Hoofstuk agtien
Lesse oor ontrouheid
1. Hoe was die lewe dalk vir mense in ’n eertydse stad wat beleër is?
STEL jou voor hoe die lewe vir mense in ’n antieke stad was wat beleër is. Buite die mure is die vyand—sterk en genadeloos. Jy weet dat ander stede reeds voor hulle geval het. Nou is hulle vasbeslote om jou stad in te neem en te plunder en sy inwoners te verkrag en uit te moor. Die vyand se leër is veels te sterk om in ’n direkte geveg gekonfronteer te word, en jy hoop maar dat die stadsmure hulle buite sal hou. Wanneer jy oor die mure kyk, kan jy die beleëringstorings sien wat die vyand gebring het. Hulle het ook ander beleëringswerktuie wat groot klippe kan gooi om jou verdedigings te verpletter. Jy sien hulle stormramme en lere, hulle boogskutters en strydwaens, hulle hordes soldate. Wat ’n skrikwekkende gesig!
2. Wanneer vind die beleg plaas wat in Jesaja hoofstuk 22 beskryf word?
2 In Jesaja hoofstuk 22 lees ons van so ’n beleg—’n beleg teen Jerusalem. Wanneer vind dit plaas? Dit is moeilik om een spesifieke beleg uit te sonder waarin alles wat voorspel is, plaasgevind het. Die profesie is klaarblyklik ’n algemene beskrywing van al die kere dat Jerusalem beleër sal word, ’n algemene waarskuwing van wat voorlê.
3. Hoe reageer Jerusalem se inwoners op die beleg wat Jesaja beskryf?
3 Wat doen die inwoners van Jerusalem gedurende die beleg wat Jesaja beskryf? Roep hulle as God se verbondsvolk Jehovah aan om hulle te red? Nee, hulle openbaar ’n baie onverstandige gesindheid, een wat dikwels vandag aangetref word onder baie mense wat sê dat hulle God aanbid.
’n Beleërde stad
4. (a) Wat is “die vallei van die visioen”, en waarom word dit so genoem? (b) Wat is die geestelike toestand van die inwoners van Jerusalem?
4 In hoofstuk 21 van Jesaja is elkeen van die drie oordeelsboodskappe ingelei met die uitdrukking “Die uitspraak” (Je-saja 21:1, 11, 13). Hoofstuk 22 begin op dieselfde manier: “Die uitspraak oor die vallei van die visioen: Wat is dit dan met jou dat jy, almal in jou, op die dakke geklim het?” (Jesaja 22:1). “Die vallei van die visioen” verwys na Jerusalem. Al lê die stad op ’n hoogte, word dit die vallei genoem omdat dit deur hoër berge omring word. Dit word met “die visioen” geassosieer weens al die visioene en openbarings wat daar gegee is. Om hierdie rede moet die stad se inwoners op Jehovah se woorde let. Maar hulle het hom geïgnoreer en valse aanbidding begin beoefen. Die vyand wat die stad beleër, is ’n instrument van God se oordeel teen sy ongehoorsame volk.—Deuteronomium 28:45, 49, 50, 52.
5. Waarom klim die volk heel waarskynlik op hulle dakke?
5 Dit is interessant dat die inwoners van Jerusalem ‘almal op die dakke geklim het’. In die ou tyd was die dakke van die Israeliete se huise plat en het gesinne dikwels daar saamgekom. Jesaja sê nie waarom hulle dit nou doen nie, maar sy woorde dui aan dat hy dit afkeur. Hulle het moontlik op die dakke geklim om hulle valse gode aan te roep. Dit is hulle gebruik gedurende die jare voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J.—Jeremia 19:13; Sefanja 1:5.
6. (a) Watter toestande heers in Jerusalem? (b) Waarom is party uitgelate, maar wat lê voor?
6 Jesaja gaan voort: “Jy was vol rumoer, ’n onstuimige stad, ’n uitgelate stad. Dié in jou wat omgebring is, is nie dié wat met die swaard omgebring is nie, ook nie dié wat in die oorlog gesterf het nie” (Jesaja 22:2). Menigtes het na die stad gestroom, en dit is vol rumoer. In die straat is mense luidrugtig en bevrees. Maar party is uitgelate, moontlik omdat hulle veilig voel of omdat hulle voel dat die gevaar sal verbygaan.a Maar dit is dwaas om nou uitgelate te wees. Baie in die stad gaan op ’n baie wreder manier sterf as deur die swaard. ’n Stad wat beleër word, word van eksterne voedselbronne afgesny. Die voedselvoorraad in die stad raak op. Honger mense en beknopte toestande lei tot epidemies. Baie in Jerusalem sal dus as gevolg van hongersnood en pessiektes sterf. Dit gebeur in 607 v.G.J. sowel as in 70 G.J.—2 Konings 25:3; Klaagliedere 4:9, 10.b
7. Wat doen Jerusalem se heersers gedurende die beleg, en wat gebeur met hulle?
7 W atter leiding gee Jerusalem se leiers gedurende hierdie krisis? Jesaja antwoord: “Al jou diktators het tegelyk gevlug. Sonder dat ’n boog nodig was, is hulle gevange geneem. Almal in jou wat gevind is, is saam gevange geneem. Hulle het ver weggevlug” (Jesaja 22:3). Die heersers en sterk manne hardloop weg en word dan gevang! Sonder dat daar eers ’n boog teen hulle gespan word, word hulle gevange geneem en weggelei. Dit gebeur in 607 v.G.J. Nadat Jerusalem se muur deurgebreek is, vlug koning Sedekia in die nag saam met sy sterk manne. Die vyand hoor hiervan, sit hulle agterna en haal hulle op die vlakte van Jerigo in. Die sterk manne spat uitmekaar. Sedekia word gevange geneem, verblind, met koperboeie gebind en na Babilon weggevoer (2 Konings 25:2-7). Wat ’n tragiese gevolg van sy ontrouheid!
Verslae oor die ramp
8. (a) Hoe reageer Jesaja op die profesie wat die ramp oor Jerusalem voorspel? (b) Wat sal in Jerusalem gebeur?
8 Hierdie profesie tref Jesaja diep. Hy sê: “Wend julle blik van my af. Ek sal bitterlik huil. Julle moenie daarop aandring om my te vertroos oor die plundering van die dogter van my volk nie” (Jesaja 22:4). Jesaja het getreur oor die voorspelde lot van Moab en Babilon (Jesaja 16:11; 21:3). Nou is hy selfs meer verslae en hartseer wanneer hy aan die ramp dink wat oor sy eie volk gaan kom. Hy is ontroosbaar. Waarom? “Want dit is die dag van verwarring en van vertrapping en van ontsteltenis wat die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, in die vallei van die visioen het. Daar is die verwoester van die muur, en die geskreeu na die berg” (Jesaja 22:5). Absolute verwarring sal in Jerusalem heers. Mense sal paniekbevange en doelloos ronddwaal. Wanneer die vyand deur die stadsmure begin breek, sal daar ’n “geskreeu na die berg” wees. Beteken dit dat die stad se inwoners God in sy heilige tempel op die berg Moria sal aanroep? Moontlik. Maar met die oog op hulle ontrouheid beteken dit waarskynlik bloot dat hulle geskreeu van angs in die omliggende berge sal weerklink.
9. Beskryf die leër wat Jerusalem bedreig.
9 Watter soort vyand bedreig Jerusalem? Jesaja sê vir ons: “Elam het die pylkoker opgeneem, in die strydwa van die mens, met perde; en Kir het die skild ontbloot” (Jesaja 22:6). Die vyande is ten volle bewapen. Hulle het boogskutters met kokers vol pyle. Soldate kry hulle skilde gereed vir die oorlog. Daar is strydwaens en perde wat vir die stryd opgelei is. Die leër sluit soldate uit Elam in, wat noord lê van wat nou die Persiese Golf genoem word, en van Kir, wat moontlik naby Elam is. Die feit dat hierdie lande genoem word, toon van hoe ver die invallers gekom het. Dit toon ook dat daar moontlik Elamitiese boogskutters in die leër was wat Jerusalem in Hiskia se tyd bedreig het.
Verdedigingspogings
10. Wat is ’n slegte teken vir die stad?
10 Jesaja beskryf die situasie wat ontstaan: “Die beste van jou laagvlaktes sal vol strydwaens word, en die perde sal hulleself vir seker by die poort opstel, en die skerm van Juda sal weggeneem word” (Jesaja 22:7, 8a). Strydwaens en perde vul die vlaktes buite die stad Jerusalem en berei hulle voor om die poorte van die stad aan te val. Wat is “die skerm van Juda” wat weggeneem word? Dit is waarskynlik ’n poort van die stad, en as dit verower word, is dit ’n baie slegte teken vir die verdedigers.c Wanneer hierdie skerm weggeneem word, lê die stad oop voor sy aanvallers.
11, 12. Watter verdedigingsmaatreëls tref die inwoners van Jerusalem?
11 Jesaja gee nou aandag aan die verdedigingspogings van die volk. Hulle eerste gedagte—wapens! “Jy sal in dié dag na die wapenkamer van die huis van die woud kyk, en julle sal beslis die gate in die muur van die Stad van Dawid sien, want hulle sal baie wees. En julle sal die waters van die onderste dam opvang” (Jesaja 22:8b, 9). Wapens word in die wapenkamer van die huis van die woud opgeberg. Salomo het hierdie wapenkamer gebou. Aangesien dit van seders van die Libanon gebou is, het dit as “die Huis van die Libanonwoud” bekend gestaan (1 Konings 7:2-5). Gate in die muur word ondersoek. Water word opgevang—’n belangrike verdedigingsmaatreël. Die mense het water nodig om te lewe. Daarsonder kan ’n stad nie bly staan nie. Maar let op dat daar glad nie gesê word dat hulle op Jehovah steun vir verlossing nie. Hulle vertrou eerder op hulle eie krag. Mag ons nooit daardie fout maak nie!—Psalm 127:1.
12 Wat kan aan die gate in die stadsmuur gedoen word? “Julle sal die huise van Jerusalem tel. Julle sal ook die huise afbreek om die muur ontoeganklik te maak” (Jesaja 22:10). Huise word ondersoek om te sien watter van hulle afgebreek kan word om materiaal te voorsien waarmee die gate herstel kan word. Dit is ’n poging om te keer dat die vyand volkome beheer van die muur kry.
’n Ontroue volk
13. Hoe probeer die mense hulle watervoorraad verseker, maar aan wie dink hulle nie?
13 “Julle sal ’n opvangdam tussen die twee mure vir die waters van die ou dam maak. En julle sal beslis nie na die Grootse Maker daarvan kyk nie, en die een wat dit lank gelede tot stand gebring het, sal julle beslis nie sien nie” (Jesaja 22:11). Die pogings om water op te vang, wat hier en in vers 9 beskryf word, herinner ons aan wat koning Hiskia gedoen het om die stad teen die invallende Assiriërs te beskerm (2 Kronieke 32:2-5). Maar die mense van die stad in hierdie profesie van Jesaja is heeltemal ontrou. Terwyl hulle aan die verdediging van die stad werk, dink hulle glad nie aan die Skepper soos Hiskia gedoen het nie.
14. Watter onverstandige gesindheid heers onder die volk ondanks Jehovah se waarskuwingsboodskap?
14 Jesaja gaan voort: “Die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, sal in dié dag gehuil en getreur en kaalhoofdigheid en omgording met saklinne vereis. Maar kyk! daar is verheuging en blydskap, beeste word doodgemaak en skape word geslag, vleis word geëet en wyn word gedrink: ‘Laat daar geëet en gedrink word, want môre sal ons sterf’” (Jesaja 22:12, 13). Die inwoners van Jerusalem toon geen berou oor hulle opstandigheid teen Jehovah nie. Hulle huil nie, sny nie hulle hare nie en dra ook nie saklinne as ’n teken van berou nie. As hulle dit gedoen het, sou Jehovah hulle waarskynlik die ellendes gespaar het wat oor hulle sou kom. Maar hulle gee hulle eerder aan sinlike genot oor. Dieselfde gesindheid heers vandag onder baie mense wat nie in God glo nie. Hulle het geen hoop nie—nie op ’n opstanding uit die dood of op lewe in die toekomstige Paradysaarde nie. Gevolglik lei hulle ’n selfsugtige lewe en sê: “Laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf” (1 Korintiërs 15:32). Hoe kortsigtig tog! As hulle maar net op Jehovah wou vertrou, sou hulle ’n blywende hoop hê!—Psalm 4:6-8; Spreuke 1:33.
15. (a) Wat is Jehovah se oordeelsboodskap teen Jerusalem, en wie voltrek sy oordeel? (b) Waarom sal die Christendom se lot soortgelyk wees aan dié van Jerusalem?
15 Die beleërde inwoners van Jerusalem sal nie weet wat veiligheid is nie. Jesaja sê: “Jehovah van die leërs het hom in my ore geopenbaar: ‘“Hierdie dwaling sal nie vir julle versoen word totdat julle sterf nie”, het die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, gesê’” (Jesaja 22:14). Weens die hardheid van die volk se harte sal daar geen vergifnis wees nie. Die dood sal beslis kom. Dit is ’n absolute sekerheid. Die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, het so gesê. Ter vervulling van Jesaja se profetiese woorde kom onheil twee maal oor ontroue Jerusalem. Dit word deur die leërs van Babilon en later deur dié van Rome vernietig. So sal ’n ramp ook oor die ontroue Christendom kom, wie se lidmate sê dat hulle God aanbid maar wat hom in werklikheid deur hulle dade verloën (Titus 1:16). Die sondes van die Christendom, tesame met dié van die wêreld se ander godsdienste wat God se regverdige weë minag, het “tot aan die hemel opgehoop”. Soos die dwaling van die afvallige Jerusalem, is hulle dwaling te erg om versoen te word.—Openbaring 18:5, 8, 21.
’n Selfsugtige bestuurder
16, 17. (a) Wie kry nou ’n waarskuwingsboodskap van Jehovah, en waarom? (b) Wat sal met Sebna gebeur weens sy hooghartige planne?
16 Die profeet verskuif nou sy aandag van ’n ontroue volk na ’n ontroue persoon. Jesaja skryf: “Só het die Soewereine Heer, Jehovah van die leërs, gesê: ‘Kom, gaan in by hierdie bestuurder, by Sebna, wat oor die huis is: “Wat is hier van belang vir jou, en wie is hier van belang vir jou, dat jy hier vir jou ’n graf uitgekap het?” Op ’n hoogte kap hy sy graf uit; in ’n krans hol hy vir hom ’n woonplek uit.’”—Jesaja 22:15, 16.
17 Sebna is ‘bestuurder oor die huis’, waarskynlik die huis van koning Hiskia. Hy het dus ’n invloedryke posisie, en is slegs ondergeskik aan die koning. Daar word baie van hom verwag (1 Korintiërs 4:2). En tog jaag Sebna heerlikheid vir homself na wanneer hy eintlik die nasie se belange eerste moet stel. Hy laat ’n pragtige graf—wat met dié van ’n koning vergelyk kan word—hoog teen ’n krans vir hom uitkap. Jehovah sien dit en inspireer Jesaja om die ontroue bestuurder te waarsku: “Kyk! Jehovah slinger jou neer met ’n geweldige slingering, o man, en gryp jou met geweld. Hy sal jou vir seker styf toerol, soos ’n bal vir ’n wye land. Daar sal jy sterf, en daar sal die strydwaens van jou heerlikheid die skandvlek van die huis van jou heer wees. En ek sal jou uit jou posisie wegstoot; en uit jou amptelike pos sal jy weggeruk word” (Jesaja 22:17-19). Weens sy egoïsme sal Sebna nie eers ’n gewone graf in Jerusalem hê nie. In plaas daarvan sal hy soos ’n bal geslinger word en in ’n verre land sterf. Dit bevat ’n waarskuwing vir almal wat gesag onder God se volk ontvang het. As ’n mens mag misbruik, sal dit tot die verlies van daardie gesag en moontlik tot verbanning lei.
18. Wie sal in Sebna se plek gestel word, en wat beteken dit dat hierdie persoon Sebna se ampsgewaad en die sleutel van die huis van Dawid gegee word?
18 Maar hoe sal Sebna uit sy posisie verwyder word? Jehovah verduidelik deur Jesaja: “In dié dag sal ek my kneg roep, naamlik Eljakim, die seun van Hilkia. En ek sal vir hom jou gewaad aantrek, en jou lyfband sal ek hom stewig ombind, en jou heerskappy sal ek in sy hand gee; en hy sal vir die inwoner van Jerusalem en vir die huis van Juda ’n vader word. En ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê, en hy sal oopmaak sonder dat iemand sluit, en hy sal sluit sonder dat iemand oopmaak” (Jesaja 22:20-22). Eljakim sal Sebna vervang en sal die bestuurder se ampsgewaad sowel as die sleutel van die huis van Dawid gegee word. Die Bybel gebruik die woord “sleutel” as ’n simbool van gesag, heerskappy of mag. (Vergelyk Matteus 16:19.) In die ou tyd het ’n koning se raadgewer, aan wie die sleutels toevertrou is, soms algemene toesig gehad oor die koning se kamers en selfs besluit wie in die koning se diens aangestel sou word. (Vergelyk Openbaring 3:7, 8.) Die bestuurdersamp is dus baie belangrik, en daar word baie verwag van die een wat dit beklee (Lukas 12:48). Sebna is miskien bekwaam, maar omdat hy ontrou is, sal Jehovah iemand anders in sy plek stel.
Twee simboliese penne
19, 20. (a) Hoe sal Eljakim ’n seën vir sy volk wees? (b) Wat sal met dié gebeur wat nog op Sebna staatmaak?
19 Ten slotte gebruik Jehovah beeldspraak om te beskryf hoe die mag van Sebna na Eljakim oorgedra sal word. Hy sê: “‘Ek sal hom [Eljakim] inslaan soos ’n pen in ’n vaste plek, en hy sal ’n troon van heerlikheid vir die huis van sy vader word. En hulle sal al die heerlikheid van die huis van sy vader aan hom hang, die nakomelinge en die lote, al die klein houers, die bakvormige houers sowel as die groot kruikhouers. In dié dag’, is die woord van Jehovah van die leërs, ‘sal die pen [Sebna] wat in ’n vaste plek ingeslaan is, verwyder word, en dit sal afgekap word en val, en die vrag wat daaraan hang, sal afgesny word, want Jehovah het dit gespreek.’”—Jesaja 22:23-25.
20 In hierdie verse is Eljakim die eerste pen. Hy sal “’n troon van heerlikheid” vir die huis van sy vader, Hilkia, word. Anders as Sebna sal hy nie sy vader se huis of reputasie oneer aandoen nie. Eljakim sal ’n blywende ondersteuning vir huishoudelike houers wees, dit wil sê vir ander wat in die koning se diens is (2 Timoteus 2:20, 21). Die tweede pen verwys egter na Sebna. Hoewel dit lyk of hy veilig is in sy posisie, sal hy verwyder word. Enigiemand wat nog op hom staatmaak, sal val.
21. Wie is in die hedendaagse tyd soos Sebna vervang, waarom, en deur wie?
21 Sebna se ondervinding herinner ons aan die feit dat diegene wat sê dat hulle God aanbid en diensvoorregte aanvaar dit moet gebruik om ander te dien en eer op Jehovah te bring. Hulle moet nie hulle posisie misbruik om hulleself te verryk of vir hulleself ’n vername plek te probeer kry nie. Ter toeligting: Die Christendom doen homself al lank as ’n aangestelde bestuurder voor, as die aardse verteenwoordiger van Jesus Christus. Maar net soos Sebna oneer op sy vader gebring het deur sy eie eer te soek, het die Christendom se leiers oneer op die Skepper gebring deur vir hulleself rykdom op te gaar en mag in te palm. Daarom het Jehovah die Christendom verwyder toe die tyd in 1918 aangebreek het dat die oordeel “by die huis van God” moes begin. ’n Ander bestuurder is geïdentifiseer—“die getroue bestuurder, die verstandige”—en is aangestel oor Jesus se aardse huishouding (1 Petrus 4:17; Lukas 12:42-44). Hierdie saamgestelde klas het getoon dat hulle waardig is om die koninklike “sleutel” van die huis van Dawid te ontvang. Soos ’n “pen” waarop ’n mens kan staatmaak, was dit ’n betroubare ondersteuning vir al die verskillende “houers”, gesalfde Christene met verskillende verantwoordelikhede wat daarop vertrou vir geestelike voedsel. Die “ander skape”, soos ‘die inwonende vreemdeling in die poorte’ van die eertydse Jerusalem, maak ook staat op hierdie “pen”, die hedendaagse Eljakim.—Johannes 10:16; Deuteronomium 5:14.
22. (a) Waarom was dit die regte tyd om Sebna as bestuurder te vervang? (b) Waarom was dit in die hedendaagse tyd gepas om “die getroue bestuurder, die verstandige,” aan te stel?
22 Eljakim het Sebna vervang toe Sanherib en sy leërs teen Jerusalem opgekom het. Net so is “die getroue bestuurder, die verstandige,” aangestel om te dien gedurende die tyd van die einde, wat ’n klimaks sal bereik wanneer Satan en sy magte ’n finale aanval op “die Israel van God” en hulle metgeselle, die ander skape, rig (Galasiërs 6:16). Soos in Hiskia se tyd sal daardie aanval die vernietiging van vyande van regverdigheid tot gevolg hê. Diegene wat op die “pen in ’n vaste plek”, die getroue bestuurder, steun, sal behoue bly, net soos getroue inwoners van Jerusalem die Assiriese inval van Juda oorleef het. Hoe verstandig is dit dus om nie aan die Christendom, die “pen” wat verwerp is, vas te kleef nie!
23. Wat gebeur uiteindelik met Sebna, en wat kan ons hieruit leer?
23 Wat gebeur met Sebna? Ons het geen verslag van die manier waarop die profesie oor hom, wat in Jesaja 22:18 opgeteken is, vervul is nie. Wanneer hy homself verhoog en dan verneder word, is hy soos die Christendom, maar miskien het hy uit die dissipline geleer. In hierdie opsig is hy baie anders as die Christendom. Wanneer die Assiriese Rabsake eis dat Jerusalem oorgee, lei Hiskia se nuwe bestuurder, Eljakim, die afvaardiging wat hom tegemoetgaan. Maar Sebna is as sekretaris van die koning aan sy sy. Sebna is blykbaar nog steeds in die diens van die koning (Jesaja 36:2, 22). Wat ’n goeie les vir diegene wat diensvoorregte in God se organisasie verloor! Dit is verstandig van hulle as hulle voortgaan om Jehovah te dien in watter hoedanigheid hy ook al toelaat, in plaas daarvan om bitter en haatdraend te word (Hebreërs 12:6). Deur dit te doen, sal hulle die ramp vermy wat oor die Christendom gaan kom. Hulle sal God se guns en seën tot in alle ewigheid geniet.
[Voetnote]
a In 66 G.J. was baie Jode uitgelate toe die Romeinse leërs wat Jerusalem omsingel het, teruggetrek het.
b Volgens die eerste-eeuse geskiedskrywer Josefus was die hongersnood in 70 G.J. so erg in Jerusalem dat mense leer, gras en hooi geëet het. In een geval het ’n moeder haar eie seun gebraai en geëet.
c “Die skerm van Juda” kan ook na iets anders verwys wat die stad beskerm, soos die forte waar wapens geberg en soldate gehuisves word.
[Prent op bladsy 231]
Wanneer Sedekia vlug, word hy gevange geneem en verblind
[Prent op bladsy 232, 233]
Die situasie lyk sleg vir Jode wat in Jerusalem vasgekeer is
[Prent op bladsy 239]
Hiskia maak Eljakim “’n pen in ’n vaste plek”
[Prent op bladsy 241]
Baie van die Christendom se leiers het soos Sebna oneer op die Skepper gebring deur rykdom op te gaar
[Prente op bladsy 242]
In die hedendaagse tyd is ’n “getroue bestuurder”-klas oor Jesus se huishouding aangestel