipteland uitgetrek het totdat julle by hierdie plek gekom het, was julle opstandig in julle gedrag teenoor Jehovah” (Deuteronomium 9:7). Deur die heilsame uitwerking van God se gees teë te staan, het hulle dit gekrenk, of bedroef (Efesiërs 4:30). Hulle het Jehovah gedwing om hulle vyand te word.—Levitikus 26:17; Deuteronomium 28:63.
19, 20. Wat onthou die Jode, en waarom?
19 Te midde van hulle ellende word party Jode beweeg om aan die verlede te dink. Jesaja sê: “Daar is aan die dae van lank gelede gedink, aan sy kneg Moses: ‘Waar is die Een wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herders van sy kudde? Waar is die Een wat Sy heilige gees in hom geplaas het? Die Een wat Sy pragtige arm aan die regterhand van Moses laat gaan het; die Een wat die waters voor hulle uit gekloof het om vir hom ’n naam te maak wat tot onbepaalde tyd duur; die Een wat hulle deur die bruisende waters laat trek het sodat hulle, soos ’n perd in die wildernis, nie gestruikel het nie? Net soos wanneer ’n dier in die valleivlakte afgaan, het die gees van Jehovah aan hulle rus verskaf.’”—Jesaja 63:11-14a.d
20 Ja, wanneer die Jode die vrugte van ongehoorsaamheid pluk, verlang hulle na die dae toe Jehovah hulle Redder was en nie hulle vyand nie. Hulle onthou hoe hulle “herders”, Moses en Aäron, hulle veilig deur die Rooi See gelei het (Psalm 77:20; Jesaja 51:10). Hulle onthou ’n tyd toe hulle God se gees nie bedroef het nie, maar daardeur gelei is deur middel van die leiding van Moses en ander ouer manne wat deur die gees aangestel is (Numeri 11:16, 17). Hulle onthou ook dat hulle gesien het hoe Jehovah se “pragtige arm” van sterkte deur middel van Moses ten behoewe van hulle gebruik is! Mettertyd het God hulle uit die groot en vreesinboesemende wildernis geneem en hulle in ’n land wat oorloop van melk en heuning—’n plek van rus—ingelei (Deuteronomium 1:19; Josua 5:6; 22:4). Maar nou ly die Israeliete omdat hulle hulle goeie verhouding met God verloor het!
‘’n Pragtige naam vir homself’
21. (a) Watter groot voorreg kon Israel gehad het met betrekking tot God se naam? (b) Wat was die vernaamste rede waarom God Abraham se nageslag uit Egipte bevry het?
21 Die materiële verlies van die Israeliete kan nogtans nie vergelyk word met die verlies van die voorreg wat hulle weggegooi het nie, naamlik dat hulle ’n deel kan hê aan die verheerliking van God se naam. Moses het die Israeliete belowe: “Jehovah sal jou vir hom as ’n heilige volk vestig, net soos hy vir jou gesweer het, omdat jy aanhou om die gebooie van Jehovah jou God te onderhou en jy in sy weë gewandel het. En al die volke van die aarde sal moet sien dat Jehovah se naam oor jou uitgeroep is, en hulle sal inderdaad vir jou bang wees” (Deuteronomium 28:9, 10). Toe Jehovah opgetree het om Abraham se nageslag te verdedig deur hulle uit slawerny in Egipte te red, het hy dit nie gedoen bloot om die lewe vir hulle geriefliker of aangenamer te maak nie. Hy het ten behoewe van iets baie belangrikers opgetree—sy naam. Ja, hy het toegesien dat sy naam ‘oor die hele aarde bekend gemaak word’ (Eksodus 9:15, 16). En toe God barmhartigheid bewys het ná die opstand van Israel in die wildernis, het hy dit nie bloot uit sentiment gedoen nie. Jehovah het self gesê: “Ek het ter wille van my naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle was nie.”—Esegiël 20:8-10.
22. (a) Waarom sal God in die toekoms weer ten behoewe van sy volk veg? (b) Watter uitwerking het ons liefde vir God se naam op ons dade?
22 Met watter kragtige woorde sluit Jesaja tog sy profesie af! Hy sê: “So het u u volk gelei om vir u ’n pragtige naam te maak” (Jesaja 63:14b). Nou kan daar duidelik gesien word waarom Jehovah kragtig ter wille van sy volk veg. Dit is om ’n pragtige naam vir homself te maak. Jesaja se profesie is dus ’n kragtige herinnering dat dit ’n ontsagwekkende voorreg sowel as ’n groot verantwoordelikheid is om Jehovah se naam te dra. Ware Christene van vandag het die naam van Jehovah meer lief as hulle eie lewe (Jesaja 56:6; Hebreërs 6:10). Hulle wil niks doen wat daardie heilige naam oneer kan aandoen nie. Hulle reageer op God se lojale liefde deur aan hom lojaal te bly. En omdat hulle lief is vir Jehovah se pragtige naam, smag hulle na die dag wanneer hy sy vyande in die wynpers van sy toorn sal vertrap—nie net omdat dit tot hulle voordeel sal wees nie, maar omdat dit sal lei tot die verheerliking van die naam van die God vir wie hulle lief is.—Matteus 6:9.
[Voetnote]
a Die Herodesse van die eerste eeu G.J. was Edomiete.
b Die uitdrukking “jaar van my teruggekooptes” verwys moontlik na dieselfde tydperk as die uitdrukking “dag van wraak”. Let op hoe soortgelyke uitdrukkings in Jesaja 34:8 saam gebruik word.
c Jehovah spreek sy verbasing uit dat niemand steun gebied het nie. Dit is inderdaad verbasend dat die sterkes van die mensdom byna 2 000 jaar ná die dood van Jesus nog steeds God se wil teëstaan.—Psalm 2:2-12; Jesaja 59:16.
d Hierdie vers kan ook begin: “Hy het . . . gedink” (Jesaja 63:11, voetnoot in NW ). Maar dit beteken nie noodwendig dat dit Jehovah is wat dink nie. Die volgende woorde beskryf die gevoelens van God se volk en nie Jehovah s’n nie. Die Soncino Books of the Bible vertaal hierdie woorde soos volg: “Toe het Sy volk aan die ou dae gedink.”
[Prent op bladsy 359]
Jehovah het hoë verwagtinge vir sy volk gehad