Hoofstuk elf
Wee die opstandiges!
1. Watter vreeslike fout het Jerobeam begaan?
TOE Jehovah se verbondsvolk in twee koninkryke verdeel is, het die noordelike tienstammeryk onder die heerskappy van Jerobeam gekom. Die nuwe koning was ’n bekwame, energieke heerser. Maar hy het nie ware geloof in Jehovah gehad nie. As gevolg hiervan het hy ’n vreeslike fout begaan wat ’n uiters nadelige uitwerking op die hele geskiedenis van die noordelike koninkryk gehad het. Onder die Mosaïese Wet is die Israeliete beveel om drie keer per jaar op te gaan na die tempel in Jerusalem, wat destyds in die suidelike koninkryk van Juda was (Deuteronomium 16:16). Jerobeam was bang dat sulke gereelde reise sy onderdane daaraan sou laat dink om weer met hulle suidelike broers te verenig, en daarom het hy “twee goue kalwers gemaak en vir die volk gesê: ‘Dit is vir julle te veel om na Jerusalem op te gaan. Hier is jou God, o Israel, wat julle uit Egipteland laat optrek het.’ Toe het hy die een in Bet-El geplaas, en die ander het hy in Dan gesit.”—1 Konings 12:28, 29.
2, 3. Watter uitwerking het Jerobeam se fout op Israel gehad?
2 Jerobeam se plan het ’n ruk lank gewerk. Die volk het geleidelik opgehou om na Jerusalem te gaan en het daar by die twee kalwers begin aanbid (1 Konings 12:30). Maar hierdie afvallige godsdiensgebruik het die tienstammeryk verontreinig. In latere jare het selfs Jehu, wat prysenswaardige ywer aan die dag gelê het om Baälaanbidding uit Israel uit te roei, nog steeds voor die goue kalwers neergebuig (2 Konings 10:28, 29). Watter ander gevolge het Jerobeam se tragiese besluit gehad? Politieke onstabiliteit en lyding vir die volk.
3 Omdat Jerobeam afvallig geword het, het Jehovah gesê dat sy saad nie oor die land sou regeer nie en dat ’n vreeslike ramp die noordelike koninkryk op die ou end sou tref (1 Konings 14:14, 15). Jehovah se woord is bewaarheid. Sewe van Israel se konings het twee jaar of minder regeer—party net ’n paar dae lank. Een koning het selfmoord gepleeg, en ses is vermoor deur ambisieuse manne wat die troon oorgeneem het. Veral ná die heerskappy van Jerobeam II, wat omstreeks 804 v.G.J. geëindig het, terwyl Ussia in Juda regeer het, is Israel deur onrus, geweld en politieke moorde geteister. Dit is teen hierdie agtergrond dat Jehovah ’n direkte waarskuwing, of “woord”, deur middel van Jesaja aan die noordelike koninkryk stuur. “Jehovah het ’n woord teen Jakob gestuur, en dit het op Israel geval.”—Jesaja 9:8.a
Hoogmoed en vermetelheid bring God se toorn mee
4. Watter “woord” stuur Jehovah teen Israel, en waarom?
4 Jehovah se “woord” kan nie geïgnoreer word nie. “Die volk sal dit beslis weet, ja, hulle almal, Efraim en die inwoner van Samaria, weens hulle hoogmoed en weens die vermetelheid van hulle hart” (Jesaja 9:9). “Jakob”, “Israel”, “Efraim” en “Samaria” verwys almal na die noordelike koninkryk van Israel, waarvan Efraim die vernaamste stam en Samaria die hoofstad is. Jehovah se woord teen daardie koninkryk is ’n streng veroordeling, want Efraim het verstok geraak in afvalligheid en is skaamteloos in sy vermetelheid teenoor Jehovah. God sal nie die volk teen die gevolge van hulle goddelose weë beskerm nie. Hulle sal gedwing word om God se woord te hoor, of daarop ag te slaan.—Galasiërs 6:7.
5. Hoe toon die Israeliete dat die voltrekking van Jehovah se oordele geen uitwerking op hulle het nie?
5 Namate toestande versleg, ly die volk swaar verliese; hulle verloor onder meer hulle huise—wat gewoonlik van kleistene en goedkoop hout gemaak is. Word hulle harte as gevolg daarvan versag? Sal hulle na Jehovah se profete luister en na die ware God terugkeer?b Jesaja teken die volk se vermetele antwoord op: “Bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou. Wildevyebome is afgekap, maar met seders sal ons dit vervang” (Jesaja 9:10). Die Israeliete tart Jehovah en verag sy profete, wat vir hulle sê waarom hulle sulke ontberinge ly. Die volk sê in werklikheid: ‘Ons verloor dalk huise wat van verganklike kleistene en goedkoop hout gemaak is, maar ons sal meer as vergoed vir hierdie verliese deur hulle met beter materiaal te herbou—gekapte klip en sederhout!’ (Vergelyk Job 4:19.) Hulle laat Jehovah geen ander keuse as om hulle verder te dissiplineer nie.—Vergelyk Jesaja 48:22.
6. Hoe ondermyn Jehovah die Siro-Israelitiese sameswering teen Juda?
6 Jesaja gaan voort: “Jehovah sal Resin se teenstanders teen hom verhef” (Jesaja 9:11a). Koning Peka van Israel en koning Resin van Sirië is bondgenote. Hulle smee ’n komplot om die tweestammeryk van Juda te verower en ’n skynkoning—’n sekere “seun van Tabeël”—op Jehovah se troon in Jerusalem te laat sit (Jesaja 7:6). Maar die sameswering is gedoem. Resin het magtige vyande, en Jehovah sal hierdie vyande teen “hom”, Israel, “verhef”. Die term “verhef” beteken dat hy hulle sal toelaat om met welslae oorlog te voer waardeur die bondgenootskap en sy doelstellings vernietig sal word.
7, 8. Watter uitwerking het Assirië se verowering van Sirië op Israel?
7 Die ontbinding van hierdie bondgenootskap begin wanneer Assirië vir Sirië aanval. “Die koning van Assirië het na Damaskus [die hoofstad van Sirië] opgetrek en dit ingeneem en die bevolking daarvan in ballingskap weggevoer na Kir, en Resin het hy doodgemaak” (2 Konings 16:9). Noudat Peka sy magtige bondgenoot verloor het, vind hy dat sy planne teen Juda in die wiele gery is. Trouens, kort ná Resin se dood word Peka deur Hosea vermoor, wat daarna die troon van Samaria inpalm.—2 Konings 15:23-25, 30.
8 Sirië, Israel se vroeëre bondgenoot, is nou onderhorig aan Assirië, die oorheersende moondheid in die streek. Jesaja voorspel hoe Jehovah hierdie nuwe politieke groepering gaan gebruik: “Sy [Israel se] vyande sal hy [Jehovah] aanhits: Sirië uit die ooste en die Filistyne van agter, en hulle sal Israel met ’n oop mond opeet. Met die oog op dit alles het sy toorn nie gewyk nie, maar bly sy hand uitgesteek” (Jesaja 9:11b, 12). Ja, Sirië is nou Israel se vyand, en Israel moet hom voorberei op ’n aanval deur Assirië en Sirië. Die inval is suksesvol. Assirië onderwerp die troonrower Hosea en hef ’n swaar belasting. (’n Paar dekades vroeër het Assirië ’n groot som geld van koning Menahem van Israel ontvang.) Hoe waar is die profeet Hosea se woorde tog: “Vreemdelinge het sy [Efraim se] krag verteer”!—Hosea 7:9; 2 Konings 15:19, 20; 17:1-3.
9. Waarom kan ons sê dat die Filistyne “van agter” aanval?
9 Sê Jesaja nie ook dat die Filistyne Israel “van agter” sal binneval nie? Ja. Voor die dae van magnetiese kompasse het die Hebreërs rigting aangedui uit die oogpunt van iemand wat in die rigting van die opkomende son kyk. “Die ooste” sou dus voor hom wees, terwyl die weste, die kusland waar die Filistyne gewoon het, “agter” was. Die “Israel” wat in Jesaja 9:12 genoem word, sluit in hierdie geval moontlik Juda in, aangesien die Filistyne Juda gedurende die heerskappy van Peka se tydgenoot, Agas, ingeval het en’n hele aantal Judese stede en vestings verower en beset het. Soos Efraim in die noorde verdien Juda ook hierdie dissipline van Jehovah, want hulle is ook deurtrek van afvalligheid.—2 Kronieke 28:1-4, 18, 19.
Van ‘kop tot stert’—’n nasie van opstandiges
10, 11. Hoe sal Jehovah Israel straf weens hulle volgehoue opstandigheid?
10 Ten spyte van al sy lyding—en ondanks die sterk verklarings deur Jehovah se profete—hou die noordelike koninkryk vol met sy opstandigheid teen Jehovah. “Die volk het nie teruggekeer tot die Een wat hulle slaan nie, en hulle het Jehovah van die leërs nie gesoek nie” (Jesaja 9:13). Gevolglik sê die profeet: “Jehovah sal van Israel kop en stert, loot en biesie, op een dag afsny. Die bejaarde en hooggeagte is die kop, en die profeet wat valse onderrig gee, is die stert. En dié wat hierdie volk lei, is dié wat hulle laat dwaal; en dié van hulle wat gelei word, is dié wat verward raak.”—Jesaja 9:14-16.
11 Die “kop” en die “loot” verteenwoordig “die bejaarde en hooggeagte”—die leiers van die nasie. Die “stert” en die “biesie” verwys na valse profete wat woorde uiter wat hulle leiers behaag. ’n Bybelgeleerde skryf: “Die valse profete word die stert genoem omdat hulle sedelik gesproke die laagste van die hele volk was, en omdat hulle die goddelose heersers slaafs aangehang en ondersteun het.” Professor Edward J. Young sê van hierdie valse profete: “Hulle was nie leiers nie, maar hulle het die leiers gevolg en hulle bloot gevlei en by hulle geflikflooi, soos die swaaiende stert van ’n hond.”—Vergelyk 2 Timoteus 4:3.
Selfs ‘weduwees en vaderlose seuns’ is opstandig
12. Hoe diep in die Israelitiese gemeenskap het die verderf gedring?
12 Jehovah is die Ondersteuner van weduwees en vaderlose seuns (Eksodus 22:22, 23). Maar luister na Jesaja se volgende woorde: “Jehovah [sal] hom nie eens oor hulle jong manne verbly nie, en aan hulle vaderlose seuns en hulle weduwees sal hy geen barmhartigheid bewys nie; want hulle is almal afvalliges en kwaaddoeners en elke mond spreek onsinnigheid. Met die oog op dit alles het sy toorn nie gewyk nie, maar bly sy hand uitgesteek” (Jesaja 9:17). Afvalligheid het alle vlakke van die gemeenskap verderf, ook die weduwees en vaderlose seuns! Jehovah stuur geduldig sy profete in die hoop dat die volk hulle weë sal verander. Hosea pleit byvoorbeeld: “Keer tog terug, o Israel, tot Jehovah jou God, want jy het in jou dwaling gestruikel” (Hosea 14:1). Hoeveel smart moet dit tog vir die Ondersteuner van weduwees en vaderlose seuns veroorsaak dat hy sy oordeel selfs aan hulle moet voltrek!
13. Wat kan ons uit die situasie in Jesaja se dag leer?
13 Soos Jesaja lewe ons ook in kritieke tye voor Jehovah se dag van oordeel oor die goddelose (2 Timoteus 3:1-5). Hoe belangrik is dit dan dat ware Christene, ongeag hulle situasie in die lewe, geestelik, sedelik en verstandelik rein moet bly sodat hulle God se guns kan behou. Laat elkeen sy verhouding met Jehovah ywerig bewaar. Laat niemand wat uit “Babilon die Grote” uitgekom het, ooit weer ‘met haar in haar sondes deel nie’.—Openbaring 18:2, 4.
Valse aanbidding bring geweld voort
14, 15. (a) Wat is die gevolge van demoonaanbidding? (b) Watter voortdurende lyding voorspel Jesaja sal Israel ondergaan?
14 Valse aanbidding is in werklikheid die aanbidding van demone (1 Korintiërs 10:20). Soos voor die Vloed getoon is, lei die invloed van demone tot geweld (Genesis 6:11, 12). Dit is dus glad nie verbasend nie dat die land vol geweld en goddeloosheid word wanneer Israel afvallig word en die demone begin aanbid.—Deuteronomium 32:17; Psalm 106:35-38.
15 In duidelike beeldspraak beskryf Jesaja die verspreiding van goddeloosheid en geweld in Israel: “Die goddeloosheid het ontvlam soos ’n vuur; dit sal doringbosse en onkruid verteer. En dit sal in die struikgewasse van die woud vlam vat, en hulle sal omhoog gevoer word soos ’n rookwolk wat opstyg. In die grimmigheid van Jehovah van die leërs is die land aan die brand gesteek, en die volk sal soos voedsel vir die vuur word. Niemand sal selfs met sy broer medelye hê nie. En hulle sal aan die regterkant afsny en beslis honger wees; en hulle sal aan die linkerkant eet en beslis nie versadig word nie. Hulle sal elkeen die vlees van sy eie arm eet: Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse. Saam sal hulle teen Juda wees. Met die oog op dit alles het sy toorn nie gewyk nie, maar bly sy hand uitgesteek.”—Jesaja 9:18-21.
16. Hoe word die woorde van Jesaja 9:18-21 vervul?
16 Soos ’n vlam wat van doringbos tot doringbos versprei, raak geweld buite beheer en bereik dit baie gou “die struikgewasse van die woud”, wat ’n volskaalse bosbrand van geweld veroorsaak. Bybelkommentators Keil en Delitzsch beskryf die intensiteit van die geweld as “die onmenslikste selfvernietiging gedurende ’n anargistiese burgeroorlog. Aangesien hulle geen tere emosies het nie, het hulle mekaar verslind sonder om versadig te word.” Die stamme Efraim en Manasse word waarskynlik hier uitgesonder omdat hulle die vernaamste verteenwoordigers van die noordelike koninkryk is en omdat hulle, as afstammelinge van Josef se twee seuns, uit al tien die stamme die naaste verwant is aan mekaar. Maar ten spyte hiervan hou hulle eers op met die geweld teen hulle broers wanneer hulle teen Juda in die suide oorlog voer.—2 Kronieke 28:1-8.
Verdorwe regters word deur hulle regter tot verantwoording geroep
17, 18. Watter verdorwenheid heers in Israel se regstelsel en sy administratiewe stelsel?
17 Jehovah vestig hierna sy regterlike oog op Israel se verdorwe regters en ander beamptes. Hulle misbruik hulle mag deur die geringes en geteisterdes te beroof wat na hulle toe kom om geregtigheid te soek. Jesaja sê: “Wee dié wat skadelike voorskrifte verorden en dié wat, deur voortdurend te skryf, pure moeite neergeskryf het, om die geringes van ’n regsaak weg te stoot en om die geteisterdes van my volk van geregtigheid te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en sodat hulle selfs die vaderlose seuns kan plunder!”—Jesaja 10:1, 2.
18 Jehovah se Wet verbied alle soorte ongeregtigheid: “Julle mag geen onreg doen in die regspraak nie. Jy mag die geringe nie partydig behandel nie, en jy mag ’n vername man nie bevoorreg nie” (Levitikus 19:15). Hierdie beamptes verontagsaam daardie wet en stel hulle eie “skadelike voorskrifte” op sodat hulle ’n wettige voorkoms kan gee aan wat eintlik op die wreedste soort diefstal neerkom—om die skamele besittings van weduwees en vaderlose seuns weg te neem. Israel se valse gode is natuurlik blind vir hierdie ongeregtigheid, maar nie Jehovah nie. Deur Jesaja vestig Jehovah nou sy aandag op hierdie goddelose regters.
19, 20. Hoe sal die situasie van die verdorwe Israelitiese regters verander word, en wat sal met hulle “heerlikheid” gebeur?
19 “Wat sal julle doen op die dag dat daar aandag aan julle geskenk word en by die verwoesting, wanneer dit van ver af kom? Na wie toe sal julle vlug om hulp, en waar sal julle julle heerlikheid laat, aangesien ’n mens hom onder die gevangenes moet neerbuig en mense bly val onder dié wat gedood is?” (Jesaja 10:3, 4a). Daar is geen eerlike regters by wie die weduwees en die vaderlose seuns hulp kan vra nie. Hoe gepas is dit dan dat Jehovah nou daardie verdorwe Israelitiese regters vra tot wie hulle hulle gaan wend, noudat Jehovah hulle tot verantwoording geroep het. Ja, hulle staan op die punt om te leer dat ‘dit iets vreesliks is om in die hande van die lewende God te val’.—Hebreërs 10:31.
20 Die “heerlikheid” van hierdie goddelose regters—die wêreldse aansien, eer en mag wat met hulle rykdom en posisie gepaard gaan—sal nie lank bestaan nie. Party sal krygsgevangenes word en saam met ander gevangenes “neerbuig”, of gebuk gaan, terwyl die res doodgemaak sal word en hulle lyke tussen die ander gesneuweldes sal lê. Hulle “heerlikheid” sluit ook onregverdige wins in, wat deur die vyand geplunder sal word.
21. Het Jehovah se toorn teen Israel teruggedraai, met die oog op die straf wat hulle ontvang het?
21 Jesaja sluit hierdie laaste strofe af met ’n sombere waarskuwing: “Met die oog op dit alles [al die ellende wat die nasie tot dusver gely het] het sy toorn nie gewyk nie, maar bly sy hand uitgesteek” (Jesaja 10:4b). Ja, Jehovah het nog meer om vir Israel te sê. Jehovah se uitgesteekte hand sal nie teruggetrek word totdat hy die opstandige noordelike koninkryk ’n laaste, vernietigende slag toegedien het nie.
Moet nooit voor valsheid en eiebelang swig nie
22. Watter les kan ons leer uit wat met Israel gebeur het?
22 Jehovah se woord deur middel van Jesaja was swaar op Israel en ‘het nie sonder resultate na hom toe teruggekeer nie’ (Jesaja 55:10, 11). Die geskiedenis vertel van die tragiese einde van die noordelike koninkryk van Israel, en ons kan ons net voorstel hoe inwoners daarvan moes gely het. Dit is net so seker dat God se woord oor die huidige stelsel van dinge vervul sal word, veral oor die afvallige Christendom. Hoe belangrik is dit dan dat Christene alle leuenagtige, anti-God-propaganda verwerp! Danksy God se Woord is Satan se listige sette lankal blootgelê, sodat dit nie die oorhand oor ons sal kry soos met die volk van eertydse Israel nie (2 Korintiërs 2:11). Mag ons almal Jehovah altyd “met gees en waarheid” aanbid (Johannes 4:24). In daardie geval sal sy uitgesteekte hand nie sy aanbidders slaan, soos dit met die opstandige Efraim gedoen het nie; maar sy arms sal hulle hartlik omhels, en hy sal hulle langs die weg na die ewige lewe op ’n paradysaarde aanhelp.—Jakobus 4:8.
[Voetnote]
a Jesaja 9:8–10:4 bestaan uit vier strofes (dele van ’n ritmiese passasie), wat elkeen eindig met die onheilspellende refrein: “Met die oog op dit alles het sy toorn nie gewyk nie, maar bly sy hand uitgesteek” (Jesaja 9:12, 17, 21; 10:4). Hierdie stylfiguur middel bind Jesaja 9:8–10:4 tot een saamgestelde “woord” saam (Jesaja 9:8). Let ook daarop dat Jehovah se ‘hand uitgesteek bly’, nie om versoening te bewerkstellig nie, maar om te oordeel.—Jesaja 9:13.
b Jehovah se profete vir die noordelike koninkryk van Israel is onder andere Jehu (nie die koning nie), Elia, Migaja, Elisa, Jona, Oded, Hosea, Amos en Miga.
[Prent op bladsy 139]
Goddeloosheid en geweld het soos ’n bosbrand deur Israel versprei
[Prent op bladsy 141]
Jehovah sal rekenskap eis van dié wat ander uitbuit