Hoofstuk twaalf
Moenie die Assiriër vrees nie
1, 2. (a) Waarom het dit uit ’n menslike oogpunt gelyk of Jona rede gehad het om huiwerig te wees om sy opdrag te aanvaar om vir die Assiriërs te preek? (b) Hoe het die Nineviete op Jona se boodskap gereageer?
IN DIE middel van die negende eeu v.G.J. het die Hebreeuse profeet Jona, die seun van Amittai, in Nineve, die hoofstad van die Assiriese Ryk, ingegaan. Hy het ’n gewigtige boodskap gehad om oor te dra. Jehovah het vir hom gesê: “Staan op, gaan na Nineve, die groot stad, en verkondig daarteen dat hulle slegtheid voor my opgekom het.”—Jona 1:2, 3.
2 Toe Jona sy opdrag ontvang het, het hy aanvanklik in die teenoorgestelde rigting gevlug, na Tarsis. Uit ’n menslike oogpunt het Jona rede gehad om huiwerig te wees. Die Assiriërs was ’n wrede volk. Kyk hoe het een Assiriese koning sy vyande behandel: “Ek het die offisiere se ledemate afgesny . . . Baie gevangenes onder hulle het ek in die vuur verbrand, en ek het baie as lewende gevangenes geneem. Ek het party se hande en vingers afgekap en ander se neuse afgesny.” Maar toe Jona uiteindelik Jehovah se boodskap oordra, het die Nineviete berou getoon oor hulle sondes en Jehovah het die stad daardie keer gespaar.—Jona 3:3-10; Matteus 12:41.
Jehovah neem “die roede” op
3. Hoe is die reaksie van die Israeliete op die waarskuwings deur Jehovah se profete anders as dié van die Nineviete?
3 Jona het ook vir die Israeliete gepreek (2 Konings 14:25). Luister hulle na hom? Nee. Hulle draai hulle rug op rein aanbidding. Hulle gaan selfs so ver dat hulle ‘voor die hele leër van die hemel neerbuig en Baäl dien’. Wat meer is, “hulle het aangehou om hulle seuns en hulle dogters deur die vuur te laat gaan en waarsêery te beoefen en voortekens te soek, en hulle het hulleself bly verkoop om te doen wat sleg was in die oë van Jehovah, om hom aanstoot te gee” (2 Konings 17:16, 17). Anders as die Nineviete reageer Israel nie wanneer Jehovah profete stuur om hulle te waarsku nie. Daarom besluit Jehovah om strenger maatreëls toe te pas.
4, 5. (a) Wat word deur “die Assiriër” bedoel, en hoe sal Jehovah hom as ’n “roede” gebruik? (b) Wanneer val Samaria?
4 ’n Ruk ná Jona se besoek aan Nineve is Assirië minder aggressief.a Maar aan die begin van die agtste eeu v.G.J. laat Assirië weer sy mag as ’n militêre moondheid geld, en Jehovah maak op ’n verstommende manier daarvan gebruik. Die profeet Jesaja rig ’n waarskuwing van Jehovah tot die noordelike koninkryk van Israel: “Ha, die Assiriër, die roede vir my toorn en die stok wat in hulle hand is vir my veroordeling! Teen ’n afvallige nasie sal ek hom stuur, en teen die volk van my grimmigheid sal ek hom ’n bevel gee, om baie buit te neem en om baie roofgoed te neem en om dit ’n plek van vertrapping te maak soos die klei van die strate.”—Jesaja 10:5, 6.
5 Wat ’n vernedering vir die Israeliete! God gebruik ’n heidense nasie—“die Assiriër”—as ’n “roede” om hulle te straf. In 742 v.G.J. word Samaria, die hoofstad van die afvallige nasie Israel, deur die Assiriese koning Salmaneser V beleër. Vanuit sy strategiese posisie bo-op ’n heuwel wat sowat 90 meter hoog is, weer Samaria die vyand byna drie jaar lank af. Maar geen taktiek van die mens kan God se voorneme in die wiele ry nie. In 740 v.G.J. val Samaria en word dit onder Assiriese voete vertrap.—2 Konings 18:10.
6. Hoe gaan die Assiriër verder as wat Jehovah vir hom in gedagte het?
6 Hoewel Jehovah hulle gebruik om sy volk ’n les te leer, aanbid die Assiriërs self nie vir Jehovah nie. Daarom sê hy verder: “Hoewel [die Assiriër] miskien nie so is nie, sal hy daartoe geneig voel; hoewel sy hart miskien nie so is nie, sal hy planne beraam, want om te verdelg, is in sy hart, en om baie nasies uit te roei” (Jesaja 10:7). Dit is Jehovah se voorneme om die Assiriër as ’n werktuig in sy hand te gebruik. Maar die Assiriër wil iets anders wees. Sy hart spoor hom aan om groter planne te beraam—die verowering van die destyds bekende wêreld!
7. (a) Verduidelik die uitdrukking: “Is my vorste nie terselfdertyd konings nie?” (b) Waarop moet diegene wat Jehovah vandag verlaat ag gee?
7 Konings het vroeër oor baie van die nie-Israelitiese stede regeer wat deur die Assiriër verower is. Hierdie voormalige konings moet hulle nou aan die koning van Assirië onderwerp as onderhorige vorste, sodat hy werklik kan spog: “Is my vorste nie terselfdertyd konings nie?” (Jesaja 10:8). Die valse gode van vername stede van die nasies kon nie keer dat hulle aanbidders vernietig word nie. Die gode wat deur die inwoners van Samaria aanbid word, soos Baäl, Molog en die goue kalwers, sal nie daardie stad beskerm nie. Samaria het Jehovah verlaat en het geen reg om te verwag dat hy tussenbeide tree nie. Enigiemand wat Jehovah vandag verlaat, moet tog ag gee op wat met Samaria gebeur het! Die Assiriër kan met reg spog met betrekking tot Samaria en die ander stede wat hy verower het: “Is Kalno nie soos Karkemis nie? Is Hamat nie soos Arpad nie? Is Samaria nie soos Damaskus nie?” (Jesaja 10:9). Hulle is almal dieselfde vir die Assiriër—buit wat hy in besit kan neem.
8, 9. Waarom kan daar gesê word dat die Assiriër te ver gaan wanneer hy Jerusalem wil verower?
8 Maar die Assiriër voer sy gespog te ver. Hy sê: “Elke keer wanneer my hand die koninkryke bereik het van die waardelose god wie se gesnede beelde meer is as dié in Jerusalem en in Samaria—sal ek dan nie, soos ek aan Samaria en aan sy waardelose gode gedoen het, net so aan Jerusalem en aan sy afgode doen nie?” (Jesaja 10:10, 11). Die koninkryke wat reeds deur die Assiriër verslaan is, het baie meer afgode gehad as Jerusalem of selfs Samaria. ‘Wat verhoed my’, redeneer hy, ‘om aan Jerusalem te doen wat ek aan Samaria gedoen het?’
9 Wat ’n grootprater! Jehovah sal hom nie toelaat om Jerusalem in te neem nie. Juda het weliswaar nie juis ’n skoon rekord wat sy ondersteuning van ware aanbidding betref nie (2 Konings 16:7-9; 2 Kronieke 28:24). Jehovah het gewaarsku dat Juda, weens sy ontrouheid, swaar sou ly gedurende die Assiriese inval. Maar Jerusalem sal behoue bly (Jesaja 1:7, 8). Wanneer die Assiriese inval plaasvind, is Hiskia koning in Jerusalem. Hiskia is nie soos sy vader, Agas, nie. In die heel eerste maand van sy heerskappy maak Hiskia die tempel se deure weer oop en herstel hy ware aanbidding!—2 Kronieke 29:3-5.
10. Wat belowe Jehovah aangaande die Assiriër?
10 Assirië se beplande aanval op Jerusalem dra dus nie Jehovah se goedkeuring weg nie. Jehovah belowe dat hy met daardie vermetele wêreldmoondheid sal afreken: “Wanneer Jehovah al sy werk op die berg Sion en in Jerusalem beëindig, sal ek ’n afrekening hou vir die vrug van die vermetelheid van die hart van die koning van Assirië en vir die eiewaan van sy verwaande oë.”—Jesaja 10:12.
Voorwaarts na Juda en Jerusalem!
11. Waarom dink die Assiriër dat dit maklik sal wees om Jerusalem in te neem?
11 Agt jaar ná die noordelike koninkryk in 740 v.G.J. geval het, het ’n nuwe Assiriese koning, Sanherib, teen Jerusalem opgetrek. Jesaja beskryf Sanherib se aanmatigende plan in digterlike taal: “Ek sal die grense van volke verwyder, en hulle opgegaarde goedere sal ek gewis plunder, en soos ’n magtige sal ek die inwoners neerwerp. En my hand sal die rykdom van die volke bykom asof dit in ’n nes is; en net soos wanneer ’n mens eiers bymekaarmaak wat verlaat is, sal ek die hele aarde bymekaarmaak, en daar sal beslis niemand wees wat sy vlerke klap of sy bek oopmaak of piep nie” (Jesaja 10:13, 14). Sanherib redeneer dat ander stede geval het en Samaria nie meer daar is nie en dat dit dus maklik sal wees om Jerusalem in te neem! Die stad sal moontlik ’n halfhartige poging aanwend om homself te verdedig, maar sy inwoners sal gou onderwerp word en hulle rykdom sal soos eiers uit ’n verlate nes opgeraap word.
12. Wat toon Jehovah is die regte manier om dinge met betrekking tot die Assiriër se gespog te beskou?
12 Maar Sanherib laat iets buite rekening. Die afvallige Samaria het die straf verdien wat oor hom gekom het. Maar ware aanbidding is onder koning Hiskia in Jerusalem herstel. Enigiemand wat iets aan Jerusalem wil doen, sal met Jehovah te doen kry! Jesaja vra verontwaardig: “Sal die byl hom verhef bo die een wat daarmee kap, of die saag hom groot maak bo die een wat dit heen en weer beweeg, asof die staf dié wat dit oplig, geswaai het, asof die stok die een wat nie hout is nie, opgelig het?” (Jesaja 10:15). Die Assiriese Ryk is ’n blote werktuig in Jehovah se hand, net soos ’n byl, ’n saag, ’n staf of ’n stok deur ’n houtkapper, ’n skrynwerker of ’n herder gebruik sal word. Hoe durf die stok hom nou verhef bo die een wat hom gebruik!
13. Identifiseer en sê wat gebeur met (a) die “vettes”. (b) ‘die onkruid en doringbosse’. (c) “die heerlikheid van sy woud”.
13 Wat sal met die Assiriër gebeur? “Die ware Heer, Jehovah van die leërs, [sal] ’n uitterende siekte oor sy vettes bly stuur, en onder sy heerlikheid sal ’n brand bly brand soos die brand van ’n vuur. En Israel se Lig sal ’n vuur word, en sy Heilige ’n vlam; en dit sal opvlam en op een dag sy onkruid en sy doringbosse verteer. En die heerlikheid van sy woud en van sy boord sal Hy tot ’n einde bring, ja, van die siel af tot die vlees toe, en dit sal word soos wanneer ’n sieke wegteer. En die res van die bome van sy woud—hulle sal so min word dat ’n blote seuntjie hulle sal kan opskryf” (Jesaja 10:16-19). Ja, Jehovah sal daardie Assiriese “stok” op sy plek sit! Die “vettes” van die Assiriese leër, sy sterk soldate, sal met “’n uitterende siekte” getref word. Hulle sal nie so sterk lyk nie! Sy voetsoldate sal soos ’n klomp onkruid en doringbosse deur die Lig van Israel, Jehovah God, verbrand word. En “die heerlikheid van sy woud”, sy militêre offisiere, sal tot hulle einde kom. Nadat Jehovah met die Assiriër afgereken het, sal daar so min offisiere oorbly dat ’n seuntjie hulle op sy vingers sal kan tel!—Sien ook Jesaja 10:33, 34.
14. Beskryf die vooruitgang van die Assiriër in die land van Juda teen 732 v.G.J.
14 Nogtans moet die Jode wat in 732 v.G.J. in Jerusalem woon dit moeilik vind om te glo dat die Assiriër verslaan sal word. Die groot Assiriese leër kom al hoe nader. Luister na die lys van die stede in Juda wat al geval het: “Hy het Ajat oorval . . . Migron . . . Migmas . . . Geba . . . Rama . . . Gibea van Saul . . . Gallim . . . Laisa . . . Anatot . . . Madmena . . . Gebim . . . Nob” (Jesaja 10:28-32a).b Uiteindelik kom die invallers by Lagis, net 50 kilometer van Jerusalem af. Kort voor lank bedreig ’n groot Assiriese leër die stad. “Hy swaai sy hand dreigend na die berg van die dogter van Sion, die heuwel van Jerusalem” (Jesaja 10:32b). Wat kan die Assiriër nou keer?
15, 16. (a) Waarom het koning Hiskia sterk geloof nodig? (b) Watter grondslag is daar vir Hiskia se geloof dat Jehovah hom te hulp sal kom?
15 In sy paleis binne-in die stad raak koning Hiskia baie bekommerd. Hy skeur sy klere en bedek hom met saklinne (Jesaja 37:1). Hy stuur manne na die profeet Jesaja om Jehovah namens Juda te raadpleeg. Hulle kom gou terug met Jehovah se antwoord: “Moenie bang wees [nie] . . . ek sal hierdie stad beslis verdedig” (Jesaja 37:6, 35). Die Assiriërs is nogtans ’n dreigende gevaar en baie seker van hulleself.
16 Geloof—dit is wat koning Hiskia deur hierdie krisis sal help. Geloof is “die duidelike demonstrasie van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie” (Hebreërs 11:1). Dit beteken dat ’n mens verby die uiterlike moet kyk. Maar geloof is op kennis gegrond. Hiskia onthou waarskynlik dat Jehovah vroeër hierdie gerusstellende woorde geuiter het: “O my volk wat in Sion woon, moenie bang wees vir die Assiriër . . . nie. Want nog ’n baie kort rukkie—en die veroordeling sal tot ’n einde kom, en my toorn, wanneer hulle wegteer. En Jehovah van die leërs sal beslis ’n sweep teen hom swaai soos by die nederlaag van Midian by die Orebrots; en sy staf sal oor die see wees, en hy sal dit beslis oplig soos hy in die geval van Egipte gedoen het” (Jesaja 10:24-26).c Ja, God se volk was al voorheen in moeilike situasies. Dit het gelyk of Hiskia se voorouers nie ’n kans gestaan het teen die Egiptiese leër by die Rooi See nie. Eeue vroeër het Gideon voor ’n oorweldigende oormag te staan gekom toe Midian en Amalek Israel binnegeval het. En tog het Jehovah sy volk by hierdie twee geleenthede gered.—Eksodus 14:7-9, 13, 28; Rigters 6:33; 7:21, 22.
17. Hoe word die Assiriese juk “verwoes”, en waarom?
17 Sal Jehovah weer doen wat hy by daardie vorige geleenthede gedoen het? Ja. Jehovah belowe: “In dié dag sal sy vrag van jou skouer wyk, en sy juk van jou nek, en die juk sal beslis verwoes word weens die olie” (Jesaja 10:27). Die Assiriese juk sal van die skouer en nek van God se verbondsvolk verwyder word. Trouens, die juk sal “verwoes” word—en dit is presies wat gebeur! In een nag maak die engel van Jehovah 185 000 van die Assiriërs dood. Die bedreiging is op ’n einde, en die Assiriërs verlaat die land van Juda vir goed (2 Konings 19:35, 36). Waarom? “Weens die olie.” Dit verwys moontlik na die olie wat gebruik is om Hiskia as koning in die lyn van Dawid te salf. Jehovah vervul dus sy belofte: “Ek sal hierdie stad beslis verdedig om dit ter wille van my en ter wille van my kneg Dawid te red.”—2 Konings 19:34.
18. (a) Het Jesaja se profesie meer as een vervulling? Verduidelik. (b) Watter organisasie is vandag soos eertydse Samaria?
18 Die verslag in Jesaja wat in hierdie hoofstuk bespreek word, het te doen met gebeurtenisse in Juda wat meer as 2 700 jaar gelede plaasgevind het. Maar hierdie gebeurtenisse is vandag van die allergrootste belang (Romeine 15:4). Beteken dit dat die vernaamste karakters in hierdie opwindende verhaal—die inwoners van Samaria en Jerusalem sowel as die Assiriërs—hedendaagse ekwivalente het? Ja, beslis. Soos Samaria, waar afgode aanbid is, beweer die Christendom dat hulle Jehovah aanbid, maar hulle is deur en deur afvallig. In An Essay on the Development of Christian Doctrine erken die Rooms-Katolieke kardinaal John Henry Newman dat dinge wat die Christendom al eeue lank gebruik, soos wierook, kerse, wywater, priestergewade en beelde “alles van heidense afkoms is”. Jehovah skep net so min behae in die Christendom se heidense aanbidding as in Samaria se afgodediens.
19. Waarteen is die Christendom gewaarsku, en deur wie?
19 Jehovah se Getuies waarsku die Christendom al jare lank dat hulle Jehovah mishaag. Byvoorbeeld, in 1955 is die openbare toespraak “Die Christenheid of Christelikheid—Watter een is ‘die lig van die wêreld’?” wêreldwyd gehou. Die toespraak het baie duidelik getoon hoe ver die Christendom van die ware Christelike leer en lewenswyse afgewyk het. Daarna is afskrifte van hierdie kragtige lesing aan geestelikes in baie lande gepos. As ’n organisasie het die Christendom nie aan die waarskuwing gehoor gegee nie. Jehovah het geen ander keuse as om hulle met ’n “stok” te dissiplineer nie.
20. (a) Wat sal as die hedendaagse Assiriër dien, en hoe sal dit as ’n stok gebruik word? (b) In watter mate sal die Christendom gedissiplineer word?
20 Wie sal Jehovah gebruik om die opstandige Christendom te dissiplineer? Ons vind die antwoord in die 17de hoofstuk van Openbaring. Daar lees ons van ’n hoer, “Babilon die Grote”, wat al die wêreld se valse godsdienste voorstel, onder andere die Christendom. Die hoer ry op ’n skarlakenkleurige wilde dier wat sewe koppe en tien horings het (Openbaring 17:3, 5, 7-12). Die wilde dier verteenwoordig die Verenigde Nasies.d Net soos die eertydse Assiriër Samaria vernietig het, sal die skarlakenkleurige wilde dier ‘die hoer haat en haar verwoes en naak maak, en haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand’ (Openbaring 17:16). So sal die hedendaagse Assiriër (nasies wat met die VN geassosieer is) die Christendom ’n swaar slag toedien en dit heeltemal vernietig.
21, 22. Wie sal die wilde dier aanspoor om God se volk aan te val?
21 Sal Jehovah se getroue Getuies saam met Babilon die Grote vergaan? Nee. Hulle het God se goedkeuring. Rein aanbidding sal behoue bly. Maar die wilde dier wat Babilon die Grote vernietig, kyk ook begerig na Jehovah se volk. Wanneer hy dit doen, voer die dier nie God se gedagte uit nie, maar die gedagte van iemand anders. Wie s’n? Satan die Duiwel s’n.
22 Jehovah lê Satan se trotse plan bloot: “In dié dag sal daar dinge in jou [Satan se] hart opkom, en jy sal beslis ’n skadelike plan uitdink; en jy sal sê: ‘Ek sal . . . by dié kom wat rus het, wat in veiligheid woon, wat almal sonder [’n beskermende] muur woon . . . ’ Dit sal wees om ’n groot buit te verkry en baie te plunder” (Esegiël 38:10-12). Satan sal redeneer: ‘Ja, kom ek hits die nasies aan om Jehovah se Getuies aan te val. Hulle is kwesbaar, weerloos, sonder politieke invloed. Hulle sal geen weerstand bied nie. Hoe maklik sal dit tog wees om hulle soos eiers uit ’n onbeskermde nes op te raap!’
23. Waarom sal die hedendaagse Assiriër nie met God se volk kan doen wat hy met die Christendom doen nie?
23 Maar pas op, nasies! Wees gewaarsku dat julle met God self te doen sal kry as julle Jehovah se volk aanraak! Jehovah is lief vir sy volk, en dit is net so seker dat hy vir hulle sal veg as wat hy in die dae van Hiskia vir Jerusalem geveg het. Wanneer die hedendaagse Assiriër Jehovah se knegte probeer vernietig, sal hy in werklikheid teen Jehovah God en die Lam, Jesus Christus, veg. In daardie stryd sal die Assiriër nie die oorwinning kan behaal nie. “Die Lam sal hulle oorwin”, sê die Bybel, “omdat hy Here van die here en Koning van die konings is.” (Openbaring 17:14; vergelyk Matteus 25:40.) Soos die eertydse Assiriër sal die skarlakenkleurige wilde dier ‘in die vernietiging weggaan’. Niemand sal dit meer vrees nie.—Openbaring 17:11.
24. (a) Wat is ware Christene vasbeslote om te doen om vir die toekoms voor te berei? (b) Hoe kyk Jesaja verder vooruit? (Sien venster op bladsy 155.)
24 Ware Christene kan die toekoms sonder vrees tegemoetgaan as hulle ’n sterk verhouding met Jehovah behou en as hulle die uitvoering van sy wil die hoofsaak in hulle lewe maak (Matteus 6:33). Dan hoef hulle ‘niks slegs te vrees nie’ (Psalm 23:4). Met hulle oë van die geloof sal hulle sien hoe God sy magtige arm omhoog lig, nie om hulle te straf nie, maar om hulle teen sy vyande te beskerm. En hulle ore sal hierdie gerusstellende woorde hoor: ‘Moenie bang wees nie.’—Jesaja 10:24.
[Voetnote]
a Sien Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 203.
b Vir duidelikheid word Jesaja 10:28-32 voor Jesaja 10:20-27 bespreek.
c Sien “Jesaja kyk verder vooruit” op bladsy 155 vir ’n bespreking van Jesaja 10:20-23.
d Sien hoofstukke 34 en 35 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir verdere inligting oor die identiteit van die hoer en die skarlakenkleurige wilde dier.
[Venster/Prente op bladsy 155, 156]
JESAJA KYK VERDER VOORUIT
Die 10de hoofstuk van Jesaja vestig die aandag hoofsaaklik op die manier waarop Jehovah die Assiriese inval sal gebruik om oordeel aan Israel te voltrek sowel as op sy belofte om Jerusalem te verdedig. Aangesien verse 20 tot 23 in die middel van hierdie profesie is, kan ons aanneem dat dit gedurende dieselfde tydperk vervul word. (Vergelyk Jesaja 1:7-9.) Maar die bewoording toon dat hierdie verse meer spesifiek van toepassing is op latere tydperke wanneer Jerusalem ook verantwoording sal moet doen vir die sondes van sy inwoners.
Koning Agas probeer om sekuriteit te verkry deur hom tot Assirië te wend om hulp. Die profeet Jesaja voorspel dat die tyd sal kom wanneer die oorlewendes van die huis van Israel nooit weer so ’n sinlose weg sal inslaan nie. Jesaja 10:20 sê dat hulle ‘in waaragtigheid op Jehovah, die Heilige van Israel, sal steun’. Vers 21 toon egter dat daar net ’n klein aantal sal wees wat dit doen: “Net ’n oorblyfsel sal terugkeer.” Dit herinner ons aan Jesaja se seun Sear-Jasub, wat ’n teken in Israel is en wie se naam “Net ’n oorblyfsel sal terugkeer” beteken (Jesaja 7:3). Vers 22 van hoofstuk 10 waarsku van ’n komende “uitroeiing” waarop besluit is. So ’n uitroeiing sal regverdig wees omdat dit ’n regverdige straf is oor ’n opstandige volk. Gevolglik sal net ’n oorblyfsel terugkeer uit ’n nasie wat so dig bevolk is “soos die sandkorrels van die see”. Vers 23 waarsku dat hierdie komende uitroeiing ’n uitwerking op die hele land sal hê. Jerusalem sal hierdie keer nie gespaar word nie.
Hierdie verse beskryf goed wat in 607 v.G.J. gebeur het toe Jehovah die Babiloniese Ryk as sy “stok” gebruik het. Die hele land, ook Jerusalem, het voor die invallers geval. Die Jode is vir 70 jaar in ballingskap na Babilon weggevoer. Maar ná daardie tyd was daar van hulle—al was dit “net ’n oorblyfsel”—wat teruggekeer het om ware aanbidding in Jerusalem te herstel.
Die profesie in Jesaja 10:20-23 het in die eerste eeu ’n verdere vervulling gehad, soos ons in Romeine 9:27, 28 kan lees. (Vergelyk Jesaja 1:9; Romeine 9:29.) Paulus verduidelik dat ’n “oorblyfsel” Jode in die eerste eeu G.J. in geestelike sin na Jehovah ‘teruggekeer’ het, deurdat ’n klein aantal getroue Jode volgelinge van Jesus Christus geword het en Jehovah “met gees en waarheid” begin aanbid het (Johannes 4:24). Gelowige nie-Jode het later by hulle aangesluit en het ’n geestelike nasie, “die Israel van God”, uitgemaak (Galasiërs 6:16). By hierdie geleentheid is die woorde van Jesaja 10:20 vervul: ’n Nasie wat aan Jehovah toegewy is, het “nooit weer” van hom weggedraai en by mense ondersteuning gesoek nie.
[Prent op bladsy 147]
Sanherib redeneer dat dit net so maklik is om die nasies in te samel as om eiers uit ’n nes te haal