Hoofstuk nege
Vertrou op Jehovah tydens teenstand
1. Waarom sal Christene vandag daarby baat vind as hulle Jesaja hoofstukke 7 en 8 ondersoek?
JESAJA hoofstukke 7 en 8 vertel van twee uiteenlopende reaksies. Jesaja en Agas het albei aan ’n nasie behoort wat aan Jehovah toegewy was. Albei het ’n godgegewe toewysing gehad, die een was ’n profeet, die ander ’n koning van Juda; en albei het voor dieselfde gevaar gestaan—’n groot vyandelike leër het Juda ingeval. Jesaja het die bedreiging egter met vertroue in Jehovah benader, terwyl Agas voor vrees geswig het. Waarom het hulle so verskillend gereageer? Dit sal goed wees as Christene hierdie twee hoofstukke van Jesaja ondersoek om te sien watter lesse daarin is, aangesien hulle vandag eweneens deur vyandiggesinde magte omring is.
’n Belangrike besluit
2, 3. Watter opsomming gee Jesaja in sy openingswoorde?
2 Net soos ’n skilder wat die buitelyne van ’n nuwe skildery met ’n paar groot hale begin verf, lei Jesaja sy verslag met ’n paar breë stellings in wat die begin en einde van die gebeurtenisse beskryf waarvan hy nou gaan vertel: “In die dae van Agas, die seun van Jotam, die seun van Ussia, die koning van Juda, het Resin, die koning van Sirië, en Peka, die seun van Remalia, die koning van Israel, na Jerusalem opgetrek om daarteen oorlog te voer, en hy kon nie daarteen veg nie.”—Jesaja 7:1.
3 Dit is die agtste eeu v.G.J. Agas het sy vader, Jotam, as koning oor Juda opgevolg. Resin, die koning van Sirië, en Peka, die koning van die noordelike koninkryk van Israel, val Juda in, en hulle leërs rig groot skade aan. Uiteindelik sal hulle selfs Jerusalem beleër. Maar die beleg sal nie suksesvol wees nie (2 Konings 16:5, 6; 2 Kronieke 28:5-8). Waarom nie? Dit sal ons later uitvind.
4. Waarom word die harte van Agas en sy volk met vrees vervul?
4 Vroeër in die oorlog is “’n berig . . . aan die huis van Dawid gestuur met die woorde: ‘Sirië het op Efraim gesteun.’ En sy hart en die hart van sy volk het begin bewe, soos die bome van die woud bewe weens die wind” (Jesaja 7:2). Ja, die nuus dat die Siriërs en die Israeliete saamwerk en dat hulle leërs op daardie oomblik op Efraim (Israel) se grond kamp opgeslaan het, is vir Agas en sy volk skrikwekkend. Hulle is maar twee of drie dae se trek van Jerusalem af!
5. Hoe kom God se volk vandag met Jesaja ooreen?
5 Jehovah sê vir Jesaja: “Gaan asseblief uit om Agas te ontmoet, jy en jou seun Sear-Jasub, na die einde van die leikanaal van die boonste dam langs die grootpad van die wassersveld” (Jesaja 7:3). Dink net daaraan! Op ’n tyd wanneer die koning na Jehovah se profeet behoort te soek om raad te vra, moet die profeet na die koning gaan soek! Jesaja is nietemin gewillig om Jehovah te gehoorsaam. Net so is God se volk vandag gewillig om uit te gaan en mense te gaan soek wat bevrees is weens die druk van hierdie wêreld (Matteus 24:6, 14). Hoe bly is ons tog dat daar elke jaar honderdduisende is wat gunstig reageer op die besoeke van hierdie verkondigers van die goeie nuus en Jehovah se beskermende hand neem!
6. (a) Watter aanmoedigende boodskap dra die profeet aan koning Agas oor? (b) Watter situasie bestaan vandag?
6 Jesaja vind Agas buite die mure van Jerusalem, waar die koning, ter voorbereiding vir die verwagte beleg, die stad se watertoevoer ondersoek. Jesaja dra Jehovah se boodskap aan hom oor: “Let op jouself en bly rustig. Moenie bang wees nie, en moenie jou hart vreesagtig laat wees weens die twee punte van hierdie rokende stompe, weens die brandende toorn van Resin en Sirië en die seun van Remalia nie” (Jesaja 7:4). Toe die aanvallers Juda vroeër geplunder het, het hulle woede soos vlamme gebrand. Nou is hulle bloot ‘twee punte van rokende stompe’. Agas hoef nie vir die Siriese koning Resin of die Israelitiese koning Peka, die seun van Remalia, bang te wees nie. Dit is vandag ook so. Die leiers van die Christendom onderwerp ware Christene al eeue lank aan kwaai vervolging. Maar nou is die Christendom soos ’n stomp wat amper uitgebrand het. Sy dae is getel.
7. Waarom gee Jesaja se naam sowel as dié van sy seun rede vir hoop?
7 In Agas se dag is dit nie net Jesaja se boodskap nie, maar ook die betekenis van Jesaja se naam sowel as dié van sy seun wat hoop gee aan dié wat op Jehovah vertrou. Juda is wel in gevaar, maar die naam Jesaja, wat “Redding van Jehovah” beteken, is ’n teken dat Jehovah redding sal verskaf. Jehovah sê vir Jesaja dat hy sy seun Sear-Jasub, wie se naam “Net ’n oorblyfsel sal terugkeer” beteken, saam met hom moet neem. Selfs wanneer die koninkryk van Juda uiteindelik tot ’n val kom, sal God weens sy barmhartigheid ’n oorblyfsel na die land terugbring.
Nie bloot ’n oorlog tussen nasies nie
8. Waarom is die aanval op Jerusalem nie bloot ’n oorlog tussen nasies nie?
8 Deur middel van Jesaja openbaar Jehovah die taktiek van Juda se vyande. Hier is hulle plan: “Laat ons teen Juda optrek en dit uitmekaar skeur en deurbreek om dit vir ons te neem; en kom ons laat ’n ander koning daarin regeer, die seun van Tabeël” (Jesaja 7:5, 6). Die Siro-Israelitiese bondgenootskap smee ’n komplot om Juda te verower en Agas, ’n seun van Dawid, met iemand van hulle keuse te vervang. Dit is duidelik dat die aanval op Jerusalem nou nie bloot ’n oorlog tussen nasies is nie. Dit het ’n stryd tussen Satan en Jehovah geword. Waarom? Omdat Jehovah God ’n verbond met koning Dawid gesluit het en hom daardeur verseker het dat sy seuns oor Jehovah se volk sal regeer (2 Samuel 7:11, 16). Wat ’n oorwinning vir Satan as hy ’n ander vorstehuis in Jerusalem kan laat regeer! Dalk sou hy selfs Jehovah se voorneme verydel dat daar ’n permanente erfgenaam, ’n “Vredevors”, uit Dawid se geslagslyn sou kom.—Jesaja 9:6, 7.
Jehovah se liefdevolle versekeringe
9. Watter versekering behoort Agas en Christene van vandag moed te gee?
9 Sal Sirië en Israel se plan suksesvol wees? Nee. Jehovah sê: “Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie” (Jesaja 7:7). Jehovah sê deur middel van Jesaja dat die beleg van Jerusalem nie net sal misluk nie, maar “binne slegs vyf-en-sestig jaar sal Efraim verpletter word, sodat dit geen volk meer is nie” (Jesaja 7:8). Ja, binne 65 jaar sal Israel as ’n volk nie meer bestaan nie.a Hierdie versekering, met sy spesifieke tydsbepaling, moes Agas moed gegee het. God se volk word vandag eweneens versterk omdat hulle weet dat die dae van Satan se wêreld getel is.
10. (a) Hoe kan ware Christene Jehovah vandag navolg? (b) Wat mag Agas van Jehovah vra?
10 Moontlik kan ’n mens op Agas se gesig sien dat hy dit nie glo nie, want Jehovah sê deur middel van Jesaja vir hom: “As julle nie geloof het nie, sal julle nie lank bly bestaan nie.” Jehovah het geduldig “nog verder met Agas gepraat” (Jesaja 7:9, 10). Wat ’n uitstekende voorbeeld is dit tog! Hoewel baie mense vandag nie geredelik op die Koninkryksboodskap reageer nie, is dit goed as ons Jehovah navolg deur ‘verder te praat’ wanneer ons herhaaldelik na hulle toe teruggaan. Jehovah sê vervolgens vir Agas: “Vra vir jou ’n teken van Jehovah jou God, en maak dit so diep soos Sjeool of maak dit so hoog soos die streke daar bo” (Jesaja 7:11). Agas mag ’n teken vra, en Jehovah sal dit gee as ’n waarborg dat hy die huis van Dawid sal beskerm.
11. Watter versekering is opgesluit in Jehovah se woorde “jou God”?
11 Let op dat Jehovah sê: ‘Vra ’n teken van jou God.’ Jehovah is waarlik goedhartig. Agas aanbid blykbaar reeds valse gode en beoefen gruwelike heidense gebruike (2 Konings 16:3, 4). Ten spyte daarvan en ten spyte van Agas se vreesagtige gesindheid, noem Jehovah homself nog altyd die God van Agas. Dit verseker ons dat Jehovah mense nie sommer net verwerp nie. Hy is bereid om oortreders of persone wie se geloof swak geword het te help. Sal Agas Jehovah se hand neem noudat God hom van sy liefde verseker het?
Van twyfel tot ongehoorsaamheid
12. (a) Watter hoogmoedige gesindheid lê Agas aan die dag? (b) By wie soek Agas hulp, in plaas van hom tot Jehovah te wend?
12 Agas antwoord tartend: “Ek sal nie vra nie, en ook sal ek Jehovah nie op die proef stel nie” (Jesaja 7:12). Agas sê nie so omdat hy gehoorsaam is aan die wet wat sê: “Julle mag Jehovah julle God nie op die proef stel . . . nie” (Deuteronomium 6:16). Eeue later haal Jesus hierdie selfde wet aan wanneer Satan hom versoek (Matteus 4:7). In Agas se geval nooi Jehovah hom egter om na ware aanbidding terug te keer en bied hy aan om sy geloof te versterk deur hom ’n teken te gee. Maar Agas verkies om op ’n ander plek beskerming te soek. Dit is moontlik op hierdie stadium dat die koning ’n groot som geld na Assirië stuur om hulp te soek teen sy vyande in die noorde (2 Konings 16:7, 8). Intussen word Jerusalem deur die Siro-Israelitiese leër omsingel, en die beleg begin.
13. Watter verandering sien ons in vers 13, en wat beteken dit?
13 Met die koning se gebrek aan geloof in gedagte sê Jesaja: “Luister asseblief, o huis van Dawid. Is dit vir julle so ’n kleinigheid om mense te vermoei, dat julle ook my God moet vermoei?” (Jesaja 7:13). Ja, Jehovah kan daarvoor moeg word om voortdurend getart te word. Let ook op dat die profeet nou sê “my God” en nie “jou God” nie. Dit is ’n onheilspellende verandering! Wanneer Agas Jehovah verwerp en hom tot Assirië wend, verbeur hy ’n wonderlike geleentheid om sy verhouding met God te herstel. Mag ons nooit ons verhouding met God prysgee omdat ons ter wille van tydelike voordele ontrou is aan ons skriftuurlike oortuigings nie.
Die teken van Immanuel
14. Hoe toon Jehovah sy getrouheid aan sy verbond met Dawid?
14 Jehovah bly getrou aan sy verbond met Dawid. ’n Teken is aangebied en ’n teken sal gegee word! Jesaja gaan voort: “Jehovah self [sal] vir julle ’n teken gee: Kyk! Die jong vrou sal swanger word, en sy gee geboorte aan ’n seun, en sy sal hom beslis Immanuel noem. Botter en heuning sal hy eet teen die tyd dat hy weet om die slegte te verwerp en die goeie te kies. Want voordat die seun sal weet om die slegte te verwerp en die goeie te kies, sal die land van die twee konings vir wie jy ’n ysingwekkende vrees het, heeltemal verlate wees.”—Jesaja 7:14-16.
15. Watter twee vrae word deur die profesie oor Immanuel beantwoord?
15 Hier is goeie nuus vir enigiemand wat vrees dat die invallers ’n einde aan die Dawidiese koningslyn sal bring. “Immanuel” beteken “Met ons is God”. God is met Juda en sal nie toelaat dat sy verbond met Dawid ongeldig gemaak word nie. Daarbenewens word Agas en sy volk nie net gesê wat Jehovah sal doen nie, maar ook wanneer hy dit sal doen. Voor die seun Immanuel oud genoeg is om tussen goed en sleg te onderskei, sal die vyandelike nasies vernietig word. En dit gebeur so!
16. Waarom het Jehovah moontlik gesorg dat die identiteit van Immanuel in Agas se dag onseker bly?
16 Die Bybel sê nie wie se kind Immanuel is nie. Maar aangesien die jong Immanuel ’n teken sou wees en Jesaja later sê dat hy en sy kinders ‘tekens is’, is Immanuel moontlik ’n seun van die profeet (Jesaja 8:18). Moontlik sorg Jehovah dat die identiteit van Immanuel in Agas se dag onseker bly sodat die aandag van latere geslagte nie van die Grotere Immanuel afgetrek word nie. Wie is dit?
17. (a) Wie is die Grotere Immanuel, en wat het sy geboorte beteken? (b) Waarom kan God se volk vandag uitroep: “Met ons is God”?
17 Buite die boek Jesaja kom die naam Immanuel net een keer in die Bybel voor, in Matteus 1:23. Jehovah het Matteus geïnspireer om die profesie van Immanuel se geboorte op die geboorte van Jesus, die regmatige Erfgenaam van die troon van Dawid, toe te pas (Matteus 1:18-23). Die geboorte van die eerste Immanuel was ’n teken dat God nie die huis van Dawid vergeet het nie. Die geboorte van Jesus, die Grotere Immanuel, was eweneens ’n teken dat God nie die mensdom of sy Koninkryksverbond met Dawid se huis vergeet het nie (Lukas 1:31-33). Aangesien Jehovah se vernaamste verteenwoordiger toe onder die mense was, kon Matteus tereg sê: “Met ons is God.” Vandag heers Jesus as die hemelse Koning, en hy is met sy gemeente op aarde (Matteus 28:20). God se volk het beslis goeie rede om met vrymoedigheid uit te roep: “Met ons is God!”
Verdere gevolge van ontrouheid
18. (a) Waarom maak Jesaja se volgende woorde sy toehoorders bang? (b) Watter wending sal sake kort voor lank neem?
18 Al was sy laaste woorde vertroostend, maak Jesaja se volgende woorde sy toehoorders bang: “Jehovah sal teen jou en teen jou volk en teen die huis van jou vader dae bring soos daar nie gekom het sedert die dag dat Efraim van Juda se sy gewyk het nie, naamlik die koning van Assirië” (Jesaja 7:17). Ja, ’n ramp kom nader, en die koning van Assirië sal dit oor hulle bring. Die vooruitsig dat die wrede Assiriërs hulle gaan oorheers, veroorsaak waarskynlik baie slapelose nagte vir Agas en sy volk. Agas het geredeneer dat hy van Israel en Sirië ontslae sal wees as hy vriendskaplike verhoudinge met Assirië aanknoop. Trouens, Assirië se koning sal op Agas se versoek ag slaan en Israel en Sirië uiteindelik aanval (2 Konings 16:9). Dit is heel waarskynlik waarom Peka en Resin die beleg van Jerusalem noodgedwonge moet laat vaar. Die Siro-Israelitiese bondgenootskap sou Jerusalem dus nie kon inneem nie (Jesaja 7:1). Maar nou sê Jesaja vir sy geskokte gehoor dat Assirië, wat hulle gehoop het hulle sou beskerm, hulle sal verdruk!—Vergelyk Spreuke 29:25.
19. Watter waarskuwing bevat hierdie geskiedkundige drama vir hedendaagse Christene?
19 Hierdie feitelike geskiedkundige verslag bevat ’n waarskuwing vir hedendaagse Christene. Wanneer ons onder druk is, kom ons dalk in die versoeking om Christelike beginsels prys te gee en verwerp ons sodoende Jehovah se beskerming. Dit is kortsigtig, selfs selfvernietigend, soos Jesaja se volgende woorde toon. Die profeet beskryf verder wat die Assiriese inval aan die land en sy mense sal doen.
20. Wie is “die vlieë” en “die bye”, en wat sal hulle doen?
20 Jesaja deel sy verklarings in vier dele, waarvan elkeen voorspel wat “in dié dag”—dit wil sê die dag wanneer Assirië vir Juda aanval—sal gebeur. “In dié dag sal Jehovah fluit vir die vlieë wat aan die einde van die Nylkanale van Egipte is en vir die bye wat in die land Assirië is, en hulle almal sal beslis kom en gaan sit in die steil stroomvalleie en in die skeure van die kranse en op al die doringbosse en op al die drinkplekke” (Jesaja 7:18, 19). Die aandag van die leërs van Egipte en Assirië, wat soos swerms vlieë en bye is, sal op die Beloofde Land gevestig word. Dit sal nie ’n kortstondige inval wees nie. “Die vlieë” en “die bye” sal in elke hoekie en gaatjie van die land gaan sit.
21. Hoe sal die Assiriese koning soos ’n skeermes wees?
21 Jesaja gaan voort: “In dié dag sal Jehovah deur middel van ’n gehuurde skeermes in die streek van die Rivier, ja, deur middel van die koning van Assirië, die kop en die hare van die voete afskeer, en dit sal selfs die baard wegvee” (Jesaja 7:20). Nou word daar net verwys na Assirië, die vernaamste bedreiging. Agas huur die Assiriese koning om Sirië en Israel te ‘skeer’. Maar hierdie “gehuurde skeermes” uit die Eufraatgebied sal teen Juda se “kop” opkom en dit skoon skeer en sal selfs die baard verwyder!
22. Watter voorbeelde gebruik Jesaja om te toon wat die gevolge van Assirië se naderende inval sal wees?
22 Wat sal die gevolg wees? “In dié dag sal ’n man ’n jong koei uit die kudde en twee skape in die lewe hou. En weens die oorvloed van melk wat gelewer word, sal hy botter eet; want botter en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het” (Jesaja 7:21, 22). Teen die tyd dat die Assiriërs die land ‘geskeer’ het, sal so min mense daarin oorbly dat net ’n klein aantal diere nodig sal wees om voedsel te voorsien. Die mense sal “botter en heuning” eet—niks anders nie, geen wyn, geen brood, geen ander stapelvoedsel nie. Asof Jesaja die omvang van die vernietiging wil beklemtoon, sê hy drie maal dat daar nou doringbosse en onkruid sal wees waar daar vroeër kosbare, vrugbare land was. Dié wat in die veld ingaan, sal “pyle en die boog” nodig hê om hulle te beskerm teen die wilde diere wat in die ruigtes skuil. Landerye wat skoon geskoffel is, sal plekke word wat deur osse en skape vertrap word (Jesaja 7:23-25). Die vervulling van hierdie profesie begin in Agas se dag.—2 Kronieke 28:20.
Spesifieke voorspellings
23. (a) Wat word Jesaja nou beveel om te doen? (b) Hoe word die teken van die tafel bevestig?
23 Jesaja keer nou terug na die huidige situasie. Terwyl Jerusalem nog deur die gekombineerde magte van Sirië en Israel beleër word, sê Jesaja: “Jehovah het verder vir my gesê: ‘Neem vir jou ’n groot tafel en skryf daarop met die stif van ’n sterflike mens: “Maher-Salal-Has-Bas.” En laat ek vir my getuienis verkry deur getroue getuies: die priester Uria en Sagaria, die seun van Jeberegja’” (Jesaja 8:1, 2). Die naam Maher-Salal-Has-Bas beteken “Maak gou, o buit! Hy het gou kom plunder”. Jesaja vra twee gerespekteerde manne in die gemeenskap om getuies te wees dat hy hierdie naam op ’n groot tafel skryf, sodat hulle later die egtheid van daardie dokument kan bevestig. Hierdie teken sal egter deur ’n tweede teken bevestig word.
24. Watter uitwerking behoort die teken van Maher-Salal-Has-Bas op die volk van Juda te hê?
24 Jesaja sê: “Toe het ek by die profetes gekom, en sy het swanger geword en na verloop van tyd geboorte gegee aan ’n seun. Jehovah het toe vir my gesê: ‘Gee hom die naam Maher-Salal-Has-Bas, want voordat die seun sal weet om te roep: “My vader!” en “My moeder!” sal die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië weggedra word’” (Jesaja 8:3, 4). Die groot tafel sowel as die pasgebore seuntjie sal tekens wees dat Assirië kort daarna Juda se verdrukkers, Sirië en Israel, gaan plunder. Hoe gou? Voor die seuntjie die eerste woorde kan sê wat die meeste babas leer—“Vader” en “Moeder”. So ’n spesifieke voorspelling behoort die volk se vertroue in Jehovah te versterk. Of dit het dalk daartoe gelei dat party Jesaja en sy seuns bespot. Hoe dit ook al sy, Jesaja se profetiese woorde word bewaarheid.—2 Konings 17:1-6.
25. Watter ooreenkomste is daar tussen Jesaja se dag en hedendaagse tye?
25 Christene kan uit Jesaja se herhaalde waarskuwings leer. Die apostel Paulus het getoon dat Jesaja in hierdie geskiedkundige drama Jesus Christus afgebeeld het en dat Jesaja se seuns Jesus se gesalfde dissipels voorafgeskadu het (Hebreërs 2:10-13). Deur middel van sy gesalfde volgelinge op aarde herinner Jesus ware Christene aan die belangrikheid om in hierdie kritieke tye ‘wakker te bly’ (Lukas 21:34-36). Terselfdertyd word onberouvolle teenstanders gewaarsku dat hulle vernietiging nader kom, hoewel sulke waarskuwings dikwels spot uitlok (2 Petrus 3:3, 4). Die vervulling van tydverwante profesieë in Jesaja se dag is ’n waarborg dat God se tydrooster vir ons dag ook “vir seker [sal] uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—Habakuk 2:3.
Vernietigende “waters”
26, 27. (a) Watter gebeure voorspel Jesaja? (b) Waarop dui Jesaja se woorde vir Jehovah se hedendaagse knegte?
26 Jesaja sit sy waarskuwings voort: “Omdat hierdie volk die waters van die Siloa verwerp het, wat saggies vloei, en daar vreugde oor Resin en die seun van Remalia is, kyk! daarom laat Jehovah die magtige en die baie waters van die Rivier teen hulle opkom, die koning van Assirië en al sy heerlikheid. En hy sal beslis bo al sy stroombeddings styg en oor al sy oewers gaan en dwarsdeur Juda beweeg. Hy sal oorstroom en oorloop. Tot aan die nek sal hy reik. En die uitspreiding van sy vlerke sal die breedte van jou land vul, o Immanuel!”—Jesaja 8:5-8.
27 “Hierdie volk”, die noordelike koninkryk van Israel, verwerp Jehovah se verbond met Dawid (2 Konings 17:16-18). Vir hulle lyk dit so swak soos die sypelende waters van Siloa, Jerusalem se waterbron. Hulle verheug hulle oor hulle oorlog teen Juda. Maar hierdie minagting sal nie ongestraf bly nie. Jehovah sal die Assiriërs toelaat om Sirië en Israel te “oorstroom”, of te verwoes, net soos Jehovah binnekort die huidige politieke deel van die wêreld sal toelaat om die ryk van valse godsdiens te oorstroom. (Openbaring 17:16; vergelyk Daniël 9:26.) Daarna, sê Jesaja, sal die swellende “waters” “dwarsdeur Juda beweeg” en “tot aan die nek” reik, tot by Jerusalem, waar Juda se hoof (koning) heers.b In ons tyd sal die politieke skerpregters van valse godsdiens op dieselfde manier al hoe nader kom aan Jehovah se knegte, en hulle “tot aan die nek” omsingel (Esegiël 38:2, 10-16). Wat sal die resultaat wees? Wel, wat gebeur in Jesaja se tyd? Storm die Assiriërs oor die stadsmure en vee hulle God se volk weg? Nee. God is met hulle.
Moenie vrees nie—“God is met ons!”
28. Waarvan verseker Jehovah Juda ondanks die verbete pogings van sy vyande?
28 Jesaja waarsku: “Rig skade aan, o volke [wat gekant is teen God se verbondsvolk], en word verpletter; en luister, almal wat in verafgeleë dele van die aarde is! Omgord julle en word verpletter! Omgord julle en word verpletter! Beraam ’n plan en dit sal verbreek word! Spreek ’n woord en dit sal nie tot stand kom nie, want God is met ons!” (Jesaja 8:9, 10). ’n Paar jaar later, gedurende die heerskappy van Agas se getroue seun Hiskia, word hierdie woorde bewaarheid. Wanneer die Assiriërs Jerusalem bedreig, maak Jehovah se engel 185 000 van hulle dood. God is beslis met sy volk en die koninklike lyn van Dawid (Jesaja 37:33-37). Gedurende die naderende slag van Armageddon sal Jehovah ook die Grotere Immanuel stuur om nie net Sy vyande stukkend te slaan nie, maar ook om almal wat op Hom vertrou te red.—Psalm 2:2, 9, 12.
29. (a) Hoe verskil Jode in Agas se dag van dié in die tyd van Hiskia? (b) Waarom gaan Jehovah se knegte vandag nie godsdienstige of politieke bondgenootskappe aan nie?
29 Anders as die Jode in Hiskia se tyd het Agas se tydgenote ’n gebrek aan geloof in Jehovah se beskerming. Hulle is ten gunste van ’n verbond, of “sameswering”, met die Assiriërs as ’n beskerming teen die Siro-Israelitiese bondgenootskap. Maar Jehovah se “hand” spoor Jesaja aan om hom teen “die weg van hierdie volk”, of die algemene neiging, uit te spreek. Hy waarsku: “Die voorwerp van hulle vrees moet julle nie vrees of daarvoor bewe nie. Jehovah van die leërs—hom moet julle as heilig beskou, en hy moet die voorwerp van julle vrees wees, en hy moet julle laat bewe” (Jesaja 8:11-13). Met dit in gedagte is Jehovah se knegte vandag versigtig om nie met godsdienstige konsilies en politieke bondgenootskappe saam te sweer of hulle vertroue daarin te stel nie. Knegte van Jehovah het die volste vertroue in God se beskermende krag. As Jehovah immers ‘aan ons kant is, wat kan die mens aan ons doen’?—Psalm 118:6.
30. Wat sal die lot wees van diegene wat nie op Jehovah vertrou nie?
30 Jesaja herhaal vervolgens dat Jehovah “’n heilige plek”, ’n beskerming, sal wees vir dié wat op hom vertrou. In teenstelling daarmee sal dié wat hom verwerp “beslis struikel en val en verbreek word en sal verstrik en gevang word”—vyf duidelike werkwoorde wat hoegenaamd geen twyfel laat oor die lot van diegene wat nie op Jehovah vertrou nie (Jesaja 8:14, 15). In die eerste eeu het diegene wat Jesus verwerp het eweneens gestruikel en geval (Lukas 20:17, 18). Dit is ook wat met dié gaan gebeur wat nie vandag aan die gekroonde hemelse Koning, Jesus, getrou is nie.—Psalm 2:5-9.
31. Hoe kan ware Christene vandag die voorbeeld volg van Jesaja en van dié wat op sy lering ag slaan?
31 In Jesaja se dag is dit nie almal wat struikel nie. Jesaja sê: “Draai die getuienis toe, plaas ’n seël om die wet onder my dissipels! En ek sal in afwagting bly van Jehovah, wat sy aangesig vir die huis van Jakob verberg, en ek sal op hom hoop” (Jesaja 8:16, 17). Jesaja en dié wat op sy lering ag slaan, sal nie God se Wet verlaat nie. Hulle vertrou steeds op Jehovah, al weier hulle ongehoorsame landgenote om dit te doen, met die gevolg dat Jehovah sy aangesig van hulle verberg het. Mag ons die voorbeeld volg van dié wat op Jehovah vertrou en dieselfde vasbeslotenheid hê om aan ware aanbidding vas te klou!—Daniël 12:4, 9; Matteus 24:45; vergelyk Hebreërs 6:11, 12.
“Tekens” en “wonderwerke”
32. (a) Wie is vandag “tekens en wonderwerke”? (b) Waarom moet dit duidelik wees dat Christene anders is as die wêreld?
32 Jesaja verklaar nou: “Kyk! Ek en die kinders wat Jehovah my gegee het, is tekens en wonderwerke in Israel vanweë Jehovah van die leërs, wat op die berg Sion woon” (Jesaja 8:18). Ja, Jesaja, Sear-Jasub en Maher-Salal-Has-Bas is tekens van Jehovah se voornemens vir Juda. Vandag is Jesus en sy gesalfde broers ook tekens (Hebreërs 2:11-13). En ’n “groot skare” “ander skape” help hulle met hulle werk (Openbaring 7:9, 14; Johannes 10:16). ’n Teken is natuurlik net nuttig as dit duidelik van ander dinge onderskei kan word. Net so voer Christene alleenlik hulle opdrag as tekens uit as dit duidelik is dat hulle anders as hierdie wêreld is en as hulle hulle volle vertroue in Jehovah stel en sy voornemens met vrymoedigheid verkondig.
33. (a) Wat is ware Christene vasbeslote om te doen? (b) Waarom sal ware Christene standvastig kan bly?
33 Laat almal dan by God se standaarde bly, nie by dié van hierdie wêreld nie. Hou aan om vreesloos anders te wees—as tekens—en om die opdrag uit te voer wat die Grotere Jesaja, Jesus Christus, ontvang het: ‘Roep die jaar van welwillendheid en die dag van wraak van ons God uit’ (Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:17-21). Trouens, wanneer die Assiriese oorstroming oor die aarde spoel—al reik dit tot aan ons nek—sal ware Christene nie weggevee word nie. Ons sal standvastig bly, want “God is met ons”.
[Voetnote]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsye 62 en 758, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere besonderhede oor die vervulling van hierdie profesie.
b Assirië word ook met ’n voël vergelyk wie se uitgespreide vlerke “die breedte van jou land vul”. Die hele land sal dus deur die Assiriese leër bedek word.
[Prent op bladsy 103]
Jesaja het Sear-Jasub saamgeneem toe hy Jehovah se boodskap aan Agas oorgedra het
[Prent op bladsy 111]
Waarom het Jesaja “Maher-Salal-Has-Bas” op ’n groot tafel geskryf?