Hoofstuk dertien
Redding en vreugde onder die Messias se heerskappy
1. Beskryf die geestelike toestand van God se verbondsvolk in Jesaja se dag.
IN Jesaja se dag was God se verbondsvolk geestelik gesproke in ’n droewige toestand. Selfs onder die heerskappy van getroue konings, soos Ussia en Jotam, het baie van die mense by die hoogtes aanbid (2 Konings 15:1-4, 34, 35; 2 Kronieke 26:1, 4). Toe Hiskia koning geword het, moes hy alles wat met Baälaanbidding verband gehou het uit die land verwyder (2 Kronieke 31:1). Dit is te verstane waarom Jehovah sy volk aangespoor het om na hom terug te keer en waarom hy hulle gewaarsku het dat hulle dissipline te wagte kan wees!
2, 3. Watter aanmoediging gee Jehovah diegene wat hom wil dien ten spyte van die ontrouheid wat so algemeen is?
2 Maar nie almal was volslae rebelle nie. Jehovah het getroue profete gehad, en daar was heel waarskynlik party Jode wat na hulle geluister het. Jehovah het vertroostende woorde vir hierdie persone gehad. Nadat hy die verskriklike verwoesting beskryf het wat gedurende die Assiriese inval oor Juda sou kom, is die profeet Jesaja geïnspireer om een van die pragtigste gedeeltes in die hele Bybel neer te skryf, ’n beskrywing van die seëninge wat gedurende die heerskappy van die Messias geniet sou word.a Party aspekte van hierdie seëninge het ’n kleinskaalse vervulling gehad toe die Jode uit ballingskap in Babilon teruggekeer het. Maar in sy geheel het die profesie vandag ’n groter vervulling. Jesaja en ander getroue Jode van sy tyd het weliswaar nie hierdie seëninge belewe nie. Maar hulle het in geloof daarna uitgesien en sal ná die opstanding sien hoe Jesaja se woorde vervul word.—Hebreërs 11:35.
3 Jehovah se hedendaagse volk het ook aanmoediging nodig. Die wêreld se sedelike standaarde wat so vinnig agteruitgaan, wrede teenstand teen die Koninkryksboodskap en persoonlike swakhede is vir hulle almal ’n uitdaging. Jesaja se wonderlike woorde oor die Messias en sy heerskappy kan God se volk versterk en help om hierdie uitdagings die hoof te bied.
Die Messias—’n bekwame leier
4, 5. Wat het Jesaja aangaande die koms van die Messias voorspel, en hoe het Matteus Jesaja se woorde blykbaar toegepas?
4 Eeue voor Jesaja se tyd het ander Hebreeuse Bybelskrywers die aandag gevestig op die koms van die Messias, die ware Leier, wat Jehovah na Israel sou stuur (Genesis 49:10; Deuteronomium 18:18; Psalm 118:22, 26). Jehovah gebruik Jesaja nou om verdere besonderhede by te voeg. Jesaja skryf: “Daar sal ’n takkie uit die stomp van Isai voortkom; en uit sy wortels sal ’n spruit vrugbaar wees.” (Jesaja 11:1; vergelyk Psalm 132:11.) “Takkie” en “spruit” toon albei dat die Messias die afstammeling van Isai sou wees, deur sy seun Dawid, wat met olie as koning van Israel gesalf is (1 Samuel 16:13; Jeremia 23:5; Openbaring 22:16). Wanneer die ware Messias kom, sal hierdie “spruit”, uit die huis van Dawid, goeie vrugte voortbring.
5 Die beloofde Messias is Jesus. Die evangelieskrywer Matteus het na die woorde van Jesaja 11:1 verwys toe hy gesê het dat die woorde van die profete vervul is in die feit dat Jesus “’n Nasarener” genoem is. Omdat hy in die dorp Nasaret grootgemaak is, is Jesus ’n Nasarener genoem, ’n naam wat blykbaar verwant is aan die Hebreeuse woord wat in Jesaja 11:1 vir “spruit” gebruik word.b—Matteus 2:23, voetnoot in naslaanuitgawe; Lukas 2:39, 40.
6. Watter soort heerser sal die Messias volgens die profesie wees?
6 Watter soort heerser sal die Messias wees? Sal hy soos die wrede, eiesinnige Assiriër wees wat die noordelike tienstammeryk van Israel vernietig? Natuurlik nie. Jesaja sê van die Messias: “Op hom sal die gees van Jehovah rus, die gees van wysheid en van begrip, die gees van raad en van mag, die gees van kennis en van die vrees van Jehovah; en hy sal vreugde vind in die vrees van Jehovah” (Jesaja 11:2, 3a). Die Messias word nie met olie gesalf nie, maar met God se heilige gees. Dit gebeur wanneer Jesus gedoop word, wanneer Johannes die Doper sien hoe God se heilige gees in die vorm van ’n duif op Jesus neerdaal (Lukas 3:22). Jehovah se gees “rus” op Jesus, en hy lewer bewys hiervan wanneer hy met wysheid, verstand, raad, mag en kennis optree. Watter uitstekende eienskappe is dit tog vir ’n heerser!
7. Wat het Jesus sy getroue volgelinge belowe?
7 Jesus se volgelinge kan ook die heilige gees ontvang. Toe Jesus eenkeer met sy volgelinge gepraat het, het hy gesê: “As julle, hoewel julle goddeloos is, dan weet hoe om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Vader in die hemel heilige gees gee aan dié wat hom vra!” (Lukas 11:13). Ons moet dus nooit huiwer om God te vra om aan ons heilige gees te gee nie, en ons moet ook aanhou om die heilsame vrugte daarvan—naamlik “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”—aan te kweek (Galasiërs 5:22, 23). Jehovah belowe dat hy Jesus se volgelinge “wysheid van bo” sal gee wanneer hulle dit vra sodat hulle die probleme van die lewe met welslae die hoof kan bied.—Jakobus 1:5; 3:17.
8. Hoe vind Jesus vreugde in die vrees van Jehovah?
8 Wat is die vrees van Jehovah wat die Messias aan die dag lê? Jesus is beslis nie bang vir God, bevrees dat hy hom sal veroordeel nie. Nee, die Messias het ’n eerbiedige, liefdevolle ontsag vir God. ’n Godvresende persoon wil, net soos Jesus, altyd “die dinge doen wat hom behaag” (Johannes 8:29). Jesus leer ons deur sy woord en voorbeeld dat daar geen groter vreugde is as om elke dag in die heilsame vrees van Jehovah te wandel nie.
’n Regverdige en barmhartige regter
9. Watter voorbeeld stel Jesus vir diegene wat sake in die Christengemeente moet beoordeel?
9 Jesaja voorspel watter ander eienskappe die Messias sou hê: “Hy sal nie oordeel net volgens wat sy oë sien nie, en ook nie teregwys net volgens wat sy ore hoor nie” (Jesaja 11:3b). Sou jy nie dankbaar wees vir so ’n regter as jy in die hof moes verskyn nie? In sy hoedanigheid as Regter van die hele mensdom, word die Messias nie beïnvloed deur valse redenasies, slim hoftaktiek, gerugte of oppervlakkige faktore, soos rykdom, nie. Hy laat hom nie bedrieg nie en kyk verby ’n onaantreklike uiterlike en sien “die geheime persoon van die hart”, “die verborge mens” (1 Petrus 3:4, voetnoot in naslaanuitgawe). Jesus se voortreflike voorbeeld is die model vir almal wat sake in die Christengemeente moet beoordeel.—1 Korintiërs 6:1-4.
10, 11. (a) Hoe wys Jesus sy volgelinge tereg? (b) Watter oordeel voltrek Jesus aan die goddeloses?
10 Watter uitwerking sal die Messias se voortreflike eienskappe op sy regterlike beslissings hê? Jesaja verduidelik: “Met regverdigheid sal hy die geringes oordeel, en met billikheid sal hy teregwysing gee ten behoewe van die sagmoediges van die aarde. En hy sal die aarde met die roede van sy mond slaan; en met die gees van sy lippe sal hy die goddelose doodmaak. En regverdigheid sal die gordel van sy heupe wees, en getrouheid die gordel van sy lendene.”—Jesaja 11:4, 5.
11 Wanneer sy volgelinge tereggewys moet word, doen Jesus dit op ’n manier wat tot hulle grootste voordeel is—’n uitstekende voorbeeld vir Christen- ouer manne. Aan die ander kant kan diegene wat goddelose dinge beoefen ’n ongunstige oordeel verwag. Wanneer God rekenskap eis van hierdie stelsel van dinge, sal die Messias ‘die aarde slaan’ met sy gesaghebbende stem, en al die goddeloses tot vernietiging veroordeel. (Psalm 2:9; vergelyk Openbaring 19:15.) Uiteindelik sal daar nie meer goddelose mense wees wat die vrede van die mensdom sal versteur nie (Psalm 37:10, 11). Jesus, met sy heupe en lendene omgord met regverdigheid en getrouheid, het die mag om dit uit te voer.—Psalm 45:3-7.
Veranderde toestande op aarde
12. Waaroor sou ’n Jood moontlik bekommerd wees wanneer hy dit oorweeg om van Babilon na die Beloofde Land terug te keer?
12 Dink aan ’n Israeliet wat so pas gehoor het van Kores se bevel dat die Jode na Jerusalem moet terugkeer en die tempel moet herbou. Sal hy die veiligheid van Babilon verlaat en die lang pad huis toe aanpak? Gedurende die 70 jaar toe Israel nie die land bewoon het nie, het die verlate landerye vol onkruid geword. Wolwe, luiperds, leeus en bere loop nou vry daar rond. Kobras word ook daar aangetref. Die terugkerende Jode sal op mak diere moet staatmaak om aan die lewe te bly—skape en beeste sal melk, wol en vleis moet voorsien en osse sal die ploeg trek. Sal roofdiere hulle vang? Sal die kindertjies deur slange gepik word? Wat van die gevaar om gedurende die terugreis aangeval te word?
13. (a) Watter aantreklike prentjie skilder Jesaja? (b) Hoe weet ons dat die vrede wat Jesaja beskryf meer behels as veiligheid teen wilde diere?
13 Jesaja skilder nou ’n aantreklike prentjie van die toestande wat God in die land tot stand sal bring. Hy sê: “Die wolf sal ’n ruk by die lam vertoef, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, en die kalf en die jong maanhaarleeu en die vetgevoerde dier almal bymekaar; en ’n blote seuntjie sal hulle lei. En die koei en die berin sal wei; hulle kleintjies sal bymekaar lê. En selfs die leeu sal strooi eet net soos die bul. En die suigeling sal beslis by die gat van die kobra speel; en op die liggat van ’n giftige slang sal ’n gespeende kind sy hand sit. Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek” (Jesaja 11:6-9). Is dit nie hartroerende woorde nie? Let op dat die vrede wat hier beskryf word te danke is aan die kennis van Jehovah. Daarom gaan dit nie net hier oor veiligheid teen wilde diere nie. Die kennis van Jehovah sal nie diere verander nie, maar dit sal wel ’n uitwerking op mense hê. Die Israeliete sal nie op pad huis toe of wanneer hulle weer in hulle herstelde land is, hoef bang te wees vir wilde diere of dierlike mense nie.—Esra 8:21, 22; Jesaja 35:8-10; 65:25.
14. Wat is die groter vervulling van Jesaja 11:6-9?
14 Hierdie profesie het egter ’n groter vervulling. In 1914 is Jesus, die Messias, op die hemelse berg Sion op die troon geplaas. In 1919 is die oorblywende lede van “die Israel van God” uit gevangenskap aan Babilon bevry en het hulle aan die herstelling van ware aanbidding deelgeneem (Galasiërs 6:16). As gevolg daarvan is ’n hedendaagse vervulling van Jesaja se Paradysprofesie moontlik gemaak. “Juiste kennis”, die kennis van Jehovah, het persoonlikhede verander (Kolossense 3:9, 10). Mense wat vroeër gewelddadig was, het vredeliewend geword (Romeine 12:2; Efesiërs 4:17-24). Vandag raak hierdie verwikkelinge miljoene mense omdat Jesaja se profesie nou ook ’n vinnig toenemende groep Christene insluit wat ’n aardse hoop het (Psalm 37:29; Jesaja 60:22). Hulle het geleer om uit te sien na die tyd wanneer die hele aarde tot ’n veilige, vreedsame paradys herstel sal word, soos God dit oorspronklik wou hê.—Matteus 6:9, 10; 2 Petrus 3:13.
15. Kan ons redelikerwys verwag dat Jesaja se woorde ’n letterlike vervulling in die nuwe wêreld sal hê? Verduidelik.
15 Sal Jesaja se profesie in daardie herstelde Paradys ’n verdere, moontlik letterliker, vervulling hê? Dit klink redelik om so iets te verwag. Die profesie gee almal wat onder die Messias se heerskappy sal lewe dieselfde versekering as wat dit die terugkerende Israeliete gegee het; hulle en hulle kinders sal nie voel dat enigiets hulle bedreig nie—nie mense of diere nie. Onder die Messias se Koninkryksheerskappy sal al die aarde se bewoners vreedsame toestande geniet soos dié wat Adam en Eva in Eden geniet het. Die Skrif openbaar natuurlik nie presies hoe die lewe in Eden was nie—of hoe dit in die Paradys sal wees nie. Maar ons kan vertrou dat alles onder die wyse en liefdevolle heerskappy van die Koning Jesus Christus sal wees net soos dit moet wees.
Rein aanbidding herstel deur middel van die Messias
16. Wat was in 537 v.G.J. ’n baken vir God se volk?
16 Die eerste aanval op rein aanbidding was in Eden toe Satan dit reggekry het om Adam en Eva te beïnvloed om aan Jehovah ongehoorsaam te wees. Dit is tot vandag toe nog steeds Satan se doel om soveel mense moontlik te kry om hulle rug op God te draai. Maar Jehovah sal nooit toelaat dat ware aanbidding heeltemal van die aarde af verdwyn nie. Sy naam is daarby betrokke, en hy gee om vir dié wat hom dien. Daarom maak hy deur middel van Jesaja hierdie merkwaardige belofte: “In dié dag sal daar die wortel van Isai wees, wat daar sal opstaan as ’n baken vir die volke. Selfs die nasies sal hulle tot hom wend en hom raadpleeg, en sy rusplek sal heerlik word” (Jesaja 11:10). Destyds in 537 v.G.J. was Jerusalem, die stad wat Dawid die nasie se hoofstad gemaak het, ’n baken waarheen ’n getroue oorblyfsel van die verstrooide Joodse volk moes terugkeer om die tempel te herbou.
17. Hoe het Jesus in die eerste eeu en in ons dag ‘opgestaan om oor nasies te heers’?
17 Maar die profesie verwys na meer as net dit. Soos ons reeds gesien het, verwys dit na die heerskappy van die Messias, die een ware Leier vir mense van alle nasies. Die apostel Paulus het Jesaja 11:10 aangehaal om te toon dat mense van die nasies in sy dag ’n plek in die Christengemeente sou hê. Hy het hierdie vers uit die Septuagint-vertaling aangehaal en geskryf: “Weer sê Jesaja: ‘Daar sal die wortel van Isai wees, en daar sal iemand wees wat opstaan om oor nasies te heers; op hom sal nasies hulle hoop vestig’” (Romeine 15:12). Maar die profesie reik selfs verder—tot in ons dag wanneer mense van die nasies hulle liefde vir Jehovah toon deur die gesalfde broers van die Messias te ondersteun.—Jesaja 61:5-9; Matteus 25:31-40.
18. Hoe het nasies hulle in ons dag by Jesus versamel?
18 In die hedendaagse vervulling het “dié dag” waarvan Jesaja gepraat het, begin toe die Messias in 1914 as die Koning van God se hemelse Koninkryk gekroon is (Lukas 21:10; 2 Timoteus 3:1-5; Openbaring 12:10). Van toe af was Jesus Christus ’n sigbare baken, ’n punt waar die geestelike Israel sowel as mense van alle nasies wat na ’n regverdige regering smag hulle kon versamel. Onder leiding van die Messias is die goeie nuus van die Koninkryk na al die nasies uitgedra, soos Jesus voorspel het (Matteus 24:14; Markus 13:10). Hierdie goeie nuus het ’n kragtige uitwerking. “’n Groot skare, wat geen mens [kan] tel nie, uit alle nasies” onderwerp hulle aan die Messias deur rein aanbidding saam met die gesalfde oorblyfsel te beoefen (Openbaring 7:9). Namate al hoe meer nuwelinge hulle by die oorblyfsel aansluit in Jehovah se geestelike “huis van gebed”, vergroot hulle die heerlikheid van die Messias se “rusplek”, God se groot geestelike tempel.—Jesaja 56:7; Haggai 2:7.
’n Verenigde volk dien Jehovah
19. By watter twee geleenthede het Jehovah ’n oorblyfsel van sy volk wat deur die hele aarde heen verstrooi was, herstel?
19 Jesaja herinner die Israeliete vervolgens aan die feit dat Jehovah hulle al voorheen gered het toe die nasie deur ’n kragtige vyand onderdruk is. Daardie deel van Israel se geskiedenis—toe Jehovah die nasie uit slawerny in Egipte bevry het—lê alle getroue Jode baie na aan die hart. Jesaja skryf: “In dié dag sal Jehovah weer sy hand uitsteek, ’n tweede keer, om die oorblyfsel van sy volk te verkry, wat sal oorbly uit Assirië en uit Egipte en uit Patros en uit Kus en uit Elam en uit Sinar en uit Hamat en uit die eilande van die see. En hy sal beslis ’n baken vir die nasies oprig en die verstrooides van Israel versamel; en die verstrooides van Juda sal hy uit die vier uithoeke van die aarde bymekaarmaak” (Jesaja 11:11, 12). Jehovah sal ’n getroue oorblyfsel van Israel sowel as Juda as ’t ware by die hand neem en hulle onder die nasies waar hulle verstrooi is, uitlei en sal hulle veilig na hulle tuiste bring. Dit vind op ’n klein skaal in 537 v.G.J. plaas. Maar hoeveel glorieryker is die groter vervulling tog! Jehovah het in 1914 die gekroonde Jesus Christus as “’n baken vir die nasies” opgerig. Die oorblywendes van “die Israel van God” het van 1919 af na hierdie baken begin stroom, gretig om aan rein aanbidding onder God se Koninkryk deel te neem. Hierdie unieke geestelike nasie kom “uit elke stam en taal en volk en nasie”.—Openbaring 5:9.
20. Watter eenheid sal God se volk geniet wanneer hulle van Babilon terugkeer?
20 Jesaja beskryf nou die eenheid van die herstelde nasie. Hy verwys na die noordelike koninkryk as Efraim en na die suidelike koninkryk as Juda en sê: “Die jaloesie van Efraim sal wyk, en selfs dié wat vyandigheid teenoor Juda toon, sal uitgeroei word. Efraim sal nie jaloers wees op Juda nie, en ook sal Juda nie vyandigheid teenoor Efraim toon nie. En hulle sal teen die skouer van die Filistyne in die weste vlieg; saam sal hulle die kinders van die Ooste plunder. Na Edom en Moab sal hulle hulle hand uitsteek, en die kinders van Ammon sal hulle onderdane wees” (Jesaja 11:13, 14). Wanneer die Jode van Babilon af terugkeer, sal hulle nie meer in twee nasies verdeel wees nie. Lede van al die stamme van Israel sal in eenheid na hulle land terugkeer (Esra 6:17). Hulle sal nie meer kwade gevoelens teen mekaar koester of mekaar vyandiggesind wees nie. As ’n verenigde volk sal hulle oor hulle vyande in die omliggende nasies seëvier.
21. In watter opsig is die eenheid van God se volk vandag werklik iets besonders?
21 Maar die eenheid onder “die Israel van God” is selfs indrukwekkender. Die 12 simboliese stamme van geestelike Israel geniet al byna 2 000 jaar lank eenheid wat op liefde vir God en hulle geestelike broers en susters gegrond is (Kolossense 3:14; Openbaring 7:4-8). Vandag geniet Jehovah se volk—geestelike Israeliete sowel as diegene met ’n aardse hoop—vrede en wêreldwye eenheid onder die Messias se heerskappy, toestande wat nie in die kerke van die Christendom gesien word nie. Jehovah se Getuies het ’n verenigde geestelike front gemaak teen Satan se pogings om met hulle aanbidding in te meng. Soos een volk voer hulle Jesus se opdrag uit om die goeie nuus van die Messias se Koninkryk aan al die nasies te verkondig en hulle daarvan te leer.—Matteus 28:19, 20.
Hindernisse sal uit die weg geruim word
22. Hoe sal Jehovah “die tong van die Egiptiese see afsny” en “sy hand oor die Rivier swaai”?
22 Daar is baie hindernisse, letterlik sowel as figuurlik, wat in die pad van die Israeliete se terugkeer uit ballingskap staan. Hoe sal hulle uit die weg geruim word? Jesaja sê: “Jehovah sal beslis die tong van die Egiptiese see afsny en in die gloed van sy gees sy hand oor die Rivier swaai. En hy sal dit in sy sewe strome tref, en hy sal mense met hulle sandale aan laat loop” (Jesaja 11:15). Dit is Jehovah wat alle hindernisse in die pad van sy volk se terugkeer uit die weg sal ruim. Selfs ’n hindernis wat so onoorkomelik lyk soos ’n tong van die Rooi See (soos die Golf van Suez) of wat so onmoontlik lyk om deur te gaan soos die magtige Eufraatrivier sal as ’t ware opgedroog word, sodat ’n mens dit kan oorsteek sonder dat hy sy sandale hoef uit te trek!
23. In watter opsig sal daar “’n grootpad uit Assirië wees”?
23 In Moses se dag het Jehovah vir Israel ’n weg geopen om uit Egipte te ontsnap en na die Beloofde Land te trek. Hy sal nou iets soortgelyks doen: “Daar sal ’n grootpad uit Assirië wees vir die oorblyfsel van sy volk wat sal oorbly, net soos daar een was vir Israel die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het” (Jesaja 11:16). Jehovah sal terugkerende ballinge lei asof hulle op ’n grootpad van hulle plek van ballingskap na hulle vaderland loop. Teenstanders sal hulle probeer keer, maar hulle God, Jehovah, sal met hulle wees. Gesalfde Christene en hulle metgeselle word vandag ook wreed aangeval, maar hulle gaan moedig vooruit! Hulle het uit die hedendaagse Assirië, Satan se wêreld, uitgekom, en hulle help ander om dieselfde te doen. Hulle weet dat rein aanbidding sukses sal behaal en sal floreer. Dit is nie die mens se werk nie, maar God s’n.
Eindelose vreugde vir die Messias se onderdane!
24, 25. Watter betuigings van lof en dankbaarheid sal Jehovah se volk uitroep?
24 In vreugdevolle taal beskryf Jesaja nou die gejuig van Jehovah se volk oor die vervulling van Sy woord: “In dié dag sal jy beslis sê: ‘Ek sal u dank, o Jehovah, want hoewel u vertoornd op my geword het, het u toorn geleidelik gewyk, en u het my vertroos’” (Jesaja 12:1). Jehovah het sy ongehoorsame volk streng gedissiplineer. Maar dit het die gewenste uitwerking, want die nasie het weer ’n goeie verhouding met hom en rein aanbidding word herstel. Jehovah verseker sy getroue aanbidders dat hy hulle op die ou end tog sal red. Geen wonder dat hulle hulle waardering uitspreek nie!
25 Die herstelde Israeliete se vertroue in Jehovah is heeltemal bevestig en hulle roep uit: “‘Kyk! God is my redding. Ek sal vertrou en nie in angs verkeer nie; want Jah Jehovah is my sterkte en my mag, en hy het my redding geword.’ Met verheuging sal julle sekerlik water skep uit die fonteine van redding” (Jesaja 12:2, 3). Die Hebreeuse woord wat in vers 2 met “mag” vertaal word, verskyn as “lof” in die Septuagint-vertaling. Aanbidders sing lofliedere oor die redding wat “Jah Jehovah” hulle gegee het. As ’n afgekorte vorm van die naam Jehovah word “Jah” in die Bybel in opregte betuigings van lof en dankbaarheid gebruik. Die gebruik van die uitdrukking “Jah Jehovah”—’n verdubbeling van God se naam—maak die betuiging van lof tot God nog intenser.
26. Wie maak vandag God se handelinge onder die nasies bekend?
26 Opregte aanbidders van Jehovah kan hulle vreugde nie vir hulleself hou nie. Jesaja voorspel: “In dié dag sal julle beslis sê: ‘Dank Jehovah! Roep sy naam aan. Maak onder die volke sy handelinge bekend. Meld dat sy naam hoog verhewe is. Besing Jehovah met melodieë, want wat hy gedoen het, is weergaloos. Dit word op die hele aarde bekend gemaak’” (Jesaja 12:4, 5). Van 1919 af het gesalfde Christene—later met die hulp van hulle metgeselle, die “ander skape”—‘die voortreflikhede van die een wat hulle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het alom bekend gemaak’. Hulle is “’n uitverkore ras, . . . ’n heilige nasie” wat vir hierdie doel afgesonder is (Johannes 10:16; 1 Petrus 2:9). Gesalfdes maak bekend dat Jehovah se heilige naam hoog verhewe is en neem deel aan die werk om dit in die hele aarde te verkondig. Hulle stel ’n voorbeeld vir al Jehovah se aanbidders deur hulle in sy voorsiening vir hulle redding te verheug. Dit is net soos Jesaja uitroep: “Juig en jubel, o inwoonster van Sion, want die Heilige van Israel is groot in jou midde”! (Jesaja 12:6). Die Heilige van Israel is Jehovah God self.
Sien met vertroue uit na die toekoms!
27. Watter vertroue het Christene terwyl hulle op die verwesenliking van hulle hoop wag?
27 Vandag is daar miljoene wat gestroom het na die “baken vir die volke”—Jesus Christus wat in God se Koninkryk op die troon sit. Hulle is bly dat hulle onderdane van daardie Koninkryk is en is verheug dat hulle Jehovah God en sy Seun ken (Johannes 17:3). Hulle put groot genot uit hulle verenigde Christelike omgang en doen hulle bes om die vrede wat ’n kenmerk van Jehovah se ware knegte is, te bewaar (Jesaja 54:13). Omdat hulle oortuig is dat Jah Jehovah ’n God is wat sy beloftes nakom, het hulle vaste vertroue in hulle hoop en verskaf dit hulle groot vreugde om ander daarvan te vertel. Mag elke aanbidder van Jehovah voortgaan om God met al sy krag te dien en ander te help om dit ook te doen. Laat ons almal Jesaja se woorde ter harte neem en ons verbly in die redding deur Jehovah se Messias!
[Voetnote]
a Die woord “Messias” word afgelei van die Hebreeuse woord ma·sjiʹag, wat “Gesalfde” beteken. Die Griekse ekwivalent is Khri·stosʹ, of “Christus”.—Matteus 2:4, voetnoot in naslaanuitgawe.
b Die Hebreeuse woord vir “spruit” is neʹtser, en vir “Nasarener” is dit Nots·riʹ.
[Prente op bladsy 158]
Die Messias is “’n takkie” uit Isai, deur koning Dawid
[Volbladillustrasie op bladsy 162]
[Prent op bladsy 170]
Jesaja 12:4, 5 soos dit in die Dooie See-rolle voorkom (Plekke waar God se naam verskyn, is gemerk)